Vrydag 27 Oktober 2017

Jou boggelrug flaters


Image result for Jesaja 50:9


Op Sondag 5 September 1971, wou Pastoor Ray Stedman sy preek “Die Weg na Volheid” beter toelig, om God se getrouheid, liefde en krag te beklemtoon…

Hy vertel: 'n Klein boggelrugseuntjie het saam met al sy maats 'n paar Bybelverse uit die kop geleer.
By die aanddiens kry die kinders geleentheid om hul tekse voor te dra. Boggelruggie wil soos die ander, ook op die verhogie voor die preekstoel klim, om sy teks op te sê. Hy struikel op die verhoog.
Een van die seuns in die gehoor sien dit en hy skreeu uit: “Hi boggelrug, hoekom raak jy nie ontslae van die vrag op jou rug nie!”

'n Mens kon 'n speld hoor val, toe die seuntjie stop en in trane uitbars.

'n Man staan in die middel van die gemeente op en stap na die verhoog toe. Hy sit sy arms om die seun. Hy sê: "Ek weet nie watter soort mens so iets sou sê nie, maar ék wil net sê, die dapperste persoon in hierdie kerk vanaand, is hierdie seuntjie. Hy is my seun en ek is trots op hom."
Met daardie woorde buig hy af en tel die seuntjie op en dra hom na sy sitplek toe.
Past. Stedman sluit af met hierdie woorde: "Dit is presies wat God vir ons doen. In die gekneusde, boggerug ellende van ons lewens, prober ons, ons bes… en dan struikel ons en ons val en alles eindig in ‘n gemors. Dan kom Jesus en Hy sê: “O’ jy is myne, Ek is so trots op jou.”

Die HERE se Woord bevestig hierdie beskerming van die HERE vir almal wat Hom wil dien. "Die HERE my God help my; wie sal my dan skuldig verklaar?"Jes 50:9

"Daarom kan ons met vertroue sê: 'Die HERE is my helper, ek ken geen vrees nie; wat kan 'n mens aan my doen?'" Heb 13:6. Laat ons met ons gebreke en al die HERE dien en Sy werk doen.
“Die HERE is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied." Ps 28:7

·       Ons is nie geroep om te verstaan nie, ons is geroep om te Vertrou!

Woensdag 25 Oktober 2017

Vrymoedigheid


In die glorieryke dae van die Romeinse Ryk het die keiser 'n triomftog deur die hoofstraat van Rome gelei.
Sterk soldate moes aan weerskante van die straat, die jubelende skare van die keiser af weghou. 'n Platform is langs die straat opgerig, vanwaar die keiserlike gesin sonder ongerief die optog kon dophou.
Net toe die optog regoor die keiserlike platform kom, spring die keiser se sesjarige seuntjie op, storm die platform af en nael tussen die mense deur straat toe.



'n Soldaat kry hom uiteindelik beet. "Waarheen gaan jy? Dis die keiser. Bly weg daar!" skreeu hy vir die seuntjie.
"Dis nie! Dis my pa! Los my!" skreeu die seuntjie vir hom terug, ruk homself los en hardloop verder.
Die soldate en die skare het respek en vrees vir die man op die keiserlike koets gehad.
Die keiser se seuntjie het egter vrymoedigheid en liefde vir sy pa gehad. Hy weet dit is die keiser, maar vir hom is dit sy pa.
            Die Heilige Gees, die Gees van aanneming, wek in die hart van die mens wat in Jesus Christus as sy Verlosser glo, hierdie besondere vrymoedigheid.
“Maar aan almal wat Hom (Christus) aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Joh 1:12
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” 1 Joh 3:1
“En omdat ons Sy kinders is, het God die Gees van Sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘'Abba!’ Dit beteken Vader!" Gal 4:6
Vrymoedigheid, ja, let op: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God....En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra.” 1 Joh 5:1,14
'n Kind vra, en 'n vader gee. “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra?” Matt 7:9-11
As enigiemand of enigiets jou wil verhinder om na jou Vader te gaan, dan weet jy wat om te doen... skreeu en ruk los!

Dinsdag 24 Oktober 2017

Die Duif se Opregtheid


“Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die Ark; want die waters was oor die hele aarde.” Gen 8:9
 

Reg deur die Talmoediese literatuur word die Huis van Juda met ‘n duif vergelyk. Wanneer ‘n duif sy maat ontmoet, bly hulle vir altyd bymekaar. En wanneer sy op haar nes sit en iemand neem haar kuikens weg, sal altyd terugkeer na haar nes. Sy bly getrou. Deur oorlewering word die soeke van die duif na droë grond, beskou as simboliek met die Jode se soeke na vrede. Soos wat die duif uiteindelik rus gevind het, net so sal die Jode terugkeer na die land Israel.
            Die Jode het getrou gebly aan God, maar Jesus aanvanklik verwerp. Eers keer die Jode terug na die oorspronklike land en die profesie gaan in vervulling: Die Vyeboom bot. Nou gaan profesie in verdere vervulling en word die Jode in menigtes Wedergebore.  Hulle noem hulself Messiaanse Jode. Sulke gemeentes kom  nou reg oor die wêreld voor, selfs in SA. In en om Jerusalem is daar reeds 274 Joodse Christen gemeentes.
            Soos die duif van die Ark uiteindelik rus gevind het, vind die Huise van Juda en Israel ook rus en vrede in die Messias, Jesus Christus. Die Bybel is deurspek met verwysing na die duif, veral die tortelduif. In Matt 3:16 beleef ons weer die duif wanneer die Heilige Gees op Jesus in die doopwaters neerdaal. So word die duif ook vergelyk met die Heilige Gees... want daar is geen bitterheid in ‘n duif nie, waarskynlik omdat hy nie ‘n gal het nie.
            Daar is min simboliek so lank en ryk soos die van die duif. ‘n Duif is bv. nie ‘n slang nie, ‘n duif is opreg. Matt 10:16. So moet ons ook opreg wees Efes 6:5; Fil 2:15; Titus 2:7.

Vrydag 20 Oktober 2017

Waarvoor sal jy onthou word?


“En in Joppe was daar 'n sekere vroue dissipel met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken dit Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het, veral vir die weduwees en armes.
            En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê.
Lydda
Lydda

            En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom.
            En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder- en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was.
            En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.
En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle.” Hand 9:36-41
            Nicholas Halasz word in Robert Raines se boek, Creative Brooding, aangehaal, om 'n storie oor Alfred Nobel te vertel.
Een oggend in 1888, lees Alfred Nobel, die man wat deur sy uitvinding van dinamiet beroemd geword het, sy eie doodsberig in 'n oggendkoerant.
Hy het volgens die berig glo 'n fortuin versamel deur sy vervaardiging en bemarking van wapens.
Die doodsberig was 'n joernalistieke flater. Alfred se broer is oorlede, maar 'n koerantman het sonder om verder ondersoek in te stel, dit as die dood van Alfred aangekondig.
 Alfred_Nobel3
Alfred_Nobel3
Alfred Nobel
Enige mens sal ontsteld wees om jou eie doodsberig in 'n koerant te lees. Vir Alfred Nobel was dit 'n oorweldigende skok, want in die berig het hy homself gesien, soos die wêreld hom sien.
In Nicholas Halasz se woorde: “ Die dinamiet koning (die wapenmaker), die nywerheidsreus wat ‘n magdom verdien het uit plofstof. Dit, volgens die algemene publiek, was die uitsluitlike doel van sy lewe.”
Nie een van sy werklike motiewe... “om die hindernisse wat mense en idees geskei het af te breek” is in die doodsberig genoem nie.
In die oë van die publiek was hy 'n 'handelaar in die dood’. Daarvoor sou hy onthou word.
Terwyl hy die berig met geskokte afgryse lees, neem hy hom voor om die werklike doel van sy lewe aan die mense te vertoon. Dit gaan hy doen, besluit hy, met die bemaking van sy fortuin in sy testament.
In sy testament is sy enorme fortuin in vyf verdeel en elkeen van die vyf dele sou vir altyd uitbetaal word aan presteerders op die gebied van: Fisika,  Chemie, Sielkunde of Medisyne, Literatuur en Vrede... alles solank die mensdom voordeel daaruit kon trek.
Die man het die einde van sy skatte nie geken nie. Hy het tot by sy afsterwe in 1896 altesame 355 uitvindsels wêreldwyd patenteer
Charles R. Swindol, skryf in sy Ultimate Book of Illustrations:  “Soms wonder ek wat sou gebeur as my doodsberig ewe skielik sou verskyn. Dink vir ‘n oomblik as jy jou eie doodsberig sou lees... waarvoor is jou lewe bekend? Hoekom sou mense jou onthou?
Ons lewe, is soos 'n man wat by die strand terugkyk hoe hy oor die sand geloop het. Hy sien sy spore presies soos hy geloop het. Terwyl hy kyk, kom 'n brander en spoel oor sy spore. Toe is daar ongerepte, gladde sand. Deur God se liefde en die groot verlossingsprys wat die Here Jesus Christus betaal het, hoef ons verlede ons ook nie meer te verskrik nie. Soos die brander wis God se vergifnis ook ons misdade uit.
"Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons, ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie..." Ps 103:10
Maar meer: Ons kan met die hulp en krag van God deur die Heilige Gees, dit wat van ons lewe oor is, aanwend tot heil en vreugde van mense in ons omgewing. Daarvoor sal ons onthou word. 

Donderdag 19 Oktober 2017

Die Arend se arende


Image result for arend


Die Arend se arende

Aquila non captat muscas – 'n Arend vang nie vlieë nie


Daar is meer as 25 verwysings na arend in die Bybel.  Talle van die Bybelskrywers was gefassineer deur arende. Onder inspirasie van die Gees van God het hulle aspekte uit die lewe van die arend geneem en vir ons geestelike beginsels daarmee geleer. 
Soms word God met 'n arend vergelyk: Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die HERE, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ander god by hom nie (Deut. 32:11-12)  Dawid skryf in Psalm 103:5: (Die HERE) … wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk, of, soos dit in die Afrikaanse vertaling van 1933-53 staan: wat my jeug weer nut maak soos dié van 'n arend.
            Daar is verskillende aspekte uit die lewe van die arend wat ons op die Christen se lewe kan toepas.
Een basiese fout wat mense deur die geskiedenis gemaak het, is om te probeer om aan elke stukke detail in 'n gelykenis 'n bepaalde geestelike toepassing te gee.  Jesus self het dit nooit gedoen nie. 
Christene is nie arende nie, maar daar is verskillende dinge uit die lewe van die arend wat ons kan leer oor die geestelike lewe en die stryd van elke dag.   Die Woord self focus op 'n aantal aspekte en eienskappe van die arend om ons sekere geestelike beginsels te leer.
            Daar is krag by God. God word nie moeg nie. Om op die HERE te wag gee nuwe energie, nuwe krag. God laat nooit die werk van sy hande vaar nie – en jy is die werk van sy hande. Die profeet Jesaja skryf:
            Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: "Die HERE sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby"? 
Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?  Die HERE is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie. Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.Hy gee die vermoeides krag.
Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die HERE vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie (Jes. 40: 27-31).
Wanneer daar in vers 31 staan "nuwe krag", beteken dit letterlik nuwe energie? Die nuwe krag kom vir dié wat op die HERE wag. Hoe dikwels soek ons die krag in nuwe kursusse, nuwe tegnieke, nuwe selfhelptegnieke en probeer dit iewers uit ons binneste opdiep.
Dit is nie daar nie en die bietjie wat daar is, is nie opgewasse vir die uitdagings van die lewe nie.  God voorsien krag. God voorsien krag vir dié wat op Hom wag.   Hy maak hulle so sterk soos die kragtige vlerke wat die arend oplig en laat opstyg tot o die grootste storm.
            Die Christen weet vas en seker: Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit enduit sal voer en dit sal voleindig opdie dag wanneer Christus Jesus kom (Fil. 1:6).
Die HERE maak die werk klaar wat Hy in jou begin het.  Die HERE raak nie moeg en afgemat nie.  Sy krag raak nie op nie. En vir dié wat hulle krag by God soek, vir hulle is daar genoeg om weer te "hardloop".
            God is nie klaar met my as ek moeg is of as die lewe vol probleme is of ek ni emeer weet hoe vorentoe nie. Dawid skryf in Ps 138:8 – Die HERE sal vi rmy alles goed laat afloop. Aan u liefde, HERE, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.
            Arende is in baie opsigte anders as ander voëls. Arende het unieke eienskappe wat ander voëls nie met hulle deel nie. Daar is eienskappe wat hulle met alle ander voëls deel. Arende lyk soos ander voëls, maar by nadere ondersoek sien 'n mens duidelike verskille.
            Net so is die Christen vanuit sy Wedergeboorte anders as die wêreld. Ja Christene is steeds mense, maar Wedergeboorte en bekering maak die Christen anders as ander mense. 
Christene ontvang 'n goddelike natuur, want die Heilige Gees woon in hulle. Hierdie nuwe natuur maak dat hulle anders begin dink en optree as wêreld. As Christen moet jy dit weet, diep in jou gees moet jy dit weet en vanuit daardie wete leef:  God het my nuutgemaak, ek is nie meer dieselfde nie, ek is anders as die wêreld: Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom
(2 Kor. 5:17).
            Arende hou van storms.   Hulle gebruik dit om hoër te vlieg.  Hulle vlieg fisies hoër as ander voëls, en dit is veral in storms dat hulle die windstrome gebruik om baie hoog op te gaan.  Ander voëls soek skuiling wanneer die storms kom; arende soek die hoër hoogtes.  Arende kan tot hoogtes van drie tot vyf kilometre bo die grond vlieg.   Hulle het 'n besonder dik verebedekking wat maak dat hulle hoër hoogtes waar dit kouer is, makliker kan hanteer.  Daar is arendspesies wat tot 1 250 vere op elke vlerk het.  Die vlerke van die arend is aërodinamies beter ontwikkel as dié van ander voëls.  Dit stel hulle in staat om hoër te vlieg.
            So is die lewe van die Christen.   Die Christen leef in die hoogtes saam met God.  Dit is op die bergtop waar Moses en Elia God ontmoet het.   Dit was opdie bergtop waar Jesus van gedagte verander het en Moses en Elia ontmoet het, en waar God die Vader met Hom gepraat het. 
As Christene sit ons saam met Christus in die hemele (Ef. 2:6).  Daar, vanuit ons troonposisie in die hoogte, reageer ons saam met Christus.   Die Christen se lewe is 'n lewe in die hoogtes saam met God.   God he tons vir die hoogtes gemaak.   Ons het geestelike vlerke wat ons tot op die hoogste hoogtes kan laat opstyg.
            Christene word nie deur storms geìntimideer nie.   Al wat die Christen doen, is wat die arend doen.   Hy gebruik die groter krag van die lugstrome in die storms om hoër te vlieg, bo die storm uit te vlieg.
Arende vrees nie storms nie, hulle geniet die storms.  Hulle is gemaak vir storms, toegerus daarvoor.   So is Christene:  toegerus met die krag van God, gevul met die volheid van God en met die Heilige Gees wat in on swoon.  So het God Christene toegerus vir die storms wat dikwels op ons toesak. Wanneer die krisisse kom, moenie vlug en wegkruip nie, vlieg hoër, nader aan God self.
            Arende klap nie hulle vlerke om hoër te vlieg nie.  Hulle gebruik net die krag van die windstrome en sweef daarop.  Indien hulle aanhoudend hulle vlerke sou klap om te probeer hoër vlieg om uit die geweld van die storm te kom, sal hulle in die moeilikheid beland.
So moet Christene leer om in die Gees te leef en te wandel.   Om te gaan waar die Gees van God ons lei.   Ons moet in die windstorme van God se krag inkom en leer om in Hom te rus en saam met Hom te beweeg.  Die lewe in God is nie 'n gefladder en gespook nie, dit is rus in die HERE.
            Arende vlieg alleen.  Hoe hoër jy vlieg, hoe minder ander voëls is daar.   Arende is daarom dikwels alleen in die hoogtes. Aasvoëls kom gewoonlik in trope voor, kalkoene en hoenders ook.   Toegewyde Christene staan dikwels alleen.
            Christene wat in die hoogtes saam met God leef, vind dat hulle dikwels alleen is.   Ons sal alleen wees in ons stryd teen sonde, onreg, armoede, ensovoorts.   Ons sal alleen wees in ons passie vir God en 'n heilige lewe.
            Hoogte gee 'n strategiese uitsig.  Hoe hoër ons kan opgaan, hoe groter en beter is ons uitsig, oorsig en insig.   Hoogte is 'n belangrike element in oorlogvoering.   Die persoon wat die hoogste posisie besit, het 'n strategiese voordeel in die geveg.  So het Christene wat in die hoogte met God beweeg, 'n strategiese voordeel in die geestelike tyd van elke dag.
            Arende het skerper visie as ander voëls.   Arende vlieg dikwels op hoogtes van 3 000 tot 5 000 meter bo die grond.  Van daardie hoogte af kan hy byvoorbeeld maklik 'n haas of ander prooi op die grond raaksien.   Omdat die arend so hoog vlieg, het hy skerper sig en fokus as ander voëls nodig.   In sy duikvlug kan die arend teen tot 300 km per uur op sy prooi afpyl.   Op daardie hoogte het die arend groter utsig, kan hy verder sien.
            Hoewel arende besonder goed kan sien in die dag, is hulle nagsig besonder swak, selfs swakker as dié van 'n mens.  Laat ons daaruit leer dat Christene vir die dag gemaak is, om in die lig – God se lig – te lewe en dat ons uit die duisternis en donker plekke moet wegbly.   Dit is een ding om God se lig in donker plekke te dra, maar iets total anders om ons ontspanning en lewe in die donker plekke te probeer vind.
            Arende eet vars kos.  Arende is roofvoëls, maar hulle eet nooit ou aas nie, hoewel daar enkele spesies is wat dit tog doen.  Arende vlieg daagliks uit en soek vars kos in die vorm van lewendige diere.
            Daar is vir ons as Christene 'n les hierin.  God het vir die volk Israel elke oggend vars manna gegee, genoeg vir die spesifieke dag.   Hyself is ons daaglikse manna en gee vir ons verborge manna om te eet (Op. 2:17).  As Christene moet ons oor ons diet waak.  Moenie enige ding "eet" wat voorkom nie.   Voed jouself met God se manna.   Lees jou Bybel meer as die koerant en lees dit voor jy die koerant lees.
            Arende baken vir hulle 'n grondgebied af.  Arende baken vir hulle 'n geografiese gebied af, gewoonlik ongeveer 35 vierkante kilometer.  Hierdie gebied verdedig hulle teen indringers.  Dit is die gebied waaroor hulle uit die lugruim heers en waaruit hulle leef.
            Vir die Christen gee God ook 'n leefterrein, 'n geestelike grondgebied: die huwelik, die gesin, ons werksomgewing, 'n plek binne die gemeente en die gemeenskap, 'n geestelike werksterrein.  God maak ons daarvoor verantwoordelik.   Dit is ons verantwoordelikheid om dit te verdedig, daaroor te heers.  Dit is ook die terrein waaruit ons ons daaglikse brood sal verdien en verkry.   Daar is nie iemand anders wat dit vir ons sal doen nie.
Daar is te veel Christene wat nie verantwoordelikheid neem vir die geestelike grondgebied wat God aan hulle toevertrou het nie.   God gee vir niemand 'n onbeperkte gebied om te verdedig of in besit te neem nie.  God meet vir ons elkeen 'n eie deel uit.
            Moenie gierig wees en wat aan ander behoort, in besit neem nie.   Jy kan dit nie beheer nie en dit sal tot jou nadeel wees.  God gee jou nie die reg daaroor nie en ook nie die krag daarvoor nie.
            Arende bestee baie tyd aan hulle vlerke.  Hulle gebruik baie tyd om hulle vlerke skoon te maak en uit te stryk, en die hakies van die vere uit te stryk en te belyn.   Enige stukkie vullis of aanpaksel op die vlerk maak 'n groot verskil op hoë hoogtes.  So moet die Christen leer om baie tyd daaraan te bestee om seker maak hy staan in 'n skoon en rein verhouding met God.  Daar moet geen bewuste onbelyde sonde in ons wees nie. 
Ons moet tyd maak om ons lewe in lyn met God se wil te bring en dan binne sy wil leef.   Die tyd wat die arend op die grond deurbring, maak hom gereed om sy tyd in die hoogtes daarbo met groot veiligheid aan te pak.  Vir die Christen is dit net so.
            Arende kan direk in die son in vlieg.  Arende het 'n tweede oogvlies, iets wat ander voëls nie het nie.   Hierdie vlies beskerm hulle oë as die prooi sou spartel en krap.   Maar dit werk ook amper soos 'n "donkerbril".  Wanneer die arend vir 'n aanvaller moet vlug, kan hy direk in die son in vlieg.   Die tweede vlies wat hy dan oor sy oë kan trek, maak dat hy direk in die son kan kyk sonder dat dit hom verblind.  Indien 'n groep aasvoëls hom aanval, vlieg hy direk in die son in, want dan verblind die son sy aanvallers en kan hulle nie sien waar hy is nie.   Arende veg nie, hulle vlieg in die son in.
            Watter les vir die Christen.  Wanneer daar aanvalle op ons gemaak word, moet ons in die son in vlieg.  Ons moet ons fokus op Christus bou, na Hom toe vlug, ons beskerming by Hom vind.  Daar in sy teenwoordigheid is ons veilig, daar is beskerming, daar kan die viand ons nie bykom nie.  Christen, moenie veg nie, vlieg in die son in, gaan direk na God toe.  Hy is jou skuiling, vesting, 'n sterk toring, 'n hoë rots.
            Soort soek soort.  Arende meng nie met ander voëls nie. Hulle kies hulle maats baie noukeurig.  Arende het 'n interessante paringsproses.  Die wyfie sal 'n takkie neem, hoog in die lug opvlieg en dit los.  Die mannetjie moet dan afduik en die takkie vang.  'n Proses begin daarna  waar die wyfie telkens 'n al swaarder tak optel en elke keer van 'n kleiner hoogte af die tak laat val, en die mannetjie moet dit vang voordat dit op die grond val.  Indien die mannetjie dit nie regkry nie, verloor sy belangstelling in hom. 
Heel laaste sal sy 'n groot tak optel, redelik laag vlieg en die tak weer laat val.  Indien die mannetjie die toets slaag, gee sy haar goedkeuring.  Hulle vlieg dan hoog in die lug op, haak hulle kloue in mekaar en bollemakiesie-tuimel in die lug.  Dit is 'n besondere skouspel.  Na hierdie ritueel skei hulle nooit.  Hulle bly bymekaar tot die dood hulle skei.
            Sal ons as Christene nie weer die basiese lesse oor die huwelik leer nie?  Vroue, moenie sommer die eerste die beste man vat wat verbykom nie.  Soek vir jou 'n lewensmaat, iemand wat vir leeftyd by jou kan bly, iemand wat werklik 'n pa vir jou kinders kan wees en 'n man wat jou kan versorg en jou as vrou tot jou volle reg kan laat kom.  Christene, die huwelik is bedoel vir een man en een vrou, tot die dood ons skei.
            Arende het 'n unieke manier om hulle kuikens te leer vlieg. Arende bou hulle neste op hoë kranse op die hoë berge. Hulle is lief vir die hoogste kranse waar geen ondier hulle of hulle kleintjies kan bedreig nie.
Ons lees in Job 39:27: Is dit op jou bevel dat 'n arend hoog opvlieg en sy nes in die hoogste gaan bou? Arende dra soms tot twee ton hout en takke aan om so 'n nest te bou.  Eers takke, dan doringtakke en daarna voer hulle die nes uit met blare, vere en ander sagte material.   As die kuikens uitbroei, het hulle 'n sagte nes.  Maar na 'n tyd, wanneer die kuikens groot genoeg is om te begin vlieg, word die sagte material uit die nes verwyder totdat net die doringtakke oorbly.
            Omdat die dorings die kuikens steek, dwing dit hulle uit die nes uit. Die mannetjie-arend stoot dan die kuiken van die rotswand af en soos die kuiken val, begin hy sy vlerke klap en fladder. Die mannetjie duik dan onder die kuiken in, vang hom op sy vlerke en neem hom terug na die rotswand toe.
            Die proses word herhaal totdat die kuiken kan vlieg.   Die groot arende doen allerhande akrobatiese toertjies in die lug om hulle vreugde te toon wanneer die kleintjie begin om te vlieg.
            Soos ons as Christene geestelik groei, leer die HERE ons en neem Hy ons deur geestelike prosesse.  Sommige is vir ons moeilik om te verstaan, net so min as wat die arendkuiken aanvanklik kan verstaan hoekom sy pa hom oor die afgrond stoot.   Maar die arendkuiken kan nooit vinniger val as wat die arend-pa kan duik om die kuiken weer op sy vlerke te vang nie.  So is dit met ons Hemelse Vader ook.  Lees Deuteronomium 32:10-12 :
Hy het sy volk in die woestyn gevind, in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu.  Die HERE het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog.  Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke at hy oopsprei, soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die HERE, net Hy alleen, sy volk gelei, daar was nie 'n ander god by Hom nie.
            Ons moet God vertrou wanneer daar tye kom dat ons nie verstaan wat Hy doen en hoekom Hy dit nie doen nie. God is altyd groter as ons omstandighede en is altyd besig om ons te leer, toe te rus en sterker te maak vir die werk en die pad wat voorlê.
            Net so min as wat die mannetjie-arend hom steur aan die geskreeu van die kuiken wanneer hy oor die afgrond afval, net so min steur God Hom aan ons geskreeu en selfbejammering wanneer ons nie verstaan waarmee Hy besig is nie. God weet wat Hy doen en waarom Hy dit doen.  Ons kan hom daarmee vertrou.
            Arende het 'n "tweede" lewe. Arende kan tot 120 jaar oud word.  Wanneer arende ongeveer sestig tot sewentig jaar oud is, word hulle vere te dik en te swaar, die naels van hulle kloue en hulle snawels word te lank, en daarom kan hulle nie meer so hoog vlieg nie, en nie meer hulle prooi so maklik vang en eet nie.
Op daardie punt gaan die arend na 'n waterstroom op 'n afgesonderde plek hoog in die berge.  Hy begin al sy vere uitpluk tot niks oorbly nie.  Hy trek al sy kloue of naels uit en kap sy snawel teen 'n rots totdat dit ook afbreek.  Vir baie dae sit die arend daar by die stroom.
            Ander arende sal soms hoog in die lug verbyvlieg en stukkies kos vir hom afgooi. Maar die arend bly in die water sit.  Soos hy in die water sit, kyk hy vir lang tye na die son, totdat daar trane uit sy oë kom en die oliesakkies by sy oë weer begin om olie te produseer.
Stadig begin nuwe vere, nuwe kloue en 'n nuwe snawel uitgroei. Na 'n maand tot veertig dae is die arend weer gereed om te vlieg. Hy duik van die rots af en met nuwe energie, nuwe vere, nuwe kloue, gaan hy weer die hoë hoogtes in.  Dit is 'n vernuwingsproses.
            Daar kom 'n tyd dat ons moeg raak, dat die lewe in ons net op is, dat ons nie meer krag oorhet nie en nie kans sien vir die pad vorentoe nie.
            Dit is die tyd dat ons eenkant, in afsondering, moet gaan sit, ons program moet stop, ons moet losmaak van alles wat verby is en na die "son" moet kyk.  Dit is die tyd dat ons voor God ons Vader moet gaan sit en wag.   Rus en wag en luister.  Totdat Hy ons kom ontmoet en ons met nuwe krag vul, ons lewe weer nuut maak soos dié van 'n arend (Ps. 103:5).
            Evangelis Pat Robinson vertel hoe die HERE hom op 80 aangeraak en nuut gemaak het. Hy was die stigter van TBN (Trinity Broadcasting Network) wat die Evangelie dag en wêreldwyd uitsaai.
            Mag ons uit die lewe van die arend leer hoe om in die hoogtes saam met God te leef. Dit is die ander pad.

Die Genadekoets...

         
Uit Wilhelm Busch se Licht vom Unerschöpften Lichte  vloei die volgende storie:

Die prediker, Pastor Henhöfer wat in die 18e eeu opgetree het, het op 'n keer die poskoets as voorbeeld gebruik om God se geduld met ons te illustreer.



Destyds was daar nog nie treine nie, maar een keer elke week loop 'n poskoets tussen dorpe. Die poskoets staan dan, soos almal op die dorp dit weet, op die poskoets se halte en wag vir passasiers om op te klim. Daar is 'n klompie van die mense wat betyds kon opklim.
Die koets behoort eintlik nou te ry, maar die drywer dink by homself: "Miskien is daar iemand wat opgehou is." Dus neem hy sy tyd. Ewe rustig haal hy die komberse van die perde af. En werklik, daar kom nog iemand aangehardloop en klim in.
Nou gaan die drywer ewe rustig op die bok van die koets sit – en daar kom nog iemand aan gehaas en maak dit net. Nog talm die drywer 'n bietjie.
Eindelik neem hy dan die beuel en speel sy poskoets deuntjie klaar. Dan vertrek hy. Skaars is die poskoets by die stadpoort uit of twee passasiers kom uitasem by die poskoets halte aan.
Hulle het in die dorp met inkopies besig geraak... Daar staan hulle nou. Die koets is weg. Hulle is te laat!
Dan maak Pastor Henhöfer sy toepassing: "So is dit ook met die Genadekoets van ons Heiland! Hy wag ook lank op jou. Hy talm ook jou uur uit, solank Hy kan. Maar jy kan ook die tyd verpas!"
            Ons het in die Bybel die verhaal van 'n man wat byna te laat was, maar is wonderlik deur Jesus ingewag, of dalk ingehaal, en hy kon betyds inkom.
Die een misdadiger aan die kruis. Op die laaste tippie kom hy in. Maar die ander een verpas dié groot geleentheid.
"Toe hulle by die plek kom wat kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan Sy regter- en die een aan Sy linkerkant. Toe sê Jesus: 'Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!'
Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom belaster...'Is jy nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!'
Maar die ander een sê... 'Jesus dink aan my wanneer U in U koninkryk kom.' Jesus antwoord hom: 'Ek verseker jou; vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.'" Sy bitterste dag, word sy soetste dag!
            Moenie die Heilige Gees se werking in jou hart weerstaan en talm nie. Roep die HERE jou nou deur die dringende werking van Sy Gees in jou hart?
   “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. “ Heb 12:12-15
  "Vandag as julle Sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie..." Heb 3:15 Wanneer die Basuin blaas, gaan dit te laat wees... vir altyd!

Die Engel en jy wat die HERE dien


Image result for angels of god

As jy die HERE God YAWEH dien, dan slaan sy Engel laer op rondom jou.

            Dawid stel dit so: “Die Engel van die HERE slaan sy laer op rondom dié wat die Here (let op) dien, (om wat te doen?) en red hulle. (Dan die uitnodiging) Kom ondervind en sien dat die HERE goed is (hoekom?)Want dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil." Ps 34-8-9
            Ernest Gordon vertel hoe William Hacquist en die werkers van die Evangelical Alliance Mission, gedurende die Boxeropstand in Sjina, van die moordadige Chinese opstandelinge ontsnap het.
Ses dae lank het hulle voor die bendes uitgevlug, maar toe bereik hulle 'n punt, waar hulle moes kies of hulle sal voortgaan om oor land, tussen die berge deur, te vlug en of hulle met bote met die rivier sal afvaar.
Weens die droogte was die Hanrivier droog. Die vlug oor land het die aangewese roete geblyk te wees, want hulle draers en wagte, wat hulle moes beskerm, het geweier om anders as oor land, tussen die berge deur, te vlug.
Die vlugtendes bevind hulself in ‘n groot krisis. Dit gaan lewe of dood. Die vyand kom al hoe nader en die manne moet vlug om voor te bly.
Dan kom die berusting... ‘n tyd van gebed en op die HERE wag. Dis ‘n moeilike besluit wanneer jou lewe aan ‘n draadjie hang, maar dis veiliger om op die HERE te wag.
Tydens die gebed en wag, het daar in William Hacquist en die ander werkers se harte, 'n bewussyn ontwaak om rivierlangs te vlug. Maar die rivier was droog! Hulle het egter in die geloof twee platboomskuite bekom. Hulle het kos gekoop en dit saam met hul bagasie in die bote geplaas.
Alhoewel hulle gereed maak, bote en al, om rivier langs te vlug, kan hulle nie roer nie... die rivier is droog.
William Hacquist skryf: "Die plek waar ons was, was omring van hoë berge. Terwyl ons bid en wag, het daar so teen die middel van die agtermiddag sterk wolke opgesteek. Ons het die swaarste reën belewe wat ek ooit gesien het. Die rivier het gou afgekom. Hulle het die bote te water gelaat en haastig weggevaar.
Later moes hulle verneem, 'n paar honderd "Boxerbendes", het hulle in 'n bergpas, 'n entjie verder die berge in, ingewag om hulle dood te maak. Hieroor sê William Hacquist: "God het ons langs die veiliger weg laat vlug.”
            Ons omgewing: strate en wonings, sakepersele, plase, paaie, het deesdae onveilige plekke vir ons, en almal wat vir ons kosbaar is, geword.
Die belofte en versekering in Ps 91:1-5  het vir ons kosbare en gerusstellende woorde geword: "Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: 'My toevlug en my bergvesting, my God op Wie ek vertrou'.... Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie..."
Dit is nie 'n beveiliging wat maar sommer net vir almal is nie. Dit is 'n geloofsposisie wat ons moet inneem en deur 'n gehoorsame lewe aan die HERE moet handhaaf.
Die belofte is: Hy wat sit... en vir die HERE sê: My Toevlug en My Bergvesting en My God op Wie ek vertrou. So 'n geloofshouding en gemoedsvertroue kom, wanneer ons God se Woord lees en ter harte neem, en die Heilige Gees dan die Woord gebruik, om in ons harte geloof te laat ontwaak.
Ons weet die Here Jesus Christus gee ons die vrymoedigheid, om God se beskerming en hulp te vra.

Vrydag 13 Oktober 2017

My Anker...


Image result for Anker

'n Goeie en gerespekteerde man in die omgewing was siek, vertel Christian Herald die storie. Sy vriende het gekom, om hom te troos en te bemoedig. Hulle het sy goeie lewe in gedagte gehad, sy goeie dade en hoe hy prakties en aktief, in die kerklike lewe deelneem, om Christus se volgelinge te beskerm en op te bou.

Toe hulle wou vertrek bid een van hulle vir hom. "HERE", bid die man, "U weet hoe lief hy U het."

Hy val die bidder in die rede:
"Nee, vriende," praat die man van sy bed af, "moet dit nie so sê nie. Toe Marta en Maria, die boodskap oor Lasarus se siekte, na Jesus toe gestuur het, het hulle nie laat weet: 'HERE, hy wat vir U liefhet is siek nie.' Hulle het laat weet: 'HERE, hy vír wie U liefhet, is siek.' Dit is nie my gebrekkige liefde vir Jesus wat my moed gee nie, maar Sy groot liefde vir my. Dít is my krag en vashouplek."

            Dit is ook die raad, wat die groot prediker Mark Guy Pearse, vir 'n bekommerde jong meisie gegee het. Sy het met haar geestelike behoefte na hom toe gegaan. "Ek weet ek het Jesus in my lewe aangeneem," kla sy, "maar ek kry nie reg om Hom regtig lief te hê nie."

Mark Pearse het haar geantwoord: "My dogter, moenie aanhou aan jóú liefde vir Jesus dink nie. Sê oor en oor vir jouself: 'Jesus het my lief.'

Kom spreek my weer môreoggend."

“Toe sy die volgende oggend kom om hom te sien, was dit nie nodig om hom te vertel van die verandering in haar gemoed nie. Sy was stralend. Die Heilige Gees het die liefde van Jesus wyd in haar hart en gemoed versprei.”

            Jesus het vir Sy dissipels vertel Hy het hulle lief. Dit is die geloof wat ons nodig het. Glo aan Jesus se liefde vir jou. Sê dit in eie hart. Die Heilige Gees sal dit beaam en in die hart oorwinning bring.

            “Hy het Sy eie mense wat in die wêreld is liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad." Joh 13:1

Donderdag 12 Oktober 2017

‘Dit is waar!’


Image result for vrag steenkool

Gedurende ’n koue winter in een van die min­der gegoede dele van Europa, het ’n ryk man hom ontferm oor die armes en besluit om ’n paar vrag­te steenkool te bestel en ’n ¼-ton by elke huis in die agterbuurt te laat aflaai, aldus Die Spoorwegbode van November 1981.

            Die steenkoolwa hou by die eerste huis stil en die drywer klop aan die deur. ’n Man maak die deur oop. Die drywer sê vir hom hy het vir hom ‘n ¼-ton steenkool gebring, waar moet hy dit aflaai. “Van wie af kom dit?” vra die man. Die drywer trek sy skouers op. “Ek weet nie. Ek is net aangesê om dit hier te kom aflaai. “Vat dit weg. Dis nie vir my nie,” reageer die man. “Maar dis tog u adres? Kyk.” “Ja, maar dis ’n fout. So ’n geluk kom my nie oor nie. Nee, ek wil niks daarmee te doen hê nie.” Daarmee maak die man die deur toe en gaan terug na sy koue, dooie vuurherd toe.

            Die steenkoolwadrywer het van huis tot huis ge­ry, en ongelooflik, niemand wou van die aanbod gebruik maak nie. Hulle kon nie glo iemand sou dit  verniet vir hulle stuur nie.

Eindelik hou die drywer voor die huisie van ’n ou tannie stil en bied weer die steenkool aan. “Vir my?” vra sy vol verbasing. “Dit moet seker vir iemand anders wees.” “Nee, mevrou, hier is u nommer, duidelik genoeg – nr.8, ’n ¼-ton steenkool.” Die vrou lees dit in sy boekie, swart op wit.
“Dis waar!” roep sy. “Wel, dan het God dit vir my gestuur. Net Hy weet ek het nie ’n stukkie steenkool oor nie. Bring dit in, asseblief. Ek wil Hom dank!” “U moet,” antwoord die drywer.
By homself dink hy: “Sy is die enigste verstandige onder die klomp. Die ander is almal dwase om ’n geskenk wat swart op wit gegee word, sommer so af te dank.”

            Die steenkool is deur die gewer gekoop en betaal en aan behoeftige mense geskenk. Hulle weier die gawe wat vir hulle soveel aangenaamheid kon bring! Net so is ons verlossing ook gekoop en betaal met die kosbare bloed van die Seun van God, en tog weier mense hierdie groot gawe, wat vir hulle soveel geluksaligheid sou bring, en wat in die Bybel duidelik geskryf staan, aan te neem.

            Hoekom het die mense die geskenk so afgewys? Miskien trotsheid, miskien wantroue. Feit is egter: hulle het duidelik geantwoord: dit is nie vir my nie, dankie! Moenie self hierdie fout met die HERE Jesus se aanbod van sy groot redding maak nie. Neem dit. Sê: Dankie!

            “Kom… selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal… “ Jes.

Twee soortgelyke gebeurtenisse


Image result for 2 Kor 4:6

In Dictionary of Illustrations vertel Walter Baxendale dat dr. Simpson, wat in 1862 die gebruik van chloroform ontdek het, 'n geliefde seun aan die dood moes afgee.

Die jong seun was 'n belydende Christen met 'n blye vertroue in Jesus Christus as sy Verlosser. Die manier waarop sy seun gesterf het, sy geloof en vrede en geduld, het hierdie briljante mediese pionier diep beïndruk.

In sy hart het die dokter tot die gevolgtrekking gekom dat blywende gemoedsvrede en ware blydskap slegs in Christus gevind kan word. In die ure van sy sterwe het die jongman getuig dat die vrolikheid van die wêreld verbygaande en onseker is; dat die wêreld se plesier en vermaak slegs, in sy woorde, vergulde droefheid is.

Die vrede wat Jesus met Sy bloed gekoop het, is so ewig en blywend soos Sy troon. Toe hy sterf het die seun gesê: "Hoe heerlik en kosbaar is dit nou vir my om van Jesus te praat."

Die dokter, sy vrou en die ander kinders het rondom die bed gekniel en dr. Simpson het gebid dat hulle huidige beproewing hulle almal net nader na God sal trek: "Ja, dierbare Jesus, Jamie se God sal nou ons God wees en ons wil vir U getuig soos Jamie dit gedoen het."

Byna 80 jaar gelede is ‘n mediese dokter en sy vrou se tweejarige dogtertjies voor hulle huis in Kaapstad deur ‘n ambulans doodgery.

Hulle besluit na die begrafnis om vir ses maande oorsee te toer om oor hul groot verlies te kom.
Die eerste week bring hulle in die Switserse Alpe deur. Elke oggend voor ontbyt gaan stap hulle ‘n ent. Op een plek loop ‘n klein stroompie water oor die pad. Hulle spring met gemak daaroor.
Op pad terug elke oggend kom ‘n skaapwagter met sy skape ook daar verby en die skape stap met gemak agter die herder aan deur die stroompie.

Een oggend was die stroom te breed en die dokter en sy vrou kon nie daar deur nie. Hulle wag om te sien wat die skaapwagter met sy skape gaan maak.

Die skaapwagter het deurgeloop, maar die skape wou nie. Toe stap hy met moeite terug en gaan haal ‘n lammetjie. Terug aan die oorkant het die lammetjie erg begin blêr. Haar ooi het toe die stroom gedurf en deurgekom en die ander skape het gevolg.

Daardie oomblik praat die HERE te duidelik met die dokter en sy vrou: “Ek het julle lammetjie ook net oorkant toe geneem om seker te maak julle kom ook hierdie kant aan.”

Hulle is in trane gered en ‘n paar dae later terug in die mooie Kaap, verlos en vol blydskap.
            Dit is soos 'n lig wat ons hart inskyn wanneer ons die verlossing in Christus ontdek en die waarde en krag van Christus se sterwe en opstanding, deur die Heilige Gees, ons eie ervaring word.
Die HERE gebruik baie maniere om hierdie lig na ons harte toe te bring. "Dit was die bedoeling van God in Sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in Sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié wat glo, te red." 1 Kor 1:21

Soms bereik die HERE nie op hierdie gewone manier mense se harte nie. Dan gebruik die HERE in Sy genade op 'n ander manier om by hulle uit te kom.

“Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn – dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.  2 Kor 4:6

Maandag 09 Oktober 2017

Laat jou lig dan tog net skyn


Image result for Man overboard on a ship at night

Spencer Compton vertel hoe hy een aand in ‘n skip, onderweg na Indië, in sy kajuit gesit het. Hy was erg olik.

Skielik galm die geroep van die dek af: "Man oorboord!"

Hy het opgespring. Wat kan hy doen? Hy is nie bevoeg om in die donker water na die man te gaan soek nie. Op die ingewing van die oomblik haak hy sy lig van die dakhaak af en hou dit voor die luik van sy kajuit, sodat die lig buite toe kan skyn.

Skaars 'n halfminuut later kom die blye krete: "Alles reg! Hy is gered!" Hy haak die lig terug op sy plek en gaan voort met die boek wat hy so olik sit en lees.

Die volgende oggend word hy vertel dat dit sy lig is wat die man se redding moontlik gemaak het.
Net toe hy sy lamp voor die luik hou, skyn die lig reg op die man af en die matrose kon hom raaksien en uit die see haal.

            Ons is nie almal in staat om groot dade te verrig om vir die HERE nuttig te wees nie. Dit is die geringe daad, die geringe getuienis, op die regte oomblik, wat so baie kan regkry.

            Dit is nie ons krag wat ander red nie. Dit is God se krag wat ons klein bydrae gebruik om Sy groot dinge mee uit te voer.

            Dit is met die broodjies en die vissies gebeur het. God se vermenigvuldende krag het gesorg dat vyf duisend man en hul vroue en kinders gevoed kon word.

            Skrywer het baie jare geklede ook een nag oorboord geval en in ‘n stikke duisternis onder die water verdwyn. Een man het agterna geduik. Hy vertel agterna, hy kon niks sien nie, hy het met sy hande in die duisternis rondgetas en gehoop hy vat skrywer dalk raak.

            Uiteindelik het hy geslaag en my na die oppervlak gebring. Die redder het absoluut niks gehad om hom te help nie. Net geloof  het die deurslag gegee.

            Hy was ‘n man van so 50 jaar oud en dit was die eerste keer in sy lewe dat hy iemand gered het.
            Ons bevind ons vandag ook in ‘n duistere wêreld. Gebruik net jou hoop en geloof en bring die siele in. Red hulle.

"Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemel is, verheerlik." Matt 5:16

Woensdag 04 Oktober 2017

Red wat verlore gaan...


Die blinde skrywer van geestelike liedere, Fanny Cosby, het meer as duisend liedere komponeer. Twee van haar grootste werke is: “Aan God al die Glorie” en “Blye Versekering, Jesus is myn.”



Sy is in die Putnam Graafskap naby New York op 24 Maart 1820 gebore. Haar familie was Presbiteriaans. Toe sy ses weke oud was het sy ‘n ooginfeksie opgedoen. Weens verkeerde behandeling was sy vir die res van haar lewe blind. Die behandeling was toegepas deur ‘n man wat hom as ‘n dokter voorgedoen het.
In daardie selfde jaar is haar pappa oorlede. Haar mamma en ouma het haar grootgemaak.
Fanny Cosby is by ‘n skool vir blindes toegelaat. Daar is bewys dat sy  ontsettende geheue en intelligensie vlakke openbaar, ook dat sy buitengewoon musikaal is.
Na skool is sy met Alexander van Alstyne, getroud. Hy was ook blind en ‘n onderwyser by haar skool.
In die 1840’s was Fanny nie by ‘n kerk betrokke nie. Sy is Wedergebore tydens ‘n konferensie van die Chelsea Metodiste Kerk in New York. Sy was dadelik aangetrokke tot die werk wat die gemeente op die grense van die samelewing verrig het.
In die 1960’s het die komponis en uitgewer, William B. Bradbury, Fanny aangemoedig om geestelike lirieke te skryf. Uiteindelik skryf sy ses na sewe liedere per dag, liedere wat by menige Evangelistiese veldtogte en dienste reg deur die VSA en Brittanje gesing is.
In 1869 was Fanny geïnspireer om die lied “Rescue the Perishing” (Red wat verlore gaan) te skryf. Sy het dit geskryf net nadat sy mans besoek het wat by ‘n sending in New York tuis was. Sy was bekommerd oor hul geestelike welsyn. Sy het by hulle gepleit dat as daar van hulle was wat afgedwaal het van hul moeders en hul moeders se geestelike lering, dan moet hulle haar asseblief na die diens kom spreek.
‘n Jongman het na Fanny gekom  en gesê hy sou so graag eendag sy moeder in die Hemel wil ontmoet, maar na aanleiding van sy lewensstyl het hy gemeen dit sou nie moontlik wees nie.
Die jongman het ten aanskoue van almal wat daar was Jesus, as sy Redder en Saligmaker aangeneem.
Daarna aand op pad na haar huis het die blinde Fanny die lied “Red wat verlore gaan” geskryf. 
Die boodskap van die lied is: Red, gee om, pluk weg, ween, hef op en vertel. Ons moet betrokke raak by ongereddes om hulle vir Jesus wen.
Terwyl mense dit liefde en genade van Christus verwerp of miskyk, staan Hy steeds met oop arms vir hulle en wag. Ons verpligting is om vir hulle aan te hou met bid en by hulle te pleit. Ons durf nie moed of hoop verloor nie want die Heilige Gees werk saam met ons, om die ongereddes na Jesus te bring.
Ons moet soos Jesus die ongeredde onvoorwaardelik liefhê ongeag sy of haar reaksie.
Dit is ons plig om siele vir die Koninkryk te wen. gerwe in. Wees geduldig, moenie die Heilige Gees probeer vooruit loop nie. Mens druk nie die vrugte aan ‘n boom ryp nie.
Die lied herinner ons ook om altyd daar te wees vir iemand. Skrywer het gesien hoe vier sakkies skorsies by armes afgelaai word. Later die middag toe speel die kinders krieket met die skorsies.
Maar hulle en hul ouers bly ongered. Mens kyk jou nie vas teen skorsies nie. Kyk verby die skorsies en bid en pleit vir die siele agter die skorsies. Jesus se genade is genoeg om hulle almal te red.
Kyk nou weer na die woorde van die besondere lied:

RED WAT VERLORE GAAN,
   SOEK DIE WAT STERWE,
   RUK HUL ONTFERMEND
   UIT SONDE EN DOOD!
   WEEN OOR DIE DWALENDES,
   RIG OP WAT STRUIKEL,
   BRING HUL DIE LIEFDE
   VAN JESUS SO GROOT!

KOOR:
   RED WAT VERLORE GAAN,
   SOEK DIE WAT STERWE!
   JESUS IS LIEFDEVOL,
   JESUS KAN RED.

2. HOE HY GEMINAG WORD,
   IMMER NOG WAG HY,
   WAG OM BOETVAARDIGES
   LEWE TE GEE;
   PLEIT MET HUL VRIENDELIK,   
   PLEIT NOGMAALS DRINGEND:     
   ELKEEN WAT GLO,
   VIND VERGEWING EN VREE.

3. DIEP IN DIE HEIDENHART,
   PROOI VAN DIE BOSE,
   SKUIL DAAR 'N BEELD
   WAT GENA KAN HERSTEL
   ONDER GOD’S LIEFDEHAND
   TRIL DAAR WEER SNARE
   LEWE DIE SIEL
   OP DIE HEER SE BEVEL.

4. RED WAT VERLORE GAAN,
   JESUS VERWAG DIT,
   KRAG TOT DIE WERK
   SAL GODS GEES U VERLEEN;     
   LEI NA DIE NOUE WEG
   ALMAL GEDULDIG,
   JUIS OOR VERDWAALDES
   HET JESUS GEWEEN.