Daar is vier dope in die Bybel: Die doop in die liggaam van Christus – Wedergeboorte, die doop in water, die doop met die Heilige Gees en die Lydingsdoop.
Ons aanvaar ons bevind ons in ‘n geestelike stryd. Ons aanvaar ook dat hierdie oorlog op ‘n ander vlak en met ander metodes geveg moet word.
Voordat ons verder kan gaan, moet ons egter eers die sonde van ons tyd, wanpersepsies, aanspreek. Ons kyk hier weer na die menslike vlak en die geestelike vlak. Daar is ‘n reuse verskil.
Die menslike vlak sê: Verset, weerstand, veg, ja, selfs oorlog. Die geestelike vlak bied egter ‘n heel ander prentjie.
Die Nuwe Verbond in Christus, soos vervat in die Nuwe Testament, leer dat niemand die Christendom enige skade kan berokken nie. Die Christendom kan net homself skade berokken deur verkeerd op tree op aanvalle teen hom.
Dit is Skriftuurlik dat die Christendom die gesag wat oor hom gestel is, sal erken en hom sal onderwerp aan daardie gesag.
Die Liggaam se lojaliteit aan Christus word juis gekenmerk aan sy Skriftuurlike gehoorsaamheid om byvoorbeeld die gesag van die Staat te erken en hom as Liggaam aan daardie gesag te onderwerp, al sou daardie Staat selfs Kommunisties van aard wees!
Kortom, dit gaan hier om een van die mees miskende dope van Die Bybel, die lydingsdoop.
Onder die tussenhoof "Pligte van Christelike Diensknegte" in 1 Petrus 2:18, staan: “Diensknegte, wees julle HERE onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed doen en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.”
“Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete, leed verdra, deur onregverdig te ly.
“Want watter roem is daar wanneer julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly – dit is genade by God."
“Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle Sy voetstappe kan navolg."
Strofe 20 sê duidelik dat dit 'n sonde is om nie die Owerheid se gesag te erken nie. En al sou die Owerheid verkeerd wees, en die Christen as gevolg daarvan skade ly, dan moet die Christen dit nogtans aanvaar en ly.” 1 Pet 2:18-22
Die Christendom word juis gesuiwer deur middel van die lydingsdoop. Om die lydingsdoop deur te gaan is 'n roeping(!) want, sê die Skrif: “Hiertoe is julle geroep!”
Vanaf strofe 21 lees ons dat Christus ook onregverdig gely het. Ons lees te meer nog dat Christus selfs (boonop) sonder sonde was. Ons wat dan sonde doen, hoeveel te meer moet ons nie die roeping van die lydingsdoop waardig wees nie? Die lydingsdoop bewerk ware verlossing, bevryding.
In Suid-Afrika bevind ons onsself in 'n demokrasie waar vryheid van spraak deel van die Grondwet uitmaak. Dit is dus heeltemal binne orde om op Christelike toon, diplomaties en taktvol aan die Owerheid te sê dat ons met hom verskil en waarom.
As die Owerheid egter voet by stuk hou en nogtans “ongewenste” wetgewing en optredes deurvoer, dan is ons geroep(!) om dit te aanvaar, al maak dit ook hoe seer. Die Liggaam, ook genoem die Kerk, mag dus die Staat teregwys, vermaan, maar hy durf nie die Staat teengaan nie.
Hierdie besondere roeping, die lydingsdoop, is ‘n voorbeeld wat Christus aan Sy Liggaam nagelaat het en God verwag van ons om in Christus se voetstappe te volg.
Het die grootste seën in die wêreld – die verlossing en versoening bewerk deur Jesus Christus – dan nie gekom juis vanweë die grootste onregverdige lyding nie?
Christus had selfs ‘n verraaier in Sy midde. Hy het geweet wie die verraaier is, maar Hy het die man nooit gekonfronteer nie.
Inteendeel, Christus het die verraaier geignoreer, en Sy aandag by Sy eie missie – om die wil van Sy Vader te volbring – bepaal, en geslaag!
Hy is sonder verset, sonder wraak, sonder teenstem, deur die lydingsdoop. En, wat 'n fantastiese oorwinning was dit nie! Die beker is nie by hom verby nie. Hy moes dit ledig.
Die Christendom het ook 'n missie om die wil van die Vader te volbring. Dis waar ons aandag hoort.
Lees maar die drie boeke van Johannes en sien self waar skiet ons te kort. Ons het nog nie eers die Liefde onder mekaar volbring nie.
Die Christen, of dan die Liggaam, het sekere roepinge om op aarde te vervul: Die uitdra van die Evangelie van Jesus Christus en dit wat daarmee saamgaan soos byvoorbeeld barmhartigheidswerk, liefde, die dra van mekaar se laste, bid vir mekaar, ens., en ten tweede om die suiweringsproses, die lydingsdoop, deur te gaan, want, wanneer Christus kom, kom hy om Sy Bruid te haal, 'n Bruid wat sonder vlek of rimpel sal (moet) wees.
Wanneer die HERE sê: “Ter wille van My naam sal julle vervolg word,” dan is dit nie 'n waarskuwing nie, maar 'n belofte!
Dieselfde geld wanneer die HERE sê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê,” maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Die geestelike lewe, die lewe in Christus, is beslis die interessantste wat enigeen ooit kan beleef.
Hoor wat sê die HERE in Openb 8 -11: “En sal God nie Sy uitverkorenes wreek wat dag en nag na Hom roep nie?”
Natuurlik! Let op hoe duidelik die Skrif dit stel wanneer die Staat, of watter gesag ookal, onregverdig teenoor die gelowiges optree.
Dit is dan wanneer God aan die Staat, of watter gesag ookal vyandig teenoor die Liggaam van Christus staan, sê: "Vir sovele soos julle dit aan die geringste van My doen, doen julle dit aan My." Matt. 25:45.
En aan die een wat die lyding deurloop, sê die HERE: “Onthou, aan My kom die wraak toe. Ek sal vergeld."
Verder sê die HERE: "Bid vir julle gesag sodat julle in vrede kan lewe. Hoop vurige kole op sy hoof op.” Rom: 12:20.
Wanneer die Christen te na gekom word, of vervolg word, durf hy dit nooit in 'n negatiewe lig sien nie, maar eerder as 'n besondere seën, 'n toets van Bo, en ons moet sekermaak dat ons die toets slaag.
Dit is seker die vernaamste wyse waarop die HERE sy Liggaam hier op aarde suiwer.
“Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys.” Tit 3:1-2
'n Verdere interessantheid vind ons in Gen. 15:13 “Daarop sê God vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word, vier honderd jaar lank.”
Dis God self wat so besluit het, al klink dit ook hoe verskriklik. Sou ons 400 jaar se verdrukking kon deurstaan, boonop deur diensbaar te wees en deur toe te laat dat ons verdruk word deur 'n vreemde owerheid?
Maar strofe 14 is 'n juweel, wanneer die HERE sê: "Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie die volk diensbaar moet wees...."
Die een oomblik stel die HERE 'n vyandige Volk oor Sy eie Volk aan, aan wie Sy Volk noodgedwonge diensbaar moet wees, maar die volgende oomblik sê die HERE aan die vyandige volk: Pasop hoe julle My Volk behandel, want Ek sal daardie nasie wat Ek oor My Volk aangestel het, oordeel!
Kan jy nou verstaan dat God deurentyd in beheer van sake is?
Daarom, niemand kan die kind van God, God se Volk, enige skade berokken nie. Die Christen kan net homself skade berokken deur met die verkeerde reaksie te kom op die aanvalle of verdrukking teen hom. Verstaan jy nou wat dit beteken om die ander wang te draai?
In Rigters 6:1 sê God aan Gideon: “Maar, toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE die kinders van Israel OORGEGEE in die hand van die Midianiete – sewe jaar lank!”
Sewe jaar lank! Dis mos nie nodig om langer vrae te vra nie. Ons eie situasie moet vir ons mos nou meer duidelik wees as ooit te vore.
Dit lei geen twyfel nie. Die Christen moet hom onderwerp aan die Owerheid wat oor hom aangestel is.
So, loof die HERE, bid vir die owerheid, dien die HERE. Alles is nog lank nie verlore nie. Dit lyk maar net so. Murmurering het nog nooit uitkoms gebring nie.
Die prentjie word verder ingekleur wanneer God ons verbied om te vergeld. God sê dat Hy 'n jaloerse God is en dat die wraak Hom (alleen) toekom.
Met ander woorde, terwyl ons wraak wil neem met allerlei verset en optredes, staan God terug, want ons probeer doen wat God sê sy eksklusiewe reg is. Die Christen moet sy verstand afskakel sodat hy kan hoor wat die Gees van God aan hom wil sê.
Wanneer die HERE sê dat Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit 'n opdrag wat eenvoudig uitgevoer moet(!) word, al is dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die land is nie, dan is dit heelwaarskynlik omdat die Liggaam nie vir die regering bid nie.
Hoe bid mens vir die regering, vra jy?
Die HERE is in beheer van die koning. “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil.” Spr 21:1
Die nuwe vertaling lees: “Die HERE kan 'n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in 'n leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!
Nou bring mens aan die HERE aanbidding en lofprisinge!
So, kom maar gerus jou plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer.
Lees weer wat sê Koning Dawid in Ps 149 oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:
Halleluja! Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied,
Sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
Laat Israel hom verheug in sy Maker;
Laat die kinders van Sion juig oor hul Koning!
Laat hulle Sy naam loof in koordans,
Hom psalm sing met tamboeryn en siter.
Want die HERE het ‘n welbehae in Sy volk;
Hy versier die ootmoediges met heil.
Laat die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
(Hoekom?)
om wraak te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja!
Dus, nie deur krag of geweld nie, maar deur lofprysinge aan die God van ons heil. Lofprysinge is ‘n tweesnydende swaard: Terwyl ons God loof, oefen ons ook wraak uit onder die heidene, strafgerigte onder die volke, om hulle konings in kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie… Waarom? Om ‘n vonnis te voltrek wat reeds opgeskrywe is!
Dit moet onthou word: Terwyl die Liggaam van Christus onregverdig ly, is die hoeksteen van God se heerskappy op aarde, juis Sy onbeperkte en onverskrokke geregtigheid.
Die morele wet is so onveranderlik soos die natuurlike wette: Wat die mens saai sal hy maai. Gal. 6:7.
Net soos die Wet op swaartekrag nie verbreek kan word nie, net so kan die wette, verordeninge en insettinge van God, ook nie verbreek word nie. Die een wat hier oortree, bring 'n oordeel oor homself. Onthou Sy waarskuwing: Dis vreeslik om te val in die hande van die Lewende God!
Dit beteken, ons moet ook uiters versigtig wees hoe ons teenoor mekaar optree.
Ons dink altyd verootmoediging gaan oor ons sondes teenoor die HERE, maar om dit te bely is nie genoeg nie. Ons moet ook ons misdade wat ons teen mekaar gepleeg het, bely. Kyk na die volgende: 1 Pet 3: 8-9.
“Wees almal eensgesind, medelydend, VOL Broederliefde, en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad vir kwaad of skelwoord met skelwoorde nie...... maar INTEENDEEL... Seën mekaar!
Waarom? Want hiertoe is julle G E R O E P!!!
Hoekom? OM SEëN TE KAN BEëRWE!
Ons mis ons ROEPING. Ons is GEROEP om mekaar te SEëN. Omdat ons ons roeping mis, daarom is ons nie eensgesind nie, nie medelydend nie, nie VOL Broederliefde nie, ontferm ons, ons nie oor mekaar nie, is ons nie vriendelik nie. Bid ons nie vir mekaar nie, dra ons nie mekaar se laste nie.
Inderdaad is ons gedurig besig om in een of ander vorm kwaad met kwaad te vergeld, en maak ons ons skuldig daaraan om skelwoord met skelwoorde te vergeld.
Ons MIS ons ROEPING. Dis 'n SONDE. Dit vra om diepe verootmoediging teenoor God, maar groter nog, teenoor MEKAAR!
Ons kan nie seën beërwe nie, want ons seën nie mekaar nie. Wanneer het een van ons ooit 'n ander geseën? Ons doen dit nie. Seën jy ooit as Hoë priester oor jou huis, jou vrou en kinders?
Ons beroof onsself van seëninge. Ons beroof mekaar van eensgesindheid, van medelye, van ontferming, van volle broederliefde, van vriendelikheid. Ons is slagoffers van ons eie optrede.
Daarom, verootmoediging teenoor God moet geskied, maar ons moet ook ons saak met mekaar regmaak en dit reghou.
Ons mis ons ROEPING!
Ons mag nooit as kinders van die HERE in konflik teenoor mekaar staan nie. Die Liggaam en die Staat, die Christen en sy gesag, mag ook nooit in konflik teenoor mekaar staan nie.
Die Christen vergeet so maklik, maar dit is noodsaaklik dat die Liggaam, bewus bly van die Vader se regverdigheid en geregtigheid, want so verseker 'n mens dat jy nooit in die versoeking kom om self te wil vergeld nie.
Ons moet versigtig wees dat ons nie ten gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis nie.
In plaas van vergelding, moet die Christen eerder bid: "Vader, vergewe hulle want hulle weet (tog) nie wat hulle doen nie." Dan gryp God in!
Vir die Christene om teen die Staat op te tree, is dieselfde as om die Staat by die Satan aan te kla. Daar sal nie 'n verhoor wees nie.
As die Christen God se hand in beweging wil sien kom, begin dan onder andere bid vir die Owerhede.
Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mens. God sê aan die een wat Sy kind mishandel: Vir sovele soos wat hulle dit aan die geringste van My doen, doen hulle dit aan My, en onthou, My kom die wraak toe, Ek sal vergelde sê die HERE.
Twyfel jy nog? Rom 13: vanaf strofe 1 lees:
"Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.
“…sodat hy wat hom teen die mag van God versit, die instelling van God weerstaan; en diegene wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.
“want die Owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte....”
As mens jou dus verset teen die owerhede wat oor jou aangestel is, dan sondig jy teen die HERE, want die HERE is in beheer van daardie owerheid.
Laat ons dus voortgaan om die HERE te behaag deur alles wat ons sê en doen, Hom te verheerlik. Kom ons onderhou weer Sy insettinge, Sy verordeninge. Kom ons verbly die hart van die HERE.
Ons staan op die drumpel van ‘n reuse oorwinning. Ons moet net ons saak met God en met mekaar regmaak.
Ons sal onsself nie net voor God moet verootmoedig nie, maar ons sal ook moet terugkeer na ons eerste liefde:
“Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel en met jou hele verstand en uit jou hele krag, en jou naaste (mekaar) soos jouself".
Die liefde wat onder ons moet heers, is net nie langer daar nie. Ons eerste liefde het verflou. Ons het kragteloos geword, soos sout wat laf geword het.
Die strafgerig is egter nie daar om ons te vernietig nie, maar juis om ons terug te kry op die plek waar ons hoort.
Met menslike liefde sal ons nie kan slaag nie. Petrus kon ook nie.
Toe Christus Goddelike (Agape) liefde bedoel het, het Petrus menslike (fileo) liefde verstaan. Daarom dat hy so maklik gesê het: “Ja HERE U weet ek het U lief.”
Toe die toets kom, moes hy in trane na die gekraai van die haan luister.
Daar is diegene wat redeneer dat ons nie geroep is om te ly nie, maar om te oorwin. Feit is dat ons in Christus Jesus reeds oorwin het. Deur onreg te ly is deel van die oorwinning.
En as die regerende gesag ons sou verbied om die Bybel te lees en die Vader te aanbid, dan moet ons die Vader meer gehoorsaam wees as die mens. Dan gaan ons voort om die Bybel te lees en die Vader te aanbid, en, as ons as gevolg daarvan deur die regerende gesag gestraf sou word, dan is dit bloot deel van die lydingsdoop.
Mag hierdie skrywe ‘n ewewig, 'n korrekte persepsie, 'n nuwe visie, nuwe moed, 'n nuwe ywer, in die midde van ons mense plaas.
Laat die Liefde, die Koninklike Wet, heers! – Sjibbolet