Waarom talm God so? Waarom vat God sy eie tyd? Waarom werk God nie haastiger? In ‘n wêreld gekenmerk deur lyding word die vraag gereeld gevra deur gelowiges en ongelowiges.
Deel van die antwoord is dalk om te kyk na die onderskeiding van die gebruik van die volgende twee Griekse woorde “chronos” en “kairos”. “Chronos is soos horlosietyd, 24 ure in ‘n dag, 60 minute in ‘n uur en 60 sekondes in ‘n minuut. Ons gebruik “chronos” tyd om ons dag te beplan of om afsprake te bevestig. “Kairos” tyd beteken die volmaakte oomblik op die regte tyd en regte plek. Dit is die volmaakte regte oomblik soos wat ‘n foto op presies die regte oomblik geneem word.
Die foto was ‘n tyd gelede sensasionele nuus, toe die verskynsel vir die eerste keer op film vasgelê is. Vir die eerste keer sedert vliegtuie deur die klankgrens gebreek het, kon ons hierdie foto sien wat in ‘n spesifieke oomblik verewig is.
Dit is ‘n F-18 Hornet van die Amerikaanse vliegdekskip USS Constellation wat êrens oor die Atlantiese oseaan vir klank begin wegvlieg het teen 1123km/h by standaard -atmosferiese toestande. So ‘n deurbraak veroorsaak ‘n blitsvinnige kondensasie van waterdamp, wat in die reël tog nog onsigbaar bly. In die “kairos” geval was die weerstoestande op die oomblik ideaal om die skouspel vir die eerste keer in die geskiedenis vas te vang. Selfs die fotograaf was op die regte oomblik en tydstip op die regte plek.
“Kairos” tyd is die spesifieke oomblik wat alles tegelyk gebeur. Wanneer verskillende gebeurtenisse en omstandighede vir daardie oomblik bymekaar uitkom. Dit kan natuurlik ‘n goeie of ‘n slegte uitkoms wees. Ons as gelowiges glo dat God die goeie en die slegte goed wat met ons gebeur alles vir ons ten goede laat meewerk.
‘n Mooi voorbeeld van ‘n Kairos oomblik in een van ons lidmate se lewe is in die lewe van Zelda Meyer toe sy jare gelede in die poskantoor op Fort Beaufort gewerk het. Rowers het die poskantoor aangeval en hulle gyselaar gehou. Hy het van haar sleutels geeis. Met voorbedagte rade om haar summier dood te skiet het die rower die vuurwapen oorgehaal om die doodskoot te gee.
Die patroon het in die “kairos” oomblik uitgeval en al wat sy gehoor het is die “kliek” van die vuurwapen teen haar kop. Was dit toevallig. Nee, ons as Christene glo dit is Godsvallig. God wou op daardie oomblik haar lewe red, want hy het nog werk vir haar. God het in die “kairos” oomblik bevestig dat Hy ingegryp het. Die meeste wonderwerke is “kairos”
momente.
Aristoteles, ‘n antieke Griekse filosoof sê dat “kairos” die tyd en spasie is waarbinne bewyse van ingrype (in retoriek) plaasvind. Ons as Christene sou Aristoteles kon verfyn, deur te sê “kairos” oomblikke is tye en spasies waar God Homself aan die mens bewys, as die teenwoordige God. Ons almal het sulke Godsmomente waar God helder en duidelik Homself openbaar.
Die wonderverhaal van die opwekking van Lasarus uit die dood is so ‘n “kairos” moment. Lasarus is van Betanië en die broer van Maria en Martha. Maria was die vrou wat Jesus se voete met reukolie gesalf het en met haar hare afgedroog het. Jesus was lief gewees vir Lasarus.
Daar was ‘n besondere band gewees tussen Jesus en Lasarus. Toe Lasarus siek geword het, het die susters ‘n boodskap gestuur na Jesus, bedoelende dat Jesus vir Lasarus moet kom gesond maak. Dan lees ons hoedat Jesus talm om na Lasarus te gaan.
Jesus het letterlik twee dae getalm voordat hy plan gemaak het om na sy vriend Lasarus toe te gaan. Letterlik het Jesus geen spesiale of haastige planne gemaak om so gou as moontlik by Lasarus uit te kom nie. Dit lyk as’t ware of Jesus nie omgee of die erns van die situasie besef nie.
Sy optrede ontstel vir Maria en Martha, asook die Jode wat hulle ondersteun het. Toe Jesus wel twee dae later daar opdaag, kan ‘n mens die verwyt in Maria, se stem hoor: “As U hier was, sou my broer nie sterf het nie.” Martha kom nie eers uit nie, waarskynlik is sy kwaad vir Jesus. Die afstand tussen Jerusalem is skaars 3 km. Dit is minder as twee uur se stap en Jesus het niks gedoen nie. Lasarus is toe alreeds 4 dae dood gewees. Waar was God? Waar was Jesus toe ons om nodig gehad het?
Dit is ook die vrae wat ons dikwels vra, as God talm ons gebede te verhoor? Waarom vat Jesus so lank? Hoekom doen die Here nie iets nie? Ons verwyte kan dikwels krake van twyfel saai in ons geloofslewe. Die Here was nie daar gewees toe ek Hom nodig gehad het nie.
Ons lees in ons teksgedeelte hoedat Jesus aan die huil gegaan het. Sy huil is in die Griekse teks, baie meer aggressief gestel as in die Afrikaanse teks. Hy het letterlik “gesnork” soos ‘n perd wat ontsteld was. God huil oor Lasarus en Hy is vir die “dood” kwaad wat sy vriend weggeneem het.
Hulle neem Jesus al huilende na Lasarus se graf. Hy beveel dat die klip weggerol word.
Toe bid Jesus tot Sy Vader wat in die hemel is dat ‘n wonderverhaal hier moet afspeel terwille van die mense, sodat hulle mag glo dat die Vader vir Jesus gestuur het.
Jesus roep toe met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!” Dan staan daar het die oorledene uitgekom, nog met die grafdoeke aan sy lyf en gesig. Jesus beveel hulle om die grafdoeke te verwyder.
Die vraag is nou. Waarom stel Jesus uit om te help. Waarom talm hy twee dae voor hy ‘n 3 km reis aanpak om ‘n vriend te help.
Ons moet die volgende Joodse gebruike goed verstaan. Iemand is in die Joodse gebruik eers op dag 3 of 4 as dood verklaar, omdat die dood en ‘n koma so naby aan mekaar is. In daardie tyd was die mediese wetenskap ook nog onderontwikkel en was dit algemene gebruik om eers op dag 3 iemand as dood te verklaar.
Gewoonlik teen daardie tyd het die reuk van die dood gewoonlik ook begin ruik. Sou daar in daardie tyd doodsertifikate uitgereik word sou dit eers op dag 3 of 4 gewees het. Dit verklaar Martha se woorde: “Here hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus het met ander woorde getalm om na Lasarus te kom, sodat hy wou hê Lasarus moet amptelik dood verklaar word. Jesus wou Lasarus uit die dood opwek en nie maar net gesond gemaak het nie.
Hy wou aantoon dat Hy die Prins van die Lewe is. Dat Hy inderdaad die Seun van die lewende God is. Daarvoor het Jesus “kairos” tyd nodig gehad en nie “chronos” tyd nie. Jesus verskyn nie in die “chronos” tyd nie, maar in die “kairos” tyd.
Die troos van die gedeelte is om aan ons te toon, dat ons Jesus, dikwels sal vind werk op ‘n spesifieke oomblik, spesifieke plek en spesifieke omstandigheid. Wanneer al die faktore volmaak is, sal Jesus ingryp. Daarom beteken die woord “kairos” (moderne en klassieke Grieks) ook “weersomstandighede”.
‘n Spesifieke weersomstandigheid sal eers plaasvind wanneer al die faktore daarvoor gunstig is. Nie verniet word die wederkoms van die Here verbind met weerverskynsels nie. Die Here sal op die “kairos” moment, die volmaakte tydstip sal Hy kom en die nuwe hemel en aarde vestig. Ons werk in die “chronos”. God werk in die “kairos”. Daarom verstaan ons God aldag nie so reg nie. AMEN – Ds Paul Odendaal van Adelaide.