Donderdag 07 Desember 2017

Met leë hande... Groote Schuur ten spyt


Image result for empty hands

‘n Man vertel: Op laerskool in 1955 se koers moes die klas elke oggend die skooldag met Godsdiens begin. Die klasmeneer was egter nooit teenwoordig nie. Dit was of hy dit wou ontvlug, en tog was hy so ‘n goeie meneer.
Die kinders het gesing, iemand het later uit die Bybel gelees, iemand het gebid en dan was die periode verby en die dag se skoolwerk het begin.
            Die kinders het sonder musiekbegeleiding Hallelujaliedere gesing. Hulle  kon om die beurt ‘n lied opgee om gesing te word.
            Die een seun het altyd gevra die klas moes lied 177 sing: “Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet, nie een siel na hom gelei nie, niks te offer aan Sy voet.”
            Die seun was nie gered nie. Inteendeel, hy het niks van Wedergeboorte of redding begryp nie. Nogtans was dit vir hom ‘n pragtige lied, maar ook ‘n hartseer lied want hy wou nie eendag voor die HERE gaan staan met leë hande nie.
            Hy het die lied gereeld gesing in die hoop dat hy die antwoord sou kry hoe om seker te maak dat hy nie daar met leë hande aanland nie. Maar niks het gebeur nie. Hy kon ook nie verstaan hoekom mens siele na die HERE toe moet lei nie.
            Hy het baie nagte wakker gelê en gesien hoe hy voor die HERE met leë hande staan en sê: “Ek is so jammer Jesus, ek het niks.” Dan het hy homself aan die slaap gehuil.
Hy was ‘n eenkantkind en het homself al hoe meer afgesonder. Die lied het hom gereeld baie hartseer gemaak, maar hy wou nooit afskeid neem van die lied nie want hy het begeer om eendag met hande vol siele by die HERE op te daag, wat dit ook al beteken het.
            Die lied het hom sy lewe lank bygebly. Later as grootmens, het twee mense met hom oor sy eie siel gepraat. Beide het gevra hy moes agter hulle aanbid en dan by die afsluiting gesê: “Veels geluk, jy is gered”.
            Maar dit was leë woorde. Dit had geen betekenis vir hom nie.
            Heelwat later, so 49 jaar gelede, bevind hy hom in Groote Schuur se hartafdeling. ‘n Predikant wat daar diens doen, wou kort voor die operasie met hom oor sy siel gesels. Hy het die leraar afgejak.. en lank daarna een dag bely...
            In die kamer langsaan was William Bill Killops, SA se vierdie hartontvanger wat vie dae na sy oorplanting oorlede is. Hy en Killops het dieselfde balkon gedeel. Hulle het oor alles behalwe hul operasies en probleme gesels. Hulle is telkens saam in rystoele na eenhede gestoot waar talryke toetse op hulle gedoen is.
            Op die operasietafel toe die eerste naald hom binnedring, het hy gevra: “Gee my asseblief net ‘n oomblik.” Hy het in wanhoop in die oë van die verpleegsuster langs hom gestaar en gevra: “Kan ek asseblief net ‘n paar oomblikke lank jou hand vashou?”
            Sy het haar hand in syne geplaas, en toe vra hy: “HERE, as daar ‘n lewende God is, maak asseblief my oë vir my amderkantkant hierdie doodsvallei oop.”
            ‘n Ruk daarna het drank en dwelmmiddels het hom een nag ingehaal. Hy het letterlik alles verloor wat hy in die lewe bymekaar gemaak het. Nou was hy stoksielalleen. Dit was ‘n wrede ontnugtering, veral wanner ‘n mens teleurgesteld in jouself is.
            Toe besluit hy om selfmoord te pleeg. Hy het in sy studeerkamer gesit waar hy laataand in doodse stilte alles haarfyn uitgewerk het.
            Toe hy by die studeerkamer wou uitstap om die daad by die woord te voeg, toe staan daar ‘n reuse “man” daai hele deur vol, mens sou nooit by die “man” verby kon kom nie. Toe word hy ontsettend bang en begin huil.
            Hy onthou van ‘n klein advertensie wat hy eendag in ‘n koerant gesien het: ‘n Telefoonnommer waarheen mens kon bel vir gebed of geestelike hulp. Hy bel die nommer gesjakel en ‘n vrou antwoord, meer as duisend km ver in ‘n ander stad.
            Hy vra in trane: “Help my asseblief, ek wil selfmoord pleeg en hier is ‘n reuse “man” wat my keer...” Die vrou het onmiddellik begin bid, hoe lank, kan hy nie onthou nie, hy was net bewus van die wonderlike rustigheid wat oor hom gekom het. Dit het vir hom as leek geklink of die vrou eers oorlog maak en daarna die vrede van die HERE afgesmeek het.
            Na die gebed wou hy sy Bybel in sy slaapkamer gaan haal. Die groot “man” was nie meer daar nie. (Later sou hy besef, dit was ‘n Engel van die HERE).
            Hy het in baie jare nie die Bybel gelees nie en maak dit oop by die verhaal van die blinde man van Jerigo. Hy lees die verhaal en sien homself in sy geestesoog
met sy vuil kleed langs die stowwerige voetpad  sit. Hy wis nie sy kleed is vuil nie want hy is blind.
            Hy het van tyd tot tyd ook gehoor van die man Jesus en wat Hy doen, maar hy kon nie by Jesus uitkom nie, want hy  was blind. Maar daardie dag hoor hy hier kom mense aangestap en Jesus is onder hulle.
            Hy roep: “HERE, HERE seun van Dawid, wees my barmhartig!” Diegene wat voor gestap het, het hom stilgemaak. Hulle en Jesus was op pad na ‘n afspraak, Jesus kon nie nou gepla word nie.
            Beseffende dat hy dalk nooit weer so naby aan Jesus sal kon kom nie, skreeu hy harder: “HERE, HERE seun van Dawid, wees my barmhartig!”
            Jesus vra vir hom: “Wat kan Ek vir jou doen?” Hy antwoord: “Dat ek kan sien,” en Jesus sê “jy sien” en hy het gesien.
            Die man het in die slaapkamer by sy bed op sy knieë neergeval en geroep: “HERE, HERE, seun van Dawid, wees my barmhartig!”
            Toe kom ‘n groot duisternis oor hom, en hy hoor die vraag: “Is jy van jou sinne beroof. Hoe sal jy ooit van die dwelms en drank ontslae raak. Dis onmoontlik.” Hy onthou hoe  hy al probeer het om van die dwelms af te kom, die ontsettende onttrekkingsimptome, die rou jeukende sere wat hy uitgeslaan en stukkend gekrap het...
            Maar dis of hy besef sy tyd het gekom... Jesus is nou hier en hy gaan dalk nie weer verby kom nie... Hy het Jesus laas in Groote Schuur afgejak....
            En toe roep hy oorverdowend: “HERE, HERE, seun van Dawid, wees my barmhartig!”
            En daar was Lig.
            En hy bid: “HERE nou vra U wat U vir my kan doen... ag HERE, gee tog dat ek kan sien.”
            Die duisternis was weg, daar was baie, baie trane. Die uiteindelike deurbraak was daar. Tot laatnag het hy daar op sy knieë deurgebring want daar was so baie wat hy met die HERE wou uitgesels. So het hy aan die slaap geraak en die volgende oggend wakker geword, ‘n splinternuwe skepsel... en sonder enige onttrekkingsimptome.
            En toe verstaan hy Lied 177 en weet hy, hy gaan met baie siele eendag by die HERE aankom.
            Sien jy kans om met leë hande by die HERE op te daag? — Sjibbolet