Donderdag 12 Maart 2020

Vervang vrees met Geloof



Vervang vrees met geloof en stap ongeskonde deur hierdie slagveld van virusse en misdaad, ellende en ondergang. Daar is gevalle waar die vrees ‘n groter gevaar is as die werklike gevare. Wêreldwyd is daar baie paniek. Plaaslik is dit erger weens bedreigings op vele fronte.

            Al die gevare waarvoor gevrees word, is weens die onbekende, maar geloof in die HERE God Jahweh neem ons juis na die bekende. Sy liefde en genade, die bloed van Jesus,. die Heilige Engele se beskerming.

            Dan bid ons in die geloof, sonder om te twyfel. Jak 1:6-8. Dan sing en speel ons in ons huise en motors Goddelike musiek... Dan bid ons vir mekaar. Ons staan op vir Jesus. Ons bemoedig mekaar soos wat Ouma Hamman se getuienis ons bemoedig.

Anna Elizabeth Retief (Ouma Hamman), die derde van agt kinders, is op 4 Julie 1874 op Graaff-Reinet  gebore.

            Sy het onderwyseres geword en haar studies voltooi deur by  maanlig en kerslig te studeer. Soms het sy selfs vuurhoutjies getrek om by dié lig te studeer. Sy was vooruitstrewend en het baie goed op skool sowel as die kollege presteer. Mej. Helen Murray, ‘n suster van dr. Andrew Murray, was destyds hoof van die seminarie.

            Dit was in hierdie tyd dat sy die Wedergeboorte deelagtig geword het. Die HERE het die Heilsleër en die South African General Mission, waarvan Dr. Murray ‘n stigterslid was, gebruik om haar tot die Lig te bring.

            Beaufort-Wes was haar eerste standplaas as onderwyseres. Hier het sy by die Pienaar-gesin loseer waar sy geestelik verryk geraak het. Sy was toe 20 jaar oud.

            Sy is daarna na Standerton. Nog later het sy ‘n pos op Biesiesvlei naby Lichtenburg aanvaar. Daar is sy met kol. J.L. Hamman getroud.

Inlas: Ouma Hamman – Op vlug deur die oorlog met twee babas

            Kort na die geboorte van hul eerste kind, het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek.

            Op pad na die klein konsentrasiekamp op Barberton was Anna, haar suster Margaret en Anna se klein Esther verplig om op Nelspruit by vreemde mense oor te bly. Daar is die tweede baba op die vlug gebore.

            Anna en die twee babas, asook Margaret was verplig om na tien dae in aller haas vanaf Nelspruit met die laaste trein te vertrek daar die vyand op hulle spoor was.

            Die trein was so stampvol van passasiers, dat daar geen plek vir bagasie was nie. Sonder ‘n pennie geld en met net die klere wat hulle aangehad het, tesame met ‘n klein handsakkie, het hulle op Barberton aangekom.

            Anna se man, wat toe as posmeester diens gedoen het, het lank reeds nie meer salaris ontvang nie en is toe ook gevang.

            Anna vertel later dat haar enigste uitkoms was om haar op die Engelse kommandant, ‘n ouerige man, te beroep. Nadat hy na haar verhaal geluister het, het hy haar 2 pond van sy eie geld gegee. Hy het hulle ook na ‘n netjiese klein huisie geneem want die vroue het daar in huisies en nie in tente tuisgegaan nie.

            Tot haar vreugde was daar dikwels vroegoggend ‘n mandjie met vars melk, eiers, groente, ens. voor die deur. Dit was bo en behalwe die karige voorsiening van die kommissariaat.

            Die mandjie in die oggende was deur vriendelike Engelse kommandant gestuur, alhoewel hy nooit self die huis besoek het nie.

            Anna vertel dat die HERE in daardie dae baie naby aan hulle was en op wonderbaarlike wyse in antwoord op gebed, in al hul behoeftes voorsien het.

            Na drie maande het sy weens die verskriklike hitte op Barberton, baie na haar ouerhuis op Graaff-Reinet verlang.

            Sy het met die kommandant gaan praat en hy het verlof gegee dat sy en die babas kosteloos deur die twee republieke Transvaal en Vrystaat, mag reis, maar op eie risiko.

            Die land was in ‘n toestand van gorrilla-oorlogvoering, treinspore is gedurig opgebreek en hulle sou langs die pad verskeie kere lank moes wag op die herstel van die spoorlyn.

            Met so ‘n toestand het sy besluit om eerder op die HERE te gaan wag vir duidelike leiding. Alhoewel sy kosteloos kon reis, sou sy tog geld ook moes hê, en sy besluit toe dat as die HERE op wonderbaarlike wyse die geld voorsien, dan sou dit as teken aanvaar dat sy die reis kon onderneem.

            En weer ‘n keer, in antwoord op gebed, verkry sy op bonatuurlike wyse 13 pond. Sy het volkome vrede in haar gemoed gehad om die lang reis aan te pak.

            Die grootste prioriteit was padkos. ‘n Groot baksel boerbeskuit sou die probleem oplos. Weer vertrou sy die HERE op uitkoms. Toe kry sy meel, maar die vet het ontbreek.

            Drie dae voordat die trein sou vertrek, staan sy met die skottel meel voor haar deur die venster en tuur.

            Beswaard bid sy toe: “HERE, het U my dan vergeet; ek kan dit nie verstaan nie.”

            Die volgende oomblik het die militêre muilwaens vol proviand en met groot geraas verbygesnel.

            Daar was ineens ‘n harde geklop aan die voordeur. “En daar staan ‘n Engelse soldaat met die grootste blik vet wat ek nog gesien het,” vertel sy later.

            Die blik was so groot en swaar dat die soldaat dit op die grond moes neersit. Hygende na sy asem sê hy toe: “Mevrou, hierdie blik vet het van die militêre muilwaens afgeval. Wil u dit nie hê nie?”

            Sonder om nog op ‘n antwoord te wag, het hy die blik vet die gang afgerol, omgedraai en laat spaander om die waens weer van agteraf in te haal.

            Anna het verbysterd bly staan. Die teenwoordigheid van die HERE was tasbaar.

            Wat die wonder nog groter gemaak het, was die feit dat die deur van die huis nie direk op die straat uitgegaan het nie, maar in ‘n tuin met ‘n hekkie laer af, terwyl die huise oorkant die straat se hekke by hul voordeure was.

            Wat sou die Engelse soldaat beweeg het om die ompad te neem as dit nie die Gees van God was wat hom gedring het nie?

            Op die laaste oomblik is Anna se verlof om die reis te onderneem gekanselleer. Toe die kommandant dit hoor, stel hy ‘n seereis voor vanaf Lourenco Marques na Port Elizabeth.

            ‘n Seereis! Waar sou die passaat vandaan kom? “Maar my Vader het Sy Wil aan my bekendgemaak,” se Anna later.

            Sy het  soos Abraham van destyds uitgetrek … sonder om te weet waarheen, maar soos Abraham het sy goed geweet saam met Wie!  Sy het dus volkome rus en vrede in haar gemoed gehad.

Sy het ook geweet van ‘n paar van haar eie mense wat oor die grens gegaan het en in tente in Lourenco Marques tuisgegaan het.

Met haar en die babas se aankoms daar het die ou bekendes haar gasvry ontvang.

Dieselfde middag het die kampkommandant op sy gewone rondte ook by haar tent besoek gebring. Nadat hy na haar verhaal geluister het, het hy vertrek.

‘n Ruk later was hy terug met die boodskap dat mnr Trotsenburg, die hoof van Poswese in Transvaal., in ‘n hotel onder in die dorp was en dat hy haar graag wou spreek.

Na ‘n paar vrae was Trotsenburg bereid om ‘n deel van haar man se agterstallige salaris aan haar uit te betaal. Hy het haar ‘n tjek vir 37 pond oorhandig. Dit was genoeg om die kostes tot in Graaff-Reinet te dek.

Weer was sy verbysterd, want dit was die laaste oord vanwaar sy enige hulp verwag het. “Dit het gevoel of ek in lug loop terug na die kamp.”

Veertien dae later het hulle aan boord gegaan en na ‘n voorspoedige reis uiteindelik by haar eie mense op Graaff-Reinet aangeland. Hieroor sê sy: “Al die eer aan God!”

En voeg dan by: Can you wonder, can you wonder, can you wonder why it is I love Him so? When I think of all His done for me unworthy one! Can you wonder why it is I love Him so?

Dit was die einste Anna – later bekend as die biddende Ouma Hamman – wat geruime tyd na die oorlog aan dr. Andrew Murray geskryf het:

“Watter raad het u vir my om my en my vyf  klein kindertjies, waarvan die oudste maar 9 jaar is, so vroeg moontlik vir die HERE te wen?”

Murray het geantwoord: “Ek sien dat u ‘n bekommerde moeder is. Soek vir u nog ‘n bekommerde moeder en bid saam.” Sy het dit gedoen en dit het aanleiding gegee tot die Moeder Gebedsbond wat landwyd gegroei het.

Vandag is ons land weer ‘n keer vol bekommerde moeders en daarom word ‘n beroep op alle moeders gedoen om weereens by ‘n Moeder Gebedsbond in te skakel, of begin een as daar nie een in jou omgewing is nie, en begin bid vir ‘n Herlewing. Bid soos jy nog nooit in jou lewe gebid het nie. Soos wat die HERE Ouma Hamman gedra het, sal hy ons ook dra. Glo net. “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” Luk 12:32

Indien jy weet van iemand wat ‘n Bybel  opreg benodig en kan gebruik, besoek www.thesower.org.za

As iemand geestelike hulp of gebed verlang, skryf aan: belindapaar@gmail.com

Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA – Wekroep