Vrydag 01 Maart 2019

'n Groot Trek na Nuwe Denke



Wees ‘n Dawid


Dit is 2019. Wees vanjaar en totdat Jesus kom, ‘n Dawid.

            Dawid was God-gefokus, ‘n God-denker.

            Dawid was ‘n wenner. Dawid het nie Goliat verslaan met sy optrede nie maar oor dit wat hy gedink het.

            Word vernuwe in jou denke. Word ‘n God-denker. Word VERNUWE in julle GEMOED (DENKE)! Rom. 12:2. Hierdie vernuwing is dringend noodsaaklik en is ons sleutel tot ‘n oorvloedige geseënde toekoms. Dis ‘n opdrag!

            Dawid breek weg van tradisie en emosie. Hy begin ‘n “Groot Trek na Nuwe Denke.”.. ‘n swaard en gevegsdrag sou ‘n mislukking wees.

            God keer ‘n verloor-situasie om: Die swaard waarmee Goliat vir Dawid mee wou doodslaan, gebruik Dawid om Goliat mee te onthoof.

            Dawid besef Goliat is 2.7432m lank, sy arms en sy swaard is ook langer. Goliat is boonop ‘n opgeleide swaardvegter.

            Dawid was ‘n meester met ‘n slingervel. Hy besluit hy sal Goliat in sy voorkop tref. En hy maak so, en hy kap Goliat se kop af en al die Filistyne slaan op die vlug.

            Dawid was ‘n bidder wat trou saam met die HERE gewandel het. Een dag het hy nie. Daarvoor het hy ‘n duur prys betaal, maar daarna is hy terug by YAWEH, veilig in Jesus hoede... ‘n man na God se hart.

            Sportwetenskaplikes verklaar dis onmoontlik om sukses te behaal met negatiewe denke.

            Kyk, hier is jou uitdaging: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek. Hebr 11:6. Selfs Dawid is beloon omdat hy Goliat verslaan het.

            Lees gerus die hele Heb 11 oor geloof.

            Die Israelse leër was verlam van vrees. Dawid was vol van geloof en God gefokus.

            Let op: “Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.

            “Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die Hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel 'n God het.

            “Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.” 1 Sam 17:45-48

            As jy negatief dink, vergeet van sukses. Hy wat twyfel kan niks van die HERE ontvang nie. Jak 1:6-7

Nou die sleutelvraag: ”Hoe verkry ons ‘n God-geloof? Deur die Woord daagliks te lees…  “U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.” Ps 119:105

Steek ‘n kers op, skakel al die ligte in die huis af en staan alleen met die kers. Die kerslig is nou in beheer van die duisternis. Inderdaad bevind ons onsself in ‘n duistere wêreld. Lees die Woord daagliks en saans. Jy het geen ander lig nie. So bly jy in die Wil van God.

Wat die besnydenis betref: Besnydenis het beteken God se seën rus op die besnede kind. In ons geval vandag beteken besnydenis van die Hart presies dieselfde. Om jou kind na geboorte aan God terug te gee en in sy weë groot te maak, beteken ook jou kinders is geseënd.

Goliat was as Filistyn nie besny nie en dit het Dawid omgekrap dat hierdie onbesnede Filistyn dit sou durf waag om die leërs van God te beledig.

“Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.” Joh 4:23

Dis die opdrag aan ons vandag: Aanbid die  HERE is Gees en in Waarheid.

Wees ‘n Dawid in jou huwelik, jou huishouding, jou skool, universiteit, en reg deur die ganse lewe.

Baan jou weg met die Lamp (Woord) en Nuwe Denke. - Wekroep