Sondag 17 September 2017

Jy doen dit vir die Here


Image result for brooms


Die Besembestuurder met ‘n liksens
Getuienis uit Bethlehem

Ek kom vanoggend so 07:15 by die werk, sluit my werkswinkel oop en dank my Hemelse Vader vir die werkswinkel, esondheid en omdat ek SY vrede en vreugde ervaar.
            Die eerste klant kom vinnig nader en klim uit sy motor met ‘n Wimpy koffie in sy hand en kla dis nie meer die koffie van ouds nie.. ‘n Ander persoon wat ek ken kom van die slaghuis af opgestap met ‘n pakkie vleis en al kouende aan sy biltong grom-groet hy so asof dit ‘n stryd is om te lewe.
            Ek besluit vandag wil ek luister en ek het goed geluister…
            Dit is nou 18:00, en ek wil jou vertel wat ek vandag gesien en ervaar het.
            Ouens met baie geld kla oor pryse wat te hoog is. Die biltong man sê daar Is amper geen vleis op die rakke nie. Die ander ou kla oor ou brood en ‘n
ander oor ‘n koue hamburger.My suster kla oor haar CD speler wat skoongemaak moet word en dit kos R 80-00 wat sy nie kan betaal nie, want sy het nie geld nie.
            Ek vertel jou kortliks wat ek vanoggend gesien en ervaar het. Die mense kla en kla en ek wens hierdie klakouse met wie ek net vandag te doen gehad het kon sien en ervaar wat ek vroegoggend gesien het – ek wonder waaroor hulle dan sou kla.
Terwyl die ou oor sy koue hamburger kla, vang my oog ‘n ou Bruinman wat in die slaghuis se vullis sakke krap. Ek hou hom dop. Hy krap iets uit, ruik daaraan, hap en sluk sonder om te kou. Ek stap nader na hom.
            “More”, groet ek. “Wat is jou naam?”
            “My naam is Abraham my lanie” antwoord hy.
            “Nou wat doen jy so vroeg hier tussen die ou vrot goed ou Abraham?”
            “Ek is honger my lanie.”
            “Maar ou Abraham, die goed is vrot.”
            “Ek weet my lanie, maar die Jere het nog nie vandag vir my ‘n ietsie afgegooi nie, maskien Hy is kwaad vir my.”
            “Ou Abraham, hoekom vra jy nie vir geld as jy iets wil koop om te eet nie?”
            “Ek het my lanie, maar daardie man” (en hy wys na die biltong eter,) “hy het my amper netnou gaslaan, hy sê ek moet voetsek!”
            “Hoe oud is jy Abraham?”
            “78 my lanie.”
            “Waar bly jy Abraham?”
            “Daar bo teen die berg” (Dis 8 km).
            “En jou mense, ou Abraham?”
            “Net my vrou bly by my, mar sy bene kan nie meer werk nie nou kan sy nie uit die huis kom nie”.
            “Kry jy oumens  pension, Abraham?”
            “Nee my lanie, nog nie, maar Mandela sal nog plan maak, so ek wag maar!”
            Abraham se broek is nie meer ‘n broek nie – sy skoene het nie sole nie en daar is iets aan sy lyf wat dalk lank terug ‘n hemp kon gewees het. Ek vra in my binneste ‘HERE, wat nou?’ maar ek kry geen antwoord nie, ek hoor niks.
            “Ou Abraham, ek dink regtig nie die HERE het van jou vergeet nie.”
            “Ja my lanie.”
            Die ou oë is glasig en dof, sy kop hang al vooroor soos hy jare lank al probeer om naby hom te sien. Die vulliswa trek in om die vullis te verwyder, en die manne verskreeu ou Abraham.
            “Waarnatoe gaan jy nou, ou Abraham?”
            “Ek gaan brood soek om huis toe te vat my lanie – ek het klaar ‘n kannetjie vir die water.”
            Ou Abraham het ‘n glimlag om sy geplooide mond. “As my lanie wil kan ek ‘n besem bestuur en die plek mooi skoon vee vir ‘n stukkie brood.”
            Ek dink by myself: ‘Is dit nou U HERE wat deur Abraham praat?’
            “Ou Abraham, is jy seker jy het ‘n liksens om die besem te bestuur?”
            “Ja my lanie, my vrou het dit vir my gagee toe sy bene siek geword het.”
            “Dis goed so Abraham, die mense jaag jou oral maar vandag het die HERE jou ‘n groot werk gegee – jy is van vandag af die ‘General Manager’ van die besems; jy is die Baas van die besems; hierdie besems gaan vir jou koffie gee. ‘n Manager moet ook mooi skoon aantrek en ‘n geldjie hê vir die ou vrou by die huis. Ek sien jy is ‘n man wat vir ons nog baie in die toekoms gaan leer oor die lewe, ou Abraham”
            “Kan ek elke dag inkom my lanie?”
            “Ja Abraham, want Vrydae kry die Besem Managers ‘n lekker Wimpy ontbyt en Besem Managers werk net van 8 – 11 want Besem Managers het tyd nodig vir hulle siek vroue.”
            “Is reg so my lanie, ek sien nou die Jere het ‘n ander plan gahad vandag en ampor dink ek Hy het my en die ou vrou gavageet. Jammer Jere omdat ou Abraham nie reg vastaan het nie.”
            Ek is die HERE my God vandag so dankbaar vir iemand wat nie oor biltong kla nie, iemand wat nie oor leë rakke in die vleismark kla nie, iemand wat nie oor koue hamburgers en koffie kla nie. Ek is my Vader so dankbaar dat Hy ou Abraham nie vergeet het nie.
Doen my, jouself en ander ‘n guns – en probeer net een dag niks kla nie, want ou Abraham was vandag vir my so ‘n groot inspirasie. ‘n 78 jarige half blinde man met toiings aan sy lyf wat nog steeds glimlag!
            En ek sê met trots – vandag het ek ‘n waardige, my beste ooit, besembestuurder gekry!
            Die HERE is vir ons so goed en as ek voel dit druk, kyk ek na my besembestuurder en ek weet – ek het mos niks om oor te kla nie…
            “En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt 25:40

Vind die ongeslypte diamante


Image result for ongeslypte diamante

Vind die ongeslypte diamante... die Groot Steensnyer doen die res.
Die “Ster van Suid-Afrika”, is `n diamant van 83.5 karaat, d.w.s. 16.7 gram, wat in 1869 op die plaas Sandfontein, in die Hopetown distrik, naby die Oranjerivier deur `n Griekwa skaapwagtertjie, Swartbooi, opgetel is.
Schalk van Niekerk, die boer aan wie die skaapwagtertjie die groot diamant gaan gee het, se optrede was in lyn met die Koninklike Wet: As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
Schalk het die klip dadelik as `n diamant herken. Die diamant was natuurlik nog dof en ongeslyp, maar dit het anders as die ander klippe gelyk.
Hy kon die skaapwagtertjie twee of drie skape gegee het, en hy sou dood gelukkig gewees het oor die groot beloning wat hy kry. Schalk van Niekerk het egter sy kraal leeg gemaak en vir hom 500 skape, 10 beeste en `n perd gegee. Self het hy die diamant later vir elf duisend pond aan Lilienfeld Brothers op  Hope Town verkoop. Dit het gou sy weg oorsee gevind/
Die “Ster van Suid-Afrika”, soos die Griekwaseuntjie hom opgetel en vir Schalk gegee het, was wel reeds baie kosbaar, maar nog nie kroongehalte nie. Die diamant wat kroon toe gegaan het, moes eers vrygemaak word van die dowwe dopsteen wat van nature om `n diamant is.
‘n Diamant kom nie skitterende uit die grond nie. Die dowwe omhulsel moet eers afgekap of weggeslyp word voor dit die glansende, skitterende juweel is wat ons in verloofringe, borsspelde en krone ken.
Die diamant wat kroon toe sou gaan, is weke lank deur die steensnyer, bestudeer, totdat hy al die nate van die steen geken het. Toe sit hy dit in sy kapinstrument en gee dit een hou.
Die dofsteen het afgespring en die skitterende diamant het te voorskyn gekom. Na dit nog geslyp en gepoleer is, is dit in die kroon gemonteer.
            Die bekeerde mens is reeds vir God `n kosbare juweel, `n kosbare diamant. Die mens se sondige natuur is, soos die diamant se natuurlike dofrots, om `n mens se kosbare siel gevou.
Dis hierdie sondige aard, die menslike dofrots, wat die Christen van sy glans beroof. Die Here Jesus is die steensnyer wat elke naat van ons natuur ken. Hy weet hoe Hy die hou, deur sy Woord, of `n beproewing wat ons tref,  reg sal laat meewerk meewerk om die glinsterende diamant te voorskyn te bring... om van ons kroongehalte diamante te maak.
Soms sê Christene iemand is gered, maar hy of sy is nog ‘n ongeslypte diamant. Maar hou jou hand en veral jou tong terug van so iemand. Dit is God se eiendom en Hy sien om na daardie diamant (hoekom?) want Hy sê:
“Hy wat 'n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus.” Fil 1:6
“En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” 1 Pet 5:10
Al wat ons moet doen is om saam met die Engele in die Hemel bly te wees vir ‘n nuwe siel en te kyk waar kan ons die volgende persoon met die Evangelie bereik.

Vrydag 15 September 2017

Ons moet Jesus se gebed en wens vervul


Image result for Jesus se gebed

Ons as Gelowiges moet die gebed en wens van Jesus Christus vervul.
            Let op: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
            “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.
            “Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.
“Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.” Joh 17:20-24
Jesus sê hy bid vir jou en my en ook vir die siele wat ons sal inbring. Hoeveel siele het jy al ingebring?
Jesus bid dat ons almal EEN mag wees. Hoe moet ons een wees? Net soos wat Jesus en die Vader is, EEN, die een in die ander.
Hoekom bid Jesus dit? “Sodat die wêreld kan glo dat U my gestuur het.”
Jesus voeg by: “Sodat ons en Hy VOLKOME een kan wees.” Is ons... of het elkeen sy kerk!
Let op, nou sê Jesus iets baie, baie belangrik: “Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het (beleef ons daardie heerlikheid, daardie glorie?) (En hoekom het Hy dit aan ons gegee?) juis, “sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.”
Wat het ons gedoen met die glorie wat Hy van die Vader ontvang het en aan ons gegee het?
Dit is ook Jesus se wens dat ons Een moet wees sodat “ons Sy glorie kan aanskou.” Het jy dit al aanskou? Is dit omdat ons nie EEN is nie?
Ons moet so EEN wees dat die wind nie tussen ons kan deurkom nie. Job 41:7-8 “Ons moet geestelik kleef aanmekaar, aan mekaar vashou, onafskeidbaar.
Nou sit elkeen in sy eie kerk en ons groet skaars mekaar. Dis die groot oorwinning wat ons as Gelowiges moet behaal: Om oor die kerkmure heen hande te vat. Dis of ons wedywer: Watter kerk se lidmate gaan Hemel toe!
Dis is wat in ‘n groot mate op 22 April 2017 in Bloemfontein gebeur het toe sowat een miljoen Gelowiges by “It’s Time” hande gevat het.
Ons smag na Herlewing, ons smag na God se Glorie. Komaan, staan op en staan saam!
Die wêreld word by die dag meer boos. Jesus se Koms is voor die deur. Kerkleiers sal aanstons hul posisie in die kerklike koninkryke moet prysgee.
Dogma sal verdwyn. Die Bybel sal weer die ware Grondwet word.
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Matt 28:19
Die doop is ‘n begrafnis. Is jy al begrawe?
“Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.
“Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
“Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.
“As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.
“Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.
“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” Rom 6:3-11
Die doop kan niemand red nie, maar dis ‘n wonderlike stap van gehoorsaamheid.
“in wie julle ook besny is met 'n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.” Kol 2:11-12
Alhoewel die doop nie kan red nie, vorm dit beslis ‘n integrale deel van die Wedergeboorte en die begin van ‘n Nuwe Lewe in Christus.
Na ons Jesus deur die doopwaters gevolg het, is ons ineen vervleg, met mekaar en met Hom. Die doopwaters bring finale skeiding tussen die gehoorsames en die Planeet Aarde. “Want ons burgerskap is in die Hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus...” Fil 3:20

Elkeen wat dors het... Kom!


Image result for gospel quotes

Die beproewing van ‘n woestyn is die gebrek aan water. “Gospel Stories for the Young” vertel van die karavaanritte deur die woestyn. Sodra die karavaan se water kapot is, ontstaan nood.
'n Enkele kameelruiter word vooruit gestuur om water te soek. Na 'n tydjie volg 'n tweede en dan 'n derde. Sodra die eerste man water kry, roep hy: "Kom!" Die tweede man hoor dit en herhaal: "Kom!" Die derde man hoor hom en herhaal ook die roep. En so elkeen wat volg, totdat die hele, omliggende woestyn, weergalm met die woord: "Kom!"
“Gospel Stories” sluit af: "Dit is die groot uitnodigingswoord van die Evangelie: Kom! Kom! KOM!
Sondae, reg oor die wêreld heen, lui die kerkklokke: Kom...Kom...Kom...
Ons voordeel is dat "kom" die sleutelwoord is van God se boodskap. "Op die laaste dag... van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: 'As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!'" Joh 7:37
Feitlik die laaste woord in die Bybel, is steeds 'kom': "Die Gees en die bruid sê: 'Kom!'... En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!" Openb 22:17
Ons merk dit gaan in die HERE se Koninkryk soos met die kameelmanne in die woestyn. Die boodskap word van een na die ander oorgedra: "Elkeen wat dit hoor moet sê: 'Kom'" strofe 17
Hoor en drink self die water van die Ewige Lewe en begin ander ook roep!
"Kom, almal wat dors is, kom na die water toe." Jes 55:1
Dis elkeen van ons wat, dag en nag, tydig en ontydig, moet roep: KOM!
Komaan, ons moet die Getal vol maak.

Maandag 11 September 2017

Hoekom dit nie reën nie...

Image result for sheep eating from mans hand
Uit die Noord-Kaap
Dit is nou so droogte in die skaap se lewe,
hy kom eet mielies uit die boer se hand…
want so mak het hy geword…
Die Noord-Kaap boere sê:
Hoekom dit nie reën nie,
want ons mense is nog te wild,
ons is nog nie mak genoeg,
om uit die HERE se hand uit te eet nie.

So vertel Burre Burger, die Noord-Kaapse
boer wat kontant skenkings en meer as
200 lorries mielies op Calvinia ontvang het
vir verspreiding van droogtehulp onder
Noord-Kaapse boere. Nog skenkings word
verwelkom. Burre Burger sluit af met: “Net
Landbou kan die land bou.”

Sondag 10 September 2017

‘n Dringende beroep word op Gelowiges gedoen om ernstig te bid vir Reën!


Boere se stormloop om die verraderlike
droogte die stryd aan te sê

Meer as 200 lorries vanoor die hele SA daag met gemiddeld 30ton mielies per lorrie by Calvinia op



Die droogte eis ‘n onsettende tol aan weiding en vee vrektes



Koffiefontein se AGS boere het 35 ton mielies gestuur… gelyk aan 700 x 50kg sakke.

Die meer as 200 lorries het hierdie reuse tonnemaat mielies oor vier dae na Calvinia vervoer. Koffiefontein se boere van die AGS, getuig: “God het gesê ons moet dit doen.”
            Die mielies word trou aan die Koninklike Wet, vanaf Calvinia oor die hele Noord-Kaap versprei. “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
            Die volgende uitreik is na Steytlerville waar mens en dier ook krepeer van ellende weens die genadelose droogte, Boere wat met mielies wil help, of andere wat wil help met die vervoerkostes, skakel asseblief: Droogtehulp  071   671   6466

 

‘n Algemene toneel in die Noord-Kaap. Boere is in ‘n verbete stryd gewikkel om hul stoetvee te red.

Gebedgroepe pleit by die Hemel vir reën. Sommige boere is letterlik op hulle knieë voor die Almagtige God Jaweh. Boere besef net God kan red, net soos Habakuk ook moes vasstaan: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – 
nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil (verlossing).” Hab 3:17-18



Derduisende tonne mielies word geskenk om te red wat te redde is.

Die werking van die Heilige Gees in ons en selfs deur ons, is vir ons onbegryplik, maar ons kan ons hart oopstel en die Gees gehoorsaam. Die Heilige Gees is in ons guns.
            Ons moet ons seile span vir die wind van die Hemel. Hoe span ons, ons seile?
            Ons moet eendragtig wees, oopgestel en gehoorsaam. Ook moet ons biddend wees en eendragtig in die gebed. “Die vurige gebed van die regverdige het groot krag.” Jak.5:16
            Ons moet in afwagting of dan verwagting leef, die wind van die Hemel verwag. As ons waarlik in afwagting leef vir die Heilige Gees en die Wederkoms, dan lewe ons in Hoop soos in toekomsfeit, en nie soos “ek wens” nie.  Matt 21:22; Luk 24:49.
            Ware afwagting vereis geloof. Kom ons bid in afwagting van die Hemelse Wind vir  grootse lewegewende reëns, tesame met die grootste Geestelike Herlewing wat Suid-Afrika of die wêreld nog ooit beleef het. Hand 2:38. – Sjibbolet

HOUVERBY – 'n Getuienis van LIEFDE!


HOUVERBY was eers in ander hande en die HERE moes hier verbyhou, maar toe beland dit in Gelowige hande en nou moet al wat moeilikheid is, hier VERBYHOU.
            Mev Jane Louw vertel: “My skool se kinders - dis 'n wonderlike verhaal van God se liefde! HOUVERBY waar die HERE nie verbygehou het nie. Satan kon nie Sy plan uitkanselleer met die naam nie.
            “Ek het dit drie jaar gelede begin met Kobus my man toe ons getroud is na die droom 'n werklikheid geword het. Die HERE het vir ons die wonderlikste medewerker gegee... Ciska, wat die kinders elke dag onderrig. Die eens klein geboutjie het uitgebrei na 'n hele groot plaashuis.
“En toe sluit Mike verlede maand by ons aan en die kinders leer nou musiek maak met marimbas en fluite. Ek leer hulle ballet! So ons het 'n kunsskool, 'n balletskool en 'n musiekskool aan die gang. Hulle kry elke dag kos. Daar is tans 20 kinders in die HOUVERBY Nasorgsentrum.
Verlede Saterdag was ‘n wonderwerk toe ons die kinders vir 'n uitstappie na Kaapstad kon neem waar hulle die museums, akwarium, 'n bootvaart en 'n balletkonsert beleef het. Die HERE het bonatuurlik al die fondse van R6 000 voorsien. Nuwe kleertjies is aangekoop en daar was meer as genoeg kos beskikbaar.
“Die HERE het ons beskerm op pad na Kaapstad en almal veilig tuisgebring.
“Die kinders was vir die eerste maal verder as hul dorpie Redelinghuys, en het alles nuut en vars beleef.
“Ek loof elke dag die HERE vir die wonderwerk wat ek sien afspeel voor my oë. Hy vermeerder en vergroot my grondgebied en die van die kinders.”
HOUVERBY Foto’s








Die saad wat nooit sterf nie


Image result for seeds images

In 1754 het 'n oorlog tussen die Britte en Franse in Kanada gewoed. Die Indiane het die Franse ondersteun.
'n Groep Indiane het op 'n eensame huis afgekom. Die pa, die oudste seun en twee dogters was in die huis. Hulle het die twee mans doodgemaak en die twee dogters, Barbara en Regina, saamgeneem. Regina was 9 jaar oud; Barbara was 11. Van Barbara is nooit weer gehoor nie.
Regina is aan 'n ou Indiaan vrou gegee. Hier het sy gebly totdat sy 19 jaar oud was. Sy het haar opvoeding tuis nie vergeet nie. Sy het aangehou om elke aand te bid. Bybelversies wat sy geken het, het sy gedurig herhaal. Een lied wat sy geleer het, het sy wanneer moontlik gesing. "Alone, yet not alone am I, though in this solitude so drear. I feel my Saviour always nigh".
Sy het bly bid en gehoop dat die HERE haar weer aan haar mense sou teruggee. In 1764 het 'n Britse kolonel die Indiane se blyplek ontdek en aangeval. Nie minder nie as 400 gevangenes kon gered word. Regina was een van hulle.
Na 10 jaar onder die Indiane het meeste hulle taal en name vergeet. Hulle voorkoms het ook heeltemal verander. Hulle het, behalwe vir hulle ligter velkleur, soos Indiane gelyk, gepraat en Indiaan name gehad.
Die kolonel het hulle geklee en gevoed en na die dorpie, Carlisle, geneem. Die nuus is wyd bekend gemaak en mense wie se kinders ontvoer was, is aangemoedig om hulle mense te kom uitken.
Regina se treurende ma het nie op haar laat wag nie. Op en af tussen die rye gevangenes het sy gesoek, maar kon haar dogters nie kry nie.
In haar groot teleurstelling het sy ontroosbaar aan die huil gegaan. Radeloos het die kolonel gevra, of daar nie iets was, soos byvoorbeeld familiename waarop die dogters sou reageer nie.
Op die ingewing van die oomblik het die ma so hard as wat sy kon "Alone, yet not alone, am I…" begin sing. https://www.youtube.com/watch?v=3UR7jxvD5lc
Skaars het sy begin sing of Regina kom singend tussen die ander uitgestorm, reg in haar ma sy arms in.
Die vroeë saadjies het, ongeag die swaar tye, bly groei en die vreugdevolle vrug gedra.
            In elkeen van ons se lewens kan ons die bome en vrugte raaksien, wat lank gelede in ons lewens gesaai is. In ons kinders se lewens is ook bome en vrugte van vroeë saadjies te vinde.
Dit is goed as dit goeie saad was. Dit is baie goed as dit Evangelie- en geloofsaad was! "Ek sal My Gees uitgiet op jou kinders, My seën op jou nakomelinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs waterlope." Jes 44:3-5

Vrydag 08 September 2017

Die deure is toe, maar die Hemel was oop


Image result for hemel

Eerw. F.H.Pickering vertel van 'n man wat so deur angs en bekommernis oorweldig is, dat hy verlam is.
Snags kon hy nie slaap nie. Op 'n keer vra 'n Christenvriend of hy ooit oor sy probleme bid. Hy het in jare nie gebid nie, antwoord hy. Het hy 'n Bybel? Ja, iewers in sy huis moet daar 'n Bybel wees.
Die vriend skryf 'n teksvers op 'n strokie papier. "Gaan lees dit en doen dan so," sê sy vriend.
Moeg na siel en liggaam was hy gereed vir enige raad. Hy het sy Bybel gekry, die stof afgeskud en die teksvers, Hebr 4:14-16, opgespoor: "Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word."
Hierdie Hoëpriester na wie verwys word, is dieselfde Vredevors wat nou anderdag op ‘n esel se rug Jerusalem binnegery het,
Hy het by sy bed gaan kniel en eers sukkelend, maar later met vrymoedigheid, sy probleme vir die HERE vertel.
Terwyl hy bid het hy aan die slaap geraak. Ure later het hy wakker geword. Verkwik in sy gees, het hy geweet hy het sielsgenesing gevind.
Sy vriend het hom gehelp om Christus as sy Verlosser te leer ken. Sy dokter was verstom oor die verandering wat in hom gekom het. "Ek vertel nou al my bekommernisse vir Jesus en laat dit in Sy hande," verduidelik hy.
Die dokter antwoord: "As meer van my pasiënte dit wou doen, sal ek gou sonder werk sit."
Let op na Hanna: Dit was Haar geheim toe sy met haar hartseer tempel toe gegaan het. 1 Sam 1
Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die HERE gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. Vir priester Eli sê sy: 'Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is... Ek het my hart uitgestort voor die HERE... dit is oor my groot leed dat ek so lank bly praat het...' en sy was nie meer bedruk nie.
Die HERE Jesus het vir ons die weg oopgemaak na ons Hemelse Vader toe. God self het ons lief en ken ons sake. Ons kan met groot vrymoedigheid en verwagting al ons probleme vir Hom vertel.
Die Heilige Gees help ons om te bid: "Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is..." Rom 8:26
Inderdaad, as al die deure toe is, staan die Hemel oop.
Die dag kom egter vining nader dat die Hemel ook toe sal wees, so maak gereed. Sorg dat jy genoeg olie het… en strykdeur moet jy weet dat jy weet: Jesus is bitterlik lief vir jou!

Maandag 04 September 2017

Die Wondersement


Image result for Jakobus 2:8

'n Ou man het met klein dosies wondersement gesmous. Hy het belowe dat hierdie sement enige krakie kon regmaak, en enige twee dele aanmekaar kon heg.
            Baie het gelag. Tog het hulle nuuskierig, teen die paar sent wat dit gekos het, van die dosies wondersement gekoop. Binnekant was daar net 'n strokie sierpapier met een woordjie daarop: "Liefde."
Wat die ou man oor sy wondersement gesê het, was waar. Wie ook al wil waag om dié wondersement te gebruik, sal uitvind dit maak regtig enige krakie heel – in die huis of in die hart!
            Mense wat liefhet is gelukkige mense en mense wat weet hulle ontvang liefde is gelukkige mense.
Die betekenis van God se Wet, die Koninklike Wet, is liefde. “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8
God is liefde, Hy gee liefde, Hy verwag liefde vir Homself en van een mens vir die ander. Liefde maak hierdie veeleisende lewe waarin ons ons bevind vir mekaar makliker:  "…liefde bedek alles wat aanstoot gee… wie 'n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge…" Spr 10:12, 17:9).
"Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie." Rom 13:10. Om lief te hê, beteken om geduldig en vriendelik te wees… die liefde word nie gou kwaad nie en hou nie boek van die onreg wat ander doen nie…  die liefde kan stilbly oor ander se foute." 1 Kor 13:4-7
            Dit is die natuurlike aard van die mens om te haat, te baklei, te heers. Die teendeel is om lief te hê en daarom is dit so 'n aantreklike lewe. Dit is die soort lewe wat die HERE Jesus van Sy dissipels verwag.
Uit Homself gee Hy deur die Heilige Gees Sy liefde in ons hart om weer liefde aan ander te kan gee... "Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief… julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet." Joh 15:9-12
Namate die Heilige Gees 'n oorhand oor ons natuurlike geaardheid kry, kom Christus se liefde in ons op die voorgrond: "…lewe soos volgelinge van  Jesus Christus en (moet) nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.  Rom 13:14).
"…laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie." Gal 5:16
            "Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde." 1 Joh 4:7,8

Die Testament van Jesus Christus lees...


Image result for Gal 3:15

Sy Goddelike Krag het ons Alles Geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien... en vele meer.
            “Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs 'n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie.” Gal 3:15
            Dis presies so met Jesus se Testament. Niemand erf egter iets as hulle nie erfgename is nie en as hulle nie hul erfporsies opeis nie.
            Ter illustrasie: In Wes-Texas is daar 'n beroemde olieveld bekend as The Yates Pool. Gedurende die depressiejare was die olieveld Ira Yates se byna verlore skaapplaas. Met die depressie en ander druk kon Yates net nie langer voort boer nie.
            Toe hy op die punt was om sy plaas te verloor daag 'n oliemaatskappy se seismografiese span by sy huis op. Hulle vertel hom dat daar moontlik 'n oliebron op sy grond is. Hulle vra toestemming om vir olie te boor. Hy gee sy toestemming. Op 370 meter diepte boor hulle 'n oliebron raak wat 80 000 vate olie per dag lewer.
Omdat die grond nog aan Yates behoort het, behoort die mineraalregte toe ook aan hom. Hy leef op 'n staatstoelaag en wis nie hy is 'n multimiljoenêr nie!
Die skrywer van die verhaal in Parables stel dit so: "’ Multi-miljoenêr in totale armoede... wat was sy probleem? Hy het nie eers geweet dat daar olie is nie. Hy het die olie besit, maar nooit sy eie gemaak nie want hy wis nie van die olie nie.
Dit is soos baie Gelowiges vandag: Hulle is skatryk, maar weet dit nie. Hulle besef nie hulle is erfgename van Jesus se Testament nie.
            Hier is te veel Petrusse onder ons: Selfs na die wonderlike visvangs en baie ander openbaringe van Sy krag voor Petrus se oë, bv. die voeding van die skares, genesings, die opwekking van Lasarus, het Petrus in sy hart steeds blind gebly vir sy rykdom in Christus.
Dit was eers na Christus se kruisiging – want daardie dag nog het hy Jesus drie keer verloën: "Ek ken die man nie!" – dis eers na die uitstorting van die Heilige Gees, dat sy oë vir sy groot rykdom in Christus oopgegaan het.
In sy eerste sendbrief skryf hy aan die gelowiges: "Nou het ons 'n LEWENDE HOOP op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike Erfenis wat in die Hemel ook vir julle in bewaring gehou word." 1 Pet 1:4
            Kyk hoe ryk is ons... Geseënd is julle in die naam van Jesus Christus! O ja, ons is beslis geseënd. Let op die volgende:

Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën met alle geestelike seëninge in die Hemele in Christus,” Efes. 1:4
Ons triomf berus op Lofprysinge (ontvang en dankie sê) want ons is reeds geseën.

Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32.
Weer berus ons triomf op dankbaarheid, ontvangs en Lofprysinge... want Hy skenk ons alles genadiglik.

Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godvrug lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien (hoe?), deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur Sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het (hoekom?), sodat julle daardeur deelgenote kan word van die Goddelike natuur (wanneer?), nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste Erfgenaam. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in danksegging en Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.

Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. Nogmaals berus ons triomf op danksegging en Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.

Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op aanvaarding, danksegging en Lofprysinge want ons is reeds genees.
            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, neem dit aan in dankbaarheid en Lofprysinge.
            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Danksegging en Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            Nou verstaan jy ook: “En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van Sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.” Jes. 5:12-13
            God bevestig dit aan Hosea: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” Hos. 4:6
            Mens moet jouself met danksegging en Lofprysinge beklee. Jubel altyd(!) in die HERE.
Habakuk wys ons hoe dit gedoen moet word: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie –  nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 3:17. – Sjibbolet

Jesus keer ‘Pearl Harbour’ om


Image result for pearl harbour

Mitsuo Fuchida was in bevel van die 860 vliegtuie, van die Japanese Lugmag, wat op 7 Desember 1941 Pearl Harbor in die VSA  aangeval het, vertel Robert J. Morgan in sy boek From This Verse.

Lees Fuchida se hartroerende, maar Goddelike verhaal hier: https://www.biblebelievers.com/fuchida1.html
Jacob DeShazer, van die Amerikaanse lugmag, het op 18 April 1942, as deel van ‘n gewaagde wraakaanval, met sy B-25 bomwerper, met die naam “Bat Out of Hell”, sy bomme op Nagoya gegooi, en in ‘n digte mis probeer wegkom.
Hy het in die mis koers verloor en sy brandstof het opgeraak. Hy het oor Japanese gebied uitgespring. Hy is gevange geneem, gemartel en met ‘n spoedige teregstelling gedreig. Vir amper twee jaar moes DeShazer honger, koue en voortdurende buikloop verduur. In Mei 1944 het sy bewaarder met ‘n Bybel sy sel binnegekom. “Jy kan dit vir drie weke hou,” het hy bars gesê. DeShazer het die Bybel gegryp, teen hom vasgedruk en dadelik by Genesis begin lees. Sy verhaal: https://en.wikipedia.org/wiki/Jacob_DeShazer
            Hy het feitlik dag en nag gelees en die Bybel 'n paar keer deurgelees. Sleutelgedeeltes het hy uit die kop geleer, met die gedagte, as die Bybel teruggeneem word, sal hy die tekse wat hy uit sy kop geleer het, behou.
Op 8 Junie lees hy Rom 10:9. Hy lees dit weer. En daar in sy sel kniel hy en bid en neem Jesus Christus as Verlosser aan. Nou het Matt 5:44 vir hom 'n probleem geword: "Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg..."
Hy besluit hy gaan by sy Japanese bewaarders begin. Sy vyandigheid teen hulle verander in vriendelikheid. Elke oggend groet hy hulle hartlik. Hy begin vir hulle bid en getuig teenoor hulle van Jesus Christus. Toe begin hulle houding teenoor hom ook verander. Elke nou en dan bring hulle vir hom beter kos en ander benodigdhede. Na die oorlog het DeShazer na Japan teruggekeer – nou as sendeling. Hy het in Nagoya, die stad wat hy gebombardeer het, 'n kerk gestig.
            Sy getuienis, in traktaatjievorm, “I Was a Prisoner of the Japanese”, is wyd en syd in Japan versprei en baie wou die man ontmoet wat sy vyande kon vergewe. Een man veral was baie gretig om hom te ontmoet.
DeShazer se getuienis het hom diep getref en Glen Wagner van die Pocket Testament League het dié man na Christus toe gelei. Dit was Mitsuo Fuchida, wat die aanval op Pearl Harbor gelei het.
Hy het DeShazer by sy huis gaan besoek en hulle twee het vriende geword. Fuchida het 'n evangelis geword en dwarsoor Japan en ook in die buiteland gepreek en die verhaal van God se groter krag in Christus, om die duiwel se vernietigingswerk deur sonde in redding te omskep, verkondig.
            "As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons en ons word gered." Rom 10:9-10
            Jy wat op skei staan, of geskei is... die HERE kan julle lewens en julle huwelik ook omkeer.