Sondag 17 Desember 2017

Kersfees gaan oor my en jou


Image result for christmas decorations


Kersfees en die feestelike vieringe rondom dit, gaan nie oor ‘n datum nie, maar oor die rede daarvoor.

            Die hoofrede vir Kersfees is egter nie oor Christus nie, maar oor my en jou.

            Jesus is gebore om te sterwe sodat ek en jy gered kon word, dat ons met God Jaweh versoen kon word. Elke huisgesin, elke gemeente, elke gemeenskap moet jubel oor ons vryheid in Christus.

            As Gelowiges dit kan snap, dat Kersfees gaan oor ons as Wedergeborenes, dink net met watter verbysterende blydskap sal ons dan Kersfees vier.

Almal sal nou heel anders na Kersfees kyk. Almal wat Gelowig is sal besef dit gaan nie oor ‘n verhaal van ‘n baba nie, maar oor die verhaal van elke Gelowige... daarin dat ons Wedergebore is. Ons vier dus ons Wedergeboorte.

Jesus kan nie verjaar nie, Hy is Ewigheid.

            Vergeet van die sogenaamde kersvader... daar is geen plek vir so iemand in die Kerstyd nie.

Dis ons wat vir mekaar geskenke gee om ons te herinner aan wat Kersfees aan ons gegee het, ons Wedergeboorte. Dis ‘n fees oor ons. Ons vier fees, nie omdat Jesus gebore is nie, maar omdat Hy Weer kom. Ons smag met reikhalsende verlange na sy Wederkoms.

            Met ons Wedergeboorte het ons die Ewige Lewe ontvang. Ons liggame kan sterf, maar ons kan nooit.

            Op pad na Bethlehem ry die swanger Maria op ‘n donkie, ‘n paar dae lank deur ruwe terrein. Die enigste plek om te kon kraam was in ‘n stal en die enigste wiegie was ‘n krip. Jesus het op die nederigste manier moontlik hier aangekom.

            Dan word die nuus van Jesus se koms bekendgemaak... en aan wie heel eerste?

            Die vuil herders in die veld. Hulle was so onwelriekend dat hulle nie eers in die tempel toegelaat is nie. Hulle slaap in die veld by rokende vure tussen skape en skaapmis.

            Hulle was as die laagste mense van daardie tyd beskou, alhoewel hulle skape voorsien het vir offerande, het mense hul afstand van hulle gehou.

            By die krip was hulle welkom, want ‘n Engel en ‘n Hemelse Fanfare het hulle die goeie nuus in die veld gebring en gaan roep. Luk 2.

Hulle was genooi. Hulle was ook die eerste mense om aan Jesus geskenke te bring.

            Let ook op dat toe Jesus sy eerste dissipels roep, het Hy ook onwelriekende vistermanne aangestel het. Diegene, herders en vissermanne, wat seker die minste aansien had, is gebruik om voor te loop.

            Dit was dus nie vernaamheid of stand in die lewe  wat die fondament van die Evangelie gelê het nie, maar die Woord.

            Ons bring vandag steeds geskenke aan Jesus in die vorm van siele. Ons wil vir Hom siele inbring om die Getal vol te maak.

            Dink net hoeveel miljoene mense het miljoene spandeer om gereed te maak vir die herdenking van Christus se geboorte.

            As Gelowiges is ons skape. Die predikante is die herders. Herders kan nie lam nie, maar skape moet selfs tot vierlinge kan lam.

            Hoeveel word spandeer om gereed te maak vir Sy Wederkoms? Ons hoef niks te spandeer nie, sorg net dat die oes inkom.