Woensdag 02 Desember 2015

Wie sal Lei … Sal jy?


 Image result for leader in the bible


DIE Bybel leer dat ons as Christene die sout van die aarde is. Vir sout om te kan preserveer, moet dit oral deeglik versprei word. Dit beteken dat ons as Christene by elke sektor van die samelewing betrokke moet wees. Die Christen-stem moet oral gehoor word.

Steeds gaan stemme op dat ‘n leier onder ons moet opstaan, maar, ons is eintlik  elkeen ‘n leier. Dit is ons wat moet verootmoedig en moet opstaan. Dadelik!

Die volgende pragtige Bybelse verhaal laat die Volk na homself in ‘n spieël kyk.

Toe  die heerser, na 40 jaar van vrede in die land, dood is, het die mense van GOD vergeet. Hulle het vergeet dat Goddelike leierskap groot seën vir ‘n land beteken.

Tog het hulle skielik nie meer omgegee wie die land regeer nie.

Die een wat sy stem die dikste kon maak, kon maar regeer. Die een wat al sy teenstanders kon uitwis, hy kon ook maar regeer. Die sterkste  of die slimste kon die troon bestyg. Dit het  die Volk min gepla.

So gaan Abimeleg dan heen en dood 69 van sy volksgenote wat dalk aanspraak op die troon kon maak. Net Jotam het ontkom, want hy het hom gaan versteek.

Die volk het stil geword en uiteindelik Abimeleg by die terpentynboom van die gedenkteken wat by Sigem is, gaan koning maak.
In plaas van vrede, voorspoed en seëninge, beleef die Volk toe jare van verdriet, ellende en probleme onder Abimeleg se heerskappy. Dit kon voorkom gewees het as die Volk verenig het en God se aangesig gesoek het sodat die Here hulle kon lei in hul besluite om die “regte” man tot koning te  kroon.

Let nou mooi op na die volgende. Jotam het op die  berg Gerisim gaan staan en sy stem verhef en uitgeroep en  aan die Volk gesê: “Luister na my, burgers van Sigem, sodat God na julle kan luister…?
En toe het hy hulle die verhaal van die bome vertel.

Eendag het die bome besluit om vir hulle ‘n heerser aan te  stel. Hulle besluit toe op die olyfboom en sê aan hom: “Wees koning oor ons.”
Maar die olyfboom het geantwoord: “Sou ek my vettigheid opgee wat God en die mense in my prys, en oor die bome gaan swewe?”
Daarna het die bome weer beraadslaag en wend hulle toe tot die vyeboom: “Kom, wees jy koning oor ons.”
Maar die vyeboom het verskoning gemaak en gesê: “Sou ek my soetheid en my goeie vrugte opgee…?”
Maar ‘n leier moes daar wees en toe nader hulle die wingerstok: “Kom jy, wees jy koning oor ons”.
Die wingerstok antwoord egter: “Sou ek my mos  opgee wat God en die mense vrolik maak...?”

Die tyd het aangeloop. Niemand wou koning wees nie. Verskonings was volop. Uit desperaatheid wend hulle hul toe na die steekdoring: “Kom, wees jy koning oor ons”.

En die steekdoring antwoord: “As julle in waarheid my as koning oor julle salf, kom dan, skuil in my skaduwee; maar so nie, laat daar dan vuur uitgaan uit die  steekdoring en die seders van Libanon verteer.”

Ongelooflik, maar waar, die kleine steekdoring sou regeer oor die magtige seder, die statige olyf, die soet vyeboom en die geurige wingerdstok.
Die steekdoring sou sterk word en sy takke en dorings ver uitsprei totdat hy die ander bome in ‘n wurggreep het.

Wanneer daar min water was, sou steekdoring alles opgebruik. In die vlak grond sou hy sy wortels oral uitsprei. Hy was selfsugtig en vraatsug, maar hy was ook koning net omdat diegene wat meer vaardig was en geregtigheid sou laat geskied het, nie in die koningskap belanggestel het nie.

So gaan dit vandag onder ons mense. Die minder bevoegdes verkry die hoë poste reg deur Afrika, net omdat wedergeborenes nie hul selfgesentreerdheid, morele en  geestelike verval wil neerlê en hulle voor die Almagtige GOD wil verootmoedig  nie.

Daar is Volksgenote  wat sê hulle behoort aan Jesus Christus, hulle sê hulle is nie van hierdie wêreld nie. Hulle burgerskap is in die Hemel. Hulle sit net en wag vir die Wederkoms. In die Hemel sal hulle wel regeer, sê hulle.

Hulle sê hulle is bereid om te sterf vir die Here, maar intussen is dit juis GOD se roeping dat hulle sal LEEF vir Hom!
Die Here het hulle broodnodig hier op aarde. Ons word in die eerste plek nie gered om Hemel toe te gaan nie. Ons word gered om te dien, GOD te dien, Sy Koninkryk uit te bou, om die aarde volgens Sy Wil te regeer!

Luk. 12:8 lees: “Elkeen wat My sal bely voor die mense (oral in die rade en komitees tot op elke terrein van die Volkslewe) hom sal die Seun van die mens  ook bely voor die Engele van GOD.” En, gaan lees gerus ook strofe 9.

Twee dinge is baie belangrik: Een, dat ons die beste man in ‘n pos moet aanstel,  die man of die vrou  wat God se keuse is, iemand wat sy wysheid en leiding van God verkry om te kan regeer, en tweedens, moet ons onsself beskikbaar stel vir die poste in die Volkslewe.

Terloops, net so is dit die Christen se taak om die Evangelie uit te dra en die Koninkryk van God  te bou. Dit is nie die taak van die predikant nie. Herders kry nie lammers nie. Skape  moet lam. Die herder voed sy skape sodat die skape lammers kan kry, ja, selfs twee- en drielinge.

Die instandhouding en uitbouing van die Volksaak, loop hand aan hand met die instandhouding en die uitbouing van die Koninkryk van GOD.
GOD en Volk kan nooit geskei word nie. Die woord volk verskyn 150 keer in 144 strofes in die Nuwe Testament.

Vraag is: Lei jy?
Wie is jy?
Ek is GOD se kind want, ek is wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, (hoe?) deur die Lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly (1 Pet. 1:23)
Ek is ‘n nuwe skepsel, omdat ek nou in Christus is (11 Kor. 5:17)
Ek is verlos van die mag van die duisternis en ek is oorgebring na die Koninkryk van die Seun  van Sy Liefde (Kol.1:13)
Ek is losgekoop deur Christus van die vloek van die Wet (Gal.3:13)
Ek is deur GOD uitverkies nog voor die grondlegging van die wêreld (Efes. 1:4)
Ek is verlos deur Jesus se bloed (Efes. 1:7)
Ek is ‘n geroepe Heilige (Rom. 1:7)
Ek deel in Sy erfenis (Kol. 1:12)
Ek is triomfantelik (Openb. 21:7)
Ek is dood vir die sonde (Rom. 6:2)
Ek is ‘n uitverkorene (Kol. 3:12)
Ek is bevestig tot die einde toe (1 Kor. 1:8)
Ek is deur die Waarheid vrygemaak (Joh. 8: 31-33)
Ek is besny met ‘n besnydenis wat nie met die hande verrig is nie (Kol. 2:11; Det: 10:16; Filp. 3:3; Rom: 2:28-29)
Ek is met Christus gekruisig (Gal. 2:20)
Ek is gered deur die bloed van Jesus (1:14)
Ek lewe saam met Christus (Efes. 2:5)
Ek is saam met Jesus opgewek (Rom. 2:12)
Ek is ‘n getroue navolger van Jesus Christus (Efes. 5:1)
Ek is die Lig van die wêreld (Matt. 1:14)
Ek is die sout van die aarde (Mat. 5:13)
Ek het ‘n heilige roeping (2 Tim. 1:9)
Ek is meer as ‘n oorwinnaar (Rom. 8:37)
Ek is gewortel en opgebou in Hom en bestig in die geloof (Kol. 2:7)
Ek weet al my behoeftes is vervul (Phil. 4:19)
Ek het lewe en oorvloed (Joh. 10:10)
Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee (Fil. 4:13)
Ek jaag na die doel om die prys te verkry (Fil. 3:14)
En verder:
Die HERE noem ons sy kinders en dus sy erfgename (Rom. 8:16-17)
Hy noem ons Sy vriende (Luk. 12:4; Joh. 15:14;  Joh. 15:15)
Hy noem ons Sy eiendom ((Joh. 1:11; Efes. 1:14; 2Tim. 2:14; 1Pet. 2:9
Hy noem ons ook Sy volk (Luk. 1:77; Luk. 7:16; Fil.58:8-10; Jak. 2:9
As ons dus so belangrik vir GOD is, waarom sou ons Hom nie in Gees en Waarheid dien nie?

Luister wat sê die HERE: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.
“Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.
“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” Joh.15:14-16

Watter vrug dra jy wanneer jy getuig dat jy wedergebore is?
Jy sou dalk dink dat jy nie ‘n leier is nie.
Sou jy dan toelaat dat die steekdoring regeer?
“Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, (Hoe?) deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug...” 2Pet. 1:3

Toe die HERE ons geskape het, het Hy aan ons alles gegee wat ons nodig sou kry om Sy oorspronklike plan en doel te vervul. Ons is nie gered om Hemel toe te gaan nie, maar om te dien.

Wanneer GOD na ons kyk en met ons praat, dan sien hy die ware jy en nie die jy wat jy dink jy is nie. As jy daarin roem dat jy kind van GOD is, dan sal jy jou perspektiewe soos in GOD die Bybel verwoord, moet regkry.

Die HERE ken ons nog voordat Hy ons in die moederskoot gevorm het... Jer. 1:5

Die gene van leierskap is dormant in ons totdat die krag van GOD dit in beweging bring. Sommige mense praat van “versteekte” talente, ‘n talent of talente wat hulle eers later in hulle lewens ontdek.

Niemand dwing ons om leiers te wees nie. Dit is en bly ons eie keuse wat ons met ons talente maak. Ons bly egter verantwoordelik teenoor GOD oor hoe ons daardie talente aanwend.

Alles wat ons nodig het om leiers te wees, het GOD reeds aan ons gegee. As ons begin om leiding te neem, dan verkwik die Heilige Gees ons!
God wil Homself betuig en Hy het ons uitverkies as ‘n kanaal deur wie Hy Sy mag en besluite kan betuig.

Ons is geroepe diensknegte en getuies, medewerkers, vriende  –  GOD wil nie Sy werk voltooi sonder om die mens te gebruik nie.
GOD, in Sy goedertierenheid het elke mens ryklik bedeel met sekere gawes, talente en moontlikhede.  Die dinge moet nie selfsugtig of tot ons eie voordeel aangewend word nie, maar tot verheerliking van God en die vestiging van Sy Koninkryk.
“Doen alles tot verheerliking van GOD.”  (1Kor.10:31).
“Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in jul liggaam en in jul gees wat aan God behoort.” (1 Kor. 6:19-20). Ons is rentmeesters van die gawes wat God ons gegee het.

Ons is rentmeesters van ons tyd. “Koop die tyd uit omdat die dae boos is.”  (Efes. 5:16)  Moenie jou tyd verkwis nie. Ons is rentmeesters van ons talente. Jesus het ‘n harde oordeel uitgespreek oor die man wat uit vrees sy talent begrawe het. Lees aandagtig Matt. 25:28-30.

Ons is rentmeesters van ons geld. Geld is ‘n gawe van GOD en moet tot Sy eer gebruik word.  Lees 1 Tim. 6:10.

Ons is ook rentmeesters van die Evangelie. Die roeping om die grootste nuus op Aarde te verkondig, is aan die verlostes gegee.

“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.”  (Hand. 1:8).

Die Heilige Gees is die Gees van GOD. GOD woon en leef in die gelowige. “Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van GOD is, GOD bly in hom en hy in GOD.” (1 Joh. 4:13-17).  Die Heilige Gees is Krag.  Hy is die Krag van GOD in die lewe van elke gelowige.

Hoe sal jy weet dat jy al hierdie gawes, talente, en krag besit?  Deur aan die HERE dankie te sê dat Hy dit aan jou gegee het en begin om leiding te neem.

Baie sê, GOD is die GOD van die onmoontlike. Maar dit is waartoe Hy ons in staat stel: Om wat vir ander onmoontlik lyk, wel te doen.

In Rigters 6 gebruik die Vader vir Gideon, die jongste in sy familie en uit die swakste stam. Die HERE sê aan Gideon: “Gaan jy uit in hierdie krag van jou...”

“Watter krag sou GOD van praat? Natuurlik sy Goddelike krag wat Hy deel van ons maak.
Dit is ook wat die HERE nou aan jou sê: “Gaan uit in hierdie krag van jou...”
Dawid was ‘n eenvoudige skaapwagter, maar die Vader noem hom ‘n koning!
Vir Josef sê die Vader: Jy is ‘n heerser!

Paulus bid vir die Efesiërs en sê ondermeer: “En aan Hom wat mag het om te DOEN... ver bo alles(!) wat ons bid of  dink... volgens (wat?)  –   volgens die krag wat in ons is! Efes. 3:20.

Lees nou Heb. 11: 1-33. Dit is die Bybel se “Portaal van Geloof”... en, die mooiste is, dat ons deel is daarvan!

Keer nou terug na strofes 32 en 33:
“En wat sal ek nog meer sê (oor al hierdie geloofs-dinamika)? Want die tyd sal my ontbreek as ek (ook) van Gideon, Barak en Simeon en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal ......”

Let nou op na strofe 34: “... wat deur die geloof:
koningkryke oorweldig het !
geregtigheid uitgeoefen het !
beloftes verkry het !
bekke van leeus toegestop het !
die krag van vuur uitgeblus het !
die skerpte van die swaard ontvlug het !
krag uit swakheid ontvang het !
dapper gewees het in die oorlog !
leërs van vreemdes op die vlug gedryf het !”
Kyk weer na die tweede laaste reël:
Dapper gewees het in die oorlog!
Dapper beteken:  Vasberade, onverskrokke. Dit beteken ook: onwankelbaar en onbuigsaam, beginselvas, dus, ook iemand wat geen kompromie aangaan nie.

Het ons geloof?  Natuurlik het ons geloof?  Ons het dit by die wedergeboorte ontvang. Maar,  Lewe ons deur die geloof...?

Om te sê ons sal probeer om deur die geloof te lewe is so goed as om vir die steekdoring te sê jy is nie toegewyd nie. Jy het nog nie in Christus gesterwe nie. By die eerste hekkie slaan jy neer.

Om deur die geloof te kan lewe moet ons beslis wees, gedetermineerd, wees, moet ons dapper wees, moet ons weier om kompromieë aan te gaan, moet ons rus vind in die HERE. Of ons vertrou God absoluut, of, anders lewe ons in twyfel, ons probeer maar...

Jak. 1:6-7 ...hy wat twyfel moenie dink dat hy iets van die HERE sal ontvang nie!

Ons moet dus weier om te twyfel.

“Ons is GOD se magtige manne (en vroue) vol dapperheid, onverskrokkenheid.” Jos. 10:7
Ons weier om te twyfel.  Ons staan soos rotse, onwankelbaar.

Onthou, ons is GOD se eiendom. Vat iemand aan ons vat hy aan ons GOD, ons vader wat in die Hemel is, want, GOD sê: Vir sovele as wat julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My. Matt. 25:40

Dit is ook hoekom ons nie wraak moet uitoefen nie. GOD sê:  Hom kom die wraak toe. Hy sal vergeld.
Ons moet net besef dat as iemand ons leed aandoen, speel hy of sy met vuur, want hulle het GOD se eiendom aangetas.  En daar staan ook geskrywe:  Dit is vreeslik om te val in die hande van die Lewende GOD!

Ons vrees niks, want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar ‘n gees van Krag, en van Liefde en van Selfbeheersing. 2 Tim. 1:7.
Dit is wat ons ontvang het en dit is wat ons elke dag moet bely.

Let weer op wat staan reg aan die begin geskrywe ... volgens die krag wat (reeds) in ons is.

Daar is geloofskrag in ons om ook die dinge te kan doen wat ons voorsate deur die geloof gedoen het..  volgens ...  dui daarop dat ons daardie geloofskrag moet uitbou, soos ‘n gewigopteller sy krag ook uitbou. Hoe groter sy krag, hoe groter die gewig wat hy kan baasraak.

Ons moet dus deur Sy Woord en deur praktiese toepassing daarvan, ons geloofskrag uitbou.  Kyk hoe waar is die volgende:
Great people, are ordinary people, with extraordinary amounts of determination! (geloof)

Om nederig te wees is God se Wil. Om jouself te verkleineer, is nie nederigheid nie en is sonde.  In die oë van die Vader is ons baie belangrik.

Ons is Sy VOLK. Ons is Sy eiendom. Ons is Sy Erfgename. Ons is Sy medewerkers. Ons het die geloof van ‘n mosterdsaadjie  –  ons (moet) groei tot ‘n reuse Geloofsboom!

Bely dit,  glo dit, want dit is die Waarheid, en nie die twyfel en versinsels wat die steekdoring ons mense mee teister nie.

Onthou, wanneer mens naby die deurbraak is, sal die druk altyd toeneem. Teenspoed lyk maar soos teenspoed. Hoe harder die stryd hoe groter die oorwinning, want in Christus Jesus is ons meer as Oorwinnaars!

Probleme wat oor die wêreld aan die kom is, moet maar kom. Ons is gereed daarvoor!

Lees ook Ps. 149 en let veral op wat gebeur vanaf strofe 6: Lofverheffinge is ‘n tweesnydende swaard.  Aan die een kant verbly ons die hart van God, aan die ander kant vernietig ons die vyand, wie en wat hy ook al mag wees!

Die skrywer van Hallaluja-lied 243: Voorwaarts Christen-stryders, het geweet waaroor dit gaan.
En Halleluja-lied 244: Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis, ook!
“Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op;
“en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” Heb. 12:12-13 – Sjibbolet