Maandag 25 November 2019

Die Hoop beskaam nie, nooit nie

·       Op spesiale versoek kyk ons dieper na Habakuk se optrede.


Die Heilige Gees  is besig om oor die aarde en die nasies te beweeg. “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Hab 2:14

            Habakuk gee die toon aan. Hy sê: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

            “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17-19

            Hy skilder ‘n prentjie soos ons daagliks van hoor in die huidige droogte en sê: “Al is alles tot niet...nogtans sal ek jubel in die HERE.”

            Hy sê nie dan “sal” hy jubel, of “weer” jubel nie, hy gebruik die woord “nogtans” (desnieteenstaande) sal hy jubel. M.a.w. hy jubel altyd in die HERE, of dit nou goed of sleg gaan. Daar is net te veel kere wat die HERE belowe om in te gryp. Mens kan of murmureer en sink of jy kan op God se beloftes staatmaak.

            Waarom die swaar smekende gebede vir uitkoms? Ons weet God SAL beslis uitkoms gee. Hoop, in die Bybel beteken nie “ek wens” nie. Dit beteken “toekomsfeit”. Daarom hoop ons op die HERE, ons hoop op die toekoms, ons hoop op die Wederkoms. Omdat ons weet dat ons weet dat ons God ons nie in die steek sal laat nie, sê  ons, vol van die geloof: “Die hoop beskaam nie, nooit nie.”

            Iemand bel. Dan antwoord jv so: “Ek wag vir die reën. Dit kom beslis. As ek dit nie geweet het nie dan was ek lank nie meer ‘n boer nie.  Soos Habakuk jubel ek voor die HERE. Ek is gereed vir die reën en ek is gereed  vir die Wederkoms, watter ook al eerste gebeur. Sorg dat jy en jou mense ook gereed is. Goedheid en guns.”

            Wat Habakuk beskryf, is ‘n ontsettende ramp, maar te midde van die ramp is hy vol hoop... so sterk dat hy selfs jubel voor die HERE.

            In die wêreld waarin ons leef maak dit nie sin nie. Habakuk het ‘n totale verlies gelei... maar dit is die wonder van geloof in God. Let ook op, ons blydskap moenie van omstandighede afhang nie.  Ons moet blydskap beleef wat ook al die omstandighede mag wees.

            Te midde van erge rampspoed het mens ‘n keuse: Of die ramp oorweldig jou tot in die afgrond, of jy jubel in die HERE. As jy toelaat dat die ramp jou oorweldig, dan sal alles net erger word en nie beter nie. Hoe gaan ons positief bly wanneer alles verkeerd loop?

            Ons gehoorsaam die opdrag:  Word VERNUWE in julle GEMOED (DENKE)! Rom. 12:2. Hierdie vernuwing is dringend noodsaaklik en is ons sleutel tot ‘n oorvloedige geseënde toekoms.

            Ons lewe beslis in die Eindtyd. Die rukkie wat oor is besef ons, ons kort ‘n nuwe gesindheid, een wat besef dat waarde lê in die toekoms en om dit te bereik moet ons s toekomsmense wees.

            Net nog twee dinge: Hy sê hy sal jubel voor die HERE, die God van sy “heil” (verlossing)     en

Hy sê: Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte (klein bokkies), en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente. Hy sing dit sommer spelende op snaarinstrumente. As jy nie so iets het, speel CD’s... en jubel.  Let op hoe interessant word dit nou: Laat ons dan (wanneer?) gedurig deur Hom aan God 'n lofoffer bring (wat is ‘n lofoffer?), dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.

“Vergeet die weldade en mededeelsaamheid nie, want God het 'n welbehae aan sulke offers.” Heb 13:15-16. Ons bring nie meer diere-offers nie, maar lofoffers met ons lippe asook weldade soos om boere in nood by te staan. – Wekroep