Woensdag 20 Desember 2017

Veilig in Jesus’ hoede...


Image result for titanic sinking


Sy het bekend gestaan as die skip van drome. Sy was 270m lank. Veertien duisend mense het aan haar gebou.  Die anker het 15.5 ton geweeg en is deur 20 perde van die fabriek af tot by die skip getrek.  Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam ‘n paar miljoen ure se werk aan Louis Quinze, Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kaffees en Turkse baddens om maar net ‘n paar op te noem.

            Sy is ook genoem: Die onsinkbare skip en in ‘n koerant van 1912 word berig dat selfs God haar nie kan sink nie.

            Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1 500 lewens saam na haar watergraf.

            Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel.  Daar was te min reddingsbote.  Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry.  Later het die Kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies plek op die reddingsbote mag kry.

‘n Man met ‘n babatjie in sy arms het verby ‘n vrou gehardloop wat nie ‘n kind had nie.  Vir haar was die afkondiging ‘n doodsvonnis.  Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: Dit is joune…hardloop vir jou plek op die reddingsboot!

            Wat is jou grootste Kersgeskenk?

            Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat nie almal  in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie.

            Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: Dit is joune… hardloop na my reddingsboot.  Moenie wag tot dit te laat is nie.  Wanneer ‘n skip sink, word lug uitgeblaas en water ingesuig.  Wag jy tot dit te laat is, word jy saam ingesuig al spring jy.

Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic ramp verloor het, het nie verdrink nie maar verkluim. Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou ‘n plek op sy onsinkbare reddingsboot voorberei het.

Sit Jesus in die arms van mense wat oopoë besig is om te sink.