Wys tans plasings met die etiket genade en geloof. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket genade en geloof. Wys alle plasings

Dinsdag 12 November 2019

Gered uit Genade deur die Geloof



“Want uit genade is julle gered (hoe?), deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Baie mense dink foutiewelik die saligheid kom net deur genade – dat vir ons om die saligheid te ontvang, is alles net in die hande van die HERE.

Ander weer meen die saligheid is alleen aan geloof te wyte – en dus ons verantwoordelikheid. Hierdie strofe sê ons word nie net deur genade nie, en ook nie net deur geloof nie; eerder  dat ons gered is uit genade deur die geloof. Dis ‘n samevoeging van die twee.

Genade is God se onverdiende guns. Jy ontvang vryelik dit wat jy nie verdien nie. Mens kan nie God se genade verdien nie. Dis totaal onafhanklik van ons optrede. Geloof egter, is ‘n positiewe reaksie op dit wat God reeds gedoen het.

Geloof probeer nie God beweeg om iets te doen of aan jou iets te gee nie; geloof ontvang bloot dit wat God aanbied.

Ons word gered uit genade deur die geloof. Ons verduidelik graag soos volg: Wat sal jy doen as ek voor jou staan, my motorsleutels na jou toe uithou en sê “Hier, dis ‘n geskenk aan jou.“

As jy wys is sal jy jou hand uitsteek en die sleutels neem en baie dankie sê. Genade is ek wat die sleutels vir jou aanbied – geloof is jy wat die sleutels neem. Dit is hoe die saligheid plaasvind. “Uit genade is jy gered deur geloof...”

God het deur Jesus die saligheid vryelik aan elke persoon aangebied. Tit 2:11. Die geskenk  word verleen deur  “genade”. Dit beteken dat dit nie gebaseer is op hoe heilig jy leef nie, of jy kerk toe gaan, jou Bybel lees of ander “goeie” dinge doen nie.

Die saligheid word ons aangebied deur God se onverdiende guns. Christelikheid gaan oor alles wat Jesus vir ons gedoen het (verlede tyd) en nie wat ons in die hede doen nie. Rom 5:8 gee aan ons die definisie van genade: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Die geskenk was gegee toe ons niks gehad het om vir God aan te bied nie, toe ons op ons laagste vlak was – sondaars. Laat my ‘n vraag vra: Hoeveel het jy gebid en na God gesoek voordat jy Wedergebore is? Hoeveel keer het jy jou Bybel gelees en kerk toe gegaan? Die meeste van ons het nie reg gelewe voordat ons gered is nie, en min van ons was dit werd om dit te kon ontvang.

Maar God was nogtans lief vir ons en het aan ons die grootste geskenk ooit, Jesus Christus, gegee, nie omdat ons lieflik is nie, maar omdat Hy liefde is. 1 Joh 4:8. Genade groot!

God bied aan ons sy genade vir saligheid. Dit is totaal onafhanklik van ons prestasies en goedheid. Titus 2:11 lees “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn.” God se genade is aan elke persoon beskikbaar op presies dieselfde manier.

“Die HERE vertraag nie die belofte  (van sy Wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 2 Pet 3:9 God se wens is dat alle mense tot belydenis kom en gered word. Hy wil nie dat enigiemand sou vergaan nie en nogtans vergaan mense daagliks.

Dit wys daarop dat God se wil nie outomaties werk nie. God dwing nie die saligheid op enigiemand af nie en nogtans bied Hy dit vryelik aan elkeen. Die geskenk word nie deur elkeen geniet nie want nie elkeen aanvaar dit nie. Die saligheid is ‘n vrye geskenk wat God vryelik deur genade aan ons bied, maar dit moet deur geloof ontvang word.

            “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Efes 2:8-9 Die saligheid is nie uit jouself nie.

Dis nie iets waarvoor jy kan werk of dit verdien nie, dis ‘n geskenk van God af. As jy dit kon verdien, kon jy daaroor gespog het – maar al die glorie gaan aan Jesus wat ‘n volmaakte werk gedoen het, sodat ons dit nie kon doen nie. Die waarheid is dat jy nooit genoeg sou kon doen om enigiets van God te verdien of Hom tevrede te stel nie.

“Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste” Rom 4:4

“En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie.  En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.” Rom 11:6

            Jy word of deur genade gered, of jy probeer dit deur werke te verdien – wat nooit werk nie. Kom ons stel voor dat jy  onbeperkte  skuld het, ‘n skuld so groot dat jy dit nie kan betaal nie. Genade is ek wat aan jou ‘n debietkaart gee met onbeperkte fondse sodat jy jou skuld kan betaal en te koop wat jy ook al nodig het – alles teen my koste bereken.

Jy het nie vir my gewerk nie en jy het niks gedoen om dit te kon verdien nie. Dit sou die hele gedagte agter my geskenk verpletter. Per definisie is ‘n geskenk iets wat vryelik en vrywillig gegee word sonder om betaling daarvoor te verwag.

Dit word gegee om guns aan iemand te bewys, ‘n handeling van gee, iets wat die ontvanger verkry sonder enige besondere aksie deur die ontvanger of dat dit verdien is.

Die oomblik dat mens vir ’n geskenk moet werk, dan is dit nie meer ’n geskenk nie. Sodra mens vir genade begin werk dan is dit nie meer genade nie. Dit is soos om jou debietkaart te neem en in plaas daarvan om jou onbeperkte skuld te vereffen, vind jy ‘n betrekking om die onbeperkte skuld te kan terugbetaal – ten spyte daarvan dat jy dit nooit sal regkry nie. Dit is baie dom.

Tog is dit wat meeste Christene doen. Ons is gered deur God se groot genade, onverdiend, vryelik geskenk, onverdiende guns, deur geloof. Al wat ons moet doen is om te ontvang.

Na alles: Sonder die Wedergeboorte sal jy Nooit die Ewige Lewe sien nie. Jesus wag vir jou. – Wekroep