Wys tans plasings met die etiket geloof. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geloof. Wys alle plasings

Donderdag 15 Januarie 2015

Die klein jakkalsies verniel die wingerd...




Die klein jakkalsies verniel die wingerd (Hoogl 2:15): Skinderstories waaraan ons, onsself so maklik skuldig maak. “Wie ‘n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ‘n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar.” Spr 17:9
            “Die verstandelose verag sy naaste, maar ‘n verstandige man bly stil.” Spr 11:12
            Iemand het gestruikel, ‘n ander het geval. En wat staan ons dan te doen wat nog staande is, voordat ons ook straks struikel of dalk val?
            “As iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.” Gal. 6:1
            Doen ons dit, of kan ons nie wag om die struikelende en die vallende se saak te beskinder nie?
            Paulus bemoedig ons om die regte ding te doen: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.
            Paulus sê ook: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.” Gal 6:9-10
            Die HERE sê: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
            Die HERE sê ook dat hy die een wat gestruikel het of geval het, se sondes werp in die dieptes van die see. Miga 7:19
            Die HERE sê ook: “So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Ps 103:12
·       Die afstand tussen noord en suid is net-net meer as 20 000km, maar die afstand tussen oos en wes, is onberekenbaar. As twee vuurpyle langs mekaar afgeskiet word, die een oos en die ander wes sal hulle nooit by mekaar uitkom nie.

            As die HERE dan ons sonde wat ons bely en oor jammer is, so ver van ons af verwyder, hoe durf ander Christene dit by herhaling ophaal en teen ons inbring? As jy dit doen, dan sondig jy.
            As jy nie ‘n gevallene ophelp nie, dan sondig jy. As jy sy struikeling of gevallene beskinder dan doen jy ‘n nog erger sonde.
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (en waar nog?) en by die verbryselde en nederige van gees, (hoekom?) om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
            Vraag is: Waar woon of beweeg jy?
            As jy in geselskap beland waar iemand beskinder word, neem standpunt in en gebruik hierdie Skrifte om die skindertonge te berispe. Een of ander tyd sal die nuus van jou tussenbeitreding die gevallene bereik en julle vriendskap met hom of haar versterk.
            Maar as jy saam skinder het jy die toets gedop! Dan het jy nie Bybelse beginsels voorop gestel nie.
            Maar wees reguit, altyd. “‘n Man wat sy naaste vlei, sprei ‘n net uit voor sy voetstappe.” Spr 29:5
            “Die regverdige laat sy pad vir hom wys deur ‘n vriend; die goddeloses verdwaal op die pad wat hulle self kies.” Spr 12:26
            “Op ‘n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.” Spr 27:6
            “Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered.” Spr 11:9
            Vriende en ander wat jou op hierdie wyse leer ken, sal jou met eerbied behandel. Hulle sal graag jou raad wil vra, graag op jou vertrou. Dit beteken egter dat ons na ander se raad ook sal luister.
            Christenskap is nie soseer om vir almal te vertel jy is ‘n Christen nie, maar om vir ander te wys jy is ‘n Christen, ‘n kind van GOD.
            In Israel en in ander lande durf sendelinge dit nie waag om die Evangelie te verkondig nie. Dit word verbied. Maar die sendelinge verkondig die Woord deur hul lewenswandel. Dit geld ook vir ons. – Sjibbolet

Saterdag 10 Januarie 2015

Uit die mond van ‘n kind...




Joh 6:1-15: "Hier is 'n seuntjie met vyf garsbode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense?Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense … " (vs. 8,10). Het jy al daaraan gedink, dat as die dissipels nie die eerste paar treë geneem het en in die geloof begin uitdeel het nie, het die wonderwerk straks nie plaasgevind nie.
 
Die uitgesproke ongelowige William Hone, skrywer, het op 'n dag 'n seuntjie met groot aandag sy Bybel sien lees. "Hoekom mors jy jou tyd met daardie nuttelose boek?" vra Hone. Die kind het kinderlik, beleefd geantwoord: "Dit is al wat my siek moeder kan troos, Meneer. Ek soek 'n deel wat ek vanaand vir haar kan lees as sy nie kan slaap nie." Diep geraak het William Hone besluit om self die Bybel te lees. Dit het tot sy Wedergeboorte gelei. Voor in sy Bybel het hy geskryf:

The proudest heart that ever beat,
hath been subdued in me;
The wildest will that ever rose,
To scorn thy cause or aid thy foes,
Is quelled, my God, by Thee.

Watter krag het 'n kind teenoor 'n wêreldwyse en geleerde man? Dit is nie 'n mens se eie krag of invloed wat 'n ander mens tot bekering kan bring nie. Dan sou net buitengewone mense vir die Here bruikbaar wees. Dit is Christus se eie krag wat deur sy Heilige Gees, deur die persoon wat Hy as sy instrument gebruik, werk om iemand se hart te bereik.

"Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid of welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees" (1Kor.2:3,4)

GEBED: Here, vandag is ek nie slim of sterk nie, maar ek wil vir U bruikbaar wees sodat U, met U krag deur my, kan werk om iemand te bereik.

“My pa is die Kondukteur”


 


Jes 43:1-7: "Moenie bang wees nie, Ek is by jou" (vs. 7).

'n Man het 'n klein dogtertjie dopgehou wat stoksiel alleen op 'n bus deur die stad ry. Sy het geen tekens van onrus of spanning getoon nie. Hy het oorgeleun na haar toe en vir haar gevra: "Meisie, is jy dan nie bang om so alleen in die bus te ry nie?" Sy kyk om na hom toe en antwoord vrolik: "Nee Oom, niks kan met my gebeur nie. My pa is die kondukteur van die bus en hy hou sy oë op my."

Ons kan ons voorstel hoe die pa, wat kondukteur van die bus is en met sy werk besig is, kort-kort kyk of dit nog met sy dogtertjie goed gaan. So 'n vertroue in ons Hemelse Vader en die wete dat Hy wat oor hierdie wêreld waarin ons leef regeer, aan ons dink en ons in die oog hou, bring gerustheid in ons hart. Kom ons glo dit met blydskap.

'n Bewustheid van ons Hemelse Vader se teenwoordigheid en sorg oor ons is nie nét 'n geruste gevoel nie, maar 'n wéét op grond van die versekering wat Sy Woord ons gee. Telkens verbind die Here se Woord God se sorg oor Sy kinders in hierdie wêreld ook werklik met 'n pa of ma se gevoel en besorgdheid oor hulle kind.

Ons daaglikse omgang met Sy Woord is noodsaaklik om hierdie gedurige wete van, en geloof in, Sy sorg oor ons lewend te hou te midde van wêreldse en teensprekende omstandighede. "…julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra" (Mat.6:8).

"Sion sê: 'Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet.' Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie." (Jes.49:14,15). Ons is kind van God deur Christus: "…die wêreld het Hom nie erken nie…sy eie mense (die Jode) het Hom nie aangeneem nie …maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word" (Joh.1:10-12).

Dit is 'n mens se eie keuse as hy sonder God se sorg en toesig deur hierdie lewe wil gaan, maar dit is 'n gevaarlike keuse. Moses het die veilige weg gevolg. Die Here vra hom: "Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?" Moses was baie gou om te antwoord: "As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie" (Eks. 33:14,15) En ook net goed, want baie gou het probleme opgeduik wat net God vir hom kon oplos. Dit was ook die gerusstellende belofte van die Here Jesus na Sy opstanding aan Sy dissipels, en daarom ook aan ons: "En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" (Mat.28:20).

GEBED: Here, vandag leef ek in die blye wete: U oë is op my.

Dinsdag 06 Januarie 2015

Voorspoedige 2015





Maak vandag, 'n dag in jou lewe vir nuwe dinge…

Dinge van hoop en liefde en oorwinning in Jesus’ Naam.

Jou verlede met sy teleurstellings, foute, verkeerde keuses, ontnugtering en hartseer moet nou plek maak
vir lente in jou lewe. Alles moet nuut word.

Sit al jou ou bagasie in 'n sak, in 'n groot sak, pak daai sak self, noem elke ding by sy naam wat jy daar in sit,
moenie iets vergeet nie en sit dit vandag, sommer nou, by Jesus se voete. En sê vir HOM, "Ek is nou klaar
met my verlede, my hartseer, my tekortkominge, my....... Dankie HERE dat U vir my voorspoed beplan en
ek vat dit. En ek dank U daarvoor. En as ek enige tyd weer terug kyk na my ou sak, herinner my asseblief dat
ek klaar is daarmee."

"En ek het 'n nuwe Hemel en nuwe Aarde gesien...die heilige stad, die Nuwe Jerusalem... en HY(die HERE)
sal by hulle (ons) woon... En God sal al die trane van hulle (julle) oë afvee, en daar sal geen dood meer wees
nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie."

"Kyk, Ek maak alles nuut."

"Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die Lewe, verniet. Hy sal oorwin, sal alles
beërwe; en ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun, ‘n dogter, wees." Openb 21:1-7

Maak vandag, die eerste dag van die res van jou lewe, pak daai sak en moenie weer terugkyk nie.

Hou vas aan God se belofte vir jou lewe: Net SY Goedheid en Guns volg jou in 2015.

Woensdag 22 Oktober 2014

Toe glo sy haar pa....





Lukas 11:9-13: "As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer!"

Eerw. John Bisango, van Houston, vertel in sy boek, The Power of Positive Praying, dat sy vyfjarige dogtertjie, Melodye-Jan, hom kom vra het om vir haar 'n pophuis te bou. Hy het dadelik instemmend geknik en toe verder gegaan met die boek wat hy besig was om te lees.

Eenkeer kyk hy deur sy studeerkamer se venster en hy sien Melodye-Jan heen en weer tussen die agterplaas en die huis hardloop met arms vol speelgoed, poppe, borde, koppies, totdat sy 'n hoop speelgoed in die agterplaas opgestapel het.

Hy vra sy vrou daaroor. Sy antwoord met 'n glimlaggie: "Jy het belowe om vir haar 'n pophuis te bou en sy het jou geglo. Sy is nou net besig om haar daarvoor in te rig." Hieroor skryf hy: "You would have thought I'd been hit by an atom bomb. I threw aside that book, raced to the lumber yard for supplies, and quickly built that little girl a doll house."

Dan vra hy wat hom beweeg het om so vinnig die pophuis te gaan bou. En hy gee die antwoord, in sy eie woorde: "Her daddy had given his word, and she believed it and acted upon it. When I saw her faith, nothing could keep me from carrying out my word."

JAK 2:17  “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.”
JOH 14:12  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal meer werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”-Sjibbolet