Woensdag 21 Maart 2018

Dis bloed wat nooit sy krag verloor nie


Image result for blood of christ


Al het die bloed van Jesus Christus 2000 jaar gelede op Golgota gevloei, het dit vandag nog steeds dieselfde krag om te red en te reinig.  Dit het geensins verander of verminder in waarde nie.

            Dieselfde bloed wat die mense kon red wat om die kruis gestaan het en wat genoegsaam was om selfs die moordenaar aan die ander kruis toegang tot die paradys te gee. is vandag nog net soveel in staat om mense in een oomblik nuut en vry te maak en jou te reinig van al jou sonde.

            “... die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde.”  1Joh.1:7

Dis bloed met geweldige groot krag. Ons sing dikwels: “Daar is krag, wonderwerkende krag in die bloed van die Lam” maar moontlik het nie een van ons al ooit die volle omvang van daardie krag verstaan of beleef nie.

            Andrew Murray het ’n hele boek geskryf oor “Die Krag van die Bloed” en daarin bespreek hy in besonder hoe Jesus se bloed krag het om te verlos, te reinig, te versoen, heilig te maak en toegang tot God vir ons te bewerk.

Hy wys ook op die lewe in Sy bloed, die oorwinning wat die bloed bring en die Hemelvreugde wat ons eenmaal deur die bloed sal kan ervaar.  Hierdie boek is beslis die moeite werd om aan te skaf as jy dit in die hande kan kry.

            Jesus se bloed het oneindige groot krag!  Dit reinig die mens van alle ongeregtigheid en sonde as dit op skriftuurlike wyse toegepas word en is daardeur sterk genoeg om ons te verlos van enige houvas wat die duiwel op ons mag hê sodat ons hom sekerlik kan oorwin.

            “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde...  As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1Joh.1:7,9

            “Hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam.”  Open.12:11

            As Christene net ’n groter besef kan kry van die krag wat daar opgesluit is in die bloed van Jesus Christus en leer hoe om dit te gebruik in hul stryd teen die duiwel, sal hulle baie minder neerlae ly en in die krag en heerlikheid van God tot Sy eer lewe.

En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Openb 12:11