Maandag 18 November 2019

Volharding bring oorwinning


Daar waar jy werk is jou opleidingskool vir dit wat die HERE jou voor voorberei.

            Rondom jou is baie leermeesters. Sommige leer jou van liefde en vooruitgang. Ander toets jou geduld, jou uithouvermoë, jou bereidheid om geleer en  geskaaf te word. Jy sien baie se optredes teenoor jou as onregverdig, vermetel, vernietigend, vernederend. Party dae maak niks sin nie.

            Jy bid al hoe lank vir ‘n ander werk. Wat laat jou dink dat dit daar “beter” sal gaan? Wat is dan aan die gang? Hoekom moet jy so swaar trek, roep jy benoud? En die HERE antwoord:

            “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” Ps 32:8

            Hoekom? En die HERE antwoord: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.”

            Wanneer dinge volgens jou verkeerd loop. Herinner jouself net daaraan jy is in ‘n opleidingskamp. Die HERE is besig met jou en berei jou voor vir jou veel groter taak. Een persoon sê nou anderdag: Voel my soms ek gaan deur ‘n vallei van doodskaduwee.

            Jy gaan nie deur die dood nie, net deur die skaduwee. Watter hond se skaduwee het jou al ooit gebyt? Volhard, die antwoord is straks veel nader as wat jy dink.

            Opleiding gaan gepaard met die soet en die suur. Wanneer wie ook al hoe in daardie kamp teenoor jou reageer, bly kalm en sê: “Dankie Jesus, u berei my voor vir my taak. Dankie vir al die mense wat U in die proses gebruik. Sommige weet nie eers hulle is werktuie in U hand nie.”

“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

“Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” Spr 3:5-6


Pastoor Nick Nilson van die bekende Lakewood Kerk in Amerka met sy 52 000 lidmate, was eens op ‘n tyd ‘n beroeps sokkerspeler. Hy had pas ‘n nuwe kontrak geteken, toe sy kuitspier skeur... sy eerste besering ooit.

            Na ‘n operasie sit hy eendag langs die veld en herstel toe hy die drang beleef om die Evangelie te verkondig. Hy het dadelik die miljoene van die sokker verruil vir die prediking van die Evangelie.

Hy sê as dit nie vir die ernstige besering was nie, sou hy nie die stem van die HERE gehoor het nie.

Pastor Nick Nilson - Lawood-Capture 


            Sy verhaal laat mens ook aan die volgende verhaal dink:

            Die  enigste oorlewende van ‘n skeepsramp het op ‘n klein en verlate eiland uitgespoel.      Hy het ernstig gebid dat die HERE hom moet red en elke dag het hy die horison dopgehou vir ‘n moontlike verbygaande skip, maar daar was niks.

            Uitgeput het hy uiteindelik vir hom ‘n hut gebou. Kos was skaars. Hy het stadigaan bymekaar gemaak wat hy kon. Wie weet hoe lank hy daar sou moes bly.

            Een dag toe hy weer na kos gaan soek het, het hy by sy terugkeer gesien dat sy hut aan die brand is. Hy kon die brand nie blus nie. Alles wat hy bymekaar het, is vernietig. Nodeloos om te sê die man was moedeloos. “God, hoe kon U dit aan my doen,” het hy geskreeu.

            Ure later het die dreunende motore van ‘n skip hom wakker gemaak. Die bemanning het hom kom red.

            “Hoe het julle geweet ek was hier,” wou hy van die bemanning weet.

            “O’ ons het jou rooksein gesien,” het hulle geantwoord.

            Dis maklik om mismoedig te word. Maar (uiters belangrik) as Christen is ons veronderstel om altyd bo die omstandighede te lewe en nooit onder die omstandighede nie. Ons moet God so goed leer ken dat ons sal besef dat wat ook al gebeur, God het ‘n plan daarmee, al word mens soos Josef ook onder in ‘n put gegooi.

            God is aan die werk in ons lewens, selfs te midde van pyn en lyding. Onthou, volgende keer wanneer jou hut tot op die grond afbrand, dan is dit dalk bloot ‘n rooksein wat roep na God se Genade en antwoord. Kyk uit, Jesus is straks op pad.

            Vir al die negatiewe dinge wat in ons lewens gebeur, het God ‘n positiewe antwoord. Dan besef os nooit was enigiets ooit negatief nie.

·       Wanneer jy sê iets is onmoontlik, dan sê God: Alle dinge is moontlik. Luk 18:27

·       Wanner jy moeg is, bied God jou rus aan. Matt 11:28-30

·       Wanneer jy meen niemand het jou lief nie, sê God Hy is beslis lief vir jou. Joh. 3:16

·       Wanneer jy meen jy kan nie meer voortgaan nie, dan sê God Sy Genade is vir jou genoeg. 11 Kor 12:9

·       Wanneer jy meen jy weet nie meer herwaarts of derwaarts nie, dan sê Hy, hy sal vir jou die rigting aandui. Spr 3:5-6

·       Wanneer jy sê jy kan dit nie doen nie, dan sê God jy kan wel. Phil  4:13

·       Jy sê dis nie die moeite werd nie, maar God sê dit is. Rom  8:28

·       Jy meen jy kan nie kop bo water hou nie, maar God sê Hy sal in al jou nood voorsien. Phil  4:19

·       Jy is vol van vrees, maar God sê Hy het jou nie ‘n gees van vrees gegee nie. 11 Tim 1:7

·       Jy sê jy het nie geloof nie, maar God sê Hy het aan ons elkeen ‘n mate van geloof gegee. Rom 12:3

·       Wanneer jy meen jy is nie skerp genoeg nie, sê God Hy het aan jou wysheid gegee. 1 Kor 1:30

·       Wanneer jy meen dat jy eensaam is, sê God Hy sal jou nooit verlaat nie. Heb 13:5



Soms moet ‘n mens se hut (dalk ‘n afgod in jou lewe) afbrand, sodat jy weer die genade van God kan smaak. Bestudeer gerus Romeine agt. – Wekroep