Wys tans plasings met die etiket Bedruktheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bedruktheid. Wys alle plasings

Woensdag 05 Junie 2019

‘Watter reg het jy om bedruk te wees?’

Terwyl Martin Luther midde in die Hervorming was, het die Pous 'n hewige poging aangewend om hom terug te bring Roomse Kerk toe. Hy het 'n kardinaal gestuur om hom om te praat en 'n groot geskenk in goud saamgestuur.

Die kardinaal het vir die Pous teruggeskryf: "Die gek het geen smaak vir goud nie!"


Toe die kardinaal hom nie kon omkoop nie, het hy hom gedreig: "Wat dink jy gee die Pous om vir die opinies en uitsprake van'’n eenvoudige Duitse boer? Die Pous se pinkie is sterker as die hele Duitsland (Luther se geboorteland). Dink jy die Duitse prinse sal wapens opneem om jou – 'n ellendige wurm soos jy – te verdedig? Ek sê nou vir jou, nee, dit sal nooit gebeur nie!

“En dan, waar is jy dan?"

Luther het kalm geantwoord: "Presies waar ek nou is. In die hande van Almagtige God."

Luther het egter ook tye van vertwyfeling beleef. Eenkeer was hy so bedruk en bekommerd hy kon nie werk nie; wou nie eet nie; kon nie slaap nie. Een oggend, in daardie moeilike tyd, kom sy vrou in sy studeerkamer in, geklee in rouklere.

Luther skrik. "Wie is dood?" vra hy angstig. "Het jy gehoor nie?" antwoord sy ernstig, "God is mos dood." "Moenie laster nie," bestraf hy haar.

"Ek laster nie. Ek handel uit wat ek van jou gedrag aflei. As God lewe, watter reg het jy, Sy uitgesproke kneg, om so bedruk en bekommerd te wees?"

Luther het geluister en beskaamd op sy knieë gegaan en sy ongeloof bely en met nuwe moed en oorwinning opgestaan om die Here se werk te doen.

            Geloofsoorwinning en geloofsneerlaag kan mekaar afwissel in die hart van 'n kind van die HERE. Die HERE gee ons nie prys as ons begin twyfel nie, maar bly naby ons en stuur vir ons die versterking wat ons nodig het.

Selfs Paulus het aan bemoediging behoefte gehad. "Die gelowiges in Rome het van ons gehoor, en hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het Hy God gedank en moed geskep." Hand 28:15

                        "U is my toevlug en veilige vesting, my God op wie ek vertrou." Ps 91:1,2 -- Wekroep