Wys tans plasings met die etiket Afrikaans; liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afrikaans; liefde. Wys alle plasings

Woensdag 12 Julie 2017

Die Groot Leerskool


Image result for big tree

Alice Fisher, 'n afgetrede onderwyseres, het op 'n netjiese kleinhoewe gewoon. Op die grens tussen haar en die bure, maar aan haar kant, het 'n pragtige, groot inheemse boom gestaan.

'n Nuwe buurman het aangebied om die boom af te kap en dan deel hulle die vuurmaakhout.
Alice het geweier. Sy was lief vir die boom en die boom was 'n sieraad vir die omgewing. Op 'n keer was sy vir 'n paar weke weg van die huis af. In haar afwesigheid het die buurman die boom afgekap. By haar terugkeer was die hout reeds opgekap en veilig in die buurman se pakkamer weggepak.
Alice was woedend en vir 'n paar dae lank het sy allerlei wraakgedagtes gekoester.
Alice was 'n kind van die HERE en die krag van die Heilige Gees in haar, het Christus se liefde, oor haar natuurlike toorn, laat seëvier.

Sy het 'n koek gebak en die helfte vir die bure geneem. Die deur is in haar gesig toegemaak. Weer het daar vir 'n paar dae 'n stryd in haar hart gewoed. Weer het Christus se gesindheid oorwin. Sy het klein koekies gebak en vir die bure 'n bord vol geneem. Hierdie keer is die deur op 'n skrefie oopgehou en iemand het, "Nee dankie," gemompel.

Ai, twee dae later het sy weer gegaan. Hierdie keer met 'n bos blomme uit haar eie tuin. Dit is huiwerig aangeneem, maar sy is nie ingenooi nie.

'n Week later is die buurman aan 'n hartaanval dood. Die vrou het haar tot Alice gewend om hulp. Die dae daarop het Alice vir die gesin gesorg en al die reëlings vir die begrafnis en boedelafhandeling getref.
Hoe dankbaar was Alice nou dat sy die leiding van die Heilige Gees gevolg het en liefde betoon het, toe haar natuurlike drang na vergelding gehunker het.

Sy het 'n wesenlike teenwoordigheid van die HERE ervaar. Jesus se woorde aan die kruis: "Vader, vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie", was vir haar soet woorde, want sy het geweet sy het in Sy voetspore gevolg.

Alice was nou nader aan die HERE as ooit tevore. Sondige wraak is soet vir die oomblik, maar laat 'n bitter leegheid in die hart agter. Om kwaad met liefde te antwoord, kos 'n prys, maar agterna is die hart vol vrede en vreugde.

"Moenie julle wreek nie, geliefde, maar gee plek vir die toorn... oorwin die kwaad deur die goeie." Rom 12:29

In ons sondige natuur is diepgesetelde kwaad. Die HERE gebruik omstandighede om ons geestelike lewe te verdiep en vir ons deur Sy Gees 'n oorwinningslewe te gee. So groei ons in Heiligmaking.
"Ons bid ook dat julle so sal lewe dat alles wat julle doen vir Hom vreugde sal gee. Dan sal julle lewe nuttig wees. Julle sal baie kan doen wat goed is en julle sal God al beter leer ken." Kol 1:10

Hoe pragtig is die volgende: "As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy 'n voorwerp vir besondere gebruik wees … bruikbaar vir enige goeie diens." 2 Tim 2:21