Maandag 04 Desember 2017

Dit gaan oor ons gesindheid


"Maar Jesus sê: Laat haar staan; waarom val julle haar lastig? Sy het 'n goeie werk aan My gedoen.” Matt 26:10
            Die beroemde Buckner-Weeshuis in die staat Texas is in 1879 gestig deur Eerw Robert Cooke Buckner. Buckner is in 1919 Huis toe.
Duisende weeskinders het in daardie weeshuis 'n heenkome gevind. In die beginjare van die weeshuis se bestaan, was die stigter, dr. Buckner, soms vir weke lank weg van die huis af om fondse vir die weeshuis in te samel.
Description: Buckner PastorCook
Dr Buckner

Die kinders was almal baie lief vir hom. Hy was vir hulle 'n pa en vriend. As dit aangekondig word, "Vader Buchner kom op 'n bepaalde dag terug", breek groot opwinding tussen die kinders los. Hulle trek dan hulle beste klere aan en maak geskenkies van blomme en mooi klippies op, om vir hom te gee.
            Een van die inwonertjies was 'n klein, swaksinnige dogtertjie. Sy is gehelp om haar mooiste klere aan te trek, maar sy moes self haar geskenkie opmaak. Sy het nie die verskil tussen 'n bossie blomme, 'n bossie onkruid of 'n bondel takkies geken nie.

Description: Buckner    card00609_fr
Die Buckner kampus
Wanneer dr. Buchner aankom, het die kinders om hom saamgedrom, elkeen angstig om eerste te wees om hom te groet en te soen, raakgesien te word en die geskenkie te oorhandig.
As hierdie groot, goedhartige man dan so tussen die woelende kleingoed staan, het dit gelyk of hy na iemand soek. Dan sien hy haar: die ou dommetjie, op die buiterand van die opgewonde, stoeiende kinders, met haar bondeltjie takkies in haar hand.
Hy beur tussen almal deur en gaan na haar toe. Hy neem haar geskenkie en bewonder dit. Dan tel hy haar op in sy arms, druk haar teen hom vas, soen haar. Baie teer vra hy hoe dit met haar gaan en hy praat vertroostend met haar.
            Jesus se hart gaan immer na die swakstes toe uit, die verdruktes, die armes, die siekes, die kindertjies.
"Hy sien toe ook 'n arm weduwee, twee klein muntstukkies ingooi, en Hy sê: 'Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander.'" Luk 21;3.
Nie die hoeveelheid van ons gawes of dade of diens nie, maar die gesindheid van toewyding en liefde, dikwels uit swakheid gedaan, is vir die HERE kosbaar.
            “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (waar nog?) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15