Wys tans plasings met die etiket It's Time. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket It's Time. Wys alle plasings

Vrydag 18 Augustus 2017

Mighty Families volg It’s Time op in 2018

Mighty Families


16 Augustus 2017                
 JUIGDigital  Lourieke Haller

It’s Time sal volgende jaar opgevolg word deur Mighty Families!

Ollie le Roux se plaas sal weer eens die plek wees waar ʼn byeenkoms gehou word wat die koninkryk van God help uitbou en God se plan vir ons land help bewerkstellig.

ʼn Mighty Families-konferensie word beplan vir Maart 2018 op die oud-Springbok, Ollie le Roux se plaas, Wildeals, naby Bloemfontein. Dit is ook die plaas waar Angus Buchan vroeër vanjaar die It’s Time-byeenkoms aangebied het.

Een van JUIG! Tydskrif se medewerkers, dr. Arno van Niekerk, ʼn senior lektor en ekonoom aan die Universiteit van die Vrystaat, is die voorsitter van die reëlingspaneel en het gesê: “Mighty Families beloof om ʼn besondere belewenis in die Here se teenwoordigheid te wees. Ons land beleef ʼn kommerwekkende tyd waarin gesinstrukture uitmekaarval. Die hartklop van Mighty Families is om genesing in gesinsverband te bring, huwelike op die rand van egskeiding te probeer red en die harte van kinders en hulle ouers nader aan mekaar te bring.

“Mighty Families se visie is om Suid-Afrikaners aan te moedig om die klem weer op goeie Bybelse gesinswaardes te plaas. Die land moet met sterk gesinne herbou word.”

Hy sê die klem sal veral op diversiteit val en dat almal welkom is by die geleentheid waar daar bediening in die Woord en ook aanbidding sal wees. Daar sal verskeie erkende sprekers vanuit verskillende rassegroepe optree; Angus Buchan is ook uitgenooi om as spreker op te tree, maar dit is nog nie bevestig of hy wel teenwoordig sal wees nie.

Die geleentheid sal van 16-18 Maart op Wildeals gehou word. Daar sal kampeerplek vir 20 000 gesinne op die terrein beskikbaar wees. Individue is ook welkom.

Kom sluit gerus by Mighty Families aan om ʼn betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrika se genesing te maak –  met versoening tussen verskillende rassegroepe, in gesinne, en in die huwelik.

Vir enige navrae, kontak:   mightyfamilymightynation@gmail.com