Woensdag 13 Desember 2017

Waarskuwings en beloftes

Die Bybelse Barometer

`n Man van Long Island het `n barometer per pos bestel. By ontvangs daarvan was hy baie ontevrede. Dit was stukkend.


Die naald het op dié mooiweerdag, vasgesteek by “Stormweer” wat selfs ‘n orkaan kon aandui.
Hy het dit `n paar keer hard geskud, gestamp, maar die naald het by Storm bly vassteek.
Hy het vir die firma, wat dit verskaf het, ‘n  onbetaamlike brief geskryf oor hulle swak produk. Die volgende oggend, op pad na sy kantoor toe in die stad, het hy die brief, saam met die barometer, vir hulle gepos.

Long Island het daardie dag inderdaad ‘n hewige storm beleef.  Toe hy na werk by die huis opdaag, was daar nie meer ‘n huis nie. Die storm het orkaansterkte bereik en alles voor hom platgevee.
Die barometer was oplaas toe nie stukkend nie, maar het kragte  in `n hoër atmosfeer as die wolkelose, blou lug wat hy met sy oë kon sien, weerspieël.

Uit onkunde en tot sy skade, het hy die akkurate barometer nie vertrou nie en die tydige waarskuwing nie geglo en hom daarop voorberei nie.



Die Woord van God is ons barometer. Die Bybel vertolk ook  kragte in die hoër atmosfeer, die Ewigheid, wat ons met ons menslike waarneming nie raaksien en begryp nie.
Beloftes en waarskuwings oor die Ewigheid word in mensetaal in die Bybel aan ons oorgedra. Baie van daardie beloftes en waarskuwings ken ons goed.

Glo en aanvaar ons dit, of ignoreer ons God se Barometer? Wanneer ons in Sy weë wandel beleef ons geestelike mooiweer. As ons nie die wyse leding van die Woord glo en nastreef nie, beweeg ons in stormweer in.

“Die volk het geweier om daarop ag te slaan … hulle het hulle soos die hardste klip gehou en wou nie luister na…die boodskap wat die HERE die Al­mag­tige deur sy Gees gestuur het nie.” Sag.7:12
In sy Woord roep God ons na Hom toe. Hy maak sy liefde aan ons bekend en wil ons deur sy groot verlossing in die Here Jesus Christus red. Loof die HERE vir diegene van ons wat al geluister het en die boodskap geglo het.

En as ons nog nie geluister en geglo en gered is nie?
“As die Evangelie wat ons verkondig, tog nog …bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan … wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie.” 2 Kor.4:3,4

Lees ook Joh 12:37-50.