Wys tans plasings met die etiket bemoediging. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket bemoediging. Wys alle plasings

Dinsdag 29 Januarie 2019

Seen mekaar en hoekom?



Die gebed wat ons eintlk elke dag behoort te bid (1 Kron 4:9-10) en moet beoefen deur ook mekaar te seën.

Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort U seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder U beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.

            Hy vra basies vier dinge van die HERE:

“Stort U seën oor my uit” – Jabes vra dat die HERE hom sommer in oorvloed al seën. Sy seën oor hom sal uitstort.

Let egter op: Jabes wil geseën wees sodat hy ook vir ander kan seën. Dit was die gebruik daardie tyd. Jy vra iemand se seën sodat jy ook ander kan seën.  Dit behoort ook ons gereelde gebruik te wes.

Wanneer laas, of het jy al ooit, jou vrou en kinders geseën? Deur ander te seën, sëen ons Yaweh.

            Natuurlik kan ons na die HERE toe gaan met ons behoeftes en begeertes, maar hier is ‘n verskuiwing van fokus.

As ons saam met Jabes uitroep “HERE, seën my, seën my ryklik!” dan moet dit nie oor ons gaan nie, maar oor God se Koninkryk – dat ons vir ander tot seën kan wees en sodat hy, JAWEH, meer eer kan ontvang.

Dan maak dit sin dat Jabes vra dat die HERE sy grondgebied sal vergroot. Dit gaan nie hier oor ‘n groter plaas sodat hy meer kan produseer nie.

Groter grondgebied beteken meer mense wat sy pad kruis. Hy vra dat die HERE sy beperkings sal wegvat sodat hy vir nog meer en meer mense tot seën kan wees!

            Dit moet ook ons grootste wens wees. Dat die HERE ons invloedsfeer sal vergroot en alles wat in ons pad staan sal wegvat, sodat ons, ons volle potensiaal as sy getuies kan bereik en vir soveel as moontlik mense Sy seën kan uitdeel.

            Jabes vra dan vervolgens dat die HERE sy Hand oor hom sal hou. Dit kan tog nie anders nie dat Jabes wanneer hy vra dat die HERE sy beperkings sal wegvat en sy grense sal verbreed dat hy nodig het dat die HERE by hom sal wees en hom sal beskerm.

            Dit is waarvoor hy hier vra: dat die HERE hom, daar waar hy tot seën vir meer mense wil wees, sal beskerm.

            Regdeur die Bybel kry ons voorbeelde van hoe die HERE se hand oor ons is deur Sy krag, bv. “Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas.” Ps 139:8-10

            “Hand” in Hebreeus beteken ook om beskerm te word soos deur ‘n rivier se oewer... soos die oewer altyd daar is, maak nie saak waar die rivier vloei nie, so is die HERE altyd daar!

            “Laastens vra Jabes dan spesifiek dat die HERE die onheil van hom af sal weerhou. Jabes wil nie pyn veroorsaak nie, wil nie smart beleef nie. Dit gaan hier oor die geloofwaardigheid van sy getuienis.

            Ons weet al te goed wat gebeur in ons eie binneste as iemand een ding sê, maar sy dade sy woorde verraai, selfs binne die kerk.

Ons selfsug en soeke na eie eer beskadig verhoudings.

Jabes wil verhoed dat dit gebeur. Hy wil nie dat sy naam, of sy sonde of enige iets sy getuienis diskwalifiseer nie. Daar waar hy tot seën vir meer mense wil wees wil hy nie dat enigiets wat hy doen sy impak vir God se Koninkryk verongeluk nie.

Paulus stel ‘n skitterende voobeeld: “Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.” 1 Kor 9:26-27

            Die HERE roep ons, gebroke en sondige mense, om sy Liggaam te wees en die volheid van Hom aan die wêreld bekend te maak . Efes 1:23. As ons maar net dit kan WEES en ophou voorgee en probeer om godsdienstiger as die volgende ou te wees… dan kan ons woorde EN dade van God se liefde en genade verkondig – ten spyte van ons foute!

            Natuurlik verhoor die HERE Jabes se gebed. Die HERE belowe tog dat Hy dit sal doen en Hy is en bly ‘n Waarmaker van sy Woord. Maar weereens is Jabes se gebed nie ‘n gelukspreuk om die HERE se seën uit Hom uit te dwing nie.

            Joh 15:7 en 16 sê ook dat die HERE vir ons sal gee wat ons Hom vra, maar dit is opvallend om te sien wanneer dit is wat Hy dit vir ons sal gee.  As die HERE se woorde in my bly en ek in Hom bly gaan my lysie van goed wat ek wil hê in elk geval baie anders lyk.  Dat ek dan juis vir dinge gaan vra wat my gaan help om ‘n groter impak te maak vir die HERE, vir sy Koninkryk, wat my gaan help om beter vrugte te kan dra en nie vir dinge wat net oor my en my behoeftes gaan nie.

            Dit is wat Jabes ons leer.  Nie ‘n formule om God te dwing om ons te seën nie, maar ‘n ingesteldheid, ‘n begeerte, ‘n opregtheid van die hart, om ‘n instrument in God se hand te wees. Dat ware seën van die HERE juis daarin lê om deur die HERE gebruik te word, vir Sy doeleindes!

            Ons moet mekaar ook gereeld seën en nooit vergeet om ons kinders te seën nie.

Sondag 20 Januarie 2019

Dink mooi voor jy weer kla....


 Is dit wel met jou siel?

Horatio G. Spafford (1828-1888) was ‘n suksesvolle regsman en ryk sakeman in Chicago. Hy had ‘n aantreklike vrou en vyf kinders. Die seuntjie is vroeg weg na siekte. Hy en sy vrou was Wedergebore en getroue Skrifstudente. Hulle het die bekende Dwight L Moody se bediening ondersteun.



Spafford was ‘n sterk eiendomsmagnaat wat al sy beleggings in ‘n reuse brand verloor het. Sy sakebelange het deur die HERE se goedheid en guns egter weer begin floreer.

Hier onder is maar een van sy talle geboue wat letterlik tot op die grond afgebrand het.

 Op Nov 21, 1873, het die Franse passasierskip “Ville du Havre”, die Atlantiese osean vanaf Amerika na Europe oorgesteek. Daar was 313 passasiers aanoord. Onder hulle was mev Anna Spafford en die gesin se vier dogtertjies. Die kinders is kort voor die reis Wedergebore.

Mnr Spafford sou saam reis, maar dringende sakebelange het hom tuis gehou. Hy sou ‘n paar dae later met ‘n ander skip na Engeland reis. Die Spaffords sou vakansie in Engeland hou en dienste van hul vriend Eerw DL Moody bywoon.



Die vierdie dag op die reis, teen sowat 2vm was daar ‘n ontsettende skeepsramp toe die Ville du Harve en die Skotse skip Loch Earn gebots het. Anna het met haar vier dogtertjies na die dek gehaas en saam met Annie, Margaret- Lee, Bessie en Tanetta gekniel en gebid.

            Anna het gevra dat die HERE hulle almal moet bewaar as dit Sy wil was, so nie moet die HERE hulle almal voorberei op die waterdood wat op hulle sou wag.











Die Ville du Harve het 12min later onder die see verdwyn. Altesame 226 passasiers, ook die vier dogtertjies, het gesterf. ‘n Matroos op ‘n klein bootjie het die volgende oggend daar verby gevaar en Anna op ‘n wrakstuk  sien ronddobber. Sy het geleef en die matroos het haar in sy bootjie gehelp. Nege dae later het ‘n groot skip hulle aan boord geneem na Cardiff in Wallis.

  Anna het ‘n telegram aan haar man gestuur: “Gered, alleen, wat sal ek doen?” Spafford het later die telegram laat raam en op sy lessenaar laat staan.

            Dit blyk dat Spafford wel verneem het van die skeepsramp, maar dat hy eers nege dae later met ‘n telegram van sy vrou af, besef het sy leef nog.

            ‘n Ander oorlewende van die ramp, Pastoor Weiss, het vertel  Anna het later gesê: “God het my vier dogters gegee. Nou is hule van my af weggeneem. Eendag sal ek verstaan waarom.”

Spafford het dadelik met ‘n volgende skip na sy vrou vertrek. Op die vierdie dag het die kaptein hom laat roep en meegedeel dat hulle nou op die plek is waar sy vier dogtertjies saam met die skip ondergegaan het.

Spafford is terug na sy kajuit en het die lied: “Dit is wel met my siel,” geskryf. Hoe Horatio dit reggekry het, is verbysterend. Inderdaad: “Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” Fil 4:7

Toe Eerw Moody die nuus kry het hy ‘n diens wat hy gehou het verlaat en onmiddellik na Liverpool gehaas. Toe hy aan die Spaffords vra hoe dit gaan, het hulle geantwoord: “Dit is wel, die wil van God geskied.”

            Na die seuntjie en vier dogtertjies had Anna nog drie kinders gebaar. Een van hulle is op vierjarige ouderdom na longontsteking ook Huistoe.

            Die Spaffords het in Augustus 1881 na Jerusalem verhuis. Horatio is kort daarna ook Huis toe. Sy graf is in Jerusalem.

            Anna is in 1923 met Horatio en hul kinders verenig.

            Kyk hoe baie mense moes sterf sodat ons die pragtige lied “Dit is wel met my siel” kon sing. Vraag is: Is dit wel met jou siel? Sou jy hierdie pad kon loop en kon sê: “Dit is wel met my siel?”

            Dink mooi voordat jy weer oor nietighede kla. Nietighede het al lewens, huishoudings en gemeentes vernietig. Sing eerder Horatio se oorwinningslied…

Lees ook Fil 3:7-11

Saterdag 15 Desember 2018

Hy wou nie terugkom aarde toe nie

Die Hemel


Ons moenie treur oor hulle wat voor ons uitgaan nie. Ons moet eintlik jaloers wees dat dit nie ons beurt was nie.

            Ons moet straks ook ‘n ander woord vind vir begrafnis. Niemand wat weg is, is by hul eie begrafnisse nie. Kom ons maak dit ‘n fees. ‘n Wit kis, blommeprag, musiek, lof en aanbiddingsliedere, blydskap, ‘n dag om te onthou.

            Die Heilslëer se orkes staan altyd gereed langs die graf en sodra die kis begin sak, masjeer hulle tot buite die hekke van die begraafplaas terwyl hulle speel: “Sweeping through the gates of the New Jerusalem.”

M’Lisa Goff, die vrou van Pastoor Kevin Goff van Die Rots Gemeente in Arizona, VSA, vertel aan Daystar32…

Sy en haar man was voor in hulle motor, die drie seuns agter. By ‘n kruising het ‘n reuse vragmotor volgelaai met motors, deur die rooilig gery en teen hulle motor gebots.

Sy is na een hospitaal geneem en die seuns en hulle pa na ‘n ander hospitaal.

Die agtjarige Brandon is dadelik aan masjiene gekoppel om hom aan die lewe te hou.

M’Lisa sê sy kon nie by wees toe die masjiene afgeskakel is nie. Sy kon nie van haar seun afskeid neem nie. Sy is in ambulans na Brandon se begrafnis geneem. Sy moes lê in die kerk.

Sy het die HERE vertel hoe seer haar hart is dat sy nie eers by haar seun kon kom toe hy kunsmatig aan die lewe gehou was nie.

“In my huis kon ek nie die hoofslaapkamer op die boonste verdieping bereik nie. Ek moes nege maande in ‘n hospitaalbed in die sitkamer deurbring terwyl ek kort-kort hospitaal toe geneem is vir vir nog en nog operasies.” Sy kan nie onthou hoeveel operasies sy gehad het nie. Al die bene in haar gesig was gebreek, as ook nek- en rugwerwels.

Toe, in ‘n “droom” hoor sy ‘n geklop aan die agterdeur, sy maak oop en daar staan Brandon. “O Brandon my kind jy is terug.”

Brandon: “Nee, ek kan net ‘n kort besoek aan mamma bring en dan moet ek teruggaan.”

M’Lisa: “Ek gee nie om nie, kom hier. Ek het hom opgetel en na die sitbank geneem. Ek het hom vertel van al die pyn en operasies en hoe ek hom mis en vir hom gesê ek wil nie meer hier wees nie.”

Brandon het geantwoord: “Mamma, nog net ‘n kort rukkie dan is jy by my in die Hemel.”

“Ek wou weet of hy gelukkig is? Daar het skielik ‘n gloed rondom sy gesig verskyn toe hy antwoord: “Mamma ek is so gelukkig.”

M’Ilsa: “Ek het nog noooit so ‘n glorieryke glimlag van hom beleef nie.”

“Hy kon nie eers verduidelik hoe wonderlik dit is nie. Ek het my kind nog nooit so gelukkig gesien nie. Ek eh het dadelik vrede gesmaak. Ek het besef hy sal nooit hier op aarde so gelukkig kan wees nie. Ek het hom afgegee. Hy was in die hande van Jesus en hy sal nooit na sy mamma terugkeer nie. Ek het besef dit gaan goed met hom en ek het hom die Hemel gegun.

“Toe die son opkom het hy vir my gesê: “Die son kom op ek sal moet teruggan.”

“Ek het hom na die agterdeur geneem en totsiens gesê en die oomblik toe ek die deur toemaak, was ek wakker.

“Ek het dadelik besef dit kon nie ‘m droom gewees het nie. Ek het hom fisies gesoen, my vingers deur sy hare getrek, hom vasgedruk. Ek is oortuig dit was nie ‘n droom nie.”

M’Lisa se hele verhaal is hier beskikbaar: http://www.daystar.com/ondemand/video/?video=5850384770001

            Ons gebruik die verhaal om diegene wie se kind of kinders vir hulle in die Hemel wag, te bemoedig.

Donderdag 13 Desember 2018

Maak gereed vir 2019

Pak jou sak....


Ons maak elke jaar so. Pak op en kry ’n voorspromng op 2019. Maak vandag, ‘n dag in jou lewe vir nuwe dinge – Dinge van hoop en liefde en oorwinning in Jesus se Naam.

Jou verlede met sy teleurstellings, ontnugtering en hartseer moet ook nou plekmaak vir lente in jou lewe.

Sit al jou ou bagasie in ‘n sak, in ‘n groot sak, pak daai sak self, noem elke ding by sy naam wanneer jy dit insit, moenie iets vergeet nie en sit dit vandag, sommer nou, by Jesus se voete… En sê vir HOM,”Ek is nou klaar met my verlede, my hartseer, my tekortkominge, my foute, my teleurstellings…

Daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie.

Dankie HERE dat U vir my voorspoed beplan en ek vat dit, en ek dank U daarvoor. En as ek enige tyd weer terugkyk na my ou sak, herinner my asseblief dat ek klaar is daarmee.”

“En ek het ‘n nuwe Hemel en nuwe aarde gesien... die heilige stad, die Nuwe Jerusalem... en HY (YAWEH) sal by hulle (ons) woon... En God sal al die trane van hulle (ons) oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.”

“Kyk, Ek maak alles nuut.”

“Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy sal oorwin, sal alles beërwe; en ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun/dogter wees.”

En God wil vandag vir jou ‘n God wees en jy sal Sy kind wees. AMEN.

Maak vandag, die eerste dag van die res van jou lewe, pak daai sak en moenie weer terugkyk nie, ons weet almal wat het met Lot se vrou gebeur. Nie een van ons wil ‘n soutpilaar word nie. Ons is Koningskinders!

Lees Openb 21:1-7 en skep moed. Strek jou uit na wat voor is. Daag die toekoms uit met nuwe moed, nuwe visie, nuwe ywer, want, die toekoms, ja, die Ewigheid, behoort aan jou en my! Jy waag dit nooit weer om die HERE se hand te los nie. – Wekroep


Maandag 24 September 2018

Bewandel weer die Goeie Weg

‘Vra na die Ou Paaie...’

“So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar

tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel.

Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” Jer 6:16


Daar is heelwat lesse in die Ou Testament vir Christene: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.” Rom 15:4

            Asook: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” 1 Kor 10:11

            Een so ‘n les speel af in die tyd van Jeremia, ‘n tyd van sosiale onrus. Die Israelse volke was besig om in verskeie rigtings te trek.

            Die HERE wou hulle rus vir hulle siele bied: “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” Jer 6:16

            Hulle was soos reisigers wat die pad byster geraak het en die HERE het hulle teruggeroep na die regte pad: “... vra na die ou paaie, waar is tog die goeie weg.” Daar is vele paaie wat mens kan volg, maar vra na die ou paaie.

            Die ou pad is gewoonlik die beste pad. Dis beslis die geval hier. Nie alle paaie is die Goeie Weg nie. In hierdie geval het die ou pad gelei terug na die Wet van Moses. Jer 7:22-24

            Jesus  Christus pleit weer vandag: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” Luk 13-24

            Die poort is nou. Daar is net een pad na die Vader:  “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Joh 14:6

            Jesus sê ook: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die Hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” Hand 4:12

            Daar is ook ‘n breë poort: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind. Matt 7:13-14

            Die breë pad egter lei na die verderf, na selfvernietiging.

            Jesus Christus sê egter die nou poort is die een om deur te gaan na die Ewige Lewe: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;  want my juk is sag en my las is lig.” Matt 11:28-30

            Die woorde van Jesus Christus is relatief “oud” gemeet aan vandag se standaarde.

Wat Israel destyds oorgekom het, is presies waarin ons, ons vandag in bevind, aldus Jer 18:15 “Nogtans het my volk My vergeet, hulle laat rook opgaan vir die nietige afgode; dié het hulle laat struikel op al hul weë, op die ou paaie, om te loop op sypaaie, 'n ongemaakte pad; (en erger nog) Om hulle  land te maak 'n voorwerp van verbasing, van bespotting vir ewig. Elkeen wat daar verbytrek, sal hom verbaas en sy hoof skud.”

            Ons gewone vleisbraai het rookafgode geword. Dis ons gereelde bymekaarkomplek, pleks van my die Huisaltare. Die Huisaltare bestaan haas nie meer in SA nie. Christus word nie by die rookaltare verhoog nie. Keer terug na die Ou Paaie en bewandel weer die Goeie Weg. – Sjibbolet



Vrydag 21 September 2018

Ons as Gelowiges, as God se Volk, is geseënd


Image result for 2 Kor 13:13


Maar ons spreek Sy seëm oor mekaar uit. So is die Volk in die Ou Testament geseën:



“Die HERE sal jou seën en jou behoed;

die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;

die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.” Num 6:13-17



In die Nuwe Testament word dit ietwat gewysig:

“Die genade van die Here Jesus Christus

en die liefde van God

en die gemeenskap van die Heilige Gees

sy met julle almal! – Amen.” 2 Kor 13:13



Die een vervang nie ander nie. Beide kan gesamentlik aanvaar word as God se

seën oor ons, sy Volk Israel. Dis hoe ons ook mekaar moet seen.

       Wanneer laas het jy iemand geseën… jou kinders, jou huis?

       Herinner almal altyd aan die seën van die HERE. Dis ‘n Ewig blywende seën.


Vrydag 31 Augustus 2018

Het jy Oorvloed?


“Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê”  Joh. 10 : 10.

            Wyle Dr Andrew Murray, spreek hierdie nodige kwesie soos volg aan: Almal verstaan die onderskeid tussen ‘n lewe wat swak en sieklik is, en een wat oorvloedige lewenskrag het. Paulus praat van die Christelike lewe van die Korintiërs as nie geestelik nie, maar vleeslik. Hulle is soos klein kindertjies in Christus wat nie in staat is om vaste spyse te verteer nie.

            Hulle kan dus nie die dieper waarhede van die Evangelie begryp nie.  1 Kor. 3 en Heb. 5

Daar is Christene (die meerderheid) wat nooit verder kom as die eerste beginsels nie. Hulle is swaar van oor en bly vleeslike Christene.

Daar is egter ook andere (die minderheid) wat die oorvloedige rykdom van genade in hul lewens weerspieël.

            Ons vind hierdie verskil dwarsdeur die geskiedenis van die Kerk. Ook vandag is die getal wat in volle oorgawe vir God wil lewe, baie klein. Deurdat hulle geestelik gesind is, beywer hulle hul vir die oorvloedige lewe wat daar in Christus is. Hulle getuig van die heerlikheid van Christus wat “vol van genade en waarheid” is:  “En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” Joh. 1: 16

            Die oogmerk van die uitdraer van God se Woord behoort te wees om die volheid van God se genade in Jesus só voor te hou, dat Christene sal skaam word vir die armoede van hul geestelike lewe. Dat dit hulle sal aanmoedig om te glo dat die “lewe en oorvloed” in die volheid van die Gees, vir hulle bedoel is.

            Leser, vra jouself af of jy so 'n oorvloedige lewe lei as wat Jesus gekom het om te gee. Kom dit te voorskyn in jou liefde vir die Heiland en in die oorvloed van vrug wat jy tot eer van God dra?

So nie, bid dat God jou krag mag gee om te glo dat Hy mag het om alle genade oor jou oorvloedig te laat wees, sodat jy “altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.” 2 Kor 9:8

Laat Jesus vir jou dierbaar wees, en hou daaglikse gemeenskap met Hom. Hy sal jou deur sy Heilige Gees leer om Hom te eer met 'n oorvloedige lewe, Aldus Dr Murrray.

Kyk ook so daarna: Die HERE sê Hy voed die voëltjies. Daar is dus genoeg wurmpies vir al die voëltjie, maar die HERE sit nie die wurmpies in hul nessies nie.

Die dieper lewe in Christus is beskikbaar, ook die oorvloed, maar ons moet self  daardie heerlikheid in ons hart en lewens indra.

Tot nog toe was baie oortuig dat oorvloed beteken oorvloed van geld en aardse wins.

Maar ons hoort oorvloed te hê in liefde, embarming, sagmoedigheid, geduld, geloof,  blydskap, vrede, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, selfbeheersing. Uit hierdie oorvloed bedien ons, ons naaste.

Let op:  “Maar soos julle in alles oorvloedig is -- in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons -- sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is.

“Ek sê dit nie as 'n bevel nie, maar om deur die ywer van ander ook die egtheid van julle liefde op die proef te stel.” 2 Kor 8:7-8 – Sjibbolet

























Dinsdag 07 Augustus 2018

‘Wanneer my skip inkom…’


Image result for wat jy saai sal jy maai


In elke vrug wat jy oopsny sal jy die sade kan tel. Maar jy sal nie kan tel hoeveel vrugte in elke saad is nie. Dis soos met die broodjies en die vissies… God se vermenigvulde krag is en bly in werking.

            Saad is deur God geskep om ‘n opbrengs, ‘n oes, te kan voortbring. Dit is die hele doel van saad. In baie gevalle is vandag se somtotaal van mense se lewens, dit wat hulle deur die ewe gesaai het.

            Iemand sê in reaksie: “Die dag as my skip inkom, dan sal alles verander.” Maar hy het nie eers ‘n skip uitgestuur nie.

            As jou lewe ‘n teleurstelling is, en jy wil dit graag omkeer, begin dan die vuilgoed uit jou lewe uitskoffel, maak reg met die HERE, dolwe jou lewe van vooraf om en begin saai… sommer in die droogte, so te midde van die hongersnood, so te midde van al die tekortkominge. In Israel is ‘n enkele saad van ‘n olyfboom na 2 000 jaar geplant en die boom dra lywig aan al die olywe.

            Let op: Jou gedagtes is saad, jou woorde is saad, jou gasvryheid is saad,  so ook jou optredes, jou reaksies,  jou geld, jou talente, jou gawes, selfs jou glimlag… dit alles en meer is jou saad. Hierdie keer  sorg jy dat jy net goeie saad saai.

            Let weer op: “Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.” Job 4:8

            En…“Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.” Ps 126:5

            “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.” Hos 10:12

            “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.” 2 Kor 9:6

            “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.” 2 Kor 9:7

            “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.

“Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die Ewige Lewe maai.” Gal 6:7-8

As ‘n boer ooit waag om in sy saaiery te verslap, is hy gou in groot moeilikheid. “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” Gal 6:9

Saai is ‘n voltydse taak, maar dis geen moeisame taak nie. Mens doen dit met blymoedigheid.

Ons moet mildelik saai want ons moet siele inwin vir die Koninkryk.

Al is jy net ‘n karwag, straks wel ‘n boemelaar, saai en hou nooit op om te saai nie.  Dis al manier om ‘n oes in te bring. – Sjibbolet


Vrydag 27 Julie 2018

So kom ons ook aan die oorkant!


‘n Hewige brand het een nag, 12 Mei 1860, in die Sailor’s Home in Liverpool, Engeland, uitgebreek. Die Sailor’s Home was ‘n oorslaap plek vir verby reisende seelui. Daar was sowat 200 manne per keer daar tuis.

            Die brandweer en baie van die omgewing se mense, was haastig op die toneel. Die gebou se brandtrap het nie tot by die boonste verdieping gegaan nie. Seemanne het deur die boonste verdieping se vensters uitgeleun en vreesagtig om hulp geskreeu. Die brandweermanne het ’n lang leer gebring en teen die gebou na die boonste vensters toe laat leun. Die leer was te kort. Dit was die langste beskikbare leer. Meer as 100 seelui sou ‘n aaklige vlammedood sterf.

.
Nadat dit destyds herbou is


’n Britse matroos wat tussen die skare gestaan het, het in alleryl vorentoe gestorm en die leer met mag en mening tot by die boonste sport beklouter. Terwyl die mense hul asems ophou van verbasing en skok, maak hy homself op die boonste sport van die leer staan. Hy klou aan ’n vensterbank vas en vorm ’n verlengstuk en oorbrugging tussen die venster en leer.

“Gou!,” skreeu hy vir die manne binnekant. “Klouter oor my en klim af teen die leer. Toe! Gou! Gou!”

Een vir een klim die vasgekeerde seemanne oor die matroos se liggaam en af met die leer grond toe. Hy hou uit totdat die laaste man verbygekom het, en toe klim hyself af na veiligheid toe.

Sy gesig was  blase gebrand, sy hare verskroei, sy hande en vingers velaf getrap, maar hy het al daai seemanne se lewens gered. Al die bemoediging en raad wat van die grond af vir hulle geskreeu is, het niks gehelp nie. Die jong matroos se eie liggaam het die brug gevorm.

 
            ’n Mens se fisiese, eie liggaamlike bemoeienis, is vir ’n mens die hoogste prys wat betaal kan word. Dit is hoe Jesus ons gered het. Hy het sy eie liggaam gegee.

            Nadat jy hier gelees het, sal die Nagmaal vir altyd vir jou nuwe betekenis hê.

Met nagmaal eet ons die brood waarvan Jesus gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” En hoe is Jesus nie geslaan, getrap en gekneus om ons redding te bewerk nie!

“Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap…hulle trek toe sy klere uit en gooi Hom `n pers mantel om. Hulle vleg ’n doringkroon en sit dit op sy kop en sit ’n stok in sy regterhand…hulle bespot Hom… slaan Hom met die stok oor die kop…Hulle het Hom gekruisig.” Mat.26:6 en 7:29,30,35

Jesus se liggaam is vir ons, die oorbrugging oor die afgrond van verdelging, Hemel toe.

Het jy al die opdraande Lydingsweg uit Jerusalem tot op Golgota bewandel? Dis jammer die smouse lawaai so, mens sou dit net vir een keer in doodse stilte wou stap.

Wanneer die Heilige Gees ons hart bewus maak van Jesus se fisiese lyding vir ons, eis dit ook ons fisiese toe­wyding op.

Wanneer jy weer bid, sê vir Hom: “HERE, vandag is U gekruisigde liggaam vir my kosbaar.” Dis my enigste manier om oorkant die Jordaan te kom. – Sjibbolet


Dinsdag 17 Julie 2018

Kom ons maak met blydskap die Getal vol


Image result for 1 Peter. 1:19


Klein Dawid, Simson, Noag, dink maar aan al die helde van die Bybelse tyd en ons gee lof en aanbidding aan God omdat Hy saam met hulle was.

            Twee duisend jaar gelede was daar ‘n klein groepie  in Jerusalem toe die Groot Opdrag kom om die wye wêreld in te beweeg en die Goeie Nuus te gaan verkondig. As jy daardie dag daar was, sou jy kans gesien het vir daai ontsettende groot opdrag?

            En dan sê Jesus Hy vertrek, ons moet dit alleen doen. Hy stuur die Heilige Gees om ons te help. ‘n Gees?

Wat sou daardie oomblik deur jou kop en wese gegaan het. Hy het die werk begin en drie jaar lank volgehou, nou moet ek en jy dit voltooi deur reg deur die wêreld die Evangelie van Jesus Christus te verkondig.

Twee duisend jaar gelede is ons in Jerusalem, ons weet nie eers waar die res van die wêreld is nie.

            As jy daai dag daar was in Jerusalem, wat sou jou reaksie gewees het... onmoontlik?

Daar was skuite en bote, donkies, perde en kamele, maar nie fietse nie, nie motors nie, nie motorfietse nie, geen teerpaaie of brûe nie, nie vliegtuie nie, geen telefone, geen teleks, geen Internet, geen selfone... geen niks nie. Daar was nie eers ‘n posdiens nie.

Nogtans... vandag is die Christendom loshande steeds die grootste beweging in die wêreld met die Bybel as die grootste verkoper. Dit kon alleen vermag word deur ons gewilligheid, die krag van God en die leiding van die Heilige Gees.

            En ek en jy? “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” Rom 8:31

            Ons is “medewerkers van God” 1 Kor 3:9. Ons moet Jesus se onvoltooide werk op aarde voltooi.

            Ons is nie alleen nie. Dieselfde geestelike dryfkrag is steeds teenwoordig. Ons taak is effens moeiliker... want... almal is skielik Christene... 34 miljoen in SA bv. vul op hul sensusvorms in dat hulle Christene is... is hulle werklik Christene? Ons weet dis nie waar nie, want ons behoort ‘n boom aan sy vrugte te ken... maar mens herken nie eers die bome nie.

•          Open. 5:9 – “Toe sing hulle (die Gelowiges) ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,”

•          1 Pet. 1:18 – “omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,”

•          1 Pet. 1:19 – “maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”

Jesus het letterlik Sy bloed vir ons gegee. As kind van God het ek en jy ‘n bloed gekoopte reg tot:

•          ‘n Oorvloedige lewe. Joh 10:10 – “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”

•          ‘n Lewe van betekenis;

•          ‘n Lewe met ‘n doel;

•          Goddelike gesondheid (Jes. 53:4)

•          Dat God in al ons behoeftes sal voorsien. Fil 4:19 – “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”

Ons het en geniet al hierdie dinge:

•          Nie omdat ons dit ooit kan verdien nie;

•          Nie regtig oor een of ander daad wat ons gedoen het nie;

•          Of omdat ons so goed is nie; maar a.g.v. God se groot liefde vir my en jou en op grond van die bloed van Jesus wat Hy vir ons gegee het wat ons in geloof aangeneem het. Al hierdie seëninge omdat God vir ons is!

Om die HERE aan jou kant te hê; ‘n God wat vir jou is, is absoluut onbeskryflik wonderlik! Rom. 8:32 – “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”

          Ek en jy leef in afwagting van die Wederkoms. En die ander mense?

            “Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter;

“so sal my Woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

“Want met vreugde sal julle uittrek en met vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle in gejubel uitbreek, en al die bome van die veld in die hande klap.

“Vir 'n doringboom sal 'n sipres opgaan; vir 'n distel sal 'n mirteboom opgaan; en dit sal vir die HERE wees tot 'n naam, tot 'n ewige teken wat nie uitgeroei sal word nie.

“So sê die HERE: Bewaar die reg en doen geregtigheid; want my heil is naby om te kom en my geregtigheid om geopenbaar te word.

“Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit geen kwaad doen nie.” Jes 55:10-13; 56:1-2

Ons is dus nie alleen in die uitdra van die Evangelie. Kom ons maakmet blydskap die Getal vol. – Sjibbolet



Sondag 15 Julie 2018

Trane... wanneer jou siel ween

Ons sien dit op TV by die wêreld sokkerstryd... trane en nogmaals trane. Groot en klein huil bitterlik wanneer hul span verloor, selfs die spelers op die veld huil onbeskaamd. Ons wat nie so iets ken nie, verstom ons aan al die trane.
cid:image001.jpg@01D418FF.971E4EE0

Kyk baie mooi na hierdie foto. Dis trane by die Wedergeboorte...

As mense nou maar so wou huil oor die Ewige Lewe wat hulle nie het nie. En om te dink dat diegene wat gaan agterbly na die Wederkoms, ook so sal huil, bitterlik ween. Helaas.

Ons is op die rand van die laaste maar grootste Herlewing in die geskiedenis voordat Jesus kom. Ons wag daarvoor, ons loof die HERE daarvoor. Dit gaan groot wees. Ons het so iets nog nooit beleef nie. Die heerlikheid van God gaan ons verswelg.

As jy nie ook gereed is nie, luister intussen hierna:  https://www.youtube.com/watch?v=CkbhxAPadXQ  Die lied is geskryf deur die bekende pianis Charlotte Elliot net na haar Wedergeboorte. George Beverley Shea wat onlangs Huis toe is op ouderdom 104, het hierdie lied male sonder tal oor ‘n periode van 60 jaar by wyle Billy Graham se dienste gesing. Miljoene mense het tot redding gekom. Dit is Lied 203 in ons Hallelujaboek.

Hoekom is daar trane? Wat beweeg mens tot trane? Jy word diep ontroer... soms stort mens bitter trane weens swaarkry, weens smart en berou, weens teleurstelling. Daar is ook droë trane soos knaende berou hê, wanneer mens knaend treur.

Soms smeek jy: Droog tog my trane, iemand troos my... soms huil mens lang trane, wanneer jy baie spyt het oor wat hy gedoen het; soms swem mens in trane, wanneer jy baie, baie huil; soms gaan dit op die ou traan, dit gaan nog op die ou manier, soos altyd, en jy kom nie in die volheid van geestelike oorwinning nie... soms bly mens vol weemoed, In ‘n treurige gemoedstemming, melancholie en smart, en mistroostig.

Ook weemoed bring trane. Selfs heimwee en verlange bring trane... soos wanneer biologiese ouers en aanneemkinders na baie jare versoen; ook wanneer aangenome kinders na hul onbekende biologiese ouers verlang. Trane is wanneer die siel huil; wanneer die siel ween; God se goedertierenheid bring ook trane, trane van blydskap en vreugde, trane van oorwinning! Halleluja!

Dawid deurweek sy "bed met trane." Ps 6; en is dit sy "spys dag en nag." Ps 42. Jesaja se oog "is 'n fontein van trane." Jes 9; en Paulus "dien die HERE met baie trane." Hand 20

Jesus Christus het geween oor die sondes van Jerusalem. Oor die dood van sy vriend Lasarus het Hy gehuil. Aan die einde van Sy aardse lewe het al ons sondes vir Hom smarte en trane gebring.

Daar kom egter ‘n dag wat die trane verby sal wees. Johannes sê in Openb 7:  "God sal al die trane van hulle oë afdroog".  Johannes sien hier 'n menigte mense wat ... ja, nie huil nie ... maar jubel en juig. En die Engel berig dat die verlostes in die Hemel is. Openb 7:13-17

Trane en droefheid is ‘n beeld van lyding en smart ... van sonde en pyn. Trane is bestem vir hierdie lewe, nie vir die Hemel nie. Daarom sien Gelowiges met reikhalsende verlange uit na daardie dag. – Sjibbolet

https://www.youtube.com/watch?v=7Io4m6k9aRo









Dinsdag 10 Julie 2018

Peter Philpott getuig...

Johannes sê: “Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat…gehoor gee, sal lewe.” Joh 5:25

            En toe gebeur dit net so: Peter Wiley Philpott skryf in The Way Out, hy stap een Januarie aand, as jongman om ’n straathoek, is ’n groep Gelowiges van Die Heilsleër vas wat ’n opelugdiens hou.

            ’n Kort jongmeisie sing met ’n mooi, helder stem ’n lied. Hy gaan staan om te luister. Vir hom is alles nuut, want geestelike liedere, kerk of Sondagskool was ver buite sy lewensraamwerk. Die vrou sing:

When I survey the wondrous Cross

On which the Prince of Glory died

My richest gain I count but loss

And pour contempt on all my pride.

Na elke vers sing sy ’n refrein:

O Calvary! Dark Calvary!

Speak to some heart from Calvary.

Terwyl sy so sing, haar gesig opgehef na die Hemel, maak die Heilige Gees in hierdie luisterende, Peter, die kruis van Golgota ’n werklikheid: dit daag in sy hart, Jesus Christus het in sy plek aan die kruis gesterf.


Pastoor Peter Wiley Philpott

Hy het nie daar ’n vriend gehad om vir hom te sê wat besig was om met hom te gebeur nie. Hy skryf: “Later daardie aand, toe ek die Bybel begin lees besef ek wat Wedergeboorte en bekering beteken. Toe eers besef ek wat daar op die sypaadjie met my gebeur het.

“Ek het voor die kruis van Christus gestaan en my gewete het my aangekla en my sonde is vergewe. Dit was my sonde wat Sy bloed gestort het, wat Hom teen die kruis help vasspyker het.”

Daardie aand, vertel hy, doen hy iets wat hy nog nooit voorheen ge­doen het nie. Voor hy in die bed klim, kniel hy en hy bid. En tot sy groter verbasing en blydskap, spreek hy God aan as: “…my dierbare Hemelse Vader” en voeg hy: “Sedertdien is Hy die afgelope 58 jaar reeds soos ‘n Vader vir my.”

Die volgende dag het hy nog hulp gekry. ’n Man wat as ‘n Gelowige bekend was, het met hom ’n gesprek aangeknoop. Hy lees vir hom stadig Joh 5 vers 24: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die Ewige Lewe.

“Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”

Die man vra hom om dit self te lees. Hy kan die betekenis nie mooi gesnap nie. Die man vra hom om dit weer te lees en toe vra hy vir hom: “Weet jy wie dit sê?” Maar hy weet nie.

”Dit is Jesus self wat hierdie won­derlike woorde vir jou sê.” Die man laat hom die strofe weer lees en vra: “Wat sê Jesus hét jy nou?”

Hier is Philpott se eie woorde: “Jesus sê ek het die Ewige Lewe. Vir 58 jaar al het ek nooit hierdie glorieryke feit betwyfel nie: Inderdaad, ek het die Ewige Lewe.”

Luister, dis vir jou ook beskikbaar, volg Philpott se voorbeeld. – Sjibbolet

Laat die kleine Dawid in jou opstaan


Dawid was ‘n diep gelowige man. Waarom het hy dan nie net een klippie opgetel om Goliat te verslaan nie? Waarom het hy vyf klippies opgetel?

            Goliat had vier broers (Sam 21:19-22). Dawid het besef dat wanneer hy Goliat verslaan, die vier broers dalk op hom kon afstorm. Hy het hom dus deeglik voorberei.

 

            Toe Goliat egter val het die Filistyne almal op die vlug geslaan, Goliat se broers ook. En as die vier broers wel op Dawid sou afgestorm het? Die feit dat Dawid vir Goliat met net een so ‘n netjiese hou kon neervel, het vanselfsprekend beteken dat hy die ander vier ook een vir een sou uithaal. Dawid was nie alleen nie, God was aan sy kant. Nogtans was hy deeglik voorbereid.

            Dit is die verhaal van die oorlog wat gewen is nog voordat dit kon begin het.

            As daar ‘n Goliat in jou lewe is, dan is dit nie om jou te vernietig nie, maar om die klein Dawid in jou te laat opstaan en standpunt in te neem. Jy is mos ook deeglik voorbereid, jy ken die Skrifte en in jou tong is lewe en dood.

            Let op na hierdie gedugte voorbeeld: Hoekom langer ‘n wurmpie wees?

            Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob …. Ek maak van jou ‘n skerp dorsslee wat baie tande het. Jes. 41:14-16.

            Watter groter kontras kan daar wees tussen ‘n wurmpie en ‘n harde staal dorsslee nie?

            Die nietige wurmpie kan op velerlei wyses eensklaps vernietig word, terwyl die staalharde dorsslee vele dinge kan vernietig sonder om self vernietig te word.

            En die Almagtige GOD kan die een in die ander verander!

            Hy kan een persoon ‘n volk maak en albei dus deel van die geskiedenis, terwyl van die wurmpie nooit weer gesien of gehoor sal word nie.

            Wanneer GOD aan ons ‘n wil van staal gee, sny ons ‘n pad deur enige weerstand, deur enige wildernis.

“Ek maak jou…” sê Hy, en inderdaad, Hy wil en sal dit doen!

            GOD is besig om Sy Koninkryk te bou. Hiervoor gebruik Hy die gebroke dinge. Die mens wil alles aanpak alleen met die sterkes, die suksesvolles, die triomfantelikes, die ongebrokenes, die helde, om hul koninkryke mee te bou.

            GOD het nie Skrifgeleerdes, professore en doktore gebruik nie – nie dat hy hulle nie ook kan gebruik nie – maar eenvoudige ongeredde vistermanne, stamelaars, veewagters.

            Jesus sê Hy heel die gebroke harte. Die Hemel loop vol van die aarde se gebroke lewens. Maar daar is geen geknakte riet wat Hy sal verbreek nie.

            Hy neem die lewens gekneus van pyn, verwerping, verdriet en ellende en verander dit in Hemelse harmonieuse musiek vol lof. Hy kan die aarde se mislukking ophef na ‘n glorieryke Hemel.

            Die HERE sê Hy woon in die hoogte en in die Heilige Plek, maar Hy woon ook by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Jes. 56:15.

            Mens moet dus nie na jouself kyk as bloot ‘n wurmpie nie. Kyk na wat GOD van jou wil maak. –  Sjibbolet


Woensdag 04 Julie 2018

Kom, net soos jy is...


“Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Joh 6:37

            Die bekende Switserse Evangelis, dr. Caesar Malan, het net meer as honderd jaar gelede, Londen besoek, vertel Kingdom Evangel.

 

Hy woon ’n onthaal by waar ’n besonder talentvolle jong vrou die klavier te pragtig bespeel. Na haar treffende klavierspel, spreek Dr. Malan, saam met baie ander gaste, sy hartlike waardering uit en voeg by: “God het aan jou ’n buitengewone gawe gegee. Wy dit aan Hom toe.”

Sy het geen sin aan godsdiens gehad nie en hy kon sien sy verstaan nie wat hy vir haar probeer sê nie. Toe sê hy reguit vir haar: “Onthou, as jy nie jou hart vir die HERE gee nie, is jy ’n ongeredde sondaar.”

Net toe loop ’n verflenterde bedelaar by die deur verby. Hy wys na die bedelaar en sê: “Dan is jy net so verlore soos daardie arme mens.”

Sy vererg haar bloedig vir hom en draai kwaad van hom af weg. Sy kon die onthaal nie verder geniet nie. Vroegaand gaan sy huis toe.

            Sy wou gaan slaap, maar die slaap was weg. Net die godsman se ernstige woorde bly in haar gedagtegang terugkom. Die volgende dag is sy terug na Malan. Sy het gesê sy wil haar saak met God regmaak maar hoe raak sy van haar verlede en sondes ontslae?

            Malan het geantwoord: “Kom na Jesus toe net soos jy is, Moenie die knoop probeer losmaak nie,  dit sal te lank neem, sny die tou van die verlede eenvoudig af.”

            Sy het Jesus toe as haar persoonlike Saligmaker aangeneem

            Charlotte Elliot het geweet, Jesus Christus het in haar lewe ingekom en vrede het haar wese vervul. Sy staan op en skryf die lied wat ons nou nog sing:

            “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen U bloed gestort vir my; getrek tot U deurboorde sy – o Lam van God, ek kom! Net soos ek is, ek wag nie meer; ek kom, hoe vuil bevlek, o Heer, en werp my aan U voete neer – o Lam van God, ek kom!”

            Charlotte Eliot het in haar leeftyd 150 geestelike liedere geskryf. Hierdie lied is in baie tale vertaal. Een vertaler het geskryf: “Hierdie lied het ’n wonderlike geskiedenis gehad. Dit is waarlik soos ’n blaar van die boom van die lewe.”

            Wyle dr Billy Graham het die lied in elk van sy dienste laat sing deur die bekende George Beverley Shea.

            Charlotte het op ‘n keer teen die einde van haar lewe toe sy nie meer kerkdienste kon bywoon nie, geskryf: “My Bybel is my kerk. Dit is altyd oop en my Hoë Priester wag en ontvang my gereeld daar. Daarin is my belydenis, my danksegging, my lofpsalm  en my gemeente wat hierdie wêreld nie waardig is nie – profete, apostels, martelaars en belydenisse.. in kort, daar is alles daarin wat ek ooit sal nodig hê.”

            Kom, jy is ook welkom... kom net soos wat jy is. Jesus weet van jou en Hy wag vir jou. – Sjibbolet