Feitlik al die takke was opgesny en met die sny van die laaste tak, kry ek ’n snaakse gevoel in my linkerhand. Ek sien dat die hoekslypmasjien op die grond lê.
Toe sien ek dat daar bloed in ’n dun straal by my pols uitspuit. En ek sien met ’n skok dat my hand afgesny is, vanaf my pols tot by my linkerhand se pinkie en dat my hand aan ’n stukkie vel by my pinkie hang.
Die tuinier hardloop en gaan haal ’n handdoek by die wasgoeddraad. Ons rol dit soos ’n tou en draai dit styf om my pols. Bloed het egter steeds gevloei en ek sien dat my arm tussen my pols en elmboog sleg gesny is en dat die slagaar ook afgesny is.
Ek en die tuinier neem toe die handdoek en draai dit om my bo-arm. Ek gebruik die hoekslypmasjien se sleutel en wen die handdoek daarmee styf op totdat die bloed stop.
Ek hou die sleutel met my regterhand vas en vra die tuinier om my dogter te bel.
Gelukkig antwoord sy dadelik en hy sê vir haar dat sy dadelik moet kom want die oubaas het baie seergekry en dat hy baie bloei. Na ongeveer vyf minute vra ek dat hy weer moet bel en moet sê dat hulle gou moet kom want ek bloei my dood en dat hulle nie eens by rooi verkeersligte moet stop nie.
Ek het my hand in ’n plastieksak gesit en toe binne-in ’n swart plastieksak sodat hulle nie die motor of klere bemors nie. Toe hulle uiteindelik opdaag het daar ’n groot kol bloed en fyn stukkies been op die plaveisel gelê waar ek gesit en wag het.
Hulle het met my na Medi Clinic gejaag en by ongevalle het my skoonseun ’n rolstoel gekry en met my na Ongevalle gehardloop. Die vrouedokter by ongevalle en ’n suster het my hand in
’n skottel gesit wat verskriklik gebrand het.
My kinders het intussen my vrou gebel en vertel wat gebeur het en dat sy dadelik hospitaal toe moet kom omdat ek baie ernstig seergekry het. Intussen het die verpleegpersoneel masjiene aan my gekoppel. My klere het hulle sommer met ’n skêr afgeknip.
Ek het gesien toe my vrou by ongevalle opdaag en ek was emosioneel en het baie erg gehuil. Sy was ongeveer twee meter weg van my en ek het vir haar gesê dat sy gou moet maak want dit word donker om my en dat sy my moet groet want ek gaan weg.
Die laaste wat ek onthou is wat ek gehoor het toe die dokter roep: “Meneer Kruger, Meneer Kruger, o, God, sy hart het gaan staan!”
Ek het van bo-af gesien hoe my vrou en my kinders huil en hoe die dokter en verpleegpersoneel rondhardloop. Skielik het ek ’n baie skerp lig gesien, maar mens kon in die lig kyk en dit was asof iets mens in die lig intrek. Ek is in die lig in en ek het by ’n rivier uitgekom. Die rivier het egter nie water in nie, maar dit skitter soos diamante.
Aan die anderkant van die rivier het ek my pa en ma gesien. My pa is alreeds 38 jaar gelede weg en my moeder is in 2010 weg. My suster was ook daar, sy is in 2006 weg asook my Oupa en Ouma wat ek nooit geken het nie. Ek kon sien dat hulle baie gelukkig is.
Daar het ’n wit wolk by die mense verbygekom en hulle het gekniel en vorentoe gebuig en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van Hemel en Aarde”. My pa het my nader gewink en gesê dat ek na hulle moet kom.
My suster het met my gepraat oor haar kinders en haar man. Ek het beleef dat indien ek na hulle kant sou oorbeweeg ek nie weer sou kon terugkom nie. Ek het ook beleef dat die kleure wat ek gesien het veel mooier was as wat ek nog ooit gesien het.
Skielik het ’n Engel voor my verskyn. Die Engel het ses vlerke gehad en as die wolk verby beweeg, het die Engel (ek weet nie of die Engel manlik of vroulik is nie) sy gesig bedek met die boonste twee vlerke en het hy sy voete bedek met die onderste twee vlerke en ook gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here van Hemel en Aarde.”
Die Engel het my verder die rivier (wat nie water in het nie maar skitter soos diamante) afgeneem. Ons het by ’n plek gekom wat ek sal beskryf soos ’n baie groot poort en in die poort het Moses van die Bybel gestaan. In sy hand was daar ’n baie groot swaard. Die swaard het beweeg soos vuurvlamme.
Die wolk het weer verbygekom en almal het gebuig en die Engel het sy gesig en voete bedek en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van Hemel en Aarde.”
’n Stem het uit die wolk gepraat en gesê-vra: “Vir wie gaan ons stuur?” Die Engel het gesê: “Stuur hom” (dit is nou ek). Die Engel het vir my gesê dat ek Jesaja 6 moet lees en vir my gesê dat ek moet gaan verkondig wat ek gesien het.
Die dokter by ongevalle het prof Marx gebel en gevra om te kom help. Die berader by die hospitaal het my vrou en kinders tee gegee en kort-kort gaan kyk hoe dit met my gaan. Hulle het my seun in Zeerust laat weet dat hy dadelik moet kom. Die berader het weer gaan kyk en vir my familie gesê dat hulle weer my hart aan die klop gekry het, maar dat hulle my nog nie kon sien nie aangesien die medici nog besig was en poog om my te stabiliseer.
My hand is die volgende dag weer geheg en toe ek wakker word, was ek in die intensiewe sorgeenheid.
Om aan die opdrag te voldoen is vir my moeilik. Hierdie is ’n poging om te vertel wat ek beleef het. Vir my was dit duidelik dat daar lewe na die dood is en dat ons verantwoording oor ons lewe sal doen. Ek kan dit wat ek beleef het uiteraard op geen manier bevestig nie, maar dit was vir my die werklikheid. Daar is geen manier hoe ek jou kan oortuig dat wat ek beleef het die waarheid is nie. Ek kan maar net getuig van wat ek beleef het.
“Lees jou Bybel, want daarin het ek bevestiging ontvang van wat ek ervaar het. My boodskap aan jou is om jou saak met God reg te maak as dit nie is nie, want jy moet weet daar is ’n bestemming wat wag en vir God se kinders ’n bestemming van lewe in sy volheid.
ʼn Verdere pad saam met God
Ek was bevoorreg dat God ’n verdere pad met my gestap het. Maandagaand die 19de Augustus 2019 het my vrou Ursula so ongeveer 21:30 my bloeddruk- en slaappil gegee. Ons is so 22:00 bed toe. Die klein worshond slaap onder die komberse by ons voete en die yorkie bo-op die bed by ons voete. Die Engelse bulhond slaap aan my kant van die bed op haar kombers op die vloer en sy snork soos sy slaap.
Ongeveer 2:00 Dinsdagoggend op 20/08/2019 word ek bewus van ’n ontsettende krag wat die kamer vul. Ek maak my oë oop en sien ’n man omring deur ’n helder lig by my voete op die bed sit en hy kyk nar my.
Ek maak my vrou wakker en sê vir haar hier is ’n man in die kamer. Sy kyk en sê dat ek droom en ek moet verder slaap. Die honde slaap ook soos dooie goed. Ek word bang. “Moenie bang wees nie, my kind,” sê die man vir my. Skielik kan ek die krag en liefde sien en voel wat uit die man straal.
Die man vra my uit oor my hand en ek sê dat ek die hand afgesny het en dat dit nou inmekaar getrek is. Hy antwoord dat hy dit weet. Die man sê toe: “Gee my jou hand, my kind,” en vat my hand baie saggies en teer en kyk na my met liefdevolle oë. Ek voel ’n klomp naalde en spelde in my hand. Hy sê dat ek my hand en vingers moet beweeg en daar beweeg my hand en vingers soos voor die ongeluk!
Toe ek opkyk van my hand na die man, is hy weg. Ek het in verwondering in die sitkamer gaan sit. Toe besef ek dat dit die HERE self is wat daar by my in die kamer was en dat Hy my hand genees het!
Elke oggend om 04:45 gaan stap ek met die Engelse bulhond, maar maak eers vir my vrou ’n koppie koffie. Toe ek 05:30 terugkom vertel ek haar en wys my hand vir haar. Sy kon dit nie glo nie. Ek het op my knieë gegaan en die Here gedank dat Hy so goed is vir my. Hy het ook gesê: Gaan verkondig wat jy gesien en beleef het.
Waarlik die Here is waaragtig! — Wekroep