Sondag 10 Januarie 2016

Die vereelte hande…


Image result for oumens hande 


‘n Jong man het aansoek gedoen vir n bestuurspos by ‘n groot maatskappy. Hy het die eerste onderhoud suksesvol afgelê, en daar was ‘n opvolg onderhoud gereël sodat hy die besturende direkteur van die maatskappy kon ontmoet.

Deur sy CV het die direkteur gesien dan die jong man se akademiese prestasies van uitmuntende gehalte was.

Die direkteur het na die jong man gekyk en vir hom gevra: "Het jy enige beurse gehad waarmee jy gestudeer het?" en die jong man het geantwoord : "Nee"

"Was dit jou vader wat al jou studie geld betaal het"

"Nee," se die jong man weer, "My vader is oorlede toe ek een jaar oud was, dit was my moeder wat vir al my studies betaal het."

" Waar het jou moeder gewerk?"

"My moeder het ander mense se klere gewas "

Die direkteur vra toe die jong man om sy hande vir hom te wys. Die jong man het sy hande uitgesteek en verbaas na die direkteur gekyk.

Wat sou sy hande met die onderhoud te doen he. Die direkteur het na die jong man se hande gekyk, hulle was glad en perfek versorg.

" Het jy ooit jou moeder gehelp om die wasgoed te was?"

"Nooit, my moeder wou altyd he ek moet lees, en studeer, en buitendien kan my moeder wasgoed baie vinniger en skoner was as wat ek ooit kon droom om dit te doen."

Die direkteur sê toe vir die jong man, "Ek wil hê jy moet huis toe gaan vandag, en dan moet jy jou moeder se hande met room smeer, en dan sien ek jou weer moreoggend hier."

Die jong man het gevoel hy kan dalk die werk kry, en hy is huis toe om vir sy moeder te vertel van die onderhoud. Toe hy later by haar sit, sê hy vir sy moeder hy wil graag haar hande room smeer. Vir die moeder was dit n snaakse versoek, maar met gemengde gevoelens het sy die buisie room na hom toe uitgehou, en toe haar hande uitgesteek na hom
toe.

Die jong man het sy moeder se hande in syne geneem, en toe begin die trane oor haar hande rol, vir die eerste keer in sy lewe het hy gesien hoe vol plooie, en eelte sy moeder se hande was. Plek-plek was die hande oopgebars, en het sy ineengetrek toe hy dit saggies met room begin invryf.

Dit was die eerste keer dat die jong man besef het dat daardie paar hande wat soveel bondels wasgoed gewas het, vir sy studiegeld betaal het. In ysige winter koue, en stomende somer hitte, het sy onverpoosd gewerk. Daardie vereelte hande het sy toekoms rooskleurig geverf. Daardie stukkende hande het gesorg vir n uitstekende geleerdheid.

Na hy sy moeder se hande goed gesmeer het, het hy die volgende bondel wasgoed opgetel en stil-stil daarmee verdwyn om dit vir haar te gaan was.

Daardie aand het moeder en seun tot baie laat gesels.

Die volgende dag het die jong man weer by die direkteur aangemeld vir sy onderhoud.

Die direkteur het gesien die trane sit nog baie vlak in die jong man se oë. "Het jy toe gedoen wat ek vir jou gevra het?"

"Ja, ek het my moeder se hande met room gevryf, en toe het ek die res van die wasgoed vir haar gewas. Ek het nou eers besef dat ek nooit waardering gehad het, vir dit was sy al die jare vir my gedoen het nie. Sonder haar sou ek nie vandag vir hierdie pos kon aansoek doen nie. En toe ek gister daardie vreeslike bondel wasgoed was, toe voel dit asof my skouers wil afskeur. Toe besef ek eers hoe groot haar opoffering was al die jare.

"Die pos is joune, eers as iemand waardering en dankbaarheid kan betoon, is hy gereed vir so ‘n pos.

Kyk vandag om jou rond, daar is baie mense wat baie opgeoffer het in die lewe om ons te gee wat ons vandag het.

En dan is daar n Hemelse Vader wat alles opgeoffer het, sodat ek en jy nie nodig het om gestraf te word vir al ons verkeerde dade nie. Kyk na Sy Hande vandag, Hulle dra die merke van hoe Hy vir ons gely het, hoe Sy liefde ons straf gedra het.

Het ons al vir Hom die nodige dank en waardering gewys vir die merke in Sy Hande?

Kom ons maak hierdie dag anders. Kom ons wys waardering aan al ons geliefdes, en kom ons wys dankbaarheid en waardering aan ons Hemelse Vader wat so mooi na ons kyk. Sonder Sy opoffering sou ons lewens baie anders verloop het.

“As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.” Jak 2:8 – Sjibbolet

Indien u geestelike berading of gebed nodig het kontak my op belindapaar@gmail.com

Woensdag 06 Januarie 2016

Ons, ek en jy, kan die uitmergelende droogte breek...


Image result for rain


Die huidige droogte is uitmergelend en daar is geen teken wanneer die droogte gebreek gaan word nie. Mense raak mismoedig, selfs depressief, sommige pleeg selfs selfmoord. Oral kla, murmureer mense oor die ondraaglike hitte en droogte.   “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.
“Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.” 1 Kor 10-12
            Ten spyte van alles moet ons soos Habakuk jubel.
            “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.
            “Die HERE God is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Hab 17-19
            Ten spyte van wat ook al, jubel Habakuk. Hy was altyd bly.
            Altyd beteken presies wat dit sê soos in: Wees altyd bly.
Dog, hoe is mens bly en dankbaar wanneer daar fout is, wanneer dinge verkeerd loop, wanneer jy onrustig is, of seer het of hartseer is?
            Eenvoudig, ons is bly omdat ons weet dat wat ons omstandighede ook al is, die Almagtige God, ons God, het reeds die antwoord.
            “Wees altyddeur bly.
            “Bid sonder ophou.
            “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” 1 Thes 5:16-18
            Dalk moet alle gemeentes die preke vir ‘n tyd lank op Sondae stop en die hele diens gebruik in lofprysinge, aanbidding en gebed. Waar twe of drie in Sy naam vergader, daar is Hy. Verwelkom hom.
            Onthou, God besit alles, elke liewe ding. Daar is niks wat ons Hom kan gee as net lofprysinge en aanbidding nie. Doen dit!
            ‘n Biddag vir reën baat nie. Dan reën dit en dan gaan almal weer hulle eie weg. Onlangs was daar ‘n biddag vir reën. Steeds reën dit nie, maar pleks van jubel en blydskap, duur die murmureringe voort.
            Paulus had dit nooit maklik nie. Die Here stuur hom na Macedonië.
Met sy aankoms is daar ondervind hulle vriendelikheid, gasvryheid en siele word gered en gedoop.
            Al die tekens is daar om te bevestig ja, die HERE het hom gestuur.
            Die volgende dag open die poorte van die hel, of so het dit gelyk.
Hulle klere word van hul lywe afgeskeur en hulle word met stokke geslaan, omdat hulle dit gewaag het om Jesus Christus te verkondig.
Hulle word in die binneste gevangenis gewerp, ‘n bykomende gevangenis in die middel van die gewone gevangenis met hoër mure. Hulle voete is in ‘n blok vasgemaak. Niemand kom daaruit los nie.
Daar sit hulle in duisternis, bebloed, naak, in pyn en hulle kon begin murmureer het met smartvraat vrae soos: “Hoekom het die HERE dit toegelaat, ens.?”
            Dink maar of jy ooit in so ‘n benarde posisie was en dit boonop onskuldig!    Middernag, bebloed en in pyn, begin hulle lofliedere tot eer van God sing. So hard dat al die gevangenes daarna luister. Paulus en Silas het besef God is groter as die probleem en pleks van te kla en te murmureer oor die bloed en die koue en die pyn, kyk hulle by dit alles verby, reguit na God.
            “En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.
“En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.
“Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.
“En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.
“En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?
“Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
“En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.
“En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.
“Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.” Hand 16:26-32
Paulus en Silas het in groot blydskap die lofliedere begin sing omdat hulle geweet het, alhoewel hulle diep in die verknorsing was, had God reeds die antwoord.
Verstaan jy nou wat dit beteken om altyddeur bly te wees, altyd te jubel, wat jou omstandighede ook al is?
Die HERE wou die hele tronk red, vanaf die hoof van die tronk tot by die grootste krimineel. Die HERE het Paulus wel na Macedonië gestuur, maar Paulus sou nie die tronk besoek nie. Toe plaas die HERE vir hom en Silas in die tronk.
Aan die een kant is die hele tronk gered en aan die anderkant groei Paulus en Silas in geestelike wasdom.
En dan staan daar ook: “Bid sonder ophou.
Jesus sê: “Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang (hoekom?), sodat julle blydskap volkome kan wees.” Joh 16:24
            Ons is veronderstel om in geestelike wasdom te groei. Paulus kon reeds die geestelike voordeel begryp om dankbaar te wees wanneer mens seer het.
            Lofliedere en gebede neem die fokus van jouself af en plaas dit waar dit hoort, op Jesus Christus.
            Paulus moes telkens storms op see aandurf ter wille van die Evangelie. Hy weet hoe dit voel om in ‘n stormsee met ‘n skip te strand. Maar hy kon baie vermag omdat hy so swaar op die Heilige Gees gesteun het.
            Hy het besef sy eie kragte gaan hom nie dra nie, maar die Heilige Gees kan en sal.
            So moet ons ook groei in geestelike wasdom, situasies kan opsom (gawe van onderskeiding) en met blydskap die stryd takel. Hou op met worstel en gee oor en vertrou op die Heilige Gees. Dan help God jou om die onmoontlike reg te kry. Dan behou jy jou blydskap in pyn en hartseer.
            Paulus en Silas was in baie groot moeilikheid, hulle kon nie sien hoe hulle ooit daaruit sou kom nie, maar hulle het geweet God het altyd ‘n antwoord.
Uiteindelik weet hulle, hulle moes daardeur sodat ‘n hele tronk en die personeel en selfs die hoof van die tronk en sy huisgesig, gered en gedoop kon word.
Ons kan die droogte breek as ons almal elke dag die lofliedere tot God sing en bid.
Let op, Jesus het sy lewe vir jou afgelê en oorwin. Wanneer lê jy jou lewe vir hom af?
Wanneer jy in pyn en verknorsing is, bid en bid en bid omdat jy weet God het die antwoord. Wees bly en bly en bly want jy weet God het die antwoord!
Moenie fokus op die grootheid van die probleem nie, fokus op die grootheid van God. Maak hierdie sin jou slagspreuk: My God is ver groter as die probleem!
My God is groiter as die weervoorspellings. Moenie eers daarna kyk nie. Hou die oë op Jesus.
            Jy sit al twee jaar sonder werk.  Jy het kanker.  Jy is ‘n diabeet.
Dan verbly jy jou... nie in jou werkloosheid nie, nie vir die kanker nie, nie vir die Diabetes nie... jy verbly jou in jou God wat die antwoord het!
Een van God se doelwitte met my en jou, is om te leer dat ons ten volle van Hom afhanklik moet wees.
Luister weer: Jy verbly jou nie in jou probleme nie, jy verbly jou in God se antwoord op die probleem. Jy smeek nie, jy kla nie, jy vertel vir niemand hoe swaar jy kry nie, jy sms niks, jy verbly jou in God se antwoord want jy weet Hy het die antwoord.
Keer die hele Facebook om in lofliedere en aanbidding...
Jy lewe bo en nie onder die omstandighede nie. Jy staan op oorwinningsgrond!
Die verraderlike see suig skrywer een keer diep in die donker waters in. Ek haal nie meer asem nie. My mond is oop en seewater vloei in en uit my. Ek besef die einde is hier. Ek sien my hele lewe voor my afspeel. Dis verby. Ek kan nie bid nie, nie praat nie, nie niks nie.
Dan gee ek oor en ek dink hoe wonderlik dit is om te sterf. Die wonderlike kalmte en heerlikheid wat oor mens spoel.
Dan kom die Engele en haal my uit daai donker dieptes uit... 56 jaar gelede... want die HERE had ‘n belangrike taak vir my.
Jare daarna, een donker nag, gebeur presies dieselfde, en weer haal die HERE my daar uit.
Nog later, een donker nag, is ek in ‘n skuit in die reën op die oop stormsee.  Weer red die HERE my.
En... ek was nie eers Wedergebore nie. Ek het myself net oorgegee aan die Ewigheid. In daardie stadium is jy ‘n niks en kan jy niks meer doen nie. Jy veg vir jou lewe en dan besef jy... jy kan nie meer nie.
Kort daarna was daar ‘n Damaskuspad ondervinding. My ouma, wat dig aan Jesus se sy gewandel het, had haar lysie vir wie sy dag en nag die HERE geloof het dat almal gered wou word. Ouma’s julle het ‘n vername rol om te speel.
            Vandag, as Gelowige, is dit veel makliker. Ek is altyd bly want ek weet, wat ook al oor my pad kom, God het reeds die antwoord, soos onlangs weer.
            Moenie ‘n smartvraat wees nie, moenie dat emosie die oorhand kry nie, laat liewer die blydskap seëvier.
            Jy bekommer jou oor jou kind wat die pad byster is. Gee hom oor in die hande van die HERE en wees bly, bly, bly. Jubel.
            Jou kommer, en vrees, emosies, twyfel en depressie gaan niks oplos nie. Wees altyd bly. Bid sonder ophou.
            Jesus sê ‘n paar keer vir sy eie dissipels: Moenie vrees nie, glo net.
            Jy het as Gelowige mag oor alle dinge. Gebed is die magtigste wapen in die wêreld, dis soos ‘n ballistiese missiel.  Niks kan standhou voor gebed nie.
            Daar is onberekenbare krag in God se Woord.
Wanneer dit goed gaan is ons mos minder intiem met die HERE (swak gewoonte), maar wanneer die “sleg” gaan, dan is Hy skielik ons beste Vriend.
Vervang die plakkers op jou yskas met die Lewende Woord: Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar. Sing lofliedere. Speel die DVD’s met lofliedere heeldag.
Doen soos die HERE sê: Wees altyd bly. – Sjibbolet

Sondag 03 Januarie 2016

‘Wys my hoe ek oor die rivier kan kom’ J.R. Gschwend


Image result for river in the mountains


KORT na my aankoms in Lesotho, die land met van die hoogste berge in Suid-Afrika, kom daar eendag ‘n Basotho te perd by my aan.
          Hy het gesoek na ‘n witman wat vir sy vader sou vertel “hoe hy oor die rivier kon kom.” Teen hierdie tyd het ek uit eie ondervinding al besef hoe moeilik dit is om ‘n rivier sonder ‘n brug of ‘n pont oor te steek.
          Tog het ek terselfdertyd besef dat hier geen sprake was van ‘n aardse rivier nie maar, dat dit stellig GOD was wat met die Basotho se vader gepraat het.
          Om hierdie rede het ek my perd opgesaal en saam met die Basotho na die anderkant van die berg gery.
Toe my gids uiteindelik voor ‘n klein kleihut stilhou en sê: “Hier woon my vader,” het ek van my perd afgeklim en die hut binne gegaan.
          Voor my het die swart gesig van ‘n ou man met ‘n sneeuwit hare gesien, asook sy vrou, net so oud soos hy, langs hom. Skaars het ek op die kleivloer plaasgeneem of die ou man het begin praat.
          “Nou weet ek dat ek reg gedroom het. Die witman wat vir my moet sê hoe ek oor die rivier kan kom, het gekom.”
          Nadat ek hom gevra het wat hy daarby bedoel het hy my begin vertel hoe hy die vorige nag gedroom het dat hy op ‘n breë pad, saam met medereisigers loop. Sommige was dronk, ander het baklei, ander het spelende en dansend ‘n lasterlike lewe gelei.
          “Ek het gesien hoe hierdie breë pad na ‘n verskriklike afgrond lei. Ek was moeg vir hierdie lewe en het gewens om tog eenmaal uit die ellende te kom.
          “Toe sien ek ‘n diep vallei waarin ‘n breë stroom vloei. Oorkant die rivier het ‘n skitterende stad gestaan soos wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie.
          “As ek maar daardie stad kon bereik, het ek gedink, sou ek tevrede wees en rus vir my siel vind.
          “Terwyl ek wens dat ek na daardie stad kon vlug, sien ek skielik ‘n smal voetpaadjie wat uit die breë pad uitdraai. Dadelik het ek daardie paadjie gevolg, af na die groot rivier.
          “Tot my teleurstelling moes ek ontdek dat dit onmoontlik was om oor die rivier te kom want, daar was geen brug of skuit of enige ander middel om my oor hierdie diep en donker stroom te neem nie.
          “Met traangevulde oë en ‘n diepe droefheid in my, het ek van hierdie verruklike stad voor my weggedraai om na die pad van verderf terug te keer.
          “Skielik het daar ‘n Engel verskyn en aan my gesê: ‘Gaan na die anderkant van die berg en daar sal jy ‘n witman kry wat vir jou sal vertel hoe jy oor die rivier kan kom.’
          “Ek het uit my slaap wakker geword en daar ek te swak was om self te gaan, het ek my seun gestuur om hierdie witman te soek en hom na my te bring sodat hy my kan vertel hoe ek oor die groot rivier kan kom.
          “Nou het die witman gekom en sal hy vir my vertel hoe ek oor die rivier kan kom.”
          Hoe heerlik was dit nie vir my om hom van die Jesus Christus, die Seun van GOD, te vertel nie. Van Hom wat uit die Hemel neergedaal het en gesê het: “Ek is die weg, die waarheid en die Ewige Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Ek is die deur, as iemand deur My ingaan sal hy gered word, en hy sal uitgaan en ingaan en weiding vind.”
          Ek het die ou man so eenvoudig moontlik vertel hoe Jesus die Seun van GOD, gekom het om vir ons deur Sy gestorte bloed die weg na die Hemel oop te maak; hoe Hy ons ook waarsku teen die breë pad wat tot die ewige verderf lei en dat Hy gesê het dat die smal pad tot die Ewige Lewe lei.
          Terwyl ek myself afvra hoeveel die ou man van alles kon begryp, kniel hy en sy vrou meteens neer en sê: “Dit is genoeg, ek sien die pad. Deur die bloed van Jesus het ek toegang tot GOD.”
          Saam met sy vrou gee hy hom toe oor aan die HERE, vind volle vergifnis en reiniging van hulle sondes en smaak hulle die vrede van GOD in hulle harte. Later is hy en sy vrou ook gedoop.
          Sowat ses maande later het ek ‘n lang sendingreis na die hoë berge onderneem. My weg het langs die ouman se kraaltjie verbygegaan.
Ons het daar by die blymoedige ouman en sy vrou – so oud, en tog sulke jong Christene – ‘n diens gehou, saam met hulle gebid en hulle op hul pelgrimsreis aangemoedig.
By die afskeid omklem hy my hande met albei sy hande, en terwyl die trane oor sy wange rol, sê hy: “Ek bedank u nogmaals uit die diepte van my hart, dat u gekom het om ons te wys hoe om oor die rivier te kom. In die geloof het ek reeds oorgegaan, maar weldra sal ek geheel-en-al oorgaan.”
Toe ek van daardie reis af terugkom, het ek verneem dat hy ‘n paar dae tevore met groot vreugde die Ewigheid ingegaan het na die heerlike stad, die Nuwe Jerusalem, waarna hy so uitgesien het.
          Vir my was hierdie ondervinding ‘n blywende aansporing om sendingwerk nie as ‘n swaar plig te beskou nie, maar as die grootste voorreg wat aan ons, en nie aan die Engele nie, geskenk is.
Soos in die geval van Cornelius, was dit nie ‘n Engel wat aan hom moes sê hoe om gered te word nie, maar ‘n man met die naam Petrus. So kon die Engel ook nie vir hierdie ou swartman sê hoe om oor die rivier te gaan nie, maar ‘n man, in hierdie geval ekself.
Die voorreg is aan ons as geredde mensekinders gegee om die Evangelie aan alle mensewesens te verkondig. Dit is nie ‘n swaar taak nie, maar ‘n dure plig, ‘n opdrag: “Gee júlle, vir hulle iets om te eet.”
Terselfdertyd is dit ook ‘n verantwoordelikheid om die Evangelie te verkondig. As ons dit nie doen nie, kan die siele ons by die oordeelsdag beskuldig dat ons hulle nie die blye nuus gebring het nie. – JR Gschwend het jare gelede na Suid-Afrika gekom as lid van die Switserse Pinstersending. Hy het later vanaf Lesotho na Pretoria verhuis waar hy  All Nations Gospel Publishing begin het.

Vrydag 01 Januarie 2016

1 Januarie 2016


Kers Versiering











Maak vandag, 'n dag in jou lewe vir nuwe dinge

Dinge van hoop en liefde en oorwinning in Jesus’ Naam.

Jou verlede met sy teleurstellings, foute, verkeerde keuses, ontnugtering en hartseer moet nou plek maak vir lente in jou lewe. Alles moet nuut word.

Sit al jou ou bagasie in 'n sak, in 'n groot sak, pak daai sak self, noem elke ding by sy naam wat jy daar in sit, moenie iets vergeet nie en sit dit vandag, sommer nou, by Jesus se voete. En sê vir HOM, "Ek is nou klaar met my verlede, my hartseer, my tekortkominge, my....... Dankie HERE dat U vir my voorspoed beplan en ek vat dit. En ek dank U daarvoor. En as ek enige tyd weer terug kyk na my ou sak, herinner my asseblief dat ek klaar is daarmee."

"En ek het 'n nuwe Hemel en nuwe Aarde gesien...die Heilige stad, die Nuwe Jerusalem... en HY(die HERE) sal by hulle (ons) woon... En God sal al die trane van hulle (julle) oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie."

"Kyk, Ek maak alles nuut."

"Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die Lewe, verniet. Hy sal oorwin, sal alles beërwe; en ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun, ‘n dogter, wees." Openb 21:1-7

Maak vandag, die eerste dag van die res van jou lewe, pak daai sak en moenie weer terugkyk nie.

Hou vas aan God se belofte vir jou lewe: Net Sy Goedheid en Guns volg jou in 2016.


Kers Versiering


Saterdag 19 Desember 2015

Jou Geheime is reeds Bekend!


Image result for Person looking sad


Die groot Hartseer in die Feestyd

In Suid-Afrika is daar hartseer, sielesmart, droefheid, verdriet… omdat die biologiese ouers van aanneemkinders, weier om met hul biologiese kinders versoen te raak.
Daar is ook gevalle waar aanneemkinders nie met hul biologiese ouers versoen wil raak nie. Hulle haat meesal hul biologiese moeder en meen dat hulle weggegooi is, sonder om hulself te vergewis van die omstandighede van destyds.
In baie gevalle was dit die grootmense en die predikant wat besluit het die kind moes vir aanneming opgegee word. In baie gevalle is die kind as ‘n skandebaba bestempel. Die onskuldige baba is letterlik verwerp.
Meeste aangenome kinders ly erg aan verwerping.
Biologiese ouers is die spreekwoordelike doring in die vlees van die groot hartseer omdat hulle nie eerlik was om aan hul huweliksmaats die waarheid te vertel het van die ongehude baba van jare gelede nie.
Hulle dink dat hulle dit vir altyd sal kan wegsteek.
Die Skrif lees: Ps 44:22  Want God ken die geheime van die hart.
Dan 2:28  Daar is 'n God in die Hemel wat geheime openbaar.
1 KOR 13:2  En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.
Sommige meen hulle sal met hul geheim na die graf gaan, en hulle oorskot is skaars begrawe of die waarheid seëvier.
“Die waarheid hou altyd, die leuen kom gou aan die lig.” Spr 12:19
“Want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.” Matt 10:26
“Wie geheime hou sal nie voorspoedig wees nie, wie bely sal genade ontvang.” Spr 28:13
Jare lank loop biologiese ouers met hierdie geheime in hul binneste. Geen mens kan ‘n normale lewe lei met so ‘n geheim nie. Jou geheim veroorsaak ‘n binding in jou gees en jare se onnodige swaarkry. Elke verjaardag, Kersfees, ens., dink jy aan jou baba. Die gedagtes los jou nooit.
Boonop is diesulkes skuldig aan ‘n veel groter misdryf… hulle staan in die pad van die vervulling van God se profesieë.  
            Maleagi profiteer: "Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, verskriklike dag. Elia sal vaders en kinders versoen,
sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie." Mal 4:5-6
            “En hy (Johannes) sal voor Hom (Jesus) uitgaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders...” Luk 1:17 … (en wat nog?)…en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.
            Lees dit weer want dit is God se Raadsplan.
            Die hoofrede hoekom daar ‘n drang onder aanneemkinders en biologiese ouers is om mekaar te vind, is omdat dit juis deel van God se Raadsplan hier aan die einde van die tye is.
            Enigiemand wat God se Raadsplan in die wiele ry, speel met vuur. “Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” Hebr 10:31
            Aanneemkinders ly aan verwerping. Op laerskool al verduur hulle spot en hoon as optelkinders en dit terwyl hulle heeltemal onskuldig is.
            Dis hartverskeurend om met aanneemkinders te werk wanneer hul ouers weier om met hulle kontak te maak.
            Ons sit met verhale van stukkende aanneemkinders. Die een oomblik is daar weiering tot versoening en nie lank daarna nie moet een van die partye na berou troos vind in die foto van ‘n grafsteen. Dis alles so onregverdig, so onnodig. Ons sit met verhale van biologiese ouers wat hul lewe lank die geheim van ‘n ongehude baba met hulle saamgedra het. Hulle vertel van hul lyding deur die jare, hul vrese dat die waarheid straks iewers op die lappe kan kom… en wat gaan hul huweliksmaats en biologiese kinders se reaksies wees!
            ‘n Kind mag aangeneem wees, maar die DNA-band is vir altyd. Bloed is dikker as water, beslis. Net die Waarheid maak vry.
            Nêrens in die Bybel is enige regverdiging vir aanneming nie. Waar kinders wel aangeneem moet word weens buitengewone omstandighede, is dit die familie se plig om die kind groot te maak.
            En al is jou kind aangeneem, hou God jou steeds verantwoordelik want so maklik kan geen mens van sy verantwoordelikhede ontslae raak nie.
            Kyk hoe intiem ken God jou en jou kind:

“Kan 'n vrou haar eie baba vergeet,
haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie?
Selfs al sou so iets kon gebeur,
EK sal jou nie vergeet nie.
EK het jou naam in my handpalms gegraveer.” – Jes 49:15-16
***
“Die Here het my voor my geboorte al geroep; toe ek nog in my moeder
se liggaam was, het Hy my op die naam geroep.” – Jes 49:1
***
“Moenie bang wees nie. EK verlos jou. EK het jou op jou naam geroep, jy is MYNE.” – Jes 43:1
***
“EK het jou uitverkies. EK het jou nie verwerp nie.” – Jes 41:9
***
“U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaar geweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien, toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” - Ps 139:12-16
***
“U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.” Ps 70:6
***
“Al sou my vader en my moeder my verlaat. Die Here sal my onder Sy sorg neem.” Ps 70:6
***
“Van my geboorte af is ek onder U sorg, van die begin van my lewe af is U my God.” – Ps 22:11
***
“So sê die Here:   Bly stil, moenie huil nie, moenie trane in jou oë hê nie! Vir al jou swaarkry sal jy vergoed word. . .” Jer 31:16
***
Dis duidelik dat God van elke ongebore baba bewus is.
Daar is moeders wat hul babas geaborteer het. Jy is nie ontslae van jou probleem nie. Jou baba wag vir jou in die Hemel… vir seker!
            “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.
Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.
Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Matt 10:28-31    
            Vroue maak hul ongebore babas dood of laat hulle doodmaak, maar geen mens kan ‘n siel doodmaak nie.
            Daar is ook aanneemouers wat besitlik en jaloers op hul aangenome kinders is, meesal uit vrees dat die kinders hul rug op hul aanneemouers sal draai.
            Niemand kan in sulke omstandighede ‘n normale lewe lei nie. Diesulkes sukkel ook om die dieper lewe in Christus Jesus deelagtig te word. Die binding in hulle gees verhinder hulle van groot vryhede in Christus.
            Dit striem ook die verhouding met hul naastes. Net die Waarheid maak vry en lei tot ‘n oorvloed van geestelike seëninge.
            Om in ‘n toestand van tevredenheid te leef is nie vrede nie.
            Plaas jou volle vertroue op Jesus Christus.
            Kyk wat sê die HERE: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Jes 1:18
            En: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9
            Moenie vrees dat sommige jou sal veroordeel nie... die HERE praat met hulle ook.
            Geen volgeling van Jesus Christus moet dink dat dit vir hom of vir haar onmoontlik is om te struikel en selfs te val nie, selfs so ver dat hulle Christus verloën.
            1 Kor. 10:12 waarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
            Petrus had ‘n geleentheid wat nie een van ons ooit kan hê nie, hy het fisies, sy aan sy, met Jesus Christus gewandel. As iemand soos Petrus tot ‘n val kon kom, wat dan van ons?
            Baie Christene het deur die jare gestruikel. Ander het selfs geval. Sommige gaan darem nog kerk toe, maar is basies geestelik dood vanweë die groot seerkry. Hulle het gestruikel en het berou getoon en om vergifnis gevra, maar kan nie hulself vergewe nie.
            Wat dit veel erger maak, is wanneer mede-Christene iemand wat gestruikel het, nie wil vergewe nie, nie wil ophelp nie, nie vir hulle bid nie.
            Wanneer iemand struikel en selfs val, dan word medegelowiges ewe streng getoets. Verkeerde optredes teenoor die struikelendes en die gevallene, beteken jy het jou toets gedop.
            Ons is een familie, GOD se Volk, as een lid ly, ly die hele liggaam. Ons is veronderstel om vir mekaar te bid, mekaar se las te dra.
            GOD sê: “As ons, ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh, 1:9
            GOD sê ook: “Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.
            “Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.” Han. 4:7-8
            Wanneer ons, ons sondes bely se GOD ook: “Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.” Heb. 8:12
            Christene wat die HERE Jesus Christus in ons tyd verloën het, het baie maal probeer om na die weë van GOD terug te keer, maar ons wou hulle nie vergewe nie, ons wou hulle nie toelaat om terug te keer nie – ten spyte daarvan dat God in sy Almag sê Hy het hulle sondes vergewe en hulle van alle ongeregtigheid gereinig.
Dis wat GOD gedoen het, maar ons wil dit nie doen nie! Wie is nou die groot sondaar, Petrus, of jy?
Die rede waarom sulke mense graag weer by die HERE wil uitkom, is omdat die Gees van GOD hulle dring om dit te doen, omdat GOD hulle vergewe het, omdat GOD steeds vertroue in hulle het, maar ons het nie. GOD gaan haal Sy verlore skape. Hy is ons Herder.
Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk, besef ons, as ons berou het en bely, GOD ons graag terug in die kudde wil hê en ons boonop graag ook magtiglik wil gebruik.
En aan diegene wat diesulkes nie wil vergewe en nie wil terugneem in die kudde nie, en hulle voortdurend beskinder, spreek Gal. 6: 1 boekdele wanneer hy sê:
“Broeders, as ‘n mens ewenwel deur die een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reg help met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself  let, dat jy nie ook versoek word nie.”
En dan die opdrag in strofe 7: “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus, want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself, maar laat elkeen sy werk op die proef stel; en dan sal hy grond van roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander een betref nie.”
En, na alles, is dit vir ons ook moontlik om daagliks geestelik saam met Jesus Christus te wandel.
Onthou, GOD wil van die klippies rotse maak!
            En jy gevallene, staan op, GOD wag vir jou!
Hy sê vir jou soos Hy ook vir Josua in Sag. 3: 1,3,4 gesê het: “Ek wil jou oortredinge vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek!
            Kyk wat sê GOD in Jes 57:15 “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek (en waar ook?) en by die verbryselde en nederige van gees (hoekom?), om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes.
Kom ons maak alle harte heel in hierdie Feestyd.  – Sjibbolet

As jy enige geestelike hulp, gebed of berading verlang skryf aan Belinda Paar (belindapaar@gmail.com)

Donderdag 17 Desember 2015

Hy is geen gewone Man nie


 


DAAR is soms twis oor presies wanneer Christus gebore sou gewees het, maar wat maak dit saak, solank ons dit gedenk. En ten minste word dit wêreldwyd gedenk, ten spyte van antichristelike aanslae.
        Ons moet net nie die fout maak om ‘n Kersfees daarvan te maak nie, maar wel ‘n Christus-fees!
        Die baba wat bykans 2 000 jaar gelede in ‘n stal in Bethlehem gebore is, was geen gewone baba nie. Hy was die onverganklike God! Wonderwerke was deel van sy lewensbestaan. Sy dood en opstanding was die grootste wonder ooit.
        Sy geboorte het:
·      ‘n koning laat steier.
·      Dit het die wyse manne inspireer om oor ‘n ver afstand te reis.
·      Dit het ongewone verskynsels in die hemele veroorsaak, en
·      die Skrifgeleerdes  omgekrap.

        Hy het die nederiges  geseën en groot blydskap aan hulle besorg. Hy het gedoen wat Hy gesê het: “Geen mens kan my lewe van my wegneem nie. Ek lê dit vryelik af.”
        En so was dit. Niemand kon Hom doodmaak nie en niemand het Hom doodgemaak nie. Hy het self sy lewe afgelê, soveel so dat toe die Hoofman oor ‘n Honderd dit sien gebeur, het hy hom boeglam geskrik en gesê:
        “Waarlik, dit is die Seun van God!”
        Die baba wat in die krip gebore is en op die kruis gesterf het, was beslis geen gewone man nie.
        Vir die medici is Hy  die Groot Geneesheer.
        Vir die plantkundige die Roos van Saron.
        Vir die astroloog, die Helder Morester.
        Vir die juwelier, die Pêrel met die Groot Prys.
        Vir die geoloog, die Rots van die Eeue.
        Vir die opvoedkundige, die Lig van verstandelike ontwikkeling.
         Vir die vistermanne, die Visser van Mense,
        Vir die seeman, die Kompas van die Lewe.
        Vir die Bakker, die Brood van die Lewe.
        Vir die dorstige,  die Water van Lewe.
        Vir die eensame, die Getroue Vriend.
        Vir die wat gebroke van hart is, die Heler van die Gebroke Harte.

        Hy oorwin Sy vyande deur liefde.  Hy was die voete van die man wat Hy weet gaan Hom verraai. Hy eet saam met die skelm belastinggaarder.  Hy oornag by die skelm tollenaar.  Hy vereer ‘n sondige vrou wat deur die owerspel verwerp is.
        Ken ons Hom?  Hoekom volg ons dan nie in Sy voetspore nie.
        Hy is die Alpha en die Omega. Sy geboorte het  hoop aan ‘n verlore wêreld gebring. Sy dood het Lewe gebring; Sy opstanding die bewys van die Ewige Lewe.
        Sy Wederkoms – wat beslis gaan plaasvind en dalk gouer as wat meeste mense verwag – gaan reg en geregtigheid laat geskied en die onreg verdelg.
        Nee, Hy was, en is beslis geen gewone man nie. Hy is die Seun van die Lewende God!  Ken jy hom?  Dis Hy wat die gebroke harte heel:
        Want so sê die Hoë en Verhewene wat in Ewigheid woon – Heilig is Sy naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek, maar (waar ook?) Ek woon ook by die verbryselde en nederige van gees. – (waarom?) Om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. – Jes. 57:15.
        Ja, Hy wil ook jou gees laat herlewe en jou gebroke hart heel – Hy, die baba van Bethlehem. – Sjibbolet

Saterdag 12 Desember 2015

Die Moulose Gemeenskap


Image result for tank top men fashion

Eers die woord Moulose Gemeenskap. Ek vra wat is dit? Toe sien ek ‘n groot groep mans, lede van die Moulose Gemeenskap, ’n geheime organisasie... hulle dra moulose hemde.
            Hulle sit die kerke vol, liefdeloos, huigelaars, geveinsdes. Hulle het hulself gestaal teen die kwellinge van die lewe.
            Hulle staan sterk in eie krag en eie mag. Hulle is mouloos want hulle huil nie op mekaar of enigiemand se skouer nie. Niemand kan ook op hulle skouers huil nie, want dis mouloos.
            Hulle doen nie niks in die kerk nie, hulle is in almal se pad. Hulle profiteer selfs.
            Hulle boer in die dobbelhole, maar huil nooit oor hul groot verliese nie. Niemand durf dit ook waag om by die mouloses te kom huil nie. Dit word nie geduld nie.
            Dit laat my dink aan die Isle of Wight langs die Engelse kus en die baie grotte daar.
            'n Man se geraamte is in een van hierdie grotte gevind. Hy was 'n prisonier wat ontsnap het. Hy het in die grot geskuil met die hoop dat hy saam met een van die skepe sou wegkom. Die goeie geleentheid het nooit gekom nie.
Hy kon nie waag om uit te kom nie. Sy krag het al minder geword. Sy lot was aaklig. So het hy eensaam gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was 'n bedrieglike en noodlottige skuiling.
            Mense verlaat hulle soms ook op 'n bedrieglike en tydelike skuiling, bv. leuens of bedrog. 'n Kosbare lewe word geslyt in die gevaarlike skuiling van oneerlikheid. 'n Bedroewende skuiling is ook die oneerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ontmoeting met Christus nie.
Nog 'n gevaarlike wegkruipplek is nuwe godsdiensbeskouinge, omdat dit 'n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondige praktyke. Die bedrieglikste skuilplek is onkunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in gevaar.
Ander skuil agter jarelange geheime... so asof hulle dit vir God kan wegsteek.
By die Wederkoms gaan jy summier agter bly, vir seker!
Die Nuwe Lewende Vertaling van die Bybel gebruik in 1 Kor 6:9 'n bekende woord aan mense wat tevrede voel om steeds met sondige praktyke voort te gaan: Moenie julleself bluf nie. Die sin word voorafgegaan met hierdie waarskuwing: Besef julle dan nie dat mense wat 'n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die Koninkryk van God nie?
            Ons het net één betroubare, blywende, ware skuiling: Die kruisdood van Jesus vir ons, en, ás 'n mens by daardie skuiling ingegaan het.
            Jesus het gesê, Hy het nie gekom om die Wet weg te neem nie, maar dit in vervulling te laat gaan... so word die Groot Gebod, die een van Liefde.
            Jesus het verwys na die Koninklike Wet: “As julle ewenwel die Koninklike Wet volbring volgens die Skrif: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself – dan doen julle goed.
“Maar as julle partydig is, doen julle sonde en word deur die wet as oortreders bestraf.” Jak 2:8-9
            Jesus vra drie keer vir Petrus het jy My lief en Petrus antwoord ja... en die hoenderhaan kraai. Die verskil was Jesus het verwys na Goddelike liefde (Agapé) terwyl Petrus na menslike liefde (fileo) verwys het.
            Die kerk moet floreer in die Liefde. Die Liefde moet so oorheersend wees dat die ongereddes dit ook begeer en so tot redding kom.
            Liefde dra moue, ‘n skouer om op te huil, te treur. ‘n Skouer vir diegene wat hartseer is, wat pyn en lyding deurmaak.
            ‘n Skouer bied vertroosting en Liefde vir die seer. ‘n Vriend wat die Liefde het, verstaan, het medelye.
Weet dit: Ons gaan mekaar nog bitter nodig kry vorentoe.
            As jy mouloos in die gemeente sit en dink niemand weet van jou en jou geveinsdheid nie, weet net dat God weet.
            “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.
Komaan: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb 12:12-15 – Sjibbolet

Woensdag 02 Desember 2015

Wie sal Lei … Sal jy?


 Image result for leader in the bible


DIE Bybel leer dat ons as Christene die sout van die aarde is. Vir sout om te kan preserveer, moet dit oral deeglik versprei word. Dit beteken dat ons as Christene by elke sektor van die samelewing betrokke moet wees. Die Christen-stem moet oral gehoor word.

Steeds gaan stemme op dat ‘n leier onder ons moet opstaan, maar, ons is eintlik  elkeen ‘n leier. Dit is ons wat moet verootmoedig en moet opstaan. Dadelik!

Die volgende pragtige Bybelse verhaal laat die Volk na homself in ‘n spieël kyk.

Toe  die heerser, na 40 jaar van vrede in die land, dood is, het die mense van GOD vergeet. Hulle het vergeet dat Goddelike leierskap groot seën vir ‘n land beteken.

Tog het hulle skielik nie meer omgegee wie die land regeer nie.

Die een wat sy stem die dikste kon maak, kon maar regeer. Die een wat al sy teenstanders kon uitwis, hy kon ook maar regeer. Die sterkste  of die slimste kon die troon bestyg. Dit het  die Volk min gepla.

So gaan Abimeleg dan heen en dood 69 van sy volksgenote wat dalk aanspraak op die troon kon maak. Net Jotam het ontkom, want hy het hom gaan versteek.

Die volk het stil geword en uiteindelik Abimeleg by die terpentynboom van die gedenkteken wat by Sigem is, gaan koning maak.
In plaas van vrede, voorspoed en seëninge, beleef die Volk toe jare van verdriet, ellende en probleme onder Abimeleg se heerskappy. Dit kon voorkom gewees het as die Volk verenig het en God se aangesig gesoek het sodat die Here hulle kon lei in hul besluite om die “regte” man tot koning te  kroon.

Let nou mooi op na die volgende. Jotam het op die  berg Gerisim gaan staan en sy stem verhef en uitgeroep en  aan die Volk gesê: “Luister na my, burgers van Sigem, sodat God na julle kan luister…?
En toe het hy hulle die verhaal van die bome vertel.

Eendag het die bome besluit om vir hulle ‘n heerser aan te  stel. Hulle besluit toe op die olyfboom en sê aan hom: “Wees koning oor ons.”
Maar die olyfboom het geantwoord: “Sou ek my vettigheid opgee wat God en die mense in my prys, en oor die bome gaan swewe?”
Daarna het die bome weer beraadslaag en wend hulle toe tot die vyeboom: “Kom, wees jy koning oor ons.”
Maar die vyeboom het verskoning gemaak en gesê: “Sou ek my soetheid en my goeie vrugte opgee…?”
Maar ‘n leier moes daar wees en toe nader hulle die wingerstok: “Kom jy, wees jy koning oor ons”.
Die wingerstok antwoord egter: “Sou ek my mos  opgee wat God en die mense vrolik maak...?”

Die tyd het aangeloop. Niemand wou koning wees nie. Verskonings was volop. Uit desperaatheid wend hulle hul toe na die steekdoring: “Kom, wees jy koning oor ons”.

En die steekdoring antwoord: “As julle in waarheid my as koning oor julle salf, kom dan, skuil in my skaduwee; maar so nie, laat daar dan vuur uitgaan uit die  steekdoring en die seders van Libanon verteer.”

Ongelooflik, maar waar, die kleine steekdoring sou regeer oor die magtige seder, die statige olyf, die soet vyeboom en die geurige wingerdstok.
Die steekdoring sou sterk word en sy takke en dorings ver uitsprei totdat hy die ander bome in ‘n wurggreep het.

Wanneer daar min water was, sou steekdoring alles opgebruik. In die vlak grond sou hy sy wortels oral uitsprei. Hy was selfsugtig en vraatsug, maar hy was ook koning net omdat diegene wat meer vaardig was en geregtigheid sou laat geskied het, nie in die koningskap belanggestel het nie.

So gaan dit vandag onder ons mense. Die minder bevoegdes verkry die hoë poste reg deur Afrika, net omdat wedergeborenes nie hul selfgesentreerdheid, morele en  geestelike verval wil neerlê en hulle voor die Almagtige GOD wil verootmoedig  nie.

Daar is Volksgenote  wat sê hulle behoort aan Jesus Christus, hulle sê hulle is nie van hierdie wêreld nie. Hulle burgerskap is in die Hemel. Hulle sit net en wag vir die Wederkoms. In die Hemel sal hulle wel regeer, sê hulle.

Hulle sê hulle is bereid om te sterf vir die Here, maar intussen is dit juis GOD se roeping dat hulle sal LEEF vir Hom!
Die Here het hulle broodnodig hier op aarde. Ons word in die eerste plek nie gered om Hemel toe te gaan nie. Ons word gered om te dien, GOD te dien, Sy Koninkryk uit te bou, om die aarde volgens Sy Wil te regeer!

Luk. 12:8 lees: “Elkeen wat My sal bely voor die mense (oral in die rade en komitees tot op elke terrein van die Volkslewe) hom sal die Seun van die mens  ook bely voor die Engele van GOD.” En, gaan lees gerus ook strofe 9.

Twee dinge is baie belangrik: Een, dat ons die beste man in ‘n pos moet aanstel,  die man of die vrou  wat God se keuse is, iemand wat sy wysheid en leiding van God verkry om te kan regeer, en tweedens, moet ons onsself beskikbaar stel vir die poste in die Volkslewe.

Terloops, net so is dit die Christen se taak om die Evangelie uit te dra en die Koninkryk van God  te bou. Dit is nie die taak van die predikant nie. Herders kry nie lammers nie. Skape  moet lam. Die herder voed sy skape sodat die skape lammers kan kry, ja, selfs twee- en drielinge.

Die instandhouding en uitbouing van die Volksaak, loop hand aan hand met die instandhouding en die uitbouing van die Koninkryk van GOD.
GOD en Volk kan nooit geskei word nie. Die woord volk verskyn 150 keer in 144 strofes in die Nuwe Testament.

Vraag is: Lei jy?
Wie is jy?
Ek is GOD se kind want, ek is wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, (hoe?) deur die Lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly (1 Pet. 1:23)
Ek is ‘n nuwe skepsel, omdat ek nou in Christus is (11 Kor. 5:17)
Ek is verlos van die mag van die duisternis en ek is oorgebring na die Koninkryk van die Seun  van Sy Liefde (Kol.1:13)
Ek is losgekoop deur Christus van die vloek van die Wet (Gal.3:13)
Ek is deur GOD uitverkies nog voor die grondlegging van die wêreld (Efes. 1:4)
Ek is verlos deur Jesus se bloed (Efes. 1:7)
Ek is ‘n geroepe Heilige (Rom. 1:7)
Ek deel in Sy erfenis (Kol. 1:12)
Ek is triomfantelik (Openb. 21:7)
Ek is dood vir die sonde (Rom. 6:2)
Ek is ‘n uitverkorene (Kol. 3:12)
Ek is bevestig tot die einde toe (1 Kor. 1:8)
Ek is deur die Waarheid vrygemaak (Joh. 8: 31-33)
Ek is besny met ‘n besnydenis wat nie met die hande verrig is nie (Kol. 2:11; Det: 10:16; Filp. 3:3; Rom: 2:28-29)
Ek is met Christus gekruisig (Gal. 2:20)
Ek is gered deur die bloed van Jesus (1:14)
Ek lewe saam met Christus (Efes. 2:5)
Ek is saam met Jesus opgewek (Rom. 2:12)
Ek is ‘n getroue navolger van Jesus Christus (Efes. 5:1)
Ek is die Lig van die wêreld (Matt. 1:14)
Ek is die sout van die aarde (Mat. 5:13)
Ek het ‘n heilige roeping (2 Tim. 1:9)
Ek is meer as ‘n oorwinnaar (Rom. 8:37)
Ek is gewortel en opgebou in Hom en bestig in die geloof (Kol. 2:7)
Ek weet al my behoeftes is vervul (Phil. 4:19)
Ek het lewe en oorvloed (Joh. 10:10)
Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee (Fil. 4:13)
Ek jaag na die doel om die prys te verkry (Fil. 3:14)
En verder:
Die HERE noem ons sy kinders en dus sy erfgename (Rom. 8:16-17)
Hy noem ons Sy vriende (Luk. 12:4; Joh. 15:14;  Joh. 15:15)
Hy noem ons Sy eiendom ((Joh. 1:11; Efes. 1:14; 2Tim. 2:14; 1Pet. 2:9
Hy noem ons ook Sy volk (Luk. 1:77; Luk. 7:16; Fil.58:8-10; Jak. 2:9
As ons dus so belangrik vir GOD is, waarom sou ons Hom nie in Gees en Waarheid dien nie?

Luister wat sê die HERE: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.
“Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” Joh.15:14-16

Watter vrug dra jy wanneer jy getuig dat jy wedergebore is?
Jy sou dalk dink dat jy nie ‘n leier is nie.
Sou jy dan toelaat dat die steekdoring regeer?
“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, (Hoe?) deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug...” 2Pet. 1:3

Toe die HERE ons geskape het, het Hy aan ons alles gegee wat ons nodig sou kry om Sy oorspronklike plan en doel te vervul. Ons is nie gered om Hemel toe te gaan nie, maar om te dien.

Wanneer GOD na ons kyk en met ons praat, dan sien hy die ware jy en nie die jy wat jy dink jy is nie. As jy daarin roem dat jy kind van GOD is, dan sal jy jou perspektiewe soos in GOD die Bybel verwoord, moet regkry.

Die HERE ken ons nog voordat Hy ons in die moederskoot gevorm het... Jer. 1:5

Die gene van leierskap is dormant in ons totdat die krag van GOD dit in beweging bring. Sommige mense praat van “versteekte” talente, ‘n talent of talente wat hulle eers later in hulle lewens ontdek.

Niemand dwing ons om leiers te wees nie. Dit is en bly ons eie keuse wat ons met ons talente maak. Ons bly egter verantwoordelik teenoor GOD oor hoe ons daardie talente aanwend.

Alles wat ons nodig het om leiers te wees, het GOD reeds aan ons gegee. As ons begin om leiding te neem, dan verkwik die Heilige Gees ons!
God wil Homself betuig en Hy het ons uitverkies as ‘n kanaal deur wie Hy Sy mag en besluite kan betuig.

Ons is geroepe diensknegte en getuies, medewerkers, vriende  –  GOD wil nie Sy werk voltooi sonder om die mens te gebruik nie.
GOD, in Sy goedertierenheid het elke mens ryklik bedeel met sekere gawes, talente en moontlikhede.  Die dinge moet nie selfsugtig of tot ons eie voordeel aangewend word nie, maar tot verheerliking van God en die vestiging van Sy Koninkryk.
“Doen alles tot verheerliking van GOD.”  (1Kor.10:31).
“Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in jul liggaam en in jul gees wat aan God behoort.” (1 Kor. 6:19-20). Ons is rentmeesters van die gawes wat God ons gegee het.

Ons is rentmeesters van ons tyd. “Koop die tyd uit omdat die dae boos is.”  (Efes. 5:16)  Moenie jou tyd verkwis nie. Ons is rentmeesters van ons talente. Jesus het ‘n harde oordeel uitgespreek oor die man wat uit vrees sy talent begrawe het. Lees aandagtig Matt. 25:28-30.

Ons is rentmeesters van ons geld. Geld is ‘n gawe van GOD en moet tot Sy eer gebruik word.  Lees 1 Tim. 6:10.

Ons is ook rentmeesters van die Evangelie. Die roeping om die grootste nuus op Aarde te verkondig, is aan die verlostes gegee.

“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.”  (Hand. 1:8).

Die Heilige Gees is die Gees van GOD. GOD woon en leef in die gelowige. “Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van GOD is, GOD bly in hom en hy in GOD.” (1 Joh. 4:13-17).  Die Heilige Gees is Krag.  Hy is die Krag van GOD in die lewe van elke gelowige.

Hoe sal jy weet dat jy al hierdie gawes, talente, en krag besit?  Deur aan die HERE dankie te sê dat Hy dit aan jou gegee het en begin om leiding te neem.

Baie sê, GOD is die GOD van die onmoontlike. Maar dit is waartoe Hy ons in staat stel: Om wat vir ander onmoontlik lyk, wel te doen.

In Rigters 6 gebruik die Vader vir Gideon, die jongste in sy familie en uit die swakste stam. Die HERE sê aan Gideon: “Gaan jy uit in hierdie krag van jou...”

“Watter krag sou GOD van praat? Natuurlik sy Goddelike krag wat Hy deel van ons maak.
Dit is ook wat die HERE nou aan jou sê: “Gaan uit in hierdie krag van jou...”
Dawid was ‘n eenvoudige skaapwagter, maar die Vader noem hom ‘n koning!
Vir Josef sê die Vader: Jy is ‘n heerser!

Paulus bid vir die Efesiërs en sê ondermeer: “En aan Hom wat mag het om te DOEN... ver bo alles(!) wat ons bid of  dink... volgens (wat?)  –   volgens die krag wat in ons is! Efes. 3:20.

Lees nou Heb. 11: 1-33. Dit is die Bybel se “Portaal van Geloof”... en, die mooiste is, dat ons deel is daarvan!

Keer nou terug na strofes 32 en 33:
“En wat sal ek nog meer sê (oor al hierdie geloofs-dinamika)? Want die tyd sal my ontbreek as ek (ook) van Gideon, Barak en Simeon en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal ......”

Let nou op na strofe 34: “... wat deur die geloof:
koningkryke oorweldig het !
geregtigheid uitgeoefen het !
beloftes verkry het !
bekke van leeus toegestop het !
die krag van vuur uitgeblus het !
die skerpte van die swaard ontvlug het !
krag uit swakheid ontvang het !
dapper gewees het in die oorlog !
leërs van vreemdes op die vlug gedryf het !”
Kyk weer na die tweede laaste reël:
Dapper gewees het in die oorlog!
Dapper beteken:  Vasberade, onverskrokke. Dit beteken ook: onwankelbaar en onbuigsaam, beginselvas, dus, ook iemand wat geen kompromie aangaan nie.

Het ons geloof?  Natuurlik het ons geloof?  Ons het dit by die wedergeboorte ontvang. Maar,  Lewe ons deur die geloof...?

Om te sê ons sal probeer om deur die geloof te lewe is so goed as om vir die steekdoring te sê jy is nie toegewyd nie. Jy het nog nie in Christus gesterwe nie. By die eerste hekkie slaan jy neer.

Om deur die geloof te kan lewe moet ons beslis wees, gedetermineerd, wees, moet ons dapper wees, moet ons weier om kompromieë aan te gaan, moet ons rus vind in die HERE. Of ons vertrou God absoluut, of, anders lewe ons in twyfel, ons probeer maar...

Jak. 1:6-7 ...hy wat twyfel moenie dink dat hy iets van die HERE sal ontvang nie!

Ons moet dus weier om te twyfel.

“Ons is GOD se magtige manne (en vroue) vol dapperheid, onverskrokkenheid.” Jos. 10:7
Ons weier om te twyfel.  Ons staan soos rotse, onwankelbaar.

Onthou, ons is GOD se eiendom. Vat iemand aan ons vat hy aan ons GOD, ons vader wat in die Hemel is, want, GOD sê: Vir sovele as wat julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My. Matt. 25:40

Dit is ook hoekom ons nie wraak moet uitoefen nie. GOD sê:  Hom kom die wraak toe. Hy sal vergeld.
Ons moet net besef dat as iemand ons leed aandoen, speel hy of sy met vuur, want hulle het GOD se eiendom aangetas.  En daar staan ook geskrywe:  Dit is vreeslik om te val in die hande van die Lewende GOD!

Ons vrees niks, want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar ‘n gees van Krag, en van Liefde en van Selfbeheersing. 2 Tim. 1:7.
Dit is wat ons ontvang het en dit is wat ons elke dag moet bely.

Let weer op wat staan reg aan die begin geskrywe ... volgens die krag wat (reeds) in ons is.

Daar is geloofskrag in ons om ook die dinge te kan doen wat ons voorsate deur die geloof gedoen het..  volgens ...  dui daarop dat ons daardie geloofskrag moet uitbou, soos ‘n gewigopteller sy krag ook uitbou. Hoe groter sy krag, hoe groter die gewig wat hy kan baasraak.

Ons moet dus deur Sy Woord en deur praktiese toepassing daarvan, ons geloofskrag uitbou.  Kyk hoe waar is die volgende:
Great people, are ordinary people, with extraordinary amounts of determination! (geloof)

Om nederig te wees is God se Wil. Om jouself te verkleineer, is nie nederigheid nie en is sonde.  In die oë van die Vader is ons baie belangrik.

Ons is Sy VOLK. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers. Ons het die geloof van ‘n mosterdsaadjie  –  ons (moet) groei tot ‘n reuse Geloofsboom!

Bely dit,  glo dit, want dit is die Waarheid, en nie die twyfel en versinsels wat die steekdoring ons mense mee teister nie.

Onthou, wanneer mens naby die deurbraak is, sal die druk altyd toeneem. Teenspoed lyk maar soos teenspoed. Hoe harder die stryd hoe groter die oorwinning, want in Christus Jesus is ons meer as Oorwinnaars!

Probleme wat oor die wêreld aan die kom is, moet maar kom. Ons is gereed daarvoor!

Lees ook Ps. 149 en let veral op wat gebeur vanaf strofe 6: Lofverheffinge is ‘n tweesnydende swaard.  Aan die een kant verbly ons die hart van God, aan die ander kant vernietig ons die vyand, wie en wat hy ook al mag wees!

Die skrywer van Hallaluja-lied 243: Voorwaarts Christen-stryders, het geweet waaroor dit gaan.
En Halleluja-lied 244: Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis, ook!
“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;
“en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Heb. 12:12-13 – Sjibbolet