Inderdaad is gebed ‘n nasie-skuddende,
geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak.
Nie dat gebed as sodanig magtig is nie, maar onse GOD is! Alles is reeds
probeer vir reg en geregtigheid in Suid-Afrika, behalwe deurdringende,
aanhoudende gebed. Begin vandag nog ‘n eendragtige gebedswaak in jou eie huis.
Dit is die antwoord, die enigste antwoord! Al is julle net twee wat begin, maak
daardie begin.
Ja, twee is
genoeg wat die HERE sê self waar twee of drie in sy Naam bymekaarkom, daar is
Hy. GOD se vermenigvuldende krag doen die res: ‘n paar brode en vissies voed ‘n
menigte. Lev. 26:8 “Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle
sal tien duisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die
swaard.”
Maak nou
self jou eie vermenigvuldende somme verder en kyk wat gebeur as ‘n 100, as 50
000 eendragtig begin saambid. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot
krag. Jak. 5:16. Hand. 4:31. Vervolgens moet ons staatmaak op die Heilige Gees
in ons gebedslewe.
“En net so
kom ook die Gees ons swakhede te hulp, (Hoekom?) want ons weet nie reg wat ons
moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.
En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy
ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” Rom. 8:26-27.
Natuurlik,
jy het dit al baie oorgekom: Jy weet nie reg wat om te bid nie. Dit is hier
waar die gawe van die spreek in ‘n hemelse taal, die taal van die Gees, in
werking kom. “Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is
onvrugbaar. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook
met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die
verstand psalmsing.” 1 Kor. 14:14-15.
Daar is dus
twee maniere waarop ‘n mens kan bid: Bid met die verstand as jy weet waaroor
dit gaan en presies wat jy wil bid. Maar as jy nie reg weet wat om te bid nie,
dan bid jy nie met jou verstand nie, dan bid jy in die Gees. En wanneer jy in
die Gees bid, dan is jou verstand onvrugbaar. “Want hy wat in ‘n taal spreek,
spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar
deur die Gees spreek hy verborgenhede. Maar hy wat profeteer, spreek tot die
mense woorde van stigting en troos en bemoediging. Hy wat in ‘n taal spreek,
stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.” 1 Kor. 14:2-4.
Dit beteken
nie Christene links en regs moet profeteer nie. Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir
alles. Pred. 3:1-8. Wanneer jy die HERE wil prys, dan kan jy ook dit met jou
verstand doen, of in die Gees. Het jy al iemand in ‘n hemelse taal hoor sing?
Het jy al ‘n groep in tale hoor sing wanneer hulle die HERE loof? Dit alles
beteken dat mense wat die doping in die Heilige Gees misken, ‘n baie groot fout
maak en hulself van grootse seëninge en deurbrake beroof.
Paulus sê:
“Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal...” Rom. 4:18. Hoekom
was dit nodig dat hy juis dit vir hulle moes sê? Eenvoudig, omdat hulle nie
daarvan geweet het nie want dit vind in sy binnekamer plaas. Oor die tale in
die gemeente, sê Paulus egter: “...maar in die gemeente wil ek liewer vyf
woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde
in ‘n taal.”
Paulus sê
ook: “So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om
uit te munt tot stigting van die gemeente. (Hoe?). Daarom moet hy wat in ‘n
taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.” 1 Kor. 14:12-13.
Paulus dui
duidelik aan dat die spreek in tale in die gemeente taamlik min plaasvind, maar
wanneer dit plaasvind, dan moet daar ‘n vertaling in die taal van gemeente
plaasvind, sodat die gemeente gestig kan word.
Paulus
beklemtoon dit verder wanneer hy in 1 Kor. 14:16-17 sê: “Anders, as jy met die
gees dank (in ‘n taal dank), hoe sal hy wat die plek van ‘n onkundige inneem,
amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie? Want jy dank
wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.”
Daar moet dus
elke keer ‘n vertaling plaasvind wanneer iemand in ‘n taal in die gemeente
optree. Hoekom? “Net so julle ook, as
julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ‘n mens weet
wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.” 1
Kor. 14:9.
Dan sê
Paulus ‘n belangrike ding: “Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie,
maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie,
maar vir die gelowiges. “As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle
sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle
nie sê dat julle kranksinnig is nie?
“Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n onkundige binnekom,
dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel; en so kom die geheime van
sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig
dat God werklik onder julle is.” 1 Kor. 14:22-25.
Vir Paulus
is die tale nie so belangrik in die gemeente, behalwe dat wanneer dit by
uitsondering plaasvind, daar noodgedwonge ‘n uitleg moet wees anders dink die
ongelowiges die gemeente is kranksinnig. Maar Paulus laat val die klem op
profesie. Profesie gaan nie met ‘n taal vooraf gepaard soos wat baie redeneer
nie. Profesie is belangrik want “... so kom die geheime van sy hart aan die
lig.”
Hierby is
ook betrokke die gawe van die onderskeiding van die geeste. 1 Kor. 12:2-11. Die
tale is egter grotendeels vir die gebruik in kommunikasie tussen jou en GOD
wanneer jy in jou binnekamer bid.
Daar is egter
gevalle waar Christene in hulle binnekamer in ‘n hemelse taal in die Gees gebid
het en die gebed ook vertaal het, sodat ook hulle verstand kon verstaan wat
hulle gebid het. Hierdie blyk egter ‘n uitsondering te wees. In die meeste
gevalle weet mens uit die bevestiging van die Woord, wat die HERE se Wil in ‘n
saak is. Dit kan in jou eie stiltetyd gebeur, of waar jy saam met iemand
Bybelstudie doen, of onder die prediking of self in gemeentelike aanbidding.
Hoe anders het die gemeente geweet dat die Heilige Gees sê dat die gemeente
Paulus en Barnabas moes afsonder vir die werk?
Uit hierdie
vooraf gedeelte het ons duidelik geleer dat daar kere is wat ons nie weet hoe
en wat om te bid nie, ons weet nie wat die HERE se Wil in ‘n betrokke saak is
nie. Dan skakel ons, ons verstand uit en
ons bid in die Gees in ons hemelse taal. Dan spreek ons verborgenhede tot die
HERE.
Jesus
Christus sê dat wanneer ons gered is en die Koninkryk begin bou, dan sal ons
die volgende doen: “En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my
Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal
hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen
nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Markus
16:17-18.
Vraag is:
Hoe bekom mens hierdie gawe van ‘n taal? Eintlik net so eenvoudig soos die dag
toe jy wedergebore is. As iemand jou vandag sou vra hoe weet jy dat jy
wedergebore is, sal ‘n ‘n klinkklare getuienis kan lewer. Jy het Jesus Christus
as Saligmaker, as Verlosser aangeneem. Dit was alles ‘n geloofsaksie.
Net so vra
jy die HERE vir die doping in die Heilige Gees en ontvang dit. Dit is hoe
eenvoudig dit is. So ook al die ander gawes. Ontvang dit net en gebruik dit.
Dis waar die
sleutel lê: Gebruik dit. Ontvang die Heilige Gees en praat eenvoudig in die
taal wat jy daardie oomblik ontvang. As jy nie begin praat nie, sal jy nooit
praat nie. Hand. 1:5 en 8.
As jy die
gawe van genesing ontvang, maar jy bid nooit vir ‘n sieke nie, sal niemand ooit
genees nie. ‘n Feit wat ons nooit uit die oog mag verloor nie, vind ons in
Markus 11:25,26 “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen
iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge
mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele
is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”
Dit is hoe
eenvoudig dit is: as ons nie vergewe
nie, vergewe GOD nie en al ons gebede is futiel. In Matt. 6 vind ons die
bekende “Onse Vader” met die gedeelte: “... vergeef ons, ons skulde soos ons
ook ons skuldenaars vergewe.”
En dan
strofe 14: “...Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle
hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie
vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
Dit beteken
kortweg dat jy die Onse Vader duisend keer kan bid en niks sal gebeur nie want
jy het nie ander mense vergewe nie. En veel erger: As jy nie vergewe het nie,
maar jy gebruik die Nagmaal, dan drink jy (boonop) ‘n oordeel oor jouself! Let
op: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here
drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens
moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Want wie
op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor homself, terwyl hy
die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie
swakkes en sieklikes, en 'n aantal het ontslaap.” 1Kor. 11:27-30
‘n Vrou met
bloedkanker vra op ‘n keer dat ons vir haar moet vir genesing. Ons het vir ‘n
paar oomblikke in doodse stilte in die Gees gebid. Toe ons praat, noem ons aan
haar dat die HERE haar nie kan genees nie want sy het ‘n verterende haat
teenoor iemand. Die vrou erken dat dit so is, maar dat dit darem nie meer so
erg is nie.
Ons
verduidelik aan haar: “Mevrou, dit is steeds so erg, dis net die siekte wat
maak dat jy nou meer aandag aan jouself
en jou onmiddellike omgewing gee as wat jy aan die haat gegee het.
Sy herhaal
dat dit darem nie so erg is nie. Ons bied haar ‘n hipotese: As daar nou ‘n
geklop aan die voordeur is en jy maak oop en dis die mense wat jy so haat, sou
jy hulle hartlike kon binne nooi en sê: ‘Baie welkom, ons het mekaar lanklaas
gesien, kom binne en maak julle self tuis. Wat drink julle, tee of koffie?’
Toe antwoord
sy: ‘Nee, darem nie so nie.’
Hierdie vrou
moes eers na haar ‘vyande’ toe gaan en hulle gaan vergewe waarna die HERE haar
volkome genees het. Ek en jy mag nie eers by die Nagmaaltafel aansit as ons
iets teen iemand het, of weet dat iemand iets teen ons het nie. Ons moet die
saak eers gaan regmaak en as ons dit nie doen nie eet en drink ons ‘n oordeel
oor onsself. 1 Kor. 11:23-30.
Let op
strofe 30: “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal
het ontslaap.”
Mens durf
nie met onvergewensgesindheid of sonde in jou hart Nagmaal gebruik nie. “Hy wat
sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en
laat staan, sal barmhartigheid vind.” Spr. 28:13.
Jy mag dink
dat niemand iets van jou oortredinge af weet nie, maar by GOD is alles bekend.
Die dag wanneer jy voor die Groot Wit Troon staan, sal almal in ‘n vlietende
oomblik alles van almal weet. Sou jy nie graag daar ongeskonde wou staan nie?
Kom dan, verootmoedig en maak jou saak met God
en mens reg. Daarna het jy niks te vrees nie. “Daarom, rig die slap hande en
die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat
kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Jaag die vrede
na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en
pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van
bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” Heb. 12:12:15 – Sjibbolet