Wys tans plasings met die etiket die dodesel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket die dodesel. Wys alle plasings

Dinsdag 28 Augustus 2018

Net jy kan oor jou toekoms besluit!


Image result for someone sitting in prison


"Laat dié een van julle wat sonder sonde is 'n klip op haar gooi... toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan..." Joh 8:7,9 Die Griekse woord vir gewete is suneidesis, wat letterlik beteken, "weet saam met jouself" (a knowing with oneself). Dit kan 'n pynlike proses wees.

       Aan Timotheus skryf Paulus van mense as "gebrandmerk in hulle eie gewete".

       Shakespeare het geskryf: "To be alone with my conscience is hell enough for me!"

      Jare gelede, vertel Dr. R. E. Neighbour (1912 – 1916) die eerste pastor van die Baptiste Tabernakel in Georgia, Amerika, van 'n pa wat in 'n vlaag van woede, sy byl geswaai en sy seun doodgekap. Die pa is dadelik tronk toe geneem.

       Tydens sy aanhouding voor sy verhoor, had hy baie tyd om te rou en te ly oor sy aaklige daad, want hy het sy seun liefgehad.

       Die Regter het sy saak aangehoor en na hy geluister en beraadslaag het, sê die regter: "Ons het jou in hierdie gemeenskap geken as 'n eerbare wetsgehoorsame burger. Jou aaklige daad was onopsetlik. Jou vonnis gaan wees die herinnering aan jou daad. Jy is nou vry om te gaan."

       "Kon daar 'n pynliker straf wees?" vra dr. Neighbour. "Ek glo nie."

       ‘n Puntdig lees so:

       Vertrou my, geen marteling wat die digters verdig,

       Kan ooreenstem met die erge onuitspreekbare pyn,

       wat jy nag en dag sonder rus, beleef nie, want jy dra jou aanklaer in jou bors!

      As jy so iets mens moet oorkom, is dit baie, baie moeilik om vrede vir jou gewete te kry. In so 'n geval speel nie net die gewete nie, maar ook selfverwyt die groot rol. Dit is nie net só 'n ernstige gewetekwelling wat 'n mens se lewe kan moeilik maak nie, maar ook kleiner gewetensonrus. Dit staan tussen 'n mens en die HERE God Jaweh.

       Die Dodesel is die einde van die pad.  Alle moordenaars het in die Dodesel geleentheid gehad om hulle saak met God uit te maak, maar sommige is weens hul eie besluit sonder God die Ewigheid in.

       Sommige van diegene wat in Suid-Afrka daar deur is, beskryf dit so:

       ‘n Vrou wat man se toebroodjies werk toe met gif gesmeer het: “Die spanning in die Dodesel is seker die ergste wat  die menslike wese kan verdra. Ek is onskuldig. Ek het nie my man vermoor nie; ek sweer ek het hom nie vermoor nie.

      “Dit is die swaarte en bitterste tyd wat ek ooit deurgemaak het. Bedags gaan dit aan, maar snags slaap ek nooit nie. Ek huil en bid die nagte om.

      “Ek weet nie wat gaan gebeur nie, maar ek hoop en vertrou dat God my weer uit  die aaklige  Dodesel gaan lei.”

      Die oggend toe hierdie vrou gehang is, het sy geweier op die Dodesel te verlaat. Sy moes met geweld uit die Dodesel na die galgtou gesleep word.

      ‘n Ander vrou was 124 dae in die Dodesel toe haar Appèl misluk het. Haar laaste nag op aarde het sy feitlik niks geslaap nie. ‘n Predikant en die Kapelaan het haar besoek. Ook sy het volgehou dat sy ‘n  “skoon gewete” het en dat sy gaan boet vir ‘n misdaad wat sy nie gepleeg het nie.

      Haar kinders is by haar in die Dodesel toegelaat. Twee ure voordat sy sou hang, is die kinders gevra om die Dodesel te verlaat. Sy het die kinders gegroet en aan elkeen ‘n angelier gegee. Dit was traumatiese  oomblikke.

      In haar geval het sy sonder enige bystand van die Dodesel deur die gang na die galgkamer gestap.

      Die lied “Bly by my Heer” het opgeklink toe sy by die selle van die ander gevangenes verby gestap het. Sy het saamgesing en in die galgkamer verdwyn.

      Op die valdeur se merke het sy saggies “Rus my siel, jou God is Koning” begin sing.

      Sy het net “Jesus” uitgesnik toe die galgtou oor haar kop afgesak het. Sekondes later was sy nie meer nie.

        ‘n Man het geskryf: “In die Dodesel is ‘n mens  so naby en tog so ver van die dood af. Elke asemhaling in die Dodesel is soos ‘n druppel gif wat jy drink en wat jou uiteindelik doodmaak.”

        ‘n Ander het geskryf: “Ek sien gedurig die gesiggie van die kind voor my. Snags kan ek nie slaap in die helderverligte  Dodesel nie,

      “Die Dodesel is ‘n plek van verterende vuur wat binne ‘n mens brand. Dit brand die lewe uit jou uit.

      “Hier is jy gevoelloos, sonder gedagtes, net met ‘n besmette gewete.”

      Hierdie man het nooit snags geslaap nie. Met uitgestrekte hande het hy na die dak gegryp. Dan weer met sy hande langs die muur gevryf en uiteindelik nog ‘n keer gekniel en hardop gehuil en gebid.

      In laaste dae in die Dodesel het hy geskryf: “Die brandpyn in my murg en gees verlaat my  nooit nie. Dis soos ‘n verterende onuitblusbare vuur.”

       Die volgende persoon  was verskriklik bang om ‘n galgdood te sterf.

      Hy het  geskryf: “In die Dodesel is niks in die menslike verstand normaal of blywend nie. In jou ontsteltenis kom en gaan gedagtes in vlietende sekondes verby.

      “Net soos die sand in ‘n uurglas, loop alles vinnig uit om nie weer herroep te word nie.

      “Daar is net een beeld wat jou immer en helder voor die gees staan soos vanoggend se droom... jou kinderdae.”

      Die volgende man  het so geskryf: “In die skadu van die galg, wanneer ek my laaste dae in  stilte en bepeinsing deurbring, dink ek aan die onberekenbare verdriet wat ek op my dierbares geplaas het.

     “Ek het bitter berou, maar berou kom altyd te laat.

     ‘n Man wat ‘n meisie vermoor het, het geskryf: “Die hel en al sy magte kan nie so nimmereindigend wees soos die dae, veral hierdie laaste drie dae, wat ek in die Dodesel deurgebring het nie.”

     Verkeer jy op hierdie oomblik in die Dodesel van die lewe? Is jy ook sonder God, sonder hoop, sonder lewe, sonder liefde? Beleef jy ook ‘n hel van vrees, angs en trauma?

     Daar is genade vir jou. Jy kan die hel ontvlug. Jesus Christus wag vir jou. Hy het ‘n besliste afspraak met jou.

     Neem Hom nou aan. Gebruik asseblief die vrymoedigheid om aan ons te skryf  indien jy gebed of geestelike  hulp verlang.

     Hebreërs beskryf die genesing van 'n kwellende gewete: "...hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien."

     As ons ernstig is oor ons verhouding met die HERE, maar iets hinder die hart se vrede, dan neem mens dit na die HERE toe in ernstige gebed en oordenking. Die Heilige Gees lei dan ook ons gedagtes om Jesus se kruisdood te onthou en 'n volledige gemoedsgenesing te bekom.

     Jou toekoms word deur ‘n besluit bepaal wat net jy kan neem. – Sjibbolet