Soos in die Hemel, so ook op die aarde
Wat maak ons met al die mag en
gesag wat aan ons gegee is?
”It’s Time” sal komende Maart 2018 opgevolg word deur Mighty Families!
Lourieke Haller van JUIG skryf: “Die Springbok Ollie le Roux se plaas
Wildeals buite Bloemfontein sal weer eens die plek van samekoms wees.
Die geleentheid sal van 16-18 Maart op Wildeals gehou word. Daar sal
kampeerplek vir 20 000 gesinne op die terrein beskikbaar wees. individue
is ook welkom.”
‘n Magtige Familie saamtrek is nodig, maar so ook groter Christen-aksie: Vervang seksonderrig in skole met Gesinsonderrig, tree toe tot die politieke toneel en lei ‘n nuwe dispensasie binne met die 34-miljoen selfverklaarde Christene in SA. Geloof en die werke loop hand aan hand. Jak 2:24.
Ons beleef almal van tyd tot tyd hopelose situasies, of, dis hoe dit lyk. Ons word so depressief dat ons vergeet dat die kragte van die Hemel in ons enige situasie kan keer of omkeer.
Ons vergeet dat ons erfgename is Rom 8:16-17. Om ‘n erfporsie joune te maak moet jy dit gaan opeis.
Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:
Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge (ontvang en sê dankie) want ons is reeds geseën.
Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge (ontvang en sê dankie) want Hy skenk ons alles genadiglik.
Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles (let op) geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug, waardeur Hy ons die (let op) grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.
In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en ek en jy, die bloedgewaste ontvangers. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge (ontvang en sê dankie) vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.
Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge (ontvang en sê dankie) en dan kom die opbrengs en die toename.
Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge (ontvang en sê dankie) want ons is reeds genees.
Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge ontvang en sê dankie) is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.
“Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons. Ons ontvang en sê dankie deur middel van lofprysinge,
Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13
God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6
Mens moet jouself met Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.
Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17
Let op watter mag en gesag God ons ook gegee het:
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Efes 6:12
Dit beteken dat ons as Christene by totale oorlogvoering betrokke is teen verskeie onsigbare leërinstellings... wesens sonder fisiese liggame. Hulle ontvang hul opdragte vanaf ‘n hoofkwartier wat in die ruimte gevestig is. Hulle doel is ‘n globale oorname.
Gebeure die afgelope jare en ‘n toename van belangstelling in die okkulte en die geestelike werkinge het Christene genoop om inligting en raad te kry oor geestelike oorlogvoering.
Alhoewel die klem in die verlede op die bedrywighede van demone geval het, begin al hoe meer Christene besef dat demone nie die hoof kragte is wat ons bedreig nie.
Omdat ons oorlogvoering op ‘n geestelike vlak afspeel, het God aan ons geestelike wapens voorsien om in hierdie besondere oorlog te kan optree.
“Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.” 2 Kor 10:3-5
Hierdie wapens is dus nie fisies nie, maar geestelik, en “kragtig deur God om (satan se) vestings neer te werp” asook “om planne te verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.”
Alhoewel dit die magtigste wapens is, sê die HERE in Sag. 4:6 “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”
Kyk weer: “Om elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God... “Dit kom vanaf die satan se geestelike koninkryk in die ‘lug’”.
Daar is net twee magte op die aarde aan die werk, die mag van God en die mag van die satan. Die twee staan lynreg teenoor mekaar. Satan wil God se koninkryk vernietig en ons is die soldate wat die mag het om die aanslag af te weer en die satan se werke te vernietig.
Ons, die ware gelowiges, is die enigste mense op aarde wat die mag het om hierdie wapens op te neem en die sataniese koninkryk te vernietig.
Die mees belangrikste aspek van hierdie oorlog egter, is om te onthou dat God deur Jesus Christus reeds die werke van satan totaal vernietig het. Ons moet dus op ‘n vlak van oorwinning lewe.
In Kol. 2:15 staan dat God die “vyandskap” van die satan “tot niet gemaak het” deur sy “vrede” wat hy tussen Christus en ons bewerk het sodat ons en Christus nou een is.
Dit word herhaal in 1 Kor. 2:14 “Maar God sy dank wat ons (wanneeer?) altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.” ‘n Triomf is nie net die eintlike oorwinning wat behaal word nie, maar die feesvieringe van die oorwinning wat reeds behaal is.
Net terloops: Ons weet dat die volk ten gronde gaan weens ‘n gebrek aan kennis, maar daardie kennis moet deur ons versprei word want 1 Kor. 2:14 sê God wil die reuk van Sy kennis deur ons versprei.
Christus het die oorwinning oor satan namens ons behaal, maar Christus het die verantwoordelikheid aan ons opgedra om die oorwinning te bevestig en dit te administreer namens Hom.
Daarvoor moet ons in oorlogsdrag geklee wees, aldus Efes. 6:13. Dit bestaan uit ses dinge:
Ons lende omgord met die Waarheid
· Met die borswapen van geregtigheid
· Skoene aan ons voete (die bereidheid vir die Evangelie van vrede)
· Die skild van die geloof
· Die helm van Verlossing
· En die swaard van die Gees.
In hierdie oorlog tree ons op “met alle gebed en smeking en by elke geleentheid te bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.”
Hierdie ses dinge is egter alles ter verdediging, behalwe die Swaard wat gebruik word om aan te val. Dis hoekom ons die Woord (Swaard) moet ken.
Met ‘n swaard kan mens egter maar net armlengte veg, maar in die gebed (op die geestelike vlak) is daar geen beperkinge nie.
Bid... in die Gees... Efes 6:18 ontbloot dat hierdie wapen se effektiwiteit nie beperk kan word deur spasie of tyd nie. “... terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees.”
Gebed is die magtigste en verrykendste geestelike wapen wat aan gelowiges gegee is. Dis byna soos ‘n interkontinentale ballistiese missiel... Inderdaad is gebed ‘n nasie-skuddende, geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak. Nie dat gebed as sodanig magtig is nie, maar onse God is!
Ons wapenarsenaal bestaan onder meer uit:
Die Woord van God, die naam van Jesus Christus en die Bloed van Jesus.
· Al drie wapens word deur dieselfde kanaal gelanseer: Die mond.
· Die mond doen dit deur gebed, lofprysinge, getuienis en prediking.
Wat hier uitstaan is gebed, spesifiek twee tipes aggressiewe gebed:
Bind en ontbind
Die eerste is die gebed van bind en ontbind. Jesus sê aan Petrus is Matt. 16:19 “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die Hemele gee; en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die Hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees.”
Deur hierdie woorde het God aan Petrus ‘n enorme geestelike gesag toegeken – gesag wat op die aarde uitgeoefen kan word, terwyl dit ook in die Hemel van krag is.
Dit is duidelik dat God aan Petrus hierdie mag gegee het omdat Petrus dit sou nodig kry. Dit beteken dat ons dit ook nodig het. Hoe weet ons dit?
In Matt. 18:18-20 sê Jesus: “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.
“Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.
“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”
Die woord “saamstem” heet “sumphoneo” in die Grieks en beteken simfonie in Afrikaans. Dit beteken dus nie net saamstem op intellektuele gebied nie, maar soos in musikale harmonie.
Met ander woorde: As twee van julle kan harmoniseer oor enige saak wat julle mag vra, dan sal dit julle ten deel val.
Dit is harmonie in die Gees, nie net ‘n besluit deur die verstand rakende ‘n gebedslysie nie. Ons neem baie besluite oor gebed sonder dat dit in harmonie is. Die Godsaak gaan nie oor besluite of stemme vir en teen nie, dit moet elke keer gaan oor almal saam in harmonie.
Jesus gaan dan verder: “...waar twee of drie in my Naam vergader....” Die Grieks lees: “Waar twee of drie gelei is om saam te vergader.” Om gelei te kan word vra om ‘n leier. Die Heilige Gees is die leier.
“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” Rom. 8:14
Jesus praat dus van gelowiges wat deur die Heilige Gees bymekaar gebring is, gefokus om die persoon van Jesus Christus en dus verteenwoordig deur Sy Naam.
Hy sê dus: “Wanneer julle gelei is deur My Gees om saam te kom en julle is in harmonie, dan kan julle reken op My teenwoordigheid.
Die uitoefening van hierdie gesag hang dus af van die leiding van die Heilige Gees en waar ons in harmonie saam is met ons mede-gelowiges.
Wanneer Jesus sê “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees,” dan dui dit nie op twee aksies nie, maar een.
Inderdaad kom dit daarop neer dat wat ons bind of losmaak, is reeds in die Hemel gebind of losgemaak.
In die aardse gebeurtenis dui dit op die gelowige se verantwoordelikheid en in die Hemelse gebeurtenis dui dit op God se soewereiniteit. Dit wat plaasvind is onherroepbaar.
Alles wat ons op die aarde bind is in die Hemel gebonde. Wat ons op die aarde losmaak, is in die Hemel losgemaak. Wat ons besluit is ‘n reeds gedane saak.
Nogtans plaas dit ‘n verantwoordelikheid op ons want die effektiwiteit van die bind en die losmaak vind eers plaas wanneer ons bid.
Sien dit ook soos volg: Ons almal is reeds gered, maar dit vind in effek eers plaas wanneer ons tot aksie oorgaan en Christus as Saligmaker aanneem in gebed. Christus het gesterf sodat ons almal gered kan word. Dis inderdaad ook Sy gebed dat ons en Hy almal een moet wees.
Die HERE sê Hy ken ons nog voordat ons die moederskoot ingegaan het, maar ons het in effek eers mens geword toe twee selle met mekaar verbind het.
Ons bid: “HERE, laat U wil geskied, soos in die Hemel en so ook op die aarde.” Die werklikheid is dat alles reeds in die Hemel plaasgevind het, maar dis ons verantwoordelikheid om dit op die aarde te implementeer. Dis byna verbysterend, dog feit!
Ons neem so maklik die houding aan om te wag dat God moet reageer, maar talle kere wag God op ons. Hy wag al baie lank op ons.
Dis ons wat dit wat ruimskoots aan ons geskenk is, in werking moet stel.
Ons almal, alle gelowiges, het ‘n geweldige verantwoordelikheid om Jesus se onvoltooide werk op aarde voort te sit!
Kyk weer: Wanneer julle deur die Heilige Gees gelei in harmonie in die naam van Jesus Christus bymekaarkom dan dui dit ook op die korrekte verhouding tussen ons – gelowiges wat in die regte verhouding met mekaar en met God staan. Solank gelowiges nie in ‘n eerbare korrekte verhouding met mekaar lewe nie, kan daar geen antwoord op gebed wees nie.
God het ons genooi om Sy troon met Hom te deel: “Uit genade is julle gered – en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. Efes 2:5-6 Nogtans kan ons nie daar sit sonder om aan ‘n paar voorwaardes te voldoen nie.
Om te bind en om los te maak sluit feitlik elke moontlike situasie in
· As onheilsmagte aan die werk is, kan ons hulle bind
· So kan ons ook voorrade en voorsiening losmaak
· As mense in een of ander vorm van binding is dan kan ons hulle losmaak
Jesus gaan verder: “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.”
In die twee genoemde strofes is ingesluit al die gesag wat ons ooit nodig sal hê in gebed.
Die bind van die sterk man
In Matt 12:28-29 lees ons: “Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom. Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.”
‘n Strofe wat hiermee saamloop is Luk. 11:20-22 “Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.
“Wanneer ‘n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid.
“Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit.”
Ten eerste dui dit op Jesus en die satan. Die satan was die sterk man in sy paleis en niemand kon hom teenstaan nie. Die wêreld was onder sy beheer. Jesus het die satan egter oorweldig en sy mondering waarop hy vertrou het, van hom af weggeneem.
Dit is in ooreenstemming met Kol. 2:15 “...nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar ten toon gestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.”
Neem kennis daarvan dat die satan ongewapend is. Dis ons wat bewapen is. Nadat Jesus oor die satan triomfeer het “deel Hy sy buit uit.” Hy wys na alles wat satan in sy paleis gehad het en sê aan ons “help julleself”.
Maar ons het ‘n belangrike verantwoordelikheid – dit is ons verantwoordelikheid om Jesus se triomf oor die satan te administreer.
Ons deel dus in die bind van die sterk man soos wat Mattheus dit verduidelik: “Hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie?”
Dit wil,voorkom dat die Heilige Gees aandui dat meeste van ons aktiwiteite oneffektief in meeste situasies sal wees as ons nie eers die sterk man gebind het nie.
Ons wil sy goed van hom af wegneem, maar ons het hom nog nie gebind nie. Die gevolg is dat ons baie van ons tyd en kragte misbruik deur sy aanvalle te probeer afkeer. Dit verhinder ons om sy goed te vernietig of sy gevangenes vry te stel. Ons mag dalk effe resultate kry, maar glad nie in vergelyking met die triomf wat ons sal behaal as ons hom eers bind nie.
Die vrou vra eendag: “Bid asseblief dat my man sal ophou drink. Hy drink erg en rand my gedurig aan.”
Ons het nie gebid nie, maar haar teruggestuur huis toe juis met die opdrag dat wanneer haar man daardie nag slaap, sy haar hand op hom moet lê en die sterk man in sy tempelhuis moet bind en uitdryf en die Heilige Gees vra om haar man te beset sodat hy gered kan word.
Die man is geen dronklap nie, hy is ‘n verlore sondaar. Dit gaan nie oor die drank nie, maar oor sy siel. Wanneer sy siel gered is, verdwyn die drankprobleem vanself, want die mag van die drank word verbreek.
Sien egter ook Lukas11:24-6 “Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.”
Dit is waarom mens ewewigtige lering moet gee. Die mens uit wie die onheil verdryf is, moet sy lewe nou volmaak met die Heilige Gees en die Woord sodat wanneer die onreine gees terugkeer hy die huis beset sal vind. Dit geld vir individue maar ook vir groepe en gemeentes.
Aanvaar dit, ons het ‘n verantwoordelikheid dat, in watter situasie God ons ook al plaas, ons ‘n bediening ontvang het, deel daarvan om die sterk man te bind en sy werke te vernietig in die naam van Jesus Christus.
Kyk na die voorbeeld in Daniël 10. Voordat Daniël antwoord op sy gebed vir Israel kon kry, moes hy eers die magte van die prins van Persië (hedendaagse Iran) oorwin. Die prins was die besondere sterk man wat satan se belange daar verteenwoordig het en die volk Israel in daardie tyd onderdruk het.
Laat ons die sterk man in die manne en vroue rondom ons bind. Daar is baie van hulle in satan se koninkryk, op baie vlakke van gesag selfs. Hulle kom voor op alle vlakke van die samelewing en selfs in ons eie families en gesinne. Dis ons verantwoordelik om in harmonie saam te staan in gebed en die sterk manne in hierdie mense se lewens te bind in die naam van Jesus Christus.
Ons kan onsself baie harde werk en tyd spaar as ons, ons verantwoordelikheid besef en met die sterk man afreken. Dis die een manier van bid.
Ons het die mag. Dis aan ons gegee.
“En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.” Matt 10:1
“En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Mark 16:17-18
“Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.” Luk 10:19
“Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” Matt 10:8
“Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.” Joh 12:31
“... en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.” Joh 16:11
“Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Joh 16:33
En ook Efes 1:17-23 “Dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,
“verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;
“en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte
“wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele,
“bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.
“En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
En ook Heb. 2:14-15 “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.”
Nou begin ons Jak. 4:7 verstaan: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.” (want ons het die mag, die gesag om dit te doen).
“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.” 1 Pet 5:8-9 (en weer, want ons het die mag en die gesag om dit te kan en moet doen).
“Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.” 1 Joh 2:14b
“Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” 1 Joh 3:8b
So sien ons keer op keer dat die satan reeds verslaan is, maar dis ons verantwoordelikheid om dit op aarde te verwesenlik. Ons het ‘n keuse: Ons kan of onder die satan se heerskappy staan, of ons kan in oorwinning aan God se kant kom staan en oor die satan en sy magte heers.
“Julle is uit God, my kinders, en het hulle (die vyand) oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” 1 Joh 4:4
“Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” Openb 1:17-18
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” Openb 12:11
Heilige Gees-gedrewe gebed
Die ander manier van bid is spesifieke, doelgerigte aanhoudende gebede soos ingegee deur die Heilige Gees. Daar is twee voorbeelde in die Ou testament:
In Josua 8 is die kinders van Israel besig om ‘n stad in te neem toe God te midde van die oorlog aan Josua iets sê wat geen militêre betekenis hoegenaamd gehad het nie.
“En die HERE het vir Josua gesê: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee. Daarop steek Josua die spies wat in sy hand was, na die stad uit.” Jos 8:18
Die uitgesteekte spies het geen militêre waarde gehad nie, maar wel geestelik waarde.
In strofes wat volg word vertel hoe dat die Israeliete die stad oorgeneem en vernietig het. In strofe 26 volg dan die volgende: “En Josua het sy hand met die uitgestrekte spies nie teruggetrek voordat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het nie.”
Josua het sy arm met die spies uitgesteek toe die oorlog begin het en dit in daardie posisie gehou, spesifiek gerig teen Ai, totdat die totale oorwinning behaal is.
Die spies het militêr niks uitgerig nie, maar op die geestelike vlak het Josua God se belofte oor Ai aangegryp en dit opgeeis tot op die oomblik van die oorwinning.
Dit dui op God-gegewe, deurdringende, onwankelbare, doelgerigte gebed, soos ook in Luk 5-10.
As die man wat die brode in die nag kom vra het, opgehou het om te klop, het hy nooit die brode ontvang nie. Dit was juis sy doelgerigte aanhoudende (irriterende) geklop wat hom die brode besorg het. En dan Jesus se belofte: As jy klop dan sal daar (beslis) vir jou oopgemaak word.
Sommige mense beweeg die spies die wêreld vol in plaas daarvan om gefokus, doelgerig, spesifiek te bly.
Dawid beklemtoon, veral in die Psalms die vernietiging van die vyande sodat hulle nie eers geleentheid het om op te staan nie. Hy sê in Ps 18:43 “Toe het ek hulle vermaal soos stof voor die wind; ek het hulle uitgegooi soos modder van die strate.”
God is ontevrede met ‘n gedeeltelike oorwinning. Baie keer bereik Christene ‘n gedeeltelike oorwinning en dan laat sak hulle die spies. God gaan nooit ‘n kompromie aan nie. Hy leef nie in grys areas nie.
In 2 Kon 13:15-19 is Elisa op sy sterfbed wanneer hy aan Joas ‘n opdrag gee. Israel is uit die ooste bedreig deur Sirië en Elisa wou voorsiening maak om die bedreiging af te weer.
“En toe Elísa siek was aan die siekte waaraan hy sou sterwe, het Joas, die koning van Israel, afgekom na hom en oor hom geween en gesê: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!
“Daarop sê Elísa vir hom: Neem ‘n boog en pyle. En hy het vir hom ‘n boog en pyle geneem.
“En hy sê vir die koning van Israel: Sit jou hand aan die boog. En hy het sy hand aan die boog gesit; en Elísa het sy hande op die hande van die koning gelê.
“Verder sê hy: Maak oop die venster na die ooste toe! En hy het dit oopgemaak. En Elísa sê: Skiet! En hy het geskiet. Toe sê hy: ‘n Pyl van oorwinning van die HERE en ‘n pyl van oorwinning op Aram: jy moet die Arameërs volkome verslaan in Afek.
“Verder sê hy: Neem die pyle. En hy het dit geneem. Toe sê hy vir die koning van Israel: Slaan teen die grond! En hy het drie maal geslaan en opgehou.
“Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan.”
Hier sien ons weer ‘n pragtige beeld van Gees-gerigte en Gees-bekragtigde gebed.
Die venster het na die ooste oopgemaak. Dit wys op rigting. Die Siriërs sou vanuit die ooste aanval. Die pyl is deur daardie venster in daardie rigting gerig. Wat is die betekenis van die koning wat sy hand op die boog plaas en die profeet wat sy hand op die koning sin plaas? Dit dui aan dat die bron van die profeet se gesag – die Heilige Gees – besig was om die koning te bekragtig toe hy die pyl in die rigting van Sirië afgevuur het. Dit dui ook op harmonie en eendragtigheid.
Maar, omdat hy net drie maal in plaas van vyf maal geslaan het, was die oorwinning beperk. Die verslag moes later herhaal word soos wat ons lees in Matt 13:25 “En Joas, die seun van Jóahas, het weer die stede uit die hand van Bénhadad, die seun van Hásael, teruggeneem wat hy aan sy vader Jóahas in die oorlog ontruk het; Joas het hom drie maal verslaan en die stede van Israel herower.”
Dit beteken dat sukses op die natuurlike vlak is afhanklik van geestelike kragte. As mens die oorwinning op die geestelike vlak behaal, dan sal dit die deurslag gee op die militêre, die politieke, die sosiale of ekonomiese vlak.
Die geestelike vlak is deurslaggewend en ons vernaamste wapen is en bly Gees-gerigte, Gees-bekragtigde, deurdringende gebed. Joas het misluk omdat hy nie genoegsame vasberadenheid op die geestelike vlak toegepas het nie. Aan die ander kan het Joshua sy spies gerig gehou totdat die oorwinning volkome was.
Wanneer die Here sê dat Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit ‘n opdrag wat eenvoudig uitgevoer moet(!) word, al is dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die land is nie, dan is dit heel waarskynlik omdat die Liggaam nie vir die regering bid nie.
Die Here is in beheer van die koning. In Spr 21:1 lees ons: “Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil.”
Die nuwe vertaling lees: “Die Here kan ‘n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!
So, kom maar gerus jou plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer.
Luister wat sê Psalm 149 oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:
Halleluja! Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied,
Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
Laat Israel hom verheug in sy Maker;
Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
Laat hulle Sy naam loof in koordans,
Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
(Hoekom?)
Want die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
Hy versier die ootmoediges met heil.
Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
(Hoekom?)
om wraak te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
(Hoekom?)
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja!
Dus, nie deur krag of geweld nie, maar deur lofprysinge aan die God van ons heil. Lofprysinge is ‘n tweesnydende swaard: Terwyl ons God loof, oefen ons ook wraak uit onder die heidene, strafgerigte onder die volke, om hulle konings in kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie… Waarom? Om ‘n vonnis te voltrek wat reeds opgeskrywe is! – Sjibbolet