Maandag 04 Desember 2017

Dit gaan oor ons gesindheid


"Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het 'n goeie werk aan My gedoen.” Matt 26:10
            Die beroemde Buckner-Weeshuis in die staat Texas is in 1879 gestig deur Eerw Robert Cooke Buckner. Buckner is in 1919 Huis toe.
Duisende weeskinders het in daardie weeshuis 'n heenkome gevind. In die beginjare van die weeshuis se bestaan, was die stigter, dr. Buckner, soms vir weke lank weg van die huis af om fondse vir die weeshuis in te samel.
Description: Buckner PastorCook
Dr Buckner

Die kinders was almal baie lief vir hom. Hy was vir hulle 'n pa en vriend. As dit aangekondig word, "Vader Buchner kom op 'n bepaalde dag terug", breek groot opwinding tussen die kinders los. Hulle trek dan hulle beste klere aan en maak geskenkies van blomme en mooi klippies op, om vir hom te gee.
            Een van die inwonertjies was 'n klein, swaksinnige dogtertjie. Sy is gehelp om haar mooiste klere aan te trek, maar sy moes self haar geskenkie opmaak. Sy het nie die verskil tussen 'n bossie blomme, 'n bossie onkruid of 'n bondel takkies geken nie.

Description: Buckner    card00609_fr
Die Buckner kampus
Wanneer dr. Buchner aankom, het die kinders om hom saamgedrom, elkeen angstig om eerste te wees om hom te groet en te soen, raakgesien te word en die geskenkie te oorhandig.
As hierdie groot, goedhartige man dan so tussen die woelende kleingoed staan, het dit gelyk of hy na iemand soek. Dan sien hy haar: die ou dommetjie, op die buiterand van die opgewonde, stoeiende kinders, met haar bondeltjie takkies in haar hand.
Hy beur tussen almal deur en gaan na haar toe. Hy neem haar geskenkie en bewonder dit. Dan tel hy haar op in sy arms, druk haar teen hom vas, soen haar. Baie teer vra hy hoe dit met haar gaan en hy praat vertroostend met haar.
            Jesus se hart gaan immer na die swakstes toe uit, die verdruktes, die armes, die siekes, die kindertjies.
"Hy sien toe ook 'n arm weduwee, twee klein muntstukkies ingooi, en Hy sê: 'Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander.'" Luk 21;3.
Nie die hoeveelheid van ons gawes of dade of diens nie, maar die gesindheid van toewyding en liefde, dikwels uit swakheid gedaan, is vir die HERE kosbaar.
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (waar nog?) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15

Vrydag 01 Desember 2017

Kersfees… of die Wederkoms?


Image result for wederkoms


Dis byna Kersfees. Oral oor die aarde heen maak mense in hul miljoene gereed om die geboorte van Jesus Christus te herdenk... maar waar maak Gelowiges gereed vir Jesus se volgende koms?
            Jesus het belowe... soos wat Hy vertrek het, kom Hy weer. Al die tekens is daar dat Sy Tweede Koms naby is, maar wie leef in afwagting daarvan?
“Dan sal die Koninkryk van die Hemele wees soos die tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die Bruidegom te ontmoet.
            “En middernag was daar ‘n geroep:  Daar kom die Bruidegom; gaan uit, Hom tegemoet.” – Matt. 25:1-6.
            Die aandag word op Sy Wederkoms gevestig, nie as Verlosser nie, maar as Bruidegom :  “Daar kom die Bruidegom!”
            Hy kom nie as Regter nie, ook nie as Krygsman van Armageddon nie, maar as Bruidegom.
            Christus kom as Juwelier na sy Juwele (Mal:3:17), om sy Oes in te haal (Matt. 13:30, as die Koopman vir sy Pêrels (Matt. 13:45), as Edelman vir sy Onderdane (Luk. 19:12), as die Herder van sy Skape (1 Pet. 5:4).
            Ja, natuurlik kom Hy as die Bevelvoerder vir die Slag van Armageddon, maar eers, kom hy as Bruidegom!
            Wees gewaarsku!  Hy kom vir seker.  Die tyd is reeds bepaal.  Die skedules is reeds gedruk.  Die Groot Dag is aan God bekend.
            Daar is egter ‘n verrassingselement: Die Bruid weet nie wanneer haar Bruidegom haar kom haal nie, juis daarom moet sy deurentyd gereed wees.
            Niks kan Sy koms verhoed nie.  Die besluit oor sy Wederkoms is onomkeerbaar.  Hy het dit belowe in sy Woord en Hy bly ‘n waarmaker van Sy beloftes.
            Geen verdraaiing van sy Woord kan die Wederkoms vertraag, stop of verander nie.  Valse profete kan maar profeteer soos hulle wil, Hy kom inderdaad!
            Christus se Wederkoms is so seker as die integriteit van die Almagtige God!

            Vraag is:  Is jy gereed?

Image result for wederkoms

Woensdag 29 November 2017

Hemelse missiele


Image result for dawid en goliat



En jy, wat tel jy op?   

Dawid het Goliat met sy vyf klippies aangedurf? 1 Sam 17
Die Filistyne en die Israeliete was in oorlog.  Goliat, was op die toneel. Hy het die Israeliete uitgedaag om hulle beste vegter te stuur om teen hom te veg. Maar hulle was te bang. Toe die jong Dawid daar aankom om vir sy vegtende broers kos te bring, was hy geskok oor die Israeliete se vrees. Hy het sommer dadelik Goliat se uitdaging tot 'n tweegeveg aanvaar.
Dawid is die beste wapenrusting aangebied om Goliat aan te durf. Maar hy het nee gesê. Sy slingervel en vyf klippies was genoeg. Nee, dit was eintlik veels te min! Hoe durf mens 'n reus aan met 'n handvol klippies? Jy't mos nie 'n kans nie.
Dawid het egter geweet God is by hom. Hy was daardie dag 'n kryger vir God! Sy God se eer was op die spel. As die res van Israel dan te slap was om vir God op te staan – nie hy nie! Daarom het Dawid dit gewaag om sy vyf klippies in God se magtige hand te sit.
God sou egter daardie dag die geveg moes veg. Hyself moes die oorwinning oor daardie reus gee. En Hy het ook! Dis hoe God werk.
Nee, Hy neem nie elke keer al die krisisse uit die weg nie. Hy kyk dikwels of sy kinders bereid is om Hom midde in hulle krisisse te vertrou. Dan eer God hulle geloof deur hulle op fantastiese maniere te help... al het hulle net vyf klein klippies wanneer hulle reuse moet aandurf.

God openbaar Homself in die Bybel as die Een wat deur dik en dun by sy kinders staan. Die een psalm na die ander getuig van God se hulp aan ons in pikdonker ure. Wanneer die nood dreig, is Hy die enigste Een wie se hulp jy moet opsoek. Wanneer die stormwinde waai, is net Hy jou anker. Ook wanneer jy aanmeld vir die geveg teen die reuse rondom jou, is God jou enigste Aanvoerder.
Word 'n moderne geloofsvegter!
Staan asseblief 'n slag op vir God! Sy Naam word vandag goedkoop en bespotlik gemaak. Ook daar in jou eie omgewing daag mense sy gesag openlik uit terwyl kerklikes rondstaan met monde vol verleë tande.
Wie sal God se Naam eer in 'n tyd soos hierdie as die reuse rondom die kerk begin stelling inneem? Wie sal in die voorste loopgrawe diens doen vir die Allerhoogste? Dalk jy?
En as jou gemeente bedreig word, of jou huis, of jy, of jou kinders, juis soos wat nou die geval is?
Miskien dink jy nou by jouself: "Wat kan ek vir God doen? Ek is veels te swak." Sê wie? Hoor mooi, God sê dit hoegenaamd nie oor jou nie! Al het jy net vyf spreekwoordelike klippies tot jou beskikking, dan is dit dodelike hemelse missiele as jy dit gelowig in God se hand plaas.
Jy kan 'n verskil maak. Nee, jy is die lewende verskil! Jy staan in die pad van die reuse met jou geloofsklippies. As 'n jong Dawid 'n ganse volk se geskiedenis kon verander met net vyf klippies en 'n hart vol geloof, dan kan jy minstens ook 'n paar sentimeter dapper volstaan en 'n meter of twee se nuwe grondgebied in God se Naam verower!
Toe tel Dawid vyf klippies op... En jy, wat tel jy op?

Maandag 27 November 2017

Verbly jou....


Image result for Hebr 10:14


Dis binnekort Kersfees, ‘n tyd waarin reg oor die wêreld die Geboorte van Jesus Christus

herdenk word. Die rede waarom Hy gebore is, is reeds in ons Wedergeboorte vervul. Jubel

voor Sy aangesig. Hy is binnekort weer hier om ons te kom haal!




‘Dit is volbring’


‘n Bejaarde vrou stap huiwerig ‘n versekeringsmaatskappy se kantore binne.

By ontvangs haal sy ‘n ou polis uit haar verslete handsak. Sy kom net sê sy kan nie meer die premies bekostig nie.

Die versekeringsman het gou vasgestel die polis is waardevol en baie jare in stand gehou.

Hy vra: "Wat sê u man oor die saak? Dit is tog sy polis. U is net die begunstigde."

"My man? Ag nee meneer, hy is al drie jaar gelede oorlede. Dit is hoekom ek so bitter swaar kry."

Sy het aangehou premies betaal vir 'n polis wat reeds aan haar uitbetaal moes gewees het!

Die polis het nog dieselfde dag uitbetaal en die vrou had genoeg om vir baie lank gerieflik te lewe.

Is ons ook so onkundig? Probeer ons ook nog premies vir ons saligheid betaal? Christus se versoeningsdood het die Ewige Lewe ten volle ons eiendom gemaak.

Ons word nie gered deur wat ons doen nie, maar deur wat Christus klaar vir ons gedoen het. “Dit is volbring.”

Daardie Polis lees: "Deur die een wat offer het Hy die wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak." Hebr 10:14

Hou dus op premies betaal en verbly jou oor jou Hemelse erfenis wat Jesus Christus volkome vir jou verwerf het. Alle premies is ten volle opbetaal en ek en jy as Gelowiges is die Erfgename.

Die Nag is op ons!


Image result for 2 Sam. 22:30.


‘Julle (ek en jy) sal Sy getuies wees…’ -- Is ons?

Gegroet in die naam van Jesus Christus wat ons geroep het om knegte van die Allerhoogste te wees!
            Julle sal my getuies wees tot aan die uiterste van die aarde. Hand 1:8 Christus sê as ek en jy Hom voor die mense bely, dan bely Hy ons voor die Vader. Getuig, bely ons nie, kan ons geestelike lewe ook nie beweeg of groei nie en beroof ons onsself van ryke seëninge.
            Die tyd raak min. Om te getuig, is die voorreg van elke Wedergebore Gelowige, maar baie Gelowiges word koud of onverskillig deur die koue ontvangs van hul getuienis.
            Die boodskap van verlossing is vir beide siel en liggaam bedoel en God wat ons verordineer het om getuies te wees, het belowe om Sy Woord aan ons te vervul en te bevestig.  Heb  2:3-4
            “Hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot Saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die HERE verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedelinge van die Heilige Gees volgens Sy wil?”
            “Hy het vir hulle gesê:  Gaan die wêreld in en verkondig die Evangelie en maak siekes gesond.”  Daar is sommige wat vir God wil werk, maar wat vrees dat Hy nie Sy beloftes sal vervul nie.  Ai!
            Hulle is huiwerig om vir ‘n sieke te bid want netnou gebeur daar niks! Die onus om te genees berus nie by my en jou nie, maar by God. Dis Sy belofte, nie myne en joune nie. Al wat ons moet doen is om die hande op te lê. Daardie oomblik is ons hande bloot die verlengstuk van Jesus Christus se hande.
            Dit is net omdat jy nie in die geloof uitgestap het nie, omdat jy nie ‘n vaste vertroue in die Woord van God het nie, omdat jy God se Almag misken.
Sy Woord is onfeilbaar. Hy het gesê ons is die instrument en die uitbou en onderhou van Sy Koninkryk wat deur Sy krag en genade bewerk word. Die onus is op Hom, nie op my en jou nie. Al wat ons moet doen is om te gaan vertel en te doen.
Ons kan geen siel red nie, net Jesus Christus kan. Al wat ons moet doen is om tyding van Heil te bring. Niks kan groei as die saad nie gesaai word nie.
            Jesus Christus het in die arena van wêreld se godsdienste gestap as Uitdager.  As die Seun van God het Hy hulle uitgedaag.
            Die Hemelse uitdaging staan nog.  Baie godsdienste, illusies en dwalinge, het die wêreld se belangstelling gewek, maar kon nooit werklik bevredig nie.
            So lank as wat God se Woord vasstaan, sal daardie uitdaging bly staan. Ander godsdienste was reeds oud en verbygaande toe Jesus in die wêreld as ‘n hulpelose babatjie gebore is.  Selfs die godsdiens wat reiniging van sondes deur vuur voorgestaan het, dit is die aanbidding van die son, die vuurgod, kon die natuur aan die mens nie verander nie.
            Die stemme van die stigters van vele anti-Christiese godsdienste is nog nooit weer van anderkant die graf gehoor nie. Hulle dood het ‘n volslae einde aan hulle lewens gebring.
            Die Seun van God, beklee met glorieryke Heiligheid, Goddelike geregtigheid, Hemelse reinheid, het in hierdie bose wêreld gekom en die Ewige Lewe, die opstanding uit die dode, gemeenskap met God, kom aankondig. Jesus Christus het ons waarlik vrygemaak van sonde en siekte.  Halleluja!
            Jesus Christus het nie in die wêreld gekom om apologie vir Sy bestaan aan te teken nie, of om ‘n woonplek te vra nie;  Hy het as die vervulling van die Belofte gekom.
            Die lewe van Jesus Christus word in elke gelowige gebore wanneer hy die Wedergeboorte ontvang, deur die bloed wat op Golgota gestort was.  Deur die wedergeboorte word hierdie mens nou ‘n werktuig in die hand van God, ‘n Getuie van God se Genade en Liefde.
            “Soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.” 1 Joh  4:17
            In ons dag is daar baie mense wat nie ware gelowiges is nie, maar slegs nominale Christene, papier Christene, wat die hele week hulle eie gang gaan, maar op Sondae probeer om die Tien Gebooie te gehoorsaam.
            Hierdie mens probeer deur ‘n uiterlike vorm van vroomheid God te dien, maar hulle godsdiens is tevergeefs.  Jesus Christus en die Heilige Gees in aksie ontbreek in hulle lewens.
            Jesus Christus het nie gekom om goeie sedes te bewerkstellig nie, maar onsterflikheid aan die mens te skenk. Hy belowe:  “Ek sal hom opwek op die laaste dag, Ek sal hom die Ewige Lewe gee.  Die dode in Christus sal eerste opstaan.”
            Geen ander godsdiens behalwe die Christelike Godsdiens, belowe en verseker die Ewige Lewe nie.  Wie kon ooit die Ewige Lewe belowe voordat Jesus Christus gekom het?  Watter sterfling kon?  Dit was net die Seun van God self, uit die Hemel, met die kennis van onsterflikheid en die Ewige Lewe wat kon waag om so ‘n klimaks vir die mens voor te hou.
            Want in Hom was LEWE, en die Lewe was die lig van die mense.  Hy het ook gesê:  “Hy wat leef en in My glo, sal nooit sterf nie.”
            Vandag is Jesus Christus die mens se enigste hoop. Geen duiwelse mag op aarde kan die mag weerstaan wat Jesus Christus as ‘n erfenis aan die weergeborene nagelaat het nie.
            Baie sogenaamde Christene het hulle vertroue in God en ook in die Woord van God verloor! Dis soos die saad wat op die rotsagtige plekke geval het.
            Die saligheid bestaan dus daarin dat God die sondige mens tot ‘n nuwe mens herskape, alleen maar daarin dat God die wêreld liefhet. Joh 3:16
            God se hele verlossingsplan is reeds voor die grondlegging van die wêreld vasgestel.  En aan elke verloste mens gee God deur Jesus Christus mag (gesag) om die duiwel te weerstaan.
            Jesus Christus het die sonde-vraagstuk opgelos deur Homself as ons Bloed-offer op Golgota te offer.
            Nou word ek en jy as vrygekooptes geroep om te getuig aangaande dié heerlike feit, dat daar deur die gestorte Bloed vergifnis van sondes is, en dat deur Sy wonde daar genesing vir ons gees, siel en liggame gekom het.
            Toe Jesus uit die graf opgestaan het, het hy in Sy opstandingskrag te voorskyn gekom.  Hy wat bo alle owerheid en mag en krag is en wat alle dinge onder Sy voete onderwerp en Hom as Hoof  bo alle dinge aan die gemeente gegee het.  Hy gee aan my en jou hierdie mag, hierdie gesag, om die werke van die duiwel te verbreek.
            Staan op in die Geloof! Gaan en verkondig die werke van God!  Hy sal dit bevestig waar die voorwaardes nagekom word. Die HERE wil en sal Sy Woord bevestig.
            Hy sê in Jes 50: 2-3: “Is my hand werklik te kort om te verlos of is daar in my geen krag om uit te red nie?  Kyk, deur My dreiging maak Ek die see droog... Ek beklee die Hemel met swartheid.”
            Ons is dus geroep om getuies van die Evangelie te wees, waarin die mag van Jesus Christus en die Volle Raad van die Godheid uiteengesit word.
            Neem die bonatuurlike uit ons godsdiens en jy kry ‘n godsdiens so dood soos die heidense godsdienste.
            Neem die Evangelie van Jesus Christus uit hierdie wêreld en ons sal spoedig ook ‘n volk van kannibale, seksuele kranksinniges en moordenaars wees.
            Die mense veroordeel wonderwerke en genesings, en verwater so die Christen se getuienis:  Hulle leef sogenaamd in ‘n tyd waar wonderwerke geëindig het.
            Loof die HERE, ons ondervind meer en meer elke dag, die bevestiging van die Woord van God;  die waarheid dat Hy Sy Woord gestuur het om te genees, word elke keer bevestig.
            Die HERE sal altyd ‘n getuienis eer.  Kyk na Henog.  Hy het met God gewandel en is deur God weggeneem om by Hom te wees.
            En daar is Elia wat 450 heidense priesters uitgedaag en oorwin het. En Daniël wat geweier het om voor mense te buig wat sy getuienis sou beskadig het.  God het die bekke van die leeus gesluit sodat sy getuienis nog indrukwekkender kon wees.
            Alhoewel ons geroep is om die lydingsdoop te deurloop, mag ons nie die mens of ‘n gesag gehoorsaam wat vereis dat ons God se insettinge moet oortree nie.
            Op Golgota is daar voorsiening vir Goddelike genesing gemaak.  Watter soort Evangelie sou ons sonder die Groot Geneesheer, Jesus Christus, gehad het?
            Ons getuienis behoort in die eerste plek so te wees dat Christus deur ons lewens te voorskyn kom, sodat die getuienis van ons wedergeboorte mense tot sonde oortuiging sal bring.
            In die tweede plek moet ons nie bang wees om die beloftes van God in ons bediening te gebruik nie. Die Bybel verklaar onomwonde dat ons deur die gestorte bloed van Christus, verlossing van sonde het en dat ons deur Sy wonde genees is.
            Hy belowe ook dat as ons hande op die siekes lê, hulle gesond sal word.  Hy het dit belowe. Hy sê Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord. Waarom sou ek en jy dan twyfel.
            In Jak. 1:6-7 sê die HERE dat iemand wat twyfel … “moenie dink dat iets, van die HERE kan ontvang nie.”  Ja, nie eers  “iets” nie.
            Dus, weier om te twyfel. Twyfel is nie van die Hemel nie. Die duiwel saai twyfel. Verdryf hom van jou af in die kragtige naam van Jesus Christus, staan vas, en weier om te twyfel.
            Toe Jesus Christus op Golgota gesterf het, het Hy elke sondaar verseker dat hy ‘n geleentheid gebied word om ‘n kind van God te word.
            John Lake het die opstanding van Christus so beskryf:  Een dag het Dawid op die berg gesit en sy skape opgepas, toe Sy gees hom weggevoer het na die ruimtes van God.  Hy sien die toekomstige gebeure en roep uit: “U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke onder die mense geneem, ja ook wederstrewiges om daar te woon, o, HERE God.” Ps 68:19
            En toe met ‘n triomfantelike geroep sê hy:  “Hef op julle hoofde, o poorte, ja verhef julle ewige deure dat die Ere-Koning kan ingaan.” Ps 24:7
            Toe Christus daardie handskoen in die arena gewerp het, het ‘n oorlog tussen twee koninkryke ontstaan.  Dit was ‘n stryd tussen lig en duisternis in die Hemel en op die aarde.  Jesus Christus het aan die hele wêreld getoon dat Hy waarlik die Oorwinnaar is.
            Die môre van Sy opstanding het Hy as Held, Oorwinnaar oor Satan, dood en hel, sonde en siekte, opgestaan.
            Daar is mense wat twis oor wie Christus sou doodgemaak het. Die waarheid is dat niemand Hom doodgemaak het nie. Golgotha is God se  meesterstuk. Jesus Christus het self besluit  op watter oomblik Hy sou sterf, Sy laaste asem sou uitblaas.
            Die Hoofman oor  Honderd wat in daardie stadium nog reg voor die kruis gestaan het, het homself boeglam geskrik toe hy sien wat gebeur – dat hierdie man aan die kruis nie ure lank soos ander aan die kruis gaan hang en natuurlik gaan sterf nie.
            Die Hoofman word ook die eerste mens om na die kruisiging openlik te bely: “Waarlik, dit was die Seun van God!”
            Kind van God, jy het ‘n getuienis.  Satan sou jou graag daarvan wou beroof.  Staan op, roep dit uit.  Staan op, en laat jou lig skyn want die Lig het gekom en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op!  Want kyk die duisternis kom, maar die HERE sal oor jou skyn en Sy heerlikheid sal oor u gesien word.
            Daar staan geskrywe dat terwille van Sy naam, jy vervolg sal word. Ons herhaal: dit is ‘n belofte, nie ‘n waarskuwing nie. Jy het uit die koninkryk van die Satan oorgestap na die Koninkryk van God. Jy het daardie oomblik ‘n vyand van die Satan en Sy Koninkryk geword. Hy besef ook dat as jy begin getuig, jy verdere en groter skade aan sy koninkryk gaan aanrig.
            Sy grootste verweer is om bindinge in ons gees te bring sodat ons nie kan getuig nie, sodat ons getuienis nie sy koninkryk verdere skade kan berokken nie.
            Daarom  het die (oorlogs)lied “Voorwaarts Christen-stryders, voorwaarts om te stry…” asook die lied “Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die Kruis!” sulke geweldige impak.
            As dit ooit vir jou voel jy is iewers besig om ‘n ronde te verloor, sing dan luidkeels hierdie liedere want inderdaad is ons in ‘n stryd gewikkel, maar  met die groot verskil, dat dit uit en uit ‘n oorwinnaarstryd is. Ons weet reeds dat ons gewen het.
            Is jy siek, voel jy ellendig, het jy probleme: Wel, as jy jou dan nie daar kan uit bid nie, sing jouself daar uit! Moet jou deur niks laat onderkry nie. Lewe bo die omstandighede en weier om onder die omstandighede te lewe.
            God het getuies dwarsdeur die eeue benodig.  Daar is die bekende geval van Jona.  God het hom beveel om in Ninevé die Evangelie te verkondig, maar hy het na die see gevlug.  God het vir hom gesê:  “Maak jou klaar, gaan na die groot stad Ninevé en preek vir hulle want hul boosheid het voor my aangesig opgestyg.”
            In Sy groot liefde en genade wou God deur Sy getuie die stad waarsku, maar treurig om te sê, Jona het weggevlug.  Op die see het ‘n sterk wind opgekom en die skip het water geskep.  Die lot is toe gewerp om te bepaal wie vir die storm verantwoordelik was en die lot het op Jona geval.
            Die bevelvoerder het bevel gegee dat die bemanning hom in die see moes gooi en ‘n groot vis het Jona ingesluk.  Jona het uit die ingewande van die vis tot sy God gebid:  “Ek is weggestoot uit U oë, tog sal ek weer U heilige tempel aanskou... toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink... Ek sal aan U offer met ‘n stem van lof.  Wat ek beloof het sal ek betaal.  Die heil behoort aan die HERE.”
            Moet  ek en jy dan ook eers die ingewande van ‘n groot vis smaak, voordat ons gaan luister en die boodskap begin uitdra!
            Daarna het die vis Jona op die strand uitgespuug. Daarna het hy aan Ninevé se inwoners gaan sê dat die stad binne 40 dae verwoes sou word.  Maar die koning en die inwoners het berou gehad en God het die stad gespaar.
            Ja, hierdie ontsettende werklikheid kan in ons dag ook plaasvind. As ons soos Ninevé  se inwoners ook onsself verootmoedig en in gees en in waarheid na God terugkeer, dan kan die profesieë van ons tyd ook deur die HERE omgekeer word. Maar dis ek en jy wat die volk moet waarsku.
            Dan kan ons die Satan en sy demone se uitdaging weerstaan, want ons is met die Heilige Gees gevul en het krag van omhoog ontvang. Ons is meer as oorwinnaars!
            Omdat Jesus in ons plek gesterf het, het God wettiglik gelas dat geen sonde of siekte ooit oor ons sal heers nie. Maar God benodig die getuienis van Sy volgelinge om andere van Sy groot program van liefde vir die mensdom te vertel.
            Die groot waarheid oor die kwessie van getuig, word deur  miljoene Christene reg oor die wêreld bevestig, en dit is: Hoe meer ons getuig, hoe sterker word ons geestelik, hoe meer Lig is daar om die duisternis te verdryf.
            Sal jy nou die uitdaging aanvaar?  Sal jy uit ‘n slawerny van sonde en siekte en van ongeloof en twyfel uitstap?
            Sal jy die uitdaging aanvaar en in die lewens-arena in die Naam van Jesus Christus instap om die magte van die hel en die duiwel op vlug te jaag?
            Sal jy as held, opstaan vir Jesus?
            Glo, in die Naam van Jesus Christus dat jy ‘n heerser oor die Satan en sy demone is.  Glo dat jy vry is omdat Christus het jou vrygemaak het.
            Verban die demone van onheil, siekte en depressie in jou eie lewe, in die lewe van jou gesin, van jou familie, ja, verban hierdie onheile uit die Liggaam van Jesus Christus.
            Aanvaar die uitdaging en word soldaat in God se Weermag!
            Hou die Bloedbevlekte Banier van die Oorwinnaar van Golgota op.
            Kom uit die duisternis in die lig in.
            Trek  die hele wapenrusting van God aan!
            Mense het baie verskonings waarom hulle nie sogenaamd kan getuig nie. Die Skrif trek egter ‘n finale streep deur alle verskonings.
            Eseg. 3:18-19 lees: “As Ek aan die Goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy (Christen) waarsku hom nie en spreek nie om die Goddelose vir sy Goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die Goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar, sy bloed sal  Ek van jou hand eis!
            “Maar as jy die Goddelose waarsku, en hy hom nie van sy Goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy, jy het jou siel gered!”
            Getuig, getuig, getuig, waarsku die Goddelose en red jou eie siel! Wees soos Paulus wat  in Rom. 1 vers 16 sê: “Want ek skaam my nie oor die Evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.” Daardie redding beteken vrymaking, veiligheid en genesing.
            Paulus sê: “…vir elkeen wat glo.” Wat beteken dit in die praktyk? Eenvoudig die volgende: Petrus kom by die man by die poort en sê aan die verlamde  “… staan op en loop.” As die man nie probeer opstaan het nie sou hy nooit geloop het nie.
            Die blinde man moes die speeksel-modder wat Jesus aan sy oë gesmeer het in die bad van Siloam gaan was. Hy het dit gedoen en gesien.
As hy begin twyfel het en gesê het: nee wat, dis sommer twak. Waar het mens nou gehoor iemand smeer speeksel-modder aan jou oë? Maar dan sou hy nie begin sien het nie. As hy sy oë op ‘n ander plek gaan was en as die plek waarheen hy gesê was om te gaan (ongehoorsaamheid) dan sou hy ook nie gesien het nie.
            Geloof vra dus gehoorsaamheid en handeling. Nadat Jesus die brode en die vissies aan die dissipels gegee het om uit te deel, het die dissipels tot by die voorste ry mense moes stap en dit begin uitdeel. Veronderstel hulle sou net daar bly staan het en gesê het: Nou hoe op aarde kan ons vyf duisend man, hul vroue en hul kinders met die bietjie kos voed? Dan sou daar niks gebeur het nie.
            Geloof vra daardie vaste vertroue, daardie gehoorsaamheid om te stap na die eerste ry mense en te begin uitdeel, en toe kom God se vermenigvuldende krag in werking en nie net is almal gevoed nie, daar bly toe nog brokstukke ook oor. Geloof sê soos Dawid: Met U loop en ‘n bende storm, met my God spring ek oor ‘n muur!” 2 Sam. 22:30.
            Toe jy ‘n nuwe motor gekoop het, het die verkoopsman aan jou ‘n bossie sleutels van die motor oorhandig. Jy het nie gevra  of dit wel die betrokke motor se sleutels was nie, jy het in die geloof die verkoopsman se woord aanvaar, soveel-so dat jy selfs die sleutel in die aansitter gedruk en gedraai het en vir geen oomblik gewonder het of die motor aan die gang sou kom nie.
            Jy gaan sit elke Sondag op ‘n stoel in die kerkdiens, sonder om eers die stoel deur te kyk of dit nie dalk sal meegee wanneer jy daarop gaan sit nie. So moet ons geloofslewe ook wees, ‘n totale aanvaarding, ‘n totale vertroue op God se Almag.
            Die verhaal word vertel van die man wat  vir ‘n omstander gevra het of die omstander glo dat hy ‘n kruiwa op ‘n kabel oor die Niagra-waterval kon stoot. Die omstander het  gesê nee, sy glo nie hy sal dit kan doen nie.
            Die man het die kruiwa toe tot by die oorkant oor die kabel gestoot en weer terug, waarna hy  weer vra of die vrou nou glo hy kan dit doen.
Sy het ja geantwoord. Die man sê toe: “Nou maar klim dan in die kruiwa dat ek  dit weer doen,” en sy wou nie. Die een oomblik het sy geglo en die volgende oomblik gewantrou.
            Wanneer jy dus getuig, getuig jy van die onfeilbare Almagtige God. Plaas jou volle vertroue in Hom. Hy is die waarmaker van Sy Woord. Glo dit. Verkondig dit. Getuig!
Lees asseblief Dawid se lof en danklied in 2 Sam. 22. Lees dit hardop en maak dit jou eie lof en danklied. —  Sjibbolet

Woensdag 22 November 2017

…wie kry alles wat jy bymekaar gemaak het?


Image result for geestelike aanhalings

"...wie kry alles wat jy bymekaargemaak het?" Luk 12:13-21

In sy boek Encyclopedia of 7700 Illustrations, vertel Dr. Paul Lee Tan, dat John D. Rockefeller, 'n sterk en fris seuntjie was. Hy het vroeg al besluit om ryk te word. Hy het homself tot die uiterste toe ingespan en op 33-jarige ouderdom sy eerste miljoen dollar gehad.

"Hy het met niks in die lewe begin nie, tog, op 43-jarige leefted het hy reeds die gjjrootste maatskappy in die wereld besit.. Op 53 was hy die rykste man in die wereld en die wereld se enigste biljoener.

Toe ontwikkel hy 'n kwaal wat alopecia genoem word. Sy hare begin uitval, sy ooghare en wenkbroue verdwyn. Hy was soos ‘n Egiptiese mummy inmekaar getrek.

Sy weeklikse inkomste was 'n miljoen dollar, maar hy kon net melk en droë beskuitjies inneem. In Pennsylvania was hy so gehaat, hy moes dag en nag deur 'n wag beskerm word.

Hy kon nie slaap nie en het lank nie meer geglimlag nie want die lewe het hom niks meer gebied nie.
Dokters het voorspel hy sal binne 'n jaar sterf. Die koerant het 'n doodsberig vir hom voorberei ingeval hy onverwags sou sterf. Gedurende een so 'n slapelose nag het hy sy lewe oordink.

Hy het Nuwe Lig ontvang en besef dat hy geen duit van sy rykdom die Ewigheid kon inneem nie.
Die volgende oggend was hy 'n nuwe mens. Hy het kerke en die Evangelie uit sy opgegaarde skatte begin ondersteun.

Hy het omgesien na arm en behoeftige mense. Hy het die Rockefeller Stigting gevestig om mediese navorsing te bevorder. Dit het onder meer gelei tot die ontdekking van Penicillin ern ander verstommende medikasiers.”
Hy het weer begin eet, goed geslaap en had weer ‘n lus vir d lewe. Die dokters het voorspel hy gaan 54 nie haal nie, maar hy het 98 jaar oud geword. Hy sterf as een van die rykste mense ooit, met talryke ondernemings en as een v an die grootste oliemagnate.

                        Rockefeller het gelukkig nie, soos die ryk man in die gelykenis van die Here Jesus, eers na sy dood ontwaak nie.

"Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: 'Vader Abraham...stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur." Luk 16:22-25

Dit is nie nét groot rykdom wat 'n mens se oë kan verblind, vir die erns van die Ewigheid waarheen ons op pad is nie. Ons moet dink, wakker word, onsself afvra: Loop my lewe veilig? Is ek gered? Het ek die Ewige Lewe?
"En dit is die Ewige Lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is." Joh 17:3


Maandag 20 November 2017

“Gee julle dan nie om nie…”


Image result for Joh 3:16

Nie een van ons gaan lewend hier uitkom nie. Niemand kan vir altyd lewe nie, nie op hierdie aarde nie.
            Die volgende ware verhaal word vertel: In die dae van die Goot Depressie was 'n man van Missouri, John Griffith, die kontroleur van die groot ophaalbrug oor die Mississippirivier, skryf D. James Kennedy in, Is It Nothing to You?
Die brug moes keer op keer opgehaal word sodat groot skepe verby kom kom, en dan weer neergelaat word sodat treine daaroor kon beweeg.

Een somerdag in 1937 wou John Griffith sy agjarige seuntjie, Greg, meer oor sy pa se werk leer. Hy neem hom saam werk toe, sodat hy die groot verkeer en die werking van die ophaalbrug kan sien.
Ná die oggendverkeer oor die brug, het John die brug opgehaal, sodat skepe met die rivier op en af kon vaar. Greg het met die middagete vol belangstelling op die waarnemingsdek by sy pa gesit en eet. Die tyd het vinnig verby geglip.
Skielik skrik John vir die gefluit van 'n aankomende trein. Hy kyk op sy horlosie en sien dis werklik al 1.07nm. en dit is die Memphis Express, met 400 passasiers aanboord, wat aangestorm kom en die brug is nog opgehaal. Hy spring van die waarnemingsdek af en hardloop beheertoring toe, om die brug betyds te laat sak.
Hy kyk vinnig af om te sien of daar nie dalk 'n boot in die pad is nie. Hy sien 'n gesig wat sy hart in sy keel laat ruk van skrik.
Greg het van die waarnemingsdek afgegly, en in die massiewe ratte van die brug, bietjie laer af, beland. Sy linkerbeen sit vas tussen die twee groot ratte, wat die brug beheer.
John snak na asem. Hy dink aan 'n plan om sy kind betyds uit die ratte, wat nou in werking gestel moet word, te red. Hy weet daar is geen uitweg nie. Óf die trein met sy 400 passasiers moet in die rivier beland, óf sy seun moet tussen die ratte verguis word.
Die naderende trein fluit weer. Hy hoor die geklik van die treinwiele. Hy laat sak sy kop en druk die hefboom vorentoe. Die massiewe brug sak in sy plek in en die vinnige trein jaag oor die brug verby.
Met traanbedekte gesig kyk John op na die trein. Hy sien die passasiers agter die treinvensters. Kennedy beskryf die vrolike gees op die trein: "Sakemannn het rustig hul koerant sit en lees, deftige geklede vroue het in die eetwa oor koffie sit en kuier, kinders het roomys geniet en gespeel.
“Niemand het na die beheerkamer of die bloedbesmeerde ratkas gekyk nie. In verwronge pyn het John Griffith na die staaltrein uitgeroep: ‘Ek het my seun vir julle geoffer. Gee julle nie om nie. Die trein se wiele het verby geknars en niemand die pa se woorde gehoor nie.’”
God het Sy Seun uit liefde vir die wêreld gegee, om in die wrede ratte van die straf op sonde, verguis te word. Paulus begin sy Galasiërbrief met hierdie herinnering: "...die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het... en so die wil van God ons Vader volbring het." Gal 1:4
Maar, soos die Memphis Express jaag die wêreld vrolik verby en dink nie aan die prys, wat God en Sy Seun, Jesus Christus, betaal het om ons van die verdoemenis te red nie.
Kom ons bedink weer die Evangelie en open ons harte vir die Heilige Gees om die waarheid en betekenis in ons harte wakker te maak, en ons ons weer aan God kan toewy. Wat het dit God gekos om my te red en vir my die Ewige Lewe te gee? Joh 3:16
Soos John Griffith het God ook sy Seun geoffer… Gee julle dan nie om nie…