Donderdag 06 April 2017

Die HERE kan die regering se gedagtes verander…


Image result for April 22 its time angus


In Rigters 6:1 sê God aan Gideon: Maar, toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here, het die HERE die kinders van Israel oorgegee in die hand van die Midianiete – sewe jaar lank!
            Sewe jaar lank! Dis mos nie nodig om langer vrae te vra nie. Ons eie situasie moet vir ons mos nou meer duidelik wees as ooit te vore.
            Dit lei geen twyfel nie dat die Skrif verwag dat die Christen hom moet onderwerp aan die Owerheid wat oor hom aangestel is.
            So, loof die HERE, bid vir die owerheid, dien die HERE. Alles is nog lank nie verlore nie. Dit lyk maar net so.
            Die prentjie word verder ingekleur wanneer God ons verbied om te vergeld. God sê dat Hy ‘n jaloerse God is en dat die wraak Hom (alleen) toekom.
            Met ander woorde, terwyl ons wraak wil neem met allerlei verset en optredes, staan God terug, want ons probeer doen wat God sê Sy eksklusiewe reg is. Die Christen moet sy verstand afskakel sodat hy kan hoor wat die Gees van God aan hom wil sê.
            Wanneer die HERE sê dat Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit ‘n opdrag wat eenvoudig uitgevoer moet(!) word, al lyk dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die land is nie, dan is dit heel waarskynlik omdat die Liggaam nie vir die regering bid nie.
            Daar is Christene wat die regering wil verkla by die Internasionale Menseregtekommissie, en by die VN en by ander internasionale liggame. Nie een van hierdie liggame is in beheer van die koning nie.
            In Bybelse dae had hulle nie regerings nie, maar konings. Wanneer die HERE dus ‘n koning aanspreek, spreek Hy ‘n regering aan. Die waarheid is dat die HERE enigiemand se gedagtes kan verander wanneer ons bid.
            Die HERE is in beheer van die koning. In Spreuke 21:1 lees ons: “Die koning (regering) se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil.”

·       Die nuwe vertaling lees: “Die HERE kan ‘n koning (regering) se gedagtes net so maklik beheer soos water in ‘n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!
                  Die HERE het ook die gedagtes van John Newton, ‘n slawehandelaar, in die middel van die oseaan te midde van ‘n ontsettende stormsee verander.
                  Newton het die wedergeboorte deelagtig geword en sy skip vol slawe omgedraai en hulle in hul tuisland in Oos-Afrika gaan aflaai. Newton het later ‘n Presbiteriaanse predikant geword. Hy het teen die slawehandel begin preek en die Brtitse parlementslid William Wilberforce beïnvloed om die slawehandel in Brittanje en die kolonies af te skaf.
                  Newton het die lied “Amazing Grace” gekomponeer. Op sy sterfbed het hy gesê: “Ek is steeds in die land van die sterwendes, maar ek sal binnekort in die land van die lewendes wees.”
So, kom maar gerus jou plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer. Die waarheid is dat die Christendom in beheer van die wêreld is, en dit onder Leierskap van die Almagtige GOD.
            Luister wat sê Psalm 149 oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:
         
Halleluja! Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied,
Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
Laat Israel hom verheug in sy Maker;
Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
Laat hulle Sy naam loof in koordans,
Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
Want die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
Hy versier die ootmoediges met heil.
Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
Hoekom?
Om (sodoende) wraak uit te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
Hoekom?
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja!

“Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” Sag. 4:6. Jesus het aan die Kruis gebid: “Vader vergewe  hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dan bid ons ook so!
Dat die HERE op soek is na voorbidders maar hulle selde vind, word weerspieël in die pyn van Sy uitroep deur Jesaja:
            Die Vader het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussen bytree nie,”
            En sy teleurgestelde protes deur Esegiël:
            Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land…  maar Ek het niemand gevind nie.
Laat die Lofsange oor berg en dal aangerol kom!  

Wag – en weier om te Twyfel


Image result for moenie twyfel nie


Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed voort na
die einde en sal nie teleurstel nie. As dit dalk vertoef, wag daarvoor,
want alte seker sal dit kom en nie versuim nie. – Hab. 2:3

Op 22 April 2017 word ‘n Nasionale Biddag op die plaas Wilde Als digby Bloemfontein gehou. Die HERE gaan gevra word om in te gryp in Suid-Afrika en ‘n einde te maak aan die plaasaanvalle, die brutale moorde, verkragting, kindermishandeling en vele meer gruwels... om die land te normaliseer.
            Meer as ‘n miljoen Gelowiges word verwag, maar miljoene landwyd wat nie daar kan wees nie, sal ook saam bid van 12nm tot 2nm waar hulle ook al is.
            Vraag is: Sal die gebede beantwoord word? Ja beslis, maar daar is ook ‘n kans dat dit nie beantwoord sal word nie.
            In die boekie Expectation Corner van Adam Slowman wandel Slowman deur GOD se skatkamers.  Een van die skatkamers is die Vertraagde Seëninge Kantoor, waar GOD in Sy wysheid sekere dinge wat voor gebid word terughou tot op ‘n bestemde tyd.
            Dit neem baie van ons soms te lank om te besef dat vertraging nie weiering beteken nie.
            Baie van ons pluk ons seëninge nog groen in die mandjie, soms lank voordat dit ryp is.
            Jes. 30:18 …Welgeluksalig is almal wat op Hom wag
            Die HERE waak oor ons  struikelgang en Hy sal nooit toelaat dat ons bo ons kragte beproef word nie.
            Ons durf nie in Sy Liefde twyfel nie. Ons moet onsself ophef en Sy naam grootmaak in lofprysinge want die antwoorde en die oorvloed is beslis op pad.
            Jy was mos al op ‘n lughawe of treinstasie om ‘n kind of kennis op te haal en dan is daar ‘n vertraging van etlike ure en daai ure voel vir jou langer as ooit. Vandag is dit makliker wat hulle bel per selfoon en laat weet dit gaan goed en ons is beslis op pad. So kan ons vol vertroue op die HERE wag want vir seker gaan Hy antwoord. Ons hoef Hom nie te be; nie, glo net, dis al.
            Jes. 40:28-31 … Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
            En dan die aller belangrikste: Weier om te twyfel, want hy wat twyfel moenie dink dat (let op) hy iets van die HERE kan ontvang nie. Jak. 1:7. Twyfel sal enige gebed sink.
            Die werklikheid is dat die Christen geen keuse in ‘n aangeleentheid moet hê as suiwer om positief te bly en op God te vertrou nie.
            Die teenkant van die saak is dat as ons nie positief bly en God 100% vertrou nie, dan twyfel ons en dan kan ons niks – nie eers iets nie – van die HERE verwag nie.
            Ons bid dan en vra God se wil.  Hy kan nee sê of Hy mag ja sê.  Die belangrikste daarna is God se tyd skedule.  As dit Sy wil is sal Hy sy Woord gestand doen en die antwoord gee.  Vir seker!
            As ons egter intussen begin twyfel, dan gebeur niks want God laat hom nie bespot nie.  Of ons glo en vertrou Hom as ‘n waarmaker van sy Woord, of ons bevraagteken Hom of ons twyfel.
            Besluit nou en besluit finaal:  Ek gaan God vertrou, ek gaan nooit weer twyfel nie!

Sondag 26 Maart 2017

Verwagting:- Dit gaan weer gebeur!


Image result for Vrou raak aan Jesus se kleed en genees

In Mattheus word ‘n vrou genees nadat sy aan Jesus se kleed geraak het. Jesus self het erken dat sy genees is.

            Skriftuurlik was haar genesing nie moontlik nie. Sy kon op geen Bybelse strofe staatmaak nie. Daar het niks in die Skrif bestaan oor Jesus se kleed nie, en hoekom sou daar? ‘n Kleed is ‘n kleed. Dit het niks met genesing te doen nie. Daar staan wel geskryf: “... niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” Matt 17:20; Matt 19:26
“Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.” Matt 9:22. Daar staan baie in die Skrif oor geloof, maar niks oor Jesus se kleed nie.
            En kyk hierna: “En daar is meer en meer Gelowiges in die HERE bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue, sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee wat op iemand van hulle sou val.
            Ons is op die vooraand van ‘n magtige Herlewing wat sal bestaan uit gevallenes wat na die HERE terugkeer, Wedergeboortes en wonderwerke.
“En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.” Hand 5:14-17
Dit moes darem maar erg gelyk het, byna soos ‘n oorlogsone: “… sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, (waarom?) met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee wat op iemand van hulle sou val.
            Die aanvaarbare manier vir genesing volgens die Skrif, is om die sieke te seën met olyfolie en die hande op te lê.
            Maar kyk nou hierna: “En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.”
            Voordat doeke en voorskote in hierdie geval in die prentjie gekom het, was daar geen Skrif of lering dat so iets gedoen kan word en of dit ooit moontlik kon wees nie.
            Op ‘n dag spuug Jesus in die grond en maak bietjie modder wat hy aan ‘n blinde man se oë smeer en hom stuur om sy oë in die Bad van Siloam te gaan was.
            As die blinde dit nie gedoen het nie, of as hy sy gesig op ‘n ander plek gaan was het, sou hy nie gesien het nie. Hy moes ook gehoorsaamheid leer.
            In Lukas is die verhaal van die blinde man van Jerigo. Hy het genesing versoek en Jesus het gesê: “Jy sien,” en toe sien hy.
            As die twee blindes mekaar eendag sou ontmoet het en die een het van sy modderstorie en die Bad van Siloam vertel, sou die ander sy storie vertel het en die twee sou waarskynlik aan die stry geraak het oor wie is deur wie genees, en net daar sou ons die eerste kerkskeuring beleef het.
            God is soewerein. Sy liefde oorheers alles. Hy sal help, altyd, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Al bestaan daar nie Skrif voor nie, God sê Hy kyk nie na wat ons doen nie, maar hy kyk na die motief van ons hart.
            Bid ernstig vir 22 April se massa Dag van Gebed om 2nm op die plaas “Wilde Als” digby Bloemfontein.
·       Dit word versoek dat alle kerke in die dorpe en stede daardie Saterdagmiddag sal oop wees sodat almal wat nie die
reis na Bloemfontein kan onderneem nie, presies om 2nm in hul kerke sal begin bid. Die hele volk word opgeroep.
“Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.
Die een geslag prys U werke by die ander, en hulle verkondig U magtige dade.
Ek wil spreek van die glans van U heerlike majesteit en van U wonderbare dade.” Ps 145:3-5
Charles Finney sê oor Oorwinnende gebed: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” Jak. 5: 16

Gered deur een letter


Lady Huttington was 'n Christenvrou. Tydens 19e eeu  se Herlewing in Engeland, was sy 'n beroemde vrou. Een dag vra iemand haar, hoe het dit gekom, dat sy wat so 'n hooggeplaaste en bekende vrou is, tot bekering gekom het.

 

Haar antwoord: "Deur een letter." "Deur één letter! Hoe was dit?"

Sy glimlag. "Ja. In die Here se Woord, by 1 Kor 1:26, het ek gelees: 'Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie...'"

Die Engelse vertaling: "For see your calling, brethern, how that not many wise men after the flesh, not many mighty, not many noble, are called..."

Sy het verduidelik: "It says: 'Not many noble are called. That 'm' saved my soul; for if He had said: 'Not any noble,' I must have been damned. So God blessed the little letter 'm' before any to the salvation of my soul.'"

            Ja, dit sou 'n verdoemende woord gewees het as daar gestaan het, "not any", dit wil sê "geen" invloedrykes, is geroep nie. In geen posisie of toestand, of dit hoog of laag is, niemand word uitgesluit van die verlossingsboodskap van Christus nie.

            Richard Baxter het geskryf: "Ek is bly die HERE het gesê elkeen wat Hom aanneem sal gerede word. As Hy gesê het Richard Baxter, sou ek gedink het Hy verwys na ‘n ander Richard Baxter, maar wanneer sê elkeen, dan sluit dit my, die slegste van al die Baxters, ook in.”

            Niemand is te gering om by Jesus welkom te wees nie. Hy het almal ontvang. Hyself is laer as enige ander mens gebore. Gebore in 'n stal en Sy wiegie 'n krip. Hy het laer as enige ander mens gesterf. As misdadiger sterf Hy tussen twee rowers aan 'n kruis.

            Oor Homself het Hy gesê: "Ek is sagmoedig en nederig van hart." Matt 11:29. En tog is Hy ook Koning op Sy Hemelse troon.

            Iemand sê nou anderdag: “Jesus sal my nie wil hê nie, ek het te veel sonde.”

            “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Jes 1:18

Gees se gawes laat vrug van Gees groei


Image result for gawes van die heilige gees

Genadiglik het elke Christengelowige verskillende en afsonderlike genadegawes van die Heilige Gees ontvang.
            Die klem lê op die genade van die gawes. Soms ontvang een persoon meer, of minder, gawes as ’n ander.

            Baie kere beskik baie van ons oor dieselfde gawes – alles geskenke uit die hand van God. Gawes wat strek van wysheid, die mate van geloof, onderskeidingsvermoë, tot die vermoë om in tale te kan praat en om dit uit te lê, om wonders te kan doen.

            Gawes wat deur die Heilige Gees aan ons uitgedeel is soos wat Hy (die Heilige Gees) dit goedgedink het. Gawes wat Hý aan ons individueel en afsonderlik gegee het om geestelik reg te kan funksioneer.

            Tog moet ons nie die gawes met die vrug van die Gees verwar nie. Dit wat vanuit hierdie verskeidenheid gawes uitvloei, is die vrug van die Gees.

            Waar die gawes onder gelowiges verdeel word, is al nege aspekte wat die vrug vorm – die een kan nie sonder die ander nie – deel van elke Christengelowige. Hoe meer ons die gawes gebruik, hoe groter en ryper en voller sal die vrug wees.

            ’n Lewe vol van die Heilige Gees vertoon die vrug van die Gees waar liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing sigbaar uitgeleef word.

            Daarom gebruik die Heilige Gees ons gawes om die vrug te laat groei. Dit is as’t ware die oes op die gawes.

            Laat elkeen dan ons gawes gebruik om die vrug te dra, want ’n boom sal aan sy vrug(te) geken word . . . – Ds Johannes de Bruyn, GK, Harrismith

Wat se Hosea oor 22 April?

Image result for Its time Angus buchan

Hosea 4: “Hoor die woord van die HERE, o kinders van Israel! Want die HERE het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.
Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak. (Ook geestelike owerspel, soos vriendskap met die wêreld)
Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om.
Laat net niemand met ons twis of ons berispe nie! Nogtans is jou volk soos die wat met die priester twis!
Daarom sal jy struikel bedags, en ook die profeet saam met jou struikel in die nag, en Ek sal jou moeder te gronde laat gaan.
My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.
Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig. Ek sal hulle heerlikheid in skande verander.
Hulle lewe van die sondoffer van my volk, en na dié se ongeregtigheid verlang hulle siel.
Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk – Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade.
Dan sal hulle eet, maar nie versadig word nie; hulle sal hoereer, maar nie uitbreek in menigte nie; want hulle het nagelaat om die HERE te vereer.
Hoerery en wyn en mos neem die hart weg.
volk raadpleeg sy hout, en sy staf moet hom die inligting gee; want 'n gees van hoerery het hulle verlei, en deur hulle hoerery het hulle van hul God afvallig geword.
Hulle offer op die bergtoppe en laat rook opgaan op die heuwels, onder die eike en populiere en terpentynbome, omdat die skaduwee daar goed is. Daarom pleeg julle dogters hoerery, en julle skoondogters bedryf owerspel.
Ek sal oor julle dogters geen besoeking doen omdat hulle hoereer nie, en ook nie oor julle skoondogters omdat hulle owerspel bedryf nie; want die manne sonder hulleself af met die hoere en offer met die tempelhoere. So kom dan die volk wat geen verstand het nie, tot 'n val.”
As jy hoereer, o Israel, laat Juda hom tog nie skuldig maak nie! Kom dan nie na Gilgal nie, en gaan nie op na Bet-Awen nie, en sweer nie: So waar as die HERE leef!
Want Israel is wederstrewig soos 'n wederstrewige koei; nou sal die HERE hulle laat wei soos 'n lam in die oop veld.
Efraim is gekoppel aan die afgode: laat hom staan!
As hulle drinkery verby is, dan hoereer hulle te meer. Hulle vorste is versot op skande.
Die wind bind hulle in sy vleuels, sodat hulle oor hul offers beskaamd sal staan.”

Jak 4:4-5 voeg by: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God.
Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?”

“Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel!
 Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek.” Ps 81:14-15

Op 22 April word die volgende van die volk verwag: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” 2 Kron 7:14

En verder:

“Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid.
Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.
Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie! Want by U vind die wees ontferming.
Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.
Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos 'n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon.
Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van 'n olyfboom en sy geur soos die Líbanon.
Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon.
Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos 'n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.
Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!” Hos 14:2-10
“Geloofd sy YAWEH, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!” Ps 106:48



Vergifnis

Image result for brothers hugging


“En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.

“En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.

“Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.


“Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.” Matt 18:15-19

Wat se Jeremia oor 22 April 2017?


Image result for peaceful person in nature


Jeremia sê: “Ag, was my hoof maar water en my oog 'n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my Volk. (Dis darem ‘n bitterlike groot hartseer)
“Ag, het ek in die woestyn maar 'n herberg (gastehuis) vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek; want hulle is almal owerspelers, 'n hoop ontroue mense. (Dan kon hy ontslae wees van die Volk en hulle euwels en sou hy net met verbygaande reisigers hoef te werk)
Wat doen die volk dan wat Jeremia so erg ontstel?
“Hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE.
“Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.
“En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.
“Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die HERE.
“Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die Dogter van my Volk?
“Hulle tong is 'n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne.
“Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie?” Jer. 9:1-9
Daarom: Op 22 April 2017 sal die Volk die HERE God YAWEH vra om hierdie Suid-Afrika te besoek!

Nuutste oor die BFN beplanning
‘n Groep leiers was gister (Donderdag) bymekaar by n inligtingsessie van Angus Buchan oor die “IT'S TIME – Dis Tyd” nasionale gebed wat op 22 April 2017 op n plaas naby Bloemfontein plaasvind. Dit is duidelik dat die omvang van die hele saamtrek so groot is dat dit net deur ons Almagtige God kan gebeur.
Tot op hede is daar al meer as 18 miljoen reaksies in twee weke op sosiale media oor die saamtrek, wat dit seker die meeste maak wat al ooit vir enigiets in Suid- Afrika was... Party negatief maar meeste positief.
Voorspellings toon dat daar baie meer as ‘n miljoen gelowiges bymekaar gaan kom. Daar gaan meer as 350 000 voertuie wees. Meer as 700 toilette is reeds beskikbaar gestel en daar het vandag n persoon onderneem om nog n klomp te gee. Honey Sucker trokke sal omtrent 600 000 liter afval moet wegneem.
Die area waar almal bymekaar kom om te sit is 2km lank en ‘n half km breed.
Al die busse in en om Durban is reeds vol bespreek om mense aan te ry. Daar is reeds ‘n trein wat van Kaapstad af loop net vir die saamtrek.
Van die boere in die omgewing van die saamtrek gaan hul grond beskikbaar maak vir mense om te kamp. Kaartjies kan bespreek word op i-tickets. God is Groot! Ons eer Sy Naam.
·       Let op: Die tyd vir die saamtrek het verander om 12:00nm te begin en 14:00nm af te sluit. Dus moet ons beplan om baie vroeër daar aan te kom. Oom Angus sê dit is om mense die geleentheid te gee om voor donker in die pad te kom terug huis toe.
Alles dui daarop dat dit die grootste geleentheid in die geskiedenis van SA gaan wees. Plek by die saamtrek is daar meer as genoeg. Mense moet asseblief hul eie stoele, sambrele, kos en water bring.

Die Skoenpoetser... ‘het jy God lief?’


So 50 jaar gelede en vroeër kon mens in Kaapstad, en veral in Adderleystraat op die sypaadjie op ‘n stoel gaan sit terwyl ‘n skoenpoetser, jou skoene skoonmaak en blink vryf. Dit was ook in talle ander lande ‘n daaglikse gesig.


            Sommige skoenpoetsers was volwasse mans, ander was jeugdiges.
Die pragtige verhaal word vertel van 'n skoenpoetser  wat een dag in die straat 'n prokureur, wat hy leer ken het, se skoene skoonmaak. Terwyl hy met sorg die man se skoene blinkmaak vra hy: "Mr. Bartlett, het jy God lief?”
Prokureur Bartlett was 'n waardige persoon, maar hy was nie 'n uitgesproke Christen nie. Taamlik geskok antwoord hy: "Hoekom vra jy my dit?"
Die seun vertel van sy probleem. Hy en sy mense woon in 'n bouvallige gebou wat gesloop moet word, en die inwoners moet nou ander blyplek kry. Sy ma het nie vaste werk nie, sy ouma is verlam en sy enigste inkomste is om mense se skoene skoon te maak.
Hy vervolg op sy  manier van praat: "Ek wiet nie wat om te doen’ie. Gister het ek twie manne hoor praat. Die iene seg virrie anner: God sal ienigiemand wat vir Hom lief is help as hulle vi’ Hom seg hulle is innie moeilikheid. Ek het toe gedink om vi’ iemand wat vir God lief is, te vra om vi’ my te bid.’
Die enigste raad wat die verbouereerde regsman kon gee, was dat hy maar net moet vra en hy sal wel iemand kry wat hom sal help. Hy gee die outjie 'n pond en haas hom weg.
Maar na 'n dag van selfondersoek en verwyt, daag hy die aand vir die eerste keer, wat die mense kon onthou, by die biduur op. Hy vertel openlik van sy gesprek met die seuntjie sonder om homself te verskoon.
Die predikant wat die biduur lei, vertel die voorval 'n paar aande later in 'n predikante vergadering. 'n Ander predikant daar weet toe van 'n jongman, wat deur die dieselfde vraag so ontwaak het, dat hy na die HERE toe gekom het en gered is.
Toe sê die derde leraar dat 'n man, wat geweet het hoe om die seun te antwoord, het die seun na sy studeerkamer toe geneem het. Net daar word besluit om die saak verder te voer.
Die seun en sy gesin is met goeie woonplek en versorging gehelp en hulle het vir die seun gereël om behoorlik skool toe te gaan, waar hy soveel belofte vir goeie opleiding getoon het, dat 'n prokureur hom onder sy sorg geneem het om as regsgeleerde opgelei te word.
Hy het 'n bekwame en simpatieke regsman en helper van die jong skoenpoetsertjie geword. Hy self het 'n toegewyde Christen geword, omdat hy iemand raakgeloop het wat vir hom 'n woord by die Hemelse Vader kon doen.
God se werke in ons lewens is breed en ryk. Ons moet net by God uitkom met ons nood.
            “Moenie bang wees nie klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die Koninkryk aan julle te gee." Luk 12: 32
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (ook) by die verbryselde en nederige van gees, (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
            Hou nooit op om te bid nie, veral nie as jy vir God lief is nie!

‘Moenie bang wees nie’


In Mei 1969 het Lord Caradon, die Britse gesant by die Verenigde Nasies, tydens 'n samekoms van die Amerikaanse Bybelgenootskap, vertel van die tyd toe hy tydens 'n stormagtige politieke tyd, goewerneur van Ciprus was.


Lord Caradon is in 1990 op 82-jarige leeftyd oorlede. Sy drie broers
was ook deur die jare Britse parlementslede.

Sy pa het hom ondersteun en vir hom uit Engeland 'n kabel gestuur: "In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie." 2 Kor 4:8
Hy het sy pa in ‘n ander kabel geantwoord: "Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het." Rom 5:3-5
            In die Christen se lewe kom daar teëspoed en teleurstelling. Soos 'n vaardige tuinier weet hoe om sy rose te snoei, sonder om dit te beskadig, weet God ook hoe Hy vir ons toetse moet stuur, om ons op te bou, vrugbaarder te maak, maar ons nie te beskadig nie.
“Sunday School Times” haal aan van die chirurg wat 'n delikate operasie aan iemand se oor moes doen. Hy sê vir sy pasiënt: "Ek mag jou seermaak, maar ek sal jou nooit beseer nie.” Die Groot Geneesheer, Jesus Christus, praat net so mooi met ons, as ons net wil luister.
            Dikwels kry ons Dawid in 'n toestand van nood en beproewing. Altyd is sy toevlug na God toe, vertrouend in Sy goedheid. "Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte." Ps 118:5
            "Moenie bang wees nie... As jy deur water moet gaan, is ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie... vuur... sal jou nie skroei nie. Jes 1:1,2
            “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied.” 1 Kor 16:13-14

Maandag 20 Maart 2017

Die weggooikind



Elizabeth Barrett se ouers het haar onterf en alle bande met haar gebreek, toe sy met Robert Browning getroud is.
Van haar kant het sy haar verhouding met haar ouers probeer red. Elke week het sy vir hulle geskryf, vir hulle vertel hoe lief en hoe nodig sy hulle het, hoe sy na hulle verlang, hoe dit met haar in haar huwelik gaan, watter mooi vooruitsigte sy en haar man het.
 

Elizabeth Barrett, Browning

            Sy het ‘n wonderlike huwelik beleef. Haar man was besonder goed vir haar. Hulle het ‘n huis vanuit die adelstand bewoon, tesame met huishoudster wat na Elizabeth moes omsien. Sy het een van Brittanje se grootste skryfsters en digters geword.
Vir tien jaar het sy nooit van haar ouers gehoor nie. Toe op 'n dag kry sy deur die pos 'n groot kartondoos van hulle af. Uitgelate van blydskap maak sy die groot doos – 'n versoeningsgeskenk het sy gedink – opgewonde oop.
In die doos was al die briewe, meer as 500, wat sy in die tien jaar aan hulle geskryf het. Nie één was oopgemaak nie!
Hierdie liefdesbriewe van Elizabeth Barrett het 'n onskatbare deel van die Engelse klassieke literatuur geword. Maar die doel waarvoor sy dit geskryf het en die pragtige einde wat die storie kon gehad het, is nooit bereik nie, enkel omdat die ouers nie een van die briewe gelees het nie.
            Haar vader het tot op sy sterfbed geweier om haar te vergewe omdat sy gaan trou het.
            Elizabeth was nooit ‘n sterk gesonde vrou nie en op 55-jarige ouderdom is sy een dag in haar man se arms, na die Paradys.
Ons verhouding met ons Hemelse Vader is ook gebreek – van ons kant af. In Sy groot liefde het ons Vader ook aan ons geskryf. Die Bybel is God se brief aan ons, hoe lief Hy ons het, hoe Hy vir ons die pad terug na Hom toe voorberei het, hoe ons na Hom toe kan kom.
'n Hele boek, hoofstukke op hoofstukke, bladsye en bladsye, verse op verse. Hy verlang na ons versoening met Hom. Hy skryf oor Sy liefde vir ons, wat Hy vir ons wil doen, hoe dit tussen ons en Hom moet wees. "Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees." Rom 15:4
            Die groot oorsaak van geestelike armoede, swakheid, duisternis, is die ongeopende Bybels. As ons die Bybel met soekende hart lees, verlig die Heilige Gees ons hart en ons leer deur die Here Jesus Christus, God ken as ons Vader wat ons liefhet en vir ons sorg.
            Hy het ons so lief dat Hy ons nie verwyt nie, maar van harte begeer om saam met Hom in die Paradys te wees.