Saterdag 07 Maart 2020

Waarom bid ons om Herlewing?



Horatio G. Spafford (1828-1888) was ‘n suksesvolle regsman en skatryk sakeman in Chicago. Hy en sy vrou was Wedergebore en het die bekende Dwight L Moody se bediening geldelik ondersteun. Hulle besluit om van Amerika na Frankryk te reis vir vakansie en dan na Brittanje te reis om van Moody se dienste by te woon

            Horatio kon ten einde laas nie saamreis nie want ‘n ontsettende brand het al sy eiendom vernietig. Hy moes eers aandag daaraan gee en sou sy vrou later volg.

Sy vrou Anna en hul vier dogtertjies is op 1 Nov 1873 alleen vort. Die vierde nag op see was daar ‘n geweldige botsing en Anna-hulle se Franse passasierskip “Ville du Havre”, sink binne 12min met meeste van die 313 passasiers dood, insluitende Anna se vier dogtertjies wat kort voor hul  vertrek almal Wedergebore is.

            Horatio sien die nuus in die koerant en verneem sy vrou en vier dogtertjies het verdrink. Die volgende dag het ‘n matroos met ‘n visbootjie gesien iemand dryf op ‘n wrakstuk op die oop see rond. Dit was Anna. Sy het nog gelewe. Hy het haar in sy bootjie gehelp.

            Nege dae later het ‘n groot skip hulle aan boord geneem na Cardiff in Wallis. Toe eers kon Anna kontak maak met haar man via ‘n telegram wat gelees het: “Gered. Alleen. Wat sal ek doen?” Horation het hom gehaas na sy vrou.

Moody hoor die nuus terwyl hy preek en onderbreek dit om sy vriende te gaan bystaan. Toe Moody by hulle kom en aan Dwight vra: “Hoe gaan dit?” het Horatio geantwoord: “Dit is wel met my siel.”

            Hy het die lied in sy kajuit geskryf op pad na sy vrou. https://www.youtube.com/watch?v=UiD9oJHH8V4

            Na al hierdie drama en verlies, sê Horatio: “Dit is wel met my siel.”

            Hoeveel Suid-Afrikaners, veral die 32 miljoen wat hulself as Christene op hul sensusvorms verklaar het, kan vandag sê: “Dit is wel met my siel?”

            Waarom kan julle dit nie sê nie? Want die vyand het julle putte toegestop. Gen 26:15

            Julle moet ‘n fontein van Lewende Water wees wat (let op) opspring tot in die Ewige Lewe. Julle is dit nie want julle putte is verstop.

            Dit is verstop met die werke van die vlees soos politiek, wanpersepsie, onreinheid, ongebondenheid, selfs afgodery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns, dronkenskap, brassery, onvergewensgesindheid en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die Koninkryk van God nie sal beërwe nie. Gal 5:19-21

            Let op: “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” Jer 2:13

            As julle putte skoon was, sou daar strome van Lewende Water uit julle gevloei het... water soos: “Liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, eerlikheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

            Dis waarom daar nou wêreldwyd gebid word vir Herlewing in Suid-Afrika. God kan en wil almal se putte skoonmaak.

            “Hy wat in My glo, (let op) soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Joh 7:38

            Let weer op: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

            “En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” Ps 1:1-3. – Wekroep