Dinsdag 26 Januarie 2016

Moet jou nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie


'n Groep toeriste sit eendag in die Yellowstone Park in Wyoming, Amerika en wag vir 'n dier, wat die skrik van die bosse genoem word, die grysbeer, om te verskyn, vertel Dale Carnegie in sy boek How to Stop Worrying and Start Living.
'n Hoop afvalkos, uit die hotel se kombuis, is naby neergesit, om die beer te lok. Nie lank nie of hy kom massief uit die donker bos te voorskyn.


Die wildbewaarder, maj. Mertindale, vertel vir die mense, die grysbeer is enige dier in die Westelike halfrond se moses, behalwe miskien die buffel en Kadiakbeer. Die dier vrees niemand en niks.
Die mannetjies word tot 318kg swaar en die wyfies sowat 180kg. Hulle hardloop met gemak 70km per uur.
Terwyl die toeriste so kyk, kom nog 'n dier uit die bos uit en begin saam met die grysbeer die lekker afvalkos vreet. Die grysbeer sou geen ander dier naby sy ete duld nie, maar nou laat hy hierdie een sy gang gaan. Dit is die stinkmuishond.
Die beer kon hom met een hou van sy geweldige voorpoot plat gevee het, maar die beer het al geleer: Lol met hom, en jy stink vir dae aaneen...
Die les wat ons hieruit leer: “Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie.” Matt 5:39
Daar is viervoetige muishonde, én daar is tweevoetige muishonde, sê Carnegie. Hy haal goeie raad aan uit 'n verslag van die Polisiekantoor in Milwaukee: “As selfsugtige mense probeer voordeel trek uit jou, skrap hulle van jou lys, maar moenie hulle probeer terug kry nie. Jy sal net seerder kry as hulle."
Dit is onverstandig om enige mens te probeer terug betaal, want dan gee ons hulle mag oor ons: mag oor ons slaap, ons eetlus, ons bloeddruk, ons gesondheid, ons welsyn, ons geluk.
Ons vyande sal opspring van vreugde as hulle kon weet hoe hulle ons kwel, kwes, ons laat ly, ons immobiliseer. Ons haat en wraakgedagtes maak hulle nie seer nie, maar dit omskep ons eie dae en nagte in donkerte... veroorsaak ‘n binding in ons gees.
            Jesus se woorde: "Julle moet julle vyand liefhê," dui die pad aan na gesondheid en geluk.
Toe Jesus vir Petrus gesê het: "Jy moet 70x7 keer vergewe," was Hy besig om ons te vertel hoe om gesondheidskwale te vermy. Hy het ook raad gegee hoe om ons voorkoms te verbeter. 'n Mens se gesig kan verrimpel en verhard raak deur haat en mismaak word deur wrok.
Niks kan gelaatskoonheid bewerk soos vergewensgesindheid, teerheid en liefde nie! Laat ons onsself so liefhê dat ons nie sal toelaat dat ander, met hulle slegte gesindheid, ons lewe bederf nie.
            “My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.” Deut 32:35
“Want die HERE sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.” Deut 32:36
            “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.  As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Rom 12:19-21
            “En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Mar 25:40
            Ongelukkig is haat en ergerlikheid sterker as onsself. Ons vlees neig na haat,  of 'n wrok, want die vlees is sterker as verstandige denke. Ons moet in die Gees lewe sodat ons die krag en heil van God kan ervaar. – Sjibbolet