Woensdag 06 Januarie 2016

Ons, ek en jy, kan die uitmergelende droogte breek...


Image result for rain


Die huidige droogte is uitmergelend en daar is geen teken wanneer die droogte gebreek gaan word nie. Mense raak mismoedig, selfs depressief, sommige pleeg selfs selfmoord. Oral kla, murmureer mense oor die ondraaglike hitte en droogte.   “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.
“Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Kor 10-12
            Ten spyte van alles moet ons soos Habakuk jubel.
            “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            “Die HERE God is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 17-19
            Ten spyte van wat ook al, jubel Habakuk. Hy was altyd bly.
            Altyd beteken presies wat dit sê soos in: Wees altyd bly.
Dog, hoe is mens bly en dankbaar wanneer daar fout is, wanneer dinge verkeerd loop, wanneer jy onrustig is, of seer het of hartseer is?
            Eenvoudig, ons is bly omdat ons weet dat wat ons omstandighede ook al is, die Almagtige God, ons God, het reeds die antwoord.
            “Wees altyddeur bly.
            “Bid sonder ophou.
            “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” 1 Thes 5:16-18
            Dalk moet alle gemeentes die preke vir ‘n tyd lank op Sondae stop en die hele diens gebruik in lofprysinge, aanbidding en gebed. Waar twe of drie in Sy naam vergader, daar is Hy. Verwelkom hom.
            Onthou, God besit alles, elke liewe ding. Daar is niks wat ons Hom kan gee as net lofprysinge en aanbidding nie. Doen dit!
            ‘n Biddag vir reën baat nie. Dan reën dit en dan gaan almal weer hulle eie weg. Onlangs was daar ‘n biddag vir reën. Steeds reën dit nie, maar pleks van jubel en blydskap, duur die murmureringe voort.
            Paulus had dit nooit maklik nie. Die Here stuur hom na Macedonië.
Met sy aankoms is daar ondervind hulle vriendelikheid, gasvryheid en siele word gered en gedoop.
            Al die tekens is daar om te bevestig ja, die HERE het hom gestuur.
            Die volgende dag open die poorte van die hel, of so het dit gelyk.
Hulle klere word van hul lywe afgeskeur en hulle word met stokke geslaan, omdat hulle dit gewaag het om Jesus Christus te verkondig.
Hulle word in die binneste gevangenis gewerp, ‘n bykomende gevangenis in die middel van die gewone gevangenis met hoër mure. Hulle voete is in ‘n blok vasgemaak. Niemand kom daaruit los nie.
Daar sit hulle in duisternis, bebloed, naak, in pyn en hulle kon begin murmureer het met smartvraat vrae soos: “Hoekom het die HERE dit toegelaat, ens.?”
            Dink maar of jy ooit in so ‘n benarde posisie was en dit boonop onskuldig!    Middernag, bebloed en in pyn, begin hulle lofliedere tot eer van God sing. So hard dat al die gevangenes daarna luister. Paulus en Silas het besef God is groter as die probleem en pleks van te kla en te murmureer oor die bloed en die koue en die pyn, kyk hulle by dit alles verby, reguit na God.
            “En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.
“En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.
“Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.
“En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.
“En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?
“Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
“En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.
“En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.
“Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.” Hand 16:26-32
Paulus en Silas het in groot blydskap die lofliedere begin sing omdat hulle geweet het, alhoewel hulle diep in die verknorsing was, had God reeds die antwoord.
Verstaan jy nou wat dit beteken om altyddeur bly te wees, altyd te jubel, wat jou omstandighede ook al is?
Die HERE wou die hele tronk red, vanaf die hoof van die tronk tot by die grootste krimineel. Die HERE het Paulus wel na Macedonië gestuur, maar Paulus sou nie die tronk besoek nie. Toe plaas die HERE vir hom en Silas in die tronk.
Aan die een kant is die hele tronk gered en aan die anderkant groei Paulus en Silas in geestelike wasdom.
En dan staan daar ook: “Bid sonder ophou.
Jesus sê: “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang (hoekom?), sodat julle blydskap volkome kan wees.” Joh 16:24
            Ons is veronderstel om in geestelike wasdom te groei. Paulus kon reeds die geestelike voordeel begryp om dankbaar te wees wanneer mens seer het.
            Lofliedere en gebede neem die fokus van jouself af en plaas dit waar dit hoort, op Jesus Christus.
            Paulus moes telkens storms op see aandurf ter wille van die Evangelie. Hy weet hoe dit voel om in ‘n stormsee met ‘n skip te strand. Maar hy kon baie vermag omdat hy so swaar op die Heilige Gees gesteun het.
            Hy het besef sy eie kragte gaan hom nie dra nie, maar die Heilige Gees kan en sal.
            So moet ons ook groei in geestelike wasdom, situasies kan opsom (gawe van onderskeiding) en met blydskap die stryd takel. Hou op met worstel en gee oor en vertrou op die Heilige Gees. Dan help God jou om die onmoontlike reg te kry. Dan behou jy jou blydskap in pyn en hartseer.
            Paulus en Silas was in baie groot moeilikheid, hulle kon nie sien hoe hulle ooit daaruit sou kom nie, maar hulle het geweet God het altyd ‘n antwoord.
Uiteindelik weet hulle, hulle moes daardeur sodat ‘n hele tronk en die personeel en selfs die hoof van die tronk en sy huisgesig, gered en gedoop kon word.
Ons kan die droogte breek as ons almal elke dag die lofliedere tot God sing en bid.
Let op, Jesus het sy lewe vir jou afgelê en oorwin. Wanneer lê jy jou lewe vir hom af?
Wanneer jy in pyn en verknorsing is, bid en bid en bid omdat jy weet God het die antwoord. Wees bly en bly en bly want jy weet God het die antwoord!
Moenie fokus op die grootheid van die probleem nie, fokus op die grootheid van God. Maak hierdie sin jou slagspreuk: My God is ver groter as die probleem!
My God is groiter as die weervoorspellings. Moenie eers daarna kyk nie. Hou die oë op Jesus.
            Jy sit al twee jaar sonder werk.  Jy het kanker.  Jy is ‘n diabeet.
Dan verbly jy jou... nie in jou werkloosheid nie, nie vir die kanker nie, nie vir die Diabetes nie... jy verbly jou in jou God wat die antwoord het!
Een van God se doelwitte met my en jou, is om te leer dat ons ten volle van Hom afhanklik moet wees.
Luister weer: Jy verbly jou nie in jou probleme nie, jy verbly jou in God se antwoord op die probleem. Jy smeek nie, jy kla nie, jy vertel vir niemand hoe swaar jy kry nie, jy sms niks, jy verbly jou in God se antwoord want jy weet Hy het die antwoord.
Keer die hele Facebook om in lofliedere en aanbidding...
Jy lewe bo en nie onder die omstandighede nie. Jy staan op oorwinningsgrond!
Die verraderlike see suig skrywer een keer diep in die donker waters in. Ek haal nie meer asem nie. My mond is oop en seewater vloei in en uit my. Ek besef die einde is hier. Ek sien my hele lewe voor my afspeel. Dis verby. Ek kan nie bid nie, nie praat nie, nie niks nie.
Dan gee ek oor en ek dink hoe wonderlik dit is om te sterf. Die wonderlike kalmte en heerlikheid wat oor mens spoel.
Dan kom die Engele en haal my uit daai donker dieptes uit... 56 jaar gelede... want die HERE had ‘n belangrike taak vir my.
Jare daarna, een donker nag, gebeur presies dieselfde, en weer haal die HERE my daar uit.
Nog later, een donker nag, is ek in ‘n skuit in die reën op die oop stormsee.  Weer red die HERE my.
En... ek was nie eers Wedergebore nie. Ek het myself net oorgegee aan die Ewigheid. In daardie stadium is jy ‘n niks en kan jy niks meer doen nie. Jy veg vir jou lewe en dan besef jy... jy kan nie meer nie.
Kort daarna was daar ‘n Damaskuspad ondervinding. My ouma, wat dig aan Jesus se sy gewandel het, had haar lysie vir wie sy dag en nag die HERE geloof het dat almal gered wou word. Ouma’s julle het ‘n vername rol om te speel.
            Vandag, as Gelowige, is dit veel makliker. Ek is altyd bly want ek weet, wat ook al oor my pad kom, God het reeds die antwoord, soos onlangs weer.
            Moenie ‘n smartvraat wees nie, moenie dat emosie die oorhand kry nie, laat liewer die blydskap seëvier.
            Jy bekommer jou oor jou kind wat die pad byster is. Gee hom oor in die hande van die HERE en wees bly, bly, bly. Jubel.
            Jou kommer, en vrees, emosies, twyfel en depressie gaan niks oplos nie. Wees altyd bly. Bid sonder ophou.
            Jesus sê ‘n paar keer vir sy eie dissipels: Moenie vrees nie, glo net.
            Jy het as Gelowige mag oor alle dinge. Gebed is die magtigste wapen in die wêreld, dis soos ‘n ballistiese missiel.  Niks kan standhou voor gebed nie.
            Daar is onberekenbare krag in God se Woord.
Wanneer dit goed gaan is ons mos minder intiem met die HERE (swak gewoonte), maar wanneer die “sleg” gaan, dan is Hy skielik ons beste Vriend.
Vervang die plakkers op jou yskas met die Lewende Woord: Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar. Sing lofliedere. Speel die DVD’s met lofliedere heeldag.
Doen soos die HERE sê: Wees altyd bly. – Sjibbolet