Maandag 17 Oktober 2016

Waar is Suid-Afrikaners se Geloof?

“Selfs in Israel het Ek nie so ‘n groot geloof gevind nie.” (En in Suid-Afrika?)
            Dit is wat Jesus Christus in Matt. 8:5-13 aan die offisier van Herodus Antipas gesê het. Kon Hy of enigiemand anders dit al van jou, van ons, geloof gesê het?
            Jesus kom in Kapérnaum en die Hoofman oor ‘n Honderd smeek hom: “My kneg lê verlam en hy ly hewige pyne.”
            Jesus aê vir hom:  “Ek sal kom en hom gesond maak.”
            Maar die Hoofman antwoord:  HERE, ek is dit nie werd dat U onder my dak inkom nie, maar spreek  net ‘n woord, en my kneg sal gesond word!”
            En dan motiveer hy sy stelling: Want ek is ook ‘n man onder gesag en ek het soldate onder my. En vir hierdie een sê ek: Gaan! En hy gaan; en vir die ander een: Kom! En hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! En hy doen dit.”
            Toe Jesus dit hoor, het Hy hom verwonder en aan sy volgelinge gesê: “Selfs in Israel het ek so ‘n groot geloof nie gevind nie!” (Mens mag weer vra: En in Suid-Afrika?)
            Aan alle wedergeborenes is ‘n “mate van geloof” gegee.  Dis vir ons om ons geloof uit te bou soos wat ons geestelik tot wasdom groei. God vra dit van ons.
            Maar wanneer ons geloof nie in aksie is nie, dan sê Jesus verder: “Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die Koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die Koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en ‘n gekners van tande.”
            Die offisier was ‘n heiden wat nietemin eerbied gehad het vir die Christen Godsdiens. Jesus moes dalk vir homself afgevra het: Moet Ek sy kneg genees? Dit was ongehoord dat ‘n Joodse leraar by die huis van ‘n heiden ingaan.
            Jesus se optrede en wat Hy daarna sê is dat nie afkoms van Abraham nie, maar geloof, toegang gee tot die Koninkryk van die Hemele. Hy genees dus die kneg.
            Eerbied en ware geloof is ook die antwoord op die probleme van vandag.
            Heb. 11 vanaf strofe 17:
·       Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer.
·       Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
·       Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën.
·       Deur die geloof is Moses na sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek.
·       Deur die geloof het Moses toe hy grootgeword het, geweier om die seun van farao se dogter genoem te word.
·       Deur die geloof het Moses Egipte verlaat.
·       Deur die geloof  het Moses die pasga gehou.
·       Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan.
·       Deur die geloof het die mure van Jerigo geval.
·       Deur die geloof het Ragab die hoer nie saam met die ongehoorsames omgekom nie.

En dan strofe 32:  “En wat sal ek nog meer sê (oor al hierdie geloofs-dinamika)?
Want die tyd sal my ontbreek as ek (ook) van Gideon, Barak en Simeon en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou vertel ......”
            Let nou op na strofe 33: “... wat deur die geloof:

·       koninkryke oorweldig het!
·       geregtigheid uitgeoefen het!
·       beloftes verkry het!
·       bekke van leeus toegestop het!
·       die krag van vuur uitgeblus het!
·       die skerpte van die swaard ontvlug het!
·       krag uit swakheid ontvang het!
·       dapper gewees het in die oorlog!
·       leërs van vreemdes op die vlug gedryf het!”

Kyk weer na die tweede laaste reël:  DAPPER gewees het in die oorlog!  DAPPER beteken:  Vasberade, onverskrokke. Dit beteken ook: onwankelbaar en onbuigsaam, beginselvas, dus, ook iemand wat geen kompromie aangaan nie.
            Het ons geloof?  Natuurlik het ons geloof?  Ons het dit by die wedergeboorte ontvang. Maar,  Lewe ons deur die geloof....... ?
            Om te sê ons sal probeer om deur die geloof te lewe is so goed as om vir die satan te sê mens is nie toegewyd nie. Jy het nog nie in Christus gesterwe nie.  By die eerste hekkie slaan jy neer.
            Om deur die geloof te kan lewe moet ons beslis en betrokke wees, moet ons determineerd wees, moet ons dapper wees, moet ons weier om kompromieë aan te gaan, moet ons rus (vind) in die HERE.
            As jy kan glo dat Jan van Riebeeck en sy geselskap in drie skepe op 6 April 1652 aan die Kaap de Goeie Hoop geland het, dan kan jy die Bybel ook glo. Jy was nie in Bybelse tye by gewees het en nog minder was jy in 1652 in die Kaap.
Of ons vertrou God absoluut, of, anders lewe ons in twyfel, ons probeer maar.....
            Jak. 1:6-7 .... hy wat twyfel moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie!
           Dus… ons moet weier om te twyfel.
"Ons is God se magtige manne (en vroue) vol dapperheid, onverskrokkendheid. Ons weier om te twyfel. Ons staan soos rotse, onwankelbaar. Onthou, ons is GOD se eiendom. Vat iemand aan ons vat hy aan GOD, want, GOD sê: Vir sovele as wat julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My.
            Dit is ook hoekom ons nie wraak moet uitoefen nie. GOD sê:  Hom kom die wraak toe. Hy sal vergeld. Ons moet net besef dat as iemand ons leed aandoen, speel hy of sy met vuur, want hulle het GOD se eiendom aangetas. En daar staan ook geskrywe: Dit is vreeslik om te val in die hande van die Lewende GOD!
            Ons vrees niks, want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar ‘n gees van Krag, en van Liefde en van Selfbeheersing. Dit is wat ons ontvang het en dit is wat ons elke dag moet bely.
            Let weer op wat staan reg aan die begin geskrywe ... volgens die KRAG wat IN ons is.

            Daar is geloofskrag in ons om ook die dinge te kan doen wat ons voorsate deur die geloof gedoen het..  volgens ...  dui daarop dat ons daardie geloofskrag moet uitbou, soos 'n gewigopteller sy krag ook uitbou. Hoe groter sy krag, hoe groter die gewig wat hy kan baasraak. 
            Ons moet dus deur Sy Woord en deur praktiese toepassing daarvan, ons geloofskrag uitbou. Kyk hoe waar is die volgende:
            Om nederig te wees is God se Wil. Om jouself te verkleineer, is nie nederigheid nie en is sonde. In die oë van God is ons baie belangrik. Ons is Sy VOLK. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers. Ons het die geloof van 'n mosterdsaadjie  –  ons (moet) groei tot 'n reuse Geloofsboom !
            Bely dit,  glo dit, want dit is die Waarheid, en nie die twyfel en onwaarhede wat die satan ons mense mee teister nie.
            Onthou, wanneer mens naby die deurbraak is, sal die druk altyd toeneem. Teenspoed lyk maar soos teenspoed. Hoe harder die stryd hoe groter die oorwinning, want in Christus Jesus IS ons meer as Oorwinnaars !!!
            Probleme wat oor die wêreld aan die kom is, moet maar kom. Ons is Gereed daarvoor!
            God se Koninkryk is op aarde gevestig om ‘n verskil te maak sodat reg en geregtigheid sal geskied.  Ja, ons sal tot die heidene genees, want Hy het gesê ons sal doen wat Hy gedoen het, behalwe dat ons baie meer sal doen as wat Hy gedoen het.
            Waarom verkleineer ons onsself?  Waarom tree ons nie op met eerbied teenoor Hom en met Sy gesag nie? Waarom wil ons altyd soos smartvrate op die negatiewe teer, onder die omstandighede woon in plaas van bo die omstandighede?
            Iemand het gesê:  “We are majoring on minors.  We should be majoring on majors. We should make our own majors!”
            Komaan!  “Rig die slap hande en die verlamde knieë weer op, en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.”  Heb. 12:12.
            Dan sal die HERE ook kan sê:  Ek het nie in die wêreld so ‘n geloof gesien soos in Suid-Afrika nie!


Vrydag 14 Oktober 2016

Verkry die Gees van Wysheid en Openbaring


Image result for heilige gees


Ons is tot alles in staat deur Christus wat ons die krag gee. Fil. 4:13.
            God wil dieselfde krag waarmee Hy Christus opgewek het, vaardig sien in sy kinders.
            Efes. 1:15-23 “Daarom – vandat ek gehoor het van die geloof in die Here Jesus wat onder julle is en die liefde tot al die heiliges –
“hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek aan julle in my gebede dink nie,
“dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,
“verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van Sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van Sy erfdeel onder die heiliges is;
“en wat die uitnemende grootheid van Sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van Sy sterkte. (watter krag?)
“wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die Hemele,
“bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.
“En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee,
“wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Kyk weer:

·       Hy is Hoof bo alle dinge in die gemeente
·       Die gemeente is sy Liggaam
·       Die gemeente is die volheid van Hom
·       ‘n Volheid wat alles in almal vervul.

Ons het genade en ons het vrede, maar dit moet deurentyd vermeerder word, en ons vermeerder dit deur die kennis van God en Jesus.  2 Pet. 1:2.
Hierdie kennis wat ons opdoen, beklemtoon ook die volgende in 1 Pet. 1:3-8.
“Immers, sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (Hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,
“waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.
“En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis,
“en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug,
“en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde (Hoekom?).
“Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit     julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie”
Inderdaad —  “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus
Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het
tot 'n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,
“sodat ons 'n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die Hemele bewaar is vir ons
“wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.” 1 Pet. 1-5.
Dis duidelik dat ons, en niemand anders nie, ons kennis van die Skrifte moet verbreed.  Jesus Christus beklemtoon dit verder in Markus 12:24 wanneer Hy sê:  “Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?”
Ken ons die krag van God?  As ons dit sou ken, dan sou ons ook soos Paulus en baie ander sê: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is 'n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek.” Rom. 1:16.
1 Kor. 1:18 sê dat die Woord van die Kruis is dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir my en jou wat gered word, is die Woord, die krag van God. – Sjibbolet

Woensdag 12 Oktober 2016

Trek die Volle Wapenrusting aan...


Image result for wapenrusting van god


“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.” 1 Joh 4:1
            In hierdie tyd waarin ons leef, is dit ‘n dringende noodsaaklikheid om oor die gawe van onderskeiding te beskik. Nie alle geestelike aktiwiteite kom vanaf die Heilige Gees nie. Soms is dit moeilik om die oorsprong te bepaal, maar nie wanneer jy die gawe van onderskeiding het nie.
Gelowiges en hulle kinders beleef ‘n totale aanslag.                    
Soos wat enige gawe ontwikkel, ontwikkel die gawe van onderskeiding ook in diepte van waarneming, kennis en openbaring. Soos wat die boosheid op die aarde toeneem, is dit nodig om hoër vlakke van onderskeiding te reik.
Daar is verskillende gawes: “Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
“Want aan die een word deur die Gees...
·       'n woord van wysheid gegee,
·       en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
·       aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees,
·       en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
·       aan 'n ander werkinge van kragte,
·       aan 'n ander profesie,
·       aan 'n ander onderskeiding van die geeste,
·       aan 'n ander allerhande tale,
·       aan 'n ander uitleg van tale.” 1 Kor 12:7-10

Watter van hierdie gawes het jy of strewe jy na?
Op aarde beleef ons ‘n fisiese wêreld, maar ook ‘n geesteswêreld. Ons ken die fisiese wêreld, maar meeste van ons is onbekend met die geestelike.
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
(Let op) “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Efes 6:10-12
Dit kan mens alleen op geestelike vlak aandurf. Later kan jy sien in die geesteswêreld, neem jy persepsies waar in die Heilige Gees, beide goed asook onheil afkomstig van demoniese engele. Mens verkry in die groei- en ontwikkelingsproses totale insig in die bonatuurlike geesteswêreld.
Jy lê nie iemand haastig die ander op nie sodat jy rein kan by bly en nie straks gemeenskap het met die sondes van die sieke nie. 1 Tim 5:22
Jy beweeg en leef in die Gees. “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; (hoekom?) want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”
Net om seker te maak ons het reg gehoor, herhaal Johannes: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
Die gawe van onderskeiding van geeste is die Godgegewe vermoë om die geeste wat sit agter verskillende manifestasies of aktiwiteite, te kan identifiseer. So kan mens ook die persoon of toestand identifiseer.
‘n Man vertel in ‘n diens hy ly aan geweldige rugprobleme gepaard met erge pyn. Hy vertel vier mense het al vir hom gebid. Elke keer was alles binne ‘n oomblik normaal en geen pyn nie en binne 24 uur later was alles van vooraf net soos dit was.
Die gawe van onderskeiding wys die fout lê by sy vrou, sy is die medium waardeur die bose gees werk. Sy was onbewus hiervan. Die vrou vertel hoe haar ma altyd die toordokter op die buurplaas laat kom het wanneer daar siekte in die huis was. Die toordokter het hulle dan gesond gemaak.
Daardie gees van die toordokter is uit die vrou gedryf en onmiddellik was haar man vir altyd volkome genees.
Wyle oom Moses van Rooyen van Kakamas het gereeld kom kyk hoe dit met weduwee Hester Brand en haar kinders gaan. Hulle het weerskante van die watervoor gewoon. Een oggend vra Hester vir oom Moses of dit sy baadjie is wat agter haar kombuisdeur hang. Hy het nee gesê.
In daardie stadium is goed oral in huis deur ‘n onsigbare hand rondgeskuif en verplaas, genoeg om enige mens met doodsvrees te vul.
Oom Moses had die gawe van onderskeiding van geeste. Hy het die eienaar van die baadjie binne minute uitgewys en die saak opgelos.
Daar is hope sulke gevalle om aan te haal.
Vir mense wat nie die gawe het, mag dinge obskuur klink, maar vir die een wat die gawe het, is dit ‘n normale lewensgang soos enige van sy ander talente.
Met die gawe van onderskeiding kan mens ‘n diens hou en jy sal skielik weet van mense en hul probleme en dadelik werk daarvan maak.
Hoe lank is jy al ‘n Gelowige? “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.
“Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy 'n kind is.
“Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat (let op) geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” Hebr 5:12-14
Iemand met die gees van onderskeie begin ook later Engele sien beleef. Kyk maar wat gebeur het in Luk 22:43; Joh 20:11-13; Hand 27:23-24
Paulus onderskei ‘n gees van geloof in ‘n verlamde man. Hand 14:8-10. Paulus het dit nie met elke verlamde gedoen nie, maar in hierdie geval kon hy die gees van geloof onderskei.
Soms, nie altyd nie, is liggaamlike gebreke vanweë bose geeste. Iemand met die onderskeiding van geeste sal dit weet. Jesus het tydens Sy bediening dit hoevele kere beleef. Luk 13:11-13
Iemand moet nooit probeer voorgee of selfs lieg vir iemand wat die gawe van onderskeiding het nie.
‘n Man vra vir gebed vir sy verbrokkelde huwelik, maar die gees van onderskeiding wys hom op die botteltjie muti (toorgoed) wat hy in sy sak het. Toe vir hom gesê word die HERE weet van die muti, toe sê hy maar as die gebed nie sou help nie dan wou hy die muti gebruik. Helaas, God laat Hom nie afdreig of bespot nie.
‘n Hoteleienaar reis byna 1 000km om vir sy rug te laat bid. Ons besoek hom nikswetend. Hy vertel sy storie. Verwese staan hy daar. Die gees van onderskeiding sê vir hom: “Jesus wil jou genees, maar Hy kan nie. Jy verkoop drank onwettig en jy sit gereeld onwaardig by die nagmaaltafel aan. Toe loop sy trane onbedaarlik.
Die gawe van onderskeiding het niks met suspisie te doen nie. Dit wat jy beleef, is nie vir goedkoop praatjies nie. Die Heilige Gees gee jou die gawe om te bou en te genees. Wanneer jy ingryp in ‘n situasie, vra die HERE om wysheid en bly nederig.
Saam met Petrus sê ons vir jou ook: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die kennis van God en Jesus, onse Here!” 2 Pet 1:2 – Sjibbolet

Dinsdag 11 Oktober 2016

Die Koning Kom..





Van die einde van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die regverdige! Maar ek sê: Ek teer weg, ek teer weg, wee my! Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.

Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o bewoner van die aarde!

En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe.

Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud.

Die aarde waggel geheel en al soos 'n dronkaard en swaai heen en weer soos 'n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.

En in dié dag sal die HERE besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde; en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in 'n kuil en bewaar word in 'n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word.

En die maan sal rooi word van skaamte, en die son sal skaam wees; want die HERE van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees.” Jes 24:16-23

Kyk na die aardskuddings reg oor die wêreld:  http://www.emsc-csem.org/Earthquake/world/?view=1

Voeg hierby die oorloë in 67 lande van die wêreld waaraan 729 militêre en militante terroristegroepe dood en verwoesting saai.
50 lande waarin Christine brutaal vermoor en vervolg word.
En die 29 miljoene mense, meesal vroue en kinders, wat oor die wêreld heen ontvoer en as seksslawe verkoop is.
En waarom sou Danie Botha skielik ‘n lied sing: Dis die Laaste Uur?

HOOP:
Matt 7:24... “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met 'n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.

Ons geestelike huis moet op die Rots Jesus Christus gebou wees, dan bly ons staande tot die einde toe. Matt 10:22

Kyk weer hierna:
Ek is ‘n man van 73 (Joël 2:28) en ek droom ek stap op die Tempelberg in Jerusalem (ek was laas daar in 1973) en in die droom tel ek ‘n silwer muntstuk van die grond af op.
Die muntstuk, byna soos ons ou sikspens, had agterop die woorde en syfer “0 value”
       Dit het verstom want nog nooit in die geskiedenis van die wêreld het ‘n land ‘n munstuk gemunt met ‘n 0 waarde nie. Selfs ons ou kwartpennie, die oortjie, had ‘n waarde.
       ‘n Berig oor hierdie vreemde munt het in die Israelse koerante verskyn en vandaar het dit gou wêreldwyd versprei, in die hoop dat iemand ‘n verduideliking oor die vreemde munt het. Daar was geen verduideliking nie.
       Muntversamelaars egter, het mekaar byna verdring met aanbiedinge om die vreemde munt met sy 0 waarde te bekom... eers in duisende toe tienduisende, toe miljoene.
       Die hoogste bod net voordat die droom geëindig het, was R3 biljoen rand. Die waarde van die munt is veel groter as wat geld ooit kan koop.
       Dit is ‘n EINDTYD WAARSKUWING... “Want die HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.” Amos 3:7

       Die HERE het nog altyd die wêreld gewaarsku van toekomende veroordelings... so is Noag gewaarsku oor die komende vloed: “En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.” Gen 6:13
       Abraham en Lot is gewaarsku oor die uitdelg van Sodom en Gomorra (Gen 18:17; 19:14), Moses en die 10 plae van Egipte (Ex 7:1), Amos en die val van Sirië, Filistia, Tirus. Edom, Ammon, Moab, Juda en Israel (Amos 1 & 2)

       In Esegiël sê die HERE: “Nou is die einde oor jou....” Eseg 7:3 en verder.
Daar was n tyd toe Isreal, God se volk Hom geterg het, deur afgode te aanbid pleks van Hom. Hulle het dit wat geen lewe in gehad het nie bokant Hom gekies en dit aanbid. En die Bybel sê dat God het Sy volk VERKOOP het.

Hier sien mens dieselfde, regoor die wêreld vertrou mense op alles behalwe op God en het SILWER en GOUD hulle god geword. En die waarskuwing is: Die Einde is hier.
Waar hulle die silwer muntstuk met geen waarde, op die strate gooi, en hulle goud sal ‘n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid. Eseg 7:19

       Waarom wil so baie mense die silwer munt met 0 waarde bekom?
       “En Ek sal dit in die hand van vreemdes oorgee as roof en aan die goddelose van die aarde as buit, dat hulle dit ontheilig.

       “Ook sal Ek my aangesig van hulle afwend, en hulle sal my skat ontheilig: inbrekers sal daar inkom en dit ontheilig.” Eseg 7:21-22

       Die Here laat dit toe, dit wat hulle afgod was, word nou die put waarin hulle val.
       Selfs die leiers van die mense en die lande is binnekort hulpeloos. Die HERE het gesê dat kort voor sy Koms sal dit gaan soos in die dae van Noag en Sodom en Gomorra en reeds gaan dit veel erger.
       Daar is oorloë in 67 lande van die wêreld en 729 regerings en militante terroristegroepe neem daaraan deel.
       Christene word op die mees afgryslikste maniere in 50 lande vermoor. Dit het begin met onthoofding, die jongste is om met tenks oor hulle te ry.
       Daar is meer as 29 miljoen slawe in die wêreld, die meeste van hulle vroue, jong meisies en kinders wat ontvoer en as seksslawe verkoop word.
       In Sirië op die grens van Israel is ontsettende lugaanvalle. Onder die aanvallers is Rusland, Iran (Persië), Saoedi Arabië, Turkye en ander.
       Die droom in hierdie geskrif, speel af in Jerusalem, die middelpunt van die wêreld, die stad wat dien as barometer in Eindtyd profesieë.
       Die silwer munt se waarde is 0. Ons leef in die Laaste Uur. Joh 2:18
Die laatreëns, ‘n magtige Herlewing, val reeds. Dis tyd om te Getal vol te maak. Bring die gerwe in.

  Die Koning Kom! – Sjibbbolet

   https://www.youtube.com/embed/TLUgEXI9RYI?rel=0

‘Ek sal veg...’ William Booth


‘Ek sal veg...’

Terwyl vroue ween, soos wat hulle nou doen... sal ek veg
Terwyl kindertjies honger ly soos nou... sal ek veg
Terwyl manne in en uit die tronke beweeg soos wat hulle nou doen... sal ek veg
Terwyl daar ‘n dronkaard oor is,
‘n arme verlore meisie op straat ronddwaal,
terwyl daar een siel in duisternis sonder die lig van God is... sal ek veg
Ek sal veg tot op die bitter einde... – Genl William Booth

https://www.youtube.com/watch?v=8w_JYcNCXPw

Oh Boundless Salvation is deur Booth geskryf.
Hy was die stigter van die Heilsleër.
Sy begrafnis is in 1912 deur 260 000 van sy bekeerdes bygewoon.



Image result for william booth founder of salvation army

Maandag 10 Oktober 2016

Wees vir elke goeie werk, volkome toegerus...


Image result for Oop Bybel

“Maar weet dit dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom – 2 Tim. 3:1, skryf Paulus aan Timotheus, en noem dan in die daarop volgende strofes verskeie voorbeelde van hoe die swaar tye daar sal uitsien.
            Hierdie swaar tye gaan gepaard met spanning wat in ons tyd in meeste gevalle aan uiterstes grens. Die 680 000 arm-blankes in kampe in die Transvaal is tekenend hiervan.
            Daar is oorlog in 67 lande van die wêreld. Oral sterf onskuldige mense.
            Hierdie spanning vernietig gesinne, huwelike, gemeenskappe, en dwing van die grootste maatskappye in die wêreld om spesiale maatreëls te tref om hul werknemers te beskerm en daarvoor te laat behandel. In sommige gevalle lei dit tot gesinsmoorde.
            Die steeds toenemende spanning van uiterstes raak meer mense se lewens as pandemies. Hospitale en mediese spreekkamers loop oor van mense wat aan spanning verwante siektes ly.
            In sommige opsigte reeds, is strofe 12 ook besig om in vervulling te gaan:  En almal wat ook Godvrugtig wil lewe, sal vervolg word! Christene word tans in 50 lande van die wêreld wreed vervolg.
            Vervolging in watter vorm ook al, bring sy eie soort spanning en meesal ook erge spanning. Spertye bring spanning. Perfeksionisme bring spanning.  Om iemand geestelik te dra bring spanning. Ondraaglike werksituasies bring spanning. Droogte bring spanning.
            Skuld bring spanning, so ook onvergewensgesindheid, leuens, bedrog, dit alles veroorsaak ‘n binding in ‘n mens se gees. Jou lewensbestaan is abnormaal.
            In 2 Kor. 11:27-28 praat Paulus oor spanning wat hy persoonlik beleef het en verwys hy onder meer na slapelose nagte en daaglikse bekommernis.
            Ons het almal al dae van druk en uitsonderlike hoë druk beleef, maar Paulus gaan voort en vertel dat hy vasgestaan het en GOD hom daarvan verlos het... 2 Tim. 3:11 lees: “Watter vervolginge het ek nie al almal verdra nie!  En die HERE het my uit almal verlos!”
            As Paulus kon vasgestaan het, dan kan ons ook. Maar dit sal dieselfde onwankelbare geloof van ons vereis as wat ons by Paulus sien – aldus 2 Tim. 4:7: “Ek het die Goeie stryd gestry...”
            Deurbrake kom nie altyd maklik nie, maar wanneer mens aanhou vertrou, aanhou met klop, dan kom die deurbraak die een of ander tyd wel.
            Dit bring ook (onnodige) spanning wanneer ons meen dat ons nie genoeg het nie. Ons vrees tekorte.
Ons gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis en dit omdat ons nie moeite maak om ons Bybels te bestudeer nie. Gaan met ‘n notaboek en pen kerk toe en maak aantekeninge. Word ‘n Skrifstudent.
            As ons wel die kennis opdoen, dan is die volgende aan uit Ps 37:18-19, 25 baie betekenisvol:
            “Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly. Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in die dae van hongersnood sal hulle versadig word. Ek was jonk, ook het ek oud geword (let op), maar nooit het ek die regverdige verlate gesien nie, of dat sy nageslag brood soek nie.”
            Koning Dawid sou nie die bogenoemde geskrywe het, as hy nie self getuie daarvan was nie.
            GOD sal ons nie verlaat nie. Hy sal Hom ook nie aan ons onttrek nie. Sy Liefde, Genade en Guns, skenk Hy aan ons.
            Een keer was Dawid onseker oor sy verhouding met GOD en toe vra hy in Psalm 8:5 “Wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”
            Dis ‘n vraag wat ons ook kan vra: “Wie is ons (ek en jy) as nietige mens, as gras van die veld, dat die Almagtige GOD aan ons sou dink?
            1 Petrus 5:7 lees: “Werp al julle bekommernisse op Hom (hoekom?) want Hy sorg vir julle!”
            Asook Ps 55:23: “Werp jou sorg op die HERE en Hy sal jou onderhou;  Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.”
            En dan is daar Ps 9:10: “So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.”
            En strofe 11: “En hulle wat U Naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U soek, nie verlaat nie, o’ HERE!”
            GOD behoed en bewaar ons. Hy dra ons, wat die omstandighede ook al mag wees. Al wat dit vra is dat ons dit sal erken, bely en glo en Hom daarvoor eer – in Gees en in Waarheid aanbid, Sy Naam grootmaak! Bid jy in Gees en in Waarheid?
            Dan maak dit nie saak hoe hoog die prys van wat ook al word nie, GOD sal die inkomste voorsien. Hy sal ons nooit verlaat nie.
            Lees asseblief al 17 strofes van die hele 2 Tim 3. Die onheil is ook rondom ons, maar GOD belowe: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid (hoekom?), sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
            Wat sê onse GOD vandag aan ons? Eenvoudig: Moet julle nie bekommer nie. Ek die HERE GOD is in beheer! – Sjibbolet

Sondag 09 Oktober 2016

Die Wedergeboorte...


Image result for baptism


Ons neem ‘n bewuste besluit om van die teenswoordige wêreld oor te stap na die Goddelike wêreld, van die tydelike materiële na die Ewige Geestelike.
Met ons Wedergeboorte het ons ‘n nuwe skepping geword. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Kor 5:17
  Wat behels hierdie werklikheid. As jy nie weet wie jy werklik is nie, kan jy nooit die volheid van die oorvloedige lewe in Christus ondervind nie.
  As Wedergeborenes hoor ons, ons lewe lank, ons is ‘n nuwe skepping. Ons hoor ook dat die ou dinge verby gegaan het. Ook hoor ons dat alles nuut geword het. Verstaan ons werklik wat dit beteken? Is ons nie net beter mense nie?
  ‘n Nuwe fusie, of versmelting, of samesmelting het plaasgevind. Maria vra hoe sou sy swanger sou word, en die Engel antwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” Luk 1:35
  Toe dit gebeur vervleg die Heilige Gees en Maria se gees om Jesus te skep. Die DNA van die een het versmelt met die DNA van die ander.
  Dis presies wat gebeur wanner ons Wedergebore word. Ons onheilige gees word geheilig deur die Heilige Gees. Dis soos wanneer die DNA van ‘n moeder en ‘n vader vervleg in ‘n nuwe samestelling om ‘n baba, ‘n nuwe skepping, voort te bring.          
Soos wat die Heilige Gees met ons gees vervleg het, of dan ‘n fusie plaasgevind het, ‘n versmelting, het my gees en die Heilige gees een geword, dus ‘n nuwe skepping. Dit skep dan Christus in my.
  My liggaam is ook geheilig want dit is nou ‘n tempel waar Christus inwoon. Ek het nou ‘n hemelse DNA, ‘n Goddelike natuur.
  1 Kor 6:17 verklaar: “Maar wie die Here aanhang, is (let op) een gees met Hom.” Hierdie openbaring is nog die hele tyd voor ons oë, maar die werklikheidsbesef dring nou eers tot ons deur.
Dit is Christus in my: “… naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges (en en jy), aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.” Kol 1:17-18  
  Die geestelike DNA is in my menslike gees ingebrand en veroorsaak dat ek nou deel is van God se Goddelike natuur. Ek is inderdaad ‘n nuwe skepping. Soos wat die Heilige Gees en my gees verenig het in ‘n versmelting die een met die ander, is ek Wedergebore. Ek is nie net ’n nuwe ek nie, maar ‘n Christus wese, ‘n totaal nuwe skepping.      
  Ek word een met God, Ek het Sy goddelike natuur en karakter binne my. Ek is ‘n nuwe skepping met nuwe begeertes , ‘n nuwe lewensuitkyk. My identiteit is getransformeer. Ek is nou heilig, geregverdig en skoon.
By die Weergeboorte ontvang ons ook die Ewige Lewe. “Hy wat in die Seun glo, (let op) het die Ewige Lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” Joh 3:36
Volg dan ‘n leefwyse soos iemand wat reeds die Ewige Lewe het en bou daaraan.
Kyk weer: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die Ewige Lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” Joh 5:24
Ek en jy is ‘n God (YAWEH) skepping.
Kyk na die mag wat aan ons gegee word: “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees.” Matt 18:18
Jou leefwyse as Wedergeborene verander: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Kol 3:2
Kyk weer: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God (ja, ons is nou God se uitverkore volk), heiliges en geliefdes (hoe?), met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander 'n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
“En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
“En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.
“Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.
“En (let op) wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Kol 3:12-17
“Hulle (ekn jy) is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” Joh 17:16
Selfs ons burgerskap het verander: “Want ons burgerskap is in die Hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die HERE Jesus Christus.” Fil 3:20
Ons durf ons nie soos wêreldlinge gedra nie: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die Hemele is, verheerlik.” Matt 5:14-16
Ons leef nie meer onder die Wet van Moses nie, ons lewe nou onder die Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8 asook Matt 22:36-40
En waarvoor lewe ons nou? Om die Evangelie uit te dra en die Koninkryk te bou. “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos 'n dief sou oorval nie.
“Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
“(let op) Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.” Matt 5:4-6
Wanneer ons waak, nugter is en die HERE verwag, sal Sy koms ons nie oorval soos ‘n dief in die nag nie.
Intussen bid ons ernstig vir ‘n magtige Herlewing, is ons hef aan: Voorwaarts Christenstryders, geklee in ons volle wapenrusting. Efes 6:11 – Sjibbolet

Vrydag 07 Oktober 2016

Die Tong van die Wyse is genesing


Image result for person talking


“Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing.” Spr 12:18
            Thomas lig sy kop van die kussing af op. Hy is seker hy het 'n gesnik gehoor. En nou hoor hy dit duideliker. Iemand kreun. Hy beter gaan kyk. In die skemerte van die kamer loop hy versigtig deur toe. Die vertrek waar hy nou instap, lyk vreemd. Hy word bang.
Dié kamer is ligter en hy sien drie figure op die vloer lê: 'n seun van so ses jaar oud, 'n dogter van seker tien, en 'n vrou. Om hulle is plasse bloed. Daar is nog iemand in die kamer.
Dié een praat skielik, met 'n harde, onverbiddelike stem met Thomas: "Sien jy nou hoeveel leed jy veroorsaak het?" "Ek?" roep Thomas verbaas uit. "Dis nie ek nie! Ek sal nie so iets doen nie!"
"Ken jy hierdie mense?" vra die vreemdeling en wys met sy hand na die figure op die vloer. Thomas kyk en trek sy asem hard in. Dis sy ma en boetie Hansie en sussie Edna."
“Kyk na die wond aan haar skouer," beveel die man. Thomas sien dit is 'n lelike sny in Edna se skouer. Dit kon die spiere in die skouer dalk beseer het. "Mm...maar..." stotter Thomas. Dan word hy kwaad. "Wie het dit gedoen?"
"Kyk na die seun se gesig," beveel die man. Thomas sien 'n yslike, bloeiende sny al langs Hansie se wang af.
"Kyk na jou ma," beveel die stem weer. "Daardie steek onderkant jou ma se linkerarm het amper haar hart getref." "Ons moet hulp kry! Van wanneer af lê hulle al hier?" roep Thomas uit.
"Van vanmiddag af toe jy hulle daar in die tuin so aangerand het," sê die man onverbiddelik.
"Ek het dit nie gedoen nie!" skreeu Thomas nou. "Ek het nie eers 'n mes nie en ek sal mos nie so iets doen nie."
"O, ja. Jy het 'n gevaarlike dolk. Ek was by toe julle vanmiddag in die tuin die blombeddinkies geskoffel het. Onthou jy nie? Edna wou jou met die emmer water help, en jy het haar toegesnou: 'Gee pad hier! Ek het nie 'n ou meisiekind soos jy se hulp nodig nie!'
Met daardie dolksteek het jy haar arm so 'n wond gegee, dat sy jou nie gou weer sal kan of wil help nie. En onthou jy toe Hansie....."
"Hou op!," skreeu Thomas. "Wie is jy?" "My naam is Gewete," sê die stem.
"Ek onthou," kreun Thomas, "maar ek het tog net met hom geraas. Hy het my so gepla. Ek het nie eers aan hom geraak nie. Ek kon hom tog nie so gesteek het nie. Ek het nie 'n mes nie!"
"Jy het 'n gevaarlike dolk. Jou tong. 'Praat sonder om te dink kan soos gevaarlike dolksteke wees (Spr 12:18).'
En: 'Sy tong ...sy woorde... is swaarde wat reg is om te steek...' (Ps 55:21)." Gewete gaan meedoënloos voort: "Toe jy vir jou ma gesê het...." "Asseblief, asseblief, moet dit nie sê nie!" huil Thomas nou.
Voordat Gewete kan antwoord, voel hy iemand trek hom aan sy arm. Hy rek sy oë oop en kyk vas in sy ma se vriendelike, liefdevolle gesig.
"Toe, toe, opstaan ou seun, dis tyd...." Thomas vryf sy oë. Hy het gedroom. Ag, hy het net gedroom! Hy gooi sy arms om sy ma se nek en gaan hartlik aan die huil. "Ekskuus, Mamma. Ekskuus, Mamma...." en hy snik sy droom teen haar nek uit.
            "Begryp julle nie...? Wat by die mond uitkom, kom uit die hart..." Valse getuienis (leuens), kwaadpratery (vloek, slegsê, verwyt, afjak, skinder en so meer). As ons hart reeds aan die Here behoort, moet die Heilige Gees dit beheer.
Die beheer wat die HERE op ons hart kry en handhaaf beskryf Paulus so: "Dit het Hy gedoen deur die Wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser" (Titus 3:5,6).
            Dit kom gereeld tydens berading aan die lig: Onskuldige vroue en kinders wat gereeld deurloop onder ‘n stortvloed van vloeke uit die mond van ‘n ongeredde pa. Hulle vertel van verbale mishandeling, soms gepaard met drank misbruik, en absolute verguising.  
            Die arme vrou wil vlug, maar waarheen. Die vrees van alleen op straat sit met kinders en die gevare daaraan verbonde, bring keer op keer ‘n groter onbekende vrees. Dan maar die hel by die huis probeer verduur.
            Die omgekeerde is ook waar: ‘n Vrou wat soos ‘n viswyf tekere gaan. Vir die man is dit maklik. Hy verdwyn eenvoudig. Meeste van hulle vind ook nog al gou ‘n “beter” heenkome.
            Die ware oplossing is en bly Jesus Christus. As jy van so ‘n huishouding weet, dan weet jy dit juis omdat jy daar moet gaan ingryp met die vrymakende genesende Evangelie. Ons as Wedergeborenes het ‘n roeping om ‘n verskil te maak.
            Daardie vloeke (en selfs aanrandings) is ‘n front. Agter daai fronte skuil gewoonlik ‘n diepe seer en hartseer. Daar is altyd ‘n rede.
            Die Wederkoms kan nie plaasvind te midde van sulke verskeurde huishoudings nie. Dis tyd vir restourasie. Dis ons almal se roeping nie net die van sekeres nie. Bid soos nog nooit te vore nie. Gee om vir die verlorenes en maak so seker jy sal nie eendag verantwoording vir hulle moet doen nie. Eseg 3:17-21 – Sjibbolet  

Maandag 03 Oktober 2016

‘Hy wat sy sonde bely... en laat staan, sal barmhartigheid vind’


Image result for rain


‘Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie;
maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.’ Spr 28:13

“Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die Hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.
“Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat 'n sondaar van sy dwaalweg bekeer, 'n siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek.” Jak 5:17-20

Die droogte van verlede jaar duur voort. Die Weerburo sê daar is nie tekens van reën nie. Damme is leeg of byna leeg. Die ondergrondse watertafel word gedreineer. Reën is ‘n seën vanuit die Hemel, maar die HERE kan Sy seën nie laat giet op ‘n sondige aarde nie. Bestudeer die 58 strofes oor reën by http://bible.knowing-jesus.com/topics/Rain
            Daar is mense, selfs boere, wat in kerke en selfs op kerkrade sit en hul gewone Afrikaanse omgangstaal bedags is besmet van vloek- en skelwoorde. Baie van hulle gebruik die naam van die HERE ook ydellik, maar hulle sit by die nagmaaltafel aan en drink oordele oor hulself. Sou God ons as onskuldig laat voortgaan? Sekerlik nie. Daar is ‘n hele rits onheile waarmee Christene hul besig hou... goed wat nie eers onder ons genoem moet word nie.  
            In die dag van ellende berus die antwoorde op gebed... nederige gebed, ‘n gebroke en teer hart wat sy saak met God regmaak... nie net die onreg teenoor die HERE en teenoor  mekaar bely nie, maar ook laat staan!
            Te midde van die ellende dra geloof en hoop ons. Dit open God se hand van genade en seën. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Rom 10:9-10. Sommige bely maklik, maar glo nie met die hart nie.
            In hierdie tyd van ellende het ons nie formele gebede nodig nie, maar gebed van geloof. As jy iets teen iemand gesondig het, bely dit, gaan maak reg. As jy moet teruggee, gee terug. Kry jou hande skoon... “Bely mekaar julle misdade en (let op) bid vir mekaar (hoekom?), sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.” Jak 5:16. So iemand bid in afwagting van die antwoord.
            Die Wederkoms gaan vir seker plaasvind. Volgens die tekens van die tye, kan dit enige oomblik wees. Leef in afwagting. Sorg dat jy sonder vlek of rimpel is, sonder skuldgevoelens, met ‘n rein gewete.
            Ons hou die toekoms in ons gebede. -- Sjibbolet

Saterdag 01 Oktober 2016

‘Gaan die mens die Aarde verlaat?’


Die vraag word gevra deur fisikus en ateïs, Stephen Hawking, en hy voeg by:
“Die mensdom het geen toekoms as hy nie na die buitenste ruim uitwyk nie.”

Hawking sê vandeesweek die lewe op aarde is in ‘n gedurige toenemende risiko van totale uitwissing. Dit kan gebeur deur ‘n skielike kernoorlog, of ‘n generies ontwikkelde virus. Hy sê die mensdom se enigste hoop is om na die ruimte uit te wyk.
“Ons dae op die aarde is getel,” sê Hawking. In sy nuwe boek “How to build a Spaceship” sê hy die aarde het ‘n gevaarlike plek geword weens die gevaar van oorlog en peste.
Hawking is nou 73 jaar oud en sê die aarde word bedreig deur globale verwarming, kernwapens en generies ontwikkelde virusse.
Die Amerikianse Senaat het pas $19.5 biljoen bewillig om bemanning na die Rooi Planeer te stuur en neergelê dat dit binne 25 jaar moet gebeur.


Elon Musk

Die groot uitdaging is om Mars te kolonialiseer. Nasa wil binne 20 jaar Mense op Mars plaas, maar die biljoenêr entrepreneur Elon Musk wat SpaceX in 2002 gestig het, sê sy maatskjappy is gereed om oor agt jaar die eerste mense daar te plaas en ‘n kolonie te begin. Die vuurpyl wat hulle gaan gebruik is drie keer vinniger as die huidige Falcon 9 vuurpyle en sal vloeibare metaangas en vloeibare suurstof as brandstof gebruik.
Elon Musk is op 28 Junie 1971 in Pretoria gebore. Sy ma Maye (gebr. Haldeman),  kom van Kanada af en sy Pa Errol is ‘n Suid-Afrikaner. Elon woon deesdae in Los Angeles, Amerika.
            Die ruimteskip wat sy maatskappy ontwerp en gebou het, is in staat om veel verder as Mars te beweeg en Musk gaan ook bereid wees om ruimtemanne na plekke veel verder as Mars te vervoer. Die reis na Mars sal op die oomblik 28 maande duur. Diegene wat daarheen trek, sal nie kan terugkom nie. Musk poog egter om die reis na Mars veel goedkoper aan te bied.
            Musk was reg deur sy kinderlewe erg geboelie, een keer so erg dat hy in ‘n koma was toe hy by ‘n stel trappe afgestamp en aangerand is totdat hy sy bewussyn verloor het.
            Intussen kyk Nasa ook na moontlikhede van ‘n moontlike nadere planeet.
            Hawking druk homself soos volg uit oor God en die godsdiens: In an interview published in The Guardian, Hawking regarded the concept of Heaven as a myth, believing that there is "no heaven or afterlife" and that such a notion was a "fairy story for people afraid of the dark". In 2011, when narrating the first episode of the American television series Curiosity on the Discovery Channel, Hawking declared: We are each free to believe what we want and it is my view that the simplest explanation is there is no God. No one created the universe and no one directs our fate. This leads me to a profound realization. There is probably no heaven, and no afterlife either. We have this one life to appreciate the grand design of the universe, and for that, I am extremely grateful.” In September 2014 he joined Starmus Festival as keynote speaker and declared himself an atheist.
            Uiteindelik sal dit net die skatrykes wees wat na ander planete kan probeer vlug. Die meerderheid van ons sal maar hier moet bly. En wat sal dit kos en hoe lank sal dit nie neem om ‘n infrastruktuur op Mars te skep nie?
            Ons het egter nuus vir Hawking. Wanneer hy vra of die mensdom die aarde gaan verlaat, dan sê die Gelowiges duidelik “ja”. En sluit daarby in die Gelowiges wat in Christus gesterf het. Ons gaan nie vlug nie, ons gaan verhuis en nie na Mars waar daar niks is nie, maar na die Nuwe Jerusalem waar alles reeds vir ons voorberei is. En dit sal nie 28 maande duur nie, maar in ‘n oogwink en boonop gratis.
            Ons sal bid dat God Hawking se oë en ore open. Dis waarom ons gered is… om die Koninkryk te bou!
            Hier kom Hawking as wetenskaplike en verklaar die aarde is by die punt van vernietiging. Vele ander wetenskaplikes stem saam wanneer hulle na watervoorraad, besoedeling, kosskaarste, oorlog, toenemende geweld en talle ander dinge kyk, dinge wat die Bybel vir ons uitwys as die tekens van die Eindtyd.
            Daar kan egter steeds siele gered word voordat die Basuin blaas. Ons Verlosser, Jesus Christus, se Opdrag was:
Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Matt 28:19
•    Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die Hemel en het Hy gaan sit aan die regterhand van God.” Mar 16:19
•    Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het.” Mar 16:20
•   En gaan preek en sê: Die Koninkryk van die Hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” Matt 10:7-8

Komaan, ons het goed gedoen tot dusver, maar dis ons taak om die getal vol te maak. – Sjibbolet