Vrydag 27 Maart 2020

Elke oog sal Hom sien


En wêreldwyd wonder Gelowiges, hoe sou elke oog Hom kan sien? Die Aarde is baie groot en dele is nag wanneer ander dele daglig is. Nogtans, elke oog sal beslis die Messias kan sien, maar nie almal sal opgewonde wees nie.

“Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!” Openb 1:7

            “En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in Sy weë kan leer en ons in Sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en (let op) die Woord van die HERE uit Jerusalem.” Miga 4:2

            Tydens die 1973 Yom Kippoer Oorlog het ons twee weke lank Nuwe Testamente aan Jode en Arabiere in die oorlog versprei. Ons moes uiters versigtig wees. As ons betrap sou word, sou hulle ons onmiddellik deporteer, soos wat met ander voor ons gebeur het.

            Ons het nie een keer ‘n Bybel op iemand afgedwing nie, elke net beleefd gevra om hulle een wou hê, en elke keer  was hulle te bly daaroor.

            Vandag verkondig Wedergebore Joodse Rabbi’s die Evangelie vanuit Jerusalem. Daar is 282 Messiaanse (Joodse Christen) gemeentes in Israel.

            Daar is 20 000 Christene in Israel. Hulle aanbid in 150 Evangeliese Christen gemeentes.


TBN se ateljees

            Daar is vandag ook twee van die wêreld se grootste Christen TV-stasies in Jerusalem... Trinity Broadcasting Network (TBN) en Daystar.

            Hierdie twee Netwerke het miljoene dollar geskenk om Israelse skole te bou, ook gemeenskapsentrums, hospitaalsale en selfs sinagoges.

            Beide TV-stasies is op Berg Sion en het 24/7 TV kameras gerig op die Olyfberg waar Jesus met sy Wederkoms sal staan. Die kameras sal Hom fotografeer soos wat die Messias uit die wolke neerdaal en alles  wêreldwyd beeldsend. So sal elke oog Hom sien.

            Beide TV netwerke beeldsend die Evangelie wêreldwyd. TBN versprei die Evangelie ook in Hebreeus in Israel. TBN is ook groot ondersteuners van die Messiaanse Jode.

            Jerusalem is en bly die barometer van Tyd en Eindtyd gebeure. Met die Messias se koms is almal se kanse op die Ewige Lewe finaal uitgeput. Terwyl jy hier lees is daar nog geleentheid vir jou op ‘n plek in Sy kudde.

            “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Jes 1:18 –  Wekroep

 ·       TBN = Kanaal 343 op DSTV. Daystar = Kanaal 342 op DSTV.