Wys tans plasings met die etiket Jou roeping. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jou roeping. Wys alle plasings

Maandag 25 November 2019

Die HERE het jou nodig... meld aan


Ons kan nie langer in die kerkbanke sit en ons verbeel ons dien die HERE nie. Elke man, vrou en jongmense word benodig in die grootste en omvangrykste Herlewing van alle tye waarin ons triomfantelik die laatoes moet inbring.

Sedert die skepping van die mens het die Almagtige God deur die eeue bewys gelewer oor watter waarde Hy heg aan ‘n enkele persoon, EEN MAN, EEN VROU op hierdie aarde.

            God werk deur mense. Daar is altyd ‘n persoon betrokke. Het Hy al deur jou gewerk?

            Aan EEN man, Adam, word die mag gegee om al die diere van die aarde te noem soos hy wil. Die invloed van die val van dieselfde Adam word vandag nog oor die ganse aarde deur die ganse mensdom gevoel.

            EEN man, Noag, word verkies om die ark te bou, om sodoende ‘n spruit vir die menslike geslag aan die lewe te hou.

            EEN man, Abraham, word geroep uit Ur van die Galdeërs om die vader  van  alle gelowiges te word en die vader van die geslag waaruit Jesus Christus gebore sou word. So is Abraham ons voorvader en al sy seëninge behoort vandag ook aan ons.

            En let op, Abraham en Sara en Sagaria en Elizabeth moes beide op hoë ouderdom vir die HERE ‘n taak verrig.  Die HERE gebruik selfs oumense.

            EEN man, die hakkelende Moses, word geroep om die hele volk Israel, uit Egipte uit te lei en vir veertig jaar deur die woestyn te neem. Hy tree op as skakel tussen God en die volk.

            “En ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie verwoes nie, maar Ek het niemand gevind nie.” – Eseg. 22-30

            Toe God die volk wou verdelg, tree Moses  –  EEN MAN  –  op as voorbidder dat die  volk gespaar sou word.

            Na hom volg weer  EEN  man, Josua, en dan elkeen van die Rigters op hul beurt, die profete  Nehemia, Daniël  en andere  wat  as  EENLINGE opgetree het tussen God en die volk, en wat het hulle nie alles uitgerig nie!

            Die Nuwe Testament begin met Maria. God het haar nodig gehad om Jesus voort te bring. Dan is daar die optrede van Johannes die doper, as voorloper van Christus.

            Toe was daar Jesus Christus, die grootste leraar, prediker, profeet en hervormer wat die wêreld ooit geken het, en dit bo en behalwe Sy liefdevolle Middelaars- en Versoeningswerk.

            Na Jesus volg die apostels waaronder Petrus a toe weer Paulus  –  EEN man na die ander.

            En verder deur die geskiedenis van die Kerk het God van tyd tot tyd die EEN man gebruik om Sy doel te bereik. Daar was manne soos Luther, Calvyn,  Wesley, Murray, Moody, Hudson Taylor, Billy Graham, George Fuller,   Torrey,  Finney, John Lake  en andere wat as EENLINGE opgetree het en uitgeblink het in die werk van God en wonderlike getuienisse vir Hom op aarde geskep het.

            Maar, wat van die behoefte in hierdie tyd waarin ons, ons bevind? Ons het nou, soos seker nog nooit tevore nie, die hulp en beskerming van die Allerhoogste aan alle kante nodig.

            Wat van jou, jy wat nou hier lees? Al gewonder waarom jy juis hierdie boodskap nou moet lees?  Is dit blote toeval dat jy hierdie artikel lees? God soek ‘n man! Toevallig – toe val die lig – ook ‘n VROU. Vroue het ook groot rolle in die bou van die Christelike Kerk vertolk. Gemeentes is in hulle huise gestig. Meer as 180 vroue het leidende rolle in die Bybel vertolk, meer as 30 van hulle in die Nuwe Testament.

            Van hulle was en is vroue soos Marilyn Hicks, Paula White, Patricia King, Kathryn Kuhlman, Cathrine Booth, Joyce Meyer, Jennifer LeClair, Rachel Oakes en talle ander

            Dit is nodig dat manne en vroue VANDAG na die stem van die HERE luister en sonder verdere versuim na vore tree en aanmeld vir diens –  heldediens – waardeur hierdie volk gered en vrygekoop sal word!

            Christene is besig om in toenemende maat by die geledere van verskeie  gebedsforums en verootmoediging byeenkomste in te skakel. Hulle reageer op die stem van EEN, die Heilige gees.

            Hulle het Sy stem gehoor. Hulle het reageer. Hulle is nou voorbidders vir die volk. Hulle tree in vir die volk, vir ons kinders, vir ons toekoms, vir die bou van die Koninkryk van God en die uitbreiding daarvan.

            God soek gereeld manne en vroue wat ‘n bres vir Hom kan slaan, ‘n bres vir die Volk kan slaan. Manne en vroue met durf en daad, wat soos Koning Dawid sal sê: “Met my God spring ek oor ‘n muur.”

            God het manne en vroue nodig in die tronke, in die hospitale onder die armes, die boemelaars, by jou bure, by die skole, die ouetehuise.

            Bemoedig mense, lê vir hulle hande op, bid vir hulle. Gee kos en klere.

            Sal God so ‘n man, so ‘n vrou, ook in jou vind? Sal jy gehoorsaam wees aan Sy roepstem? Die Heilige Engele staan ons in alles by.

            Nee, dis nie die werk van die predikante (herders) nie. Herders kry nie lammers nie, net skape kry lammers. Herders se taak is om die skape so goed te voed (op te lei) dat hulle selfs twee-, drie- en vierlinge aanbring!

            Moenie dink aan hoe ver jy tekort skiet nie. Abraham het ‘n voorspoedige en vol lewe gelei toe die HERE hom die opdrag gegee het dat hy moes oppak en trek, en dit boonop deur die woestyn, die vreemde in.

            Waar hy en sy mense gewoon het, het dit baie goed met hulle gegaan. En toe die opdrag, om met alles – vroue, kinders, babas, diere, groot en klein, deur die woestyn te trek sonder dat hy geweet het waarheen.

            Abraham het gladnie geweet waarheen by moes trek nie, maar hy het  geweet saam met Wie hy trek!

            Jy sal nie in jou eie krag optree nie. God sal jou  toerus met krag. Hy het dit met almal voor jou gedoen en Hy gaan dit weer met almal van ons doen.

            “Nie deur krag of geweld nie, maar deur My Gees, sê die HERE van die leërskare.” –  Mal. 4:6

            God soek ‘n MAN en ‘n VROU wat die muur van gebed sal bou  “wat gedurig die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie… en Hom nie met rus sal laat nie, tot Hy Jerusalem (Sy gemeente)  bevestig en maak tot ‘n lofoffer op die aarde.” – Jes. 62:6,7, “want die Here – Sy oë deurloop die aarde(hoekom?) om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…..”2 Kron. 16:9

            God soek na ‘n Man, ‘n Vrou.  Is jy bereid om aan te meld? Sê vandag nog vir die HERE: “Ek meld aan vir diens. Laat U wil geskied.” – Wekroep

Maandag 18 November 2019

Volharding bring oorwinning


Daar waar jy werk is jou opleidingskool vir dit wat die HERE jou voor voorberei.

            Rondom jou is baie leermeesters. Sommige leer jou van liefde en vooruitgang. Ander toets jou geduld, jou uithouvermoë, jou bereidheid om geleer en  geskaaf te word. Jy sien baie se optredes teenoor jou as onregverdig, vermetel, vernietigend, vernederend. Party dae maak niks sin nie.

            Jy bid al hoe lank vir ‘n ander werk. Wat laat jou dink dat dit daar “beter” sal gaan? Wat is dan aan die gang? Hoekom moet jy so swaar trek, roep jy benoud? En die HERE antwoord:

            “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” Ps 32:8

            Hoekom? En die HERE antwoord: “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.”

            Wanneer dinge volgens jou verkeerd loop. Herinner jouself net daaraan jy is in ‘n opleidingskamp. Die HERE is besig met jou en berei jou voor vir jou veel groter taak. Een persoon sê nou anderdag: Voel my soms ek gaan deur ‘n vallei van doodskaduwee.

            Jy gaan nie deur die dood nie, net deur die skaduwee. Watter hond se skaduwee het jou al ooit gebyt? Volhard, die antwoord is straks veel nader as wat jy dink.

            Opleiding gaan gepaard met die soet en die suur. Wanneer wie ook al hoe in daardie kamp teenoor jou reageer, bly kalm en sê: “Dankie Jesus, u berei my voor vir my taak. Dankie vir al die mense wat U in die proses gebruik. Sommige weet nie eers hulle is werktuie in U hand nie.”

“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

“Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” Spr 3:5-6


Pastoor Nick Nilson van die bekende Lakewood Kerk in Amerka met sy 52 000 lidmate, was eens op ‘n tyd ‘n beroeps sokkerspeler. Hy had pas ‘n nuwe kontrak geteken, toe sy kuitspier skeur... sy eerste besering ooit.

            Na ‘n operasie sit hy eendag langs die veld en herstel toe hy die drang beleef om die Evangelie te verkondig. Hy het dadelik die miljoene van die sokker verruil vir die prediking van die Evangelie.

Hy sê as dit nie vir die ernstige besering was nie, sou hy nie die stem van die HERE gehoor het nie.

Pastor Nick Nilson - Lawood-Capture 


            Sy verhaal laat mens ook aan die volgende verhaal dink:

            Die  enigste oorlewende van ‘n skeepsramp het op ‘n klein en verlate eiland uitgespoel.      Hy het ernstig gebid dat die HERE hom moet red en elke dag het hy die horison dopgehou vir ‘n moontlike verbygaande skip, maar daar was niks.

            Uitgeput het hy uiteindelik vir hom ‘n hut gebou. Kos was skaars. Hy het stadigaan bymekaar gemaak wat hy kon. Wie weet hoe lank hy daar sou moes bly.

            Een dag toe hy weer na kos gaan soek het, het hy by sy terugkeer gesien dat sy hut aan die brand is. Hy kon die brand nie blus nie. Alles wat hy bymekaar het, is vernietig. Nodeloos om te sê die man was moedeloos. “God, hoe kon U dit aan my doen,” het hy geskreeu.

            Ure later het die dreunende motore van ‘n skip hom wakker gemaak. Die bemanning het hom kom red.

            “Hoe het julle geweet ek was hier,” wou hy van die bemanning weet.

            “O’ ons het jou rooksein gesien,” het hulle geantwoord.

            Dis maklik om mismoedig te word. Maar (uiters belangrik) as Christen is ons veronderstel om altyd bo die omstandighede te lewe en nooit onder die omstandighede nie. Ons moet God so goed leer ken dat ons sal besef dat wat ook al gebeur, God het ‘n plan daarmee, al word mens soos Josef ook onder in ‘n put gegooi.

            God is aan die werk in ons lewens, selfs te midde van pyn en lyding. Onthou, volgende keer wanneer jou hut tot op die grond afbrand, dan is dit dalk bloot ‘n rooksein wat roep na God se Genade en antwoord. Kyk uit, Jesus is straks op pad.

            Vir al die negatiewe dinge wat in ons lewens gebeur, het God ‘n positiewe antwoord. Dan besef os nooit was enigiets ooit negatief nie.

·       Wanneer jy sê iets is onmoontlik, dan sê God: Alle dinge is moontlik. Luk 18:27

·       Wanner jy moeg is, bied God jou rus aan. Matt 11:28-30

·       Wanneer jy meen niemand het jou lief nie, sê God Hy is beslis lief vir jou. Joh. 3:16

·       Wanneer jy meen jy kan nie meer voortgaan nie, dan sê God Sy Genade is vir jou genoeg. 11 Kor 12:9

·       Wanneer jy meen jy weet nie meer herwaarts of derwaarts nie, dan sê Hy, hy sal vir jou die rigting aandui. Spr 3:5-6

·       Wanneer jy sê jy kan dit nie doen nie, dan sê God jy kan wel. Phil  4:13

·       Jy sê dis nie die moeite werd nie, maar God sê dit is. Rom  8:28

·       Jy meen jy kan nie kop bo water hou nie, maar God sê Hy sal in al jou nood voorsien. Phil  4:19

·       Jy is vol van vrees, maar God sê Hy het jou nie ‘n gees van vrees gegee nie. 11 Tim 1:7

·       Jy sê jy het nie geloof nie, maar God sê Hy het aan ons elkeen ‘n mate van geloof gegee. Rom 12:3

·       Wanneer jy meen jy is nie skerp genoeg nie, sê God Hy het aan jou wysheid gegee. 1 Kor 1:30

·       Wanneer jy meen dat jy eensaam is, sê God Hy sal jou nooit verlaat nie. Heb 13:5



Soms moet ‘n mens se hut (dalk ‘n afgod in jou lewe) afbrand, sodat jy weer die genade van God kan smaak. Bestudeer gerus Romeine agt. – Wekroep 

Donderdag 07 November 2019

Wat is jou vertraging?


In Lukas 8 lees ons van hoe Jesus die storm op die See van Galilea stil. Wanneer Hy anderkant aan wal stap, ontmoet hy ‘n man wat nakend tussen die grafte woon en deurtrek is van demone.

            Jesus het die man vrygemaak en die man het die wonderwerk wyd gaan verkondig. Jesus het toe ook verskeie ander wonderwerke verrig.

Die storm op die see was om Jesus te verhoed om al daardie mense te kon vrymaak, genees en uit die dood uit op te wek.

In Dan 10:12-13 word Engel op pad na Daniël vir 21 dae vertraag en ‘n ander Engel daardie een moes kom help om vry te kom. Daar is ten minste nog 18 plekke in die Bybel oor vertragings.

Weet een ding: Die vyand bring vertragings oor ons pad om ons te verhinder om sy saak skade te berokken.  Soms sal nuwe deure vir jou oopgaan, ‘n nuwe werk, ‘n groter bediening. Die vyand weet dit en probeer keer. Vrees niks, tree op met die gesag waaroor jy in Jesus se Naam beskik.

Wanneer iets gebeur om jou te vertraag, dan is dit omdat God iets met jou beplan.

Lisa Osteen Comes is ‘n hulpprediker by die bekende Lakewood Kerk in Houston, Texas, die grootste kerk in Amerika. Haar pa was die bekende John Osteen. Vandag is haar broer Joel Osteen die hoofprediker.

Lisa is gebore met ‘n probleem gelykstaande aan verstandelike vertraagdheid. Sy sou basies niks vir haarself kon doen nie, maar deur die jare het haar toestand deur gebed en bemoediging so verbeter dat sy later die gemeente se posstukke kon hanteer het.

Eendag was daar ’n pypbom in ‘n pakkie. Toe sy die pakkie niksvermoedend oopmaak het sy haar een been in die ontploffing verloor. Na ‘n lang pad van herstel, het sy gesê: ”Die bom was in die pakkie, nou is ek die bom.”

Sy het haar teologiese graad aan Oral Roberts Universiteit behaal en begin preek. Sy preek steeds, ook oor Televisie wêreldwyd. Sy en haar man, Kevin, en hul drie kinders, Catherine, Caroline, and Christopher, woon in Houston.     



            Die HERE het Lisa geroep as prediker, soos wat Hy al die vroue in die Bybel geroep het, elkeen vir ‘n spesifieke doel, selfs as predikers. Die vyand het dit probeer keer met verstandelike vertraagdheid. Toe dit nie slaag nie, wou hy haar met ‘n bom doodmaak.

            ‘n Bomkenner het gesê dat as sy die pakkie dwars op haar skoot gehad het, het sy beslis gesterf.

Met die vertragingsaksie in plek, was Lisa soos ‘n voëltjie in ‘n hokkie vasgekeer. Toe die hokkie oopgaan, het sy geblom.

Wat hou jou terug in jou lewe? Vind uit en tree op. Ons is elkeen op die aarde geplaas met ‘n spesifieke doel. Weet jy wat joune is... raak dan ontslae van die struikelblokke. Ons durf nie lewens lei van water-oor-Gods-akker nie. Die oes is groot en die arbeiders te min. – Wekroep

Vrydag 11 Oktober 2019

Dis jou Roeping: Wees betrokke



“Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.

            “Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die Hemele is.

“Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die Hemele is.

            “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.

            “Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen 'n man en sy vader, en tussen 'n dogter en haar moeder, en 'n skoondogter en haar skoonmoeder.

            “En 'n mens se huisgenote sal sy vyande wees.

            “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.

            “En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.

            “Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

            “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.

            “Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die loon van 'n profeet ontvang; en wie 'n regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die loon van 'n regverdige ontvang.

            “En elkeen wat een van hierdie kleintjies net 'n beker kou water laat drink, omdat hy 'n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.” Matt 10:32-42

            Dit is wat die Messias gesê het en dit is hoe dit is en hoe dit sal wees. Niemand kan ‘n jota of titel hieraan verander nie.

            Lees die hele Deut 28 om te beleef wat die Messias se Vader Jahweh gesê het.

            Hierdie gedeeltes speel ‘n kardinale rol in ons elkeen as Gelowiges se lewens. Twee duisend jaar gelede gee hy die opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Matt 28:19

            En wanneer moet ons dit doen?

            “En wie is daar van julle wat 'n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel?

“Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink?

“Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie.

“So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” Luk 17:7-10

En: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. (en dit is reeds besig om te gebeur)

“Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van 'n evangelis; vervul jou bediening.” 2 Tim 4:2-5

Ons het geen keuse nie, ons moet die Evangelie van Verlossing en Liefde verkondig.

            Net ‘n voorbeeld: Iemand bid by die ete en sê: “HERE dink ook aan hulle wat minderbevoorreg is...” En dit terwyl dit die bidder is wat aan die minderbevoorregtes moet dink!

            Kyk en luister asb na die volgende video en besef hoe laat dit geword het. Op die oomblik in die Midde-Ooste vlug Christene in groot getalle uit Gaza en in hul duisende uit Sirië.

            Weet een ding, as iemand nie Wedergebore is nie, is die ewige verdoemenis sy en haar lot. As jy nie fisies iets kan doen nie, bid dan in groepe saam vir die beskerming van Christene en die redding van siele, of help ander organisasies om dit te doen, maar raak betrokke. Ons het ‘n roeping! – Welroep

https://billygraham.org/video/persecution-and-the-gospel/?utm_source=breaking-christian-news&utm_medium=email&utm_campaign=ctv_october_2019&SOURCE=BT19AYBCE


Saterdag 05 November 2016

Is hierdie straks jou Eindtyd roeping?


Image result for mother and child hugging and crying


“Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía  (wat beteken: God is YAWEH) voordat die groot en vreeslike dag  van die HERE aanbreek (hoekom?) “En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders (hoekom?), sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.” Mal 4:5-6
            Die HERE roep Sy volk op tot gesinsherstel.  Hierdie wekroep behels die volgende:
1. dat daar ’n oordeelsdag kom;
2. dat die Here vooraf spesiaal Sy volk oproep;
3. dat hierdie wekroep oor die herstel van gesinne gaan.

Gesinslewens in Suid-Afrika, is feitlik oral aan flarde. Praat met beraders, predikante, skoolhoofde en dis duidelik die verbrokkeling van gesinne en van ’n normale gesinslewe is aan die orde van die dag.
Bloufilms, die Internet, TV, egskeidings en selfone speel ‘n kardinale rol hierin. Die gesagstrukture by meeste huise en die skole het getuimel. Ouers voed nie meer hulle kinders op nie. Baie kinders laat hulle ook nie opvoed nie.
Die kommunisiekasiegaping het ‘n liederlike afgrond geword. Daar is in sommige gevalle vyandskap tussen ‘n kind en ouer en onderwyser en kind. Baie kinders loop eenvoudig weg en beland op talryke verkeerde weë. Hulle twis selfs oor godsdiens en kerk.
            God se wil is dat almal gered sal wees. Versplinterde gesinne noodsaak selfs dat die HERE met ‘n spesiale aksie in hierdie tyd kom om die gesinne te versoen.
            Behalwe genoemde feite, is daar die ouers wat hulself vandag in huwelike bevind waar hul huweliksmaat en kinders geen kennis dra van ‘n buite-egtelike kind iewers in die verlede wat naarstigtelik na sy biologiese ouers soek nie.          
            Daar is tienduisende kinders op verskeie webtuistes in SA wat na hul biologiese ouers soek en en in ‘n mindere maat ouers wat na hul biologiese kinders soek.
            Jou eie kind sal jy nooit kan wegwens nie. Dit is en bly jou kind en die Gees van God dring julle in hierdie en die toekomende tyd na mekaar toe. Daar is gevalle van mense wat gedink het, hulle neem hul geheim saam na hul graf, maar helaas, kort na die begrafnis kom die waarheid aan die lig.
            Vaders en moeders wat nie in die lig wandel met mekaar nie, sit met ‘n binding in hulle gees. Daardie binding het allerlei negatiewe gevolge wat soms selfs tot ‘n egskeiding lei.
            Ons lewe in die Laaste Uur. Dis God se wekroep dat ouers en kinders mekaar vind, met mekaar regmaak  en gereed maak vir die Koms van Jesus Christus.
            Die Oordeelsdag waarvan Maleagi en ander profete praat, gaan oor niks anders nie as die gereedmaak vir die Koms van Jesus Christus nie.
            Of jy is gereed daarvoor en leef in afwagting, of jy bly agter saam met miljoene ander en beleef die Groot Verdrukking. Die keuse is joune.
            Maleagi 4:5-6 weerspieël die Liefde van die HERE. Elia kom nie terug aarde toe, maar Jesus en al die geroepe Elia’s is besig om in die krag en die gees van Elia te beweeg:
“En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía (hoekom), om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges (hoekom?), om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.
            Maar wie was Elia? Vanaf 1 Kon 17 lees Elia se geskiedenis onder meer soos volg:

•          Elia was ’n profeet in ’n tyd toe die HERE se volk afgedwaal het;
•          maar hy’t aangehou om hulle terug te roep na die HERE toe, al wou hulle nie na hom luister nie en hom daaroor wou doodmaak;
•          hy was eintlik in die Ou Testament tyd ‘n voorbeeld van hoe ’n profeet moes wees.

            En nou belowe die HERE hier deur Maleagi dat Hy Elia na Sy volk toe sal stuur voordat die oordeelsdag kom:
•          Hy sal deur Elia met hulle praat;
•          Hy sal, soos in Elia se tyd, ’n kragtige wekroep tot hulle laat uitgaan.

Die HEREe bedoel hiermee nie dat die Elia van die OT weer hier op aarde gaan kom lewe nie. Die Nuwe Testament leer ons duidelik dat voordat Jesus die eerste keer gekom het, Johannes die Doper die Elia was wat die HERE se volk teruggeroep het na Hom toe.
In ’n tyd toe mense se godsdiens oppervlakkig en skynheilig geword het, het Johannes met groot krag vir hulle gepreek:  “Bekeer julle, want die Koninkryk van die Hemel het naby gekom.” Mat 3:2
In hierdie Eindtyd, voordat Jesus Christus weer kom, sien mens hierdie Elia-gees oral in groot krag, heerlikheid en getrouheid kinders en die vaders versoen, die versplinterde gesinne restoureer.
Diegene wat ons reeds vooruitgegaan het, sal in die Hemel versoen wees. Vir seker.
            Wat moet hierdie Elia’s wat die HERE stuur, doen?
            Let op: “Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.” Eseg 18:32
Maleagi profiteer:
•          hierdie Elia wat Hy stuur, sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders
•          en die hart van die kinders tot hulle vaders;
•          Hierdie Elia’s gaan gebruik word om gebreekte gesinne te herstel;
•          hy gaan werk aan versoening tussen ouers en kinders; want ’n volk wat gereed is vir die Here se koms, is ’n volk waar die hart van die vaders en die hart van die kinders bymekaar is, waar die geslagte mekaar weer gevind het.
            Hierdie Elia’s gaan daarin slaag om ouers en kinders wat van mekaar verwyderd geraak het, weer bymekaar uit te bring?
Hulle gaan doen wat die eerste Elia gedoen het: Elia het mense teruggeroep na die Here toe – die vaders en die kinders. 7 Lk 1:17
            Elia bring vaders en kinders bymekaar deur hulle na die HERE toe te roep. En waar dit gebeur, is mense gereed vir die Here se koms, en hoef hulle niks te vrees nie.
            Voordat die HERE kom, stuur Hy Sy oproep dat Sy kinders moet terugkeer na Hom toe en restoureer Hy die gesinslewens.
Sy liefde word weer eens gesien in: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en (waar nog) in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
Ons het almal ‘n Roeping om die getal vol te maak. Is dit jou roeping om die versplinterde gesinslewens te restoureer? Oral in SA is sulke mense nodig. Net soos in enige ander roeping, lei die Heilige Gees ook hierdie mense hoe om die gesinslewens te heel.
Jou roeping is vagemaak in die Koninklike Wet in Jak 2:8.
Is hierdie ook jou Eindtyd roeping?
Almal wat betrokke is by gebedsgroepe, bid asseblief daagliks vir die herstel van gesinslewens en Herlewing. Gesinne is die pilare van ‘n volk en as die pilare meegee, val die volk. Maleagi bring hoop… God se wekroep dat die gesinslewens moet herstel. As dit jou roeping is, is jy nie alleen nie. Die Heilige Gees dra jou.