Wys tans plasings met die etiket As alles verkeerd loop. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket As alles verkeerd loop. Wys alle plasings

Woensdag 13 Junie 2018

Sy hande is nog steeds op ons!


Image result for Jesaja 44:2


Hy is nie klaar met ons nie, Sy hande is nog steeds op ons


“So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af...” Jes 44:2

            Hy is ons Maker en ons Formeerder van moederskoot af. Hy ken ons beter as wat ons onsself ken.

            “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het,  vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien, toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” - Ps 139:12-16

            ‘n Prediker het ‘n vrou besoek wat ’n moeilike tyd van teleurstelling en beproewing had. Haar mandjie staan daar met haar naaldwerk. Hy tel ’n stuk naaldwerk op en kyk daarna.

“Ek moet sê dis nie vir my eintlik mooi nie,” merk hy op. “Al die steke is dan deurmekaar.”

Half geskok oor sy opmerking  neem sy die werkstuk by hom. “Maar pastor, dis borduurwerk en u kyk na die verkeerde kant. Draai dit om. Die patroon is op die ander kant.”

Hy glimlag. “Ek weet, Suster,” antwoord hy sag. “Ek wil net hê jy moet begryp jy maak met God dieselfde fout. Hy is met ’n borduurwerk in jou lewe besig. Jy sien net die deurmekaar en skynbaar doellose steke aan hierdie kant. Die patroon is aan die ander kant. Hy berei jou voor vir sy Ewige Koninkryk voor.”

            Die deurmekaar steke in sy lewe het vir Job ook verwar. Hy het gevoel, en gedink hy ervaar, dat God hom verlaat het. Al die tyd was God besig om met groot aandag in Job se lewe te werk.

Meer as een keer het Dawid gedink God vergeet hom. “Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Ps.13:2.

Toe Josef deur sy broers aan die Ismaelitiese handelaars verkoop is Gen.37:28, het hy ook met die deurmekaar kant van God se patroon van sy lewe te doen gehad.

Van Gen 41 af begin ons die regte kant van die patroon sien. “Toe sê Josef vir sy broers: ‘Ek is Josef…Maar julle moet nou nie sleg voel…omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uitgestuur…’” Gen.45:3,6

Dit is ook Petrus se aanmoediging: “Verbly julle… al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word… tot lof en heerlikheid en eer… by die Wederkoms van Jesus Christus.” 1 Pet.1:6,7

            Die HERE God het vir my en jou gemaak, ons in die moederskoot geweef. Lees weer: Ps 139:12-16

            Ons is deur Jahweh geskep. Ons het nie sommer net hier aangekom nie. Jahweh het ons geskep en Hy bly besig met ons totdat Hy ons kom haal.

            Die HERE se hande was op ons toe Hy ons geformeer het. Sy hande is nog steeds op ons. Skep moed. – Sjibbolet