Vrydag 11 November 2016

Herlewing begin by jou en my…



“Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” Rom 12:11. Die klem val op: “Wees vurig van gees!”
            Komaan, kry jou geloof in aksie! "Die vurige gebed van die regverdige het groot krag!" Jak 5:16



            Die opdrag is duidelik: Ons moet aan die brand wees vir die HERE. Ons leef in ‘n tydvak van louheid, die mees gevaarlike toestabnd vir ‘n Gelowige om hom- of haarself in te bevind. Louheid ontstaan wanneer Gelowiges toelaat dat die tydelike dinge van hierdie wêreld hul lewens oorheers en selfs die Bybel stof vergader.
            Wil jy graag ‘n lewensveranderde belewenis met die Heilige Gees beleef?
            Kom terug in die Woord sodat die HERE met jou kan praat. Vra die HERE om jou oë te open sodat jy Sy verborgenhede kan sien en beleef. “En hulle sê vir mekaar: “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” Luk 24:32. Word ‘n Emmausganger… stap saam met Jesus deur die Woord.
            Die Woord steek ‘n nuwe vuur in jou hart aan. Elke woord in die Bybel is lewendig. Die Bybel het deur eeue heen behoue gebly. Vergeet die negatiewe en die satan se praatjies. Hy het nooit gewaag om sy eie Bybel ten boek te stel nie want hy is en bly ‘n leuenaar.
            Mens dink skielik aan die vrou wat gekniel het om haar lewe opnuut aan die HERE toe te wei, toe sy bid: “Djere, djy ken voor my want Djere, Djy’t my siel gered, maar ai Djere, die Satan hy het nie my adres gaverloor nie.”
            Stook die vuur van gebed in jou lewe. As jy nie weet wat om te bid nie, bid dan die volgende… jy kan dit ook singend bid, op jou knieë:

WAT 'N VRIEND HET EK IN JESUS,
HY WAT IN MY PLEK WIL STAAN;
WAT 'N VOORREG OM GEDURIG
TOT GODS TROON DEUR HOM TE GAAN!
HOE VERBEUR EK TOG DIE VREDE,
AG, HOE DIKWELS LY EK SMART,
NET OMDAT EK NIE MY NODE
UITSTORT IN GODS VADERHART!

AS VERSOEKING EN BEPROEWING,
OF AS KWELLING MY BEDREIG,
LAAT EK NOOIT MISMOEDIG WORD NIE,
LAAT MY BEDES OPWAARTS STYG.
NêRENS IS 'N VRIEND GETROUER,
AS HY WAT MY NODE WEET;
JESUS VOEL MET AL MY SWAKHEID,
EN WIL DEEL IN AL MY LEED.

IS EK SWAK, GEDRUK DEUR LASTE,
ONDER KOMMER NEERGEBUK,
DIERB'RE HEILAND, MY GANSE TOEVLUG,
O BEVRY MY WEER VAN DRUK!
AS MY VRIENDE MY VERSAAK HET,
SOEK EK IN GEBED DIE HEER,
AAN SY BOESEM IS EK VEILIG,
HY VERTROOS MY KEER OP KEER.

Jesus is ons Vriend. “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.
“Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.” Joh 15:14-15
‘n Vuur hou net aan met brand as jy voortdurend hout op sit. Jou stiltetyd saam met die HERE is van kardinale belang. Jesus, jou beste Vriend, wag vir jou. Let op: “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?” - Deut 4:7
            Mens kan nie oorleef sonder gereelde gemeenskap met die HERE nie. Jy mag selfs nagmaal in jou stiltetyd gebruik. Gebed is soos jou broodnodige asemhaling wat jou geestelik lewend hou.
            Wat ook al die rede is vir jou louheid, maak dit vandag nog reg.
            Jy mag sing in jou stiltetyd, jy mag jou hande klap van blydskap, jy mag selfs in die agtergrond pragtige geestelike liedere speel en selfs saam sing. Jy mag ook huil en selfs lag. Jou stiltetyd is ‘n brandende vuur. Loof die HERE, sag of hard.
            “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En (uiters belangrik) word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed (hoekom?), sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Rom 12:1-2 

Donderdag 10 November 2016

Dalk kan ons gekweste land ontkom.


Image result for 5 lions eating a buffalo


Daar is tans ’n natuurvideo in omloop waarin vyf leeus ’n buffel plattrek. Die buffel is al erg beseer toe die leeus onderling begin baklei en die buffel in die proses kans kry om op die been te kom en te ontsnap.

Dié video het my laat dink aan ’n soort ingryping van God wat ’n paar keer in die Bybel vermeld word, naamlik dat Hy verwarring onder die vyande van Sy volk gebring het en hulle mekaar self in die proses uitgewis het sonder dat Israel veel hoef te gedoen het.

Die bekendste geval is seker dié van Gideon met sy 300 manne teen die menigte Midianiete en waar ons lees dat “die Here die swaard van die een teen die ander gerig het”. (Rigt. 7:22)

2 Kron. 20:22+23 vertel hoe die Here vir ’n oormag vyande wat op Jerusalem toegesak het ’n “hinderlaag opgestel” het en hoe hulle “mekaar in die verderf gehelp” het.

Die Here het ongewone maniere om met Sy vyande te werk. Ja, God het inderdaad vyande. Veral mense wat leuens, valsheid, korrupsie en bedrog eerder as die waarheid kies, posisioneer hulself as vyande van God.

Hy is die hoogste uitdrukking van waarheid. Trouens, Hy word “Waarheid” genoem. Waarheid word aan Hom gemeet.

Hy is die definisie van waarheid. God kan nie met leuens en leuenagtiges geassosieer word nie.

Die laaste paar weke is Suid-Afrika toenemend ontsier en onteer deur politieke slinkshede, intriges, bedrog, valsheid, sameswerings, korrupsie en leuens – en dit veral deur hulle in die hoogste gestoeltes.

Dis sleg as hulle wat die land moet regeer kwalik enige geloofwaardigheid meer in die oë van die landsburgers het.

Hiermee posisioneer ek God nie soseer teen ’n politieke party nie, maar teenoor mense wat ter wille van magsug en hebsug sal lieg, bedrieg, konkel, saamsweer en selfs moor om hul selfsugtige doelwitte te bereik.

Terwyl eerbare mense uit verskillende sektore van ons samelewing al hoe meer probeer om korrupsie en bedrog in ons land te ontmasker en te beveg, is meer Christene as ooit tevore ook diep onder die indruk van die rol wat hulle kán en behóórt te speel.

Die laaste paar maande het individuele gelowiges, gebedsgroepe en kerke op ’n ongekende wyse tot die Here vir Sy ingrype gebid. Hierdie geestelike ontwaking en mobilisering reflekteer dalk nie in die media nie, maar wel dáár waar dit regtig saakmaak – voor God se troon.

Dit word al hoe duideliker dat daar grootskaalse verwarring en tweespalt onder die vyande van waarheid en geregtigheid plaasvind.

Mense van karakter, met ’n sin vir waarheid en integriteit, vind hulself al hoe meer genoop om onder die donker skadu van bedrog en korrupsie uit te beweeg en standpunt in te neem – selfs teen hul eie partylede en ­jare lange kamerade.

As magsugtige politieke roofdiere onder mekaar begin veg, is daar dalk hoop dat ’n gekweste land kan ontkom en oorleef.

Dalk aanskou ons ook nog soos Israel van ouds dat ’n Godgestuurde verwarring ’n hoopvolle toekoms vir Suid-Afrika inhou!

Dr. Isak Burger

Verwag altyd die Goeie, want God is Goed


Image result for ringing telephone          

Ons lewe in ‘n tydvak waar ons daagliks eerder slegte as goeie nuus verwag. Die slegte nuus van oorloë en dergelike is egter goeie nuus wat die profetiese beeld oor die Eindtyd voltooi. Hoe nader ons aan die einde van hierdie wêreld beweeg, hoe meer opgewonde moet ons raak want ons verlossing is na by.
            Wanneer die telefoon laataand of vroegoggend lui, is ons eerste gedagte dat dit slegte nuus moet wees. Ons dink meesal eerste oor dood. Wanneer die voorman jou laat roep kan dit nog gaan, maar wanneer die besturende direkteur jou laat roep, dan bewe jy al. Jy vermoed jy gaan afbetaal word of straks nog erger dinge. ‘n Laataand klop aan die voordeur, laat meeste van ons ook in vrees regop sit.
Ons kan nie so in vrees lewe nie. Dit sal ons vernietig.  “En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God…” Efes 6:17
            Ons is geneig tot negatiwiteit, maar as Wedergeborenes staan ons op Oorwinningsgrond, geklee in die helm van verlossing… en verder: “Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.” 1 Thes 5:8
            As jy op die oomblik deur ‘n moeilike tyd gaan, beklee jou met 1 Thes 5:8 en glo dit as uitgemaakte saak dat God antwoord en die problem opgelos is. Ons kan nie en sal ook nie ooit die onderspit delf nie.
            Ons lewe op hoop, nie soos in “ek wens” nie, maar “ek weet”. Vir die Wedergeborene is hoop altyd “toekoms-feit” soos in hoopvolle toekoms.
            Natuurlik sterf mense, natuurlik is daar ongelukke, maar as Wedergeborene leef ons BO die omstandighede en nie ONDER die omstandighede nie.
            As mens ‘n studie doen oor die rol van Engele in ons lewens, dan sal jy besef dat mens in elk geval nooit alleen is nie. Natuurlik is daar demone ook, maar hulle word totaal oorskadu deur ‘n magdom Engele, groeperinge… elk met ‘n eiesoortige bediening.
            God is IN ons en Hy is by verre groter as hy wat in die wêreld is. 1 Joh 4:4

Saterdag 05 November 2016

Is hierdie straks jou Eindtyd roeping?


Image result for mother and child hugging and crying


“Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía  (wat beteken: God is YAWEH) voordat die groot en vreeslike dag  van die HERE aanbreek (hoekom?) “En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders (hoekom?), sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie.” Mal 4:5-6
            Die HERE roep Sy volk op tot gesinsherstel.  Hierdie wekroep behels die volgende:
1. dat daar ’n oordeelsdag kom;
2. dat die Here vooraf spesiaal Sy volk oproep;
3. dat hierdie wekroep oor die herstel van gesinne gaan.

Gesinslewens in Suid-Afrika, is feitlik oral aan flarde. Praat met beraders, predikante, skoolhoofde en dis duidelik die verbrokkeling van gesinne en van ’n normale gesinslewe is aan die orde van die dag.
Bloufilms, die Internet, TV, egskeidings en selfone speel ‘n kardinale rol hierin. Die gesagstrukture by meeste huise en die skole het getuimel. Ouers voed nie meer hulle kinders op nie. Baie kinders laat hulle ook nie opvoed nie.
Die kommunisiekasiegaping het ‘n liederlike afgrond geword. Daar is in sommige gevalle vyandskap tussen ‘n kind en ouer en onderwyser en kind. Baie kinders loop eenvoudig weg en beland op talryke verkeerde weë. Hulle twis selfs oor godsdiens en kerk.
            God se wil is dat almal gered sal wees. Versplinterde gesinne noodsaak selfs dat die HERE met ‘n spesiale aksie in hierdie tyd kom om die gesinne te versoen.
            Behalwe genoemde feite, is daar die ouers wat hulself vandag in huwelike bevind waar hul huweliksmaat en kinders geen kennis dra van ‘n buite-egtelike kind iewers in die verlede wat naarstigtelik na sy biologiese ouers soek nie.          
            Daar is tienduisende kinders op verskeie webtuistes in SA wat na hul biologiese ouers soek en en in ‘n mindere maat ouers wat na hul biologiese kinders soek.
            Jou eie kind sal jy nooit kan wegwens nie. Dit is en bly jou kind en die Gees van God dring julle in hierdie en die toekomende tyd na mekaar toe. Daar is gevalle van mense wat gedink het, hulle neem hul geheim saam na hul graf, maar helaas, kort na die begrafnis kom die waarheid aan die lig.
            Vaders en moeders wat nie in die lig wandel met mekaar nie, sit met ‘n binding in hulle gees. Daardie binding het allerlei negatiewe gevolge wat soms selfs tot ‘n egskeiding lei.
            Ons lewe in die Laaste Uur. Dis God se wekroep dat ouers en kinders mekaar vind, met mekaar regmaak  en gereed maak vir die Koms van Jesus Christus.
            Die Oordeelsdag waarvan Maleagi en ander profete praat, gaan oor niks anders nie as die gereedmaak vir die Koms van Jesus Christus nie.
            Of jy is gereed daarvoor en leef in afwagting, of jy bly agter saam met miljoene ander en beleef die Groot Verdrukking. Die keuse is joune.
            Maleagi 4:5-6 weerspieël die Liefde van die HERE. Elia kom nie terug aarde toe, maar Jesus en al die geroepe Elia’s is besig om in die krag en die gees van Elia te beweeg:
“En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía (hoekom), om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges (hoekom?), om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.
            Maar wie was Elia? Vanaf 1 Kon 17 lees Elia se geskiedenis onder meer soos volg:

•          Elia was ’n profeet in ’n tyd toe die HERE se volk afgedwaal het;
•          maar hy’t aangehou om hulle terug te roep na die HERE toe, al wou hulle nie na hom luister nie en hom daaroor wou doodmaak;
•          hy was eintlik in die Ou Testament tyd ‘n voorbeeld van hoe ’n profeet moes wees.

            En nou belowe die HERE hier deur Maleagi dat Hy Elia na Sy volk toe sal stuur voordat die oordeelsdag kom:
•          Hy sal deur Elia met hulle praat;
•          Hy sal, soos in Elia se tyd, ’n kragtige wekroep tot hulle laat uitgaan.

Die HEREe bedoel hiermee nie dat die Elia van die OT weer hier op aarde gaan kom lewe nie. Die Nuwe Testament leer ons duidelik dat voordat Jesus die eerste keer gekom het, Johannes die Doper die Elia was wat die HERE se volk teruggeroep het na Hom toe.
In ’n tyd toe mense se godsdiens oppervlakkig en skynheilig geword het, het Johannes met groot krag vir hulle gepreek:  “Bekeer julle, want die Koninkryk van die Hemel het naby gekom.” Mat 3:2
In hierdie Eindtyd, voordat Jesus Christus weer kom, sien mens hierdie Elia-gees oral in groot krag, heerlikheid en getrouheid kinders en die vaders versoen, die versplinterde gesinne restoureer.
Diegene wat ons reeds vooruitgegaan het, sal in die Hemel versoen wees. Vir seker.
            Wat moet hierdie Elia’s wat die HERE stuur, doen?
            Let op: “Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.” Eseg 18:32
Maleagi profiteer:
•          hierdie Elia wat Hy stuur, sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders
•          en die hart van die kinders tot hulle vaders;
•          Hierdie Elia’s gaan gebruik word om gebreekte gesinne te herstel;
•          hy gaan werk aan versoening tussen ouers en kinders; want ’n volk wat gereed is vir die Here se koms, is ’n volk waar die hart van die vaders en die hart van die kinders bymekaar is, waar die geslagte mekaar weer gevind het.
            Hierdie Elia’s gaan daarin slaag om ouers en kinders wat van mekaar verwyderd geraak het, weer bymekaar uit te bring?
Hulle gaan doen wat die eerste Elia gedoen het: Elia het mense teruggeroep na die Here toe – die vaders en die kinders. 7 Lk 1:17
            Elia bring vaders en kinders bymekaar deur hulle na die HERE toe te roep. En waar dit gebeur, is mense gereed vir die Here se koms, en hoef hulle niks te vrees nie.
            Voordat die HERE kom, stuur Hy Sy oproep dat Sy kinders moet terugkeer na Hom toe en restoureer Hy die gesinslewens.
Sy liefde word weer eens gesien in: “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en (waar nog) in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
Ons het almal ‘n Roeping om die getal vol te maak. Is dit jou roeping om die versplinterde gesinslewens te restoureer? Oral in SA is sulke mense nodig. Net soos in enige ander roeping, lei die Heilige Gees ook hierdie mense hoe om die gesinslewens te heel.
Jou roeping is vagemaak in die Koninklike Wet in Jak 2:8.
Is hierdie ook jou Eindtyd roeping?
Almal wat betrokke is by gebedsgroepe, bid asseblief daagliks vir die herstel van gesinslewens en Herlewing. Gesinne is die pilare van ‘n volk en as die pilare meegee, val die volk. Maleagi bring hoop… God se wekroep dat die gesinslewens moet herstel. As dit jou roeping is, is jy nie alleen nie. Die Heilige Gees dra jou. 

Donderdag 03 November 2016

Dankie Jesus vir Hoop...

Image result for dankie jesus images

God wil dat ons as Sy kinders, hoop op ‘n aaneenlopende grondslag moet beleef en geniet. Nie hoop soos in “dalk” nie, maar hoop soos in “toekoms-feit”, want God sê daar is hoop.
Die Almagtige God is die God van hoop. Hoop is een van die gawes wat God aan ons skenk, vandaar ook die Afrikaanse spreekwoord dat “die hoop sal nooit beskaam nie!”
Nogtans verval ons soms in wanhoop en word ons mismoedig. Mismoedigheid is veronderstel om vir die Christen ‘n kortstondige moment te wees op pad terug na hoop.
Ons het hoop as integrale deel van ons bestaan nodig want ons kan nie sonder hoop lewe nie.
Sonder hoop voel dit vir ons of die lewe nie die moeite werd is nie... soos wanneer jy totaal hulpeloos in die diepsee weggly en jou lewe voor jou verby sien flits. Soos wanneer jy middernag met ‘n visboot in die stormsee en gietende reën ure lank sukkel om veiligheid te bereik met net ‘n paar roeiers.
Of soos wanneer jy letterlik alles in die lewe verloor en die enigste oplossing selfmoord is, maar ‘n reuse Engel jou verhoed om dit te doen.
Al is jy ‘n kind, moenie eers aan selfmord dink nie want daar is hoop. Selfs al kan jy dit nie sien nie, weet dit, daar is hoop.
Die Heilige Gees in ‘n grootmens, is nie ‘n kleiner gees in ‘n jongmens of in ‘n kind nie. Die Heilige Gees is in Sy volheid ook vir en in jou as jongmens en selfs as kind.
Wanneer ons hoop het, dan voel ons soos wat God ons gemaak het.
Sonder hoop voel ons soos ‘n regte ou nikswerd – totdat ons besef, daar is hoop!
Daar is hoop! Dit maak nie saak wat jou omstandighede is en watter probleme jy in die gesig staar nie: Daar is beslis hoop. Solank jy nog lewe en asemhaal is daar hoop.
Omstandighede kan verander. “Want solank iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop.” – Pred. 9:4.
“’n Lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu.” – Pred. 9:4.
Luister weer, wat jou omstandighede ook al mag wees, al staar jy die dood in die gesig, is daar hoop.
Al het jy jouself afgeskryf en heeltemal moed opgegee, is daar hoop, want jy is heelwaarskynlik in jou huidige situasie omdat jy jouself daarin geplaas het.
Onthou, ander mense raak ook mismoedig, soos Koning Salomo. Hy was die mees wyse man wat ooit geleef het. Hy was ‘n magtige koning, en selfs hy net by ‘n plek in sy lewe gekom waar hy gevoel het dit beter sou wees om liewer dood te wees. – Pred. 4: 1-2.
Selfs Dawid het in wanhoop verval in Ps. 142:3.
Natuurlik kom daar tye en omstandighede in ons lewens wat ons spreekwoordelik op moedverloor se vlakte laat sit. Ons kan maar daar sit, maar hoop verlaat ons nooit nie. Daar is altyd hoop, want God het dit beloof!
As jy moedverlore sou word, dink maar daaraan dat jy in belangrike geselskap soos die van Koning Salomo, Koning Dawid en Jesus Christus is.
Juis omdat Jesus Christus opgestaan het, is daar hoop, en boonop hoop op hoop.
Daarom durf ons nie in ‘n staat van mismoediging bly nie. Ons moet die kole van hoop aanblaas tot ’n magtige hoopvolle vuur.
Dink weer ‘n keer: Daar is mense wat sê hulle sal sterwe vir Christus. Klink nogal edel né. Die waarheid is dat God nie verlang dat jy vir Hom moet sterwe nie, maar juis dat jy vir Hom moet Lewe!
Lewe om ander te bemoedig. Lewe om die gevangenes en die siekes te besoek, die ellendiges op te help, jou man, jou vrou, jou kinders lief te hê, die Lewegewende Evangelie te verkondig, om Christus voor die mens te bely.
Waar daar lewe is, is daar hoop, sê ons altyd. Maar selfs in die dood is daar hoop want ‘n Christen gaan nie dood nie, hy het die Ewige Lewe.
Hoop lei tot verandering, tot restourasie, tot nuwe lewe, tot nuwe moed, ‘n nuwe visie, ja, tot ‘n totale metamorfose!
Verandering verwyder die haat, die nyd en die liefdeloosheid uit jou lewe. Hoop herstel huwelike en verhoudings.
Hoop gee jou aangenome kind aan jou terug en aan die aangenome kind sy ouers terug. Mal 4:5-6
Hoop sê: “Staan op, neem jou bed op en loop!” – John. 5:8.
Die besluit om hoop te aanvaar berus egter by jouself. Jy moet die keuse maak.
Hoop sê: “As jy (as Christen gestruikel het) jou sondes bely, Hy is getrou en regverdig om jou, jou sondes te vergewe, en (boonop) jou van alle ongeregtigheid te reinig. – 1 Joh. 1:9. Hoop maak alles nuut, ook vir jou.
Heb. 7:19 sê: “… daar is die invoering van ‘n beter hoop waardeur ons tot God nader.”
Hoop sê in Sag. 9:12: “Keer terug na die vesting o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed!”
Hoop sê in Klaagl 3:21-26: “Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: dit is die goedertierenheid van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want Sy barmhartighede het geen einde nie (let op: geen einde nie); hulle is elke more nuut; U trou is groot!
“Die HERE is my deel, sê my siel, daarop sal ek op Hom hoop. God is die HERE vir diegene wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE!”
Hoop sê in Heb. 6:18-19: “Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename (dis ek en jy as Christene) van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg:
“Sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; en ons het dit as ‘n anker van die siel, wat veilig en vas is en ingaan tot die binnekant van die voorhangsel.”
Dit is noodsaaklik dat jy ‘n studie maak van Heb. 6. Dit staan bekend as die hoop-hoofstuk.
In Joël 2 doen hoop ‘n ernstige beroep tot bekering, want daar is hoop en in Joël 2:25 kom die genadige en regverdige God en sê hy sal diegene wat terugkeer na die hoopvolle vesting vergoed vir die jare wat die sprinkane verslind het.
Maak altyd die regte keuse, kies HOOP! – Sjibbolet

Iemand se gebed nou anderdag:

Ek is ‘n Koningskind!
Ek is meer as Oorwinnaar deur Christus wat my krag gee
Ek is die wenner en nie die verloorder
Ek is tot alles in staat weens Sy krag
Ek sit saam met Jesus in hemelse plekke
Ek regeer saam met Hom oor die vyand en sy werke
Satan ek weerstaan jou, jou werke en jou planne;
Ek bind jou en maak jou kragteloos in Jesus’ naam
Jy’t genoeg gesteel en geslag
Jou tyd is op
Die bloed van Jesus is teen jou
Wyk van my af!
Ek eis duisendvoudig terug, al’s wat jy van my gesteel het
Ek eis ‘n siel vir elke sent wat jy van my beroof het
God sal jou straf.. dis reeds so opgeskryf!
Ek neem my gesag in Christus op,
Hy leef in my en ek deur Hom...
Met Jesus loop ek ‘n bende storm,
Met Hom spring ek oor ‘n Muur,
In Jesus’ naam
Amen

‘n Eenvoudige traktaatjie


Image result for Man getting on a bus and paying with a ticket



In A Victory Tract vertel 'n man in die eerste persoon sy storie onder die titel: Jou kaartjie asseblief!

Ek het 'n bus uit die stad huis toe gehaal. Nie lank nie of die kondukteur kom my kaartjie vra. Ek gee dit vir hom en ook 'n traktaatjie. Hy lag. "Jy gee my elke keer een van daardie godsdienstige leesgoed. Jy moet dink ek is 'n slegte man. Maar ek is net so goed soos enige ander persoon."
Ek het my Bybel opgehou en gevra: "Sien jy hierdie boek. Dit sê vir my: ‘Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? (Jer. 17:9).' Dit beteken jou hart en my hart." "O, wel," sê hy, "daar is vir my nog baie tyd om oor hierdie dinge te dink. Ek is nog jonk."
"Ja, ek sien so," antwoord ek hom, "maar jy kan na enige begraafplaas toe gaan en jy gaan grafte van verskillende groottes daar kry. 'n Dogtertjie het eendag vir haar ma gevra hoe oud moet mens word voor jy doodgaan. Die verstandige ma het vir haar 'n lang stuk lyn gegee en gesê sy moet na die begraafplaas toe gaan en dan meet sy elke graf. Elke keer maak sy 'n knopie in die lyn om die lengte aan te dui. Na 'n ruk het sy met haar lyn teruggekom. Die lyn was vol knope. "Kyk, ma, die grafte is alle lengtes." "Dit is so, my kind, dit is wanneer mense doodgaan: enige tyd en enige ouderdom." Die kondukteur het weer gelag en gesê: "Vir my is daar nog baie tyd."
Toe ek by my bestemming afklim sê ek vir hom: "Onthou die tyd is kort. Jy hoef nie na 'n Christuslose graf en hel toe te gaan nie. Christus het ook vir jou gesterf." Die jongman was nog maar ses of agt weke op daardie busroete, maar ek het dikwels met hom 'n gesprekkie aangeknoop en elke keer vir hom 'n traktaatjie gegee.
Die volgende dag na ons gesprek ry ek met dieselfde bus, maar daar is 'n ander kondukteur. Hy vertel my die man met wie ek die vorige dag gepraat het, wou na werk vinnig by sy klub kom. Hy het uit die bus gespring om die ander bus te haal. Hy het misgetrap en onder 'n voertuig beland. Hy is hospitaal toe geneem, maar hy is 'n kort rukkie later die ewigheid in.
Die nuus het my hewig ontstel, want dit beteken die man is toe regtig, soos ek hom gewaarsku het, na 'n Christuslose graf toe en hy is dan reeds in die verdoemenis. Net 'n rukkie later kom een van sy vriende by my aan en vertel my dat die man voor hy gesterf het Christus as Saligmaker aangeneem het, en gevra het hy moet dit vir my kom sê.
Na al die traktaatjies wat hy gelees het, het hy genoeg kennis gehad om te weet hoe om die Here aan te neem as sy Verlosser. Ek het na sy huis toe gegaan en ek is toegelaat om na sy lyk, wat toe reeds in 'n kis was, te gaan kyk. Toe ek op sy stil gesig afkyk het ‘n intense gedagte my vervul, wat ek ook hier neerskryf. Wat 'n dringende, vreeslike waarskuwing is dit nie, vir enige iemand wat dink hy het nog baie tyd nie.
“'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel.” Heb.8:27. In sy liefde en genade het God aan hierdie jongman ‘n kans gegee om sy oordeel te ontvlug. God het hom ook 'n laaste boodskap gegee. Wat ek nou skryf mag God se laaste boodskap aan jou wees. "Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding." 2 Kor.6:2
Bereik dit jou op veilige grond? Jy weet jy is gered! Of doen jy nog net jou bes om vir die Here te lewe? Vertrou jy daarin vir jou saligheid? Luister na die Here se woord: "Wie op sy eie hart vertrou, hy is 'n dwaas..." Spr.28:26. : "'n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is." Spr.29:1
Die man wat die traktaatjie vir die buskondukteur gegee het en met hom gepraat het, kan ook bly wees: Hy het sy werk vir die Here getrou gedoen. Daar is talryke getuienisse van mense wat weens ‘n eenvoudige traktaatjie gered is.
Ons is in die Laaste Uur. Bring die siele in. Jy kan tog nie alleen Hemel toe gaan nie. Gee om vir andder en neem hulle saam.

Saterdag 29 Oktober 2016

Tegniese probleme met die blogs


Goeie more aan alle lesers en intekenaars

Ek wil julle net in kennis stel dat al 3 blogs, Tabernakel Bedieninge, Gebedversoeke en Gebede sowel as Verhoog Jesus 'n tegniese probleem op het waaraan ons werk, tot dus vêr sonder enige sukses, wees asb geduldig ons werk aan die probleem, elke keer net as ons dink ons kry iets reg, is iets anders weer verkeerd!

Ek het ook al die Intekenaars en volgers verloor en weet nie meer wie ingeteken het en wie nie, ek sal waardeer as elke persoon wat ingeteken het, of wat die blog volg my kan kontak deur e.pos belindapaar@gmail.com en my kan verwittig van enige probleme wat jul met die blog ondervind asb.

Ek het alreeds klagtes ontvang van mense wat sê dat hulle nie verwittig word deur e.pos wanneer ek iets nuuts op die blog sit nie. Die ander probleem wat ondervind word deur mense is dat hulle kommentaar lewer en die kommentaar wys nie op die blog nie, ek wil ook net sê dat ek ook nie meer die e.pos ontvang wat sê iemand het komentaar gelewer nie.

Laastens, mense wat my per e.pos kontak met probleme, se e.pos gaan nou in my "Spam box", en ek is eerlik as ek nie die persoon ken nie is ek soms te bang om die e.pos oop te maak. Soos ek verstaan van die tegniese mense wat my help, het Google veranderinge gebring in Google self en die blogs is daardeur beinvloed. Wees asb geduldig ons werk aan die probleem en glo dat die Here vir ons wysheid en insig sal gee aangaande die probleem om dit op te los, ek glo hierdie is net 'n aanval dat die Evangelie nie verkondig kan word nie, maar God is grooter as enige tegniese probleem, ons sal oorwin in Jesus Naam.

Baie dankie aan al die getroue ondersteuners en lesers van die blogs, ek glo dat mense nog die blog besoek en kan besoek alhoewel die syfer op die 'Total views" nie meer vermeerder nie, ons glo dat daar 'n probleem met die "Total views gadget" is en dat dit nie is omdat mense nie die blog kan bereik nie. Wees geseend in Jesus en bid ook asb vir my bediening dat die Heilige Gees my altyd uit die pad sal neem en Hyself deur my sal skryf, en bid asb dat ons hierdie probleem spoedig sal kan oplos.

Groete en Jesus liefde
Belinda

Woensdag 26 Oktober 2016

Het jy ook ‘n Doring in die vlees…



In 2 Kor 12:1-10 sê Paulus dat hy ‘n “doring in die vlees” het.
            Die doel van hierdie boodskap is om aan te toon dat Paulus se “doring in die vlees” nie ‘n siekte was nie.
            As ons met die verskoning kon wegkom dat siekte ‘n doring in vlees is en dus die Vader se Wil is, dan beteken dit noodwendig dat ons almal kort voor lank siek sal wees en dat diegene wat reeds siektes en liggaamlike gebrek het, nie genees kan word nie.
            As die “doring in die vlees” ‘n siekte was, dan sal daar gedurigdeur by alle gelowiges twyfel bestaan het oor waarom hulle siek is en of hulle genees kan word.
            En weet jy wat, as Paulus se doring in die vlees wel ‘n siekte was, dan verhinder dit in elk geval nie dat ons genees kan word nie. Paulus het dan self vir die siekes hande opgelê en hulle het genees.
            Ons lees egter nêrens in Die Bybel dat Jesus Christus of enige van sy dissipels, ‘n sieke of gebreklike weggewys het nie. Daar is ook nooit vir iemand gesê dat hulle nie kan genees nie omdat hulle siekte kwansuis ‘n doring in die vlees sou wees nie.
            Christus het almal genees wat na Hom toe gekom het.
            Boonop het Christus, in Sy Testament wat hy aan ons nagelaat het, skriftelik bevestig dat Hy ons sal genees.
            Kom met ‘n opregte hart na die Vader en jy sal beslis genesing ontvang.
            Let vir eers op: Paulus het nie gesê dat hy ‘n doring in ”sy” vlees het nie. Hy het gesê: ek het ‘n doring in “die” vlees.
            Maar, waarom het die Vader besluit dat Paulus van tyd tot tyd geteister sou word deur ‘n doring in die vlees?
            Onthou, hy was ‘n bevoorregte kind van God, seker meer bevoorreg as die meeste, want:

·        Hy was weggeruk in die Paradys
·        Hy het dinge gehoor wat ‘n mens nie mag uitspreek nie
·        Die Vader het die gawe van die Heilige Gees aan hom toevertrou
·        Hy was die geleerdste man van sy dag
·        Hy het 14 sendbriewe geskrywe
·        Hy het meer in tale gepraat as enigiemand anders
·        Ons kan hom as ‘n soort “super” Christen beskryf
·        Hy het die siekes op verskillende maniere genees
·        Hy was die man met al die antwoorde
·        Hy was bo verdienste deur God begenadig
·        Hy het ‘n besondere maat van wysheid en kennis in die Godsaak openbaar
·        Hy het dinge in die geestelike beleef wat niemand anders beleef het nie
·        Hy het homself op elke moontlike terrein van ander mense onderskei.

Kom ons vra nou onsself af: as ons met al hierdie wonderlike dinge toevertrou was, as ons alles gedoen en beleef het wat hy deurgemaak het, selfs ‘n groot deel van Die Bybel geskryf het, sou God nie dalk vir ons ook '‘ doring in die vlees moes gegee het om ons nederig te hou nie – sodat ons, net soos Paulus, ons ook nie van tyd tot tyd sou verhef nie?
Met ander woorde, Paulus had nie ‘n doring in die vlees vanweë die negatiewe nie, maar juis vanweë die positiewe.
Maar, Paulus het beslis ‘n doring in die vlees gehad, daarvan kom ons nie weg nie.
Wat was die “doring” dan waarna Paulus verwys het?
Paulus antwoord self die vraag, tesame met die rede vir die doring. In die 7e strofe sê hy:
“En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee (en wat was die during?) – ‘n engel van die Satan.”
Wat het hierdie engel van die Satan aan Paulus gedoen?
Paulus sê: om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.
Goed, nou weet ons dat hierdie engel Paulus soms met die vuis moes slaan. Dit was vir hom ‘n doring in die vlees.
Hy het egter goed geweet waarom hy van tyd tot tyd deur die betrokke engel met die vuis bygedam is – sodat hy hom nie sou verhef nie, en nederig sou bly.
Nog iets. Die woorde “met die vuis geslaan” is nie ‘n heeltemal korrekte vertaling van die Engelse woord “buffet” nie. “Buffet” beteken eintlik stormram, soos wanneer twee ramme mekaar bestorm.
Ons lees egter nêrens dat Paulus  deur siekte gestormram of ge-“buffett” is nie.
As Die Bybel dit dan nie so stel nie, waarom sou mense voortgaan om te sê dat dit ‘n siekte was?
Kom ons bekyk die doring-kwessie van nader.
In Num 33:55 lees ons: “Maar as julle die bewoners van die land, nie voor julle oë uitdrywe nie, sal die van hulle wat julle laat oorbly, “soos dorings in julle oë wees, en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waarin julle woon.”
Weer sien ons dat dorings en in hierdie geval ook “angels” beslis nie ‘n siekte is nie.
In hierdie geval was die dorings en die angels niks anders nie as die Kanaäniete wat die Israeliete in hul eie land sou stormram, sou beveg.
Met ander woord, die dorings en die angels was mense. En Paulus praat ook  van ‘n persoon wat hom telkens die skade aanrig.
Let op: Paulus sê: hieroor het ek die Vader drie maal gebid dat hy  (die persoon) van my sou wyk.
In Paulus se geval moes die gevaar bestaan het dat Paulus homself sou kon verhef, daarom dat die Vader  telkens, net wanneer dit sou gebeur, Paulus eers weer terug aarde toe gebring het.
Die Vader antwoord Paulus dan toe ook: My genade is vir jou genoeg.
Met ander woorde, solank Paulus hom nie verhef het nie, was daar geen gevaar dat hy gestormram sou word nie.
Weet jy hoe groot is God se Genade? Dit is soos die vissie wat in die magtige Oranjerivier geswem het en vir die Oranje gesê het: vandag drink ek jou leeg. En die Oranje het geantwoord en gesê: drink maar, my water is vir jou genoeg.
Paulus het inderdaad die gawe van genesing gehad want:

·        Hy preek en merk – met normale gesonde oë – dat die verlamde in die stoel geloof openbaar
·        Hy kon net na siekes kyk, dan het hulle genees
·        Siekes kon sy sakdoek op hulle lê dan het hulle genees

Waarom sou daar steeds gelowiges wees wat aanhou om dinge te beweer wat nie in Die Bybel staan nie?
As almal net bietjie moeite wil doen om hul Bybels deeglik te bestudeer, dan sal persepsies nooit bestaan nie.
Die Bybel sê hoegenaamd nie dat Paulus ‘n siekte gehad het nie, waarom sou ander dit dan sê.
Ons kan onsself nog ‘n interessante vraag afvra:
Veronderstel weer ‘n keer dat Paulus se doring in die vlees wel ‘n siekte was, hoe sou dit ooit moontlik vir hom gewees het om soveel reise te kon onderneem en in so ‘n besondere groot mate die werk van God kon gedoen het?
As dit ‘n siekte was, dan het Paulus  werklikwaar met siekte en al meer vir die Godsaak gedoen as enigeen van ons.
As dit ‘n siekte was, waarom verheerlik jy dan nie ook die Vader met siekte en al nie?
Waarom probeer jy om jou siekte te genees, selfs dokters en spesialiste te gaan spreek? Waarom aanvaar jy dan nie jou siekte nie?
Waarom kla jy gedurig oor jou siekte? Paulus het nooit oor ‘n siekte wat hy sou hê gekla nie.
Dit bring ons by Gal 4:13 … “Maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees, die eerste keer die Evangelie aan julle verkondig het … en julle het my beproewing in die vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as ‘n Engel van God, as Christus Jesus … Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat as dit moontlik was, julle jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.”
Nou is daar diegene wat beweer dat Paulus ‘n oogsiekte gehad het. Wanneer ons egter die Skrif ondersoek, dan kom ons weer ‘n keer by die regte antwoorde uit.
‘n Logiese vraag is egter, as God vir Paulus, toe hy nog Saulus was, met blindheid geslaan het en hom daarna weer genees het, waarom sou die Vader hom ‘n oogsiekte laat oorhou het?
Maar, uit die Grieks vertaal is die woord “astheneia” nie krankheid nie, maar swakheid, van die vlees.
Die direkte vertaling uit Grieks na Engels lui … “and ye know that on account of weakness of the flesh, I preached …”
In die volgende strofe lees die Afrikaans: “Julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie.”
In Engels lees dit: “And my temptation, which was in my flesh.”
Die direkte Grieks lees egter: “and the trial of you in the flesh of me…”
Die Nederlandse vertaling is ook korrek: “En gij weet, dat ik door zwakheid des vleesches het Evangelie eerstmaal verkondigd heb; en mijne verzoeking, die in mijn vleesch geschiedde, hebt gij niet veracht nocg verfoeid.”
Die sterkste wat ons hieruit kan haal, is dat Paulus aan die begin die eerste keer aan die Galasiërs die Evangelie gebring het, ‘n

·        swakheid in die vlees gehad het
·        dat die swakheid ‘n versoeking was, en
·        dat die swakheid dalk iets met sy oë te doen gehad het.

Die enigste logiese afleiding hiervan, is dat Paulus dalk deur sy oë in die versoeking gekom het. Dalk was hy té krities gesien in die lig van die Jodedom destyds en sy vermoeiende taak om hulle vanuit die Jodedom na die Christendom te bekeer.
Dit is tog so dat mens met jou oë, ook met jou tong, in die vlees en ook in die Gees kan lewe.
Baie van ons leef nog met ons oë in die vlees. Ons sien gedurig die negatiewe raak en pik gereeld daarop en kritiseer meesal tot nadeel van onsself, die Christendom en die uitbreiding van God se Koninkryk.
  “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;  en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Hebr 12”12-15 – Sjibbolet

Die LETTER en die GEES

Halloween kry ‘n groterwordende vastrapppek in die Suid-Afrikaanse samelewing. Daar is diegene wat die hou van Halloween verdedig. Ander staan dit teen om geestelike Bybelse redes. Die geskrif hierby gaan nie oor wat Halloween en dergelike is nie, maar oor die rede waarom almal nie begrip vir die gevaar daarvan het nie.

Die LETTER en die GEES

Die Natuurlike mens neem die dinge van die Gees nie aan nie
1 Kor. 2:14
Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan nie verstaan nie (hoekom nie?) omdat dit  geestelik beoordeel word!

En strofes 12 en 13:
Ons (die geestelike mens) het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie maar die Gees wat uit God is (hoekom?) sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.

13:
Daarvan spreek ons ook, nie met  woorde  wat  die  menslike  wysheid  leer  nie maar dié  wat die Heilige Gees leer (hoekom?) sodat ons geestelike dinge met geestelike  vergelyk !

2 Kor 3:6 “…die letter maak dood, maar die gees maak lewend.

1 Kor. 3 se subtitel, lees: Die vleeslike gesindheid ‘n oorsaak van verdeelheid .
In strofe een sê Paulus aan sekere Christene dan ook:…ek kon nie met julle spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie (hoekom nie?) want julle was nog nie daartoe instaat nie (en wat meer is…) julle is nou nog nie daartoe instaat nie (hoekom nie?) omdat julle nog vleeslik is….. !!!

Hier het ons dus ‘n geval van wedergeborenes wat nog nie geleer het om in die Gees te wandel nie.

2 Kor. 10 vers 12:
Want ons waag dit nie om ons te reken of te vergelyk (met wie?) met sommige van die wat hulself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hul met hulleself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig.

Vergelyk ook 1Kor. 15: 44 - 46.
En 1Kor. 14 strofe 37 …”As iemand meen dat hy ‘n profeet is of ‘n geestelike mens, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, ‘n bevel van die Here is.  (Dit is dus duidelik dat alleen iemand wat ‘n profeet is, of dan geestelik is, sal die brief kan verstaan).

1 Pet. 2:5 …. En laat julle ook soos lewende stene  opbou, tot  (‘n wat?) ‘n geestelike huis (volk), ‘n heilige priesterdom (hoekom?) om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

Spreuke 18:21
Dood en Lewe  is in die mag van die tong ; en elkeen wat die graag gebruik sal die vrug daarvan eet.

Met ander woorde:  Of ons spreek Dood, of ons spreek Lewe.

Die gees is Lewe! Die Letter is Dood.

God is positief, ons durf nie negatief wees nie. Ons Lewe  Bo omstandighede en nie onder omstandighede nie.

En verder  –
Die Here sê hy is geen aannemer van die persoon nie. Dus, ons is almal gelyk voor Hom.  Daarom, dit wat die Here vir ander gedoen het of doen, doen Hy ook vir ons. Dis tog ongetwyfel so.
Daarom, as Hy vir Kores dit gedoen het, dan doen hy dit my en jou ook!

Lees nou Jes. 44 : 2 tot 8 en
Eis dit in die naam van Jesus Christus op vir jouself!
Glo dit. Neem dit aan. Sê vir Hom baie dankie daarvoor.
Hy is ‘n “jaloerse God”. Hy wil altyd al die eer hê.

Dinsdag 25 Oktober 2016

Nietzsche is Dood...



In 1882 het die Duitse Filosoof Friedrich Nietzsche ‘n verklaring te midde van luide applous gemaak: "God is dood".
Hy het namens baie intellektuele gepraat wat geglo het dat die vooruitgang van die wetenskap 'n afname in godsdienstige geloof tot gevolg sal hê – met die Christendom primêr aan die verloorkant.
Selfs so laat as 1957 skryf Julian Huxley: "Operationally, God is beginning to resemble not a ruler but the last fading smile of a cosmic Cheshire cat."
Tog, hier is ons vandag deel van die grootste beweging wat die aarde ooit beleef het. Die Christendom is lewend en gesond in die lewens en
harte van miljoene Gelowiges. Al die tekens is daar dat die Christendom na nog 'n duisend jaar steeds besig sal wees om nuwe wortels te skiet, verlore
terreine terug te wen en te groei.
            Al die tekens is egter ook daar dat daar nie meer ‘n duisend jaar oor is nie. Ons is inteendeel in die laaste uur.
Op die oomblik is daar oorloë in 67 lande van die wêreld. Altesame 728 terroriste en para militêre groepe is betrokke. Christene word wreed vervolg in 50 lande van die wêreld. Die wreedste moorde denkbaar word gepleeg. Kinders ly die ergste. Altesame 29 miljoen mense, meesal vroue en kinders, is as seksslawe verkoop. Aardbewings, sinkgate, vloede, terreur, kom nou daagliks voor.
Ons het al baie dinge deur die eeue oorwin. Ons het selfs die dood oorwin, deurdat ons met Christus versoen is en die Ewige Lewe het.
Steeds is daar mense wat God misken.

Description: cid:image001.jpg@01D22ED3.F3693060

Description: cid:image001.jpg@01D22ED3.F3693060
Nietzsche wat as kranksinnige gesterf het

Nietzsche, ‘n verderflike filosoof het in ‘n geestelike duisternis gesterf. Hy was heeltemal buite sy eie verstand. Sy ma moes hom in sy laaste jare versorg.
Op ‘n grafsteen in Oostenryk staan vandag: God is Dood – Nietzsche.
Onder dit het ‘n onbekende persoon gaan skryf: Nietzsche is Dood – God.
  En jy, lewe jy? – Sjibbolet

Japanese Lugdiens – Vlug 123



Japanese Lugdiens Vlug 123 was op 12 Augustus 1985 ‘n geskeduleerde vlug vanaf Tokio op pad na Osaka Internasionaal.
            Die Boeing 747SR was 12 minute in die lug toe ‘n ontploffing aan boord, die vliegtuig onbeheerbaar deur die lug laat sweef en rol het en 32 minute later op Berg Takamagahara 100km van Tokio af laat neerstort het.



Sewe jaar voor die ongeluk het die vliegtuig so skerp geland dat sy stert op ‘n aanloopbaan beskadig is. Die herstelwerk was swak uitgevoer. Daardie gedeelte van die stert het op hierdie vlug afgeruk en die vliegtuig onbeheerbaar gemaak. Die totale hidroliese beheerstelsel van die vliegtuig was ook buite werking.
Die ontploffing het ook die lugdruk binne die vliegtuig buite werking gestel.
Altesame 15 bemanningslede en 505 passasiers is dood, die grootste lugramp ooit. Vier passasiers in die stertgedeelte het die ramp oorleef omdat die stert by impak afgeruk en een kant toe gegooi is.
Terwyl die loods tot op die einde probeer het om die vliegtuig te beheer het die vliegtuig 32min later in vlamme neergestort.
            Een van die passasiers wat omgekom het, het in daardie laaste angswekkende oomblikke ‘n briefie aan sy vrou en drie kinders geskryf.
            Die 52-jarige Hirotsugu Kawaguche moes haastig en gou skryf want die vallende vliegtuig het heen en weer deur die lug gerol.
            Die briefie was aan sy vrou en sy seun Tsuyoshi (21) en sy twee dogters Chiyoko (17) en Mariko (24) gerig.
            Die briefie het gelees:

"EK WIL NIE WEER VLIEG NIE!”

“Wees goed vir mekaar, werk hard en help julle moeder.
Ek is baie hartseer, maar ek is seker en gaan dit nie maak nie.
Vyf minute is reeds verby.
Ek wil nie weer vlieg nie.
Om te dink dat ons ete gisteraand was ons laaste.
Daar was rook in die vliegtuig vanweë die ontploffing en ons het dadelik begin daal.
Tsuyoshi, pa reken op jou.
Moeder... om te dink dat so iets sou gebeur.
Dit is net te erg. Totsiens.
Dit is nou 6:30
Die vliegtuig rol heen en weer en vinnig.
Ek is dankbaar vir my ware gelukkige lewe. Ek het dit geniet tot nou toe.
ASSEBLIEF HERE JESUS, HELP MY

            Net een vraag: “... en as jy op daardie vliegtuig was? – Sjibbolet

Woensdag 19 Oktober 2016

Hindernisse is Leerskole


Image result for God praat met ons


God praat op velerlei wyses met ons, ook deur drome en gesigte, aldus Hand. 2:17. As jy ‘n droom van God ontvang het dan moet jy en jou droom, net soos in Josef se geval, onafskeidbaar van mekaar word (Gen. 37:19). Josef het hom so in sy drome ingeleef dat sy broers hom die “Dromer” genoem het.
            Jou hindernisse is nie jou uiteindelike eindpunt nie. Josef het ook in ‘n paar hindernisse verstrik geraak, soos die put in die wildernis, Potifar se huis en in Farao se tronk – elke hindernis was eintlik ‘n tree verder op sy roete na die paleis toe.
            Die hindernisse is bloot leerskole. God het hom geseën te midde van hierdie moeilike omstandighede. Dalk is jy nog vasgeval by ‘n hindernis op die roete na jou paleis toe! Moenie by die hindernisse vashaak nie. Behou jou visie en jou momentum om op die regte tyd verder te beweeg.
Moenie dat iemand of omstandighede jou van stryk af laat bring nie.  Josef het hom nie deur Potifar se vrou van stryk laat bring nie. Dit het hom tydelik sy vryheid gekos en hy het 'n paar jaar swaargekry, maar hy het deurgedruk en uiteindelik 'n heerser in Egipte geword.
Die tronk van hindernisse is 'n plek waar jy gevorm word.  Daar was verskeie eksterne invloede op Josef, maar hy het aan die droom vasgehou en toegelaat dat die Gees van God hom van binne verander.
            As jy jou oë op die einddoel hou, sal jy weldra aanskuif na die volgende leerskool om uiteindelik paleis toe te gaan. Josef het nie sy tronkstraf aanvaar nie.  Hy lê die skinker se droom uit, en vra dadelik vir hom om hom te help om uit te kom.
Ons is geneig om ‘n hindernis-mentaliteit te ontwikkel. Ons begin kla teenoor almal van die probleem wat ons het. Dit maak ons negatief en veroorsaak ‘n binding in ons gees.
Vertrou op die Almag van God. Niemand kan van Graad 1 af na Graad 12 toe spring nie. Mens moet eers die een eksamen na die ander slaag. Sien ‘n hindernis as eksamentyd.
Raak ontslae van jou tronk-mentaliteit, van gedagtes en gewoontes wat jou bind. Is die verlede altyd vir jou beter as die hede? Is daar swak verhoudings in jou lewe? Emosionele seer?  God wil iets daaraan doen. Wat doen jy daaraan?
Onthou, daar is meer glas in die voorruit as in die truspieëltjie!
            Indien jy ander help met hulle drome, sal God jou help met joune. Josef het die bakker en die skinker se drome uitgelê. Daarna het hy vir Farao ook drome uitgelê en van goeie raad bedien. Hy het ingeskakel by Farao se droom en God het in hierdie inskakeling Josef se eie droom bewaarheid.
            Jy kan vinniger vorder as jou perspektiewe reg is. Binne ‘n kort tydsbestek kan jy van die tronk na die paleis beweeg (Gen. 41:14). Josef se bevryding het snel geskied. Wanneer jy gereed is, kan jy 'n spoedige verandering in jou lewe verwag – 'n verborgenheid wat ons nie verstaan nie:  Ons leer om te wag op die Here, en dit neem soms lank, maar wanneer Hy begin beweeg, kan ons haas byhou!
            God posisioneer jou dalk ook vir toegang tot invloedryke mense in sleutelposisies wat rykdom en bronne tot jou beskikking kan stel, of dalk groot blydskap, dalk ‘n nuwe lewe.
            Die Here sê klop, en vir jou sal (beslis) oopgemaak word. Oor die klop sê die Here, alhoewel die man nie vir sy vriend wou oopmaak en aan hom brode gee nie, het hy nogtans later opgestaan en dit gedoen weens die man se aanhoudende irriterende geklop.
            As hy moedeloos geraak het en ophou klop het, dan het niks gebeur het nie. Hou aan, God is en bly ‘n Waarmaker van sy Woord.
            Mens het al my iemand aangeklop, gemeen hulle is straks uit en dan het jy geloop. Het jy maar aanhou klop, want hulle was agter in die tuin en kon jou nie hoor nie.
            Die HERE belowe, kyk: “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” Luk 11:10. Nie miskien nie, maar sal oopgemaak word. Hierdie proses kan een uur duur, of een dag, maar ook etlike jare. Hou net aan.
            Ons het die belofte van die Wederkoms. Moenie opgee nie. Bly leef in volle verwagting want so seker as jy hier lees, so seker gaan dit wel gebeur. – Sjibbolet