Wys tans plasings met die etiket begrafnis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket begrafnis. Wys alle plasings

Saterdag 15 Desember 2018

Hy wou nie terugkom aarde toe nie

Die Hemel


Ons moenie treur oor hulle wat voor ons uitgaan nie. Ons moet eintlik jaloers wees dat dit nie ons beurt was nie.

            Ons moet straks ook ‘n ander woord vind vir begrafnis. Niemand wat weg is, is by hul eie begrafnisse nie. Kom ons maak dit ‘n fees. ‘n Wit kis, blommeprag, musiek, lof en aanbiddingsliedere, blydskap, ‘n dag om te onthou.

            Die Heilslëer se orkes staan altyd gereed langs die graf en sodra die kis begin sak, masjeer hulle tot buite die hekke van die begraafplaas terwyl hulle speel: “Sweeping through the gates of the New Jerusalem.”

M’Lisa Goff, die vrou van Pastoor Kevin Goff van Die Rots Gemeente in Arizona, VSA, vertel aan Daystar32…

Sy en haar man was voor in hulle motor, die drie seuns agter. By ‘n kruising het ‘n reuse vragmotor volgelaai met motors, deur die rooilig gery en teen hulle motor gebots.

Sy is na een hospitaal geneem en die seuns en hulle pa na ‘n ander hospitaal.

Die agtjarige Brandon is dadelik aan masjiene gekoppel om hom aan die lewe te hou.

M’Lisa sê sy kon nie by wees toe die masjiene afgeskakel is nie. Sy kon nie van haar seun afskeid neem nie. Sy is in ambulans na Brandon se begrafnis geneem. Sy moes lê in die kerk.

Sy het die HERE vertel hoe seer haar hart is dat sy nie eers by haar seun kon kom toe hy kunsmatig aan die lewe gehou was nie.

“In my huis kon ek nie die hoofslaapkamer op die boonste verdieping bereik nie. Ek moes nege maande in ‘n hospitaalbed in die sitkamer deurbring terwyl ek kort-kort hospitaal toe geneem is vir vir nog en nog operasies.” Sy kan nie onthou hoeveel operasies sy gehad het nie. Al die bene in haar gesig was gebreek, as ook nek- en rugwerwels.

Toe, in ‘n “droom” hoor sy ‘n geklop aan die agterdeur, sy maak oop en daar staan Brandon. “O Brandon my kind jy is terug.”

Brandon: “Nee, ek kan net ‘n kort besoek aan mamma bring en dan moet ek teruggaan.”

M’Lisa: “Ek gee nie om nie, kom hier. Ek het hom opgetel en na die sitbank geneem. Ek het hom vertel van al die pyn en operasies en hoe ek hom mis en vir hom gesê ek wil nie meer hier wees nie.”

Brandon het geantwoord: “Mamma, nog net ‘n kort rukkie dan is jy by my in die Hemel.”

“Ek wou weet of hy gelukkig is? Daar het skielik ‘n gloed rondom sy gesig verskyn toe hy antwoord: “Mamma ek is so gelukkig.”

M’Ilsa: “Ek het nog noooit so ‘n glorieryke glimlag van hom beleef nie.”

“Hy kon nie eers verduidelik hoe wonderlik dit is nie. Ek het my kind nog nooit so gelukkig gesien nie. Ek eh het dadelik vrede gesmaak. Ek het besef hy sal nooit hier op aarde so gelukkig kan wees nie. Ek het hom afgegee. Hy was in die hande van Jesus en hy sal nooit na sy mamma terugkeer nie. Ek het besef dit gaan goed met hom en ek het hom die Hemel gegun.

“Toe die son opkom het hy vir my gesê: “Die son kom op ek sal moet teruggan.”

“Ek het hom na die agterdeur geneem en totsiens gesê en die oomblik toe ek die deur toemaak, was ek wakker.

“Ek het dadelik besef dit kon nie ‘m droom gewees het nie. Ek het hom fisies gesoen, my vingers deur sy hare getrek, hom vasgedruk. Ek is oortuig dit was nie ‘n droom nie.”

M’Lisa se hele verhaal is hier beskikbaar: http://www.daystar.com/ondemand/video/?video=5850384770001

            Ons gebruik die verhaal om diegene wie se kind of kinders vir hulle in die Hemel wag, te bemoedig.

Saterdag 29 September 2018

Lewe tot eer van die Here



So halfpad tussen Kestell en Harrismith het ‘n boer hierdie reuse bord langs sy heinindraad aangebring Dit laat mens ook dink aan die predikant

wat by ‘n begrafnis die oorledene soveel lof toegswaai het, dat die vrou aan haar seuntjie in die kerkbank gestamp het en vir hom gesê het:“Gaan

kyk vir my in daai kis of dit jou pa is. Ons is allig by die verkeerde begrafnis.” Dan die Boodskap: Daar is werk om te doen, baie werk…

Jona se verhaal is die verhaal van elke gelowige, want ook ons het ‘n soortgelyke opdrag as Jona ontvang: dat ons die Evangelie moet verkondig.

            Jona se opdrag was: Maak jou klaar, gaan na die groot stad Ninevé, en spreek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor My aangesig.”

            Daar is drie werkwoorde in die opdrag:

·       Maak jou klaar – dit beteken, ons kan nie onbepaald in die kerkbanke sit en na preke luister nie, al is die preke ook hoe interessant.

·       Gaan – dit beteken, daar is ‘n wêreld daarbuite waarheen ons moet gaan.

·       Spreek – wat beteken dat ons mondelinge getuies moet wees, ja, dat ons selfs moet profeteer.



Die woord “maar” is seker die mees besonderse woord in die hele verhaal, Strofe 3 begin met “Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsus te gaan…

En verderaan verskyn die woord “maar” weer ‘n keer: Maar die Vader het ‘n sterk wind…

Wanneer ons na die 3e hoofstuk gaan, vind ons ‘n parallel wat betref Jona se latere     gehoorsaamheid: Toe maak Jona hom klaar en gaan na Ninevé… en verder:  En die manne van Ninevé het geglo…

Met ander woorde, toe Jona “maar” gesê het, het die Vader ook sy eie “maar” gereed gehad. Toe Jona egter “ja” sê, was die Vader gereed met Sy eie “ja” en toe stroom die seëninge.

            Die derde strofe van hoofstuk 1 leer aan ons die eerste beginsel wat betref die werking van God se voorsienigheid in menslike ongehoorsaamheid.

            Dit word uitgebeeld in die herhaling van die woord  “af”. Jona het “afgegaan” na Jafo en in ‘n skip geklim. Toe die storm opkom het hy na die onderste dele van die skip “afgeklim”.

Om af te gaan, na onder te gaan en selfs onder te gaan, is eenvoudig die onvermydelike pad wat almal loop wat van die Here God af wegvlug. Hierdie afganery is ‘n reël waarvolgens God in gevalle van ongehoorsaamheid optree.

Nog ‘n reël oor die voorsienigheid van God vind ons op humoristiese wyse daarin dat Jona, toe hy by die skip kom, sy eie reisgeld moes betaal. Maar hy het nooit by Taris uitgekom nie. Hy is lank voor daardie tyd oorboord gegooi. Hy is ook nooit die ongebruikte deel van sy reiskaartjie terufgbetaal nie.

Hier sien ons ‘n groot beginsel in werking: Wanneer mens van God af wegvlug dan kom jy nooit uit waarheen jy vlug nie en jy betaal al jou rekenings self.

Maar wanneer mens God se weg volg, bereik jy elke keer jou bestemming en die Here God betaal die rekeninge.

Mens kan nie nalaat om op hierdie punt die Amerikaanse prediker Bob Mumford aan te haal nie. Hy het gese: “God puts you into a fix to fix you, but if you fix the fix before you’re fixed, He has to fix another fix to fix you!”

Jona, maar ook ons, is beslis ‘n illustrasie van Mumford se woorde.

Onthou jy die verhaal van Moses in die mandjie? As sy moeder aan hom vasgeklou het, was hy ook vermoor.

Kort daarna word sy Moses se pleegmoeder, maar, nie voordat Farao se dogter Moses ontdek en aan sy sussie Miriam sê: “Ek sal jou loon betaal nie.”

Moses se moeder het gekry wat sy die graagste wou hê en God het boonop die loon, die koste om die kindjie Moses groot te maak, betaal!

Maar Jona was op pad weg van God af, buite God se Wil, en hy moes sy eie kostes betaal

            As mens dus van God af wegbeweeg sal jy nooit jou bestemming bereik nie en jy gaan elke keer self die kostes moet betaal.

As die pad wat jy bewandel egter God se pad is, dan het jy boonop ‘n waarborg dat jy beslis jou bestemming sal bereik en God sal die kostes betaal,

Dit is die les wat God aan Jona begin leer het toe Jona aanboord van die skip gegaan het. God het op ‘n bonatuurlik wyse ingetree om dit wat Hy in die eerste plek gedoen wou gehad het, wel te laat plaasvind.

Laat ons almal maar die les hieruit leer: God sal Sy doelwitte bereik, selfs al is ons ongehoorsaam. Hy kan dit doen deur oordele oor ons te laat kom weens ons ongehoorsaamheid, of Hy kan dit doen deur middel van seëninge weens ons gehoorsaamheid. Maar optree, gaan Hy optree.

Wanneer God praat moet ons luister. Selfs Saulus moes op ‘n traumatiese wyse sy les leer toe hy nie wou luister nie. Dit is ook die rede waarom hierdie boodskap geskryf is:  Omdat ons luister en gehoor gee aan ons opdrag!

As God verlang dat ons ‘n besondere taak moet verrig, dan het ons nie ‘n keuse nie. So is die opdrag aan al die kinders van God om die Evangelie van Jesus Christus reg oor die wêreld uit dra, siele in te bering, hulle te doop, hulle te leer.

“Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.” 1 Kor 3:9

Totdat hierdie opdrag vervul is, sal diegene wat nie die opdrag uitvoer nie, van probleem tot probleem lewe en ‘n onsekere bestaan voer.

Jy het geen professionele opleiding nodig om jou getuienis uit te dra nie, en jy mag nie weier om dit uit te dra nie.

Jesus sê self: As julle My voor die mense bely, dan sal Ek julle voor die Vader bely. Bely ons dus nie Jesus Christus voor die mense nie, dan bely Hy ons nie voor die Vader nie, met die geval dat ons onsself beroof  van seëninge. – Sjibbolet