Uit die mond van ‘n kind...
Die prediker Augustinus wat in Algerië gebore is, het 30 jaar lank gesukkel om sy tesis oor die Drie-eenheid te voltooi. Hy wou die “misterie” van die Drie-eenheid intellektueel verklaar, het hy destyds verduidelik.
Hy het een dag langs die strand gaan wandel in ‘n poging om antwoorde te soek toe hy ‘n klein seuntjie heen en weer tussen ‘n plek op die strand en die see sien hardloop.
Die seuntjie het ‘n skulp gebruik om water aan te dra. Hy het telkens die skulp vol seewater gaan maak en dit in ‘n klein holte op die strand kom gooi.
Augustinus stap toe na die seuntjie en vra: “Seun, wat is jy besig om te doen?”
Die seuntjie het met ‘n pragtige glimlag geantwoord: “Ek probeer om die ganse see hierheen te dra en in hierdie gaatjie te kom gooi.”
“Maar dit is tog onmoontlik, my liewe kind, die gaatjie kan nie al daardie seewater bevat nie,” het Augustinus gesê.
Die seuntjie het ‘n rukkie stilgestaan, Augustinus vol in sy oë gekyk en gesê: “Dit is nie meer onmoontlik as wat jy probeer doen nie – om die onbegrensdheid van die Drie-eenheid met jou beperkte intelligensie te verstaan nie.”
Augustinus was totaal oorbluf deur die seuntjie se reaksie en het weggekyk die verte in. Dit was verbysterend dat die kind van sy probleem kon weet.
Toe Augustinus terugkyk om die seuntjie nog ’n vraag te vra, was die kind skoonveld. Hy het gesoek en rondgevra, maar niemand het iets van die seuntjie geweet nie.
Toe hy die voorval met sy Superiërs deel, was almal oortuig dat God deur ’n Engel met Augustinus gepraat het oor sy trots in sy studies.
Net so terloops: Sonneblomme kyk elke dag vir die son... en as dit bewolk is? Dan kyk hulle vir mekaar om die lig wat hulle het met mekaar te deel. Dit klink byna ook na ’n misterie.
Wat is ‘n misterie? Iets onverstaanbaars wat nie verklaar kan word nie; ‘n verborgenheid, geheimenis.
Die Drie-eenheid is beslis nie ‘n misterie nie. “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is 'n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Hebr 4:12 – Wekroep