Vrydag 22 Junie 2018

Nederigheid bring rykdom, eer en die lewe.


Image result for Spreuke 16:19


God gee Genade aan die nederiges


Van Gelowiges word nederigheid vereis: Beskeie wees. Nederigheid het niks met verkleinering te doen nie. Om jouself te verkleineer is ‘n sonde.

            “Want die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte.” Ps 138:6

“Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards.” Spr 16:19

“Die loon van nederigheid is die vrees van die HERE, is rykdom en eer en die lewe.” Spr 22:4

“Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die Heilige plek en (en waar nog?) by die verbryselde en nederige van gees, (hoekom>) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15

Hoogmoed bring mense tot ‘n val. Hulle wat so hoog trots voor God en mens is, gaan iewers tot ‘n val kom en groot vernedering en verleentheid beleef. Maar let op, die regverdige God verhoog terselfdertyd diegene wat hulself in nederigheid voor Hom stel in erkenning van wie Hy is.



·       “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” Spr 16:16

·       “Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.” Jes 13:11

·       “So sal Ek laat bederwe die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is.” Jer 13:9

·       “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.” Matt 23:12

·       “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” Jak 4:10

·       “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” 1 Pet 5:5

·       “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.” 1 Pet 5:6

Bovermelde strofes is letterlik vervul in die lewe van koning Herodus in Hand. 12... ‘n trotse man wat hom teen God verhef het. Hy het sommige van die gelowiges in die tronk laat stop en vir Jakobus met ‘n swaard laat ombring. Hand 12:1, 2

            Herodus het ook vir Petrus in die gevangenis gestop met die doel om hom ook later te dood, maar deur die HERE se ingryping van ‘n Engel, het Petrus bonatuurlik ontkom... ‘n ontsettende vernedering vir Herodus.

Op ‘n dag het hy hom koninklik aangetrek en op sy troon gaan sit en die volk toegespreek. Hand 22:12 lees: “Daarop het die volk hom toegeroep: ‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!”

En wat doen hy, hy het nie soos hy behoort te doen die skare onmiddellik gestop en gesê: “Stop mense, ek is wel ‘n koning, maar ek is nie ‘n god of God nie!” Nee, hy vat die eer vir homself, en wat gebeur toe? Hand. 12:23 – “En onmiddellik het ‘n Engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.”

“Want aan 'n mens wat welgevallig is voor Sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde...

“Maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Ook dit (daai bymekaarmaak) is tevergeefs en 'n gejaag na wind.” Pred 2:28 – Sjibbolet



Dit het begin reën


Image result for raining images


“En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.” Joël 2:23

            ‘n Geestelike vloed is op pad. Die HERE Yaweh het dit belowe. Hy het ook belowe: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.

            “En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” Joël 2:28-29

            Ons het die deur jare al baie preke hieroor gehoor en soms gewonder hoe sal dit gebeur?

            “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:38

            Hou dop: Die enigste vereiste vir alles in die Nuwe Testament is “Glo.” Vir jou genesing ook… Glo.

            Jy glo elke dag vele dinge, maar wanneer God belowe, dan is jy nie so seker van jou saak nie. Intussen is God die enigte een wat werklik geglo kan word.

            Ons het landwyd gebid vir reën en die afgelope tweke veral stroom al wat rivier en stroompie is in die damme. Die ondergrondse watertafel word aangevul. Die eerste sneeu het begin val. Ons het gebid omdat ons geglo het God kan uitkoms bring. (En hoeveel van ons sê dankie?)

            Die Eindtyd-vloed sal in strome vanuit die Gelowiges vloei en siele tot redding bring. Dit sal vergesel word van tekens en wonderwerke.

            Ons moet die werklikheid besef: Jesus is op pad en dis ons verantwoordelikheid om die siele in te bring. Dit begin deur almal as verlore sondaars lief te hê met die liefde van Jesus en die gebed van intersessie te bid, vurig te bid. “Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.”Jak 5:16

            Ons het nie opgegee om vir reën vir die Kaap te bid nie, so gee ons ook nie op om verlore siele in die Koninkryk in te bid nie.

            “Bid tot die HERE om (geestelike) reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle 'n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.” Sag 10:1

            “Gelowiges moet buite hul kerkbande saamkom as Gelowiges en saam bid, intree vir die verlore siele en ons sal ‘n geestelike vloed belewe, ‘n vloed wat in Eseg 37 belowe word.           

            Begin die HERE loof in sang en in taal en elke musiek instrument wat jy jou hande op kan lê, want die reën het reeds begin val.  Van oral in die wêreld en in SA kom die berigte van redding en wonderwerke in, weliswaar op klein skaal, maar dis die begin van die strome van seën van bowe. – Sjibbolet

Luister na die woorde:  https://www.youtube.com/watch?v=CCoq4BY42OQ



Saterdag 16 Junie 2018

Vaders. Julle moet hierdie hartseer stil


Image result for Father and kid hugging



Vadersdag is sommer net nog ‘n dag, maar dit plaas die fokus op vaders. Vir baie aangenome kinders is dit ‘n treurige dag. Hulle soek hulle vaders. In SA, maar ook oral oor die wêreld kom die weeklaag: “Waar is my Pa?” Dis soms hartverskeurend.

            Terselfdertyd soek halfbroers en halfsusters na mekaar. Inderdaad, bloed is dikker as water. Daar is ook ouers wat tans na hulle kinders soek. Die HERE maak die getal vol voor sy Wederkoms. Help waar jy kan, werk saam.

            Die “gees en die krag van Elía, beweeg oor die aarde heen om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” voordat die dag van die HERE kom, die groot, verskriklike dag.”  Mal 4:5-6

Carin vertel: Ek het in 1992 na my biologiese moeder begin soek. Jare later laat weet CMR my, my moeder is reeds in 1999 nie meer hier nie. Na drie weke se trane, het die HERE my een oggend gewys dat daar ‘n ouma is. Ek besef toe, dat die hele familie nie uitgesterf kan wees nie.

          Ek het ‘n lys gemaak van al die mense in Port Elizabeth met my ma se van en begin bel. Met die sewende oproep toe praat ek met my ouma. Sy was verheug om van my te hoor. Sy’t verduidelik daar was nie destyds geld om my groot te maak nie.

          Ek en my man en een seun het dadelik gaan kuier en daar het ek my pa se naam gehoor.

Dit het 44 jaar geduur, maar uiteindelik is ek en my pa verenig – nadat ek destyds as pasgeborene aangeneem is. My pa het vaderskap ontken, tot vier jaar later in Februarie 1970, toe red die HERE sy siel.

Die volgende oggend in sy kantoor was daar ‘n hoorbare stem: ‘Ek hou jou verantwoordelik vir jou verlore dogter se sieleheil, nie die aanneemouers nie, want mens mag nie jou verpligtinge op ander afskuif nie.”

My pa het met my ma en haar ouers gaan vrede maak en aan my oupa al sy koste betaal wat hy aan my ma se swangerskap en die geboorte bestee het. Hy het met my ook gaan regmaak en sy het hom ook vergewe. Toe het hy saam met my ma na my begin soek.

Ek het my mamma nooit gesien nie. Sy wag vir my in die Hemel.

Ek het gedurigdeur op plekke op die plaas denkbeeldige gesprekke met my biologiese ouers gevoer. Ek het selfs as kind hulle nooit verwyt vir wat ook al gebeur het nie. Ek wou net weet, waarom kan ek nie by hulle wees nie? Waarom was ek weggegee?

Ek het gereeld saam met huiswerkers op die plaas om die pappotte en vure gesit en my lot betreur dat ek nie by my eie ouers is nie.

Ek baie goed grootgeword. My aanneemouers was baie lief vir my, maar iets het geskort.

Na ek die familie ontmoet het, het die soeke na my pa begin.

Ek het my sat gebel, later nie meer geweet hoe nie, want ek het net ‘n naam gehad, en so baie mense het dieselfde naam.

Een keer toe ons met vakansie in Hartenbos was, het ek die HERE gevra: Hoe lank nog voordat ek my pa sal kry... en drie seevoëls het by my verby gevlieg en ek het geweet, nog drie jaar.

Die volgende jaar op Hartenbos het twee seevoëls verby gevlieg.

Desember 2010 het ek ‘n diep geestelike ou oom op ons dorp gevra: “Oom, wat kan ek nog doen om my pa op te spoor? Ek het sy naam, maar kry geen spoor van hom nie.”

Die oom het geantwoord: “Hou op met soek, die HERE gaan jou pa op die regte tyd na jou toe stuur.”

Ek het niks van profesieë en sulke goed af geweet nie, maar wat die oom gesê het, het oneindig sin gemaak.

Dit was eintlik eenvoudige woorde, maar my geloof in God, het my laat besef, dat hierdie wyse woorde was.

Sy woorde: “Hou op met soek, die HERE gaan jou pa op die regte tyd na jou toe stuur, ” het sterk impak op my gemaak. Ek het dit net so aanvaar as ‘n boodskap van die HERE af.

Net daarna het ek gaan bid: “HERE, ek is moeg gesoek, ek gee oor. Ek weet nie meer hoe nie. Kan my pa nie maar net na my toe aangestap kom nie?”

Die gebed was egter die spreekwoordelike laaste strooi – om my volle vertroue op God te plaas.

Van my kindsbeen af het ek na my biologiese ouers verlang. By tye was ek baie hartseer. Ek het my hartseer nooit met iemand gedeel nie.

 Drie weke na hierdie gebed, sien ek ‘n ou oom na my toe aangestap kom terwyl ek in my kantoor sit.

Toe die ou oom by my kom en ek sy trane en hartseer sien en hy af buk na my en deur sy trane vra: “Is jou naam Carin”, toe het my hele wese hier binne my uitgeroep: “HERE, hier is hy nou! Dis my pa! My pa het gekom!”

Ek het doodstil agter my lessenaar bly sit byna versteen. Ek kon nie praat nie, ek het net geknik.

Toe sê hy die mooiste woorde wat ek ooit in my hele lewe gehoor het: “Ek is jou pa.”

Die volgende oomblik was ek in sy arms.

So deur die snikke heen het ek aan hom gesê: “Pa, ek het julle nooit verwyt vir wat ook al gebeur het nie.”

Ek het gevoel hoe my pa se rou snikke deur sy liggaam skeur, ‘n groot man, baie groter as ek, wat huil soos ‘n kind. Ek hoor hy snik: “Ag HERE Jesus, hoe lank het ek nie na haar gesoek nie.”

My blydskap was oorweldigend toe ek hoor my pa het ook na my gesoek. Deur die jare het ek by kere gewonder of hy my sou aanvaar as ek skielik eendag voor hom sou staan en vir hom sou sê: “Pa, ek is jou kind.”

Ons is nou volwaardig pa en kind en kind en pa, lief vir mekaar en onafskeidbaar, soos dit hoort. Ons seën mekaar, besiel mekaar. Glorie Halleluja.

Vier-en-veertig jaar was ‘n baie lang tyd, maar dit was God se tyd. Ek bly die HERE ewig dankbaar.

Ek het nooit besef dat beide my biologiese ouers na my ook gesoek het nie. Na my ma in 1999 Huis toe is, het my pa alleen die soeke voortgesit.

Hy het op ‘n dag die familie gebel en hulle het hom van my besoek aan hulle vertel en gesê waar ek woon... net 160km uitmekaar, al vir jare.

Die volgende oggend het hy die pad gevat na my toe en my in my kantoor verras.

Patricia King, die bekende Amerikaanse Evangelis, het geen kennis van my pa se probleme en my bestaan gedra nie. Hy het haar bloot gevra om vir hom in gebed in te tree. Hy was ook al radeloos van al die gesoek na my.

Kort voor my pa my gevind het, het hy ‘n skrywe van Patricia King ontvang:


“Dear Johann,

“Last night at our Tuesday Night House Fellowship, the Lord gave me an exciting prophetic vision. This morning He told me to deliver it to you!

“I saw a vision of butterflies being released out of Heaven. Thousands of them. They were so beautiful - so free! The Lord says that it is a time of new beginnings for you. Even as a butterfly comes forth from a cocoon into a new state of being, into new freedom, new beauty, new presentation, so also will you!

“The Lord says, "Do not call to mind the former things or ponder the things of the past. Behold, I will do something new, now it will spring forth; will you be aware of it.

“The wind of the Spirit will delicately blow upon you and new fragrances of His grace will be released in and through your life.

“This is a season of new beginnings for you. A season of reward for those who have diligently sought the Lord. The things that held you back in the past will not hold you back in the days ahead.

“Any cloak of shame, humiliation, or bondage is being cast off. A robe of honor is being prepared for you because you have humbled yourself.

“Walk through the door into this new realm of blessing. It is prepared for you. All things are being made new.

“Have a great day and remember that you are a great treasure to His heart.... ours too!

Patricia King

Hierdie boodskap is mos vir jou ook!

Enkele dae nadat ek en my pa ontmoet het, is ek een oggend deur ‘n allemintige swerm skoenlappers omsingel. Skoenlappers is ‘n rare verskynsel op ons dorp. Ek het doodstil bly staan te midde van die gefladder en met trane van dankbaarheid gedink aan Patricia se profetiese woorde. Ek het God inderdaad beleef!

Kort hierna was die kerk een Sondag stampvol en te midde van baie trane van blydskap oral, het my pa my gedoop!

My storie het soveel Goddelike detail, dat dit net God self is wat dit kon bewerk en op Sy tyd.

"Die lof kom God toe wat my gebed nie afgewys het en Sy trou nie van my weerhou het nie." –  Ps 66:20


Moet nooit ophou soek nie. Soek in volle vertroue op God!

Vrydag 15 Junie 2018

Is jou huwelik op Auto Pilot (Outoloodsing)?


Image result for love images


Daar is vele redes waarom huwelike skipbreuk ly. Een daarvan is dat mans na ‘n tyd of selfs sommer direk na die huwelik, hul huwelik en gesinslewe op outoloodsing (autopilot) plaas. En dis wanneer alles in ‘n huwelik verkeerd loop.

            Sommige vroue vertel tydens berading hoe die man wat hulle mee getrou het, kort na die huwelik in iemand heeltemal anders verander het. Dit was skielik nie dieselfde man wat hulle voor die huwelik leer ken het nie.

            Navorsing wys dat paartjies wat saam bid, paartjies wat kommunikeer, vir mekaar omgee, nie in die skeihof beland nie.

            Sodra die paartjies nie saam dinge as huwelikspaar beleef nie, stomp alles af. Die man plaas sy huwelik op outoloodsing en begin in ander dinge belangstel.

            Vir ‘n vliegtuig om op “autopilot” ingestel te wees, kan tot ‘n ramp lei. Loodse raak aan die slaap, ander gesels so dat hulle nie eers agterkom die vliegtuig gaan sy landingstrook verby vlieg nie.

            Sommige loodse raak so rustig dat hulle nie agterkom die brandstof is kapot nie. Vele vliegtuie het op outoloodsing neergestort omdat loodse nie ‘n waaksame oog gehou het terwyl die vliegtuig op outoloodg was nie.

            Wanneer ‘n paartjie begin uitgaan is die man hoog toegespits op die meisie. Niks staan in die kêrel se pad om sy meisie die hof te maak nie.

            Na die troue verkrummel die belangstelling. As hy sy huwelik staande wil hou, vir sy kinders ‘n voorbeeld wil stel, moet hy as Hoë Priester van die huis, steeds sy vrou bemin.

            God se ideale situasie is dat die man die hoof van sy huis moet wees, maar meer nog, hy moet die priester van die huis wees, God se verteenwoordiger in die huisgesin. God hou die man verantwoordelik vir die geestelike welsyn van die vrou en die kinders.

            Mans verlaat hul ouerhuise om hul vroue aan te kleef en lief te hê. “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” Gen 2:24

            ‘n Man is die hoof van die vrou. “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.” 1 Kor 11:3

            Mans moet hulle vroue liefhê. “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.” Efes 5:25. ‘n Man moet sy vrou dus so liefhê dat hy bereid moet wees om homself te offer vir haar.

            Liefde gee die deurslag. Liefde is en bly die grootste Gebod. Met ware getroue liefde vermag mens enigiets, verskuif jy berge.

            Mans moet hul vroue eer. “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is – sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.” 1 Pet 3:7

            Let op: As ‘n man nie verstandig met sy vrou saamlewe nie en aan sy vrou as die swakkere een, eer bewys nie, word die man se gebede verhinder.

            Baie is altyd gou om strofes aan te haal dat die HERE ‘n mens se gebede beantwoord en dat mens kan vra net wat jy wil, maar hulle laat na om te besef dat die beloftes ook voorwaardes bevat.

            In 1 Pet 3:7 sê die HERE bv. Dat ‘n man se gebed verhoor sal word as hy verstandig met sy vrou saamlewe, as hy aan haar as die swakkere eer bewys.

            Mans moet beheer oor die huishouding neem. “'n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig;

            “geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie;

            “een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou.” 1 Tim 3:2-4

            Let weer op: ‘n Man moet sy kinders in alle waardigheid... in onderdanigheid hou.” Nie met ‘n gevloek en ‘n geskel en dreigemente nie, maar in alle waardigheid.

            Waardigheidheid kweek liefde en eerbied. Enige ander manier is vernietigend.

            En strofes 12-13: “Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer.

“Want diegene wat goed gedien het, verkry vir hulle 'n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.”

Net so die vroue ook. “Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadsprekers nie, nugter, betroubaar in alles.” 1 Tim 3:11.

Die vroue is ook die man se helper en die man mag dus sekere take aan die vroue delegeer. Onthou altyd, die man en die vrou is een vlees. Sodra hulle gemeenskap gehad het, is hulle een vlees. Matt 19:5-6

Ons is voorstanders daarvan dat pleks van geslagsvoorligting, daar gesinsvoorligting op skool moet wees, en op grond van die volgende:

“'n Opsiener (die hoof van die huis, die hoof van enigiets in die lewe) dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig;

“geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie;

“een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou.

“Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?

“Hy moet nie 'n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie.

“Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie.” 1 Tim 3:1-7

Mans tree in die huwelik sonder dat hulle die vaagste benul het waaroor dit gaan. (Op skool word geslagsvoorligting aangebied pleks van Gesinsvoorligting).

Omdat die man die hoof van die huis is, is hy ook verantwoordelik vir alle besluite wat geneem word. Dit beteken nie dat vroue geen seggenskap het nie, maar dat hulle optree onder die sekuriteit van die man se gesag.

Dit is interessant om te sien dat mans hulle vroue moet liefhê. Dit is ‘n opofferende liefde.

“Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die (Koninklike) wet vervul.” Rom 13:8

“Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Rom 13:9

As jy jouself liefhet, respek het vir jouself, vir jouself omgee voor God en die mens, dan sal jy nie egbreek, doodslaan en dergelike dinge doen nie nie.

En weer ‘n keer: “Want die hele (Koninklike - Jak 2:8) Wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Gal 5:14

Het jy jouself lief? Hoeveel het jy jouself lief, ‘n bietjie of met jou hele hart? Kyk na die waarskuwing: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie.” Gal. 5:15

Liefde is en bly die Groot Gebod. Wandel in die ware liefde en daar sal nooit probleme wees nie. Die liefde, is ‘n Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8

As ons nie onsself lief het nie, kan ons nie ons naaste liefhê nie, nie mekaar liefhê nie, dan doen ons nie goed nie. Naaste aan ons is sekerlik ons huismense.

Dat ‘n man sy vrou moet liefhê, is ‘n opdrag, ‘n Koninklike opdrag. Om daarin te kan slaag om so lief te wees, moet ‘n man sekerlik sy vrou wil liefhê.

As alle mans hierdie opdrag ter harte wil neem, dan sal dit alle struikelende huwelike oornag salf en regruk.

Onthou ook, die vrou is uit die man se ribbebeen gemaak, nie uit sy mond, of sy vuiste of sy voete nie, ook nie uit sy strydlustige gees nie. Uit sy ribbebeen beteken na aan sy, sy... koesterend, liefkosend, beskermend.

“So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;

“want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” Efes 5:28-29

Let weer op: Wie sy vrou liefhet, het homself lief!

‘n Man sonder ‘n vrou is nie volledig nie. Wanneer hy in die huwelik tree word hy eers volkome man.

Is hulle ‘n eenheid? Nee. Hulle kan nooit ‘n eenheid wees nie want elkeen het sy eie karakter en persoonlikheid. Eenheid beteken noodwendig eendersheid. So ‘n eendersheid huwelik sou ook maar eentonig gewees het.

Maar hulle kan eendragtig wees, vir seker. Die eendragtigheid word ook gesien in die kinders wat hulle in die lewe bring.

Die vrou moet haar onderwerp aan die gesag van die man. “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. (respekteer julle mans)

“Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.

“Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.” Efes 5:22-24

Die egskeidingsyfer is Suid-Afrika is skrikwekkend hoog. Daar moet ‘n rede voor wees. Berading dui telkens op liefdeloosheid, soos wat sogenaamde Christene se liefde teenoor God ook verflou het.

Almal wat hieraan skuldig is, staan skuldig voor God! “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Heb 10:31

“Daarom (as dit nog nie te laat is nie), rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15

En as dit te laat is deurdat alles vernietig en dood is, bid HERE in jou lewe na die egskeiding vir Vrede, Liefde en Wysheid, sodat jy nie weer dieselfde fout maak nie.  – Sjibbolet

Woensdag 13 Junie 2018

Sy hande is nog steeds op ons!


Image result for Jesaja 44:2


Hy is nie klaar met ons nie, Sy hande is nog steeds op ons


“So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af...” Jes 44:2

            Hy is ons Maker en ons Formeerder van moederskoot af. Hy ken ons beter as wat ons onsself ken.

            “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het,  vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien, toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” - Ps 139:12-16

            ‘n Prediker het ‘n vrou besoek wat ’n moeilike tyd van teleurstelling en beproewing had. Haar mandjie staan daar met haar naaldwerk. Hy tel ’n stuk naaldwerk op en kyk daarna.

“Ek moet sê dis nie vir my eintlik mooi nie,” merk hy op. “Al die steke is dan deurmekaar.”

Half geskok oor sy opmerking  neem sy die werkstuk by hom. “Maar pastor, dis borduurwerk en u kyk na die verkeerde kant. Draai dit om. Die patroon is op die ander kant.”

Hy glimlag. “Ek weet, Suster,” antwoord hy sag. “Ek wil net hê jy moet begryp jy maak met God dieselfde fout. Hy is met ’n borduurwerk in jou lewe besig. Jy sien net die deurmekaar en skynbaar doellose steke aan hierdie kant. Die patroon is aan die ander kant. Hy berei jou voor vir sy Ewige Koninkryk voor.”

            Die deurmekaar steke in sy lewe het vir Job ook verwar. Hy het gevoel, en gedink hy ervaar, dat God hom verlaat het. Al die tyd was God besig om met groot aandag in Job se lewe te werk.

Meer as een keer het Dawid gedink God vergeet hom. “Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Ps.13:2.

Toe Josef deur sy broers aan die Ismaelitiese handelaars verkoop is Gen.37:28, het hy ook met die deurmekaar kant van God se patroon van sy lewe te doen gehad.

Van Gen 41 af begin ons die regte kant van die patroon sien. “Toe sê Josef vir sy broers: ‘Ek is Josef…Maar julle moet nou nie sleg voel…omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uitgestuur…’” Gen.45:3,6

Dit is ook Petrus se aanmoediging: “Verbly julle… al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word… tot lof en heerlikheid en eer… by die Wederkoms van Jesus Christus.” 1 Pet.1:6,7

            Die HERE God het vir my en jou gemaak, ons in die moederskoot geweef. Lees weer: Ps 139:12-16

            Ons is deur Jahweh geskep. Ons het nie sommer net hier aangekom nie. Jahweh het ons geskep en Hy bly besig met ons totdat Hy ons kom haal.

            Die HERE se hande was op ons toe Hy ons geformeer het. Sy hande is nog steeds op ons. Skep moed. – Sjibbolet

Sondag 10 Junie 2018

Doen alles.....


Image result for Jes 42:3


... sonder mumurering


“Doen alles sonder murmurering en teëspraak (hoekom?), sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot 'n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie.” Fil 2:14-16

            Dit was vir 'n jong meisie moeilik om in haar werkplek vir Christus 'n getuie te wees. Sy het gevoel sy faal as Christen. Sy het oorweeg om van werk te verander. Sy het haar predikant se raad gaan vra.

"Waar plaas 'n mens 'n lig?" vra hy haar. Sy antwoord: "Waar dit donker is."

"Dis reg. Daarom het die HERE jou daar geplaas. Moenie iets besonders probeer doen nie. Hou jou verhouding met die HERE reg en Sy lig in jou sal in jou gewone doen en late uitstraal na ander toe." Hoe donkerder 'n plek is, hoe makliker word 'n lig, selfs 'n dowwe liggie, gesien.

            Dis veral Wedergebore jongmense wat selfs lastig kan raak met hulle praatjies dat hulle “voltyds” vir die HERE wil gaan werk. Daar waar jy werk, daar is jy reeds voltyds.

            Wat jy nodig het is lering, ondervinding en om die pad saam met die HERE te stap. Jy het nog baie te leer.

            Intussen egter sê die HERE: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.” Jes 42:3

          

Vrydag 01 Junie 2018

Net soos die Gelowige se Pelgrimstog

Die lewe is ‘n Pelgrimstog en Richard Rohr
– Jeanette de Klerk-Luttig



St Jean Pied de Port, een van die wegspringplekke op die 261km lange staproete


Terwyl ek en my man deur die Suide van Spanje stap en dag na dag, kilometer vir kilometer, die eenvoudige ritme van die Camino  beleef, het ek besef: die lewe is eintlik ‘n pelgrimstog.  Daar is ‘n begin en daar is ‘n einde. Daar is ‘n punt waar jy begin, met groot opgewondenheid en ‘n hol kol op die maag oor die avontuur wat voorlê en ‘n punt, na  die mis in die katedraal in Santiago,  waar dit eindig.

Daar is gelykvlaktes, wat soms eentonig raak maar ook styl, moeilike opdraandes en afdraandes waar jy swaar op jou stapstokke leun en wonder of jy ooit die volgende dorpie gaan haal.

Daar is swaar tye waar jy moeg en moedeloos raak en diep moet delf vir moed en energie om verder te stap, maar ook ontsaglike aangrypende en diep tye waar jy weet dat jy nooit weer dieselfde sal wees nie. Jou mede-pelgrims is onmisbaar op hierdie reis en hoe minder jy met jou saamdra en hoe ligter jy stap,  hoe beter.

Richard Röhr maak vyf stellings oor die lewe wat direk van toepassing is op die pelgrimstog. 

Die lewe is hard,  skryf hy en die Camino is ook hard.  Moet dit nie  gaan stap as jy net wil pret hê nie. Daar was, saam met al die ongelooflike ervaringe, baie trane.

Trane van blydskap van ‘n ouerige Franse man omdat die blase op sy voete weer gesond was en hy sonder pyn  verder kon stap.  Trane van teleurstelling van ‘n fris Aussie wat nie kon verder stap nie en moes teruggaan, omdat sy knie opgepak het. Trane van frustrasie van ‘n jong meisie wat wou teruggaan huis toe, want, “This is too hard for me”. En dan trane van dankbaarheid toe ons om die hoek van van die katedraal in Santiago stap en iemand Largo onbeskryflik mooi  speel en ek besef, ons is hier, ons het veilig hier gekom!

            Verder skryf Rohr: Die lewe gaan nie oor jou nie en jy en jy is nie belangrik nie.

            Hierdie waarheid word deel van jou dink en jou wees, terwyl jy stap. Die werklikheid is dat jy nie die Camino stap nie, die Camino, ook bekend as Die Weg, stap jou en neem jou saam.

Jy word maar net een van die duisende pelgrims wat deur die eeue daardie roete gestap het, met die son op jou rug en jou skaduwee voor jou, op pad na Santiago.

Jou titel, ouderdom en wat jy doen of besit is heeltemal onbelangrik. Al die eksterne dinge waarin mense dikwels hul identeit  en sekuriteit vind, val weg en die pelgrimstog  skil jou lagie vir lagie af, sodat jy by jou  kernself kan uitkom. Jy is sonder jou titel,  aktetas,  kantoor, skootrekenaar en sekretaresse, sonder jou motor, klerekas, juwele en grimering. 

Ons het in pelgrimsherberge geslaap waar mens ook nog sonder die privaatheid  van jou eie slaapkamer en badkamer is. Alles wat jy het, is in ‘n rugsak gepak en saam met jou slaapsak en vol waterbottel moet alles wat jy saamdra  nie meer as tien present van jou liggaamsgewig weeg nie. Daar is dan ook geen plek vir ego’s in rugsakke nie!   En omdat jy so gestroop is, kan jy weer begin verstaan wie jy is en waarheen jy eintlik op pad is en kom jou hele lewe in ‘n nuwe, skerper fokus.

Die meeste stappers is  mense wat voor ‘n kruispad staan en ‘n besluit moet neem: Gaan ek van werk verander of nie? Moet ek in my huwelik bly of nie?  Ek het afgetree en hoe gaan ek my lewe verder sinvol leef?  Hoe verwerk ek  die dood van my kind/huweliksmaat?

Om met net ‘n rugsak op jou rug Die Weg te stap wat deurdrenk is met die gebede van duisende pelgrims deur die eeue en elke oggend die son te sien opkom oor die veld,  help jou om jouself en jou lewe in ‘n groter perspektief te sien en te besef dat jy net maar ‘n pilgrim  is op pad na jou finale bestemming.  Die insig maak jou los van baie onnodige bagasie en dit vereenvoudig en verdiep jou lewe.

Om so afgeskil te wees maak jou natuurlik baie kwesbaar, maar die wins van die weerloosheid is dat  pelgrims sonder maskers  gemaklik hul stories met mekaar deel en saamdink oor die lewe.  Dit was vir my opvallend dat mense wat net mekaar se name ken en mekaar miskien  nooit weer gaan sien nie,  soms dieper gesprekke  voer oor ‘n glas Spaanse rooiwyn , as ou vriende wat al jare saam ‘n.  pad loop.

Rohr beweer  verder oor die lewe:  Jy is nie in beheer nie  en Jy gaan sterf.  Wanneer ‘n mens elke dag ver stap, beleef jy die natuur baie intens: die son, die wind, die reën wat teen jou waai, die reuk van die veld en die fynbos. En jy besef, dat jy nie in beheer is nie, want wanneer ‘n koue wind waai kan jy maar net jou serp om jou kop en ore draai en jou enigste baadjie aantrek en verder stap, want oor die wind en die reën en die son het jy geen beheer nie.

Jy beleef die almag en grootsheid van die skepping en die Skepper en jou eie nietigheid  tot in jou murg  en dit verander jou van ‘n toeris, wat dink dat  jy in beheer is, na ‘n pelgrim wat haar afhanklikeid beleef. 

‘n Toeris is eisend, ‘n pelgrim  dankbaar.

            Die  gemeenskaplike faktor wat alle pelgrims saambind op die Camino is die einddoel.  Almal is op pad na die katedraal in Santiago, daarom die sterk gevoel van samehorigheid,  die vriendelike  “Buen Camino” waarmee pelgrims mekaar groet en aanmoedig en die spontane deel van raad, pleisters, kos en water. 

Ons het talle voorbeelde beleef waar mense oor  kultuurgrense  hande vat en mekaar ondersteun. Een daarvan was die aangrypende gasvryheid van vier baie lawaaierige Italianers wat die Camino met hul fietse gery het. 

Die laaste drie km tot by La Faba is baie styl.  Laterig die middag het ‘n man by die pelgrimsherberg aangestrompel gekom en hy moes letterlik die trappe opgehelp word.  Hy was ‘n Duitser wat a.g.v. beroerte, net beheer gehad het oor die een kant van sy liggaam.

Die aand het die vier Italianers hom hartlik genooi om saam met hulle te eet in die gemeenskaplike kombuis.

Daar was aangebrande pasta, kaas en  baie  rooiwyn en lag en gesels.

Die Duitser het ‘n spreekbeurt gevra  waarin hy aangebied het om ‘n bydrae tot die ete te maak.  Die  versoek  is summier met groot handgebare afgewys waarna die gas met trane in sy oë die Italianers bedank het vir hul vriendelike gasvryheid teenoor ‘n totale vreemdeling, “ …iets wat jy net op die Camino sal vind.”

            Toe ons een oggend in die donker uit  Carrion de los Condos stap en ‘n verkeerde afdraai neem, het ‘n pelgrim wat van agter gekom het dit gesien  en net sy flitslig op die geel pyl laat skyn.

Met die een gebaar  het hy verhoed het dat ons baie tyd en energie op ‘n verkeerde afdraai mors.  Is dit nie hoe ons veronderstel is om saam met ander te leef nie?  Om vreemdelinge  uit te nooi om saam te eet en ons flits op die regte pad te laat val wanneer iemand besig is om verkeerd af te draai?

Die eenvoudige ritme van opstaan, stap, eet, stort, klere was en slaap, maak dat ‘n mens se voete nie net platter op die aarde is en jy nader aan die natuur kom nie, maar dit bring jou ook in kontak met jou kernself.

Dit maak dat jy met minder vooroordele en groter deernis die pad saam met ander stap en met sagter oë na hulle kyk.  Daarom bring die lang  stap, meer as enige mis in ‘n indrukwekkende katedraal, jou ook op ‘n natuurlike manier, nader aan die Skepper van alles.

Ek groet jou met die woorde waarmee pelgrims sedert die Middeleeue  hul dag se stap begin  het: “Ultreia”, voorwaarts, “Suseia”, opwaarts en  “Deus adjuva nos!”, God met ons!  Buen camino pelegrino.

Jeanette de Klerk-Luttig

Dinsdag 29 Mei 2018

Wees Ligdraers




Bill Anders, Jim Lovell, Frank Borman(Bevelvoerder)

Frank Borman is op 14 Maart 1925, in Gary, Indiana as sy ouers se enigste kind gebore. As kind was hy gepla met sinus, mangel- en oorontsteking. Sy ouers het hierdie enigste en sieklike kind van hulle beskermend grootgemaak.

Hulle het egter seker gemaak hy verkry die belangrikste lewenstoerusting: hulle het hom geleer en gelei om in Christus Jesus as sy Verlosser te vertrou. Op 15-jarige ouderdom het hy vlieglesse begin neem. Na hy sy hoërskoolopleiding voltooi het, het hy by die V.S.A. Militêre Akademie by West Point ingeskryf. Hy het met lof geslaag en is dadelik oorgeplaas na die V.S.A. Lugmag.

In 1951 kwalifiseer hy as vlieënier en maak vinnig opgang totdat hy die rang van kolonel bereik. Hy het sy getuienis as Christen met ‘n gedissiplineerde lewenstyl uitgeleef. Hy is as een van Appolo 8 se bemanning gekies, om die eerste maanlanding uit te voer. Die ruimtetuig is op 21 De­sember 1968 van Cape Kennedy af gelanseer.

Vroeg daardie Desember het ‘n paar Gideonlete (dis sakemanne wat Bybels versprei) vir hul gereelde oggendbiduur in Pasadena, Texas, saamgekom.

“Ek wens darem ons kan drie Nuwe Testamente vir die drie ruimtemanne in Apolo 8 plaas,” sê een van hulle. Een van die ander, hoof van die tegniese tak van die ruimtevaartsentrum, antwoord: “Ek ken kol. Borman. Hy is bevelvoerder van die ruimtebeman­ning en hy is ‘n uitgesproke Christen. Laat ek sien wat ek kan uitrig.”

Die uiteinde was, elkeen van die ruimtemanne het ‘n Nuwe Testament gekry om op hul geskiedkundige vaart saam te neem. Kol. Born­man het ook sy eie Bybel saamgeneem. Kol. Born­man se plan was nou, om op Kersdag, ‘n boodskap uit die ruimteskip aarde toe te stuur. Die skeppings­verhaal in Genesis 1 is in die vlugplan ingevoer. Luister: https://www.nasa.gov/topics/history/features/apollo_8.html

Met die ruimtetuig se laaste omwenteling, in die pikdonker agter die maan, het die drie ruimtereisigers op Kersdag om die beurt die eerste tien verse van Genesis 1 gelees: “In die begin het God die Hemel en die Aarde geskep…dit was donker…toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees. En daar was lig…” Gen 1:1-3. Oral op die aarde is die getuienis oor God se almag en sy gawe van lig gehoor.

            Dit was nie die eerste keer dat God se boodskap oor Sy goedheid, krag en liefde uit die ruimte die aarde bereik het nie. Die eerste Kersoggend op aarde het Engele die boodskap uitgesing: “Skielik was daar …’n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: ‘Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.” Luk. 2:13,14

Johannes begin sy evangelie so: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was self God…Die ware lig wat elke mense verlig was aan kom na die wêreld toe …die Woord het vlees geword en onder ons kom woon…” Joh.1:1,9,14

Dit is die inhoud van Kersfees: ’n fees van lig. Elkeen wat Christus bely en van hom getuig, soos kol. Borman, die ruimtemanne, die Gideonlede, die herders, die wyse manne, die apostels, predikante, sendelinge, ander Christelike werkers, Christelike uitsendings en –leesstof en elkeen van ons, is soos ‘n gloeilamp wat ingeskakel is by God se se krag en op die donker aarde sy lig versprei. “

Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die Woord van die Lewe uit te dra. Fil. 2:15. ““Israel, julle is my getuies, sê die Here, en ook my dienaar wat Ek uitverkies het sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is… en Ek is God.” Jes 43:10,12

Hierdie drie manne is in 1968 met ‘n vuurpyl die onbekende ingeskiet. Toe maak hulle Lig in die duisternis. Ons hoef nie die onbekende in te gaan nie. Ons moet net ons lig laat skyn waar ons is.

Maak dus elke dag ‘n Kersfees, elke dag ‘n Sabbat... wees Ligdraers.

Maak die sluise oop met die gebed van Intersessie


Image result for Someone praying


“En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.

  “Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.

  “En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het -- my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.

  “Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in Ewigheid nie beskaamd staan nie.

  “En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die HERE julle God is, en niemand anders nie; en my volk sal in Ewigheid nie beskaamd staan nie.

  “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.

  “En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” Joël 2:23-32

  ‘n Geestelike vloed is op pad. God het dit beloof… die uitstorting van die Heilige Gees wat die grootste siele-oes in die geskiedenis van die aarde sal oplewer.

  As Gelowiges weet ons dit uit sy Woord. Ons hou aan om op te kyk daarvoor. Daar staan geskrywe dat ons wanneer die Eindtyd Tekens in vervulling gegaan het moet opkyk.

  Maar dis nog nie tyd vir opkyk nie, alhoewel daardie snel nader kom.

  Wat nou gebeur is dat God my en jou wil gebruik om sy Gees hier op aarde uit te stort. “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:38

Die Lewende Waters wat die Herlewing sal bring, sal vanuit my en jou as Gelowiges kom. Die Heilige Gees IN ons, sal die Tekens en wonders voortbring.

Kom, begin uitreik na alle mense rondom jou. Sodra ons die gebed van intersessie begin bid sal die sluise van die groot  Herlewingsvloed oopgaan.

“Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die weerligte, en Hy sal aan hulle 'n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.” Sag 10:1   

Ons gebede van intersessie vir verlore siele, vir wonderwerke, sal die groot geestelike reëns bring.

Kom uit die kerke uit, kom saam as Godsvolk en werk en bid saam om die heerlikheid (glorie) van God op aarde te laat geskied. Kom by mekaar in twee of drie of meer Gelowiges en net waar julle jul, bevind, in huise, in die werkplek, in die veld, oral daagliks. Ons is Goid se ambassadeurs op aarde. Hy verwag van ons om die Getal vol te maak. Kom ons doen dit, onverwyld!

Jesus kom nie om kerke te kom haal nie, Hy kom om sy triomfantelike Bruid te kom haal, ‘n Bruid sonder vlek of rimpel.

Luister, dit het al reeds begin reën…

Saterdag 26 Mei 2018

Kom te alle tye jou beloftes na!


Image result for Prediker 5:3-4

‘n Belofte staan vas


Jesus Christus is die enigste persoon wat ‘n Testament geskryf het en uit die dode opgestaan het om sy Testament in vervulling te laat gaan.

            Jy laat self eendag ‘n testament vol beloftes na. Elke belofte sal uitgevoer word.

            Deur die loop van ons lewe maak ons ook beloftes. As ons woord ons eer is, dan sal ons dit uitvoer.

            Daar was al mense wat geld en hulp vir die uitdra van die Evangelie belowe het, en dit nooit uitgevoer het.

            Sommige het agterna gesê hulle het te gou gepraat, hulle het hulself vergis.

            “As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe. Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.” Pred 5:3-4

Strofe 5 sê jy mag nie jou woord breek en sê dat jy jouself vergis het nie. Jy sal God se toorn laat ontvlam.

Tydens berading kom dit ook op die lappe want meeste beraders, veral pastorale beraders, het die gawe van onderskeiding,

Sir William Napier het, soos hy soms gedoen het, weer  een aand in sy Londense buurt gaan stap. Hy kom af op ’n meisietjie wat bitterlik staan en huil. Sy goedige geaardheid reageer dadelik, en hy gaan sit op sy hurke by haar om te hoor wat die moeilikheid is.

Stukkie vir stukkie hoor hy die storie. Haar ouers is baie arm. Sy is gestuur om ‘n emmer melk te gaan koop. Sy het gestruikel en geval en al die melk is op die grond uitgestort.

Daar is nie geld vir ander melk nie. Sir William staan op, streel oor haar koppie en vee haar trane met sy eie spierwit sakdoek af.

“Moenie huil nie, kindjie. Hier gaan koop vir jou ’n ander emmertjie melk.” ’n Blye glimlaggie breek deur. Hy steek sy hand in sy sak om sy beursie uit te haal. Sy gesig vul met pyn. Hy het nie sy beursie by hom nie!

Verleë sê hy: “Ag, kindjie, ek het nie geld by my nie. Maar môreaand, dieselfde tyd, kry ons twee mekaar hier. Ek bring vir jou geld vir genoeg melk. Sê vir jou mamma en pappa.”

Tuis kom sy vrou hom met ’n breë glimlag tegemoet. In haar hand het sy ’n pragtige vergulde uitnodigingskaartjie. Baie lank al wag Sir William vir ’n uitnodiging na só ’n onthaal. Dit sal sy politieke loopbaan sterk bevoordeel.

Opgewonde neem hy die kaartjie en lees dit vinnig deur. Dit is vir die volgende aand en dit is dieselfde tyd wat hy beloof het om die meisietjie te ontmoet.

Tot sy vrou se verbasing skud hy sy kop. “Nee, ek kan nie gaan nie. Ek het reeds ’n afspraak.” Hy vertel haar van die meisietjie.

Sir William het die gulde geleentheid van die hand gewys, om sy belofte aan ’n klein, arm meisietjie na te kom.

Maar sê nou, die meisietjie het by haarself gedink: daardie ryk, belangrike man sal tog nie kom nie, en sy het nie vir die afspraak opgedaag nie?

Hoeveel sou sy nie verloor het nie, en watter teleurstelling sou dit nie vir die belangrike man gewees het nie!

Mens mag nie ‘n belofte maak en dit nie nakom nie, veral nie aan ‘n kind nie.

Omdat God ons liefhet en ons jammer kry, begeer Hy groot gawes vir ons. Hy belowe dit. In Jesus vervul Hy sy beloftes. Beloftes is die kanale waarlangs God sy gawes na ons toe laat vloei.

Paulus skryf, “Jesus Christus …is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God.” 2 Kor.1:18,19,20. Onkunde oor God se beloftes in sy Woord, en traagheid om Hom te glo, beroof ons van seëninge. Verstaan jy nou wat “vertrou” beteken?

Onthou jy nog: “Slegs vertroue, vol vertroue, slegs vertroue op Sy woord...” “En sonder geloof (vertroue) is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.” Hebr 11:6

En as twyfel in jou pad kom staan, kan jy niks van die HERE ontvang nie. Jak 1:6. Verwerp twyfel in die naam van Jesus Christus. Kry dit uit jou lewe uit.

En elke oggend kan jy opstaan en sê: “HERE, dankie vir U belofte wat sê dat U goedheid en guns, my in hierdie dag volg.” – Sjibbolet