Maandag 10 September 2018

Nader my God by U, steeds naderby…


Image result for onse vader gebed


Die Onse Vader, is ‘n gebed vir die oomblik wat ons dit bid. Dis nie vir more of oormore nie, dis vir die nou,

            Soos in die Hemel, so ook op die aarde. Dis die dieper paWaarheid en Gees – wat ons nou moet begin loop.

            Begryp dit so: Wanneer ons vir siekte bid,dan moet ons besef daar is nie siekte in die Hemel nie en ons bid volle vertroue vir daadwerklike genesing, redding, bevryding.

As dit nie in die Hemel is nie, hoort dit ook nie onder Sy volgelinge op aarde nie.

            Daar is ‘n geestelike kultuur in die Hemel, wat net so hier op aarde onder ons ook moet wees.

            Hierdie kultuur het ‘n eie waardestelsel, ‘n kultuur wat ons lewensstyl moet wees.

            Toe ons gered is, het ons reeds die Ewige Lewe ontvang. Daarmee saam het ons nuwe burgerskap verkry, die van die Hemel.

 Oor hierdie burgerskap, skryf Pastoor Piet Smit van Malmesbury so:

“Wanneer ons dus die dag ons harte vir Jesus gee, moet ons die aardse burgerskap aflê en aanvaar ons slegs die één nuwe burgerskap nl. die Hemelse. Jy kan nie dubbele burgerskap hê wanneer jy ‘n Hemelse burger word nie.

Alhoewel ons nog hier op aarde is, het kinders van God nie meer aardse burgerskap nie. Ons is bloot bewoners van die aarde. Ons word dan ambassadeurs, verteenwoordigers en gesante van die Hemel hier op aarde. 2 Kor. 5:20 sê: “Ons tree dan op as gesante om Christus wil.” Daarom dat Jesus tot Sy Vader bid t.o.v. Sy dissipels (Joh. 17:16): “Hulle is nie van die wêreld nie.” Ons is wel ín die wêreld, maar beslis nie meer ván die wêreld nie. Ek sê: Wat ‘n voorreg dat die bloed van Jesus jou so nuut maak dat dit selfs jou ou burgerskap ophef en jy oorgaan na hemelse status. Efe 2:6

Vele kinders van God leef soos mense wat dubbele burgerskap het. Wanneer dit hulle pas, is hulle Hemelse burgers en wanneer dit hulle nie pas nie dan leef hulle soos aardse burgers. Die een voet in die wêreld en die ander voet in die kerk.

Hulle wil op twee weë tegelyk loop, die breë en die smal pad tegelyk. En dit kan nie en dit mag nie. Hoor hoe stel die Woord dit op ‘n ander manier: Efe. 5:8 – “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die HERE — wandel soos kinders van die lig.”

Kom kinders van die Here, laat ons leef soos ware burgers van die Hemel. Ons is op pad na die stad met fondamente, die Nuwe Jerusalem, waar ons saam met Jesus gaan wees – wat ‘n vooruitsig!

            Moet tog nie dat daar sleg gespreek word van ons land van burgerskap, omdat óns nie soos waardige burgers van die Hemel wandel nie. Efe. 4:1

Ons gedrag en lewenstyl moet so aantreklik wees dat almal wat ons sien en met ons te doen kry, begerig sal wees om Hemelse burgerskap op te neem!” (Pastiir Smit se beskrywing van ons burgerskap was so treffend dat skrywer dit net so gebruik het.)

            Jou kultuur is jou waardestelsel. Dis hoe jy reageer op alles wat met jou en rondom jou gebeur.

            Daar is egter ook ‘n Koninkryk Kultuur, hoe alles in die Koninkryk funksioneer.                     

Ons bid “soos in die Hemel, so ook op die aarde.” Hierdie gebed het niks met die toekoms of die Ewigheid te doen nie. Dit behels elke oomblk ons lewe sodat ons lewens en optrede ‘n spieëlbeeld is van die Hemel.

Wat nie in die Hemel is nie, het ook nie plek in ons lewens hier nie. Daar is geen siekte nie… dan ook nie onder ons nie. Daarom is dit nie vreemd dat Jesus belowe om alle siekes onder ons te genees nie.

            Ons weet uit ondervinding dat onvergewensgesindheid genesing verhoed. Let op, ons moet ook verhoudings in die Hemel hier weerspieël… m.a.w., onvergewensgesindheid is nie indie Hemel nie en daarom hoort dit in die eerste plek nie onder ons nie.

            Na Wedergeboorte is ons nie langer burgers van die aarde nie, maar burgers van die Nuwe Jerusalem, van die Hemel.

   Dit moenie ‘n teorie wees nie, maar ‘n werklikheid, soos bv: “Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.” Matt 12:28

Dit was dus meetbaar of illustreerbaar: Die demoon is weg, die person is vry. Dit illustreer dus dat die Koninkryk van die Hemel naby gekom het,

Die Hemel berus op skoonheid en krag. Dis hoe dit hier op aarde ook moet wees.

            Ons geestelike lewe beweeg deur groeiorisesse, seisoene. Soos wat ons groei in die Koninklike Kultuur, leer ons al hoe meer van die Hemel en God se krag.

            Hierdie kultuur word so deel van ons dat dit oral met ons saam beweeg, letterlik oral.

            Daar is lering wat lui: Eerste is God, dan Christus, dan die man, dan sy vrou… en so gaan hulle voort.

            Daar bestaan nie so iets nie. Die HERE God Yaweh is is nie nommer een nie, Hy is alles.

            Soos wat mens groei en kennis opdoen van die Koninklike Kultuur, begin mens alle onbelangrike goed in jou lewe uitsny. Jy streef na skoonheid.

            “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is (Let op) gees en is lewe.” Joh 6:63

            En: “Maar daar kom 'n uur (wanneer?), en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.

Luister: God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24

Soos wat mens dieper in die Koninklike Kultuur inbeweeg, begin jy ook in Gees bid en leef. Soos in die Hemel so ook op die aarde.

Soos wat jou gees as jongmens uitgegaan het na jou beminde, so wil jou gees nou net in kontak bly met die Heilige Gees.

Dis hoe ons ook gaan slaap sodat die Heilige Gees  God se waarhede en verborgenhede self met jou in jou slaap sal deel.

Ons praat ook van die Lewe in Christus. Dis hierdie lewe wat ons ook in staat stel om die Koninkjlike Wet te kan nakom en uit te leef.

Let op: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

            Soos wat die Koninklike Kultuur ons lewens oorneem word ons lewe omvou in ware vrede, volle vertroue en heerlikheid (glorie!), totale oorwinning, en het ons nie weer professionele hulp nodig nie.

            Die heerlikheid (Glorie), soos in die Hemel, is aan ons op aarde gegee… sodra ons dit as Hemelse Kultuur ontvang, sal Jesus se pleidooi in vervulling gaan en sal ons werklik een wees. Geen gemeente sal ooit weer skeur nie..“En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.” Joh 17:22

In Johannes 12 bid jesus en sê aan God die Vader: “Hulle, (dis nou en en jy) is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” John 17:16

            Maak vrede hiermee en pas aan en groei. – Sjibbolet


 https://www.youtube.com/watch?v=v1mQT1u_45I

Sien jou kinders Jesus in jou?


Image result for Dad and son watching tv


Die seuntjie vra aan sy beskonke pa: “Pappa, hoe lyk Jesus?” Die pa kan nie antwoord nie en maak of hy TV kyk terwyl hy nog ‘n bottel oopmaak.

Die dogtertjie vra ook: “Pappa, lyk liewe Jesus soos jy? Ek wil graag vir liewe Jesus sien wanneer ek na pappa kyk. Vir die pa raak dinge eens te erg en snou die kinders uit die sitkamer uit.

'n Man het een nag by 'n plattelandse gesin oornag. Die oulikheid en mooi maniere van die mense se seuntjie van 5 jaar, het hom groots beindruk.

Die volgende oggend ontdek hy die rede vir die kind se goeie gedrag. Die ma was in die kombuis besig om die roomafskeier te was, toe die seuntjie met 'n boek in die hand by haar inkom. "Ma," vra hy, "wat maak die man hier in die prent?"

Tot die kuiergas se verbasing, staak sy haar werk, droog haar hande af, hurk by hom en saam met hom kyk sy na die prent en verduidelik wat in die prent aangaan. Na die kind weer die kombuis verlaat het, gaan hy na die ma toe en spreek sy verbasing uit dat sy haar werk onderbreek het en soveel tyd aan die seuntjie bestee het.

"Meeste ma's sou vir hom gesê het om te gaan speel en later na haar toe te kom." Die vrou het geantwoord: "Ek verwag om nog vir baie jare elke oggend die roomafskeier te was, maar my seuntjie sal my dalk nooit weer daardie bepaalde vraag vra nie. Ek kon so 'n geleentheid nie verby laat gaan nie."

Dit is 'n goeie geleentheid om op so 'n stadium, die Here Jesus en Evangeliewaarhede by ons kinders tuis te bring. Die voorbeeld wat dan ook, met ons eie lewe en toewyding aan die HERE gestel word, is belangrik.

Die digter, Samuel Coleridge, en 'n vriend het in Coleridge se tuin gestap en die gesprek het oor die opvoeding van kinders gegaan.

Die man sê vir Coledridge, "Ek leer my kind niks oor godsdiens nie. Dis 'n moeilike onderwerp en hy moet self, as hy eers groot is, sy keuses maak."

Juis toe stap hulle by 'n pragtige bedding aarbeie verby. Coleridge sê: "Ek wou die onkruid laat uithaal, maar jy het my nou goeie raad gegee. Ek gaan wag tot die aarbeie eers groot is."

"Dan sal die onkruid die oorhand hê!" sê die man verbaas.

"My vriend, wat dan van jou kind?" vra die digter sag.

'n Man het by sy leraar se studeerkamer ingeloop. "My dogtertjie is skielik vanoggend dood," sê hy verslae. "Ek hoop sy is na God toe.

Wat sal sy vir God sê?

In haar pa se huis en van haar pa se lippe het sy nooit 'n gebed gehoor nie. Ag, as ek haar net een dag weer by my kan hê," sug die pa erg bedruk.

Gebedlose huise, gebedlose ouers, stilte in die huis wat die vermelding van Jesus se Naam as ons Verlosser en elke mens se ewige toekoms betref, is vir 'n kind 'n onberekenbare terugslag.

Is jou klein kindertjies nog by jou? Jou kleinkinders? Maak gebruik van die geleentheid om hulle na Jesus te lei.

"Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die Koninkryk van God... En Hy het Sy arms om hulle geslaan en hulle geseën." Mark 10:14,16

Pa, jy is die Hoë Priester van jou huis. Is daar ‘n huisaltaar? Is jy die voorganger soos dit hoort?

As daar nie ‘n Huisaltaar (Boekevat) aand is nie, vertel die kinders daarvan, vra om verskoning dat julle dit nou eers gaan begin. Sing heerlik saam en bid heerlik saam. Elkeen moet bid.

Jesus sal dit elke keer bywoon. – Sjibbolet

Maandag 03 September 2018

God red die “Vodka Koning”



Die verhaal van die seuntjie wat nie skoolgegaan het nie, en ‘n multi-miljoenêr geword het. Sy pa se onderneming het bankrot gegaan en Lars Olson Smith moes op agtjarige ouderdom gaan werk. In sy tiende jaar is hy reeds ‘n suksesvolle sakeman en op 14 was hy ‘n entrepreneur.

            Kort hierna bekroon die sakewêreld hom as die “Vodka Koning.”

            Toe gryp Jesus, die Koning van die Heelal, in.

 cid:image001.jpg@01D4421D.BD4EF460

Lars Olson Smith van Swede, was in die middel van die jare 1800 bekend as die Vodka Koning van Swede. Vir baie jare het hy sowat driekwart van die totale hoeveelheid Vodka in Swede geproduseer, verkoop en uitgevoer en miljoene verdien.

Toe kom hy tot bekering. Sy lewe het geheel en al omgekeer. Hy het 'n afskaffer en 'n geesdriftige maatskaplike hervormer geword.

Lukas 19:1-10 ; "…waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug," is dadelik van toepassing.

Hy het die skuld van driekwart van sy landgenote se ellende, armoede en sonde, op hom en sy vorige bedryf geneem. Van die oomblik van sy bekering af het hy alles in sy vermoë gedoen, om te probeer vergoed vir wat hy as die vrug van sy verkeerde bedryf beskou het. Sy groot fortuin het hy aangewend om spaarbanke te open, bougenootskappe te stig, koöperatiewe besighede te organiseer wat vir hoeftige mense maklik toeganklik was. Hy het openbare kombuise geopen waar behoeftiges, teen lae koste, voedsame kos kon koop. Hy het verklaar: "Ek reken dis reg om die geld wat ek bymekaar gemaak het op 'n manier, waardeur ek duisende van my medemense ten gronde laat gaan het, te gebruik om so ver moontlik, die kwaad wat ek gedoen het ongedaan te maak."

   Ware berou word geken uit die verlange, om wat verkeerd gedoen is, ongedaan te maak. 'n Mens maak reg, met woorde of met geld, wat mens in 'n sondige gesindheid, aan 'n ander verkeerd gedoen het.

   Dit was die beginsel van Saggeus se voorneme om mense wat hy bedrieg het te vergoed. Nadat Jesus saam met  Saggeus  aan tafel was, he Saggues begeer om wat in sy lewe verkeerd was, reg te maak. Dit is ook hoe Die Bybel dit vir ons leer… hy (moet) teruggee wat hy geroof het of waarmee hy iemand te kort gedoen het. Lev 6:4

As ek regmaak met 'n medemens wat ek aan hom verkeerd gedoen het, bring dit grootse vrede en blydslap in my hart. In die poging om sake so reg te maak, kry ons die ondersteuning en genade van die HERE in ons hart. Die finale troos in die sondebewuste hart, is dat Jesus die sonde aan die kruis ten volle betaal het en Hy ons volle vergifnis gee.

Ons ken Sy belofte in 1 Joh 1:9: "As ons ons sonde bely, Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe, en (let op) ons van alle ongeregtigheid te reinig."

Maak asseblief jou sake eg met die HERE en jou medemens. Daar’s werk! – Sjibbolet.buro@gmail.com

Vrydag 31 Augustus 2018

Het jy Oorvloed?


“Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê”  Joh. 10 : 10.

            Wyle Dr Andrew Murray, spreek hierdie nodige kwesie soos volg aan: Almal verstaan die onderskeid tussen ‘n lewe wat swak en sieklik is, en een wat oorvloedige lewenskrag het. Paulus praat van die Christelike lewe van die Korintiërs as nie geestelik nie, maar vleeslik. Hulle is soos klein kindertjies in Christus wat nie in staat is om vaste spyse te verteer nie.

            Hulle kan dus nie die dieper waarhede van die Evangelie begryp nie.  1 Kor. 3 en Heb. 5

Daar is Christene (die meerderheid) wat nooit verder kom as die eerste beginsels nie. Hulle is swaar van oor en bly vleeslike Christene.

Daar is egter ook andere (die minderheid) wat die oorvloedige rykdom van genade in hul lewens weerspieël.

            Ons vind hierdie verskil dwarsdeur die geskiedenis van die Kerk. Ook vandag is die getal wat in volle oorgawe vir God wil lewe, baie klein. Deurdat hulle geestelik gesind is, beywer hulle hul vir die oorvloedige lewe wat daar in Christus is. Hulle getuig van die heerlikheid van Christus wat “vol van genade en waarheid” is:  “En uit Sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” Joh. 1: 16

            Die oogmerk van die uitdraer van God se Woord behoort te wees om die volheid van God se genade in Jesus só voor te hou, dat Christene sal skaam word vir die armoede van hul geestelike lewe. Dat dit hulle sal aanmoedig om te glo dat die “lewe en oorvloed” in die volheid van die Gees, vir hulle bedoel is.

            Leser, vra jouself af of jy so 'n oorvloedige lewe lei as wat Jesus gekom het om te gee. Kom dit te voorskyn in jou liefde vir die Heiland en in die oorvloed van vrug wat jy tot eer van God dra?

So nie, bid dat God jou krag mag gee om te glo dat Hy mag het om alle genade oor jou oorvloedig te laat wees, sodat jy “altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.” 2 Kor 9:8

Laat Jesus vir jou dierbaar wees, en hou daaglikse gemeenskap met Hom. Hy sal jou deur sy Heilige Gees leer om Hom te eer met 'n oorvloedige lewe, Aldus Dr Murrray.

Kyk ook so daarna: Die HERE sê Hy voed die voëltjies. Daar is dus genoeg wurmpies vir al die voëltjie, maar die HERE sit nie die wurmpies in hul nessies nie.

Die dieper lewe in Christus is beskikbaar, ook die oorvloed, maar ons moet self  daardie heerlikheid in ons hart en lewens indra.

Tot nog toe was baie oortuig dat oorvloed beteken oorvloed van geld en aardse wins.

Maar ons hoort oorvloed te hê in liefde, embarming, sagmoedigheid, geduld, geloof,  blydskap, vrede, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, selfbeheersing. Uit hierdie oorvloed bedien ons, ons naaste.

Let op:  “Maar soos julle in alles oorvloedig is -- in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons -- sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is.

“Ek sê dit nie as 'n bevel nie, maar om deur die ywer van ander ook die egtheid van julle liefde op die proef te stel.” 2 Kor 8:7-8 – Sjibbolet

























Woensdag 29 Augustus 2018

Die Totale Aanslag


Image result for woord van god

Wêreldwyd is daar ‘n totale aanslag op die Christendom, pleks van die omgekeerde.

            “So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die Engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.” Luk 15:10

Hoe kan enige Gelowige dit nie begeer om deel van so ‘n Hemelse blydskap te wees nie!

            Ons kan, as ons die volgende doen: “Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy Heil van dag tot dag.  Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.” Ps 96:3

            By Sjibbolet is ons ‘n paar mense wat saamwerk om die Goeie Nuus selfs oor die grense van die land uit te dra. Ons versprei die Woord meesal in gedrukte vorm, maar sommige predik ook voor groepe.

            Ons ontvang briefies en e-posse van Gelowiges wat vra: “Wat is daar wat ek vir die HERE kan dien?” Ander sê: “Ek wil ook graag iets vir die HERE doen.”

Die oes is baie groot en gereed om in te bring. Die arbeiders is min.  Dit alles kos egter geld.  As jy nog nie weet hoe die HERE jou wil gebruik in die oesveld nie, begin dan en help  ten minste vir ons en ander om die werk te kan doen en leer van ons.

VOORDELE VAN DIE GEDRUKTE WOORD

*  Dit bereik mense op die mees afgelëe plekke;

*  Dit bring die Woord aan skole, universiteite, gevangenisse, hospitale. Daar gaan meer mense deur die hospitale en gevangenisse van die wêreld as deur die kerke.

*  Dit beweeg oor taalgrense heen en is nooit bevooroordeeld nie;

*  Dit reis baie goedkoop en het nie ‘n paspoort of visum nodig nie;

*  Dit bring aan ryk en arm, bekend en onbekend, presies dieselfde boodskap;

*  Dit spreek vir so lank  as wat dit mag bestaan en herhaal sy boodskap oor en oor;

*  Dit word nooit mismoedig nie, werk 24 uur per dag, 365 dae per jaar;

*  Dit keer nooit leeg terug nie, want dit bly die Lewende Woord.

            Jare gelede het ons traktaatjies op sypaadjies en op straathoeke verspei. Mense wil dit nie langer so aanvaar nie. Versprei die boodskappe per e-pos, of maak fofostate en versprei dit in posbusse, in tydskryfte in spreekkamers, glip dit in iemand se sak of inkopies.

            Daar is plek in die Hemel vir boemelaars ook. Wanneer jy vir hulle ‘n geldjie of kos gee, gee sommer ‘n boodskap saam.

            Hou altyd boodskappe in jou motor aan, daar is baie mense langs die pad vir wie jy dit kan gee. Bid daaroor en dank die HERE dat sy Woord nooit leeg terugkeer nie.

            Moet dit nooit in motors se ruitveërs plaas nie. Ruitveërs is die sensitiefste deel van ‘n voertuig en speel ‘n belangrike rol,. Mens durf dit nie beskadig nie.

            Ons beplan  groter uitbreidings. Ons vra nooit geld nie. Mense gee soos wat die Gees van die HERE hulle lei

Ons versprei ook kos, klere, skoene en Bybels.

            Onthou: Jesus heel die gebroke Harte. “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in Ewigheid woon -- Heilig is Sy naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek, maar Ek woon ook by die verbryselde en nederige van gees -- waarom?

            “Om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” -- Jes. 57:15.  –  Sjibbolet.buro@gmail.com 

Dinsdag 28 Augustus 2018

Net jy kan oor jou toekoms besluit!


Image result for someone sitting in prison


"Laat dié een van julle wat sonder sonde is 'n klip op haar gooi... toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan..." Joh 8:7,9 Die Griekse woord vir gewete is suneidesis, wat letterlik beteken, "weet saam met jouself" (a knowing with oneself). Dit kan 'n pynlike proses wees.

       Aan Timotheus skryf Paulus van mense as "gebrandmerk in hulle eie gewete".

       Shakespeare het geskryf: "To be alone with my conscience is hell enough for me!"

      Jare gelede, vertel Dr. R. E. Neighbour (1912 – 1916) die eerste pastor van die Baptiste Tabernakel in Georgia, Amerika, van 'n pa wat in 'n vlaag van woede, sy byl geswaai en sy seun doodgekap. Die pa is dadelik tronk toe geneem.

       Tydens sy aanhouding voor sy verhoor, had hy baie tyd om te rou en te ly oor sy aaklige daad, want hy het sy seun liefgehad.

       Die Regter het sy saak aangehoor en na hy geluister en beraadslaag het, sê die regter: "Ons het jou in hierdie gemeenskap geken as 'n eerbare wetsgehoorsame burger. Jou aaklige daad was onopsetlik. Jou vonnis gaan wees die herinnering aan jou daad. Jy is nou vry om te gaan."

       "Kon daar 'n pynliker straf wees?" vra dr. Neighbour. "Ek glo nie."

       ‘n Puntdig lees so:

       Vertrou my, geen marteling wat die digters verdig,

       Kan ooreenstem met die erge onuitspreekbare pyn,

       wat jy nag en dag sonder rus, beleef nie, want jy dra jou aanklaer in jou bors!

      As jy so iets mens moet oorkom, is dit baie, baie moeilik om vrede vir jou gewete te kry. In so 'n geval speel nie net die gewete nie, maar ook selfverwyt die groot rol. Dit is nie net só 'n ernstige gewetekwelling wat 'n mens se lewe kan moeilik maak nie, maar ook kleiner gewetensonrus. Dit staan tussen 'n mens en die HERE God Jaweh.

       Die Dodesel is die einde van die pad.  Alle moordenaars het in die Dodesel geleentheid gehad om hulle saak met God uit te maak, maar sommige is weens hul eie besluit sonder God die Ewigheid in.

       Sommige van diegene wat in Suid-Afrka daar deur is, beskryf dit so:

       ‘n Vrou wat man se toebroodjies werk toe met gif gesmeer het: “Die spanning in die Dodesel is seker die ergste wat  die menslike wese kan verdra. Ek is onskuldig. Ek het nie my man vermoor nie; ek sweer ek het hom nie vermoor nie.

      “Dit is die swaarte en bitterste tyd wat ek ooit deurgemaak het. Bedags gaan dit aan, maar snags slaap ek nooit nie. Ek huil en bid die nagte om.

      “Ek weet nie wat gaan gebeur nie, maar ek hoop en vertrou dat God my weer uit  die aaklige  Dodesel gaan lei.”

      Die oggend toe hierdie vrou gehang is, het sy geweier op die Dodesel te verlaat. Sy moes met geweld uit die Dodesel na die galgtou gesleep word.

      ‘n Ander vrou was 124 dae in die Dodesel toe haar Appèl misluk het. Haar laaste nag op aarde het sy feitlik niks geslaap nie. ‘n Predikant en die Kapelaan het haar besoek. Ook sy het volgehou dat sy ‘n  “skoon gewete” het en dat sy gaan boet vir ‘n misdaad wat sy nie gepleeg het nie.

      Haar kinders is by haar in die Dodesel toegelaat. Twee ure voordat sy sou hang, is die kinders gevra om die Dodesel te verlaat. Sy het die kinders gegroet en aan elkeen ‘n angelier gegee. Dit was traumatiese  oomblikke.

      In haar geval het sy sonder enige bystand van die Dodesel deur die gang na die galgkamer gestap.

      Die lied “Bly by my Heer” het opgeklink toe sy by die selle van die ander gevangenes verby gestap het. Sy het saamgesing en in die galgkamer verdwyn.

      Op die valdeur se merke het sy saggies “Rus my siel, jou God is Koning” begin sing.

      Sy het net “Jesus” uitgesnik toe die galgtou oor haar kop afgesak het. Sekondes later was sy nie meer nie.

        ‘n Man het geskryf: “In die Dodesel is ‘n mens  so naby en tog so ver van die dood af. Elke asemhaling in die Dodesel is soos ‘n druppel gif wat jy drink en wat jou uiteindelik doodmaak.”

        ‘n Ander het geskryf: “Ek sien gedurig die gesiggie van die kind voor my. Snags kan ek nie slaap in die helderverligte  Dodesel nie,

      “Die Dodesel is ‘n plek van verterende vuur wat binne ‘n mens brand. Dit brand die lewe uit jou uit.

      “Hier is jy gevoelloos, sonder gedagtes, net met ‘n besmette gewete.”

      Hierdie man het nooit snags geslaap nie. Met uitgestrekte hande het hy na die dak gegryp. Dan weer met sy hande langs die muur gevryf en uiteindelik nog ‘n keer gekniel en hardop gehuil en gebid.

      In laaste dae in die Dodesel het hy geskryf: “Die brandpyn in my murg en gees verlaat my  nooit nie. Dis soos ‘n verterende onuitblusbare vuur.”

       Die volgende persoon  was verskriklik bang om ‘n galgdood te sterf.

      Hy het  geskryf: “In die Dodesel is niks in die menslike verstand normaal of blywend nie. In jou ontsteltenis kom en gaan gedagtes in vlietende sekondes verby.

      “Net soos die sand in ‘n uurglas, loop alles vinnig uit om nie weer herroep te word nie.

      “Daar is net een beeld wat jou immer en helder voor die gees staan soos vanoggend se droom... jou kinderdae.”

      Die volgende man  het so geskryf: “In die skadu van die galg, wanneer ek my laaste dae in  stilte en bepeinsing deurbring, dink ek aan die onberekenbare verdriet wat ek op my dierbares geplaas het.

     “Ek het bitter berou, maar berou kom altyd te laat.

     ‘n Man wat ‘n meisie vermoor het, het geskryf: “Die hel en al sy magte kan nie so nimmereindigend wees soos die dae, veral hierdie laaste drie dae, wat ek in die Dodesel deurgebring het nie.”

     Verkeer jy op hierdie oomblik in die Dodesel van die lewe? Is jy ook sonder God, sonder hoop, sonder lewe, sonder liefde? Beleef jy ook ‘n hel van vrees, angs en trauma?

     Daar is genade vir jou. Jy kan die hel ontvlug. Jesus Christus wag vir jou. Hy het ‘n besliste afspraak met jou.

     Neem Hom nou aan. Gebruik asseblief die vrymoedigheid om aan ons te skryf  indien jy gebed of geestelike  hulp verlang.

     Hebreërs beskryf die genesing van 'n kwellende gewete: "...hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien."

     As ons ernstig is oor ons verhouding met die HERE, maar iets hinder die hart se vrede, dan neem mens dit na die HERE toe in ernstige gebed en oordenking. Die Heilige Gees lei dan ook ons gedagtes om Jesus se kruisdood te onthou en 'n volledige gemoedsgenesing te bekom.

     Jou toekoms word deur ‘n besluit bepaal wat net jy kan neem. – Sjibbolet

Vrydag 24 Augustus 2018

So word gebed nie beantwoord nie!


Image result for vergifnis gebed


“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is.” Matt 18:15

            Gebed is toegang tot God om Hom te aanbid en dinge wat ons nodig het te vra. Hierdie toegang kan blokkeer word.

            Jy kan die mooiste gebede bid en niks sal gebeur nie. Jy kan die Onse Vader elke dag en nag bid, en steeds niks... iets haper.

Daar is ‘n binding in jou gees... of dan, ‘n klippie in jou skoen.

In “Christ and the Student World” skryf Robert Wilder: “Niks sal deurdringende gebed meer hinder as ‘n gees van onvergewensgesindheid nie.

Nothing will hinder prevailing prayer more than an unforgiving spirit.”

Dan vertel hy die storie van `n kind wat langs `n straat afstap. `n Groot hond kom blaffende na haar toe. Verskrik gaan sy staan. `n Vreemdeling kom vinnig na haar toe.

“Toemaar, kindjie, jy kan nou verder loop. Hy het opgehou blaf.” Sy bly egter nog vreesbevange staan en antwoord: “Ja, maar sy blaf is nog in hom.” Sy het na die hond se dreigende oë gekyk.

Robert Wilder merk op: “Ons as Christene is soms te menslik om na buite toe te stry, maar is dit nie ons blaf hier binne – ons onvergewensgesindheid – wat ons onderkry nie?

“Ons baklei nie uiterlik nie, maar in die hart is so `n stram gevoel teenoor iemand wat op een of an­der tyd, op een of ander manier, ons te na gekom het.

“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die HERE julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.”

Na Jesus in Matt 18:15 oor vergifnis gepraat het, sê Hy: “As twee van julle…oor enige saak bid, sal my Vader wat in die Hemel is, julle dit laat kry.”

Hierop vra Petrus: “Hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou… selfs sewentig maal sewe keer.” Matt.18:21,22

Vyandigheid in ons hart is ‘n groot geestelike hindernis in ons verhouding met God. As ons nie vergewe en vergeet nie, bly ons die lydende party.


Stuur vir ons ‘n 'nagmaalstel’


“En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is. Hebr 6:15.

Die London Missionary Society skryf oor Robert en Mary Moffat se sendingwerk in Bechuanaland (Botswana), na aanleiding van ’n boek wat hulle seun hulle lewensverloop geskryf het. Hy vertel dat hulle 10 jaar in daardie sendingveld gearbei het sonder enige bemoediging. Niemand het tot bekering gekom nie. Na 10 jaar se sendingwerk kon hulle nog nie ’n gemeente stig nie. Die direkteure van die sending, het by hul vergaderinge in London begin twyfel of die werk in daardie sendingveld moet voortgaan en of Robbert en Mary nie maar terug geroep moet word nie.

 

Een van Mary se vriende in Engeland wou vir haar ’n geskenk stuur. Sy het vir haar geskryf en gevra wat sy graag wou hê. Haar antwoord was ’n getuienis van die Moffats se geloofsvolharding. Sy het terug geskryf: “Stuur vir ons ’n nagmaalstel. Ons gaan dit binnekort nodig kry.”

Uiteindelik, na die 10 jaar se volhardende werk, het die HERE se krag openbaar begin word. Die saad het stadig ontkiem,  uiteindelik het van die inwoners tot bekering gekom en die Moffats kon met ses van hulle die eerste gemeente stig. Die nagmaalstel wat die vriendin gestuur het, het aangekom.  Die Moffats en hulle nuwe gemeente van ses siele, kon die oorwinning van die Lig oor die duisternisin die donker wêreld vier, deur Jesus se dood te herdenk met ’n nagmaal met regte nagmaalservies, omdat Mary  in geloof volhard het.

            Die saad wat mens per getuienis, Skrif, geestelike musiek, trakttaatjies, ens saai, is lewende saad. Dit sal verseker opkom.

            Daar is Gelowiges in SA wat selgroepe in hul huise begin en sodra die groep geestelik sterk genoeg is, word hulle uitgestuur om nuwe groepe te begin.

   Moet nooit ophou saai en bid nie. Hiertoe is ons geroep.

Dinsdag 21 Augustus 2018

Blydskap, soos strome lewende water...


Bruce Crozier, 'n sewejarige seuntjie, het van sy pa se jagkamp in die Arizona berge af weggedwaal. Hy het ses dae en nagte na sy pa gesoek. Die nagtemperature was onder vriespunt. Bruce het snags onder hope droë boomblare ingekruip om warm te bly.  Hy had water in die berge.

            Die El Paso Herald Post berig op 4 November 1939 dat 800 mans te perd ses dae lank na Bruce in die berge en sneeu gesoek het. Dit het $4 000 gekos om die soekgeselskap van 800 man en hul perde ses dae lank van kos en water te kon voorsien.

Bruce het 72km van koers af verdwaal, aldus die Gettysburg Times, toe hy een dag pootuit en gehawend by ander jagters aankom. Bruce had ‘n slim plan, hy het ses dae lank al met ‘n telefoonlyn langs gestap, beseffende dat op pad na nêrens,behoort dit moet hom na iewers lei.

Aan die einde van die sesde dag het hy ‘n ander jagterskamp by Wildcat Canyon binne gestrompel. Hy had geen kos die afgelope ses dae nie en het van bietjies water geleef. Die jagters het na sy storie geluister en Bruce gehaas na ‘n hospitaal in Holbrook.

Sy pa en ‘n perdekommando van 800 man was op soek na hom, maar in ‘n heel ander rigting. Die jagters waar Bruce uitgekom het, eers sy ma en daarna sy pa op kommando gekontak.

In daardie stadium was beide ouers oortuig dat die seuntjie dood sou wees. Wilde diere sou hom verskeur het. Toe sy ma hom omhels het sy gesê: “Dit is byna onmoontlik om te glo dat ek my seun teruggekry het.” Maar die oomblik was eenvoudig te groot en sy het flou neergeslaan.

Toe Bruce se pa op kommando die nuus kry, en boonop hoor dat sy seun ongedeerd is, het hy bewusteloos inmekaar gesak.

Mens kan die skok begryp  wanneer hulle agterna vertel hoe hulle oortuig was die seuntjie is dood en hulle soek eintlik  na ‘n verskeurde lykie.

Dr R.L. Davis het in die hospitaal na Bruce omgesien en sy verbasing uitgespreek hoe fisiek sterk hy vir ‘n sewejarige was. Dr Davis het egter bygevpoeg Bruce sou nie maklik ‘n sewende dag oorleef het nie. Die koue was eens te erg.

            Die Here Jesus het gesê: "Daar is blydskap in die Hemel oor een sondaar wat hom bekeer..." Luk 15:7. Hy probeer vir ons daardie blydskap beskryf uit 'n liefde wat ons ook ken: die liefde van 'n pa vir sy seun.

In die gelykenis van die verlore seun sê Jesus: "Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom… Hy sê vir sy werksmense: 'Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie… hy was verlore en ons het hom teruggekry!'" Luk 15:20-30

            As die Hemel so jubel oor een bekeerling, wat doen ons? Kyk weer na die prys wat betaal is sodat ek en jy gered kon word.

 Waterval  Capture

Waterval  Capture

Luister na die luide applous in God se opelug teater.

https://www.youtube.com/watch?v=lcL678AASFc

In ons dag vind ons dat families skeef opkyk wanneer iemand met ‘n getuienis van redding by die huis aankom. Niemand jubel nie, daar word nie fees gevier nie, eerder praatjies gemaak. As jy nie grootse blydskap beleef oor een siel wat gered is nie, bevraagteken dan jou eie Christenskap.

Die Groot Opdrag is: ”En maak dissipels van hulle.” Dissipels sodat hulle die dieper lewe in Jesus Christus deelagtig kan word. – Sjibbolet

En so klap die bome hande: https://www.youtube.com/watch?v=RGbkQCQPYhE









Dankbaarheid vrywaar jou teen groter onheil


Image result for Luke. 17:15-19


In Luk. 17:15-19 lees ons die verhaal waar Jesus 10 melaatses gesond maak, maar net een het omgedraai en vir Jesus met ‘n groot stem kom loof en dankie sê.

            En Jesus sê: “Gaan, jou geloof het jou gered.”

            Dis moontlik dat  die ander 9 se melaatsheid teruggekeer het en straks veel erger: “En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.

            “Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hyself met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.” Matt 12”13-19

As die Bybel dan praat van geloof, dan het  hierdie man ook redding ontvang. Regverdigmaking deur die geloof in Jesus Christus.

Dit moet ek en jy  voortaan daagliks doen: Die HERE loof en dankie sê:

·       Dankie HERE dat ek kan sien en hoor en voel en proe en ruik;  Bind jou oë toe vir ‘n hele naweek en prober so leef en kyk hoe ver jy kom. Dank God elke dag vir jou twee siende oë, of, as jy net een het.  Maak jou eie lys van dankbaarhede en dis nogal ‘n aansienlike lys. Dank God vir sy Goedheid en Guns.


Wat ‘n fantastiese gewoonte om aan te keer  en jou gemoed op te beur. Komaan, doen dit. Dis die regte ding om te doen. Wees dankbaar. Sê dankie.  Jesus wil dit hoor. - Sjibbolet 

Hoop op Hoop


Image result for bybel


Ek klop, soos so baie keer, aan ‘n vreemde deur. ‘n Vrou maak oop.

  Ek, Bybel in die hand: “Goeiemiddag mevrou, ek is op pad Hemel toe. Ek kom net hoor, as dit vanmiddag sou wees, gaan u saam met my...”

  Met vrees antwoord sy bang: “Nee meneer.”

  Ek: “Maar waarom nie...

  Sy: “Ek hoop ek kan saamgaan, maar ek het te veel sonde meneer.”

  Ek kry haar innig jammer. Sy lyk skielik so beteuterd.

  Op my vraag of ek kan inkom, nooi sy my binne en ons begin gesels...

Ek verduidelik dat “hoop” in die Bybel beteken toekomsfeit. “Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Hebr 11-1

Hoop beteken nie “dalk” nie. Hoop beteken “verwagting, begeerte en opwinding.”

“En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees.” Rom 15:13

God IS die HOOP – soos wat Hy die Liefde is.

“'n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom. Spr 13:12

Hoe kragtig is dit! Hoop wat uitgestel is, is maar net vertraag. Dit beteken eintlik. dit is op pad.   Dit Kom! EN DAN....wanneer dit kom sal dit soos ‘n Lewensboom wees! Hoe kragtig is dit!                                                                                                                                                                                     

Die  vertraging is net ‘n toets, nie ‘n versoeking nie.

God toets ons nie op ons swakhede nie – die duiwel doen dit. God toets ons sterkpunte juis om dit sterker te maak!

  En as jy straks in versoeking sou val, kwel jou nie daaroor nie, maar: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val... Jak 1:2

  As Jesus alle toetse kon slaag, kan ons ook want ons het dieselfde Gees as Jesus.

”Want 'n oomblik is daar in sy toorn, 'n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smorens is daar gejuig.” Ps 30:6

  Ons lewe in ‘n tyd waar ‘n mens maklik van jou hoop beroof kan word. Moet dit nie toelaat nie.

Hoop het nog nooit iemand beskaam nie. Staan vas want jy weet aan God se beloftes dat Hy ‘n waarmaker van sy Woord is.

  Sarah had geen hoop nie en later kry wel hoop en uiteindelik baar sy toe tog. Vir hoeveel kinderlose vroue is nie al in ons tyd die hande opgelê en dan het hulle gebaar nie.

  Net soos wat mens jou spiere oefen, moet mens ook jou geloof oefen.

  Luister: “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” Num 23:19

              Nogtans verval ons soms in wanhoop en word ons mismoedig.  Mismoedigheid  is veronderstel om vir die Christen ‘n kortstondige moment te wees op pad terug na hoop.

  Ons het hoop as integrale deel van ons bestaan nodig want ons kan nie sonder hoop lewe nie.

  Sonder hoop voel dit vir ons of die lewe nie die moeite werd is nie.

  Wanneer ons hoop het, dan voel ons soos wat God ons gemaak het. Sonder hoop voel ons soos ‘n regte ou nikswerd – totdat ons besef, daar is hoop!

  Daar IS hoop! Dit maak nie saak wat jou omstandighede is en watter probleme jy in die gesig staar nie: Daar is beslis hoop. Solank jy nog lewe en asemhaal is daar hoop.

  Omstandighede kan verander.  “Want solank iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop.” Pred. 9:4.- Sjibbolet



Saterdag 11 Augustus 2018

Sosiale Media vs Die Bybel


Image result for ps 23


Die god in ons sakke. Mense is verslaaf aan hulle selfone, sommige uit vrees, ander wagtend op nuus oor die Wegraping, aldus ‘n ondersoek.

            Selfone maak dat mense nie meer mekaar in die oë kan kyk en kommunikeer nie. Midde in geselskap, al stappend straataf, in hulle voertuie, in die klaskamer, in die werkplek is hulle oë en verstand is aan selfone vasgenael.

            Sommige sit in die kerke onder die val van die Goeie Nuus en verwag slegte nuus op hul selfone.

            Selfone word soms op “stil” gestel, maar word nooit afgeskakel nie, selfs nie in die nag terwyl dit laai nie, want daar is dalk nuus oor dood of ander slegte nuus en dan moet die foon op die lug wees. Vrees en nogmaals vrees is een van die hoofoorsake.

            Mense het so afhanklik van selfone geword dat hulle haas daar sonder kan leef.

            Eeue gelede het mense goue standbeeld aanbid. Nou aanbid mense selfone.  Pal is mense op hulle selfone besig. Hulle mag tog niks mis nie. Sommige glo alle mense sal via hul selfone weet (kan sien) wanneer die Wederkoms plaasvind. Vraag is of hulle gereed is?

            So wil meeste vooraf kennis kry van trauma wat op pad is. Sommige het al rumatiek in hulle vingers. Al hoe meer mense kla van hoofpyne, ander van nekpyn en nek spasmas.

            Self die dringende waarskuwings dat selfone kanker kan veroorsaak skrik niemand af nie, solank hulle net die foongod kan aanbid.

            Die skinder afgod loop ook by die een oor in en die ander mond uit… “Het jy gehoor.” Die een kan nie gou genoeg ‘n storie oordra nie en die anders vrees hulle mis iets. Van almal weet almal, maar van die Bybel feitlik niks.

            Mense spandeer meer tyd op hul selfone as op hulle knieë.

            Skakel daai selfoon af en luister wat sê die HERE:

            “Hy sal jou dek met Sy vlerke, en onder Sy vleuels sal jy skuil; Sy trou is 'n skild en pantser.

            Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,  vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!

            Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand- na jou sal dit nie aankom nie.

            Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.

            Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.

            Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; want Hy sal sy Engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.

            Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.

            Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.

             Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.

            Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.

            Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” Ps 91

            En dan is daar die HERE se wonderlike belofte van Godheid en Guns in Ps 23.

            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Hebr 12:12-13 – Sjibbolet