Dinsdag 28 Februarie 2017

Ester se moed


Image result for esther in the old testament

Ester het Mordegai se uitdaging en advies aanvaar. Ons sien haar beslistheid, haar vasberadenheid en manmoedige optrede. Sy het die volk tot gebed gemobiliseer.
            Sy was gewillig om haar lewe te waag deur Ahasveros te nader sonder dat hy haar ontbied het.
Omdat sy geweet het hoe wispelturig Ahasveros kon wees, en onthou het hoe hy Vasti onttroon het omdat sy nie gekom het toe hy haar ontbied het nie, het Ester geweet die straf vir enigeen wat ongenooid voor die koning verskyn, onmiddellike teregstelling kon beteken.
Tog het sy beslis dat selfs al was dit teen die wet, sy na die koning sou gaan en “as ek omkom, dan kom ek om.” Ester 4:16
            Die erkenning van haar groot skoonheid, het Ester nie aangetas nie, ook nie haar kroning as koningin van die grootste koninkryk van haar leeftyd nie. Sy het nie toegelaat dat luukshede haar na selfsug dryf nie. Sy was gewillig om alles op die spel te plaas, selfs haar lewe, om haar plig na te kom.
Niemand kon voorspel wat die wispelturige monarg sou doen nie, maar Ester was vasbeslote om haar plig na te kom, ongeag die koste daaraan verbonde. Ester is ’n pragtige voorbeeld van nederigheid, beskeidenheid, gehoorsaamheid,
moed, lojaliteit en standvastigheid. sterk magte te doen gehad het.
Toe koningin Ester Ahasveros se uitgestrekte septer en sy warm aanbod om haar te gee wat sy ook al vra, ontvang, het sy dus verstandig en vreesloos, bloot gevra dat Haman en die koning hulle by haar sal aansluit vir aandete.
Gevolge van keuses
Daardie nag kon die koning nie slaap nie; daarom het hy een van sy dienaars gevra om die kronieke van die koninkryk aan hom voor te lees. Toe Ahasveros daarin herinner is dat Mordegai hom gewaarsku het teen die sameswering om hom te vermoor, het Ahasveros gevra: “Watter eerbewys en erkenning het Mordegai hiervoor ontvang?” Hy is ingelig: “Hy het niks ontvang nie.”
Lotsverandering
Op hierdie kritieke oomblik arriveer Haman, en die koning vra: “Wat moet gedoen word met iemand aan wie die koning baie graag eer wil bewys?” Haman, uiters ydel, het in sy hart gedink: “Aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?”
’n Mens kan jou Haman se skok, skaamte en verwarring indink toe die bordjies verhang word en hy vind dat hy verplig is om Mordegai, wat hy gehaat het en wou vermoor, te eer – om sy vyand op die wyse te eer as wat hy gehoop
het om self vereer te word. Hoogmoed kom tot ’n val.

Katastrofiese nagevolge
Die koning en Haman het saam met koningin Ester aandete gaan nuttig. Die koning het gevra: “Wat is dit wat jy wil vra? Dit sal vir jou gegee word.” Koningin Ester antwoord toe: “Laat my en my volk toe om te bly lewe. Ek vra dit, want ons... is verkoop om voor die voet uitgeroei te word.”
Ahasveros het aangedring: “Wie is dit wat so iets beplan, en waar is hy?” en Ester het geantwoord: “Die teëstander en vyand is hierdie lae mens, hierdie Haman.”
Toe het hulle Haman aan die galg opgehang wat hy vir Mordegai voorberei het. Ester 7:9-10
Ons sien die katastrofe van ’n bose karakter en die hoogtepunt van ’n sterk
karakter. Wat Hamman as ’n groot slagting van God se volk beplan het, is tot ’n yslike oorwinning vir God se volk omskep en in ’n katastrofiese nederlaag vir die Agagiete.
            Dit waarin koning Saul honderde jare gelede misluk het, om met die Agagiete af te reken, het amper tot die vernietiging van God se volk gelei.
            Daar is drie feeste in die boek Ester: die fees van Ahasveros, die fees van Ester en die Purimfees wat op die 14de en 15e Maart gevier word, waartydens Ester gelees word. Hoewel die volk God versaak het, het Hy hulle gespaar.
Ons maai wat ons saai
Die boek Ester wys ons op die verganklike aard van aardse vernaamheid
en die rampspoedige gevolge van mag en besittings wat onregmatig bekom is. Ester leer ons om na Goddelike leiding in moeilike tye te soek; om gereed te wees om self te verloën en beslissend te praat namens diegene wat nie vir hulleself kan praat nie; en om die samewerking van medegelowiges op te soek.
’n Oproep tot besliste optrede
Wanneer die tyd aanbreek om te praat, durf ons nie swyg nie. Wanneer die tyd aanbreek om standpunt in te neem, moet ons nie bly sit nie. Wanneer die tyd aanbreek om op te tree, durf ons nie terugdeins nie. Ons moet gereed wees om vir die geloof te stry, om die “goeie stryd van die geloof te stry.”
“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos hierdie” dat jy tot die koninkryk geroep is? Waarom is jy in die koninkryk?
            Waarvoor roep God jou in hierdie tyd?
·       Luister vanaand 27 Februarie 2017 wanneer Evangelis Angus Buchan die Volk van Suid-Afrika toespreek/aanspreek op TBN op DSTV Kanaal 343

Vrydag 24 Februarie 2017

‘Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!’


 Image result for weggooi kind


“En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!” Eseg 16:6

Jy is ’n pasgebore baba. ’n Weggooikind.
Jy is ’n meisietjie wat – pas gebore – weggegooi is om dood te bloei.
Toe tel die HERE jou op en gee jou LEWE.
Hy maak jou groot vir ’n huwelik met Hom!
In die ou tyd was dit as ’n ramp beskou as daar ’n meisietjie gebore word.
So erg dat sy nie eers as ’n kind gereken word nie.
So ’n meisietjie word as voorbeeld gebruik in hierdie profesie. Haar ouers wil haar die lewe ontneem – doodmaak.
Hulle was haar nie eers na haar geboorte met water skoon nie, want water is vir hulle waarskynlik kosbaarder as sy en haar lewe.
Sy word ook nie met sout ingevryf soos wat die gebruik in daardie dae was nie.
Haar naelstring word ook nie eers afgebind en versorg nie.
Hierdie babatjie word sommer in die veld weggegooi.
Sy lê daar hulpeloos en bloei.
Sy is vuil.
Sy is besig om te sterf in haar verlate en onversorgde toestand.
Dink net aan die angs wat daardie babatjie deurmaak in sulke oomblikke.
·       Dan kom daar Iemand aan wat oor die kind heeltemal anders voel as die ouers. Hy sê vir haar: ... toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!
Wonderlike woorde: LEEF! Jy wat so vuil hier in jou bloed lê: LEEF!
Dit beteken Hy neem hierdie meisietjie wettig aan as syne.
Hy word nou die Vader wat haar in sy arms laat lê.
Daarom sê Hy twee maal vir haar: LEEF!
Daarmee wil Hy die verskil tussen haar ouers en Homself uitbeeld. Maar Hy wil ook daarmee die sekerheid beklemtoon dat sy nou beslis sal lewe.
In die eerste plek praat die HERE hier met Israel.
Hulle moet onthou dat hulle uit die Amoriete en Hetiete stam.
Maar omdat hulle die afgode nie gedien het nie, maar die HERE gedien het, het die heidene hulle weggegooi.
Maar die volk het ook teen God gesondig.
Menslik is hulle swak, want sonder God kan niemand leef nie.
Hulle is soos ’n baba wie se naelstring nie afgebind is nie.
Hulle bloei hulleself dood, want hulle besit geen krag hoegenaamd nie.
Hulle sondes besmeer hulle soos wat hierdie weggooibaba met bloed en grond en gras besmeer is – amper te vuil om na te kyk en aan te vat.
Dis hoe ons voor God lyk.
Met hierdie gedeelte praat die HERE nie net met die Israeliete nie – Hy praat ook met ons.
Ons sal op die oordeelsdag so voor Hom wees.
Vuil. Swak. Byna klaar dood in die vuil en die sonde.
Maar dan sê God die bevel twee maal: LEEF!
Leef julle wat só lyk in julle misdade!
En dan wonder ons in ons sterwensoomblik: Hoe, HERE?
Dan antwoord God ons: deur die HERE Jesus Christus.
Hierdie bloed en sondes en geboortesmet wat aan ons vaskleef en droog word, en wat by ons naelstring uitvloei, dit het Jesus Christus van ons afgewas.
Dis asof die HERE sê: By jou is dit deel van jou lewe om vuil te wees, want jy weet nie van beter nie.
Jy kan ook nie beter nie, want jy is ’n weggooikind.
As ons in ons geloofslewe besinning doen, moet ons herdenk hoe Jesus se liggaam gebloei het toe Hy moes sterf vir ons.
Hy wat heeltemal Goddelik rein was en is, moes sy lewe aflê vir ons wat besig is om te sterf in ons eie goddeloosheid.
Maar ons moet nie daaroor moedeloos wees nie. Ons moet hoor hoe God vir ons sê: Ek het vir jou gesê in jou bloed: LEEF!
Hierdie woord LEEF het ’n baie groot en wye betekenis:
Dis ’n bevel wat uit God se Ewige Raadsbesluit kom.
Hierdie bevel om te leef is inderdaad in ’n sekere sin ’n bevestiging van die belofte wat die HERE met Eva gemaak het.
Net na die sondeval het die HERE die doodstraf oor ons uitgespreek – die sondeval se gevolge word in hierdie weggooibabatjie uitgebeeld.
Maar as deel van daardie gesprek het die HERE vir Eva die belofte gegee dat ’n gedeelte van die mensdom deur Hom gered sal word.
Hy sal twee dinge doen – het die HERE beloof:
Die een ding was dat die HERE gesê het dat Hy skeiding gaan maak tussen die vrou se saad en die slang se saad.
Daarmee het die HERE bedoel dat ’n deel van die mensdom die duiwel sou volg.
Die HERE sou daardie deel van die mensdom wegskei van die ander deel van die mensdom – dié wat die HERE aanhang.
Die tweede ding wat die HERE gesê het, was dat Hy Iemand uit die vrou se nasate gebore sou laat word wat die slang se kop sou vermorsel – dus die dood sou oorwin en versoening doen.
Hierdie bevel om te leef word nou aan daardie deel van die mensdom gerig!
Natuurlik kan ons nie self die lewe gryp en uit die dood lewend word nie! Die HERE bedien ons uit genade daarmee deur die HERE Jesus Christus!
Leef dan nie net nou nie! Leef tot in Ewigheid, want God het hierdie dogtertjie grootgemaak en toe sy in die tyd van liefde gekom het, het Hy met haar getrou.
Hy het haar met olie gesalf en die pragtigste klere vir haar aangetrek.
Hy het ’n verbond met haar gesluit en sy het God s’n geword.
Dan gaan ons gedagtes dadelik na wat die apostel Johannes in Openbaring skryf:

Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.

Toe sê hy vir my: Skryf, salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. Openb 19:7-9

U is die Bruid.
U is die kerk.
As God dan in u bloed vir u sê: Leef! dan bedoel Hy Lewe tot in Ewigheid in sy Koninkryk waar Hy alles is in almal. Kom ons aanbid Hom wat Hom laat verbreek en vergiet het sodat ons rein gewas kon word voor God.
Kom hoor elke keer in die Woordbediening hoe vas God se beloftes staan.
Ons hoor telkens sy woord: Leef!
En dan weet ons dat ons leef – maar nie deur ons eie bloed nie – deur Sý bloed!
Staan dan op, hiervandaan, en gaan Leef in die Naam van God tot in Ewigheid.
Leef ’n stryd van oorwinning teen die sonde.
Leef ’n lewe van daaglikse bekering.
Want geen mens kan sy lewe ontvang sonder om dit dan met dankbaarheid aan God terug te gee nie!

·       Hierdie boodskap van Dr Thinus du Plessis het my die volgende in herinnering laat roep:

Quo Vadis?
ek soek na myself...
wie is ek,
wat is my identiteit,
wie is my pa
en wie is my ma?
wat is hulle name,
wat is my naam?
ek is uit ‘n
hospitaal aangeneem;
maar,
waarom is ek
as pasgebore meisie
in die nag van Junie 1964
tussen struike
langs ‘n gruispad versteek?
(Moses...
was ten minste versorg);
wie doen so iets?
ek was poedelnaak
en bebloed
pasgebore
in ‘n bitterlike koue nag...
so blou van die koue,
die wie my vind
dog ek is ‘n bruin kind;
het jy al na jouself gesoek?
ek soek na myself
ek weet nie wie ek is nie...
ek vergewe my ouers
want ek is nou gekleed
maar hulle is steeds naak
voor God en die mens;
hoekom soek hulle my nie?
ek is so alleen
alleen
alleen...
Here,
wie is ek...?

·       Laat ons die HERE vertrou om in hierdie dae tot aanvang van ‘n magtige Herlewing oor Suid-Afrika uit te roep: LEEF! LEEF!

Woensdag 22 Februarie 2017

Die Pyle in jou Koker


Image result for son carrying father

In sy “Dictionary of Illustrations” vertel Walter Baxendale 'n baie ou verhaal, van 'n stad wat lank deur die vyand beleër was en uiteindelik moes oorgee.

Die stad se lot was om met vuur vernietig te word. In die stad was twee broers, wat aan die aanvoerder van die vyandelike leër, 'n guns bewys het. As beloning gee hy aan hulle verlof om die stad te verlaat, voor die stad aan die brand gesteek word.

Elkeen kon soveel van hulle kosbaarhede saamneem as wat hulle elkeen self kon dra. Die twee broers het gebukkend onder hulle vrag, by die stadspoort opgedaag. Op die een se rug, was hulle ma en op die ander een se rug, was hulle pa.

Ps 127:3-4 lees: “Kyk, seuns is 'n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is 'n beloning. Soos pyle in die hand van 'n held, so is die seuns van die jeug.”
            Vir die seuns in ons verhaal was hulle pa en ma die kosbaarste wat hulle met hulle wou saamneem.

Maar hoe kosbaar was die twee seuns nie vir die pa en ma nie! Die verwantskap tussen kinders en hulle ouers is 'n kosbare besitting wat God vir ons as mense gegee het.

Dit is ook die basis waarop God die verlossingsplan geskoei het: "God het die wêreld so lief gehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die Ewige Lewe sal hê." Joh 3:16

Jesus het gedurig met die grootste ontsag en liefde van Sy Vader gepraat: "...die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom doen wat die Vader My beveel het." Joh 14:31

            Vir talle van ons duik moeilike omstandighede op: fisiese of finansiële behoeftes. Dan ervaar ons hoe ons kinders, ons seuns en ons dogters, ons dra. Toe hulle klein was het ons, as ouers, hulle gedra, nou dra hulle ons weer.

Sekerlik dra ons hulle ook nou nog – dalk wel ook op stoflike gebied – maar nou, meesal op geestelike gebied deur ons voorbidding en belangstelling.

Maandag 20 Februarie 2017

Soos Jesus


 


In die St. Peter's Church in Cologne hang twee eenderse skilderye van Petrus se kruisiging.


Ons weet uit oorlewering Petrus het gevra om onderstebo gekruisig te word, omdat hy homself onwaardig geag het om soos Christus, in 'n regop posisie, aan die kruis te hang.
Die bestaan van die tweede skildery, wat 'n kopie van die eerste een is, word deur Herbert Lockyer in The Heritage of Saints soos volg verklaar: In die begin van die 19e eeu het Napoleon, die stad Cologne, in sy seevierende optog geplunder.
In die proses van sy plundertog het Napoleon die oorspronklike skildery van Petrus se kruisiging saamgeneem. Nadat die kerk weer herstel is, het dieselfde kunstenaar, wat die eerste Petrus skildery geskilder het, weer 'n skildery, so na as moontlik aan die eerste een, geskilder.
Die oorspronklike skildery is later gevind en aan die kerk terugbesorg en langs die kopie van die skildery opgehang. Kunskenners sê daar is so min verskil tussen die twee skilderye dat die oorspronklike nie van die kopie onderskei kan word nie.
Herbert Lockyer maak uit hierdie insident 'n geestelike toepassing. "Jesus is in die Hemel, maar die Heilige Gees is hier by ons en Hy is die meester kunstenaar van die oorspronklike skildery. Dan, in die afwesigheid van die eerste skildery, skildery Jesus sy beeld op die onwaardige doek van my en jou lewe.”
            God se bedoeling met Sy kinders op aarde, die gelowiges, is om die Here Jesus Christus se beelddraers te wees: "…dié wat Hom lief het, dié wat volgens Sy besluit geroep is… het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun…" Rom 8:28,29
Uit onsself het ons nie krag om Jesus se voorbeeld te volg en deur ons lewe, Hom aan die wêreld, bekend te maak nie.
"Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle." Rom 8:8,9
Deur die Heilige Gees woon Christus in ons en afhangende van ons verhouding en gemeenskap met Hom, kleur die Heilige Gees, soos 'n kunsskilder, ons lewe in met Christus se lewe en dit verskyn in ons gedrag, ons houding, ons woorde, ons gesindhede.
            "... die Vader...sal vir julle... stuur... die Gees van die waarheid… Hy sal by julle bly en in julle wees..." Joh 14:16,17


Vrydag 17 Februarie 2017

Die Twee Seuns...


 Image result for renaissance painting portrait of a young man 

‘n Skatryk man en sy seun het duur en seldsame skilderye versamel, die werke van Van Gogh, Picasso, Raphael, Rembrandt, ens. Hulle het gereeld saam gesit en die skilderye bewonder.
            Toe die Viëtnam oorlog uitbreek, is sy seun oorlog toe. Hy was ‘n dapper soldaat en het gesterf toe hy ‘n makker wou red, Sy pa was diep in rou toe hy die nuus ontvang het.
            ‘n Maand later, kort voor Kersfees, was daar ‘n geklop aan die deur. Dit was ‘n jongman met ‘n groot pakkie onder sy arm.
            Hy het gesê: “Meneer, u ken my nie, maar ek is die soldaat vir jou seun sy lewe gewaag het. Hy is doodgeskiet terwyl hy my na veiligheid gedra het. Hy was op slag dood. Hy het baie lewens daardie dag gered. Hy het my gereeld van u vertel en hoe lief u vir kunswerke is.”
            Die jongman het toe die pakkie aan die man oorhandig en gesê: “Meneer ek is nie ‘n bekende skilder nie, maar ek dink jou seun sou dit graag vir jou wou gee.” Binne was ‘n pragtige skildery van sy seun... By die aanskoue daarvan het die man se trane begin loop. Hy het die jongman bedank en wou hom betaal, maar die jongman het gesê: “O nee, ek skenk dit want ek sal nooit kan vergoed vir wat u seun vir my gedoen het nie. Dis ‘n geskenk.”
            Die man het die skildery van sy seun bokant die kaggel gehang en dit altyd eerste vir almal gewys wat na sy versameling wou kyk.
            Die rykman is ‘n paar maande later oorlede. Dit sou ‘n baie groot veiling wees. Voornemende kopers het van oral daar aangekom, opgewonde oor die geleentheid om van die duur skilderye te kon bekom. Die afslaer het begin om die skildery van die seun op te veil. Niemand wou ‘n bod maak nie. Iemand het hardop gesê: “Ons stel nie daarin belang nie, begin met die duur en seldsame skilderye.
            Die afslaer wou niks weet nie. “Wie gee my $100 vir die skildery van die seun?” Niemand nie.
            Nog iemand laat hardop van hom hoor: “Ons is hier vir die Van Gog’s, die Rembrandt’s, begin nou met die werklike veiling.”
            Die afslaer het aangehou: “Die seun, wie stel belang in die seun?”
            Die man wat jare lank die rykman  se tuine versorg het, bied toe $10 aan. Hy was arm en kon nie meer aanbied nie.
            En die afslaer het gereageer: “Ek het $10, wie bied my $20 aan?” Niemand nie, want hulle het nie in die seun belanggestel nie. Hulle had net oë vir die duur skilderye.
            Die afslaer het die bod van $10 op die tuinier toegeslaan.
            ‘n Man in die tweede ry van voor reageer toe: “Laat ons nou begin met die meesterstukke!”
            Die afslaer het opgepak en aangekondig dat dit die einde van die veiling was. “Maar wat van die seldsame skilderye,” het hulle uitgeroep.
            “Ek is jammer,” het die afslaer geantwoord, “daar is ‘n klousule aan die veiling verbonde wat ek nie vooraf met julle kon deel nie. Die oorledene het gestipuleer dat wie ook al sy seun koop, al sy rykdomme, skilderye en die huis, daarmee saam sou kry. Die man wat dus die seun gekry het, kry nou alles.”
            Bykans 2 000 jaar gelede het God sy Seun aan die kruis laat sterf. Byna soos die afslaer sê God vandag: “Die Seun, My Seun, wie neem die Seun?”
            Omdat... wie die Seun neem, kry alles.
            Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.” Joh 14:6-7
            “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die Koninkryk van God nie sien nie.” Joh 3:3
            “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
            Dit maak ons dan erfgename van Jesus se Testament en ons erf alles. Daar is meer as genoeg vir elkeen wat die Seun aanneem.
            "Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is… die beker geneem en gesê: 'Hierdie beker is die Nuwe Verbond (Testament) wat deur My bloed beseël is." 1 Kor 11:23 – 26
            Gelowiges is regmatige erfgename van die Seun Jesus se Testament. “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.” Rom 8:16-17
            Ek en jy laat ook eendag ‘n testament na en die erfgename sal beslis erf en dit erf wat aan hulle bemaak is. So ontvang ons ook dit wat Jesus aan ons bemaak het.
            Mens kan egter eendag ‘n plaas erf. Maar as jy nie die erfporsie gaan opeis nie, sal die plaas nooit joune word nie. Kies die Seun Jesus en jy erf ‘n ganse Koninkryk.
            So het ons ook talryke seëninge by Jesus geërf, maar ons kan dit nooit besit as ons dit nie gaan opeis nie, ons eie maak nie.
            Kyk, so lyk deel van ons erfporsie:
1.     Moenie bid vir seëninge nie, want God het “ons geseën het met alle geestelike seëninge in die Hemele in Christus,” Efes. 1:4 Ons triomf berus op Lofprysinge want ons is reeds geseën.
2.     Moenie God soebat om iets vir ons te gee of te doen nie, want “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? Rom. 8:32. Weer berus ons triomf op Lofprysinge want Hy skenk ons alles genadiglik.
3.     Moenie bid vir dit wat tot die lewe en Godsaligheid lei nie, want “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,  waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is. 2 Pet. 1:3-4.

            In hierdie drama van Geloof is daar twee betrokkenes: God, die Algoede Gewer en jy, die bloed-gewaste ontvanger. God, die Algoede Gewer het reeds “alles aan ons geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” En weer berus ons triomf in Lofprysinge vir alles wat ons reeds as geskenk ontvang het.
            Moenie hoop en bid vir opbrengs en toename nie, want “Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.” Ps. 67:5-7. So, moenie bid vir reën nie want nogmaals berus ons triomf op Lofprysinge en dan kom die opbrengs en die toename.
            Moenie bid en neul vir genesing nie en dalk daardeur voorgee dat daar iets skort in God se voorsiening vir ons genesing nie, want “Hy het self ons sondes in Sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” 2 Pet. 2:24. Ons triomf berus weer op Lofprysinge want ons is reeds genees.
            Moenie die doping in die Heilige Gees benader asof dit iets is wat mens van God moet afsmeek nie, want “Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Hand. 2:38. En weer, Lofprysinge is ons triomf vir die gawe van die Heilige Gees. Ontvang net die Heilige Gees in jou lewe.
            “Alles behoort aan ons.” 1 Kor. 3:21. Lofprysinge is ons triomf vir alles wat ons nodig het want alles behoort aan ons.
            Nou kan jy sien wat word bedoel met kennis en dat die Woord ‘n lamp is. Sonder kennis en sonder ‘n lamp ly mense ontsettend gebrek.
            As jy tot nog toe onnodig gebrek gelei het weens jou onkunde van die Woord, dink aan al die ongereddes wat geen jota of titel hiervan verstaan nie. Hulle erf niks. Kry hulle jammer en dra die Goeie Boodskap uit en bring die gerwe in.
            Bid asseblief deurentyd vir ‘n magtige geestelike Herlewing in SA.
            Moenie alleen Hemel toe gaan nie, neem asseblief iemand saam.

Woensdag 15 Februarie 2017

Hoe groot is die Hemel?




         
Anthony Collins

Een Sondagoggend loop een van Engeland se beroemdste vrydenkers, Anthony Collins, 'n eenvoudige man, wat op pad is kerk toe, raak. "Waarheen is jy op pad?" vra Collins. "Kerk toe, Meneer," antwoord die man. "Is jou God 'n groot God of 'n klein God?" vra Collins met die doel om hierdie gelowige man te verwar.
Die man antwoord: "Meneer, Hy is so groot dat die Hemel hom nie kan bevat nie. Maar Hy is ook so klein, dat Hy in my hart kan woon."
Anthony Collins is in 1729 oorlede. Hy het 'n beroemde boek, Discourse on Freethinking, geskryf. Hy het egter later, na sy gesprek met die kerkganger, verklaar: "This simple, but sublime answer of an uneducated man, had more effect upon my mind than all the volumes of argument I had read in favour of religion."
            God wat groot is, kan nie net in 'n man wat klein is se hart woon nie, maar Hy kon ook 'n geringe en eenvoudige man se getuienis, aan een van hierdie wêreld se groot manne, nuttig gebruik. Ek wens ons kon weet of Collins ooit by God uitgekom het.
            Collins was ‘n filosoof en beskermer van “die natuurlike godsdiens”. Hy was ‘n gegradueerde van Eton en King's Kolleges, Cambridge. Hy was ook ‘n gegradueerde in die regte aan The Middle Temple.
            Hoe groot is die Hemel? Dit moet allemintig groot wees as ons die sterre as ‘n soort maatband inspan. Wetenskaplikes het die uitspansel in melkweë opgedeel in ‘n poging om te probeer bepaal hoeveel sterre daar is.
            Klein melkweë het elk sowat 10 miljoen sterre. Die groot melkweë het sowat 10 triljoen sterre elk. Ons eie melkweg het sowat 200 biljoen sterre. En sterre of planete is in meeste gevalle groter as die planeet Aarde.
            As ons in ons eie melkweg van die een kant na die ander sou reis teen die spoed van lig, sou die reis 100 000 jaar duur, aldus NASA, die Ruimte-agentskap.
            En steeds weet die wetenskaplikes nie presies hoeveel sterre daar is nie want hulle ontdek steeds nuwe melkweë. Hoe groter en sterker die teleskope wat deur die mens vervaardig word, hoe groter word die heelal. Dis onpeilbaar.
            Hoe groot is die heelal dan? Al wat NASA kan antwoord is, “oneindig”.
            En hoe is groot God dan? Hy is onmeetbaar groot, maar let op, Hy is so groot: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.” Ps 147.4
            Christene glo, aan die hand van die Skrif, dat hulle, wanneer hulle die tydelike met die Ewige verwissel, Hemel toe gaan. Dit gaan wel gebeur, maar is daar plek vir almal, vra iemand.
            Aan die hand van die bogenoemde paar feite, sal al die gelowiges op aarde nooit die Hemel kan vul nie.
            Ons is veronderstel om saam met Jesus Christus in Hemelse plekke te sit, maar is dit waar ons is?
            “Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered — en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van Sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
            “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus (hoekom?) tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Efes. 2:4-10.
God het ‘n plan met elkeen van ons se lewens. Binne daardie plan word van elkeen van ons verwag om die Koninkryk te help bou.
Dit in kort is waarom jy en ek gebore is.
            Maar, elkeen wat gebore word, het ‘n vrye keuse: Om die pad na die Hemel te bewandel of op die breë weg na die afgrond te volg.
            Maak jou keuse!

Maandag 13 Februarie 2017

Komaan, tree in vir iemand


Image result for person praying

So 50 jaar gelede en vroeër kon mens in Kaapstad in veral Adderleystraat op die sypaadjie op ‘n stoel gaan sit terwyl ‘n skoenpoetser, jou skoene skoonmaak en blink vryf.
            Die pragtige verhaaal word vertel van 'n skoenpoetser  wat een dag in die straat 'n prokureur, wat hy geken het, se skoene skoonmaak. Terwyl hy met sorg die man se skoene blinkmaak vra hy: "Mr. Bartlett, het jy God lief?”
Prokureur Bartlett was 'n waardige persoon. Hy was nie 'n uigesproke Christen nie. Taamlik geskok en verergd antwoord hy: "Hoekom vra jy my dit?"
Die seun vertel van sy probleem. Hy en sy mense woon in 'n bouvallige gebou wat gesloop moet word, en die inwoners moet nou ander blyplek kry. Sy pa is oorlede, sy ma het nie vaste werk nie, sy ouma is verlam en sy enigste inkomste is om mense se skoene skoon te maak.
Hy vertel verder op sy  Kaapse manier van praat: "Ek wiet nie wat om te doen nie. Giste’ het ek twie manne hoo’ praat. Die iene seg vir’ie anner: God sal ienigiemand wat vir Hom lief is help as hulle vi’ Hom seg hulle is innie moeilikheid. Ek het toe gedink om vi’ iemand wat vir God lief is, te vra om vi’ my te bid.’
Die enigste raad wat die verbouereerde regsman kon gee, was dat hy maar net moet vra en hy sal wel iemand kry wat hom sal help. Hy gee die oudjie 'n pond en haas hom weg.
Maar na 'n dag van selfondersoek en verwyt, daag die prokureur die aand vir die eerste keer, wat die mense kon onthou, by die biduur op. Hy vertel openlik van sy gesprek met die skoenpoetsertjie.
Die predikant wat die biduur lei, vertel die voorval 'n paar aande later in 'n predikante byeenkoms. 'n Ander predikant daar weet toe van 'n jongman, wat deur die dieselfde vraag so ontwaak het, dat hy na die HERE toe gekom het.
Toe sê die derde leraar dat 'n man, wat geweet het hoe om die skoenpoetsertjie te antwoord, die seun na Jesus toe gelei het. Die predikante besluit om die saak verder te voer.
Die skoenpoetsertjie en sy gesin is met goeie woonplek en versorging gehelp en hulle het vir die seun gereël om behoorlik skool toe te gaan, waar hy soveel belofte getoon het, dat 'n prokureur hom onder sy sorg geneem het om as regsgeleerde opgelei te word.
Hy het 'n bekwame en simpatieke regsman en mentor van die jong skoenpoetsertjie geword. Die skoenpoetsertjie het 'n toegewyde Gelowige geword, omdat hy iemand raakgeloop het wat vir hom 'n woord by die Hemelse Vader kon doen.
God se werke in ons lewens is breed en ryk. Ons moet net by God uitkom met ons nood.
            “Moenie bang wees nie klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die Koninkryk aan julle te gee." Luk 12: 32
“Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die Ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en (ook) by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.” Jes 57:15
Oral is moontlikhede om verlore siele na Jesus toe te bring. Wees dag en nag op die uitkyk vir hulle.

Donderdag 09 Februarie 2017

Staan op en Loop


Image result for kruis van Jesus

Die wêreld vlug voor ‘n vernietigende tornado wat dood en verwoesting saai weens die anti-Christiese magte wat aan die werk is, ondermeer deur middel van toenemende vervolging van Christene, bedrog, misdaad, terrorisme, moord, verkragtimng, mensehandel, maar veral magsbeheptheid.
            Die magstryd in die wêreld is soos ‘n dodelike virus wat mense, stamme en volke vernietig. Die meeste mense dryf ankerloos rond want hulle het toegelaat dat hulle deel van die malle maalstroom word.
            Magte buite hulle beheer dryf hulle en hulle is magteloos om iets daaraan te doen.
            Sommige bid vir ‘n magtige geestelike herlewing om die dinge wat oor die aarde kom te kan ontvlug. Watter soort herlewing word bedoel?
            Wat nodig is, is ‘n herlewing gebaseer op Bybelse lering en waarheid, waar mense sal besef hulle behoort in die eerste plek aan Christus en aanbid in die tweede plek toevallig by een of ander gemeente – dat dit nie om kerk gaan nie maar om eenheid in Christus. Joh 17:22
            Voor die troon van God sal nie kerke staan nie, maar Wedergeborenes uit alle nasies, stamme, volke en tale. Openb. 7:9. Herlewing is net moontlik wanneer ons verby kerk- en kultuurgrense mekaar as God se volk aanvaar – wanneer ons kan raaksien dat die Wet vervolmaak word in die Groot Gebod van Liefde. Jak 2:8
            Herlewing word moontlik wanneer ons besef dat die Evangelie van Jesus Christus ‘n nuwe bedeling ingelui het, ook vir die heiden (Matt. 8) waar Christus onder meer ook die stelling maak dat mense nie die Ewige Lewe kan beërwe omdat hulle van Abraham is nie, maar as gevolg van Geloof.
            Herlewing word moontlik wanneer ons volgens Matt. 12:18-45 besef dat as ons, soos die mense van Ninevé, gered kan word as ons aan die Jona-boodskappe van vandag gehoor gee.
            Herlewing word moontlik wanneer ons besef dat ons gebrek het aan krag uit die hoogte. Luk. 24:49
            Dit was Christus wat gebid het: Vader, dat hulle een mag wees soos wat Ek en U een is. Joh. 17:22
            Ons sal noodgedwonge die dinge wat die eenheid onder ons verbreek en in die ban moet doen.
            Pinkster het Jerusalem geskud. Die herlewing  100 jaar gelede het die mensdom geskud. Die herlewing in die sewentiger jare het die wêreld ook geskud maar in ‘n mindere mate.
            Die herlewing van die sewentiger jare is doodgedruk deurdat mense dieselfde fout as Eva begaan het deur van die Boom van Kennis te eet, in plaas van die Boom van die Lewe.
            Kerke wou die herlewing nie aanvaar nie en baie het lidmate verloor en verloor steeds lidmate. Vandag is die tendens gemeenskapskerke en huiskerke.  Dit maak ook sin want mens gooi nie nuwe wyn in ou leersakke nie. Lukas 5:37
            Terwyl Christene in toenemende maat bid om ‘n nuwe wêreldwye herlewing, is diegene wat van die Boom van Kennis eet, besig om in die pad van so ‘n broodnodige herlewing te staan. Hulle doen dit met nuwe ideologieë oor ‘n sogenaamde historiese Christus waarin tot Jesus se maagdelike geboorte betwyfel word.
            Al die tekens is daar dat die kerk (Kennis) en die Eklesia (Lewe) se weë besig is om te skei. Die misleiding is besig om sy kringloop te voltooi. Die Waarheid haal die leuen in.
            Gewone mense begin besef dat die apostels nooit teologiese kursusse gevolg het nie, nooit komiteevergaderings bygewoon het nie, nooit boeke oor kerkgroei gelees het nie, nee, hulle was bloot geïnspireer deur die Heilige Gees en het oorgeloop van liefde, ‘n liefde wat die onmoontlike moontlik gemaak het – verlossing en genesing.
            Moses het na God geluister. As hy ‘n komiteevergadering gehou het was die Israeliete seker vandag nog in die woestyn.
            Met Abraham gaan dit goed. Hy is vooruitstrewend en het oorvloediglik van alles. Dan kom God se opdrag: Pak op en trek deur die woestyn. Langs die pad sal Ek jou aantoon waarheen jy moet gaan.
            Abraham het alle rede in die wêreld gehad om Van die Boom van Kennis  aan te wend en te sê: Dis tog ligsinnig. Hier woon ek met derduisende stuks groot- en kleinvee, knegte, hulle vroue en kinders, my eie vroue en kinders, dit gaan goed met ons, God het ons inderdaad geseën, hoe sal God dan nou wil vra dat ek hierdie vrugbare grond moet verlaat en deur ‘n woestyn moet trek?
            Maar Abraham eet van die Boom van die Lewe. Hy pak op en trek. Hy weet nie waarheen hy trek nie, maar hy weet saam met Wie hy trek!
            Herlewing word moontlik wanneer ons besef dat die eerste stap na vreugde ‘n pleidooi om hulp is, ‘n erkenning van morele armoede, van innerlike gebrek.
            Dit was ook die kenmerk van die herlewing 100 jaar gelede toe mense hardop na God geroep het, gepleit het om hulp, hulle sonde en morele armoede en innerlike gebrek bely het. Mense het geestelike naak voor God gestaan en Hy het Sy liefde en krag mildelik oor almal uitgestort.
            God se vreugde word gebore in jou erkenning van morele armoede en nie op grond van jou roem en prestasie nie. Laat staan jou verwaandheid, verklaar jou onmag. Is jy nie al moeg vir die stryd teen magteloosheid nie, die selfregverdiging en verdigsels nie?
            Nie net skei kerk- en kultuurgrense ons nie, maar ons fisiese heinings om ons dorps- en stadserwe speel net so ‘n groot rol. Ons weet nie eers wie langs ons woon nie, ook nie wie agter of oorkant die straat van ons woon nie.
            Ons sluit onsself af in kokonne. ‘n Broer vertel dat die mense in sy straat hom nie groet nie omdat hy nie aan hulle kerk behoort nie.
            Ons sit in tronke van hoogmoed vol skeppings van ‘n eie self.
            Die verwoestende tornado wat oor die aarde heen opsteek, is dieselfde as die storm die nag op die See van Galilea. Was jy al in ‘n skuit deur hoë golwe, reën en ‘n stormwind rondgeslinger en dit boonop in die nag, boonop sonder dat jy ‘n idee van rigting het? Ek was.
            Geen mens het ons ‘n kans op oorlewing gegee nie. Niemand kon ons help nie. Net God kon ons red.
            As jy jou vandag in die stormsee van die lewe bevind, weet dit dat God  gereed staan om jou te red.
            As ek dit nie geglo het nie, sou ek dit nie geskryf het nie, want ek het persoonlike ervaring van beide: Die werklike stormsee in die donker nag, vol vrees oor die verraderlikheid van die see, asook die storm op die lewensee.
            Herlewing word moontlik wanneer jy onder meer al Paulus en Petrus se sendbriewe lees. Dit is aan my en jou ook gerig. Dit is die olie waarmee ons, ons lampe moet volmaak! Het die werklikheidsbesef nog nooit tot jou deurgedring dat jou lamp noodwendig vol olie moet wees nie?
            Luister na ons mense by die bymekaarkomplekke: Hulle is gehawend, hulle drome is verpletter, hulle is beswaard oor die toekoms en of daar ‘n toekoms is. Hulle sanik oor al die gebreekte beloftes. Fortuine wat hulle sou maak in die dobbelhole en in die piramide-skemas, het niks van gekom nie.  Hulle het net geld verloor.
            Hulle is griefdraers en moddergooiers wat wrewelpartytjies hou. Die een druk die ander dieper die moeras van moedeloosheid binne. Hulle is verslaaf aan bitterheid, woede, emosies en wanpersepsies. Onbewustelik het dit hulle dryfkrag geword. Dit is hulle oorlewingstonikum.
Niemand het enige sekerheid oor niks nie. Twyfel het een van hulle afgode geword.
Hulle kla oor hulle egskeidings, hulle spog oor hulle houvroue. Oor hulle kinders se agteruitgang wil hulle liewer nie praat nie. Steeds verlang hulle na nuwe leiers, na roem, na besittings, na passie, na avontuur, na romanses – alles net poele brakwater.
Hulle dink dat hierdie waters hulle dors kan les omdat jy hulle nie vertel van die Lewende Waters van die Godgegewe Evangelie nie!
Eseg. 3:18-19 lees: “As Ek aan die Goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy (Christen gelowige) waarsku hom nie en spreek nie om die Goddelose vir sy Goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die Goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar, sy bloed sal Ek van jou hand eis!
            “Maar as jy die Goddelose waarsku, en hy hom nie van sy Goddelose
weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy, jy het jou
siel gered!”
            Getuig, getuig, getuig, waarsku die Goddelose en red jou eie siel! Wees
soos Paulus wat  in Rom 1:16 sê: “Want ek skaam my nie oor die Evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen
wat glo.” Daardie redding beteken vrymaking, veiligheid en genesing.
            Paulus sê: “…vir elkeen wat glo.” Wat beteken dit in die praktyk?
Eenvoudig die volgende: Petrus kom by die man by die poort en sê aan die
verlamde  “… staan op en loop.” As die man nie probeer opstaan het nie
sou hy nooit geloop het nie.
            Kan jy opstaan en loop? Watter bande bind jou dan dat jy bly sit? As jy bly sit gaan jy vir seker vergaan. As jy opstaan, stap jy ‘n nuwe lewe binne en God gaan jou en jou getuienis gebruik!
            As jy opstaan gaan die kreupeles loop, die dowes hoor, die blindes sien, gaan mense innerlike genesing ontvang, gaan siele gered word, gaan die Koninkryk gebou word.
            Waarom staan jy nie op nie?
            Komaan, sê soos Dawid – toe hy nog ‘n (eenvoudige) skaapwagter was:
Ek kan nie, maar God kan. Hy gee my nuwe krag. Met my God spring ek oor ‘n muur – ja, oor die mure van twyfel, van frustrasie, van kerke, van kulture, van ellende!
            God wag op jou reaksie!

Woensdag 08 Februarie 2017

Vertrou op dit wat God gee


Image result for Dawid in die Bybel


En Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord, en toe hy moeite doen om te loop, omdat hy dit nooit probeer het nie, sê Dawid vir Saul:
Ek kan nie hierin  loop nie, want ek het dit nooit probeer nie. En Dawid het dit uitgetrek. 1 Sam. 17:39

Dawid was die enigste persoon wat bereid was om teen Goliat te veg. Al die ander was te bang, selfs Koning Saul.
            Maar toe Dawid hom gereed maak vir die geveg wou almal hom skielik raad gee en vertel hoe om dit te doen.
Watse raad sou hulle hom tog kon gee? Hulle was die mense wat weggekruip het weens vrees.
As Dawid hulle raad gevolg het sou hy Goliat nooit verslaan het nie.  
            Koning Saul sê byvoorbeeld vir Dawid om sy gevegsmondering aan te trek en homself met die koning se swaard te omgord. Alhoewel dit logies geklink het was daar nie ‘n manier wat die kleine Dawid met die swaar mondering oor die weg sou kom nie.
            Dawid trek die spulletjie uit en sê hy sal nooit so regkom nie want hy het nog nooit sulke klere en ‘n swaard gedra nie.
            Dis ironies dat Saul, net soos al sy manskappe, in sy eie oorlogsgewaad  staan en bewe het van vrees, so watter nut sou die klere nou iemand anders baat?
            Dawid het teenwoordigheid van gees behou en besef dat God sy bron is en dat as hy op enigiets anders sou vertrou, dit vir hom ‘n hindernis op sy weg sou wees.
            Saul was die langste man in Israel (1 Sam. 1:23) en Dawid nog ‘n seun. Dit lei in elk geval dus geen twyfel dat Saul se klere nooit vir Dawid sou pas nie.  Dit sou net in Dawid se pad wees.
Dawid se vertroue was in die HERE en nie in Saul se gevegsmondering nie.
Onthou, ander mense mag dalk goed bedoel met hulle raad, maar ons het elkeen nodig om ons eie wapens te hê. Ons het veral nie nodig om raad te aanvaar van mense wat niks doen nie.
Moet nooit toelaat dat die man wat sê dit kan nie gedoen word nie, lol met die man wat dit reeds doen nie!
Mens wat niks doen, doen nie niks nie. Hulle is in ander mense se pad!
Wat het God vir jou gedoen? Wat het in die verlede vir jou gewerk? Haal daardie gawes en talente uit en begin woeker.  Dit sal beslis weer werk.
Plaas jou vertroue in dit wat God jou (reeds) gegee het!