Wys tans plasings met die etiket Jabes gebed. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jabes gebed. Wys alle plasings

Dinsdag 29 Januarie 2019

Seen mekaar en hoekom?



Die gebed wat ons eintlk elke dag behoort te bid (1 Kron 4:9-10) en moet beoefen deur ook mekaar te seën.

Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort U seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder U beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.

            Hy vra basies vier dinge van die HERE:

“Stort U seën oor my uit” – Jabes vra dat die HERE hom sommer in oorvloed al seën. Sy seën oor hom sal uitstort.

Let egter op: Jabes wil geseën wees sodat hy ook vir ander kan seën. Dit was die gebruik daardie tyd. Jy vra iemand se seën sodat jy ook ander kan seën.  Dit behoort ook ons gereelde gebruik te wes.

Wanneer laas, of het jy al ooit, jou vrou en kinders geseën? Deur ander te seën, sëen ons Yaweh.

            Natuurlik kan ons na die HERE toe gaan met ons behoeftes en begeertes, maar hier is ‘n verskuiwing van fokus.

As ons saam met Jabes uitroep “HERE, seën my, seën my ryklik!” dan moet dit nie oor ons gaan nie, maar oor God se Koninkryk – dat ons vir ander tot seën kan wees en sodat hy, JAWEH, meer eer kan ontvang.

Dan maak dit sin dat Jabes vra dat die HERE sy grondgebied sal vergroot. Dit gaan nie hier oor ‘n groter plaas sodat hy meer kan produseer nie.

Groter grondgebied beteken meer mense wat sy pad kruis. Hy vra dat die HERE sy beperkings sal wegvat sodat hy vir nog meer en meer mense tot seën kan wees!

            Dit moet ook ons grootste wens wees. Dat die HERE ons invloedsfeer sal vergroot en alles wat in ons pad staan sal wegvat, sodat ons, ons volle potensiaal as sy getuies kan bereik en vir soveel as moontlik mense Sy seën kan uitdeel.

            Jabes vra dan vervolgens dat die HERE sy Hand oor hom sal hou. Dit kan tog nie anders nie dat Jabes wanneer hy vra dat die HERE sy beperkings sal wegvat en sy grense sal verbreed dat hy nodig het dat die HERE by hom sal wees en hom sal beskerm.

            Dit is waarvoor hy hier vra: dat die HERE hom, daar waar hy tot seën vir meer mense wil wees, sal beskerm.

            Regdeur die Bybel kry ons voorbeelde van hoe die HERE se hand oor ons is deur Sy krag, bv. “Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas.” Ps 139:8-10

            “Hand” in Hebreeus beteken ook om beskerm te word soos deur ‘n rivier se oewer... soos die oewer altyd daar is, maak nie saak waar die rivier vloei nie, so is die HERE altyd daar!

            “Laastens vra Jabes dan spesifiek dat die HERE die onheil van hom af sal weerhou. Jabes wil nie pyn veroorsaak nie, wil nie smart beleef nie. Dit gaan hier oor die geloofwaardigheid van sy getuienis.

            Ons weet al te goed wat gebeur in ons eie binneste as iemand een ding sê, maar sy dade sy woorde verraai, selfs binne die kerk.

Ons selfsug en soeke na eie eer beskadig verhoudings.

Jabes wil verhoed dat dit gebeur. Hy wil nie dat sy naam, of sy sonde of enige iets sy getuienis diskwalifiseer nie. Daar waar hy tot seën vir meer mense wil wees wil hy nie dat enigiets wat hy doen sy impak vir God se Koninkryk verongeluk nie.

Paulus stel ‘n skitterende voobeeld: “Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.” 1 Kor 9:26-27

            Die HERE roep ons, gebroke en sondige mense, om sy Liggaam te wees en die volheid van Hom aan die wêreld bekend te maak . Efes 1:23. As ons maar net dit kan WEES en ophou voorgee en probeer om godsdienstiger as die volgende ou te wees… dan kan ons woorde EN dade van God se liefde en genade verkondig – ten spyte van ons foute!

            Natuurlik verhoor die HERE Jabes se gebed. Die HERE belowe tog dat Hy dit sal doen en Hy is en bly ‘n Waarmaker van sy Woord. Maar weereens is Jabes se gebed nie ‘n gelukspreuk om die HERE se seën uit Hom uit te dwing nie.

            Joh 15:7 en 16 sê ook dat die HERE vir ons sal gee wat ons Hom vra, maar dit is opvallend om te sien wanneer dit is wat Hy dit vir ons sal gee.  As die HERE se woorde in my bly en ek in Hom bly gaan my lysie van goed wat ek wil hê in elk geval baie anders lyk.  Dat ek dan juis vir dinge gaan vra wat my gaan help om ‘n groter impak te maak vir die HERE, vir sy Koninkryk, wat my gaan help om beter vrugte te kan dra en nie vir dinge wat net oor my en my behoeftes gaan nie.

            Dit is wat Jabes ons leer.  Nie ‘n formule om God te dwing om ons te seën nie, maar ‘n ingesteldheid, ‘n begeerte, ‘n opregtheid van die hart, om ‘n instrument in God se hand te wees. Dat ware seën van die HERE juis daarin lê om deur die HERE gebruik te word, vir Sy doeleindes!

            Ons moet mekaar ook gereeld seën en nooit vergeet om ons kinders te seën nie.