Wys tans plasings met die etiket aangenome kinders. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket aangenome kinders. Wys alle plasings

Donderdag 26 April 2018

Jesus het die Ekstras lief!




Is jy straks ‘n ekstra?


Aangenome kinders wat nie hul biologiese ouers opgespoor kan kry nie, of ouers wat nie hul biologiese aangenome kinders wil aanvaar nie, is ‘n goeie voorbeeld van ‘n ekstra.

"Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie." Luk 12:4-7

            Om te verstaan wat hierdie strofe bedoel, moet mens na die getuienis van ‘n klein Spaanse seuntjie luister.

In die King's Business word vertel van 'n Spaanse seuntjie in Vigo, wat 'n toegewyde volgeling van die Here Jesus geword het.

'n Christen Engelsman vra hom eendag, wat tot sy bekering gelei het?

Die seuntjie antwoord: "Dis die ekstra mossie wat dit bewerk het."

"Die ekstra mossie?" vra die man verwonderd.

"Sien, Senór, dit het so gewerk. 'n Man het eendag vir my 'n Bybel gegee. Ek lees toe op een plek dat Nuestro Senór Jesus (ons Here Jesus) gesê het, twee mossies word vir een chico verkoop. Op 'n ander plek lees ek Hy sê, vyf mossies word vir twee chicos verkoop.

Toe dink ek, Nuestro Senór Jesus ken darem ons tradisie van voëls verkoop baie goed. Senór weet mos, ons vang voëls en verkoop dit: twee vir een chico en vier vir twee chicos, maar dan gooi ons sommer 'n ekstra voëltjie, die vyfde een, by.

Hy tel nie eintlik nie. Hy word sommer net gegee.

Toe dink ek by myself: ek is so arm en nikswerd en klein, niemand tel my ooit by nie. Ek is sommer net niks. Ek is soos daardie ekstra mossie. En tog, is dit nie wonderlik nie, Nuestro Senór Jesus sê: 'nie een van hulle word deur God vergeet nie.' Ook nie die ekstra, verniet, een nie.

Ek het nog nooit so iets gehoor nie, Senór. Niemand as net Nuestro Senór Jesus sou aan so iets kon dink nie! Toe weet ek, ek tel ook by Hom en toe bid ek en ek sê: 'Nuestro Senór Jesus, vat my ook asseblief.' Toe weet ek Hy het my gevat. En nou lewe ek vir Hom."

Al voel jy soos ‘n ekstra mossie, kom, daar is plek vir jou ook.

En al lyk iemand anders vir jou soos ‘n ekstra mossie, Jesus wag vir hom en vir haar, sorg dat jy hulle bereik. Jesus het die ekstra mossies baie lief. – Sjibbolet

Maandag 20 Maart 2017

Die weggooikind



Elizabeth Barrett se ouers het haar onterf en alle bande met haar gebreek, toe sy met Robert Browning getroud is.
Van haar kant het sy haar verhouding met haar ouers probeer red. Elke week het sy vir hulle geskryf, vir hulle vertel hoe lief en hoe nodig sy hulle het, hoe sy na hulle verlang, hoe dit met haar in haar huwelik gaan, watter mooi vooruitsigte sy en haar man het.
 

Elizabeth Barrett, Browning

            Sy het ‘n wonderlike huwelik beleef. Haar man was besonder goed vir haar. Hulle het ‘n huis vanuit die adelstand bewoon, tesame met huishoudster wat na Elizabeth moes omsien. Sy het een van Brittanje se grootste skryfsters en digters geword.
Vir tien jaar het sy nooit van haar ouers gehoor nie. Toe op 'n dag kry sy deur die pos 'n groot kartondoos van hulle af. Uitgelate van blydskap maak sy die groot doos – 'n versoeningsgeskenk het sy gedink – opgewonde oop.
In die doos was al die briewe, meer as 500, wat sy in die tien jaar aan hulle geskryf het. Nie één was oopgemaak nie!
Hierdie liefdesbriewe van Elizabeth Barrett het 'n onskatbare deel van die Engelse klassieke literatuur geword. Maar die doel waarvoor sy dit geskryf het en die pragtige einde wat die storie kon gehad het, is nooit bereik nie, enkel omdat die ouers nie een van die briewe gelees het nie.
            Haar vader het tot op sy sterfbed geweier om haar te vergewe omdat sy gaan trou het.
            Elizabeth was nooit ‘n sterk gesonde vrou nie en op 55-jarige ouderdom is sy een dag in haar man se arms, na die Paradys.
Ons verhouding met ons Hemelse Vader is ook gebreek – van ons kant af. In Sy groot liefde het ons Vader ook aan ons geskryf. Die Bybel is God se brief aan ons, hoe lief Hy ons het, hoe Hy vir ons die pad terug na Hom toe voorberei het, hoe ons na Hom toe kan kom.
'n Hele boek, hoofstukke op hoofstukke, bladsye en bladsye, verse op verse. Hy verlang na ons versoening met Hom. Hy skryf oor Sy liefde vir ons, wat Hy vir ons wil doen, hoe dit tussen ons en Hom moet wees. "Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees." Rom 15:4
            Die groot oorsaak van geestelike armoede, swakheid, duisternis, is die ongeopende Bybels. As ons die Bybel met soekende hart lees, verlig die Heilige Gees ons hart en ons leer deur die Here Jesus Christus, God ken as ons Vader wat ons liefhet en vir ons sorg.
            Hy het ons so lief dat Hy ons nie verwyt nie, maar van harte begeer om saam met Hom in die Paradys te wees.











Saterdag 19 Desember 2015

Jou Geheime is reeds Bekend!


Image result for Person looking sad


Die groot Hartseer in die Feestyd

In Suid-Afrika is daar hartseer, sielesmart, droefheid, verdriet… omdat die biologiese ouers van aanneemkinders, weier om met hul biologiese kinders versoen te raak.
Daar is ook gevalle waar aanneemkinders nie met hul biologiese ouers versoen wil raak nie. Hulle haat meesal hul biologiese moeder en meen dat hulle weggegooi is, sonder om hulself te vergewis van die omstandighede van destyds.
In baie gevalle was dit die grootmense en die predikant wat besluit het die kind moes vir aanneming opgegee word. In baie gevalle is die kind as ‘n skandebaba bestempel. Die onskuldige baba is letterlik verwerp.
Meeste aangenome kinders ly erg aan verwerping.
Biologiese ouers is die spreekwoordelike doring in die vlees van die groot hartseer omdat hulle nie eerlik was om aan hul huweliksmaats die waarheid te vertel het van die ongehude baba van jare gelede nie.
Hulle dink dat hulle dit vir altyd sal kan wegsteek.
Die Skrif lees: Ps 44:22  Want God ken die geheime van die hart.
Dan 2:28  Daar is 'n God in die Hemel wat geheime openbaar.
1 KOR 13:2  En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.
Sommige meen hulle sal met hul geheim na die graf gaan, en hulle oorskot is skaars begrawe of die waarheid seëvier.
“Die waarheid hou altyd, die leuen kom gou aan die lig.” Spr 12:19
“Want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.” Matt 10:26
“Wie geheime hou sal nie voorspoedig wees nie, wie bely sal genade ontvang.” Spr 28:13
Jare lank loop biologiese ouers met hierdie geheime in hul binneste. Geen mens kan ‘n normale lewe lei met so ‘n geheim nie. Jou geheim veroorsaak ‘n binding in jou gees en jare se onnodige swaarkry. Elke verjaardag, Kersfees, ens., dink jy aan jou baba. Die gedagtes los jou nooit.
Boonop is diesulkes skuldig aan ‘n veel groter misdryf… hulle staan in die pad van die vervulling van God se profesieë.  
            Maleagi profiteer: "Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders versoen,
sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie." Mal 4:5-6
            “En hy (Johannes) sal voor Hom (Jesus) uitgaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” Luk 1:17 … (en wat nog?)…en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.
            Lees dit weer want dit is God se Raadsplan.
            Die hoofrede hoekom daar ‘n drang onder aanneemkinders en biologiese ouers is om mekaar te vind, is omdat dit juis deel van God se Raadsplan hier aan die einde van die tye is.
            Enigiemand wat God se Raadsplan in die wiele ry, speel met vuur. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Hebr 10:31
            Aanneemkinders ly aan verwerping. Op laerskool al verduur hulle spot en hoon as optelkinders en dit terwyl hulle heeltemal onskuldig is.
            Dis hartverskeurend om met aanneemkinders te werk wanneer hul ouers weier om met hulle kontak te maak.
            Ons sit met verhale van stukkende aanneemkinders. Die een oomblik is daar weiering tot versoening en nie lank daarna nie moet een van die partye na berou troos vind in die foto van ‘n grafsteen. Dis alles so onregverdig, so onnodig. Ons sit met verhale van biologiese ouers wat hul lewe lank die geheim van ‘n ongehude baba met hulle saamgedra het. Hulle vertel van hul lyding deur die jare, hul vrese dat die waarheid straks iewers op die lappe kan kom… en wat gaan hul huweliksmaats en biologiese kinders se reaksies wees!
            ‘n Kind mag aangeneem wees, maar die DNA-band is vir altyd. Bloed is dikker as water, beslis. Net die Waarheid maak vry.
            Nêrens in die Bybel is enige regverdiging vir aanneming nie. Waar kinders wel aangeneem moet word weens buitengewone omstandighede, is dit die familie se plig om die kind groot te maak.
            En al is jou kind aangeneem, hou God jou steeds verantwoordelik want so maklik kan geen mens van sy verantwoordelikhede ontslae raak nie.
            Kyk hoe intiem ken God jou en jou kind:

“Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur,
EK sal jou nie vergeet nie.
EK het jou naam in my handpalms gegraveer.” – Jes 49:15-16
***
“Die Here het my voor my geboorte al geroep; toe ek nog in my moeder
se liggaam was, het Hy my op die naam geroep.” – Jes 49:1
***
“Moenie bang wees nie. EK verlos jou. EK het jou op jou naam geroep, jy is MYNE.” – Jes 43:1
***
“EK het jou uitverkies. EK het jou nie verwerp nie.” – Jes 41:9
***
“U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien, toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” - Ps 139:12-16
***
“U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.” Ps 70:6
***
“Al sou my vader en my moeder my verlaat. Die Here sal my onder Sy sorg neem.” Ps 70:6
***
“Van my geboorte af is ek onder U sorg, van die begin van my lewe af is U my God.” – Ps 22:11
***
“So sê die Here:   Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou oë hê nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word. . .” Jer 31:16
***
Dis duidelik dat God van elke ongebore baba bewus is.
Daar is moeders wat hul babas geaborteer het. Jy is nie ontslae van jou probleem nie. Jou baba wag vir jou in die Hemel… vir seker!
            “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.
Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.
Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Matt 10:28-31    
            Vroue maak hul ongebore babas dood of laat hulle doodmaak, maar geen mens kan ‘n siel doodmaak nie.
            Daar is ook aanneemouers wat besitlik en jaloers op hul aangenome kinders is, meesal uit vrees dat die kinders hul rug op hul aanneemouers sal draai.
            Niemand kan in sulke omstandighede ‘n normale lewe lei nie. Diesulkes sukkel ook om die dieper lewe in Christus Jesus deelagtig te word. Die binding in hulle gees verhinder hulle van groot vryhede in Christus.
            Dit striem ook die verhouding met hul naastes. Net die Waarheid maak vry en lei tot ‘n oorvloed van geestelike seëninge.
            Om in ‘n toestand van tevredenheid te leef is nie vrede nie.
            Plaas jou volle vertroue op Jesus Christus.
            Kyk wat sê die HERE: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Jes 1:18
            En: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
            Moenie vrees dat sommige jou sal veroordeel nie... die HERE praat met hulle ook.
            Geen volgeling van Jesus Christus moet dink dat dit vir hom of vir haar onmoontlik is om te struikel en selfs te val nie, selfs so ver dat hulle Christus verloën.
            1 Kor. 10:12 waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
            Petrus had ‘n geleentheid wat nie een van ons ooit kan hê nie, hy het fisies, sy aan sy, met Jesus Christus gewandel. As iemand soos Petrus tot ‘n val kon kom, wat dan van ons?
            Baie Christene het deur die jare gestruikel. Ander het selfs geval. Sommige gaan darem nog kerk toe, maar is basies geestelik dood vanweë die groot seerkry. Hulle het gestruikel en het berou getoon en om vergifnis gevra, maar kan nie hulself vergewe nie.
            Wat dit veel erger maak, is wanneer mede-Christene iemand wat gestruikel het, nie wil vergewe nie, nie wil ophelp nie, nie vir hulle bid nie.
            Wanneer iemand struikel en selfs val, dan word medegelowiges ewe streng getoets. Verkeerde optredes teenoor die struikelendes en die gevallene, beteken jy het jou toets gedop.
            Ons is een familie, GOD se Volk, as een lid ly, ly die hele liggaam. Ons is veronderstel om vir mekaar te bid, mekaar se las te dra.
            GOD sê: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh, 1:9
            GOD sê ook: “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.
            “Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.” Han. 4:7-8
            Wanneer ons, ons sondes bely se GOD ook: “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.” Heb. 8:12
            Christene wat die HERE Jesus Christus in ons tyd verloën het, het baie maal probeer om na die weë van GOD terug te keer, maar ons wou hulle nie vergewe nie, ons wou hulle nie toelaat om terug te keer nie – ten spyte daarvan dat God in sy Almag sê Hy het hulle sondes vergewe en hulle van alle ongeregtigheid gereinig.
Dis wat GOD gedoen het, maar ons wil dit nie doen nie! Wie is nou die groot sondaar, Petrus, of jy?
Die rede waarom sulke mense graag weer by die HERE wil uitkom, is omdat die Gees van GOD hulle dring om dit te doen, omdat GOD hulle vergewe het, omdat GOD steeds vertroue in hulle het, maar ons het nie. GOD gaan haal Sy verlore skape. Hy is ons Herder.
Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk, besef ons, as ons berou het en bely, GOD ons graag terug in die kudde wil hê en ons boonop graag ook magtiglik wil gebruik.
En aan diegene wat diesulkes nie wil vergewe en nie wil terugneem in die kudde nie, en hulle voortdurend beskinder, spreek Gal. 6: 1 boekdele wanneer hy sê:
“Broeders, as ‘n mens ewenwel deur die een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reg help met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself  let, dat jy nie ook versoek word nie.”
En dan die opdrag in strofe 7: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus, want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself, maar laat elkeen sy werk op die proef stel; en dan sal hy grond van roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander een betref nie.”
En, na alles, is dit vir ons ook moontlik om daagliks geestelik saam met Jesus Christus te wandel.
Onthou, GOD wil van die klippies rotse maak!
            En jy gevallene, staan op, GOD wag vir jou!
Hy sê vir jou soos Hy ook vir Josua in Sag. 3: 1,3,4 gesê het: “Ek wil jou oortredinge vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek!
            Kyk wat sê GOD in Jes 57:15 “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (en waar ook?) en by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.
Kom ons maak alle harte heel in hierdie Feestyd.  – Sjibbolet

As jy enige geestelike hulp, gebed of berading verlang skryf aan Belinda Paar (belindapaar@gmail.com)