Maandag 18 Januarie 2016

‘Moenie haastig iemand die hande oplê nie’



“Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met
die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.” 1 Tim 5:22

Die Koninkryk van die Hemele het naby gekom. Maak siekes gesond,
reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet
ontvang, verniet moet julle dit gee.” Matt 10:7-8

Ingevolge Bybelse voorskrifte, lê ons, ons hande op iemand om hulle te seën, om hulle in die Bediening te verordineer, om hulle te genees, vir die doping in die Heilige Gees, ens. .
          Die een oomblik word die opdrag gegee dat ons mense die hande moet oplê om verskeie redes. Die volgende oomblik word ons gewaarsku om dit nie haastig te doen nie.
          As mens iemand te haastig die hande oplê mag mens dalk met daardie persoon se sondes gemeenskap hê, aldus die Skrif.
          En dan die opdrag: “Hou jou rein.”
          Handoplegging is ongetwyfeld Bybels. As die een wat die hande oplê, of die een vir wie die handoplegging gedoen word, egter sondes in hulle lewe het, dan kan ‘n verkeerde gees vanaf die een op die ander oorgedra word.
          Ons durf nie haastig die hande oplê nie.
          Hoe sal ons dan weet wanneer ons die hande moet oplê? Verskeie gawes is van toepassing in die gemeente, onder meer dié van die onderskeiding van geeste.
          “Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
          “aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
          “aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale.
          “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” 1 Kor 12:8-11
          Hoekom moet hierdie gawes ‘n integrale deel van elke gemeente vorm? Omdat Jesus Christus gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo –  die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Joh 14:12
          Nog redes waarom mens nie haastig die hande moet oplê nie:
          “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.

“Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie.
          “Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.” Ps 14:2-4
          En: Jes 58:7-10 “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?
          “Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.
          “Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.
          “En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.”
          Die Heilsleër wat deur Genl William Booth gestig is, het uitsluitlik gefokus op die gevallene, die verworpene, die uitvaagsels, boemelaars en straatvroue, die sogenaamde skuim van die aarde. Altesame 250 000 van hierdie mense wat gered en weer hul plek in die samelewing kon volstaan, het Booth se begrafnis in 1912 bygewoon.
          ‘n Vrou bel een aand en vra gebed vir haar siek kind. Toe twee predikers by die huis opdaag het die een met die gawe van die onderskeiding van geeste, dadelik bekendgemaak dat die HERE nie die kind kan genees nie want die vrou – in plaas van in totale oorgawe op God te vertrou – vertrou sy op die Sterre Voorspel en kaartlesings.
          In ander geval had ‘n vrou bloedkanker. Die gees van onderskeiding het aan haar gesê die HERE kan nie genees nie want sy leef met ‘n verterende haat teenoor haar naaste.
          In ‘n ander geval wou ‘n man genesing vir kanker hê maar hy het geweier om Christus Jesus as Saligmaker aan te neem.
          ‘n Man het gevra vir gebed vir sy rug, maar die gees van onderskeiding het aangedui dat geen genesing kan plaasvind nie want die man sit keer op keer onwaardig by die nagmaaltafel aan. Die onwaardigheid had te doen met ‘n oortreding.
          ‘n Ander man het gebed vir ‘n grootse probleem verlang. Die gees van onderskeiding het openbaar dat gebed nie sal help nie want die man sit met ‘n toordokter se toormiddel in sy sak. Toe dit aan die man openbaar word, het hy gesê hy sal God ‘n kans gee, maar as God nie gaan help nie gaan hy die toormiddel aanwend. Gal. 6:7 “God laat Hom nie bespot nie.”
          ‘n Skatryk vrou het van stad tot stad gery en by al wat bekende prediker is aangeklop vir gebed vir ‘n besondere saak. Uiteindelik het die gees van onderskeiding openbaar waarmee sy besig was. Sy is sonder gebed teruggestuur na haar tuisdorp en gesê om ‘n volle oorgawe aan God te maak en God op die eerste gebed te vertrou.
          ‘n Ander vrou het gevra dat gebid moet word vir haar man om op te hou met drink sodat hy kan ophou om sy vrou aan te rand. Wanneer hy nugter was, was hy glo ‘n liewe man.
          Die openbaring van gees van onderskeiding het daartoe gelei dat die vrou sonder gebed weggestuur is met die boodskap om haar prioriteite in orde te kry. Haar man was ‘n verlore sondaar, nie ‘n dronklap nie.
          Sy moes by die drank verby kyk en haar man met Goddelike liefde liefkry as ‘n verlore sondaar. Na sy redding sal die drankprobleem vanself opgelos wees.
          In ‘n ander geval het ‘n man ernstige gebed vir genesing verlang. Die gees van onderskeiding het openbaar dat die oorsaak van die man se probleem deur sy vrou veroorsaak word wat met ‘n toordokter deurmekaar was.
          Nog ‘n vrou het dringende gebed vir ‘n probleem verlang. Die gees van onderskeiding het openbaar dat gebed nie sal help nie omdat sy ‘n geheime verhouding met ‘n ander man het.
          In al hierdie en in honderde ander gevalle moes die struikelblokke eers uit die weggeruim word voordat daar hande opgelê, gebid en daar antwoord op gebed was.
          Nee, ons durf nie haastig die hande oplê nie. ‘n Veiliger weg om te volg is die van berading en selfs vas en gebed.
          “HERE, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water.
          “En ek het hom na U dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.
          “Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My.
          “Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af.
          “Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?
          “En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg (probleem) sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.
          “Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.” Matt 17:15-21.
          Let ook op na die volgende: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek,
          “slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Markus 16:17-18
          As ons glo, dan volg al hierdie wonderlike tekens ons. As ons nie glo nie, dan sal dit ons beslis nie volg nie.
          Die kruks is egter: Ons moet nie die tekens volg nie, die tekens sal ons volg... sou ons glo!
          Die vraag moet gevra word of massa genesingsdienste geregverdig kan word. Daar is te veel mense wat nie by sulke dienste genees nie en dan weens ‘n gebrek aan kennis in totale wanhoop en (groter)ongeloof verval.
          Ons sien op verskeie plekke dat Jesus Christus ook mense oor ‘n afstand genees het en nie altyd die hande opgelê het nie.
          Vir die een blinde sê Hy: Jy sien, en die man het gesien. Vir ander smeer hy modder aan sy oë met ‘n uitdruklike opdrag waar die man sy oë moes gaan was. As die blinde nie gehoorsaam was nie en sy oë by die eerste beste plek gaan was het, sou hy nie genees het nie.
          Om iemand haastig die hande op te lê kan baie probleme oplewer. ‘n Studie van die okkulte toon dat selfs demone op hierdie wyse van een persoon na ‘n ander kan beweeg, aldus die bekende teoloog Dr Derek Prince.
          Vas veroorsaak dat die metaboliese prosesse in die menslike liggaam hul ewewig verloor. Dan vind daar meer afbrekende as opbouende prosesse plaas en mens begin basies sterf.
          Wanneer mens begin sterf kom jou gees na die oppervlak en het mens die nouste kontak met die Heilige Gees denkbaar.
          Die oplê van die hande is nie net ‘n aanskoulike religieuse ritueel nie. Dr Prince sê dit is ‘n kragtige tydelike interaksie tussen twee persone, twee geeste. Meesal vloei die bonatuurlik krag vanaf die handoplêer na die een vir wie die hande opgelê word, maar soms kan dit in die teenoorgestelde rigting vloei.
          Krag wat deur handoplegging vloei kan goed of sleg wees afhangende van wie af dit uitgaan. Om hierdie rede het Paulus ‘n veiligheidsfaktor ingebring: Moenie haastig die hande oplê nie want jy kan dalk met die sondes van ‘n ander gemeenskap hê.
          Handoplegging moet in eerbied en gebed plaasvind. Wie ook al betrokke is moet in Paulus se woorde seker maak dat hy nie meedoen aan ‘n ander se sonde nie.
          Dit is ‘n fout om blindelings hande op mense te lê. ‘n Gelowige vertel hoe daar een aand in ‘n diens deur vyf mense vir hom hande opgelê was en dit in opdrag van die prediker. Die volgende oggend was sy siekte heelwat beter, maar toe ly hy aan artritis. Hy het onmiddellik besef iemand met artritis het vir hom hande opgelê.
          Vanweë sy kennis – ‘n volk gaan te gronde weens ‘n gebrek aan kennis: Jes 5:13 & Hos 4:6 – het hy dadelik die gees van artritis bestraf en uit homself gedryf en binne minute was hy blakend gesond.
          Aan die een kant moet mens waak om nie paranoïes te wees nie, maar mens moet versigtig en gehoorsaam in eerbied met die Heilige Gees en geestelike sake omgaan.
          In die Ou Testament is hande op ‘n dier gelê om ‘n mens se sondes op die dier oor te dra (Lev 16:21-22; Lev 1:4; Ex 26:10-20). Die dier is dan op ‘n altaar geplaas en sy keel oopgesny. Soos wat die bloed (wat die sonde bevat het) in die
vuur van die altaar verteer, is die sonde vernietig en die sieke genees.
          Hande is ook opgelê om iemand te kon seën (Gen 48:14-20).
          Dit is ook gedoen om geestelike gesag oor te dra (Num 27:18-23) om geestelike wysheid oor te dra (Deur 34:9) en om die Leviete te verordineer (Num 8:19)
          In die Nuwe Testament is handoplegging gebruik vir genesing (Mark 16:15-18; Luk 4:40; Luk 13:13, Hand 9:17; Hand 28:8-9), om mense in verskeie bedieninge te verordineer (Hand 13:3; Hand 14:26-37), om leiers en diakens aan te stel (1 Tim 3:1-12; Titus 1:5-11, om die doping in die Heilige Gees te ontvang (Hand 8:14-24; Hand 9:10-17; Hand 19:6, Efes. 1:13; Gal 4:6) en om geestelike gawes te ontvang (1 Tim 4:14; 2 Tim 1:6; Rom 1:11; 1 Kor 12:11; Heb 2:4).              Handoplegging is vandag steeds van groot belang in die gemeente. Daar is egter belangrike beginsels wat gevolg moet word:

·       Hierdie bediening moet nie ligtelik en onverskillig beoefen word nie, maar altyd in ‘n gees van gebed en nederigheid;
·       Die leiding van die Heilige Gees moet te alle tye gesoek word – saam met wie om te bid, wanneer om te bid en hoe om te bid;
·       Die gelowige wat die hande oplê moet weet hoe om ten behoewe van sy eie gees die deurlopende reiniging en beskermende krag van die bloed van Jesus Christus te pleit;
·       Die gelowige wat die hande oplê moet so bekragtig wees deur die Heilige Gees dat hy in staat sal wees om enige geestelike invloed af te weer wat hom wil bereik.
       
          Hierdie beginsels is van kardinale belang. Ons moet begryp watter krag ons oor beskik wanneer ons hande op mense lê. Ons durf dit nie ligtelik opneem nie. Dit is iets ernstigs en mens moet dit ernstig en met eerbied hanteer.        
          Moenie dat enigiemand vir jou die hande oplê nie, sê Dr Prince en Evangelis Reinhard Bonnke. Jy sal weet wie vir jou die hande mag oplê en wie nie want jy sal ‘n swaarmoedigheid in jou gees ervaar.
          Natuurlik het ons krag en mag oor die vyand, maar dit beteken nie ons moet die vyand toelaat om ons te besmet nie. Hou jouself rein, absoluut! 1 Tim 5:22).
          Ons moet onsself beskerm. Toets die geeste: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” 1 Joh 4:1
          Ons moet die Heilige Gees en sy werkinge leer ken. Ons moet sensitief wees vir die Heilige Gees.
          Ons moet die geeste kan onderskei en gehoorsaam wees. Jy het die HERE vertrou vir jou wedergeboorte. Vertrou Hom nou ook vir die gawes.
          Moenie aan mense stoot of stamp wanneer jy hulle die hande oplê nie. Natuurlik slaan sommige neer onder die krag van die Heilige Gees, maar dit is die Heilige Gees se prerogatief.
          Enigiemand kan vir iemand die hande oplê solank dit op leiding van die Heilige Gees geskied.
          Hande speel ‘n baie belangrike rol in die Bybel. Hand of hande word 1 600 keer in die Bybel genoem.
          Hande speel ‘n positiewe en soms ook ‘n negatiewe rol.
          Wat die negatiewe betref kyk ons na Matt 26:23 “Hy wat sy hand saam met myne in die bak steeks, dis hy wat my gaan verraai.”
          Judas het skielik nie meer eerbied teenoor Jesus betoon nie. Wanneer Jesus sy hand in die bak gesteek het om brood te neem, het Judas sommer sy hand ook ingesteek.
          Wat die positiewe betref, seën ons die HERE En seën ons mekaar en ons kinders.
          Moet nooit ‘n kind met die oop hand slaan nie, ook nie ‘n hond nie. Neem ‘n neutrale voorwerp. Hulle sal respek vir jou verloor. Jou hande is daar om te seën om te genees.
          In Gal 2:9 lees ons dat die broers mekaar die regterhand van gemeenskap gegee het.
          Onthou: “3:17 En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Kol. 3:17 – Sjibbolet

Indien iemand geestelike berading of gebed benodig kontak my gerus by belindapaar@gmail.com