Donderdag 15 Januarie 2015

Die armoede verswelg ons



Maar daar is Hoop!

Kort voor SWA se onafhanklikheid is gesê van biljoene dollar se ontwikkeling wat die land sou binnestroom.  Olie sou van Angola af kom en petrol sou na 1990 net 20c per liter kos.
            En onafhanklikheid het gekom en gegaan en van al die beloftes het niks gekom nie.
            Soortgelyke beloftes is in Suid-Afrika gemaak.  Ook daarvan het niks gekom nie.
            Angola met sy rykdomme waar die blaam vir alle verval vrykwistig op UNITA geplaas is,  rapporteer  die NGO Global Witness nou dat Angola verlede jaar sowat R45 miljard uit olie alleen verdien het.  Nogtans leef die bevolking van ‘n skamele R11 per dag per kop, en dit teen veel hoër pryse as hier.
            Die olie-inkomste beloop na raming 87% van die staatsomset, en ten spyte daarvan is maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling op ‘n pad van rampspoed.
            Boonop, volgens die Global Witness, het daar verlede jaar sowat  R22 miljard  uit die staatskas verdwyn.
            Meer as 30% van alle kinders sterf voor die ouderdom van vyf jaar.  Kinders sterf teen ‘n tempo van bykans 500 per dag.  Driekwart van die bevolking leef in absolute armoede.
            Daar is net meer as 3 miljoen mense. Nogtans is hulle lewensverwagting net 44 jaar. 
            Toe daar later vrae gevra is waarom olie dan nie van Angola af ingevoer word nie, is gesê dat die gehalte daarvan glo te swak is.  Vraag is: Hoe kan dit swak wees as die Angolese nogtans sowat R45 miljard daaruit verdien, veral wanneer die wêreld se groottes soos  Chevron Texaco, Total Final Elf en Exxon Mobil daarby betrokke is?
            Volgens die Global Witness is die burgeroorlog en die ekonomiese en politieke onstabiliteit wat daarmee saamgeloop het, uitgebuit om onder meer inkomste uit die oliebronne te verduister.
            Ten spyte van dit alles, moet die VN R2 200 miljoen begroot om Angola se hongersnood te verlig.
            Inderdaad gaan dit dus veel slegter met Angolese as met Suid-Afrikaners, nogtans is Suid-Afrikaners besig om hulle spaarbussies leeg te maak. 
            Die verswakte rand, hoër rentekoerse wat steeds gaan styg, asook toenemende prysstygings van feitlik alle kommoditeite, tesame met toenemende werkloosheid, word ons mense deur toenemende armoede verswelg.
            Vir ons almal gaan sake veel erger word, maar daar is hoop!
            Wanneer  die Bybel praat van hoop, dan is dit nie hoop soos in “ek wens” nie, maar soos in “toekoms-feite”. Hoop beteken volstrekte sekerheid.
            Hoop staan nie in teenstelling met geloof nie, maar is ‘n verlenging daarvan.
            Net soos die geloof afhanklik is van die belofte van God, so is ook die hoop gevestig op die toesegging van God.
            Dié toesegging word nie altyd dadelik vervul nie, maar deur die geloof is ‘n mens in die hoop van die vervulling verseker.
            Die hoop is dan ook altyd of God gerig. Ps. 25.5; 39:8. Daarteenoor vergaan die hoop van die goddelose. Spreuke 10:29.
            Ps. 9:2-3 lees:  “Ek wil God loof met my hele hart; ek wil al U wonders vertel. In U wil ek bly  wees en juig; ek wil U naam psalmsing.
            Strofé 10 lees:  “So is God dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”  (Lees hierin hoë kostes, armoede en wanhoop).
            En 11:  “En hulle wat U naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ God!”
            Met ander woorde, al styg die pryse ook hoe hoog, God sal voorsien, solank ons getrou bly, Hom getrou dien en die geloof beoefen.
            Jak. 1 vanaf strofe 2 lees:  “Ag dit loutere vrede wanneer julle in allerhande versoekinge (probleme) val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid werk.
            “Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
            Strofe 6 waarsku:  “Maar jy moet in die geloof bid, sonder om te twyfe, want die een wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe word en voortgesweep word, want dié mens moenie dink dat hy iets van God sal ontvang nie!  So ‘n dubbelhartige mens  is onbestendig in al sy weë.”
            Weier dus om te twyfel.  Staan vas in die geloof.  Deur in totaliteit in die geloof te lewe, totaal afhanklik van God,  leef ons bo die omstandighede van hoë pryse, armoede en wanhoop, en nie daar onder nie.
            God is en bly ons toevlug, ons besliste hoop.  Dan laat ons nie toe dat ons negatiewe gedagtes koester nie.  Ons weier om ons te bekommer oor wat ook al, want ons weet dat ons ‘n besliste hoop het, maak nie saak wat in wêreld gebeur nie.
            Dan is ons emosies onder beheer.  Ons skrik nie vir die koerant se opskrifte oor resessie en depressie nie, nee, want ons God lewe en Hy belowe om vir ons in die bres te tree.
            Van ons word bloot die teenprestasie van getrouheid, waarheid en geloof verwag!  – Sjibbolet

Onthou jy wat jy moet vergeet, of vergeet jy wat jy moet onthou?






Ons gedagtes kan soos ‘n pestilensie wees, soos ‘n plaag. Die meeste van ons is meesters daarin om te onthou wat ons moet vergeet en om te vergeet dit wat ons moet onthou.
            Paulus sê: “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel (hoekom?) om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:14
            Die verlede se verkeerdhede kan ‘n mens se hele lewe deurmekaar krap, jou onderdruk en met ‘n binding in jou gees laat, soos ‘n blok om jou been.
            Wat ook al in jou verlede gebeur het – ‘n onreg of misdaad wat jy gepleeg het of wat teen jou gepleeg was – dit moet mens vergeet. Ons groot Almagtige God wil jou vrymaak en genees.
            Wat mens soms terughou is die begeerte om dit te beheer wat reeds buite beheer is. Hoe meer mens daarmee sukkel, tree frustrasie in en die probleem vergroot en vervaag jou vrede.
            Ons gedagtes kan soos ‘n pestilensie wees, soos ‘n plaag. Die meeste van ons is meesters daarin om te onthou wat ons moet vergeet en om te vergeet dit wat ons moet onthou.
            Dis verstommend hoe ons die dinge wat ons seergemaak het onthou, daardie onreg en pyn, en kort voor lank is ons ‘n smartvraat. Ons dink net aan ons eie seerkry en help nie ander om van hulle seerkry te genees nie.
            Sommige glo hulle het die seerkry beleef sodat hulle ander met dieselfde seerkry kan bystaan. Dis gevaarlik om mense te beraad wat dieselfde seer as jy oorgekom het. Jou simpatie vir daardie persoon kan maklik in simpatie vir jouself verander.
            Ons bly besig en nogmaals besig want ons glo dat ons dan vergeet, maar in die stil oomblikke dan is ons keer op keer die kunstenaar wat die een balletjie na die ander in die lug opgooi, maar ons kry nie die goed gevang nie, want dit is nie die oplossing nie. Dit bly ‘n frustrerende bose kringloop.
            Die genesing wat ons nodig het wat betref seerkry in die verlede, is in die Bybel te vinde. Daar is geen ander oplossings nie.
            Paulus had ‘n bittere verlede totdat hy die punt bereik het waar hy gesê het: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel (hoekom?) om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.”
            Deur jou uit te strek na wat voor is, verdwyn die verlede uit jou lewe, want nou jaag jy na ‘n doel, vorentoe en steeds vorentoe, weg en verder weg van die verlede. Dis ook nie sommer so ‘n doel nie. Daardie doel is om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
            Om te kan vergeet is geen snelle gebeurtenis nie. Paulus sê “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
            Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.
            “Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.” Fil 3:12-14
            Paulus erken dat hy nog nie bereik het wat hy beoog nie, maar hy besef dat om die doel te behaal, moet hy ten alle koste die verlede vergeet.
            Paulus het hom so sterk toegespits op die toekoms rakende sy eie heil en die redding van andere dat hy besig was om die verlede vir seker te vergeet.      
            Hy strek hom uit en jaag daarna is ‘n toonbeeld van iemand wat doelgerig en vol ywer is dat hy beslis gaan slaag, kom wat wil.
            Paulus had ‘n veel erger verlede as wat enige van ons ooit kan hê. Hy het teen God rebelleer en was God se openlike vyand deurdat hy Christene in die tronke laat gooi en laat doodmaak het. Hy was ‘n terroris.
            Na sy redding had hy dit ook nie maklik nie. Hy kon nie doen en bereik wat hy wou nie. Hy had ‘n meningsverskil met Barnabas oor Markus, en talle Christene was agterdogtig oor hom en sy bekering.        
            Hy het ook sukses behaal as Christen, iets waarop hy trots kon wees, maar ook dit moes hy van vergeet. Hy kon nie voortbeweeg op suksesse van die verlede nie. Hy was dus vasberade om die totale verlede te vergeet om sy Hemelse doel te kon bereik.
            As jy nog worstel met dinge van die verlede terwyl jy hier lees, sê dan aan God dat jy bereid is om die verlede te vergeet en jou uit te strek na wat voor is!
            Mens moet eenvoudig vergewe en vergeet. Die ander mense wat by jou seerkry betrokke was het lank reeds vergeet en vorder nou op die pad na heiligmaking terwyl jy slagoffer speel en aan die smartspeen suig. Die lewe gaan by jou verby. Jy raak agter.
            1 Pet 5:7 sê dat ons al ons bekommernisse op Hom moet werp. Werp dus jou hele verlede op Hom en vergeet daarvan want ons durf nie die bekommernisse onthou en daarmee voortploeter nie. Werp alle bekommernisse op Hom en vergeet daarvan. Dis nou veilig in God se hande en Hy sorteer dit uit.
            Sal God dit wel kan uitsorteer. Natuurlik! Hy sê in Jer 32:27 “Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?
            Jesus sê in Matt 15:13 “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.”
            God het nie die onreg in jou lewe geplant nie, Hy het nie die misbruike, die molestering, die bedrog of wat ook al in jou lewe geplant nie. Dit is daar geplant deur ander se sonde. God het dit nie geplant nie so Hy gaan dit ontwortel, maar dan moet jy vergeet en Hom dit toelaat.
            Kyk wat sê die HERE nog: “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:40
            Wat iemand aan jou (een van God se geringste) gedoen het, het hulle aan Hom gedoen. Die kwaaddoeners is dus by God in die moeilikheid en dis vreeslik om te val in die hande van die Lewende God...
            “Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.
            “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Heb 10:30-31
            God kom die  wraak toe, nie ons nie.
            Wat ook al in jou verlede gebeur het, watter onreg ook al teen jou gepleeg is, weet dit: God gaan ingryp sodra jy Hom toelaat om dit te doen deur dit aan Hom oor te gee en daarvan te vergeet.
            As dit ‘n onreg is wat jy aan iemand anders gedoen het en jy het God se vergifnis afgesmeek, vergewe dan ook jouself. Solank jy nie jouself vergewe nie, bly jy in binding.
            Natuurlik gaan die satan dit vir jou moeilik maak want, as jy eers vry is, is jy ‘n bedreiging vir sy koninkryk want jy gaan begin getuig, reg lewe en siele gaan gered word.
            God is ‘n waarmaker van sy Woord. In 1 Joh 1:9 sê Hy: “As jy jou sondes bely, ek is getrou en regverdig om jou, jou sonde te vergewe en jou van alle ongeregtigheid te reinig.”
            God reinig jou dus ook van alle ongeregtigheid!
            Ons denke, ons gemoed,  is ons groot probleem. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander (Hoe?) deur die vernuwing van julle gemoed (Hoekom?), sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:2
            Paulus kon sy verlede vergeet omdat hy besig was om te leer hoe om elke gedagte te verwerp sodat die Heilige Gees sy lewe kon oorneem en beheer.
            Lig verdryf duisternis.
            In Fil 4:8 sê Paulus waaraan ons moet dink: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
            Bemoedig jouself, maar ook ander, hierin.
            God sal ingryp sodra ek en jy Hom toestemming gee om dit te doen en ons dan letterlik ons hande en denke tuis te hou, sodat God die mense en situasie kan uitsorteer.               In Jes 43:18-19 sê die HERE: “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.
            “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak 'n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.”
            Die HERE wil iets nuut maak in jou lewe, maar Hy kan nie terwyl jy in die verlede ronddwaal en jouself bejammer of verbitterd is nie.
            Daar is ook ‘n waarskuwing in hierdie verband: “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
            “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;
            “en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15
            Ons kan nie die heiligmaking najaag terwyl ons in die verlede leef nie. As ons in die verlede leef veragter ons in die genade van God.
            Komaan, vergeet die verlede, rig die slap hande en verlamde knieë weer op, en maak reguit paaie vir jou voete, sodat, wat kreupel is, nie uit lit uit raak, maar liewer gesond word.
            Deur in die verlede te leef, beroof jy jouself van blydskap en ryke seëninge uit die hand van die HERE. God wil ‘n nuwe ding in jou en my lewens doen.
            Is jy verbrysel deur lewensomstandighede, jou gees geknak, jou hart bedroef? Dit gaan nie soseer oor wie daarvoor verantwoordelik was nie, maar daaroor dat jy so gou moontlik uit daardie situasie moet uitkom.
            Die HERE staan gereed om jou te help. Dit wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper in jou lewe verslind het, wil die HERE vir jou teruggee. Joël 2:25
            Die HERE sê verder in Jes. 56:15 “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (waar nog?) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.”
            As jy nie die verbryselde is nie, dan is dit jou taak, jou Godgegewe opdrag, om die verbryseldes op te help. Maar jy wat verbryseld is, hoe lank wil jy nog jouself bejammer, ‘n smartvraat wees – en dit terwyl die HERE jou genadiglik nuut wil maak?
            Nie net wil die HERE jou gees laat herlewe nie, maar Hy wil ook dit wat die sprinkaan verslind het aan jou teruggee. God is ‘n Waarmaker van sy Woord. Ook het Hy nog nooit sy Woord verbreek nie.
            Komaan, die grootste verassing van jou lewe wag op jou – jou Vader wil jou terug verwelkom en ‘n feesmaal met jou geniet.
            Daar is geen kortpaaie Hemel nie. Moenie ‘n nuwe Toring van Babel vir jouself bou nie. Dit sal nie werk nie. Maak eerder jou saak reg en kom vry!
            En aan die einde sal ons soos Paulus kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.
            “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” 2 Tim 4:7-8 – Sjibbolet

Word vernuwe in julle gemoed




“Hoor die Woord van die HERE!  Want die HERE het ‘n regsaak  met die inwoners van die land, omdat daar
geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.”  Hosea: 4:1.

As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel;  die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.  2 Kor. 5:17.
          En daarby die opdrag:  Word vernuwe in julle gemoed!  Rom. 12:2.
          Maar hoe, word ‘n mens vernuwe in jou gemoed?  Hoe verander jy van inbors?
          Eenvoudig – deur jou te reinig en op te bou deur middel van die Woord, Die Bybel – wat ‘n lamp is vir jou voet!  Mediteer op die Woord, maak dit deel van jou hele menswees.
          En so doen mens dit.  Bely onder meer die volgende strofes elke dag:
          Een ding weet ek  (skryf jou naam hier in) ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus!  Fil. 3:14.
          Ek (skryf jou naam hier in) is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee.  Fil. 4:13.
          Immers, Sy Goddelike krag het my (skryf jou naam hier in)  alles geskenk wat tot die lewe en Godsvrug dien, deur die kennis  van Hom wat my geroep het deur Sy heerlikheid en deug, waardeur Hy my die grootste en kosbaarste beloftes geskenk het, sodat ek daardeur ‘n deelgenoot  kan word van die Goddelike natuur, nadat ek die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.  2Pet. 1:3-4.
          Vir my (skryf jou naam hier in) is die Koninkryk van God geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees.  Rom. 14:17.
          Ek (skryf jou naam hier in) bid tot die Vader in Jesus se naam en ek ontvang sodat my blydskap volkome kan wees.  Joh. 16:23-24.
          Ek (skryf jou naam hier in) weier om te twyfel, want dan kan ek nie eers iets van die Here ontvang as ek twyfel nie.  Jak. 1:7.
          Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na Sy grote barmhartigheid aan my (skryf jou naam hier in) die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop (hoop soos in “future fact” en nie “I wish” nie) deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ek ‘n onverganklike en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die Hemele bewaar is vir my, wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.  Pet. 1:3-5.
           As ek (skryf jou naam hier in) my sondes bely, is Hy getrou en regverdig om my die sondes te vergewe en my van alle ongeregtigheid te reinig. Joh. 1:9.
          Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat vir my (skryf jou naam hier in) troos in al my verdrukking, sodat ek diegene wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ekself deur God getroos word. 2 Kor. 3-4.
          Ek (skryf jou naam hier in) het my vyande lief; ek seën diegene wat my vervloek, ek doen goed aan diegene wat my haat, en ek bid vir diegene wat my beledig en vervolg.  Matt. 5:44.
          In al hierdie dinge is ek (skryf jou naam hier in) meer as ‘n oorwinnaar deur Hom wat my liefgehad het.  Want ek is versekerd dat geen dood of  lewe of Engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel my sal kan skei van die liefde van God wat daar in Jesus Christus, my Here is nie.  Rom. 8:37-39.
          In Hom lewe ek (skryf jou naam hier in) , beweeg ek, is ek.  Hand. 17:28.
          As ek (skryf jou naam hier in) vir hierdie berg (probleme) sê: Hef jou op en werp jou in die see — en nie in my hart twyfel nie, maar glo dat wat ek sê sal gebeur – sal ek verkry net wat ek sê.  Mark. 11:23.
          As ek (skryf jou naam hier in) op die Here wag, kry ek nuwe krag;  ek vaar op met vleuels soos die arende;  ek hardloop en word nie moeg nie, ek wandel en word nie mat nie.  Jes. 40:31.
          Ek (skryf jou naam hier in) werp my sorg op die Here, en Hy sal my onderhou;  Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.  Ps. 55:23.
          Ek (skryf jou naam hier in) het die Here gesoek, en Hy het my geantwoord en uit al my vrees gered.  Ps. 34:5.
          Wanneer ek (skryf jou naam hier in) bid, vergeef ek as ek iets teen iemand het.  Mark. 11:25.
          Vrede laat Ek vir jou (skryf jou naam hier in) na, My vrede gee Ek aan jou.  Laat jou hart nie ontsteld word en bang wees nie.  Joh. 14:27.
          Die dinge wat by die mens onmoontlik is, is by God moontlik.  Luk. 18:27.
          Gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.  Ps. 51:12.
          Ek (skryf jou naam hier in) gaan na Hom toe wanneer ek vermoeid en belas is, en Hy sal vir my rus gee.  Matt. 11:28.
          Ek (skryf jou naam hier in) vertrou op die Here met my hele hart en steun nie op my eie insig nie.
          Hy het gekom dat ek (skryf jou naam hier in) lewe en oorvloed kan hê.  Spr. 3:5;  Joh. 10:10.
          Ek (skryf jou naam hier in) bely my misdade teenoor ander en bid vir ander, sodat ek gesond kan word.  Die vurige gebed van die regverdige het groot krag.  Jak. 5:16.
          As God vir my (skryf jou naam hier in) is, wie kan teen my wees.  Rom. 8:31.
          Die Koninkryk van God is binne-in my (skryf jou naam hier in) Luk. 17:21.
          God het my (skryf jou naam hier in) nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.  2 Tim. 1:7.
          God sal my (skryf jou naam hier in) lei deur Sy raad en my daarna in heerlikheid opneem.  Ps. 73:24.
          Ek (skryf jou naam hier in) neem die volle wapenrusting van God op, sodat ek weerstand kan bied in die dag van onheil, nadat ek alles volbring het, staande kan bly.  Efes. 6:13.
          God is vir my (skryf jou naam hier in) ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.  Ps. 46:2.
          Ek (skryf jou naam hier in) gee ag op die Woord en sal die goeie vind, en omdat ek op die Here vertrou, is ek gelukkig.  Spr. 16:20.
          En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ek (skryf jou naam hier in) bid of dink, volgens die krag wat in my werk.  Efes. 3:20.
          Ek (skryf jou naam hier in) bid en vir my sal gegee word, ek soek en ek sal vind, ek klop en vir my sal oopgemaak word.  Matt. 7:7.
          Wees maar net stil tot God, my siel, want van Hom is my (skryf jou naam hier in) se verwagting.  Ps. 62:6.
          Ek (skryf jou naam hier in) is sterk en vol moed, nie bevrees of verskrik nie, want die Here my God is met my, oral waar ek heengaan.  Jos. 1:9.
          En ten slotte:  Ek (skryf jou naam hier in) dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.  Kyk, God gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit, sal ek dit nie merk nie?  Kyk, God maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.  Jes. 43: 19-19. – Sjibbolet

‘n Soldaat in aktiewe diens




In 2 Tim 2:4 lees ons soos volg: "'n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie." (Lees asb 2 Tim 2:1-13 ter ondersteuning van die uitgewysde Skrifgedeelte.)

Dit is nie net maanskyn en rose om 'n Christen te wees nie. Om 'n Christen te wees is nie speletjies nie! Dit is regtig 'n stryd. Dit verg moed en deursettingsvermoë. Timoteus se opdrag word deur Paulus vergelyk met die werk van 'n soldaat in aktiewe diens. Vir Paulus is dit belangrik dat Christene daarvan bewus moet wees en bewus moet bly dat hulle almal in 'n stryd betrokke is. Christene moet bereid wees om die ontberinge te verduur om einde ten laaste die oorwinning te behaal. Persoonlike opofferings moet gemaak word.

Verdrukking sal ook ervaar word. Die soldaat sal dus alles in sy vermoë doen om sy bevelvoerder tevrede te stel. Die Christen se Bevelvoerder is Jesus Christus. Die Christen moet bereid wees om sekere dinge prys te gee ter wille van Jesus Christus, die Algehele Bevelvoerder. Om in God se span te wees moet die Christen die reëls van die span gehoorsaam. Die prys kan slegs gewen word as die reëls nagekom is.

'n Christen kan nooit passief wees nie. 'n Christen moet 'n aktiewe medestryder en deelnemer wees onderweg na die hemel. 'n Soldaat in aktiewe diens leef met 'n doel voor oë. Jesus Christus is die doel en dryfkrag in die Christen se lewe. Die Christen kan ter wille van Jesus Christus met vreugde 'n kruis opneem. Die evangelie van Jesus Christus moet regoor die wêreld verkondig word en Hy sal die nodige insig aan Sy kinders verskaf.

GEBED: Here, onse God, maak asseblief van ons getroue soldate in aktiewe diens vir U Seun, Jesus Christus. Sonder U hulp kan ons as U kinders nie staande bly nie. Dankie in Jesus se wondelike Naam. Amen. – Calin Lamont

Bemoedig mekaar – Dis Liefde sonder weerga




Bemoediging word deur Paulus beklemtoon (1 Thes 2:11-12) as een van die pilare waarop die Evangelie gebou is. Dis die hoeksteen van die openbaring van Christelike liefde een teenoor ‘n ander (1 Thes 4:18; 5:11,14).
            Die woord bemoedig kom talryk in die Nuwe Testament voor, en beslis nie sonder besondere goeie rede nie.
            Die Griekse woord Parakaleo beteken om saam langs iemand te stap omdat daardie iemand vreesagtig of swak is, probleme het, onder groot druk gebuk gaan. neerslagtig is, om so iemand te bemoedig.
            Stap ‘n entjie saam met hom of haar. Dis jou roeping!
            Dit beteken ook om iemand te ondersteun met die benodigde hulp. Om iemand wat sy werk verloor het te ondersteun met ‘n houer kruideniersware, los nie die probleem op die. Die benodigde hulp is veel groter.
            Gal 6:2 “Dra mekaar se laste (hoekom?) en vervul so die wet(liefde) van Christus.”
            Jak 5:16 “Bid vir mekaar (hoekom?) sodat julle gesond kan word. As jy ‘n misdryf teenoor iemand gepleeg het, bely dit en bid dan vir mekaar.
            Ons leef in ‘n geestelik vyandige wêreld. Ons het nodig om mekaar op deurlopende grondslag te bemoedig en te ondersteun. Moenie skinder nie, gaan help.
            Wanneer ons iemand bemoedig dan skenk ons God se waarheid en hoop aan ander.
            Dis ons plig, ons opdrag, om mekaar te bemoedig.
            Daar is mense wat van tyd tot tyd wil weet, maar as God dan ‘n God van liefde is, waarom gebeur daar sulke treurige goed op die aarde? Feit is, dat ons God se ambassadeurs op aarde is. Dis ons wat die liefde van God so sterk moet versprei dat die treurmares nie sal plaasvind nie.
            As gereddes is dit ons roeping om Christus se onvoltooide werk op aarde te volbring. Dit moet ons doen deur die Evangelie uit te dra, deur Christus se liefde en erbarming uit te dra. Om te bemoedig, om waarheid en hoop te verkondig en toe te pas.
            Die opdrag is ook: Bid vir mekaar. Ons bid hopeloos te min. Ons besef nie dat ons totale behoud van gebed afhang nie. Om vir mekaar te bid en mekaar te bemoedig is een van die groot kragte wat aan die werk moet wees binne die Christen-gemeenskap.
            Omdat die mens verskeie soorte druk moet trotseer, neem bemoediging ook verskeie vorme aan, soos bv. fisiese of geldelike hulp, vermaning, aansporing, bevestiging, lofprysinge, troos, ens. Dit bevestig aan die lydendes hulle waarde en potensiaal, ja, dat hulle meer werd is as mossies Matt 10:31.
            So bemoedig Jesus vir Petrus toe Hy aan Petrus sê dat Petrus ‘n rots is waarop Hy sy gemeente sal bou.
            Het jy al iemand bemoedig met Efes 2:10 “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, (hoekom?) sodat ons daarin kan wandel.”
            So moet ouers ook hul kinders bemoedig, daar vanaf hul eerste tree.
            Terloops: Het jy al saam met jou predikant gaan bid omdat jy vir hom omgee? Wanneer laas het jy en jou gesin saam gebid?
            Paulus was ‘n meester op die gebied van bemoediging soos bv in 1 Thes 1:2-8 “Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader, omdat ons weet van julle verkiesing, broeders wat deur God bemin word.
             “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het.
            “En julle het navolgers van ons geword en van die HERE deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees,  sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedónië en Acháje.
            “Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie.”
            As iemand goed doen, bemoedig hulle. As iemand onder druk verkeer, bemoedig hulle. Bemoediging moet ‘n deurlopende aksie wees.
            Mense vra mekaar hoe dit gaan, maar stel nie werklik belang in die antwoord nie. Ons moet ten alle koste belangstel. As daar goeie nuus is, dan moet ons die HERE loof.
            As dit nie sulke goeie nuus is nie, dalk probleme en sorge is, dan moet ons betrokke raak (hoekom?), want “die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal 5:22
            1 Kor 12:20-27 lees: “Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.
            “En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.
            “Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie;
            “God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, (hoekom?)  sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.
            “En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
            “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.”
            Bemoedig, vertroos diegene wat as gevolg van een of ander gebeurtenis neergevel is.
            “Bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” 1 Thes 5:14.
            Ons sal geliefdes langs die lewenspad moet groet (tot ‘n latere vir sekere weersiens), ons kan finansieel seerkry, ons kan van tyd tot tyd mislukking op die lyf loop, ons kan gesondheidsprobleme ondervind. folterende familieprobleme beleef, veral wanneer sommige goed mos gelyktydig gebeur.
            Ons kan ook gebroke harte hê, maar Jesus heel die gebroke harte. Bemoedig iemand het hierdie woorde:
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (maar ook) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
            Lees in 2 Tim 4 hoe Paulus vir Timotheus bemoedig.
            Soms word ‘n gelowige deur ‘n misdaad oorval. Wat dit ook al mag wees, staan hom en haar by deur dik en dun. Moenie oordeel nie, help, bemoedig, want”
            “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.
            “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.
            “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” Gal 6:1-3
            En as jy self ‘n gevangene is of ‘n pasiënt in een of ander inrigting, bemoedig die ander rondom jou. “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.” Spreuke 11:25
            Bemoedig iemand ook met die volgende: Heb 12:11-13 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.”
            Moedig die gebrokenes aan om terug te kom in die wedloop, om die wedloop te voltooi. Elkeen kan in die naam van Jesus Christus oorwin.
            Is jy genoegsaam betrokke by ander Christene sodat hulle kan weet wanneer jy in ‘n lewensslaggat getrap het?
            Dis wonderlik om bemoedig te word, maar dis ‘n groter wonder om iemand anders te bemoedig. Dit is ‘n kragtige bediening wat elkeen van ons geroep is om te lewer.
            Om effektief in hierdie roeping te kan optree, moet mens die Woord goed ken. Dis nie ons persoonlikhede, ons knaphandigheid, ons intelligensie wat die punte aanteken nie, maar die Woord van die HERE, want die Woord is lewendig!
            “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.
            “En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik. Rom 15:4-6
            Kyk hoe beskryf Jesaja die uitwerking wat die HERE op Sy kinders het: “Die Here HERE het My 'n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.” Jes 50:4.
            Ja, soms is dit nodig om iemand met die Skrifte te bemoedig. Soms parafraseer ons dit in ons eie woorde. Soms is dit nodig om te vertel hoe ‘n betrokke Skrifgedeelte jou eie lewe verander het.
            “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons, ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” Hebr 10:23-25
            Hoop in die Bybel beteken nie wens nie, maar toekoms-feit.
            Ons bemoedig egter nie net mede-gelowiges nie, maar ook die ongereddes. Liefde is die sleutel tot mense se harte en lewens.        
            Bemoediging gaan nie sonder gebed gepaard nie. Die opdrag is om vir mekaar te bid, vir die gereddes en die ongereddes en op die Heilige Gees te vertrou rakende die soort bemoediging wat ons moet verleen.
            “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
            “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” Gal 5:9-10
            Soos wat mens vir die verdruktes bid, kom lê die Heilige Gees dit op ‘n mens se hart oor hoe mens moet optree. Dalk deur ‘n persoonlike besoek, ‘n telefoonoproep, ‘n e-pos. Dalk ‘n bemoedigende woord, dalk ‘n skenking van die een of ander aard.
            As mens ‘n goeie luisteraar is, kry mens vele geleenthede om te bemoedig, ook oor watter soort bemoediging nodig is. Dit maak ook dat die ontvanger meer ontvanklik is vir jou bemoediging. Soos met elke bekwaamheid in die lewe oefen mens jou in bemoediging in.
            Moenie aan ‘n verdrukte sê hy moet na jou predikant toe gaan, of jy sal die predikant na hom of haar toe bring nie, nee, jy moet self die bemoediging hanteer.
            Bemoedig elke dag iemand. Dis jou roeping! – Sjibbolet

Die klein jakkalsies verniel die wingerd...




Die klein jakkalsies verniel die wingerd (Hoogl 2:15): Skinderstories waaraan ons, onsself so maklik skuldig maak. “Wie ‘n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ‘n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar.” Spr 17:9
            “Die verstandelose verag sy naaste, maar ‘n verstandige man bly stil.” Spr 11:12
            Iemand het gestruikel, ‘n ander het geval. En wat staan ons dan te doen wat nog staande is, voordat ons ook straks struikel of dalk val?
            “As iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” Gal. 6:1
            Doen ons dit, of kan ons nie wag om die struikelende en die vallende se saak te beskinder nie?
            Paulus bemoedig ons om die regte ding te doen: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
            Paulus sê ook: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” Gal 6:9-10
            Die HERE sê: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
            Die HERE sê ook dat hy die een wat gestruikel het of geval het, se sondes werp in die dieptes van die see. Miga 7:19
            Die HERE sê ook: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Ps 103:12
·       Die afstand tussen noord en suid is net-net meer as 20 000km, maar die afstand tussen oos en wes, is onberekenbaar. As twee vuurpyle langs mekaar afgeskiet word, die een oos en die ander wes sal hulle nooit by mekaar uitkom nie.

            As die HERE dan ons sonde wat ons bely en oor jammer is, so ver van ons af verwyder, hoe durf ander Christene dit by herhaling ophaal en teen ons inbring? As jy dit doen, dan sondig jy.
            As jy nie ‘n gevallene ophelp nie, dan sondig jy. As jy sy struikeling of gevallene beskinder dan doen jy ‘n nog erger sonde.
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (en waar nog?) en by die verbryselde en nederige van gees, (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
            Vraag is: Waar woon of beweeg jy?
            As jy in geselskap beland waar iemand beskinder word, neem standpunt in en gebruik hierdie Skrifte om die skindertonge te berispe. Een of ander tyd sal die nuus van jou tussenbeitreding die gevallene bereik en julle vriendskap met hom of haar versterk.
            Maar as jy saam skinder het jy die toets gedop! Dan het jy nie Bybelse beginsels voorop gestel nie.
            Maar wees reguit, altyd. “‘n Man wat sy naaste vlei, sprei ‘n net uit voor sy voetstappe.” Spr 29:5
            “Die regverdige laat sy pad vir hom wys deur ‘n vriend; die goddeloses verdwaal op die pad wat hulle self kies.” Spr 12:26
            “Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.” Spr 27:6
            “Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered.” Spr 11:9
            Vriende en ander wat jou op hierdie wyse leer ken, sal jou met eerbied behandel. Hulle sal graag jou raad wil vra, graag op jou vertrou. Dit beteken egter dat ons na ander se raad ook sal luister.
            Christenskap is nie soseer om vir almal te vertel jy is ‘n Christen nie, maar om vir ander te wys jy is ‘n Christen, ‘n kind van GOD.
            In Israel en in ander lande durf sendelinge dit nie waag om die Evangelie te verkondig nie. Dit word verbied. Maar die sendelinge verkondig die Woord deur hul lewenswandel. Dit geld ook vir ons. – Sjibbolet

Geen afstand meer Nie . . .





Efes. 2:13  Maar nou in Christus Jesus, het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus, want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak het en die middelmuur van skeiding afgebreek het ... 18)  want deur Hom het ons albei toegang deur een Gees tot die Vader.

Rom. 10:8  Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.  Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig.

Heb. 10:19  Terwyl ons dan broeders, vrymoedigheid het om in die Heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus.

Die Bybel onthul die feit dat daar geen afstand meer tussen ons en God die Vader is nie.  Golgota het die afstand wat daar was vir eens en vir altyd uitgeskakel.
Vanuit God se oogpunt gesien is ons in totaliteit met Hom versoen (2 Kor. 5:18).  Deur geloof het ons vrye toegang tot die teenwoordigheid van God.
Die enigste afstand wat nog steeds bestaan, is te vinde in die gedagtes van daardie Christene wat nog nie vernuwe is in hulle gemoed nie (Rom. 12:2).
Golgota was God se Meesterstuk.  Niemand het die voorreg gehad om Jesus dood te maak nie.  Hy het self besluit om te sterf en sy Gees in die hand van die Vader oorgegee.  Maar Hy sterwe sodat almal wat ver was, vanaf daardie oomblik naby kon kom.
Die voorhangsel van die tempel skeur.  Nie een klip bly langer op die ander staan nie.  Die aarde skud.  Daar kom duisternis.  Die grafte gaan oop.  ‘n Nuwe bedeling word ingelui.
Nie langer hoef mense diere te offer nie.  Die rol van die aardse hoë priester verdwyn.  Christus self tree nou vir ons in.  Ons hoef nie langer te wag tot die Sabbat om met God in kontak te kom nie.
Ons kan nou enige oomblik van die dag of nag deur die geloof en die Heilige Gees met God in kontak wees en vir solank as wat ons dit per keer nodig af, en selfs permanent.
Die afstand wat daar was, is uit die weggeruim. Ons kan Jesus se soenoffer aanneem en weer met God versoen raak. Ons word vernuwe in ons gemoed, ons gedagtes, ons inbors.
Niemand het enige gronde om dit wat op Golgota gebeur het, as onwaar of nietig te verklaar nie. Op Golgota is ‘n volmaakte werk vir ons sondes volbring.
Die onderhouding van die Wet word met ‘n nuwe Gebod, die van Liefde, vervang.  Liefde pleeg nie oortredings nie en Liefde vergewe oortredings, 70 maal sewe keer.
Ons aanvaar nie net Sy versoeningsdood nie, maar ons sterwe ook saam met Hom aan die Kruis van Golgota.  Ons doen nie meer sonde nie (1 Kor. 15:34;  Rom. 6:11).
Dit is ongelukkig so dat ‘n groot deel van die Christendom vandag nie hulle geloof op die krag van die Kruis baseer nie, maar op die onderhouding van die Wet en deur eie pogings.  Daar is ‘n baie groot verskil tussen ‘n mens se eie pogings, jou resolusies,  en die lewe in en deur die geloof.
Om ‘n ware Gelowige te wees, is om te lewe deur middel van die inwonende krag van Christus.  Dit is ‘n lewe van volle vertroue op God, van aangesig tot aangesig met die Vader (2 Kor. 4:4-6).
Om voort te gaan om getuienis op te stapel as bewys dat jy nie vrye toegang tot God se Genadetroon het nie, maak van jou ‘n koue gevoellose naak gestroopte religieuse roetine – sonder ware vrede en sonder blydskap.
Alleen in die teenwoordigheid van God die Vader belewe mens die volheid van totale blydskap (Ps. 16:11).  En boonop word jy genooi om vandag deur middel van Sy bloed daardie volheid te smaak.  Alleen die bloed van Lam kan jou waarlik vrymaak!
Onthou, dit wat op die Kruis gebeur het, kan mense maar betwis tot in lengte van dae, maar onkunde oor die volle boodskap en krag van die Kruis en die bloed van die Lam, beroof menige Christen vandag van die voorregte wat vir hom en haar bewerk is deur die Liefde van God die Vader.
Daarom staan daar geskrywe:  My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. – Sjibbolet