Wys tans plasings met die etiket Die Enige God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die Enige God. Wys alle plasings

Maandag 20 Februarie 2017

Soos Jesus


 


In die St. Peter's Church in Cologne hang twee eenderse skilderye van Petrus se kruisiging.


Ons weet uit oorlewering Petrus het gevra om onderstebo gekruisig te word, omdat hy homself onwaardig geag het om soos Christus, in 'n regop posisie, aan die kruis te hang.
Die bestaan van die tweede skildery, wat 'n kopie van die eerste een is, word deur Herbert Lockyer in The Heritage of Saints soos volg verklaar: In die begin van die 19e eeu het Napoleon, die stad Cologne, in sy seevierende optog geplunder.
In die proses van sy plundertog het Napoleon die oorspronklike skildery van Petrus se kruisiging saamgeneem. Nadat die kerk weer herstel is, het dieselfde kunstenaar, wat die eerste Petrus skildery geskilder het, weer 'n skildery, so na as moontlik aan die eerste een, geskilder.
Die oorspronklike skildery is later gevind en aan die kerk terugbesorg en langs die kopie van die skildery opgehang. Kunskenners sê daar is so min verskil tussen die twee skilderye dat die oorspronklike nie van die kopie onderskei kan word nie.
Herbert Lockyer maak uit hierdie insident 'n geestelike toepassing. "Jesus is in die Hemel, maar die Heilige Gees is hier by ons en Hy is die meester kunstenaar van die oorspronklike skildery. Dan, in die afwesigheid van die eerste skildery, skildery Jesus sy beeld op die onwaardige doek van my en jou lewe.”
            God se bedoeling met Sy kinders op aarde, die gelowiges, is om die Here Jesus Christus se beelddraers te wees: "…dié wat Hom lief het, dié wat volgens Sy besluit geroep is… het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun…" Rom 8:28,29
Uit onsself het ons nie krag om Jesus se voorbeeld te volg en deur ons lewe, Hom aan die wêreld, bekend te maak nie.
"Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle." Rom 8:8,9
Deur die Heilige Gees woon Christus in ons en afhangende van ons verhouding en gemeenskap met Hom, kleur die Heilige Gees, soos 'n kunsskilder, ons lewe in met Christus se lewe en dit verskyn in ons gedrag, ons houding, ons woorde, ons gesindhede.
            "... die Vader...sal vir julle... stuur... die Gees van die waarheid… Hy sal by julle bly en in julle wees..." Joh 14:16,17