Saterdag 09 Desember 2017

God se beplanning laat ons sprakeloos


Image result for angels of god

Die man het alles verloor... vrou, kind, huis, geld,net mooi alles. Al wat oorgebly het was selfdood.

            Op pad verskyn ‘n reuse Engel voor hom. Hy besef hy is vasgekeer. Om die daad van selfdood uit te voer moet hy by die Engel verbykom en dis ‘n saak van onmoontlikheid.

            Dan die telefoonoproep, die gesprek gevolg deur die gesprek met God. Die Wedergeboorte.
            God se vooruitbeplanning laat ons sprakeloos, dog in verwondering, soos gebeure in ons eie lewens of soos met die verhaal van Josef.

Die arme Josef is deur sy broers verkoop, hy moes jare lank onskuldig in 'n tronk deurbring - alles omdat God 'n groot taak vir hom gehad het. Aan die einde besef Josef dat al sy swaarkry deel van God se plan met sy lewe was.
God is in staat om selfs rampspoedige gebeurtenisse om te keer en by sy plan in te skakel. Josef besef dit heel goed, en daarom veroordeel hy nie sy broers nie. Hy verseker sy broers dat hy hulle nie kwalik neem dat hulle hom so swaar laat kry het nie. Hy weet God het hom voor hulle uitgestuur om lewens te red. Gen. 45:5

Dit is nie hulle wat hom na Egipte laat kom het nie, maar God, omdat Hy wou verseker dat sy volk aan die lewe sou bly. Hulle was maar net die instrumente waardeur God se meesterplan in werking gestel is.

            Maar terwyl Josef onder in die put was, toe sy broers hom aan die vreemde handelaars verkoop het en tydens die lang jare in die Egiptiese tronk, moes hy sekerlik gewonder het waarom die HERE hom so swaar laat kry.

God gebruik meermale probleme in die lewens van sy kinders om sy Goddelike plan vir hulle te laat ontplooi. Soos Josef verstaan jy miskien nie nou waarom sekere dinge met jou gebeur nie, maar jy mag maar op God bly vertrou.
Ons is nie geroep om te verstaan nie, maar om te vertrou.

Al hierdie dinge wat jy nie kan begryp nie, is deel van Sy plan met jou lewe. Dit is die manier waarop Hy op die oomblik besig is om vooruit te beplan sodat ander mense eendag sy ingryping in jou lewe sal kan sien.

Daardie mense wat jou nou afkraak en seermaak, kan deur God as instrumente in sy hand gebruik word. Onthou: God maak nooit foute nie - Hy laat elke liewe dingetjie wat met jou gebeur aan die einde saamwerk tot jou beswil.