Donderdag 15 Januarie 2015

Watter GOD dien jy?




Die tydvak waarin ons leef bevind mense hulle in verskeie geesteswêrelde. So ontstaan die vraag: Watter God dien jy, jou God?
          In Amerika sê almal: Ek glo in God. Maar watter God sou hulle bedoel?  Op TV en in rolprente is gedurig uitroepe na god. Watter god sou hulle so na roep?
          Die Amerikaners se “ek glo in God” hoor mens ook in ander wêrelddele, soos in Suid-Afrika self.
          In TV-programme gaan dit nie oor die God van die Bybel nie, maar skielik is alles “spiritualiteit”.
          “Ek glo in God” het  soos ‘n skilderdoek geword waarop mense enige beeld  afets van wie hulle dink God is. Eintlik, omdat dit hulle eie skepping van God is, is dit niks minder nie as ‘n afgod wat hulle aanbid.
          Ons skaal God af na ‘n hanteerbare idioom. Hy mag nie wees wie Hy werklik is nie, hy moet afgeskaal word na waar Hy in my soort raamwerk inpas, ‘n raamwerk waar Hy vir my meer hanteerbaar is. Dis darem te veel gevra dat ek by Sy (Heilige) raamwerk inpas.
          Hierdie veralgemening van God kan die grootste sonde van die Kerk in ons tyd wees.
          Volgens die Bybelse Ensiklopedie is God in die Ou Testament genoem Adonai, El, Elohim, El-Eljoon, El-Sjaddai, JAHWE en Kedoosj Jisrael of Heilige van Israel.  In die Nuwe Testament word Hy ook genoem Theos en Kurios.
          Maar dit is bloot name, soos GOD, HERE, Drieënige God, ensomeer.
Wie is jy,  Magriet, Johannes?  Dit is bloot julle name, maar wie is julle?
          Ons sê maklik ons ken iemand, dan bedoel ons maar eintlik dat ons bloot weet wie hulle is. Om iemand te ken, is iets anders as om die naam of name te ken.
          So vertel ons soms ‘n storie oor iemand wat nie die waarheid is nie, want ons het bloot ‘n persepsie van die persoon. Ons ken nie werklik die persoon nie.
So het ons verkeerde persepsies oor ‘n magdom dinge en mense, bloot omdat ons nie ons self vergewis van die werklikhede en feite nie.
          Ons het ‘n persepsie oor God, maar ons ken nie die God van die Bybel nie want ons bestudeer nooit die Bybel nie.
          Wat is ons persepsie van God? Wie is Hy vir jou? Is Hy wie Hy werklik moet wees, of is Hy vir jou, jou selfgeskepte beeld wat jou pas?
          Dalk is Hy vir jou die God van jou rykdom en jou gesondheid. Is God jou bankoutomaat, dat Hy maar jou dienswillige dienskneg is en jou sal gee wat jy ook al wil hê en wanneer jy dit wil hê?
          Ons wanpersepsie oor God is vanweë wie ons wil hê Hy moet wees. Calvyn het gesê: Die mens se gedagtes is soos ’n fabriek wat gedurigdeur vals skeppings oor God vervaardig.
          Ons gebruik koeie vir melk, skape vir wol en God vir al ons ander begeertes. Geen wonder dat Paulus spesifiek eis dat ons gedagtes vernuwe moet word nie!
          “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:2
          Hang Christus vir jou nog aan ‘n kruishout? Of is hy die verrese Christus wat jy moet navolg?
          Sê jy ook jy is ‘n Christen? Dien jy Hom? Eerbiedig jy Hom? Is God in aksie in jou lewe?
          Wat van die Wederkoms? Is dit ‘n stukkie Bybelgeskiedenis wat jy iewers langs die pad van gehoor het, of is dit inderdaad vir jou ‘n toekomstige werklikheid waarna jy met reikhalsende verlange uitsien?
Verwag jy Hom elke dag? En wat van in die nag wanner jy sewe ure slaap en nie eers van jou eie bestaan bewus is nie?
          Veral na 11 September se terroriste-aanvalle op Amerika, het baniere oral vertoon “God Bless America.” Watter God het hulle van gepraat, want,  twee porno-winkels het ook baniere in hulle vensters gehad wat gelees het “God Bless America."
          Met die baniere het Amerikaners skynbaar bedoel, die God wat aan die kant van Amerika is. Dalk ook dat dit die God is wat in demokrasie belangstel? Die God van die kapitaliste? Die God wat die aandelebeurs moet laat styg?
          Na 11 September was God oral in Amerika weer terug. Mens sien Hom op baniere, op TV en in die koerante en tydskrifte: “God Bless America”, oor en oor en oor. Maar Christus is nie terugverwelkom nie.
          Statistiek toon dat meer mense skielik kerk toe begin gaan het, maar daar was nie nuwe wedergeboortes nie. Twee maande later verdwyn die mense weer uit die kerke en die baniere word afgehaal.
          Ander sê hulle wil God ken as ‘n God van tolleransie. So ‘n God sal nooit iemand laat hel toe gaan nie, sê hulle. Dis hulle persepsie want dit pas hulle beeld van God. Die waarheid is dat daar beslis ‘n ewige verdoemenis op die ongereddes wag.
          Die lys van die soorte God wat mense aanbid, is veel-veel langer. Ja, elkeen aanbid ‘n eiesoortige God wat hy of sy vir hulself skep. In werklikheid aanbid hulle ‘n afgod.
          Vir die een is God ‘n Baptis, vir die ander is hy ‘n Gereformeerde. Nee, sê ‘n volgende een, God is Presbiteriaan. Anglikaans sê ander. Inderdaad, in die laaste dae sal hulle sê hier is die Christus, nee, daar is die Christus.
          En mense draf van kerk na kerk van gemeente na gemeente want hier is Christus, nee daar is Hy.
          Humoristies word voorgehou dat die eerste kerkskeuring gekom het toe die twee blinde manne van die Bybel mekaar ontmoet het. Die een het getuig hoe Christus aan hom gesê het “jy sien” en toe sien hy, maar die ander man het sy kop geskud en gesê: “Ek is jammer vriend, as Hy nie in die sand gespoeg het en modder aan jou oë gesmeer het wat jy in die Bad van Siloam moes gaan was nie, dan kon dit nie dieselfde Christus gewees het nie.”
          So skep ons elkeen vir homself sy eie klein wêreldjie waarin hy die mees tevrede voel.
          Maar wie is God?
          Hy is die God wat in Jes. 57:14 sê “Hy is die Hoë en die Verhewene wat in die ewigheid woon. Sy naam is Heilig. Hy woon in die hoogte en in die heilige plek, maar, Hy woon ook by die verbryselde en nederige van gees. (Hoekom?). Om te laat herlewe die gees van die nederiges en laat herlewe die hart van die verbryseldes.”
          Dit is die God wat in Esegiël 3 vers 18 sê: “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy (voeg jou naam hier in) waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die  goddelose vir sy godlose weg te waarsku nie,  dan sal die godlose deur sy  ongeregtigheid sterwe, maar… sy bloed sal van jou hand geëis word.”
          Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy (voeg jou naam hier in) die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou  siel gered.”
Dis hoe regverdig die Vader is!
Dit is of eenkant toe of anderkant toe. Die Bybel maak geen plek vir kompromieë nie. Vir huigelaars en geveinsdes is daar nie plek in hierdie arena nie.
Dit is die God wat in Openbaring 3:15 sê:  “Ek ken jou werke (voeg jou naam hier in) dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal ek jou uit my mond uitspuug.”
Gaan doen nou die volgende Bybelstudies sodat jy die God van die Hemel en die aarde kan leer ken:

·       Bestudeer die sewe briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3 en kyk by watter gemeente jy inpas.
·       Slaan dan die strofes na oor God se wraak en ook al die strofes oor Sy liefde.

“Staan dan op en word verlig, want jou lig kom en die heerlikheid van die Here sal oor jou loop!” – Jes. 60:1. – Sjibbolet

Wanneer jou hut aan die brand is…




Die enigste oorlewende van ‘n skeepsramp het met enkele besittings op ‘n onbewoonde eiland uitgespoel. Hy het ernstig gebid dat God iemand moes stuur om hom te red. Elke dag het hy die horison gefynkam hopende op hulp. Daar was niks... en dan het hy weer koorsagtig en vurig tot die HERE gebid op redding.

Uitgeput het hy na ‘n paar dae opgegee en begin om vir hom ‘n hut as skuiling te bou. Daar was genoeg opdrifsels, boomtakke en blare om die hut te kon bou.

Een middag laat nadat hy weer vir kos op die eiland gesoek het, kom hy by sy hut aan wat in vlamme staan en tot op die grond afbrand. Hy het nog erger gevoel. Vir hom was alles verlore. Hy was stomgeslaan. Hartseer en kwaad het hy tot God geroep: “HERE, hoe kon U so iets aan my doen?”

Vroeg die volgende oggend word hy gewek deur ‘n mishoring van ‘n groot skip wat al nader na die eiland beweeg het. Nadat hy gered is wou hy weet: “Hoe het julle geweet ek is hier?”

Sy redders het geantwoord: “Ons het gistermiddag laat jou rooksein op die horison gesien en ons hierheen gehaas.”

Dit is so maklik om mismoedig te word wanneer dinge verkeerd loop, maar mens moet nooit hoop verloor nie. God is aan die werk in ons lewens, selfs te midde van ons pyn en lyding.

Onthou, volgende keer as dit vir jou lyk jou hut brand af tot op die grond, dit is dalk ook net jou rooksein wat roep na die Genade van God! – Sjibbolet

Kyk wat met lofprysinge vermag kan word.





Verstommend hoe geseënd ons werklik is!

Ons beleef almal van tyd tot tyd hopelose situasies, of, dis hoe dit lyk. Ons word depressief omdat ons vergeet dat die kragte van die Hemel in ons is om enige situasie om te keer.

Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:

Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge want ons is reeds geseën.

Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge want Hy skenk ons alles genadiglik.

Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.

Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge want ons is reeds genees.

Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.

“Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.

Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.

Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13

God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6

Mens moet jouself met Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.

Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17



Halleluja!
Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied,
          Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
          Laat Israel (dit is ons)hom verheug in sy Maker;
          Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
         Laat hulle Sy naam loof in koordans,
          Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
          (Hoekom?)
          Want die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
          Hy versier die ootmoediges met heil.
          Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
(Hoekom?)
om wraak te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
(Hoekom?)
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja! —Ps 149

Die Wederkoms van Christus


—    ‘n Magtige Motivering!


Die Wederkoms van Christus en die Eindtye is nie onderwerpe vir nuuskierigheid nie. Die hoop (toekoms-feit) van Sy terugkeer is ook nie ‘n ontvlugting vir die Christene nie.
          Dit is ook nie ‘n verskoning vir selfvoldaanheid nie, ook nie ‘n alibi vir onbetrokkenheid nie.
          Inteendeel, dit moet ons aanspoor tot heiligmaking, tot evangelisasie en gehoorsaamheid!
          Dit is ‘n motivering om God se werk op aarde ons eie te maak, want Christus het gesê: “Dryf handel daarmee tot dat Ek kom.” Luk. 19:13.
          Dit is ook ‘n motivering vir ons om gereed te wees : “Daarom moet julle ook gereed wees omdat die Seun van die mens kan kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie!” Matt. 24:44.
          Verder moet dit ons aanspoor tot heiligmaking: “En nou my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggestuur word by Sy wederkoms nie. 1 Joh. 2:28.
          Martin Luther het gesê: “Ons is veronderstel om te glo en te lewe asof Christus gister gesterf het, vandag opgestaan het en more gaan kom.”
          Evangelis W.C. Moore haal op sy beurt Efes. 5:14 aan: “Daarom sê Hy :  Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”
          Moore gaan voort: “Mense sê, maar die Kerk is aktief, daar is beweging onder die gelowige Bybel-Christene.”
          Dit is so, daar is ‘n roering in die vallei van doodsbeendere (Eseg. 37) en daar is ‘n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse (2 Sam. 5:24), maar saam daarmee is daar onmiddellik die opdrag: Jy moet gou maak, want het die HERE het voor jou uitgetrek.
          Ons werke is allig dooie werke (Heb. 9:14), daardie dinge waarvan ons juis ontslae moet raak. Elkeen van ons het die matige lewegewende krag van die Heilige Gees nodig om diensbaar vir God te wees.
          Die opdrag is: Word vervul met die Heilige Gees. (Efes. 5:18). Laat die kinders eerste versadig word. (Mark. 7:27).
          Ons, u en ek,  is gered om die Koninkryk te help bou: Ons is medewerkers saam met God. (1 Kor. 3:9).  Ons bou die Koninkryk saam met Hom.
          Ons herinner onsself gereeld daaraan dat die Christene vir ‘n magtige herlewing moet bid. Baie dankie vir diegene wat dit so getrou doen. Die bid en die werke gaan egter saam. Ons nooi jou, kom raak betrokke. Ons smag na strome van seën van bowe.
          Christus wou Lasarus opwek, maar die familie en die vriende moes die steen voor die graf wegneem. Ook hulle moes help sodat ‘n wonderwerk kon plaasvind.
          In strofe 44, nadat Lasarus opgewek was, vra Christus weer die omstanders moet help: Maak hom los en laat hom gaan.
          Die oes is inderdaad groot en die arbeiders inderdaad min. Hier is vir jou ‘n gulde geleentheid om betrokke te raak. Bid en versprei die Evangelie.
          Jes. 56:1: So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want My heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.
          Jes. 57: Vul op, vul op, berei die weg, verwyder die struikelblokke uit die weg van My volk. (Hoekom?)
          Want so sê die Hoë en die Verhewene wat in ewigheid woon, Heilig is sy Naam:  Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (maar Hy woon ook) by die verbryselde en nederige van gees. (Hoekom?)
          Om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.
          Inderdaad heel Jesus die gebroke harte en mense herleef.
          Christus sê in Efes. 5:23: Die nag kom, wanneer geen mens meer kan werk nie. – Sjibbolet

Verlore Skaap




Teruggebring


Luk 15:3-7: "Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor...gaan (nie) agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?" (vs. 4).

Charles Colson, 'n voormalige assistent van pres. Richard Nixon, is tronk toe gestuur vir sy aandeel aan die Watergate-skandaal. In die tronk het hy C. S. Lewis se boek "Mere Christianity" gelees en tot bekering gekom. Hy het oor sy bekering 'n boek, "Born Again", geskryf.

Die boek se verskyning het 'n uitputtende bekendstellingstoer, vir hom en sy vriend, Fred Denne, tot gevolg gehad. Hulle het een aand te laat vir ete by hulle hotel aangekom. Hulle is na 'n koffiehuis toe om iets te ete te kry. Die plek het 'n Spaanse atmosfeer gehad: rooi teëlvloer, smeeyster stoele en tafels. 'n Kelnerin in 'n pienk uniform het hulle bedien. Vir albei manne het sy na 'n verhoogster gelyk: blonde hare, mooi gesig. "Twee omelette, een tee en een koffie," bestel Fred.

Sy loop om hulle kos te gaan haal. Hulle bespreek kortliks hulle program van die volgende dag, toe buig hulle hul hoofde om die Here vir Sy seën op hulle rit te dank en ook Sy seën oor hulle kos te vra. Hulle bid langer as wat hulle bedoel het, want hulle ervaar soveel seën om die Here voor te dank.

Toe hulle amen sê en hulle koppe oplig, staan sy reeds met die omelette in die hand by hulle en wag. "Haai," vra sy hardop, "het julle ouens gebid?" Almal in die vertrek hoor haar en 'n paar koppe draai in hulle rigting. "Ja," antwoord Colson, ons het gebid." "Joe, dis netjies. Ek het nog nooit iemand hier sien bid nie," sê sy weer met haar helder stem. "Is julle predikers?"

Hulle antwoord, nee, maar sy hou aan vrae vra. Dan sê sy: "Ek is 'n Christen. Ten minste ek was een." "Wat het gebeur?" vra die twee manne amper gelyk. "Ek het as tienderjarige by 'n jeugdiens Jesus as my Verlosser aangeneem. Toe is ek Hawaii toe. Wel, ek het gaandeweg belangstelling verloor, dink ek. Eintlik vergeet daarvan. Nou's dit verby." "Ek dink nie dit is verby nie," sê Colson. "Jy het dit net vir 'n rukkie eenkant toe gestoot." Dit lyk of die kelnerin diep dink. "Dis snaaks, maar toe ek julle sien bid het ek 'n warmte in my hart gekry."

Hulle praat met haar en dring aan by haar om terug te kom na die Here toe. Hulle vertel van die Verlore Seun, oor die Here Jesus se liefde en vergifnis, oor Petrus wat Jesus verloën het, maar deur die Here terug verwelkom is.

'n Paar dae later sien hulle haar weer. "Haai, julle!" roep sy en kom na hulle toe. Sy vertel sy het dieselfde aand 'n Christenvriend gebel. Hy het haar gehelp om by 'n aktiewe kerk en 'n Bybelstudiegroep aan te sluit. "Ek het teruggekom" eindig sy met 'n blye glimlag. Colson het later geskryf: "Until that night, I had felt awkward at times praying over meals in crowded restaurants. Never again." Dit was 'n manier van die Goeie Herder om Sy wegloopskapie terug te bring.

GEBED: Here, vandag wil ek U ook asseblief help om 'n wegloopskaap terug te bring.  –  Manie Colyn

Die geheim van Lewenskrag




1 Sam 1:9-28: "Here, Almagtige, as U…aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee…" (vs. 11)

William Quarrier se vader is oorlede toe hy drie jaar oud was. Hy was net vyf jaar oud toe baie jare gelede kaalvoet, koud en honger in een van Glasgow se strate gestaan het. Hoekom gee niemand vir hom kos nie, het hy gewonder. Hy het 'n dag en half laas iets te ete gehad. Daar in die koue het hy ‘n besluit geneem: Hy sal nie soos hierdie mense optree wanneer hy die dag die vermoë het om ander te kan help nie.

Toe hy ses en 'n half jaar oud was, begin hy in 'n speldefabriek 'n twaalfuurskof werk teen 'n sjieling 'n week. Watter lewenskans het so 'n verwaarloosde, arm kind? Op 17-jarige ouderdom hoor William vir die eerste keer die Evangelie van God se liefde en Christus Jesus se verlossingswerk. Vir so 'n wonderlike boodskap het sy hart oopgegaan en William is wedergebore.

Op 18-jarige ouderdom begin hy skoenewinkel en gou had hy ‘n string skoenwinkels. Sy visie was om armoedige kindertjies te help.

In 1903 is William na die HERE toe. Hy het in sy doel geslaag. Vandag is daar die Orphan  Home of Scotland. William Quarrier het dit opgerig. Dit bestaan uit 34 huise. Altesame 1 500 arm kinders is daar gehuisves. Teen 1890 was daar ook ‘n skool, ‘n kerk (Berg Sion Kerk, waar hy en sy vrou ook begrawe is) en ‘n brandweer. Dit is dieselfde William wat op 5-jarige ouderdom kaalvoet in die straat hom verknies het oor sy lot as arm weeskind op straat. Sy bekering het so 'n groot krag in sy lewe ingebring dat hy so 'n taak kon aanpak en suksesvol uitvoer. Christene het ook skenkings begin bydra.

Die grootste lewensbelegging wat 'n mens kan maak, is om sy lewe vir die Here te gee. Die Here neem 'n waardelose swak mens en bring deur die Heilige Gees krag en rykdom in die innerlike lewe in en die persoon word 'n nuttige, diensbare mens op aarde, wat God verheerlik en sy medemens verryk.

"Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is 'n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het" (Efes 2:8,9).

GEBED: Here, vandag open ek my hart vir die rykdom wat U deur U Gees in 'n mens se lewe inbring sodat ook ek na ander kan uitreik.

Ouers onbevoeg om kinders geestelike te lei





·    Navorsing toon
Ouers onbevoeg om kinders geestelike te lei

In Suid-Afrika is daar huidig ‘n groot geskarrel rondom godsdiens in skole. Die volgende is ‘n verslag van die Barna Navorsingsgroep in Amerika, ‘n peiling wat ook die Suid-Afrikaanse situasie weerspieël.
          Ouers glo en aanvaar dat hulle primêr verantwoordelik is vir hulle kinders se geestelike ontwikkeling, maar min ouers spandeer tyd gedurende ‘n tipiese week in  interaksie met hulle kinders oor godsdiens.
          Dit het nodig geword dat die kerke die ouers onderrig gee oor hoe om na hulle kinders se geestelike heil om te sien.
          Nege uit elke tien ouers van kinders jonger as 13 jaar (85%) glo dat hulle primêr verantwoordelik is om hulle kinders oor godsdiens en geestelike sake te onderrig.
          Net 11% het gesê dit is die kerke se verantwoordelikheid en 1% het gesê dit is die verantwoordelikheid van die kind se skool.
          Feitlik al die ouers van kinders jonger as 13 het gesê dit is ouers se verantwoordelikheid om kinders waardes te leer.  Net 1% het gesê dit is die skool se plig en nog 1% het gesê dit is die kerk se plig.
          Nogtans spandeer die meeste ouers geen tyd hoegenaamd daaraan om hulle geestelike te onderrig nie.
          Daar is darem ‘n effense ligstraaltjie. Twee uit elke drie ouers se kinders woon elke maand kerkdienste by. Alhoewel die meeste ouers dus sê dat die geestelike onderrig van hulle kinders, die ouers se verantwoordelikheid is, is hulle heeltemal tevrede daarmee dat die kerke die kinders onderrig.                    
          Die navorsing het getoon dat alhoewel ouers graag self hulle kinders wil onderrig, die ouers nie weet hoe om dit te doen nie weens ‘n gebrek aan kennis.
          Dit het ook getoon dat die kerke feitlik geen rol daarin speel om ouers van die nodige kundigheid te voorsien om na hulle kinders se geestelike heil om te sien nie. Net een uit elke vyf ouers van kinders jonger as 13 (19%) is deur kerke gekontak om die ouers se rol in die geestelike opvoeding van hulle kinders te bespreek.
          Die navorsing het getoon dat ouers nie weet hoe om die Bybel te bestudeer nie en hoe om Bybelstrofes te memoriseer nie.
          George Barna wat die navorsing gelei het, sê dat miljoene ouers geen idee het van die geestelike nood onder hulle kinders nie.

·       Van die 51miljoen kinders onder die ouderdom van 18 jaar in Amerika, is daar meer as 40 miljoen wat nie Jesus Christus as Saligmaker ken nie. Barna sê dit bewys dat daar ‘n geestelike nood is wat nie aangespreek word nie.

Barna sê: “Hierdie is die mees betekenisvolle en vrugbaarste sendingveld binne die geledere van die nasie, nogtans doen die mense wat glo en erken dat hulle verantwoordelik is vir hierdie kinders se geestelike heil, net mooi niks daaraan nie.
“Kerke sal in toenemende maat betrokke moet raak by die onderrig van die ouers wat betref die geestelike opvoeding van hulle kinders en om hierdie aller belangrike taak met wysheid te hanteer.”
Die navorsing het ook getoon dat in sommige gevalle die ouers nie in staat is om hulle kinders geestelik te lei nie omdat die ouers met hul eie geloofsontwikkeling sukkel.
          Wanneer dit kom by die geestelike opvoeding van kinders is daar miljoene gesinne op wie die spreekwoord van toepassing is wat lui:  Jy kan nie gee wat jy nie self het nie!
          Volgens die navorsing kan ’n kerk egter nie daarin slaag om ‘n kind tot volle geestelike wasdom te lei nie. Dit is en bly die taak van die ouers, veral die moeder aan moedersknie. Hoe meer die kerk hierdie rol vervul, hoe minder sien mens geestelik gesonde gesinne en hoe minder armer word ons aan ‘n nuwe generasie van jongmense wat tot geestelike wasdom kan groei.
          Die kerke daarenteen erken dat dit nie hulle plig is om kinders tot geestelike wasdom te lei nie. Kerke het kinders maar sowat twee ure per week onder hulle vlerk terwyl die ouers die kinders die hele week onderdak het. Ouers het baie meer geleenthede om as geestelike mentors op te tree.
          Die inligting wat tydens hierdie projek ingesamel is, het nou gelei tot ‘n nuwe boek wat binnekort uitgegee sal word getiteld “Transforming Children Into Spirtual Champions.”  Dit sal dien as handboek vir ouers en kerke.
         Die navorsing kon net sowel in SA gedoen gewees het. Die situasie is presies dieselfde. Die ontsettende hoë egskeidingsyfer in SA belemmer ook die geestelike heil van ons kinders. Die kerke se taak kan nie onderskat word nie.
          Ouers mag egter wel die opvoedingstaak van hulle kinders aan ander delegeer, maar hulle mag nooit die verantwoordelikheid delegeer nie.  Die beheer oor die totale onderwys van ‘n kind, moet by die ouer berus en nie by die staat of ‘n ander liggaam nie.
          Die inhoud van alle onderrig moet in die geval van die Christen, op die Bybel gebaseer wees.  “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid…” Ps. 111:8.
          Ouers het geen verskoning in SA waarom hulle nie hulle kinders ook tot geestelike wasdom kan lei nie. Christen-boekwinkels verkoop talle handleidings.  Meeste kerke het handleidings beskikbaar.
          Die belangrikste op die oomblik is vir ouers om hulle verantwoordelikheid te besef en dit daadwerklik na te kom, hulleself geskool te kry in die Woord en na hulle kinders se geestelike heil om te sien. Hierdie is ‘n verpligting wat geen ouer mag of durf systap nie.
Komaan ouers, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat nou kreupel is (want inderdaad is ons ‘n kreupel spul) nie (boonop) uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word, aldus Hebr. 12:12-13. – Sjibbolet

Dankbaarheid teenoor Ondankbaarheid




‘n Meisie was blind weens onontwikkelde korneas in elke oog. Sy het almal gehaat oor haar blindheid. Vir haar kêrel was sy baie lief omdat hy baie vir haar omgegee het en so liefdevol was.

Eendag het sy aan haar kêrel gesê: “As ek maar die wêreld rondom my kon sien, dan sou ek met jou trou.” Sy was op ‘n waglys vir kornea-oorplantings en een dag gebeur dit toe wel dat so ‘n operasie uitgevoer kon word.

Toe die verbande ‘n paar dae later verwyder is, kon sy alles sien, ook haar kêrel. Hy vra toe: “Nou dat jy kan sien, sal jy met my trou?”

Sy het na hom gekyk en was geskok, want hy was blind. Sy wou nie die res van haar lewe in sy twee blinde oë vaskyk nie. Sy weier toe om met hom te trou. Haar kêrel het haar gelos en dae later met groot hartseer aan haar geskryf: “Jy moet jou oë mooi oppas, voordat dit jou oë geword het, was dit my oë.”

Dis hoe die menslike brein soms werk by verandering van status. Baie min mense onthou hoe die lewe voorheen was, hoe ander hulle bygestaan het deur dik en dun.

Die lewe is ‘n geskenk

Voordat jy weer iets negatiefs oor iemand sê, dink aan hulle wat nie kan praat nie.

Voordat jy oor die kos kla, dink aan hulle wat niks het om te eet nie.

Voordat jy kla oor jou maat, dink hoeveel smag na ‘n lewensmaat.
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                             
Voordat jy kla oor die lewe, dink aan hoeveel mense te vroeg die Ewigheid in is.

Voordat jy kla oor jou kinders, dink aan hoeveel moeders nie kinders kan hê nie.

Voordat jy kla oor jou vuilerige huis of motor, dink aan die duisende wat nie huise en motors het nie.

Voordat jy kla oor hoe ver jy iewers heen moet ry, dink aan die mense wat die afstand te voet moet aflê.

Voordat jy kla oor jou werk, dink aan die miljoene wat nie werk het nie.

Voordat jy jou vinger uitsteek of iemand oordeel, dink daaraan dat jyself nie volmaak is nie en dat ons almal verantwoording moet doen aan ons Skepper.

Voordat jy toegee aan depressie, dink daaraan dat God steeds vir jou God is en loof Hom.

Voordat jy toelaat dat enigiets jou ontwrig, tel net jou seëninge, en kyk wat God jou gegee het.

Ons, die Wedergeborenes, is die Nuwe Tempel



God leef nie langer in ‘n tabernakel, sinagoge of geboue wat met menslike hande gebou is nie. God se glorieryke manifesterende teenwoordigheid vind ons nie meer in tempels van graniet, goud en halfedelgesteentes nie, maar liewer in Jesus Christus.
          Die tempel van die Ou Verbond was ‘n tipe voorskou van die komende glorie van Christus. In die tempel van ouds was die Wet van Moses bewaar. Jesus is nou die vervulling daarvan. Nou hoor en sien en ontmoet ons God in Jesus Christus.
          Israel van ouds het God in die tempel aanbid waar God met Sy mense gepraat het. Ons aanbid God in Gees en in Waarheid ongeag die geografiese opset.
          “Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie.” Joh 4:20-21
          Ons, die liggaam van Christus, is die nuwe Tempel. Ons aanbid God enige plek, enige tyd, alleen, in paartjies of in groepe. Die heerlikheid van God is nou permanent en kragtiglik inwonend in ons. Paulus praat met die Efesiërs oor die hoeksteen van hierdie nuwe Tempel. Hy stel dit so:
          “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Efes 2:19-22
          Dis hoe eenvoudig dit is. God woon nie meer in ‘n tempel in Jerusalem nie, ook nie net in die Hemel nie, maar in sy liggaam, ek en jy, op aarde. Die liggaam (kerk) van Christus is nie ‘n organisasie nie, maar ‘n organisme.
          Ons, ek en jy, is die lewende boustene van hierdie nuwe Tempel. “En laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” 1 Pet 2:5
          Die bou van die nuwe Tempel is ‘n voortdurende proses waar “die Here  daagliks by die gemeente voeg die wat gered is.” Hand 2:47
          Jesus sê hy gaan die aardse tempel afbreek en in drie dae opbou, en die Jode reageer so: “En die Jode sê: Ses en veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.
          “En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het.” Joh 2:20-22
          En toe kom Pinsterdag waar Jesus sy dissipels doop met die Heilige Gees en so Sy liggaam bekragtig om voort te gaan en die nuwe Tempel te bou.
          En ons as lewende boustene word met liefde (as bindmiddel) in die Tempel ingemessel: “Maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saam verbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” Efes 4:15-16
          ‘n Tempel moet ‘n fondament hê: “Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.” 1 Kor 3:11
          Christus is die fondament en ook die hoeksteen: “Terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Efes 2:20.
          Paulus beskryf die nuwe Tempel verder in 1 Kor 3:16-17 “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”
          Ons, ek en jy wat gered is, behoort geheel en al aan Christus: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” 1 Kor 6:19-20
          Waar is die Koninkryk van God? “En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” Luk 17:21.
          As kind van God verkeer ons in ‘n baie belangrike posisie: Sy Gees in ons, ons elk ‘n bousteen, deel van Sy koninkryk… dit beteken ons is prinse en prinsesse in die Koninkryk.
          Hierdie nuwe Tempel is reeds in Eseg 11:17; 20:34, 41 en Sam 7:14 voorspel. Eseg 37:26-27 lees: “En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle vir my ‘n volk wees.”
          Al die gepraat en beplanning van ‘n Derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word, het niks met die gelowiges, ek en jy, te doen nie. Ons is lewende boustene in die lewende Nuwe Tempel, Christus Jesus.
          Maar wat dan van die nuwe fisiese derde tempel wat in Jerusalem gebou gaan word? Die antwoord is in Matt 23-24.
          God het die aardse tempel verlaat. “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” Matt 23:38
          Toe Jesus sterf skeur die voorhangsel en die tempel was nie meer God se huis nie. “En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur.” Matt 27:51
          God sou nooit weer in ‘n tempel woon wat met fisiese materiale en hande gebou is nie. Wat die aardse gebou betref was dit Ikabod, die Glorie het vertrek.
          Die tempel is vernietig, geen steen het opmekaar gebly nie. Drie dae later staan Hy op en Hy is die nuwe fondament van die nuwe Geestelike Tempel waarvan ons die geestelike boustene is.
          Natuurlik is dit moontlike dat iemand eendag ‘n nuwe aardse tempel in Jerusalem kan bou, maar dit raak nie die Wedegeborenes nie. Die enigste plek op aarde waar God nou woon is in die liggaam van Jesus Christus, ons, ek en jy.
          Die fisiese bou van ‘n tempel in Jerusalem gaan geweldige politieke en militaristiese konflik tot gevolg hê.
          Dis wat Paulus oor die betrokke tempel sê: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (die Antichris) die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
          “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou (die Heilige Gees), sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.” 2: Thes 2 3-6
          In 1980 het die Israelse regering Jerusalem tot hoofstad van Israel,verklaar. Dit het skokgolwe deur die wêreld gestuur en dertien lande het dadelik hul ambassades in Jerusalem gesluit en na Tel Aviv verskuif.
          Geen land erken Jerusalem as hoofstad van Israel nie. Die enigste wat dit wel as hoofstad erken is die gelowiges wat in dieselfde jaar ‘n internasionale Christen ambassade daar gevestig het. Die ambassade floreer.
          As dit gebou gaan word, dan sal dit vir ons as Liggaam van Christus, as Tempel van Christus, geen eskatologiese of Skriftuurlike betekenis hê nie.
          “Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
          “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.” 2 Kor 6:16-18    
          Ons lewens moet deurentyd ons geheiligde en glorieryke identiteit weerspieël. – Sjibbolet

Die Krag van ‘n eenvoudige Prisonier se Getuienis



 
IN 2 Konings 5:1-27 vind ons die verhaal van Naaman. Naaman was ‘n groot en vername man. Hy was:
 
·       geëer deur sy meester,
·       geseën deur die Vader, en
·       beskou as ‘n man vol dapperheid
 
`         Een ding het egter teen hom getel. Hy was melaats en melaatsheid is:
 
·       ‘n soort sonde,
·       dit is vuil, afstootlik, grusaam,
·       dit skei mense en ly tot skeiding tussen gelowiges en die Vader, en
·       dit veroorsaak ‘n skeiding in die gemeenskap.
 
Daar is baie mense vandag wat as “goed” bestempel word, terwyl hulle eintlik nog sondaars is. Hulle is:
 
·       getroue kerkgangers,
·       betaal hul tiendes getrou,
·       doen baie vir die minderbevoorregtes,
·       hulle is goed, maar nie goed genoeg nie, en
·       hulle is vol geregtigheid, maar kort God se geregtigheid.
 
Die meisietjie wat gevange geneem was, het persoonlike berading gedoen. Sy:
 
·       kon gesê het “ek kan niks doen nie. Ek is ‘n gevangene”,
·       kon gesê het  “ek wens ek kan vir Jesus werk”,
·       kon gewonder het waarom sy nie ‘n roeping van die Vader ontvang het nie,
·       kon gesê het dat sy in verkeerde geselskap is,
·       kon gemeen het dat sy die verkeerde werk het,
·       kon gemeen het dat sy ‘n mislukking is weens haar omstandighede, en
·       nogtans het sy teenoor haar vyande getuig.
 
En dan vra mens jouself af: waar beweeg ek en wat doen ek in die omstandighede waarin ek myself bevind, want:
 
·       Is ons bereid om vir ‘n vyand te bind,
·       vir ‘n vyand die hande op te lê,
·       gehoorsaam te wees aan Jesus se opdrag om die Evangelie uit te dra,
·       te getuig in die omstandighede waarin ons, ons daagliks bevind, en
·       te getuig ten spyte van kerkverband en kultuurgrense?
 
Die meisietjie het haar taak getrou volvoer, Sy het:
 
·       veroorsaak dat ‘n hoofstuk in ‘n Bybelboek geskryf is,
·       sy het geweier om ontmoedig te word deur haar omstandighede,
·       sy het haar plig gedoen, alhoewel niemand toegekyk het nie,
·       sy het geweier om haarself te bejammer,
·       sy het geglo haar getuienis of taak sou beloon word,
·       sy het nie besef haar getuienis sou die ore van ‘n koning bereik nie,
·       sy het bewys dat ‘n mens se getuienis resultate oplewer, en
·       sy het geglo en ook gesien dat die Vader se Woord nie leeg terugkeer nie.
 
Naaman was die enigste melaatse wat in die land genees is:
 
·       maar, dit was nie die Vader se skuld dat ander nie ook vertel was nie,
·       die Vader se Wil was en is vandag nog, dat elke gelowige die meisietjie se voorbeeld sal navolg,
·       ander het dus nie hul lig laat skyn nie,
·       sommige het toegelaat dat omstandighede hul geestelike lewe oorheers,
·       baie meer mense kon genees gewees het, as meer gelowiges getuig het oor die Vader se wonderwerkende krag, en
·       vir sommiges was gesê dat siekte seëninge is.
 
Ongeestelike metodes is gebruik om genesing te bewerkstellig. Die koning van Sirië:
 
·       het ‘n amptelike brief aan die koning van Israel gestuur,
·       hy wou God aan tradisie vasbind,
·       hy het geld gestuur om Naaman se genesing te koop,
·       hy het boonop die verkeerde man gestuur,
·       hy het nie geweet dat die Geestelike dinge deur die Gees bewerkstellig word nie,
·       Sy hart was nie reg teenoor God nie (Handelinge 8:21), en
·       hy was in ‘n dal van bitterheid en in die bande van ongeregtigheid (Handelinge 8:23).
 
Naaman wou met alle mag sy genesing bekom:
 
·       hy het gedink Elisa sal sy hande op sy kop lê en hom genees,
·       hy het gedink hy kon vir sy genesing betaal,
·       hy wou sy genesing deur geregtigheid verdien, en
·       hy het gemeen sy naam en stand in die lewe verdien ‘n spesiale diens.
 
Naaman was baie teleurgesteld en word toe krities. Hy:
 
·       openbaar  ‘n kritiese gees,
·       dat hy nie die aangename man is wat so baie mense gedink het hy is nie,
·       hy het gemeen dat hy mishandel was, dat daar teen hom gediskrimineer is,
·       hy het heelwaarskynlik ook gemeen Elisa se optrede het hom van kosbare werkstyd beroof, en
·       Naaman was gewoond daaraan om voorkeur te geniet want sy tyd was kosbaar.
 
Naaman sou heelwaarskynlik voor sy tyd gesterf het, as hy nie betyds geleer het:
 
·       dat God nie altyd op die grondslag van tradisie werk nie,
·       dat God bereid was om Hom op ‘n besondere manier te genees, en
·       dat hy eers sy hart met God moes regkry.
 
Naaman het eers sy genesing gekry:
 
·       toe hy besef dit baat nie om op sy eie werke en geregtigheid te steun nie,
·       toe hy besef dat hy op God moet vertrou en nie op sy eie goeie naam nie,
·       toe hy besef dat dit God se krag was wat die werk moes doen en dat hy niks in eie krag kan vermag nie,
·       toe hy besef dat God hom nie om sy goeie werke, reputasie, goeie naam of roem nie, en
·       toe hy besef dat kinderlike geloof hom sou deurdra.
 
Wanneer ons kyk na die maniere waarop mense in Bybelse tye genees is, dan vind ons:
 
·       dat 90% sonder handoplegging genees is,
·       dat 95% sonder aanwending van olie genees is,
·       dat hulle sonder lang gebede genees is, en in die meeste gevalle onmiddellik,
·       dat tradisie en rituele vebreek is,
·       dat genesing gekom het op maniere wat die mense dit hoegenaamd nie verwag het nie, en
·       die Gees van God was nooit deur ‘n besondere metode of patroon gebind nie.
 
Soms moet meer as een gawe in werking tree om genesing te bewerkstellig:
 
·       ‘n bediener van die Woord het soms die gawe van wysheid nodig om die gawe van kennis te kan toepas,
·       die gawe van geloof moet eers in werking wees voordat die gawe van gesondmaking in werking kan tree,
·       Petrus had die gawe van onderskeiding in die geval van die towenaar Simon, wat genesing verlang het,
·       in Naaman se geval het Elisha die woord of gawe van onderskeiding en wysheid openbaar, en
·       Naaman kon ook net genees word as hy gehoorsaam was.
 
Elisha was gehoorsaam aan die Stem van God. Hy het geweet:
 
·       Dat as Naaman ses keer in die rivier sou doop, hy nie sou genees nie. Dit moes sewe keer gedoen word,
·       Dat as Naaman sewe keer in ‘n ander rivier homself gaan doop het, hy ook nie sou genees nie,
·       God se Wil is nie die van die mens nie. Die mens wik, maar inderdaad, God beskik,
·       volle gehoorsaamheid was al wat Naaman kon genees, en
·       Naaman se trots moes eers in nederigheid omskep word voordat hy genees kon word.
 
God kyk in die mens se hart. God het geweet:
 
·       Dat hy wat God is, nie die eer sou kry as Elisha sy hande op Naaman gelê het nie,
·       Baie mense sal sou ewe maklik na ‘n toordokter as na ‘n bedienaar van die Woord gaan,
·       Naaman moes op die genade van God, en nie die genade van die mens vertrou nie,
·       God sal nooit die eer wat Hom toekom met ‘n ander deel nie,
·       Naaman wou genees word soos dit met ander mense gebeur, en
·       dit kos meestal meer as net die vra om gebedsgenesing om genesing te verkry, en
·       God is alwys.
 
Mense wat Naaman se optrede openbaar, beweeg op die vleeslike in plaas van die geestelike vlak:
 
·       met die verstand probeer hulle Goddelike genesing en God se wonderwerkende krag uitwerk,
·       hulle sou redeneer dat as water kan red en genees, dan kan ek dit in my eie kerk laat doen,
·       hulle wil hulself leer hoe om die dinge van God te gebruik,
·       hulle wil hul eie kerk se norme en rituele handhaaf, eerder as die van die Vader,
·       hulle beweer hulle moet in olie, handoplegging, ens. Glo,
·       hulle moet agter genesingsdienste of ‘n genesingsdoekie aangaan, en
·       hulle meen hulle moet hul eie pad  deurwerk op en eie meriete staatmaak.
 
Hoe sal ons dan weet wat die Vader se wil vir ons is?
Wel, dis eintlik maklik. Vertrou op die Vader vir die antwoord en kort voor lank sal mens weet dat jy weet!
Soos ‘n skip wat ‘n hawe in ‘n donker nag moet binnevaar, so sal al die liggies aankom en mens sal weet dat jy weet dat jy in Sy wil is.
Ons eie denke moet ons uit die pad uitkry, ons sake met die Vader en met ons naaste in orde kry en die Vader vertrou. Hy is en bly ‘n waarmaker van Sy Woord.
 
Naaman het sy volmaakte genesing ontvang toe hy ontdek dat:
 
·       hy eers soos ‘n kind moet word,
·       dat hy gehoorsaam moet wees en wel in die betrokke rivier nie meer en nie minder nie as sewe keer homself moes doop,
·       toe hy insien dat hy nie genesing kon koop nie, hy kon dit nie verdien nie, nie daarvoor werk nie, hy kon dit ook nie op meriete bekom nie,
·       toe hy insien dat hy hulpeloos voor God staan,
·       toe hy soos ‘n kind die eenvoudige dinge begin glo en aanvaar,
·       toe hy insien dat God  sy medewerkers gebruik om aan ander opdragte te gee, en
·       dat mens nie God se weë met die verstand beredeneer nie.
 
Mense wat genesing vir hul gees en liggaam verlang, moet besef dat:
 
·       God is almagtig en baie groter as ‘n genesingsdiens,
·       God se hande baie verder ryk as die van ‘n prediker,
·       God kan duisend mense net so maklik soos een mens genees, en
·       Mense moenie wag om elkeen afsonderlik voor gebid te word nie. – Sjibbolet