Wys tans plasings met die etiket het engele mag. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket het engele mag. Wys alle plasings

Saterdag 09 Desember 2017

God se beplanning laat ons sprakeloos


Image result for angels of god

Die man het alles verloor... vrou, kind, huis, geld,net mooi alles. Al wat oorgebly het was selfdood.

            Op pad verskyn ‘n reuse Engel voor hom. Hy besef hy is vasgekeer. Om die daad van selfdood uit te voer moet hy by die Engel verbykom en dis ‘n saak van onmoontlikheid.

            Dan die telefoonoproep, die gesprek gevolg deur die gesprek met God. Die Wedergeboorte.
            God se vooruitbeplanning laat ons sprakeloos, dog in verwondering, soos gebeure in ons eie lewens of soos met die verhaal van Josef.

Die arme Josef is deur sy broers verkoop, hy moes jare lank onskuldig in 'n tronk deurbring - alles omdat God 'n groot taak vir hom gehad het. Aan die einde besef Josef dat al sy swaarkry deel van God se plan met sy lewe was.
God is in staat om selfs rampspoedige gebeurtenisse om te keer en by sy plan in te skakel. Josef besef dit heel goed, en daarom veroordeel hy nie sy broers nie. Hy verseker sy broers dat hy hulle nie kwalik neem dat hulle hom so swaar laat kry het nie. Hy weet God het hom voor hulle uitgestuur om lewens te red. Gen. 45:5

Dit is nie hulle wat hom na Egipte laat kom het nie, maar God, omdat Hy wou verseker dat sy volk aan die lewe sou bly. Hulle was maar net die instrumente waardeur God se meesterplan in werking gestel is.

            Maar terwyl Josef onder in die put was, toe sy broers hom aan die vreemde handelaars verkoop het en tydens die lang jare in die Egiptiese tronk, moes hy sekerlik gewonder het waarom die HERE hom so swaar laat kry.

God gebruik meermale probleme in die lewens van sy kinders om sy Goddelike plan vir hulle te laat ontplooi. Soos Josef verstaan jy miskien nie nou waarom sekere dinge met jou gebeur nie, maar jy mag maar op God bly vertrou.
Ons is nie geroep om te verstaan nie, maar om te vertrou.

Al hierdie dinge wat jy nie kan begryp nie, is deel van Sy plan met jou lewe. Dit is die manier waarop Hy op die oomblik besig is om vooruit te beplan sodat ander mense eendag sy ingryping in jou lewe sal kan sien.

Daardie mense wat jou nou afkraak en seermaak, kan deur God as instrumente in sy hand gebruik word. Onthou: God maak nooit foute nie - Hy laat elke liewe dingetjie wat met jou gebeur aan die einde saamwerk tot jou beswil.


Vrydag 10 April 2015

Ons kan die Engele in ons lewens beleef


 Image result for angels


Engele is by ons lewensloop betrokke. In 1973/74 se Yom Kippoer Oorlog had die Israeli’s geen kans om die oorlog te wen nie. Engele het die oorlog vir Israel beklink.
            Joshua 5:15-15 is ‘n weerspieëling van wat tydens die Yom Kippoer Oorlog gebeur het.
            “En terwyl Joshua by Jerigo was, slaan hy sy oë en kyk, en daar staan ‘n man teenoor hom met ‘n ontblote swaard in sy hand; en Joshua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort u by ons, of  by ons vyande?”
            Hierdie man met die ontblote swaard was nie vir Joshua identifiseerbaar nie. Daarom vra Joshua hom: Behoort u by ons, of by ons vyande?
            “En die man sê:  Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE; Ek het nou gekom. (Ek het pas gearriveer).”
            Die man het geantwoord hy is die Hoof van die Leër van die HERE!
            Die gedagte verruk ‘n mens se sinne. Dis byna te groot vir die mens om te begryp.
            Ons sukkel met ons perspektiewe omdat ons nie in en deur die Gees van God wandel nie. Ons moet in Gees en Waarheid aanbid.
            “Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
“God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Joh 4:23-24
            Saam met die Hoof van die Leërmag is etlike legioene Engele.
            Hulle was daar toe die Rooi See oopgekloof is, hulle het die mure van Jerigo  in mekaar laat tuimel, hulle was ook saam met Josafat toe die vyand skielik homself vernietig het, en met Jonathan toe hy die Filistyne bestorm het, saam met Dawid toe hy Goliat verslaan het, saam met Daniël in die Leeukuil en helaas, ook telkemale saam met ons eie volk.
            Die sonde van ons tyd is persepsies eb wanpersepsies omdat ons toelaat dat ander invloede op ons inwerk, in plaas daarvan om te bly in dit wat ons geleer was – die Waarheid en nogmaals die Waarheid soos vervat in die Bybel.
Ons lewe onder die omstandighede in plaas van bo die omstandighede.
            Ons soek na antwoorde op allerlei plekke in plaas daarvan om die aangesig van God te soek.
            God se Engele is oral. Hulle het nie visums en paspoorte nodig nie. Dit is ook hulle wat in Angola sommige Suid-Afrikaanse troepe wat op GOD vertrou het, telkens uit benoudhede gered het. Die getroue gebede aan die tuisfront, was noodsaaklik.
            Die Yom Kippoer Oorlog was die een oorlog wat die Israeli’s moes verloor het. Hulle was in die Sinagoges en ander bymekaarkomplekke besig toe die vyand onverwags toegeslaan het. Daar was geen vooraf waarskuwing nie.
            Israeli soldate het gedoen wat hulle kon. Sowat 400 van hulle het opgeruk na Berg Hermon waar hulle hulself teen sowat  sewe duisend Siriese magte vasgeloop het.
            Wedergebore Israelse weermagoffisiere vertel daarna in persoonlike onderhoude aan ons: die 400 Israeli soldate het besluit om te veg tot die dood toe om die Israelse Leër geleentheid te gee om op dreef  te kom.
            En toe skielik was daar die reuse hand uit die Hemel met die palm na die Siriërs, ‘n hand byna sy groot soos ‘n stel rugbypale in omvang. Die hand het die Siriese soldate laat omdraai en op die vlug laat slaan.
            Intussen  kom ‘n hele konvooi tenks ‘n ent daarvandaan soos ‘n dodelike slang teen die styl bergpad af langs die Golan Hoogtes op pad na Ein Gev. Die opdrag was dat hulle daarvandaan om die See van Galilea sou beweeg in die rigting van Tiberias en Porea Eilat en eenvoudig die wêreld voor hulle moes platvee.
            Hulle sou dit ook kon doen want daar was geen Israeli weermag om hulle te keer nie. Dit sou ‘n bloedige slagting gewees het.
            Maar skielik het die voorste tenk stilgehou en bly staan. Na die oorlog is vertel dat die soldaat in beheer van die voorste tenk vertel het hoe hy duidelik die opdrag oor sy radio gekry het om stil te hou en te wag, maar daar was nooit so ‘n opdrag gegee nie.
            Toe die lang konvooi  tenks oorkant die See van Galilea tot stilstand kom, kon duisende Israeli’s dit waarneem en het hulle alarm gemaak en die Israelse Leër had geleentheid om gereed te maak om terug te slaan.
            Die Israelse magte het verwoesting gesaai onder die Siriërs en hulle teruggedryf oor die Golan Hoogtes.
            Israelse militêre offisiere het vertel hoe tydens die oorlog, ‘n klein Israelse militêre eenheid oor ‘n heuwel beweeg het en onder in die vallei op ‘n horde van die vyand afgekom het.
            Die vyand het egter skielik die wit vlag gehys en oorgegee. Die groepie Israeli’s het die oormag tot binne ‘n krygsgevangekamp laat marsjeer. Eers toe die vyand veilig agter slot en grendel was, wou die Israeli’s weet: Waarom het julle oorgegee?
            Die vyand het geantwoord: Julle was ‘n totale berede oormag, ons sou nooit teen julle kon standhou nie.
            Die Israeli’s het net hulle koppe geskud want die meeste wis nie waarvan die vyand praat nie. Wedergeborenes onder hulle het toe aan hulle makkers verduidelik dat wat die vyand gesien het, niks anders was as  die Hoof van God se Leërmag en sy legioene Engele nie.
            Jare gelede het die SAUK-TV  ‘n program gebeeldsaai waarin sommige Suid-Afrikaanse soldate vertel het van Goddelike ingryping in die Angolese-oorlog.
            Gelowige soldate wat in die Viëtnam-oorlog geveg het, het later ook van vele Goddelike ingryping vertel wat in daardie oorlog plaasgevind het.
            Op een plek het gelowige manskappe se militêre voertuig tot byna teen sy bakwerk in modder vasgeval. Die vyand was op pad en daar was geen manier om daardie voertuig uit die modder te kry sodat hulle kon vlug nie. Die manskappe sou sekerlik sterf.
            Terwyl die manskappe bid het onsigbare hande die voertuig eenvoudig uit die modder gelig en die manskappe kon die vyand ontvlug.
            In 11 Kon. 6:15-17 beleef ons weer ‘n pragtige Goddelike ingryping:
            “En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ‘n leër met perde en strydwaens rondom die stad.
            “En sy dienaar sê vir hom: Ag my heer, hoe sal ons maak?
            “Maar hy antwoord hom: Vrees nie; want dié wat by ons is, is meer as die wat by hulle is!
            “En Elisa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë dat hy kan sien. En die Here het die oë van die dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa.”
            Van wie het Elisa gepraat? Van God se legioene Engele natuurlik. Die dienaar kon hulle eers nie sien nie, nie voordat God sy geestelike oë geopen het nie.
            Ook ons moet die plek bereik waar God ons geestelike oë vir ons open. Lees gerus die hele 11 Kon. 6 en sien hoe Elisa die vyand verslaan het.
            Paulus-hulle is in Hand. 16:25 in die tronk. Gaan kyk hoe GOD se Engele hulle daar uithaal.          
            Ons aanbid nie en bid ook nie tot Engele nie. Engele is dienende geeste wat deur GOD uitgestuur word.
“Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” Heb. 1:14.
            Ps. 91:11 “... want Hy sal sy Engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.”
            Waar moet ek en jy wees (Ps. 91) om die beskerming van die Engele te geniet:

•          In die skuilplek van die Allerhoogste (strofes 1 & 2)
•          Die HERE ons toevlug maak (9)
•          Ons moet GOD waarlik liefhê (14)
•          Ons moet GOD aanroep (15)
         
Gaan kyk hoe bid Dawid in Ps. 34.
“Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.
“Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit. Ps. 34:7-8
            Dit is nodig om die hele Psalm te lees om die vereistes te sien wat GOD stel. As ons aan die vereistes voldoen, trek die Engel van die HERE ‘n laer van Engele om ons.
            En hier is Daniël se ondervinding: “Toe sê hy (die Engel) vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou GOD te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;
“maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.” Dan. 10:12-13.
Hier lees ons van ‘n stryd tussen Engele in die Hemele. Die Engel was deur GOD gestuur met ‘n boodskap vir Daniël. Die Engel sê aan Daniël dat GOD sy gebed al die eerste dag gehoor het en hom (die Engel) gestuur het, maar die vors (Engel) van Perse het hom 21 dae lank vertraag.
Toe kom die Aartsengel Migael, en help hom sodat hy die stryd teen die bose Engel van Perse kon oorwin en Daniël kon bereik.
Sulke dinge gebeur dus ook. Dis nie vir ons vreemd nie want Die Bybel leer duidelik in Efes. 6:11-18, dat ook ons worstelstryd nie teen vlees en bloed is nie:
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.
“Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.
“Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,
“en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die Evangelie van vrede.
“Behalwe dit alles neem die skild van die Geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.
“En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God —
“terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak (hoe?) met alle volharding en smeking vir al die heiliges.”
Daniël stap ongeskonde uit die leeukuil en sê: “My God het sy Engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.” Dan. 6:23
 Sadrag, Mesag en Abednégo word in ‘n vuuroond gegooi. Toe die omstanders weer kyk stap daar nie drie nie, maar vier mense in die oond rond.
“Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, wat sy Engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.” Dan. 3:28.
Abraham stuur sy dienskneg om vir Isak ‘n vrou te gaan haal en sê aan die dienskneg: “Die HERE, die God van die Hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee –  Hy sal sy Engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ‘n vrou gaan haal. Gen. 24:7
Dan is daar Petrus se geval: “Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die Paasfees voor die volk te bring.
“So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot GOD deur die gemeente vir hom opgegaan.
“En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak. (Petrus kon hoegenaamd nie ontsnap nie, maar nie ver daarvandaan nie het ‘n groep Christene eendragtig in ernstige gebed verkeer).
“En meteens staan daar ‘n Engel van die Here by hom, en ‘n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval. (As Petrus nie wou opstaan nie sou die boeie seer sekerlik nie van sy hande afgeval het nie).
“En die Engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my! (Let op, alles word nie vir Petrus gedoen nie, sommige goed moes hy self doen).
“En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die Engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy ‘n gesig sien. (Hy bly GOD-gerig: As die werklikheid dan vir hom te groot is, dan sien hy ten minste gesig).
“En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die Engel hom verlaat.
“Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy Engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.
“En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was.
(Let op wat nou gebeur) “En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het ‘n diensmeisie met die naam van Rhodé gegaan om te hoor wie daar was.
“En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan.
“Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy Engel. (Hulle dink dit is Petrus se Engel. Dit beteken ons het elkeen ‘n Engel, maar lewe ons so getrou naby aan die HERE dat ons van Engele bewus kan wees? Let egter ook op: Dit waarvoor hulle gebid het, is beantwoord, maar glo hulle dit nie. Petrus steur hom egter nie aan wat hulle dink of sê nie, hy hou aan met klop).
“En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas.
“Maar hy het vir hulle met die hand gewink om stil te bly en aan hulle vertel hoe die Here hom uit die gevangenis uitgelei het. En hy sê: Vertel dit aan Jakobus en die broeders. En hy het uitgegaan en na ‘n ander plek vertrek.
“En toe dit dag geword het, was daar onder die soldate geen kleine opskudding oor wat van Petrus geword het nie.
“Daarop het Herodes hom gesoek en nie gekry nie, en die wagte onder verhoor geneem en bevel gegee dat hulle tereggestel moes word. En hy het van Judéa weggegaan na Cesaréa en daar gebly.”
Wanner ons in die geloof bid sonder om te twyfel. Jak. 1:6, antwoord GOD nie net nie, Hy vernietig ook die oorsaak van ons probleme. Hand. 12:4-19.
Petrus wou in ‘n latere stadium verhoed dan Jesus Christus in hegtenis geneem word en pluk sy swaard uit, maar Jesus sê: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.
“Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van Engele beskikbaar sal stel nie?
Selfs Jesus Christus het geen Engel gebied om enigiets te doen nie. Hy sê dat as Hy wou dan kon Hy tot die Vader bid om 12 legioene Engele beskikbaar te stel.
Ons volg in Jesus Christus se voetspore. Hy het gesê ons sal doen wat Hy gedoen het, maar veel meer as wat Hy gedoen het. Net hier val ons vas. Ons doen nog eers wat Jesus gedoen het nie, wat nog van meer doen as wat Hy gedoen het. Die rede? Ons het nog geleer om in die Gees te lewe nie.
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”
             Daardie liefdevolle verhouding met GOD vergestalt ook die volgende:
“En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.
“As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.
“As julle My liefhet, bewaar my Gebooie.”
Dis duidelik, as mens nie GOD se Gebooie en Insettinge bewaar nie, dan word jou liefde vir Hom bevraagteken.
“En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid (Wie is hierdie Trooster?):
“die Gees van die Waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” Joh. 14:12-17.
As die Heilige Gees dan in jou is, belewe jy geestes-ervaringe? Wat baat dit dan dat jy daarin roem dat jy kind van GOD is, maar GOD is nie in aksie in jou lewe nie!
Terug by Engele: Jy mag GOD vra om Engele beskikbaar te stel om jou in  verskillende situasies by te staan.
Al moet jy soms wag vir die antwoord of die oplossing, wag dan. Die enigste manier wat jy kan verloor, jou gebed onbeantwoord bly, is wanneer jy opgee.
Dis die aanhouer wan wen, want Jesus Christus sê: As jy (aanhou) klop sal daar vir jou oopgemaak word.
            “En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.
            “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” Luk. 11:9-10
            Aktiveer jy Engele om jou en jou geliefdes te beskerm, om te help in verskeie situasies? Niks gebeur vanself nie, ons moet betrokke wees. So is ons erfgename van die Nuwe Testament wat Jesus vir ons nagelaat het, maar as ons nie die erfporsie op eis nie, besit ons dit nie.
            Ons aanbid nie Engele nie, ons aanbid God deur Jesus Christus. Ons vra dus God in Jesus se naam om vir ons Engele te stuur vir beskerming, hulp van watter aard ook al.
            “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle Engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” Matt 18:10
            En as ‘n kind vroeg sou gaan, dan het sy Engel hom kom haal. Daar is miljoene kinders in die Hemel, ook geaborteerde kinders. Mense kan liggame doodmaak, maar niemand kan ‘n siel doodmaak nie.    
            In Handelinge is Engele byna deel van die daaglikse lewe wat sigbaarheid betref.
            Dr Billy Graham (96) in sy boek “Angels: God’s Secret Agents” sê: “Daar is ‘n tragiese en wydverspreide onkunde tussen Christene oor die Bybel se lering rakende hierdie bonatuurlike wesens. Meeste het ‘n verdraaide beeld van hierdie geestelike wesens. Oral waar ek oor die wêreld heen gereis het was ek altyd bewus van hierdie Hemelse wagte wat my beskerm het. Ek het hulle nooit fisies gesien nie, maar in die gees was ek altyd bewus van hulle.”
            Graham se boek maak ook melding van Amerikaanse troepe in die Koreaanse oorlog. ‘n Groep vlootsoldate was vasgekeer en met die kwik 20 grade onder vriespunt he een van hulle, ‘n Gelowige vertel hoe hulle vir ses dae niks te ete gehad het nie.
            ‘n Wilde beer het op hulle afgestorm en skielik reg voor hulle dood neergeslaan. Skielik het ‘n Suid-Koreaner voor hulle gestaan en gesê: Kom, ek lei julle na veiligheid. Hy het hulle deur ‘n woud en berge na veiligheid gelei.
            Toe hulle die man wou bedank was hy weg. Net een verklaring, dit was ‘n Engel.
            Hoe aktiveer ons die Engele: Bloot deur God in die naam van Jesus te vrta dat sy heilige Engele ingryp in ‘n situasie.
            Die rol van Engele is meer omvattend as wat hier beskryf is. Koop vir jou ‘n konkordansie en slaan alles na oor Engele. — Sjibbolet