Wys tans plasings met die etiket leef in oorvloed. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket leef in oorvloed. Wys alle plasings

Vrydag 31 Augustus 2018

Het jy Oorvloed?


“Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê”  Joh. 10 : 10.

            Wyle Dr Andrew Murray, spreek hierdie nodige kwesie soos volg aan: Almal verstaan die onderskeid tussen ‘n lewe wat swak en sieklik is, en een wat oorvloedige lewenskrag het. Paulus praat van die Christelike lewe van die Korintiërs as nie geestelik nie, maar vleeslik. Hulle is soos klein kindertjies in Christus wat nie in staat is om vaste spyse te verteer nie.

            Hulle kan dus nie die dieper waarhede van die Evangelie begryp nie.  1 Kor. 3 en Heb. 5

Daar is Christene (die meerderheid) wat nooit verder kom as die eerste beginsels nie. Hulle is swaar van oor en bly vleeslike Christene.

Daar is egter ook andere (die minderheid) wat die oorvloedige rykdom van genade in hul lewens weerspieël.

            Ons vind hierdie verskil dwarsdeur die geskiedenis van die Kerk. Ook vandag is die getal wat in volle oorgawe vir God wil lewe, baie klein. Deurdat hulle geestelik gesind is, beywer hulle hul vir die oorvloedige lewe wat daar in Christus is. Hulle getuig van die heerlikheid van Christus wat “vol van genade en waarheid” is:  “En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” Joh. 1: 16

            Die oogmerk van die uitdraer van God se Woord behoort te wees om die volheid van God se genade in Jesus só voor te hou, dat Christene sal skaam word vir die armoede van hul geestelike lewe. Dat dit hulle sal aanmoedig om te glo dat die “lewe en oorvloed” in die volheid van die Gees, vir hulle bedoel is.

            Leser, vra jouself af of jy so 'n oorvloedige lewe lei as wat Jesus gekom het om te gee. Kom dit te voorskyn in jou liefde vir die Heiland en in die oorvloed van vrug wat jy tot eer van God dra?

So nie, bid dat God jou krag mag gee om te glo dat Hy mag het om alle genade oor jou oorvloedig te laat wees, sodat jy “altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.” 2 Kor 9:8

Laat Jesus vir jou dierbaar wees, en hou daaglikse gemeenskap met Hom. Hy sal jou deur sy Heilige Gees leer om Hom te eer met 'n oorvloedige lewe, Aldus Dr Murrray.

Kyk ook so daarna: Die HERE sê Hy voed die voëltjies. Daar is dus genoeg wurmpies vir al die voëltjie, maar die HERE sit nie die wurmpies in hul nessies nie.

Die dieper lewe in Christus is beskikbaar, ook die oorvloed, maar ons moet self  daardie heerlikheid in ons hart en lewens indra.

Tot nog toe was baie oortuig dat oorvloed beteken oorvloed van geld en aardse wins.

Maar ons hoort oorvloed te hê in liefde, embarming, sagmoedigheid, geduld, geloof,  blydskap, vrede, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, selfbeheersing. Uit hierdie oorvloed bedien ons, ons naaste.

Let op:  “Maar soos julle in alles oorvloedig is -- in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons -- sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is.

“Ek sê dit nie as 'n bevel nie, maar om deur die ywer van ander ook die egtheid van julle liefde op die proef te stel.” 2 Kor 8:7-8 – Sjibbolet